God voed ons op.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-01-01
Teks: 
Titus 2
Preek Inhoud: 

Titus 2:11,12

Ds C Kleyn - Sondag 1 Januarie 2006

Lees: Titus 2.
Sing: Ps 90:1,9; Ps 25:2,3; Ps 25:4,7; SB 24:2,3,6;
SB 28b; Ps 134:4.

Tema: God voed ons op.

Hy doen dit

  1. deur sy genade
  2. om ’n Christelike lewe te lei

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

’n Week gelede het ons die geboorte van Christus herdenk:
Christus se koms tot ons redding. Watter effek sal hierdie
boodskap in die komende jaar op ons daaglikse lewe hê? Massas
mense het kersfees gevier. Ook baie mense wat anders nie werklik
by die diens van die Here betrokke is nie. Mense ervaar Kersfees
as ’n nasionale fees. As ’n oase. Vir ’n oomblik
voel jy jou onthef van die harde werklikheid van die lewe. Jy
geniet van ’n oomblik van vrede en liefde onder familie en
vriende.

Maar nou, die fees is verby. ’n Nuwe jaar het begin.
Daarmee kom saam elkeen se verantwoordelikhede in die daaglikse
lewe. Daarom die vraag: watter effek sal die boodskap van
Christus se koms in ons daaglikse lewe hê? Ja, sal die
herdenking enige impak hê? Miskien het jy allerlei nuwe jaar
voornemens gemaak. Dalk het jy die feesdae gebruik om jou te
besin oor jou lewe en toekoms. Miskien het jy jou voorgeneem om
dinge te verander, om hierdie jaar dinge anders te doen. Miskien
het jy jou voorgeneem om meer tyd vir die Here af te sonder
– vir Bybelstudie en gebed. Jy het leer insien hoe onvolkome
jou kennis is en hoeveel jy God se leiding nodig het. Dalk het jy
jou voorgeneem om in die komende jaar meer sorgsaam te wees,
minder selfsugtig, om meer respek en aandag vir die ander lidmate
te gee. Miskien het jy jou voorgeneem om ’n meer liefdevolle
en sorgsame eggenoot te wees, ’n meer sorgsame pa of ma,
broer of suster. Dalk het jy jou voorgeneem om in hierdie wêreld
meer konsekwent as Christen te lewe, om so die evangelie meer
aantreklik vir ander te maak. Miskien het jy die voorneme om
jouself meer as ’n lewende lidmate te wys, nie net Sondags
nie, maar ook in jou woorde en dade.

Wat sal van al die voornemens word? Sal hulle in dade omgesit
word, werklikheid word? Hoe sal ek dit kan waarmaak? Baie hang af
van die basis van die voornemens. Wat is jou motief, jou dryfveer?
Hoop jy om dit bereik deur die sterkte van jou eie karakter en
wilskrag? Of deur die krag van God se reddende en toerustende
genade? Hier sien julle dat die kersboodskap en ons voornemens
nou verbind is.

God se woord plaas die kersboodskap reg in die midde van ons
daaglikse lewe. Kyk maar na die gedeelde wat ons gelees het uit
Titus 2. Paulus gee eers allerlei instruksies aan die
verskillende kategorieë in die gemeente: ou manne, ou vroue,
jong vroue, jong manne en diensknegte. Paulus wys eers hoe die
verskillende lidmate van die gemeente moet lewe. Dan kom hy in
vers 11 met die kersboodskap. Want die reddende genade van God
het aan alle mense verskyn. Die verskyning van die genade moet
die sentrum en basis van jou daaglikse lewe en stryd wees. Dit
moet weerspieël word in die praktyk van die lewe. Christus het
immers daartoe verskyn.

Ek verkondig vir julle:

God voed ons op

  1. deur sy genade
  2. om ’n Christelike lewe te lei

Die woordjie “want” aan die begin van ons teks,
verbind die teks met die voorgaande. Mense, die instruksies
betreffende jou Christelike lewe kom nie sommerso na jou toe nie.
Nee, ’n Christelike lewenstyl word gevra “want die
reddende genade van God het verskyn. Dit word gemotiveer deur die
verskyning van God se genade.

Wat word bedoel met die verskyning van die genade van God? Dit
verwys na die eerste verskyning van Jesus Christus. Christus se
koms in die vlees as redder van die wêreld, sy lyding en dood (sien
verse 13 en 14). Maar waarom noem Paulus in ons teks nie Christus
se naam nie? Waarom skyf hy nie: want Jesus Christus, wat redding
bring, het verskyn nie? Waarom praat hy van die genade van God
wat verskyn het? Paulus wil God se onverdiende guns benadruk. In
Christus het God se genade verskyn. En genade is altyd onverdien.
Dit is God se onverdiende en onvoorwaardelike guns na ons toe.
Onverdien wat ons aanbetref.

So ’n kersboodskap diskwalifiseer alle menslike hoogmoed.
Massas mense is bereid om saam te doen met die viering van die
baba in die krip. Maar onthou: Christus se koms is die verskyning
van God se genade. En genade beteken: onverdiende guns. Dit
beteken dat ons alles verbeur het. Dat elkeen van ons in sonde en
ellende verlore was. Genade beteken dat ons nie deur ons eie
slimheid en wilskrag onsself kan red nie. Ook nie die wêreld kan
red nie. Vergeet maar van al die geloof in jouself en jou goeie
werke. Genade is nodig. Jy word net deur genade gered.

Waarom het jy jou nuwe jaar voornemens gemaak? Waarom onderhou
jy jou godsdienstige oefeninge, soos Bybellees en gebed? Waarom
neem jy jou voor om jou daaglikse stiltetyd te onderhou, om meer
sorgsaam en liefdevol te wees? Is dit omdat jy dink dat jou
verhouding met God afhanklik is van hoe trou jy al die dinge doen?
Is dit omdat jy voel dat God se guns van jou geestelike oefeninge
afhanklik is? Is dit omdat jy bang is dat anders iets slegs met
jou kan gebeur?

Ja, geliefdes, van nature is ons op prestasie gerig. Ons
kultuur en soms ons opvoeding bevestig hierdie wettiese
instelling. Te dikwels word ’n kind deur sy ouers aanvaar of
afgewys op grond van wat die kind presteer of nie presteer nie.
Ons dra maklik hierdie tipe denke oor na ons verhouding met God.
Ons dink dan dat ons dit of dat moet doen om God se guns te wen
of te hou.

Maar geliefdes, dis net deur genade dat jy gered is, deur God
se genade, dit is sy onverdiende en onvoorwaardelike guns.

En die genade het verskyn toe Christus in hierdie wêreld
gekom het. “Want die wet is deur Moses gegee; die genade en
die waarheid het deur Jesus Christus gekom” lees ons in Joh
1:17. God se genade was reeds sedert paradys aanwesig. Maar in
Jesus Christus het dit sigbaar en tasbaar geword. Christus is so
te sê die verpersoonliking van die genade. Jy kan dit nou
duidelik sien en jou hande daarop lê.

Dit beteken dat redding naby gekom het. Wanneer Christus
verskyn, dan doen Hy dit tot ons redding. Die Here soek nie ons
veroordeling nie. “Want God het sy Seun in die wêreld
gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die
wêreld deur Hom gered kan word” (Joh 3:17). Die wêreld,
ons, was reeds veroordeel. So het God se genade gekom om redding
te bring.

En hierdie genade het aan alle mense verskyn, lees ons. Die
hele menslike geslag, die hele wêreld het daarmee te make, of
die mense daarvan bewus is of nie. Vergelyk dit met die skyn van
die son: mense wat dood is of slaap sien dit nie, maar daarom
skyn die son wel. Hier word gewys op die universele karakter van
God se werk van verlossing. Om redding te ontvang is alle mense
afhanklik van hierdie verskyning van genade. Dis nie net bedoel
vir ’n spesiale geselekteerde groep mense nie, soos dit
gewoonte was wanneer wêreld leiers verskyn het. Hier het jy
’n verskyning aan alle mense sonder aansien van die persoon.
’n Verskyning nie net vir Jode nie, maar ook vir Grieke,
selfs vir barbare, vir alle volke en tale sonder diskriminasie.
Vir alle soorte mense, van alle range en stande. Die genade is
vir jong en oud, manne en vroue, slawe en vrymense, tollenaars en
sondaars, owerspelers en moordenaars. Niemand hoef te voel dat hy
buitegesluit is nie, tensy hy of sy hom of haarself buitesluit
deur ongeloof. Hierdie verskyning van God se genade beteken iets
vir die hele wêreld. Daarom moet dit aan alle mense sonder
onderskeid deurgee word, sodat die nasies God se heil sal sien.

Broers en susters, van die genade van God sê Paulus dat dit
ons leer. Die woord wat hier met leer vertaal word verwys
oorspronklik na die opvoeding van kinders. Dit omvat nie net
onderrig nie, maar ook aansporinge, vermanings en bestraffing,
alles in liefde bedien en vir die welsyn van die kind. In ’n
geestelike sin behels hierdie woord alle onderrig, korreksie,
vermaning en bestrawing wat op geestelike groei gerig is. Soos
met die opvoeding van kinders kan die opvoeding van God se genade
’n pynlike saak wees. Liefde moet ook streng wees. Dit maak
seer, dit beledig my trots, maar dit het altyd as doel my welsyn,
my redding.

So sien ons, geliefdes, dat dieselfde genade wat redding bring
my ook opvoed om ’n Christelike lewe te lei. Al God se
aansporings is gebaseer op sy genade. Ons het die neiging om te
dink dat God se wet ons opvoed. God se wet leer ons om
Christelike lewens te lei. Maar hier sê Paulus dat dit God se
genade is wat ons leer.

Doen jy dinge, ook jou daagliks godsdiensoefening, omdat jy
dit moet of omdat jy bang is dat God anders teen jou gaan keer?
Dan leef jy onder die wet. Maar God se genade het verskyn. Dis
genade wat jou opvoed, motiveer. Al jou voornemens, al jou
geestelike oefeninge moet gebaseer wees op die wete dat God in
genade met jou besig is. Dit beteken ook dat al my pogings om
ander te leer om Christelik te lewe, in genade gegrond moet wees.
As ons nalaat om te leer dat dit deur genade is, dan sal mense in
die slaggat val om te dink dat dit deur prestasie is. Dit sou
’n fatale vergissing wees. Dis genade wat ons opvoed, oplei
om waarlik Christelike lewens te lei.

Paulus wys dat redding en geestelike oefening by mekaar
behoort. Die genade wat ons red, voed ons ook op. Dit doen nie
die een sonder die ander nie. Dit wil sê: God red my nooit om my
dan te los in my onvolwasse en sondige lewensstyl nie. Diegene
wat Hy red, die oefen Hy ook. Waarom het Christus homself vir ons
gegee, volgens vers 14? Hy het homself vir ons gegee om ons te
verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy
eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”

Hierdie waarheid dat God se redding en opvoeding saam gaan, is
beide bemoedigend en ontnugterend.

Dis bemoedigend, omdat dit my verseker dat my geestelike groei
nie aan my eie inisiatiewe oorgelaat word nie, nog van my eie
wysheid afhanklik is nie. God self inisieer my geestelike groei.
Dit beteken nie dat ek geen verantwoordlikheid het om op God se
geestelike opvoeding te reageer nie. Dit beteken wel dat Hy in
beheer van my opvoeding, oefening is. Natuurlik, God skakel
daarby ander mense in soos jou ouers, onderwysers, ampsdraers en
mede-Christene. En God gebruik verskillende middels, veral sy
woord, om ons te oefen. Maar Hy is diegene wat die uiteindelike
verantwoordelikheid neem. ’n Bemoedigende gedagte.

Die eenheid van genade en oefening is ook ontnugterend. Ek kan
myself mooi ’n Christen noem. Maar is die oefening van God
se genade ook sigbaar in my lewe, leer dit my om die
goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën en om
ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te
lewe? Sonder die oefening van genade word my Christelik belydenis
maar leeg. As ’n variasie op Hebr 12:8 kan ons sê: as julle
sonder tugtiging, sonder die oefening van die genade, is, dan is
julle onegte kinders en nie seuns nie.

Geliefdes die doel van God se oefening deur genade word sowel
negatief as positief geformuleer.

Genade leer ons eerstens om die goddeloosheid en wêreldse
begeerlikhede te verloën. Goddeloosheid word dikwels opgevat as
slegtheid, dit wat sedeloos, oneerlik, wreed, sondig of laag is.
In sy breedste sin omvat dit egter alle veragting van God, dat jy
nie met Hom rekening hou nie. Dis ’n gebrek aan eerbied en
ontsag vir Hom. So kan ’n persoon hoogs moreel, selfs
weldadig wees, en tog goddeloos.

Genade leer ons om hierdie houding en optrede van
goddeloosheid te verloën. Hierdie opvoeding gebeur nie
onmiddellik en in een keer nie. Solank as ek hier op aarde lewe,
sal God daarmee besig bly om die goddeloosheid uit te rooi.

Genade leer ons ook om wêreldse begeerlikhede te verloën.
Dit verwys na ’n oormatige begeerte na en besorgdheid oor
die dinge van hierdie wêreld, soos besit, roem, mag en plesier.
Joh tipeer dit as die dinge van die wêreld: die begeerlikheid
van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid
van die lewe (1 Joh 2:16). Joh voeg daaraan toe: en die wêreld
gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen
bly vir ewig. Wêreldse begeerlikhede is dus dat jy opgaan in die
lewe en dinge van hierdie wêreld. Dis die dinge waarvoor die
ongelowiges lewe. Tydelik en verganklik.

Om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën is
basies ’n beslissende breuk daarmee. Die Kretense het uit
ervaring geweet wat die opvoeding van die genade op hierdie
gebied beteken. In daardie tyd het die lewe van die Kretense na
’n jammerlike morele vlak gedaal. Die oneerlikheid, vraatsug
en luiheid van die Kretense was spreekwoordelik.

Maar toe het die genade van God vir hulle verskyn en hulle
harte en lewens radikaal verander. Hulle het ander, nuwe mense
geword. Geoefen deur die genade van God. Baie moet afgeleer,
verloën word. God se genade bring tot stand dat
ongedissiplineerde mense hulle aan God se tug onderwerp.
Goddelose mense word Christelik. ’n Wonder van God se genade.

Die nuwe lewe, deur genade geoefen, word verder positief
omskryf as om ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige
wêreld te lewe. Beide die negatiewe en die positiewe behoort by
ons lewe as Christene. Ons moet die negatiewe aflê en die
positiewe aandoen.

Dit lyk soms asof sommige Christene hulle heeltemal rig op die
aflegging van sondige praktyke, en min aandag hê vir wat hulle
positief moet doen. Christen wees is dan ’n kwessie van dat
jy dit en dat nie doen nie. Te dikwels word die lewe van sulke
mense hard en dalk eiegeregtig. Ek doen tenminste nie dit of dat
nie, ek hou my streng aan ’n lys moenies.

As gelowige kan jy ook die neiging hê om jou heeltemal te
fokus op die aanneem van sekere positiewe eienskappe soos liefde,
barmhartigheid en vriendelikheid. Maar as jy geen aandag vir die
moenies van die Skrif gee nie, dan kan jy in jou moraliteit en
gedrag slordig word. Daarom het ons die dubbele fokus nodig van
’n aflê en van ’n aandoen. Beide moet gelyke aandag
ontvang.

Gemeente, in die teks word die positiewe aspek van die
Christelike lewe aangegee deur die woorde: om ingetoë en
regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe. Daardie
drie woorde: ingetoë, regverdig en vroom word deur die meeste
verklaarders verstaan as gedrag teenoor jouself, jou naaste en
God. Ingetoë beteken dat jy jouself beheers mbt die goeie en
regmatige dinge van die lewe. Dat jy nie oordadig is nie. Dit
beteken ook dat jy jouself die dinge wat duidelik sondig is,
ontsê.

Regverdig verwys na regverdige en regte gedrag teenoor ander
mense; volgens God se reg, sy wil. Jy doen vir hulle wat jy wil
hê hulle sou vir jou doen. Vroom is dat jy in alle dinge van jou
lewe God se wil en eer soek. Jy doen alles uit eerbied en liefde
vir Hom. Jy wandel met God.

Dit alles moet gedoen word in die teenwoordige wêreld, hier
en nou. In die teenwoordige wêreld waarin God dikwels
geïgnoreer of gelaster word. Ek wil ’n nuwe lewe lei in
gesin en samelewing, onder Christene en nie Christene. Paulus
werk dit feitelik uit in die instruksies wat hy voor ons teks gee.
Daaruit kan jy weet wat Paulus bedoel met ingetoë, regverdig en
vroom lewe. Beoordeel jou lewe in die lig van Paulus se
instruksies. Gee nie net aandag vir die woorde wat direk en
afsonderlik tot jou gerig word nie (ou manne, ou vroue, jong
manne, jong vroue ens). By elke onderdeel word Christelike deugde
genoem wat vir elkeen van ons geld, ongeag jou leeftyd of geslag.

Let daarop hoe Paulus ons Christelike getuienis teenoor
ongelowiges benadruk. In vers 5 sê hy: sodat die woord van God
nie belaster word nie. In vers 8 skryf hy: “sodat die
teenstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle
te sê nie.” In sy instruksies aan die diensknegte noem
Paulus as doel: “sodat hulle die leer van God, ons Verlosser,
in alles kan versier.” Paulus is duidelik bekommerd oor die
getuienis wat van ons lewe uitgaan. Vir die Jode skryf Paulus in
Rom 2:24: die naam van God word om julle ontwil onder die heidene
gelaster. Wat sou hy vandag van ons, van my en jou skryf? Die
ongelowige wêreld is gretig om inkonsekwensies in ons lewe te
vind sodat hulle God en sy woord belaglik kan maak.

Daarom broer, suster streef daarna om voorbeeldig te wees in
elke aspek van jou lewe. Doen jou bes terwille van Christus en sy
evangelie. Laat jou werk, jou handel en wandel, jou vermaak, jou
partytjies, jou gedrag in die gesin en op die pad so wees dat
ongelowiges niks slegs kan hê om oor jou te sê nie. Laat hulle
inteendeel gelok word deur die evangelie wat hulle in jou lewe in
aksie sien.

Nou terug na die inleiding. Daar het ek Christus se eerste
koms en die nuwe jaar aan mekaar verbind. Sien jy die verbinding?
Laat die boodskap van Christus se koms, die verskyning van die
genade van God, die basis wees van al jou voornemens vir die nuwe
jaar. Laat die genade die dryfveer in jou lewe wees. Bou nie op
jou eie karakter of wilskrag nie. Laat God se genade jou oefen om
’n Christelike lewe te lei. God se genade wys nie net die
weg nie, maar dit rus jou ook toe om dit te doen.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)