Prediker roep God se kinders op tot lewenserns

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-10-02
Teks: 
Prediker 7
Preek Inhoud: 

Prediker 7:1-6

Ds C Kleyn - Sondag 2 Oktober 2005

Lees: Prediker 7:1-14.
Sing: Ps 100:1,3; Ps 101:1,2,3; Ps 100:2,4 (na
doop); Ps 102:11,12; Ps 73:10.11; Ps 73:12.

Tema: Prediker roep God se kinders op tot lewenserns

  1. Die lewenserns laat die sterfdag beter as die geboortedag
    wees
  2. Die lewenserns word in ’n klaaghuis geleer
  3. Die lewenserns moet jou lewe kenmerk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Prediker het alles wat onder die son gebeur, deurdink. Sy
konklusie lui: alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs. Alles
kom tot niks. Geslagte kom en geslagte gaan. Alles beweeg in die
kringloop van opgaan, blink en versink. Wat bereik ’n mens
met al sy geswoeg? Dit lewe van elk mens eindig met die dood.
Daarin het die mens niks voor op die diere nie. Een en dieselfde
lot tref mens en dier, hulle gaan almal dood.

Bowendien, God se kinders verkeer in daardie tyd in moeilike
omstandighede. Daar is onreg, verdrukking, magsmisbruik,
korrupsie. Dit lyk nie asof daar ’n verandering ten goede
kom nie. Wat word van die ryke messiaanse beloftes, die
messiaanse vrederyk? Die toekoms lyk donker.

Sou ’n mens in so ’n situasie nie moed verloor nie?
Kan jy in so ’n situasie jou Christelike beginsels nog wel
handhaaf? Is dit dan tog nie beter om jou aan die situasie aan te
pas, en ’n kompromis met die wêreld aan te gaan nie? Jy
moet tog ook in hierdie harde en korrupte wêreld oorleef?

Wel, gemeente, in ons tekshoofstuk wil God ons oë oopmaak
sodat ons nie tou opgooi nie, maar perspektief behou.

Ek verkondig vir julle: Prediker roep God se kinders op tot
lewenserns.

  1. Die lewenserns laat die sterfdag beter as die geboortedag
    wees
  2. Die lewenserns word in ’n klaaghuis geleer
  3. Die lewenserns moet jou lewe kenmerk.

’n Goeie naam is beter as goeie olie. Olyfolie was in
Palestina ’n hoogs waardevolle produk. Dit is vir allerlei
doeleindes gebruik. Vir die bereiding van voedsel, as brandstof
vir jou lampe, om wonde te behandel, vir die versorging van jou
vel, veral na ’n bad, om dit sag en mooi te maak of gewoon
as parfuum om ’n aangename geur te versprei. Olie was
’n simbool van vreugde en welvaart. Wie goeie olie besit
geniet van ’n goeie lewenstandaard. Goeie olie is dus nie
iets om te verag nie. Indien God dit vir jou gee, mag jy daarvan
geniet. Dis iets waarna jy mag verlang en waarvoor jy mag werk.
Dis ’n waardevolle besit.

Maar nou sê die Prediker: ’n goeie naam is beter as
goeie olie. ’n Goeie naam wys op hoe mense oor jou dink en
praat. ’n Goeie naam kom nie vanself nie. Dan moet jy iets
goeds uitgestraal het, gedoen het. ’n Mens het ’n goeie
naam as hy sorgsaam is, betroubaar, hardwerkend, kundig, as hy
’n verskil in mense lewens gemaak het. Goeie olie,
liggaamlik versorging, ’n goeie lewenstandaard, is dus
waardevol. Maar ’n goeie naam is beter. Waarom? Wel, ’n
goeie naam is iets van blywende waarde. Dit bly selfs na jou dood.
Terwyl goeie olie maar van tydelike waarde is. By jou dood kan jy
niks daarmee doen nie. Dis verby.

Geliefdes, hierdie waarde van ’n goeie naam geld des te
meer vir ’n Christen. Jou goeie naam is dan dat jy werklik
as ’n Christen bekend staan. Dis jou erenaam. Van blywende
waarde. Ook al word dit nie altyd so ervaar nie. Jy moet maar
vanweë jou geloof verdruk word. Jy moet maar ’n slagoffer
van korrupte en magsugtige leiers wees, onreg en armoede ly. In
so ’n situasie lyk goeie olie tog wel meer werd te wees.
Vandaar dat gelowiges hulle dikwels aangepas het aan ’n
korrupte samelewing. Om te oorleef.

Maar dan sê die Prediker vir ons: ’n goeie naam is beter
as goeie olie. As jy werklik as Christen bekend staan, dan het jy
iets van blywende waarde, iets wat selfs bly tot in die ewige
lewe. Moenie die goddeloses beny nie. Hul rykdom en voorspoed het
geen blywende waarde nie. Dis beter om trou aan God te wees, trou
aan jou Christelike beginsels, ook al moet jy daardeur ly, as om
jou goeie naam prys te gee terwille van aardse voorspoed. ’n
Goeie naam is immers beter as goeie olie. Die goeie naam van
’n regverdige bly terwyl goeie olie verbygaan. Moenie
jouself op die goeie olie blindstaar nie, hoe waardevol dit
tydens hierdie lewe ook is, sit nie al jou sinne daarop nie.
’n Goeie naam, veral by God maar daardeur ook by mense, is
baie meer werd. Ook al lyk dit hier soms ’n nadeel. Jy mag
uitsien na die heil wat God vir jou berei het. Soos Paulus skryf
in 2 Kor 4: “Want ons ligte verdrukking wat vir ’n
oomblik is, bewerk vir ons ’n alles oortreffende ewige gewig
van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar
op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die
onsigbare ewig.”

Prediker vervolg: “Die sterfdag is beter as die
geboortedag.” Hoe kan ons dit so sê? Kan jy dit sê tydens
hierdie diens waarin Saskia Moes juis gedoop is? Wat moet julle
as ouers van ’n pasgebore baba wel hiervan dink? Die
geboortedag is tog onder normale omstandighede ’n feestelike
dag?. Hoe pynlik die bevalling ook mag gewees het. Dis pragtig om
’n kind te kry en te bewonder. Dis tog iets om te vier? In
teenstelling met ’n sterfdag. Die sterfdag is nie ’n
fees nie, maar ’n verdrietige aangeleentheid. Soos Prediker
later praat van die gaan na ’n klaaghuis. Hoe kan ons dan
sê: die sterfdag is beter as die geboortedag? Moet jy dan
verlang na jou dood? Is dit dan beter om te sterwe as om te lewe?
Let daarop, gemeente, dat ons hier te doen het met ’n spreuk
wat tipies een kant van die waarheid skerp stel. Dis ’n
prikkelende uitspraak wat ’n mens aan die dink sit. Soos ook
die volgende uitsprake in ons teks.

Op ’n bepaalde manier kan jy sê dat die sterfdag beter
as die geboortedag is. Dit geld nie vir elkeen nie, net vir die
gelowige. Soos jou goeie naam beter as goeie olie is, so is jou
sterfdag as gelowige in sekere sin beter as jou geboortedag. Jy
mag dan ’n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid
ontvang. Jou geboortedag is die begin van ’n onsekere
bestaan hier op aarde, die begin van ’n moeisame lewe. In
ons doopsformulier word hierdie lewe selfs niks anders as ’n
voortdurende sterwe genoem nie. Op die sterfdag is jy as gelowige
egter digter by jou uiteindelike bestemming as op jou geboortedag.
Die doopsformulier noem ook as bestemming dat ons God die Vader
en die Seun en die Heilige Gees ewig sal loof en prys en dat ons
eendag volkome rein ’n plek sal ontvang in die gemeente van
die uitverkorenes in die ewige lewe. So vergelyk Paulus in 1
Korinthiërs 5 ons aardse lewe met ’n tentwoning in
teenstelling met ons ewige huis in die hemele waarna ons verlang.
By ons sterwe mag ons dan by die Here wees. Dit noem Paulus
verreweg die beste (Fillipense 1:23). Vir God se kinders geld dus
op ’n bepaalde manier dat die sterfdag beter as die
geboortedag is.

Dit het niks met pessimisme te make nie. ’n Kind van God
verlang nie normaalweg na sy dood nie, wel om by Christus te wees
in lewe en sterwe. Vir die Christen is die geboortedag ’n
dag van vreugde, iets wat gevier mag word. Dis soos goeie olie
wat op homself ook waardevol is en geniet mag word. Maar as
Christen sien jy ook die voortgang van God se werk. Pleks van
pessimisme is daar die optimisme van die Christelike
toekomsverwagting. Op die sterfdag is jy digter by die heil wat
God vir jou beloof het. God het dan verder gekom met sy
verlossingswerk. Ook al lyk dit hier ’n sirkelgang van
opgang, blink en versink te wees. Die afbraak en neergang is deel
van God se reguit pad van verlossing.

Broeders en susters, die Prediker ontken daarmee nie die
verskrikking en bitterheid van die dood nie. Dit noem hy op ander
plekke in hierdie boek. En dit bly staan. Die afbraak van die
lewe bly ’n vernedering vir die mens wat as kroon van die
skepping gemaak is. Maar in die perspektief van die messiaanse
heil mag gesê word dat die sterfdag tog beter as die geboortedag
is. Jou bestemming het naderby gekom.

Gemeente, as kinders van God moet ons steeds weer gesterk word
in hierdie geloofsoortuiging. Daarom vervolg die Prediker: dit is
beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n
huis van maaltyd. Om verdrietig te wees is beter as om te lag.
Dit bring ons by die tweede gedagte van die preek.

Weer sulke prikkelende uitsprake. Hoe kan dit beter wees om na
’n begrafnis te gaan as om na ’n feesmaal te gaan en om
verdrietig te wees as om te lag? Ervaar jy dit so? Is dit nie in
stryd met wat die Prediker op ander plekke sê nie? In hoofstuk 8:15
sê hy: Daarom het ek die vreugde geprys, dat daar niks beters is
vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en hom te
verheug. En: Gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink
jou wyn met ’n vrolike hart (9:7). Ook die jeug word
aangespreek: Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou
hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid, en wandel in
die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë” (11:9).

Moet jy dan ’n huis waar daar gerou word verkies bo
’n huis waar daar feesgevier word?

Wanneer die Prediker tot lewensvreugde oproep, dan is dit geen
algemene oproep nie, maar ’n oproep juis tot God se kinders
gerig. Jy mag as kind van God geniet van die lewe wat God vir jou
gee. Jy mag daarvan geniet as ’n gawe van God. God moet as
die Gewer van alles wat goed is, erken word. Daarom ook: dink aan
jou Skepper in die dae van jou jonkheid. Die lewensvreugde
waaroor die Prediker praat is net moontlik binne die verbond met
die Here. Net as ek die Skepper ken en met Hom rekening hou, kan
ek my werklik verheug in sy Skepping. Die ongelowige daarenteen
werk aan die vernietiging van sy eie lewe.

So sien ons dat die lewensvreugde en die lewenserns geen
teenstrydige sake is nie. Hulle vorm ’n eenheid in die lewe
van God se kinders. Waarom is dit dan beter om na ’n
begrafnis te gaan as om na ’n feesmaal te gaan? Omdat
daardie lewenserns meer by ’n begrafnis geleer word as by
’n feesmaal. Om na ’n feesmaal te gaan is op homself
nie verkeer nie. Geniet daarvan. Maar waar dit die Prediker nou
om gaan is dat dit vir ons nuttiger en leersamer is om ’n
begrafnis mee te maak. Deur ’n sterfgeval word jy gedwing om
na te dink oor die sin van die lewe. Jy staan daar voor die
werklikheid van jou broos en verganklik bestaan. En dat jy eendag
God moet ontmoet. By ’n begrafnis kan jy dit nie ontloop nie.
Tydens hul lewe probeer mense hul broosheid en verganklikheid weg
te steek, te kamoefleer. Hare word gekleur. Alles word gedoen om
jonk en fiks te lyk. Maar by ’n begrafnis staan jy voor die
naakte werklikheid van ons menslike bestaan. Daarom bied ’n
sterfte in die algemeen meer geleentheid om wysheid op te doen as
’n feesmaal.

Omdat die dood die einde van elke mens is, moet elkeen dit ter
harte neem. By ons dood kom elkeen voor God te staan, voor God se
gerig. God vra dan na die vrug van jou lewe. Die dood leer jou
dat dit nie onverskillig is hoe jy leef nie, wat jy met jou lewe
doen nie. Elkeen moet daarvoor rekenskap aan God gee. So leer die
dood jou om erns met die lewe te maak. Om jou afhanklikheid van
God te bely en jou dae so te tel dat jy ’n wyse hart mag
bekom. Jy leer om in alles rekening met God te hou. Om jou lewe
te rig op die heerlike toekoms wat God vir jou berei het.

In die huis waar feesgevier word, is die gevaar aanwesig dat
jy die lewe neem soos dit vandag is, sonder om verder te kyk. Die
feesvreugde kan misleidend wees. Jy voel jou fiks en gelukkig. Jy
vergeet van die gebrokenheid en verganklikheid van die lewe. Jy
is op jou beste. Maar in ’n huis van rou val die skyn weg.
Daar sien jy die mens soos hy werklik is teenoor God.

Die Prediker vervolg: Om verdrietig te wees is beter as om te
lag. Weer so ’n verrassende en prikkelende uitspraak. Jy lag
tog liewer as dat jy huil? Tog sê die Prediker: om verdrietig te
wees is beter as om te lag. Hy vertel ons onmiddellik waarom.
“Want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart.”
Nou, is dat wel altyd so? Is dit werklik goed met my hart wanneer
ek verdrietig is? Nee, dis nie altyd so nie. Ook nie outomaties
so nie. In my verdriet kan ek soms baie opstandig en kortsigtig
wees. Tog observeer die Prediker dat dit dikwels wel so is. In
jou verdriet hou jy dikwels meer rekening met God as wanneer jy
lag. In jou verdriet leef jy dikwels digter by God. Jy vlug na
Hom toe. Jy besef jou afhanklikheid van Hom. Jy soek jou houvas
in Hom. Dink maar aan Asaf in Psalm 73. Hy het geworstel met die
voorspoed van die goddeloses en sy eie teenspoed. Maar
uiteindelik roep hy uit: “Nogtans is ek altyddeur by U; U
het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en my daarna in
heerlikheid opneem.” En: “wat my aangaan, dit is vir my
goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug
gestel, om al u werke te vertel” (Psalm 73:23,28). Verdriet
lei jou as gelowige tot groter lewenserns. Jy ervaar dat jy maar
mens is en God alles bestuur. Jy leer om jouself weer aan God oor
te gee. Dink maar aan die impak van ’n begrafnis. Dis
inderdaad baie hartseer om ’n geliefde deur die dood te moet
afstaan. Maar hoe dikwels hoor jy nie die opmerking: dit was
’n mooi begrafnis. As Christen kan jy dit so beleef ondanks
die verdriet. Jy ervaar iets van God se nabyheid en krag.

Gemeente, om te lag is goed op sy tyd, maar kan oppervlakkig
word. Daarby vergeet jy maklik die erns van die lewe. Dat jy in
alles met God te doen het. Dink aan die ryke dwaas wat eet, drink
en vrolik is, wat ’n weelderig lewe lei, maar op ’n
doodloop pad verkeer. Eintlik gaan dit sleg met hom. Hy lewe
sonder God en daarom sonder hoop in hierdie wêreld. Jy dink dan
dat jy sonder God kan regkom, maar jy sal eendag tot jou ewige
skrik ontdek dat dit nie waar is nie. Met al jou gelag gaan dit
dus nie goed met jou hart nie. Maar as jy jou deur die moeite en
verdriet van die lewe tot God laat dryf, dan gaan dit met jou
hart goed. Jy verstaan meer van die sin en doel van jou lewe en
let meer op God wat in die gerig na jou lewenswerk sal vra. So
vorm die huis waar gerou word ’n goeie leerskool vir die
lewenserns. Wil jy wys wees? Laat jou daardeur onderrig en
opskerp. Neem jou lewenseinde ter harte. Moenie die sterfhuis
vermy nie. Moenie die gebrokenheid van die lewe en die dood
wegdruk nie. Leer daaruit. Kyk na God wat alles bestuur, ook die
skynbare tevergeefse lewe van ons mensekinders. Kyk verder as wat
hier voor oë is. God wil broos, afhanklike mensekinders tot sy
kinders aanneem. Dink maar aan die doop van Saskia Moes vanoggend.
En God wil ons uiteindelik bevry van alle moeite en gebrokenheid.
As jy vandag met Hom rekening hou, vir en met Hom lewe, dan loop
jou lewe nie dood nie, maar dan is jy op pad na die messiaanse
heil.

Die wyse soek dit nie in sinlose pret nie. Ons lees: Die hart
van die wyse manne is in die klaaghuis. Wat bedoel die Prediker
hiermee? Moet jy dan altyd in rou verkeer? Altyd met die dood
besig wees? Waar is dan die lewensvreugde waartoe God sy kinders
ook oproep? Dit gaan in hierdie teks om jou ingesteldheid, jou
houding. Wat tipeer jou? Leë pret of lewenserns? Jy hoef as wyse
nie altyd in die klaaghuis te verkeer nie. Jy beleef nie net
sterfgevalle nie, maar ook geboortes en huweliksfeeste. Jy mag
dan van die party wees, sonder gewetenswroeging. Maar in heel sy
lewe is die wyse se hart so te sê in die klaaghuis, dwz die erns
van die lewe bestempel jou in alles wat jy doen. Jy geniet van
’n partytjie in die besef van jou afhanklikheid van God. Jy
dink aan jou Skepper. Jy weet sodoende wat ware dankbaarheid is.
Dit verdiep juis jou vreugde. Jy leef daardeur baie intenser.

Jou lewe is dan nie leeg en ydel soos dit van ’n dwaas
wat die erns van die lewe met God nie ken nie. Die dwaas se hart
is in die huis van vreugde, sê die Prediker. Dit tipeer hom. Dis
waarvoor hy leef. Hy dink voortdurend aan uitgaan en pret hê.
Sonder om aan God die Gewer van alles wat goed is, te dink. Die
dwaas wil net neem. Hy gaan van een fees na die ander. Hy reken
net met die uiterlike skyn en voel hom tuis in daardie skyn-wêreld.
Die oppervlakkige dwaas laat sy liedjies hoor. Dis veel geskreeu,
baie lawaai soos met baie popmusiek vandag, maar dit is leeg. Die
Prediker vergelyk die lied van die dwase met die geknetter van
doringtakke onder ’n pot. Die doringtakke onder ’n
kookpot brand vinnig en met veel geknetter. Maar dit maak nie
werklik die pot warm nie. Veel lawaai maar min waarde.

Daarom is dit beter om te luister na die bestraffing van
’n wyse as om te luister na die lied van die dwase. Die
bestraffing is meestal nie aangenaam nie. Die lied van die dwaas
klink baie aangenamer. Maar onthou: onaangename dinge is dikwels
baie heilsamer as aangename dinge. Dink aan die voorgaande
spreuke in die teks. Die bestraffing van ’n wyse, hoe pynlik
ook, is beter, meer opbouend as die leë lied van die dwase. Die
bestraffing van die wyse bou op, soek jou ware lewensgeluk. Die
lied van die dwase lei egter dikwels af, trek af van die
belangrikste van die lewe, naamlik jou lewe met God. Dit
verdoesel die werklikheid waarin God sentraal staan. Uiteindelik
vind jy daar geen baat by nie. Jy staan dan sprakeloos wanneer
God verskyn.

Broer, suster, gelukgewens indien jy jou voortdurend tot
lewenserns laat oproep. Leer van die moeites en verdriet van die
lewe. Besef jou afhanklikheid van God. Leef vir en met Hom. Hou
in alles rekening met Hom. Dan sal die gebrokenheid van jou lewe
en die dood hier op aarde nie net negatief wees nie. Dit sal jou
juis nader bring aan die heerlike bestemming wat God voor ons
weggelê het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)