Serubbabel: verteenwoordiger van die volk van God

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2006-03-12
Teks: 
Haggai 2:20-23 & Sagaria 4:6-10
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Haggai 2:23 & Sagaria 4:6-10

Ds HH van Alten - Sondag 12 Maart 2006

Lees: Jes. 42:1-7, Efes. 2:17-22, Hagg. 2:20-23, Sag. 4
Sing: Sien liturgie

Tema: Serubbabel: verteenwoordiger van die volk van God
            1. God gee hom ‘n hoë posisie
            2. God wys hom sy beskeie posisie
            3. God toon aan hom sy taak

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het in die preke uit die profesie van Haggai nou al verskeie male die name teëgekom van Serubbabel, die seun van Sealtiël, en Josua, die seun van Josadak. Dit is duidelik uit die boeke Esra, Nehemia en Haggai dat ons hier met die leidinggewende figure van die volk te make het. In Esra en Nehemia word hulle name eerste genoem by die lys van mense wat uit Babel teruggekeer het. En wanneer die volk in Haggai 1 opgeroep word om die huis van die Here te herbou, dan word die leiers, Serubbabel en Josua, eerste aangespreek. Dit is ook hulle wat die leiding neem om met die heropbou van die tempel te begin. En in Haggai 2 is dit hulle wat eerste opgeroep word om moed te skep. Wie was hierdie twee manne? Vandag en volgende week hoop ons om te sien watter plek hulle in God se plan ingeneem het. Ons begin vandag met Serubbabel.

Serubbabel – sy naam beteken iets soos “saad/nakomeling van Babel”. Hy was dus waarskynlik ‘n Jood wat in ballingskap in Babel gebore is. Hy was die leier van die eerste groep Jode wat uit Babel na Judea teruggekeer het in 538 v.C. Sy naam word daarom in Esra 2:2 ook eerste genoem in die lys van teruggekeerde ballinge. Dwarsdeur die boek Esra sien ons hoe hierdie Serubbabel die leiding neem in die heropbou van die kerklike lewe en die volkslewe. Hy word daarom nie verniet deur Haggai die goewerneur van Juda genoem nie.
Maar daar is nog iets ekstra aan Serubbabel – wanneer ons 1 Kronieke 3:19 lees, dan blyk dit dat hy ‘n afstammeling van koning Dawid was. Serubbabel was dus van koninklike afkoms! Wonderlik hoe die Here werk – Hy het immers aan Dawid belowe dat sy nageslag vir ewig op die troon sou sit (lees maar 2 Samuel 7), en ná ‘n onderbreking van 70 jaar ballingskap wys die Here dat Hy steeds trou bly aan daardie belofte. Serubbabel was miskien geen koning in die volle sin van die woord nie, maar hy was wel goewerneur van Juda, en hy het in daardie hoedanigheid die koningsamp verteenwoordig. En belangriker nog – in hom het die Here die lyn na die Messias lewendig gehou, want die Messias, u en my Verlosser, sou immers uit die geslag van Dawid gebore word. In die geslagsregister van Jesus word Serubbabel daarom deur sowel Mattheus as Lukas met ere genoem (Mt. 1:12-13, Luk. 3:27).
Dus, behalwe vir die feit dat Serubbabel in sy eie tyd ‘n belangrike rol gespeel het as leier van die teruggekeerde ballinge, neem hy ook in die geheel van die heilsgeskiedenis ‘n belangrike plek in as skakel in die geslag van Dawid opweg na die Heiland van die wêreld.

Ek het nou kortliks die verskillende plekke genoem waar ons die naam van Serubbel in die bybel teëkom. Daar bly egter nog twee plekke oor waar nie slegs van Serubbabel gepraat word nie, maar waar hy baie spesifiek aangespreek word, naamlik die twee gedeeltes in ons teks – Haggai 2 en Sagaria 4. Hieruit wil ek aan u die Woord van die Here verkondig onder die volgende tema:

Tema: Serubbabel: verteenwoordiger van die volk van God
            1. God gee hom ‘n hoë posisie
            2. God wys hom sy beskeie posisie
            3. God toon aan hom sy taak

1. Tot twee keer toe moes Haggai op die 24ste dag van die negende maand ‘n profesie uitspreek. Ons teks, 2:20-23, is die tweede keer. En dit is opvallend dat hierdie profesie spesifiek aan Serubbabel gerig is: “Spreek met Serubbabel, die goewerneur van Juda…” En wat moet Haggai dan tot Serubbabel spreek? – “Ek sal die hemel en die aarde laat bewe. En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander.”
Broers en susters, nou is dit moeilik om tydens Serubbabel se lewe te wys op ‘n spesifieke tyd waarin die Here juis dít gedoen het, naamlik die koningstrone omvergewerp het, die heidense koninkryke verdelg het en die perde en hul ruiters laat val het. Maar uit die geskiedenis weet ons wel dat hierdie tyd in politieke opsig ‘n baie onrustige tyd was, met groot oorloë en wisseling van mag. Vir die Jode was dit waarskynlik ook ‘n spanningsvolle tyd; deur hulle geografiese posisie in die midde-ooste het hulle in die middel van hierdie woelinge verkeer, en hulle was dikwels uitgelewer aan magte wat sterker was as hulle. Wat sou van hulle word? Wat sou word van die tempel waarvan die Here sopas nog gesê het dat dit gebou moes word? Gemeente, dit is alles mooi en wel om te sê: bou maar net die tempel, maar wat daarvan as die wêreld nie toelaat om te bou nie, as die wêreld daarop uit is om af te breek…?

En dan, gemeente, kom die Here met die troosryke woord tot Serubbabel, die goewerneur van Juda, die leier van die volk: “Ek sal jou neem, Serubbabel, seun van Sealtiël, my kneg, spreek die HERE, en jou maak tot ‘n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die HERE van die leërskare.” Op hierdie tydstip van politieke spanning, gevaar en aanvalle, kom maak die Here van Serubbabel ‘n waardevolle sieraad, ‘n sieraad wat in die bybelse tye om die vinger gedra is as teken dat dit hoog gewaardeer en op prys gestel is. Dat die Here Serubbabel as seëlring aan sy vinger sit, beteken dus dat die Here hom baie hoog ag en in ere sal hou, en daarvoor sal sorg dat hy nie van sy vinger afgeruk kan word nie. Die Here gee aan Serubbabel ‘n hoë posisie, ‘n posisie baie naby aan die Here, ‘n posisie van liefde, intimiteit en veiligheid. Hiervoor het die Here hom verkies.
Pragtig, om in so ‘n woelige en gevaarlike tyd veilig te wees aan die vinger van die Here.
Pragtig, om na soveel jare van ballingskap weer deur die Here gekoester en gewaardeer te word, deur die Here gekies te word – my seëlring, my sieraad!

Want gemeente, die Here het juis met die ballingskap hierdie seëlring van sy vinger afgeruk. Kyk maar wat sê die Here deur die diens van Jeremia in hoofstuk 22:24: “So waar as Ek leef, spreek die HERE, al was Gonja (en Gonja verwys na Jojagin, die koning wat geregeer het toe die eerste wegvoering in ballingskap plaasgevind het), al was Gonja, die seun van Jojakim, koning van Juda, ‘n seëlring aan my regterhand, tog sal Ek jou daar afruk, en Ek sal jou gee in die hand van hulle wat jou lewe soek en in die hand van hulle vir wie jy bang is, naamlik in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babel, en in die hand van die Chaldeërs.” Met die ballingskap ruk die Here, as gevolg van die sonde van Jojagin en die volk, die seëlring van sy vinger af en Hy gooi dit voor die voete van die heidense volke om deur hulle vertrap en weggevoer te word. Weg veiligheid, weg geborgenheid, weg intimiteit – en dit as gevolg van jare se verharding en sonde van die volk en haar leiers.

Maar nou het die Here sy seëlring onder die heidense stof gaan uithaal, hom skoongemaak, blink gevryf, en opnuut mag hierdie seëlring aan sy vinger pryk. Serubbabel, die seun van Sealtiël, uit die geslag van Dawid, is weer die trots van die Here, sy kneg wat Hy gekies het!

En wanneer ons nou in die geslag van Dawid voortgaan, dan kom ons by daardie ander Kneg, wat God uitverkies het, waarvan Jesaja profeteer in hoofstuk 42:1: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het.” Jesus Christus, Hy is die uitverkore Kneg van die Here by uitstek, die Een wat tydens sy lewe op aarde nie ‘n seëlring was nie, maar die Een wat deur die mense verag en deur God verlaat is. En gemeente, dit is deur Hom dat die seëlring weer kan blink, dit is deur Hom dat hierdie sieraad, wat toe was onder die slyk en modder van die sonde, weer kan pryk aan die vinger van God, want dit is Hy wat deur God gegee is as ‘n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit (Jes. 42:6-7). Dit is slegs deur Jesus Christus dat die mens weer so naby aan God kan kom, dit is slegs deur sy versoenende werk dat God die mens weer in ‘n posisie van eer en waardigheid wil stel.
Broers en susters, deur hierdie Christus mag ons, gemeente van die Here, ‘n baie hoë posisie besit; dit het ons nie aan onsself te danke nie, nee, ons het dit te danke aan die uitverkore Kneg van die Here, Hy wat werklik bereid was om Kneg te wees, Hy wat Homself verneder het deur gehoorsaam te word tot die dood aan die kruis. Gemeente, daarom is dit nie maar ‘n bysaak dat ons bely dat Christus neergedaal het na die hel nie – dit is omdat Hy so diep neergedaal het, dat ons so ‘n hoë posisie kan beklee – gemeente van God, geheiligdes in Christus Jesus. Ja, gaan lees maar die briewe van Paulus aan die gemeentes van Rome, Korinte, Galasië, Efese, Filippi, Kolosse en Thessalonika – dit klink soos ‘n refrein in die eerste verse van elkeen van daardie briewe: gemeente van God, geheiligdes in Christus Jesus. En Efesiërs 2:19, wat ons saam gelees het, sê dit nog duideliker: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.” Ja, ons is die seëlring aan God se vinger, sy trots, waarmee Hy wil pryk! Dit is u en ek, dit is ons…

Watter heerlike belofte ontvang Serubbabel, en in hom die hele volk, hier nie – die terugkoms uit ballingskap was glad nie so ideaal soos wat hulle hul dit voorgestel het nie, die drome van ‘n nuwe stad en tempel het aan skerwe gespat toe die omstandighede pynlik teleurgestel het. Maar nogtans het die Here gesê: “bou hierdie tempel”, nie omdat hierdie lewelose gebou so belangrik was nie, maar omdat Hy self weer tussen sy volk wou woon, en omdat Hy weer van hulle sy trots wou maak, die een met wie Hy wou pronk.
Presies dit wil God met ons doen, broers en susters. God wil met ons pronk – Hy wil hierdie gemeente, wat deur die kosbare bloed van Christus “gemeente van God” is, vir die wêreld wys en sê: “Sien julle, dit is hoe egte mense lyk, mense soos wat Ek hulle oorspronklik in die paradys gemaak het; mense wat nie doodmaak en steel en lieg nie, mense wat nie ander beledig of onteer nie, mense wat in liefde met mekaar en met My lewe.” Is ons so ‘n pronkstuk, broers en susters? Is ons hierdie hoë posisie wel werd? Voordat u in skaamte erken: “Nee, ons is dit nie werd nie”, hoor dan die Woord van die Here tot Serubbabel: “Ek sal jou neem, Serubbabel, en Ek sal jou maak tot ‘n seëlring, want Ek het jou verkies.”
Gemeente, Serubbabel was dit nie werd nie, maar God gee hom hierdie posisie, God maak van Hom sy seëlring. Ons is dit ook nie werd, ons bewys dit nog elke dag, maar God skenk dit aan ons, verniet. En wanneer die Lig van die nasies, Jesus Christus, sy heerlikheid oor ons laat skyn, dan skitter selfs die dofste seëlring aan die vinger van die Vader. Wat ‘n hoë posisie!
In die tweede plek let ons daarop dat God aan Serubbabel ook sy beskeie posisie wys.

2. Vir ons tweede punt moet ons verder blaai na die bybelboek ná Haggai, naamlik Sagaria. Sagaria profeteer in dieselfde tyd as Haggai – die omstandighede wat Sagaria teëkom, is dus presies dieselfde as die omstandighede wat ons geskets het by die behandeling van die boek Haggai.
In die hoofstukke 1-6 kry Sagaria agt gesigte, agt visioene. En in die vyfde gesig kom ons weer vir Serubbabel teë. Weer rig die Here Hom spesifiek tot hierdie leier van die volk, want ja, hy (en in hom die hele volk) is die seëlring aan God se vinger, ‘n hoë posisie. Maar hoe moet hy nou hierdie posisie behou?

Vir dié doel wys die Here aan Sagaria in ‘n gesig ‘n kandelaar. Maar dit is nie ‘n gewone kandelaar nie. Dit is ‘n sewe-armige kandelaar, en na elkeen van die sewe arms loop sewe aanvoerpype, en die aanvoerpype is weer verbind aan twee olyfbome wat weerskante van die kandelaar staan. Wanneer Sagaria laat blyk dat hy nie mooi verstaan wat dit alles beteken nie, kry hy geen antwoord nie, maar eerder ‘n woord wat hy tot Serubbabel moet spreek: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”
Wat sou dit beteken? Wel, die kandelaar wat in die tempel gestaan het, moes voortdurend bly brand; daarom moes die priester sorg dat daar altyd genoeg olie was. Die olie was die voedingsbron waardeur die kandelaar kon bly brand. In die gesig van Sagaria sien ons geen priester nie, maar wel twee olyfbome wat met pype aan die kandelaar verbind is; daardeur word die kandelaar van ‘n konstante vloei van olie verseker. Nooit hoef hierdie kandelaar sy lig te verloor nie, nooit hoef hy op te hou brand nie, want die vloei van olie is onophoudelik.

En hierdie beeld pas die Here nou toe op Serubbabel: “Serubbabel, jy is my seëlring, ‘n baie hoë posisie. Maar dit het jy nie vanweë jouself nie – Ek het dit aan jou gegee. En jy kan daardie posisie ook nie handhaaf deur jouself nie – slegs Ek kan dit vir jou doen.” Net soos die kandelaar nie vanuit homself kan brand nie, maar afhanklik is van die vloei van olie vanaf die olyfbome, net so kan Serubbabel ook nie self die hoë posisie behou wat hy van die Here gekry het nie. Slegs wanneer hy gevoed word met die olie van die Gees, kan hy die blinkende seëlring wees, wat God hom gemaak het. Slegs wanneer hy met die Gees verbonde is, kan hy verseker wees dat Hy as seëlring van God ook die taak kan volbring wat God hom opgedra het, naamlik om die tempel te voltooi.
Want gemeente, sy hoë posisie kon Serubbabel dalk laat dink het dat hy so sterk en bekwaam was, dat hy met sy krag die aanslae van buite-af sou afslaan, dat hy met geweld die tempel sou voltooi: Serubbabel se tempel…! En dan moet Serubbabel sien dat hy in homself slegs ‘n baie beskeie posisie beklee; slegs danksy God se genade is hy seëlring, slegs deur God se krag kan hy dit ook bly!

En gemeente, dit is wat Paulus ons ook leer in Efesiërs 2: “Julle is medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, maar nie deur julleself nie…” Hoe dan wel? “Julle is gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is”. Gemeente, ons hoë posisie (en sien maar hoe hoog dit is; ons gaan ná die preek daarvan sing uit psalm 8), hierdie posisie, wat ons uit genade ontvang het, behou ons nie in eie krag nie, maar slegs wanneer ons vas bly staan op die fondament van die apostels en profete, dus op die Woord van God – dit is die olyfbome wat ons voorsien van die olie waarsonder ons nie kan lewe nie. En daarom, gemeente, nie deur ons aktiwiteite nie, nie deur lang vergaderings van die kerkraad nie, nie deur projekte en gemeentedae nie, maar deur die Gees van God, die Gees wat werk in en deur die Woord – slegs daardeur kan elkeen van ons bly wat ons in God se oë is, die seëlring aan sy vinger; slegs daardeur kan ons as gemeente die gebou wees soos wat Paulus dit beskryf in Efesiërs 2:21 en 22: Goed saamgevoeg, ‘n heilige tempel in die Here, saam opgebou tot ‘n woning van God in die Gees; slegs daardeur, broers en susters, kry ons stamina, uithouvermoë om in die geloof te volhard, die stryd te bly stry, die wedloop te voleindig, wanneer ons naamlik gevoed word van bo-af!
Ons let nou nog ten slotte daarop dat God aan Serubbabel ook sy taak toon.

3. Verse 7-9 van Sagaria 4 wys duidelik dat Serubbabel nou ook aan die werk mag gaan. Want die tempel moet nog voltooi word, daar lê nog heelwat werk voor.
Maar dit was ook duidelik uit die profesieë van Haggai dat die moraal onder die volk nog nie wat wonders was nie.
En weer is die Here daar om hulle te bemoedig: “Onthou nou, my volk, julle is aan my vinger, Ek hou julle in ere, Ek bewaar julle.” Gemeente, dan kan die teenstand maar kom, dan kan die spottery maar kom, dan kan die berge van moeites en besware maar kom… “Wie is jy groot berg? Voor Serubbabel sal jy tot ‘n gelykte word.” Niks sal Serubbabel stuit in sy werk van tempelbou nie! Hy sal voortgaan in die krag van die Here en die werk voltooi; hy sal uiteindelik die sluitsteen, die laaste steen wat in daardie tye aan die gebou toegevoeg is, te voorskyn bring en dit op sy plek insit; en die volk sal toestroom met uitroepe van: “Genade, genade oor hom.” Ja, die hande van Serubbabel het die fondamente van die tempel gelê, en sy hande sal dit voltooi – die Woord van die Here het dit belowe.
En daarom roep die Here Serubbabel en die volk ook op om die klein en nederige begin aan die nuwe tempel nie te verag nie. En dit was nodig – u onthou miskien nog die ontmoediging by die volk waarvan ons verlede week gelees het in Haggai 2. Hulle was teleurgesteld oor hierdie nuwe tempel: moet dit nou ons tempel word? Maar die Here trek die oë van sy volk af van die uiterlike tempel, en rig dit op die sluitsteen, daardie sluitsteen waarvan Sagaria in 3:9 al geprofeteer het: “Want kyk, die steen wat ek voor Josua neergelê het – op die een steen is daar sewe oë” – op hierdie steen is, simbolies, die sewe oë van die Here wat oor die hele aarde kyk. God in sy volheid (sewe oë) waak oor sy volk wanneer hulle besig is met sy werk. En Hy is bly wanneer Hy Serubbabel met die skietlood, sê maar die waterpas, in sy hand sien staan om die huis te begin bou.

Gemeente, in ons hoë posisie, maar tegelykertyd in totale afhanklikheid van die God wat ons daardie posisie gee, mag ook ons aan die werk spring. Werk hier in die kerk, en daar is so geweldig baie om te doen – moet uself daarom nie terugtrek met u gawes en talente nie, moenie moedeloos word wanneer allerhande berge van moeites en sorge voor u opdoem nie, moenie die klein dingetjies wat in hierdie gemeente en kerkverband gedoen word, verag nie. Nee gemeente, wanneer ons daarop sou let, sou ons gou uit brandstof hardloop, sou ons ook in moedeloosheid by die werk neersak. Maar leef van Jesus Christus, deur wie ons hierdie hoë posisie beklee (gemeente van God!), leef van die olie van die Gees, die Woord van die Here, waardeur ons hierdie posisie behou – dan mag die kandelaar brand en skyn, hier in die gemeente, maar ook in die breër omgewing; dan mag ons die lig van die wêreld wees waarvan Christus praat in Matt. 5:14-16. En soos Serubbabel sy werk só gedoen dat die volk by die voltooiing van die tempel nie hóm verheerlik het nie, maar oor die sluitsteen waarop die oë van God was, geroep het: “genade, genade oor hom!”, so moet ons ook ons lig só laat skyn voor die mense, dat hulle ons goeie werke kan sien en ons Vader wat in die hemele is, verheerlik (Matt. 5:16).

Gemeente, in die persoon van Serubbabel leer die Here ons wie ons is in sy oë, seëlring aan sy vinger; in die persoon van Serubbabel leer Hy ons ons afhanklikheid van Hom besef: nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees; in die persoon van Serubbabel leer Hy ons werk in sy koninkryk: aan hierdie huis mag ons bou.
En hierdie Serubbabel, hy was die vader van Abiud, en Abiud was die vader van Eljakim, en Eljakim die vader van Asor, en Asor die vader van Sadok, en Sadok die vader van Agim, en Agim die vader van Eliud, en Eliud die vader van Eleasar, en Eleasar die vader van Mattan, en Mattan die vader van Jakob, en Jakob die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word (Matt. 1) – deur Hom mag ons in God se Koninkryk werk, deur Hom sal ons dit ook volbring, want Hy het na die hel toe neergedaal, sodat ons tot die hemel verhoog kon word: U het ons ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en ons met eer en heerlikheid gekroon; U laat ons heers oor die werke van u hande; U het alles onder ons voete gestel… o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 29:1 en 4
Wetslesing (Deut. 5:1-21)
Sing Ps. 85:2-4
Gebed
Lees: Jesaja 42:1-7 Efesiërs 2:17-22
Sing Ps. 87:1 en 2
Teks: Haggai 2:20-23, spesifiek vers 23 Sagaria 4, spesifiek verse 6-10
Preek
Amenlied Ps. 8:3-7
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 33:2 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)