In die Christelike gesin staan die Here Christus sentraal

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-02-19
Teks: 
Efésiërs 5
Preek Inhoud: 

Efésiërs 5:22,25; 6:1,4

Ds C Kleyn - Sondag 19 Februarie 2006

Lees: Efésiërs 5:15-6:9.
Sing: Ps 68:9; Ps 86:3,4; Ps 86:6; SB 26:1,2,7,8,11; Ps 139:1,12.

Tema: In die Christelike gesin staan die Here Christus sentraal

  1. Christus is die Hoof van die gesin
  2. Christus is ons groot voorbeeld
  3. Christus is ons groot verlosser

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat is die verskil tussen Christelike gesinne en die ander gesinne in die samelewing? God het die huwelik en gesin as pragtige gawes geskep, as verhoudings van liefde en trou, waar daar geborgenheid is, ’n ideale plek vir kinders om in groot te word. Maar wat het die sonde baie stukkend gemaak. In vroeër tye maar ook vandag. Daar is mans wat nie goed vir hul vroue sorg nie. Daar is mans wat hul vroue as minderwaardige skepsels behandel en hulle misbruik. Daar is mans en vroue wat ontrou is. Daar is vroue wat hulle slaafs aan hul mans onderwerp omdat hulle te bang is om anders te doen. Of vroue wat oor hul mans die baas wil speel. Daar is kinders wat teen hul ouers opstaan. Hulle weier gehoorsaamheid. Of kinders wat bitter of moederloos raak omdat ouers onredelike eise en verwagtings aan hulle stel, of hulle onbillik en hard straf. Daar is ouers wat liefdeloos en ongevoelig met hul kinders omgaan. En sodoende baie skade aan die kindersiele veroorsaak. Hoeveel gebrokenheid is daar nie in huwelike en gesinne nie? Gefrustreerde manne en vroue, ouers en kinders. Soms selfs radeloos.

In die Skrifgedeelte wat ons gelees het, orden Paulus die huwelik en gesin weer volgens God se heilsame reëls. Hy gaan terug na die skepping aan die begin waar God alles baie goed gemaak en gereël het. Paulus verwys ook voortdurend na Christus die verlosser van huwelik en gesin. Dis inderdaad opvallend dat Paulus by al die verhoudings telkens na Christus verwys, soos blyk uit die verse wat ons as teks gekies het. Paulus gee in hierdie gedeelte ’n uitwerking van die algemene tema van lewensvernuwing wat hy in hoofstuk vier begin het met die woorde: Ek vermaan julle dan om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is. Dit gaan hier oor die nuwe lewe in huwelik en gesin. Die nuwe lewe in Christus. Julle het Christus leer ken. Sodat julle die oue mens moet aflê en julle met die nuwe mens moet beklee (4:20-24). Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here, wandel soos kinders van die lig (5:8). Hierdie wandel in die lig moet in jul huwelik en gesin gestalte kry. Elke verhouding word gesien vanuit Christus se verlossingswerk en sy Koningskap. En so ook vanuit die vernuwingswerk van sy Gees. So val ons gedeelte ook onder die groot bevel van 5:18: “Word met die Gees vervul.” Laat die Gees julle lewe beheers. Sonder die kragtige werking van die Heilige Gees in jou kan jy onmoontlik God se riglyne vir die verhoudings nakom. Christus bepaal ons verhouding en plaas ons vir die instandhouding daarvan onder beheer van die Heilige Gees.

Wat is dan die verskil tussen ’n Christelike gesin en ander gesinne? Ons sou dit so kan formuleer – en dit is ook die tema van die preek: In die Christelike gesin staan die Here Christus sentraal.

  1. Christus is die Hoof van die gesin
  2. Christus is ons groot voorbeeld
  3. Christus is ons groot verlosser

Op watter manier is Christus by die Christelike gesin betrokke? Soms word dit so omskryf: Christus is die permanente gas. Hy is daar in die huis as ’n onsigbare gas. Hy sien alles wat gebeur. Hy hoor alles wat gesê word. Jy moet dus altyd met sy teenwoordigheid rekening hou. Om Christus as gas te sien hoef nie verkeerd te wees nie. Maar is dit wel afdoende? Is Christus nie meer as gas nie? ’n Gas is wel iemand waarmee jy in ’n gesin rekening moet hou, maar ’n gas het normaalweg geen gesag nie. Jy kan self bepaal watter plek jy aan die gas toeken. Christus het egter in ons gesinne gesag. Hy is die hoof van die gesin. Daardeur kan jy eers praat van ’n Christelike gesin.

Kyk maar na die verwysings na die Here Christus in die verskillende tekste. Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Kinders julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here. Vaders, voed julle kinders op in die tug en vermaning van die Here. Let op die naam Here. Here of Heer beteken Eienaar en Heerser. Ons Kat vat die eerste mooi saam in antwoord op die vraag: Waarom noem jy Hom ons Here? Die antwoord lui: “Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het.” Christene is hulle wat vrygekoop is van sonde en Satan om eiendom van Christus te wees. Ons is hoof vir hoof Christus se eiendom. Hy is nog bo die man en die vader die Hoof van die gesin. As Hy die eerste in ons gesin is, dan moet ons in alle dinge baie sorgvuldig met Hom omgaan. Dan is sy orde ons orde. Sy wil vir ons wet.

Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Is dit vir julle duidelik wat met die laaste woorde “soos aan die Here” bedoel word? Dit beteken nie dat jy as vrou aan jou man onderdanig is op presies dieselfde manier as jy aan die Here onderdanig is nie. Dit sou te ver gaan. Onderdanigheid aan die Here Jesus is vir die vroue, ja, vir elke gelowige, man of vrou, ’n absolute onderdanigheid. Dit kan nie gesê word van die verhouding van die vroue tot hul mans nie. Ons is almal slawe, diensknegte van die Here Christus. Maar ’n vrou word nooit vertel om slaaf van haar man te wees nie. Ons verhouding tot die Here is een van totale, absolute onderworpenheid. Vroue word nie daartoe opgeroep nie.

Wat beteken dit dan wel om soos aan die Here onderdanig te wees? Dit beteken: vroue, wees aan julle eie mans onderdanig omdat dit deel van jul plig teenoor die Here is, omdat julle daarmee jul onderdanigheid aan die Here tot uitdrukking bring. Met ander woorde, jy doen dit nie net ter wille van jou man nie, maar jou doen dit primêr terwille van die Here self. Jy doen dit nie omdat jou man die natuurlike heerser is nie, maar omdat die Here wil hê dat jy as vrou jou man dien en ondersteun as ’n hulp wat by hom pas. Dis deel van jou Christelike gedrag. Dis deel van jou dissipelskap. Paulus tipeer die Christelike lewe in Rom 14:8 soos volg: “Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Alles wat jy doen, doen jy terwille van die Here, om Hom te behaag want jy behoort aan Hom.

So tel Paulus vanaf die begin van hierdie gedeelte die saak op bo die vlak van onderlinge stryd en stel ons in staat om dit in die regte gees te benader. Hy sê feitelik as jy gretig is om die Here Jesus te behaag en sy wil te doen, wees dan aan jou eie man onderdanig. Daar is geen dwingender motief vir aksie as hierdie nie. En elke Christen vrou wat bo alles die Here wil behaag sal geen probleem met hierdie opdrag hê nie. Dis ook ’n pragtige geleentheid om te wys wat dit is om Christen vrou te wees. Veral in ons verwarde samelewing met sy chaotiese verhoudings in huwelik en gesin, waarin elke party sy eie regte benadruk. So ’n Christelike houding van onderdanigheid en diensbaarheid val steeds meer op in ons samelewing. Laat die mense maar weet dat jy dit nie doen omdat jy eenmaal so gebore is nie, maar omdat jy op daardie manier die Here wil dien.

So word ook die kinders persoonlik aangespreek met die woorde: kinders julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here. Ja, kinders, jong mense, julle behoort ook aan die Here en aan sy kerk. Paulus rig hom hier spesiaal tot julle. Hy gaan daarvan uit dat julle as kinders en jong mense ook in die eredienste ’n plek het. “In die Here” wys daarop dat jy in verhouding met die Here lewe. Jy is een met Hom. En juis vanweë die band met die Here moet jy nou jou ouers gehoorsaam wees. As jong mense staan jy nie net onder die gesag van jou ouers nie. Jy staan ook en selfs in die eerste plek onder die gesag van Christus. Dit bepaal ook die grens van die gehoorsaamheid aan jou ouers. Bo alles is jy aan Christus gehoorsaamheid verskuldig. Jy mag dus nooit jou ouers gehoorsaamheid wees in dinge wat teen die wil van die Here ingaan nie. Dis nie jou ouers nie, maar jou Here Christus wat absoluut gesag oor jou het. Hy is hoof van die gesin. Hy is jou Hoof, jou Eienaar.

Gehoorsaamheid aan jou ouers is dus volop ’n godsdienstige saak, ’n kwessie van liefde en gehoorsaamheid aan Christus. Dis nie net ’n kwessie van vrees of natuurlike liefde vir jou ouers nie. Dis ’n kwessie van gehoorsaamheid aan jou Here Jesus. Dis uiteindelik die rede waarom jy jou ouers gehoorsaam is. Die natuur leer dit. Die wet dikteer dit, maar as Christene het ons nog ’n verdere rede, ons Here Jesus, ons Eienaar en Verlosser vra dit van ons. Dis een van die maniere waarop ons wys dat ons ’n band met die Here het en aan Hom gehoorsaam is. Doen dit in die Here. Dis die beste en sterkste aansporing om aan jou ouers gehoorsaam te wees. Dit gee die Here vreugde. Hy wil dit so hê. Dan gedra jy jou nie soos die selfsugtige, aggressiewe kinders nie, maar dan bewys jy aan jou ouers alle eer, liefde en trou.

Gemeente, dat Christus die Hoof van die gesin, Heer van die huis is, blyk ook uit die woorde wat tot die vaders gespreek word. Vir hulle word gesê “voed (julle kinders) op in die tug en vermaning van die Here.” Tug kan hier wys op die opvoeding wat met die daad geskied, terwyl vermaning kan wys op die opvoeding deur die woord. Met woord en daad moet jy jou kinders opvoed. Die woorde “van die Here” kwalifiseer die opvoeding. Dit moet van die Here wees, van die Here kom. In teenstelling tot die wêreld waarin die onderwys en opvoeding van kinders antropo-sentries, mensgesentreer is, moet die opvoeding in die Christelike gesin Christo-sentries wees, deur Christus bepaal word en op Hom gerig wees. Hy is immers die Hoof, die Heer van die huis, die groot Opvoeder van die kinders. Jy tree as Christelike ouers dan nie in eie gesag op nie, maar namens jou Heer Jesus. Jou oorheersende sorg is dan nie dat jou kinders hulle aan jou gesag sal onderwerp nie, maar dat hulle hulle aan die gesag van die Here Jesus sal onderwerp. Dit gaan jou nie daaroor om jou idees aan die kinders op te lê nie, maar om Christus se wil aan hulle oor te dra en op te lê. Hierin is jy as Christelike ouer anders as ander ouers. Jy wil nie net hê dat jou kinders as liewe en fatsoenlik burgers, met goeie maniere, groot word nie. Ook al is dit natuurlik ook wel belangrik vir ’n Christelike ouer omdat dit belangrik vir Christus is. Maar die belangrikste vir jou as Christen ouer is dat jou kinders grootword in die kennis van die Here Jesus as hul verlosser en Heer. Dis jou spesifieke taak as Christen ouer. Dis jou grootste verlange. Jy staan in diens van die Here Jesus. En jy wil jou kinders na Christus lei en hulle aan Hom onderwerp. Jou hoogste doel en vreugde is dat jou kinders die onderrig en tug van die Here Jesus self aanvaar. Daarom: voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.

Hoe is die Christelike gesin dan anders as die ander gesinne? In die Christelike gesin staan nie die man of vrou, die ouers of kinders sentraal nie, maar staan Christus sentraal. Hy is hoof van die gesin. Hy is ook die groot voorbeeld. Dis die tweede gedagte.

Dit word uitdruklik in vers 25 genoem as gesê word: Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het. Christus word as model aan die man voorgehou. As man moet ek Sy liefde weerspieël. 'n Baie moeilike saak. Probeer dit maar om soos Christus vir jou vrou te wees. Die hoogste standaard van die liefde word ons voorgehou. As die vrou gedink het dat sy ’n byna onuitvoerbare opdrag gekry het om aan haar man onderdanig te wees, dus om hom te ondersteun en sy leiding te aanvaar, dan het sy nog nie haar man se geweldige opdrag verstaan nie. Dit klink maklik om lief te hê, maar dit is menslik onmoontlik om lief te hê “soos Christus die gemeente liefgehad het”.

Paulus gebruik vyf werkwoorde om die liefde van Christus vir sy kerk te teken. Christus het sy gemeente liefgehad. Hy het Homself vir haar oorgegee. Hy wil haar heilig. Hy wil haar reinig. Hy wil haar in heerlikheid voor Hom stel.

Christus het sy liefde gewys deur homself vir sy bruid oor te gee, selfs tot die dood aan die kruis. Is ek as man bereid om myself vir my vrou oor te gee? Is ek bereid om van alles vir my maat op te offer, soos my tyd, my geld, my sport, my vriende, my stokperdjies, ja, my lewe? Stel ek my werklike tot haar beskikking? Liefde is: myself oorgee soos Christus.

Waarom het Christus Homself vir sy gemeente oorgegee? Omdat sy so aantreklik was? Nee, om haar aantreklik te maak. "Om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks." Die Here wil iets spesials van ons maak, 'n mooi bruid waarop Hy trots kan wees. Hy kan nie wag om ons voor Hom te stel in volle glorie.

So moet dan ook die man vir sy vrou wees. As hoof van my vrou wil ek haar gevoelens en wil nie versmoor nie. Ek wil haar ontwikkeling nie in die pad staan nie. Inteendeel. Ek wil juis alles doen om haar te bevry van die dinge wat haar minder gaaf maak. Ek wil haar help om haar volle potensiaal te bereik in diens van God en die naaste. Ek wil sien dat sy blom, dat sy gelukkig en mooi is, 'n vrou waarop God en mens trots kan wees.

Hier word dan uitdruklik die man opgeroep om lief te hê soos Christus. Christus se voorbeeld geld egter nie net vir die mans nie. Dit geld vir alle bewoners van die huis, vir alle Christene. Dink aan wat Paulus in Ef 5:2 skryf: “wandel in die liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het.” Dit word vir elkeen van ons gesê. Waarom gaan dinge dikwels so verkeerd in huwelike en gesinne, ja in enige verhouding? Is dit nie dikwels vanweë selfsug nie, vanweë ’n gebrek aan ware selfopofferende liefde nie? Christus het ons met woord en daad geleer wat ware liefde is. En nou word van ons gehudes en ongehudes, ouers en kinders gevra: “wandel in die liefde soos Christus ons ook liefgehad het.” Wees navolgers van Christus, die hoof van die gesin.

Dan sal die Christelike gesin deur liefde gekenmerk word. Want Christus is liefde. So sou ’n mens in die lied van die liefde uit 1 Kor 13: 4-7 die woord liefde deur Christus kan vervang en so ook op onsself kan toepas. Kom ons kyk saam na daardie gedeelte. Dan lees ons: Christus is lankmoedig en vriendelik; Christus is nie jaloers nie; Christus praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Christus bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Kan jy dan in navolging van Christus se voorbeeld sê: Ek is lankmoedig en vriendelik; Ek is nie jaloers nie; Ek praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie my eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Ek bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Stel Christus hier nie onmoontlike eise nie? Welke Christen kan Christus op so ’n manier navolg en weerspieël? Welke eggenoot, ouer of kind is so op Christus gefokus sodat Christus in die huwelik en gesin werklik alles is? Sodat alles aan Hom onderworpe is en alles op Hom gerig is? Is dit nie ’n onmoontlike ideaal nie? Tydens hierdie lewe sal ons ongelukkig die volmaaktheid nie kan bereik nie. Maar die begin mag daar wees, sigbaar vir elkeen. Hoe? Net deur Christus ons groot Verlosser. Hy het in die wêreld gekom om ons te verlos, om ons sondes te versoen en ons tot nuwe mense te maak. Hy vergewe ons sondes. Daarom hoef ons nie in ons sondes te bly lê nie, maar mag ons steeds weer opstaan en ’n nuwe begin maak. Vanuit sy vergewing kan ons as eggenotes en gesinslede mekaar se sondes en tekortkomings vergewe. Soos ons lees in Ef 4:32: “Vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” Hoe anders is ’n huwelik en gesin wat roem in die vergewing deur Christus en wat as gevolg daarvan ook mekaar vergewe.

Christus ons Verlosser het nie net ons sondes kom vergewe nie, maar hy vernuwe ons ook deur sy Gees. So kan ek werklik as Christen my plek inneem in huwelik en gesin. In Christus ’n nuwe skepsel. So kan ek met Paulus sê: Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (Fil 4:13). Ek kan dit nie in eie kragte doen nie, net deur Christus wat my krag gee. Daarom sal ek as Christen nederig, in biddende afhanklikheid, my plek inneem. So kan ek as vrou aan my man onderdanig wees, soos aan die Here. So kan ek hom dien en ondersteun terwille van die Here. So kan ek as man my vrou liefhê soos Christus sy gemeente liefgehad het en homself daarvoor oorgegee het. So kan ek as kind my ouers gehoorsaam wees in die Here, in sy krag. So kan ek as ouer my kinders opvoed in die tug en vermaning van die Here. Deur my Here Christus wat my verlos het en krag gee. Hy het sy liefde en vrede in my hart uitgestort. Daarom wil ek met blydskap doen wat Hy van my verlang, watter posisie Hy my ook al gee.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)