Deur middel van ons oordrag, soek God die harte van ons kinders

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-01-15
Teks: 
Psalms 78
Preek Inhoud: 

Psalm 78:3-8

Ds C Kleyn - Sondag 15 Januarie 2006

Lees: Deuteronomium 6:1-9; Psalm 78:1-43.
Sing: Ps 105:1,2; Ps 105:3,4; Ps 105:5 (na doop);
Ps 111:1,2,5; Ps 71:9-12; Ps 115:6,7,8.

Tema: Deur middel van ons oordrag, soek God die harte
van ons kinders.

  1. Wat moet oorgedra word?
  2. Wie moet dit oordra?
  3. Wat is die doel van die oordrag?

 

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus

Twee kinders is vanoggend gedoop. God verklaar aan die
kindertjies sy liefde en nabyheid. Soos God drie-enig met ons
deur die lewe wil gaan, so wil Hy ook met hierdie kindertjies
saamgaan. En hulle mag met Hom saamgaan. Wat ’n geweldige
werklikheid. Onvoorstelbaar. God almagtig saam met ons klein en
sondige mensekinders.

Hierdie groot voorreg impliseer ook ’n groot
verantwoordelikheid. Hoe gaan God mos met ons kindertjies saam?
Hoe kom die kindertjies sover om met God saam te gaan? Is dit nie
deur middel van opvoeding en onderrig nie? God gee ons kinders
geweldige beloftes: Vaderlike sorg, vergewing van sondes,
vernuwing van hul lewe. Verbondsbeloftes. Maar hoe word dit
beloftes werklikheid in die lewe van ons kinders? Daarvoor wil
God ons gebruik. Soos die kinders deur ons, gelowige ouers, in
die verbond gekom het, so wil God dmv van ons, gelowige ouers,
die kinders op die pad van die verbond lei en versorg. Ons het
baie om vir hulle oor te dra: die kennis van God drie-enig,
geloofskennis. Op hierdie manier soek God die harte van ons
kinders. Daaroor gaan dit in ons teks.

Ek verkondig aan julle: Deur middel van ons oordrag, soek God
die harte van ons kinders.

  1. Wat moet oorgedra word?
  2. Wie moet dit oordra?
  3. Wat is die doel van die oordrag?

Psalm 78 word ’n onderwysing van Asaf genoem. Asaf was
een van die drie persone wat Dawid aangestel het om leiding te
gee aan sang en musiek in die huis van die Here. Asaf was
dirigent, sanger en digter. Hy moes God se groot dade voor die
kerkvolk besing. Verder moes hy die gesange vir die komende
geslagte op skrif stel. Want Dawid het goed besef: as die lewe
van God se kinders werklik wil aanhou blom onder die seën van
die Here, dan sal hulle hierdie God, nooit mag vergeet nie.

Hierdie Psalm getuig daarvan hoe goed Asaf sy taak vervul het.
Tereg word dit dan ook ’n onderwysing genoem. Die lied is
’n onderwysing in die geskiedenis van Israel vanaf Moses tot
en met Dawid. Vanaf die verlossing uit Egipte tot en met die
koningskap van Dawid.

Elkeen word opgeroep om na die digter-profeet te luister:
"My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die
woorde van my mond." Asaf word daarna die spreekbuis van die
huidige generasie. In vers 3 gebruik hy die "ons" vorm.
"Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het,
sal ons nie verberg vir hulle kinders nie". Tesame met die
generasie van sy tyd het hy baie om te vertel. Dit word dan ook
’n baie lang Psalm.

Wat is dan die inhoud van sy onderrig, oordrag? Hy sê: "
Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het".
Dit is dus hoofsaaklik ou nuus. Iets wat ons self deur
oorlewering ontvang het, tradisie.

Gemeente, die konkrete inhoud daarvan vind ons in vers 4.
"Maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van
die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het." Dit
gaan dus om die roemryke dade van die Here.

Die Here het in hierdie wêreld naam gemaak. Hy het bewys wie
Hy is. Dit moet julle vandag ook weet. Kyk maar na sy roemryke
dade. Seuns en dogters, só leer julle jul God ken. Wat is die
roemryke dade anders as die geweldige verlossing wat Hy vir sy
volk berei het? Dit is die verbondsgeskiedenis, waar die Here van
krag tot krag voortgegaan het, van die een groot verlossing na
die volgende. Dis die pad van God se vergadering, beskerming en
onderhouding van sy kerk. Dit is niks anders nie as die
geskiedenis van verlossing en Reformasie.

Die kerk bly ’n wonderwerk van God. So het dit ook begin.
Dink maar aan die verkiesing van Abraham - God het dode lewend
gemaak en die dinge wat nie bestaan nie, geroep asof hulle
bestaan (Rom 4:17). Dink maar aan die geboorte van Isak: menslik
gesproke ’n onmoontlikheid. Dink maar aan die verlossing uit
Egipte: alles het doodgeloop. Dink maar aan die verlossing uit
ballingskap, terwyl dit gelyk het asof daar geen uitsig meer was
nie. So kan jy maar aangaan, totdat jy al die verlossings sien
wat God in die geskiedenis van sy volk bewerk het: God se dade
van Reformasie en beskerming. Hoe dikwels het dit nie gelyk asof
God se volk, die kerk, reddeloos was nie.

Asaf besing slegs die verlossing uit Egipte tot en met die
koningskap van Dawid. Hoe tiperend is die verlossing uit Egipte
nie vir die hele geskiedenis van God se volk nie. Die Here het
steeds weer bewys wie Hy toe was en wie Hy nou nog is, naamlik
die troue Verbondsgod, wat voortdurend tot redding van sy kinders
ingryp.

Vandag kan jy nog baie meer as Asaf vertel. Die verlossing uit
Egipte is maar ’n yl weerspieëling van die bevryding uit
die slawerny van die sonde. Die vryheid in Kanaän is maar
’n voorafskaduwing van die vryheid wat daar in Christus
Jesus is. Sedert Christus se verskyning op aarde het daar alweer
heelwat gebeur. 20 eeue kerkgeskiedenis. Wat ’n rykdom om te
vertel.

Gemeente, die teks wys nie net op God se dade nie, maar ook op
sy wet: "Hy (die Here) tog het ’n getuienis opgerig in
Jakob en ’n wet gegee in Israel". God se wet getuig van
sy verlossing. As verloste volk moet jy weet wie jou Verlosser is
en wat jou verlossing inhou: "Ek is die Here jou God wat jou
uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het." So sien jy
dat God se verlossingsdade en sy Wet bymekaar behoort. As jy die
twee skei, sal jy die wet nooit goed begryp nie. Dan word dit
’n koue opsomming van reëls. Nee, daar is meer as ’n
stel reëls om aan jou kinders oor te dra. Hulle moet eers leer
om die wetgewer te sien: die Here, ons Verlosser. Jy moet van God
se roemryke dade vertel en, in dié lig, God se wet deurgee. Dit
is voorskrifte van jou Verlosser. Jy wil mos nie hê dat bevryde
kinders opnuut slawe word nie. So soek God ons en ons kinders se
harte.

Nou die tweede gedagte. Wie moet dit oordra? Wie is
verantwoordelik vir die oordrag van die geloofskennis? Is dit
slegs ’n taak van die ouers? Kom ons lees noukeurig die
woorde van ons teks (verse 3,4): "Wat ONS gehoor het en weet
en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir HULLE(!)
kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke
dade van die Here en sy mag en wonders wat Hy gedoen het."
"Ons" verteenwoordig hier nie alleen die ouers nie,
maar ook die oueres. En ons wil wat ons gehoor het nie alleen aan
ons kinders vertel nie, maar aan hulle kinders, die kinders van
ons vaders. Die een generasie is verantwoordelik vir die volgende.
Daaronder val ook die ouers. Maar nie net hulle nie, ook die
ongehudes, kinderlose egpare en oueres. Die Bybel spreek van
generasies. Die een geslag is verantwoordelik vir die volgende.
Die kerkjeug en kinders het baie meer versorgers, beskermers,
opvoeders, pas en mas as net hulle bloedeie ouers. Die Here praat
tot Abraham en ons oor geslagte. Nie net die ouers nie, maar ook
die oueres moet die jongeres onderwys en entoesiasties maak.

Of ek kinders het of nie, getroud is of ongetroud, ek is mede
verantwoordelik vir die onderwys van daardie kinders van die kerk.
Daarom het ons ook saam ’n skool opgerig vir die onderwys
van ons kinders (in ons geval die GLJC). Ons het mos soveel aan
ons kinders oor te dra juis oor ons en hul God. En ’n goeie
gereformeerde skool is oor die algemeen ’n waardevolle
hulpmiddel daarby. Daarom dra ons ook saam, na vermoë, die laste
vir die bedryf van die skool. Ons wil dit vir ouers moontlik maak
om van daardie hulpmiddel gebruik te maak. By die doop het ons
getrou saam gebid: “Ons bid U dat U hierdie kinders altyd
met u Heilige Gees wil regeer, sodat hulle Christelik en
godvresend opgevoed mag word en in die Here Jesus mag groei. Gee
dat hulle u vaderlike goedheid en barmhartigheid sal erken en
bely. Gee dat hulle gehoorsaam onder ons enigste Leraar, Koning
en Hoëpriester, Jesus Christus, sal lewe en moedig teen die
sonde, die duiwel en sy hele ryk sal stry en oorwin.” Hoe
bewus het julle dit gebid? Wie bewus so bid, wil tog daaraan
meewerk dat die kinders in die Here Jesus mag groei, God se
vaderlike goedheid en barmhartigheid mag leer erken en bely en
gehoorsaam onder Christus mag leer lewe en stry? Dis ’n
kwessie van bid en werk. Hoe jy konkreet daaraan meewerk kan
verskil per persoon en situasie. Maar ek sal in ieder geval
belangstel in die opvoeding en onderrig van die kinders. En ek
wil, waar moontlik, ouers daarby help. Dit gaan immers oor die
heil van die kinders. Hierdie kinders is God se kinders en daarom
ook ons kinders, verbondskinders, wat op die pad van die verbond
gelei en bewaar moet word. "Wat ons gehoor het en weet en
ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir HULLE(!)
kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke
dade van die Here en sy mag en wonders wat Hy gedoen het."

Natuurlik, die taak van oordrag begin tuis, by die ouers. Daar
groei die verbondskind op. Daar leer hy praat en dink. Daar is
die kinders eerste en ook die meeste van die tyd. In die gesin,
die klein, maar baie belangrike onderdeel van die samelewing.
Daar het die ouers die geleentheid en opdrag om die jong geslag
vertroud te maak met die geskiedenis en leer van God se verbond.

In Deut. 6 lees ons God se liefdeseis: "Hoor, Israel, die
Here onse God is ’n enige Here. Daarom moet jy die Here jou
God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou
krag" (vers 4,5). In aansluiting daarop staan daar: "En
hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou
huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan."

God se getuienis moet in jou hart wees. Daar moet dit begin.
Jy moet self daardeur gegryp word, daarmee vervul wees. Dit moet
jou lewe beheers. Ook die onderwerp van jou gesprekke wees. Waar
die hart van vol is, loop die mond van oor. So sal die kinders
dit vanself hoor. "Jy moet dit jou kinders inskerp".
Dit beteken nie om hulle dit so ’n keer of wat te laat hoor
nie, dit moet hulle ingeskerp word. Hierdie Woord moet ’n
onuitwisbare indruk by hulle agterlaat.

Die Here voeg daaraan toe dat dit tuis sowel as buitenshuis
die onderwerp van die gesprek moet wees: "wanneer jy in jou
huis sit en as jy op pad is." Wat sal dit die gesprekke
verdiep! Dit sal werklik iets beteken vir hulle wat dit hoor. Dit
het vir die jeug ook nut - ook al dink hulle nie altyd dat dit
oulik is nie. Dit gaan per slot van rekening oor hulle ewige
welsyn!

Broers en susters, onderwys in die verbond begin dus tuis. Dit
begin heel eenvoudig met ’n aandgebedjie en ’n verhaal
uit die kinderbybel. Dit word gevolg deur vertelling en ’n
gesprek. Daarvoor hoef jy nie ’n onderwyser(es) te wees nie.
Jy word as pa en ma daartoe geroep. Die kinders moet tuis, deur
julle, hulle God leer ken. Hulle moet hoor van die roemryke dade
van die Here en wat Hy in antwoord van ons vra. Hoe kan hulle
anders op Hom vertrou? Daarom kan jy hierdie taak nie afskeep nie
of oorlaat aan die leerkragte van die skool nie. Jy bly as ouer
eerste verantwoordelik.

Geliefdes, hoe is dit onder ons met die oordrag van
geloofskennis. Het jy nog iets om aan die kinders, die jeug te
vertel? Kan jy God nog in die middel van jou lewe plaas, sodat
jou kinders weet wie God vir hulle is en wat hulle van Hom mag
verwag? Ons leer ons kinders om te bid, maar as hulle dan worstel
met die vraag: "Luister God regtig?" - wat antwoord jy
dan? Volstaan jy daarby deur te sê: "Jy moet dit net glo"
of probeer jy dit konkreet voor te stel? Jy kan byvoorbeeld
antwoord: Natuurlik! Kom ek vertel jou ’n ware verhaal."
Daarop kan jy dan ’n Bybelverhaal vertel, byvoorbeeld die
van Abraham of Daniël. Jy doen jouself en jou kinders tekort as
ons net sê: "Jy moet dit glo". Jy doen God ook tekort.
Hy het Homself nie verniet as die troue Verbondsgod bewys nie.
Het Hy sy dade dan nie as getuienis in die Bybel laat opteken nie?
En laat deurgee in die geskiedenis van die kerk nie? Daaruit leer
jy God ken. En leer jy om Hom voorop te stel in jou lewe.

Die jeug het dit nie maklik nie. Hulle moet in hierdie
chaotiese en verwarrende tyd die regte pad vind. Daarin lê vir
ons ’n belangrike taak. Om hulle God te laat sien in hierdie
lewe - in hierdie wêreld. Vertel van Hom en sy roemryke dade.
Laat hulle sien dat God alles vir jou beteken. Lewe ’n
werklik Christelike lewe. Maak duidelik waarom jy so lewe. Laat
alles van God spreek. Die manier waarop jy jou geld bestee en
waarop jy ontspan. Die lektuur wat jy huis toe bring. Die dinge
waarna jy kyk en luister. Die wyse waarop jy praat oor hulle wat
God bo-oor jou gestel het in die kerk en samelewing, ens., ens.
Op hierdie manier soek God die harte van ons kinders.

Dit bring my by die derde gedagte: Wat is die doel van die
oordrag. Die teks noem die doel as: "en hulle vertroue op
God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie
kan bewaar."

Die doel is dat ons kinders hul vertroue op God gaan stel. God
wil so die geloofsantwoord wakker roep. Hy het die jonger geslag
nie sonder rede op sy verbondspad geplaas nie. Hy wil hê dat
hulle ook self met hom moet saamgaan deur die lewe, dat hulle hul
vertroue op Hom alleen sal stel. By Hom is hulle veilig. Hy het
Homself bewys as die enigste ware God, op wie sy kinders altyd
kan staat maak. Dink aan sy roemryke dade en sy krag. Sy beloftes
bly van krag in lewe en in sterwe. Dit verskaf blywende sekerheid
en bevry van al die kortsigtige vertroue op menslike mag en
moontlikhede en die paniekerige gesoek na ander magte om aan te
hang.

Dié vertroue op God gaan saam met die gedenk van God se werke.
Dit is nie net ’n saak van die hart nie. Vertroue op God is
nie ’n geheim tussen God en jou nie. Nee, dit spreek in
woorde en dade. Jy besing God se wonderlike dade. Jy praat
daaroor. Jy leef mos om te loof. Daarvoor het God vir hom ’n
volk geskep. Wat beteken verbondskinders vir God as hulle geen
tyd vir Hom het nie of geen geloofsmoed of lus het om Hom te loof
nie?

Naas die gedenk van God se dade is die onderhouding van sy
gebooie. God soek gehoorsame kinders. Die digter waarsku teen
ontrou in die verbond. Die kinders moet op God vertrou en nie
soos hulle vaders in die woestyn word nie - "’n koppige
en wederstrewige geslag, ’n geslag met onvaste hart en wie
se gees nie trou was teenoor God nie."

Wat die vaders betref, volg daar in die Psalm ’n hartseer
relaas. God het van alles gedoen, desondanks hou die volk aan om
te sondig. Dit is ’n stugge verhouding teenoor die Verlosser.
Koppig en wederstrewig - sondes wat ook vandag huiweringwekkend
aktueel is.

Dit is daardie weerbarstige houding van: ek doen dit nie, ek
laat my nie voorskryf nie, dwarstrek. Dit mag dalk so in die
Bybel staan en my ouers en ampsdraers kan dit aan my voorhou,
maar ek doen my eie ding. Weerbarstigheid, dit is die groot vyand
van die heil, die teenstand teen die reddende God. Sedert die
paradys het dit nie verander nie: hiermee verwoes jy jou lewe.
Onnosele koppigheid bring jou nêrens nie. Psalm 78 spel dit as
’t ware uit: moet asseblief nie weer afvallig en troueloos
teenoor ons Verbondsgod wees nie.

Broers en susters, dit verg baie wysheid om kinders vertroue
en gehoorsaamheid te leer. Dit kom nie vanself nie. Let op julle
groot verantwoordelikhede. Die trou van die volgende geslag is in
’n groot mate afhanklik van jou trou. Deur middel van jou
oordrag wil die Gees van God die harte van die kinders bereik en
bekeer.

Vertel jy jou kinders wie God is en wat Hy van hulle verwag?
Dit kan eers as dit vir jouself duidelik is wie God is. Daarom
neem eerstens ter harte wat aan jouself vertel is en wat jy in
die kerk geleer het. In verwondering. Vertrou op God. Soek jou
sekerheid by Hom alleen en leef uit dankbaarheid volgens sy
gebooie. Laat sien dat dit werklik ’n saak van jou hart en
lewe is. Leef dit voor.

En vertel dit verder. Jy het iets waardevols om aan die
jongeres oor te dra: die kennis van die Here, ons Skepper en
Verlosser. Sodat hulle ook hul vertroue op God kan stel, sy werke
nie vergeet nie maar sy gebooie bewaar.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)