In die sesde gebod beskerm die Here die lewe van sy beelddraers

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-01-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Verwysing: 
HK 40-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

HK Sondag 40

Ds HH van Alten - Sondag 22 Januarie 2006

Lees: Gen. 9:1-7, Ps. 8, Jak. 3:7-12, HK Sondag 40
Sing: Sien liturgie

Tema: In die sesde gebod beskerm die Here die lewe van sy beelddraers
        1. Die hoë posisie van die mens
        2. Die herstelde posisie deur Christus

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die sesde gebod lui: “Jy mag nie doodslaan nie” – dit lyk eenvoudig, maar tog het ons vertaling toeligting nodig. Die woord wat hier vir “doodslaan” gebruik word, kom ongeveer 50 keer in die Ou Testament voor. En dit is opvallend dat hierdie woord nooit gebruik word waar God iemand doodmaak, en ook nie vir doodslag tydens ‘n oorlog nie. Hierdie woord word dus slegs gebruik om te verwys na wederregtelike doodslag. Die sesde gebod gaan dus oor onregmatige doodslag, doodslag wat in stryd is met die reg. Die owerheid wat besig is om haar swaardmag op ‘n goeie manier uit te oefen, die soldaat wat in die oorlog iemand van die vyand doodskiet, die burger wat uit egte selfverdediging iemand doodmaak, oortree dus nie teen die sesde gebod nie.

En dis belangrik om dit raak te sien, broers en susters, want dit wys ons dat die Woord van die Here geen absolute eerbied vir die lewe ken nie – daar is immers gevalle, en die Woord van die Here wys dit ook, waar iemand geregtig is om ‘n ander se lewe te neem. Om te praat van absolute eerbied vir die lewe wek die indruk asof DIE Lewe iets heiligs is. En daar is sommige mense wat hierdie eerbied vir die lewe tot die absurde deurtrek, sodat selfs die plante en die diere hieronder val. So byvoorbeeld het ‘n etikus uit die middel van die twintigste eeu gemeen dat iemand wat in die somer by kerslig besig is om te werk eerder die vensters gesluit moet hou en die bedompige lug maar moet inasem, as wat hy insek na insek met verskroeide vlerke op sy lessenaar sien val! Dit is ‘n vergesogte visie op die heiligheid van die lewe. As kinders van die Here ken ons nie hierdie absolute eerbied vir die lewe nie.

En tog is die lewe van die mens ook weer nie op dieselfde vlak as dié van die plante en die diere nie. Die plante en die diere staan tot beskikking van die mens - die Here gee immers aan die mens die toestemming om van die gewasse van die veld en van die vrugte van die bome te eet (Gen. 1:29 e.v.). Ook mag hulle die vleis van die diere eet (Gen. 9:3). Ons mag bome afkap en diere doodmaak, en plante en diere kan ook vir wetenskaplike ondersoek gebruik word. Plante en diere is skepsele van God wat Hy gee vir gebruik deur die mens. Maar die mens staan op ‘n ander vlak as die plante en die diere. Want slegs van die mens word gesê dat hy geskape is na die beeld van God.
Ons ken dus enersyds geen asbolute eerbied vir die menslike lewe nie, maar andersyds is daar tog respek vir dié wese in God se skepping wat die beeld van sy Skepper vertoon. En dit is waaroor dit in die sesde gebod gaan.

Tema: In die sesde gebod beskerm die Here die lewe van sy beelddraers
            1. Die hoë posisie van die mens
            2. Die herstelde posisie deur Christus

1. Ons ken almal die uitdrukking “beeld van God”. En met hierdie uitdrukking bedoel ons dat die mens God se verteenwoordiger op aarde is. God wil in ons, in my, woon en sy krag via my in hierdie wêreld laat straal. Ek is as’t ware die poort waardeur God sy krag op hierdie aarde wil laat geld.
En vir dié doel het God die mens in die paradys ook toegerus; Hy het hom alles gegee wat hy nodig gehad het om sy krag en heerlikheid te kon uitstraal; Hy het hom alles gegee om die poort te wees waardeur Hy in hierdie wêreld verheerlik kon word. Die Kategismus sê in Sondag 3 dat die mens goed en na God se ewebeeld geskape is. Dit beteken – gaan die Kategismus verder – dat die mens in ware geregtigheid en heiligheid geskape is, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.
het God die mens toegerus om sy verteenwoordiger op aarde te wees, Hy het hom die nodige kapasiteite van verstand en wil en liggaamsbou gegee om sy krag en heerlikheid uit te straal, Hy het Hom gemaak om te loof en te prys! Pragtig, soos dit was in die paradys!

Maar gemeente, u en ek weet dat ons vandag nie meer in die paradys lewe nie. Die tyd van ware geregtigheid en heiligheid het in Genesis 3 gruwelik skipbreuk gely. Maar beteken dit ook dat die mens ná die sondeval die beeld van God verloor het? Kan ons van ongelowiges sê dat hulle nog beeld van God is? Die drie Skrifgedeeltes wat ons gelees het, skep tog die indruk asof die beeld van God nie heeltemal verdwyn het nie. In Genesis 9 word die potensiële moordenaar, ons almal dus, gewaarsku dat wie hom aan die mens vergryp, hom aan die beeld van God vergryp. Jakobus 3 wys dat ons met dieselfde tong waarmee ons God prys, die mens vervloek wat na sy beeld geskape is. En Psalm 8 wys in pragtige taal op die hoë posisie van die mens: “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel…”
Die mens is dus steeds beeld van God! En dit is geen humanistiese visie op die grootheid en krag van die mens nie, want dit gaan immers oor die beeld van God, dié God wat ook vandag nog in staat is om sy krag en heerlikheid via gelowige en ongelowige mense in hierdie wêreld te vertoon. Ook in die gevalle wêreld bly die mens gesier met gawes van God, en daarom kan ons die goeie en die skone wat in hierdie wêreld deur gelowige én ongelowige mense ontplooi word, verbind aan die mens as beeld van God. Gemeente, dít is die geloof in die God wat die mens, wat u en my, na sy beeld gemaak het en wat nie sal laat vaar die werke van sy hande nie! Die mens, beeld van God, poort waardeur God se heerlikheid en krag behoort te skitter. Die mens, gemaak om God te loof.

Besef ons, gemeente, watter konsekwensie hierdie belydenis het? Die mens as beeld van God, poort tot God se heerlikheid en krag, stem van God se lof – dit beteken dat elkeen wat hom aan die lewe van die mens vergryp, hom vergryp aan die beeld van God. En elkeen wat hom vergryp aan die beeld van God, vergryp hom aan God self! Wanneer ons die sesde gebod oortree, ontneem ons mense hulle lof op God of selfs die potensiaal tot daardie lof. Wanneer ons die sesde gebod oortree dan weerhou ons God van die lof wat Hy verdien!
Want, kan die dooies God prys? Kan daar uit die grafte lof op God klink? Dawid vra in Psalm 30:10: “Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit U trou verkondig?” En in Psalm 115:17 lees ons: “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie…” Nee, nie die dooies nie, maar die lewende mens – hy is gemaak na die beeld van sy Skepper om Hom te loof en te prys! Daardie lof waarmee Psalm 8 begin en eindig in ‘n pragtige omarming: “o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” Wie homself aan die lewe van die mens vergryp, kom God te na!

Die meeste van ons sal redelik veilig voel tot dusver. Ons het geen moord gepleeg nie, ons het nie wederregtelik ‘n ander man se bloed vergiet nie. Ons staan onskuldig teenoor Genesis 9:6: “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” Nie ons nie… Los die beeld van God maar by ons, dis veilig in die hande van die gelowiges. Was dit maar waar… O ja, die leer van die mens as beeld van God – ons ken dit, ons beskerm dit. Maar die uitlewing van daardie leer teenoor elke mens as beeld van God…?! Gemeente, net soos ons dink dat ons op ‘n afstand kan bly staan (“ja, dis waar, maar dit geld nie vir my nie), dan skielik slaan die Kategismus vlymskerp toe: “Deur doodmaak te verbied leer God ons dat Hy die wortel daarvan, soos afguns, haat, woede en wraaklus, verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord.” Ja, nou is dit al anders…

Gemeente, die Here leer ons in Jakobus 3 dat Genesis 9:6 breër gaan as net die fisiese bloedvergieting van ‘n ander mens. Hy leer ons dat selfs ons tong ‘n moordwapen kan word. Dit is daardie tong waarmee ons God prys, maar terselfdertyd die mense vervloek wat na die gelykenis van God gemaak is. Jesus self leer ons hierdie toespitsing van die sesde gebod in sy bergrede in Mattheus 5. [Kom ons lees dit saam – Matt. 5:21 en 22] Jesus wys dus dat die sesde gebod baie dieper boor as net moord. Skielik is elkeen van ons by die sesde gebod betrokke. Noem jy mense ‘n domkop of ‘n dwaas? Wat leef in ons harte? Is ons afgunstig teenoor daardie ander persoon wat in ons oë soveel meer het as ons? Haat ons iemand met ‘n ander kleur of kultuur? Is ons woede teenoor iemand van dien aard dat ons wraaklus teen daardie persoon koester? Verafsku ons mense wat minder is as ons? Gemeente, is ons besig om God oneer aan te doen? Want dit is wat ons doen wanneer hierdie gevoelens en gedagtes en dade in ons lewens voorkom. Ons vertrap die beeld van God in ons naaste, en daarmee berokken ons ons God skade en pyn!

Gemeente, kennelik is dit volgens die Skrif nie bepalend of iemand sy beeld van God-wees uitleef of nie. Elke mens se unieke plek en unieke roeping behoort vir ons genoeg te wees om hom nie aan te tas in sy lewe en hom nie te vervloek nie. In al die gevalle waar ons dit wel doen, sê ons eintlik dat die lewe en naam van hierdie persoon nie vir ons belangrik is nie. Wie ‘n mens doodmaak, vervloek, haat of selfs net slegte name noem, ag so ‘n persoon van geen gewig nie, terwyl die mens as beeld van God juis ‘n swaargewig is. Die mens as beeld van God word deur Dawid in Psalm 8 selfs weinig minder as ‘n goddelike wese genoem, die mens is iemand wat in hierdie wêreld tel, hy is God se onderkoning! Kyk maar, skape en beeste, die diere van die veld, die voëls van die hemel, die visse van die see – dit alles het God onder die mens se voete gestel. In hierdie wêreld is die mens ‘n swaargewig, tel hy saam – ongeag of hy sy roeping nakom of nie. Wie daarom die onderkoning onteer, haat, beledig of doodmaak, doen dieselfde aan die Koning! Gemeente, niemand van ons kan nou nog sê: “Dis waar, maar dit geld nie vir my nie…”

En dit word selfs nog pynliker. Want die Kategismus is nog nie klaar nie. Soos so dikwels in die Kategismus word, teenoor die afwysing van die negatiewe, ook nog die bevordering van die positiewe gestel. God gebied ons naamlik om ons naaste lief te hê soos onsself. Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen. Die beeld van God, onderkoning – die Here vra dat ons hierdie hoë skepsel met liefde sal behandel, ook daardie hoë skepsel wat so laag neergedaal het en in die asblikke moet krap vir kos en onder bossies moet oornag. Ook hy bly onderkoning wat ongeleerd is en van ‘n baie laer status as uself is. Ook sy is beeld van God wat om finansiële redes haar liggaam moet verkoop om die pot aan die kook te hou. Want, broers en susters, die mens se beeld-wees, hoe laag hy of sy ook al gedaal het in ons oë, hang nie af van ons nie, maar van God. Ons is immers beeld van God – Hy gee dit, Hy vra dat ons dit hoog sal ag. Ons wil vervolgens let op die herstelde posisie deur Christus.

2. Ons het in die eerste plek gekyk na die mens se hoë posisie en watter verantwoordelikheid dit vir ons meebring teenoor elke mens. Want elke mens bly, ook na die sondeval, beeld van God. So leer die Skrif ons. Maar tog is daar meer om te sê…
Kom ons kyk weer na Psalm 8: weinig minder as ‘n goddelike wese, met eer en heerlikheid gekroon, hy heers oor die werk van God se hande, en God het alles onder sy voete gestel… Wat dan van die honger kindjie in Afrika met vlieë wat al om hom swerm – gekroon met eer en heerlikheid? Wat van die pasiënt wat op sy sterfbed lê – weinig minder as ‘n goddelike wese? Wat van die verwoesting van die reënwoude in Suid-Amerika – die mens wat heers oor die werk van God se hande? En wat maak ons met die uitwissing van miljoene Jode en die onderdrukking van swartes in ons eie land – alle dinge onder ons voete? Wel, miskien, maar nie op die manier soos God dit in Psalm 8 bedoel het nie.

Gemeente, ons bly dit bely, op grond van God se Woord – die mens as God se beeld bly staan, en ons moet daardie mens liefhê soos onsself. Maar intussen moet ons ook erken dat die sonde so geweldig diep in ons wêreld deurgedring het. Die beeld van God het ‘n karikatuur geword van wat dit veronderstel was om te wees, die onderkoning dra ‘n gerafelde mantel en sy kroon het langs die pad van sy kop afgeval. Wie van ons kan nog sê dat ons met eer en heerlikheid gekroon is? Wie kan nog sê dat God werklik alles onder ons voete gestel het?
En daarom, broers en susters, moet ons in psalm 8 verder kyk as net wat ons met die eerste oogopslag raaksien. Die mens waarvan Psalm 8 ten diepste sing is ons Here Jesus Christus. Waaruit weet ons dit? Die Gees verkondig dit in Hebreërs 2. Jesus Christus, Hy is die mens wat deur God vir ‘n tydjie ‘n weinig minder as die engele gemaak is, Hy is die mens wat met eer en heerlikheid gekroon is, wat oor al die werke van God se hande aangestel is, aan Wie God alle dinge onder sy voete gestel het. En in die onderwerping van alle dinge, is niks uitgesonder nie (Hebr. 2:5-9). Alles het God onder sy voete gestel, Hy het die heerlikheid, die majesteit, Hy is die Koning van God se Koninkryk! En dan broers en suster, dan maak die lof van Psalm 8 soveel meer sin: “o Here, ons Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” Ja, U is alreeds lofwaardig omdat U ‘n skepsel gemaak het na u beeld, die mens. Maar toe hierdie mens in sonde geval het, het U trou gebly – die mens het beeld gebly! Ja, ‘n verwronge beeld, ‘n gebroke beeld, maar nogtans beeld. En vir die herstel van die beeld het U u Seun gestuur. O Here, hoe heerlik is u Naam juis daaroor!

Gemeente, ons Here Jesus Christus is dié mens waarvan Psalm 8 sing. Niemand was meer mens as Hy nie: die mens soos God dit bedoel het. Hoe het Hy dit nie getoon tydens sy lewe op aarde nie. Hy was die beeld van God by uitstek! En daarby het Hy ook die beeld van God hoog gehou in die mense met wie Hy te doen gekry het. Hy het die mense met wie Hy omgegaan het nie gehaat of gekrenk of onteer nie. Inteendeel, Hy was teenoor hulle volmaak geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik. Alles wat sy medemense kon benadeel, het Hy sover moontlik voorkom en Hy het selfs aan sy vyande goed gedoen. Het Hy nie vir die vrou wat op owerspel betrap is, gesê: Gaan heen en sondig nie meer nie? En wat van die gierige Saggeus – het Hy hom nie uit die boom geroep om by hom te eet nie? En die Siro-Feniciese vrou – Hy was bereid om vir haar, ‘n heiden, die brood te gee wat vir die kindertjies bedoel was. En oor die ryk jongman wat nie bereid was om sy besittings te verkoop nie, huil ons Here Jesus omdat Hy vir hom baie lief was. En wat van Malchus, die arme dienskneg wie se oor deur Petrus afgekap is, ‘n vyand van Jesus – maar Jesus vat sy oor en genees dit in ‘n oomblik van goddelike krag. Weereens gemeente, niemand was meer mens as ons Here Jesus nie.

Maar daar was ook geen mens so goddelik soos Hy nie – en dit is nog belangriker as die voorbeeld wat Hy vir ons gestel het. Want ‘n voorbeeld is vir ons mense nog nie genoeg nie. So diep het die sonde ingeslaan, dat ons selfs ‘n goeie voorbeeld nie kan navolg nie. En daarom is Christus, bo en behalwe ons Voorbeeld, ook ons Verlosser. Hy is vermoor, het aan die kruis gehang, om daarmee die herstel van die beeld van God in ons te bewerk, om ons weer met God te versoen. Gemeente, slegs by hierdie Christus kan ons weer die mense wees wat ons veronderstel is om te wees, beelddraers van God, onderkonings, poorte van God se krag en heerlikheid in hierdie wêreld.
Wanneer ons in geloof hierdie weldaad van Christus aanvaar, dan kom die vrugte in ons lewe te voorskyn. Vrugte van liefde vir ons naaste. Dan leer ons om goed te doen aan alle mense, in besonder aan die huisgenote van die geloof (Gal. 6:10), die mense wat saam met u hier in die gemeente is – hulle is immers ook herstelde beelddraers. En dan word ons geduldig teenoor mense met wie ons verskil. Ons is dan nie meer strydlustig nie, maar vredeliewend. Sagmoedigheid kenmerk dan ons optrede teenoor daardie broeder of suster wat elke keer weer teen my sondig. Barmhartigheid kom uit in my optrede teenoor mense in wie die beeld van God o so verwronge geraak het. En vriendelikheid kenmerk my omgang met die mense om my heen. So herstel Christus ons tot beelddraers!

Ten slotte, broers en susters, ons is gelowiges, beelddraers wat in Christus die sesde gebod wil en moet naleef. Maar ons is ook beelddraers teenoor wie die sesde gebod nagekom moet word. En op hierdie punt kan daar in ons lewens baie hartseer wees. Ons word miskien in ons lewens deur mense gehaat, ons word beledig, ons word onteer, ons word doodgemaak. Die liefde wat God van ons vra, ontvang ons nie altyd nie. Vir vriendelikheid moet ons soms ver soek.
Maar ook hier word ons dan deur die Here weer op Christus gerig – Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie (Jes. 53:3 en 7). Hoekom nie? Hoekom het God nie ‘n ander soort Verlosser gestuur nie, een wat met ‘n veeg van die arm alle vyande vernietig het, een wat met groot mag en krag die troon bestyg het? Hoekom nie? Want die mensdom se oortreding van die sesde gebod, ons oortreding van hierdie gebod, het ‘n Verlosser geëis wat elke denkbare veragting en belediging moes dra, ‘n Verlosser wat alle haat en afguns oor Hom heen moes kry, ‘n Verlosser wat vermoor moes word. So het Jesus Christus die sonde teen die sesde gebod gedra, meer nog: Hy het dit oorwin! Die dood kon Hom nie vashou nie, want Hy was die mens by uitstek, die mens wat goddelik is soos niemand anders. Hy is met eer en heerlikheid gekroon, Hy heers oor hierdie wêreld, aan Hom is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Deur Hom sal die grafte eendag oopgaan. Wie het gesê dat die dooies die Here nie kan prys nie? Hulle kan, en hulle doen! Laat hulle dit in die hemel doen. Ons sal dit op aarde doen deur ‘n lewe te lei as beelddraers, deur ander beelddraers lief te hê. En eendag, nie meer lank nie, dan sal die lof in die hemel en die lof op aarde verenig word in die onophoudelike loflied van die herstelde onderkonings. Dan sal die sesde gebod nie meer lui: “jy mag nie doodslaan nie”, maar dan sal dit lui: “Jy mag lewe!”

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 118:10-12
Gebed Lees: Genesis 9:1-7 Psalm 8 Jakobus 3:7-12
Sing Ps. 8:1-4
Teks: HK, Sondag 40
Preek
Amenlied Ps 9:1, 8-10
Belydenis van geloof
Antwoord met Ps. 9:7
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 8:5-7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)