Die hartseer oor kinders wat die verkeerde pad kies

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-03-05
Teks: 
I Samuel 8
Preek Inhoud: 

1 Samuel 8:3 & 2 Samuel 18:33

Ds C Kleyn - Sondag 5 Maart 2006

Lees: 1 Samuel 8:1-7; 2 Samuel 18:1-19:8.
Sing: Ps 9:1,7,8; Ps 9:9,10; Ps 55:1-3; Ps 55:7,8,10;
Ps 11:1,3,5.

Tema: Die hartseer oor kinders wat die verkeerde pad
kies.

  1. Die oorsaak van die hartseer
  2. Die hantering van die hartseer

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie peil die verdriet van ouers oor kinders wat die pad van
die Here verlaat? Jy het as ouers jou kind laat doop. Bewoë
voorin die kerk, by die doopvont, gestaan. Jy het gehoor en
gesien hoe God drie-enig homself aan jou kind verbind het, met
ryke verbondsbeloftes. Geweldig!. Wat ’n groot bemoediging
vir jou as ouer. Jy het na jou vermoë goed vir jou kind –
hierdie verbondskind – gesorg. Jy het hom/haar in die tug en
vermaning van die Here probeer opvoed. Ja, jy het hom/haar
dieselfde opvoeding as die ander kinders gegee. Jy het gebid en
gewaarsku. Gepraat en ook sekere tye geswyg. Maar jou kind het
’n verkeerde pad gekies, weg van die kerk vandaan, of ook
weg van die geloof vandaan. Wat ’n hartseer vir ouers,
familie en vriende.

Broers en susters, nie elke kerkverlating is dieselfde nie.
Dit kan ’n verlating van die Here beteken, maar dit hoef
gelukkig nie altyd die geval te wees nie. Daar kan sprake wees
van onverskilligheid of afkerigheid. Maar dit kan ook wees dat
die kind vasgeloop het tov sy persoonlike vrae en stryd. Dit kan
wees dat jy as ouers jouself baie verwyte maak. Maar dit kan ook
wees dat dit vir jou gevoel duidelik aan die kind self te wyte is.
Soms kan duidelike redes aangewys word en het jy dit sien aankom.
Ander kere begryp jy niks daarvan nie en was dit ’n volkome
skok. In sekere gevalle beteken dit ’n totale breuk en hoor
jy ’n tyd lank niks van jou seun of dogter nie. In ander
gevalle bly die verhoudings goed. Die reaksies van die omgewing
kan ook baie verskillend wees. By die een is daar volop meelewe
en ondersteuning, by die ander is daar net ’n negatiewe
reaksie of verwyte. Groot verskille. Maar wat ’n trane. Wat
’n gebede. En wat ’n aanvegtinge ook vir jou eie geloof.

Vanoggend wil ek God se woord verkondig onder die tema: die
hartseer oor kinders wat die verkeerde pad kies.

  1. Die oorsaak van die hartseer
  2. Die hantering van die hartseer

Ons begin by Dawid se groot hartseer. Hoor hom in diep
verdriet uitroep: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom.
Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het. Absalom, my seun, my
seun.”

Dawid word ’n man na God se hart genoem. God verhef hom,
’n eenvoudige seun van ’n herder, tot koning oor Israel.
Maar wat ’n verdriet in sy gesin. Amnon, die oudste, pleeg
bloedskande met sy halfsuster Tamar. Absalom haat sy broer Amnon
daaroor en praat twee jare lank nie met hom nie, totdat hy kans
sien om hom te vermoor omdat hy sy suster onteer het. Daarna vlug
Absalom en bly drie jaar lank in Gesur, totdat Joab dit beding
dat hy na Jerusalem mag terugkeer. Maar twee jaar lank word
Absalom nie in die paleis toegelaat nie en wil sy vader hom nie
sien nie. Daarna tart hy sy vader om hom dood te maak of hom weer
in die paleis toe te laat. Dawid stem die laaste toe en hulle
ontmoet mekaar weer na soveel jare. Maar Absalom stel net belang
in sy eie eer en mag. Hy berei ’n staatsgreep voor. Hy
probeer die guns van die volk te wen. Hy is slu in sy planne en
aantreklik in sy skoonheid. So wen hy die harte van baie mense,
veral uit die ander stamme van Israel. In sy eersug laat hy hom
rondry in ’n perdekar terwyl 50 man voor hom uitloop en laat
hy ’n gedenksteen vir homself oprig.

So kom dit dan tot die staatsgreep. Dawid moet vlug vir sy eie
seun. Daar is by Absalom geen liefde en respek vir sy vader Dawid
nie, hy wil net sy vader doodmaak en self koning word. Dit loop
dan uit op ’n bloedige stryd waarby Absalom deur Joab gedood
word teen die uitdruklike bevel van vader Dawid in. Wat ’n
tragedie in die koninklike gesin. Vandaar Dawid se diep verdriet
en geween: My seun Absalom, my seun, my seun Absalom.

Dis die verdriet om ’n seun wat heeltemal van sy vader
vervreemd is, ja blywend vervreemd is. Daar is geen tyd meer om
die afstand te oorbrug nie. Dit gaan Dawid nie net om die
vervreemding van homself as pa nie. Maar dit gaan hom ten diepste
oor die vervreemding van God, om die ewige ondergang. Dit maak
die verdriet so intens. Solank daar lewe is, is daar hoop. Maar
nou is dit verby. “Ag as ek self maar in jou plek gesterf
het.” Ek het vergewing ontvang. Ek het vrede met God. Jy,
Absalom, my seun, jy het nou sonder vergewing gesterwe. Jy kry
nooit meer die kans om vrede met God te kry nie. Jy is nou
heeltemal onbereikbaar. Ons kan invoel hoe diep vader Dawid
geraak is.

Dawid wou wel die plek van sy seun inneem. Maar dit kan nie.
Jy kan jou lewe nie vir die ewige behoud van jou kinders gee nie.
Jy is self ook ’n sondaar en ’n sondaar kan nie ander
verlos nie. Dawid se eie sondes agterhaal hom. Dit het alles
begin deur die vele vroue. En deur die owerspel met sy buurvrou
Batseba en die moord op Uria. Die profeet Natan moes toe in
opdrag van God die verskriklike boodskap oordra: “En nou sal
die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede jy My verag
het en die vrou van Uria geneem het om jou vrou te wees” (2
Sam 12:10). En so het dit gebeur. Die gesin is verskeur.

Dawid het ook foute gemaak in die opvoeding van sy seuns. Hy
het Absalom te veel sy eie gang laat gaan. Hy het te min met sy
eersugtige seun gepraat. Dawid het op beslissende oomblikke die
konfrontasie met sy seun uit die pad gegaan. Nou kan hy niks meer
daaraan doen nie. Die tyd is verby. Broers en susters, laat dit
’n waarskuwing vir ouers wees. Laat jy jouself nie hoef te
verwyt dat dit mede vanweë jou sondes is dat dit met jou kinders
verkeerd gegaan het nie. In Dawid se smart sit ’n stuk
selfverwyt. Daarom ook: Ag, as ek self maar in jou plek gesterf
het. Pasop dat jy as ouers nie te laat treur nie, maar verstaan
tydig jou verantwoordelikheid. Wys jou kinders op die belang van
die ewige dinge voordat dit te laat is.

Gemeente, wanneer kinders die verkeerde pad kies, hoef ouers
hulleself nie altyd verwyte te maak nie. Dink aan Samuel. Ons
lees van sy seuns dat hulle nie in sy weë gewandel het nie.
Ondanks die goeie voorbeeld wat Samuel hul vader aan hulle gegee
het. In 1 Sam 12 neem Samuel afskeid van sy volk. Hy roep hulle
dan op om dit eerlik te sê as hy hulle benadeel of verontreg het.
Die Israeliete verwyt hom niks nie. Hulle erken dat hy eerlik en
regverdig was. Van die seuns van so ’n vrome man mog ’n
mens iets verwag. Hulle het ’n goeie opvoeding gehad. Hul
name teken die sfeer van Samuel se huis: Joël: Jahwe is God. En
Abia: Jahwe is vader. Daarom het Samuel, toe hy te oud geword het
om lange reise te maak, sy seuns as regters in Berseba in die
verre suide aangestel, om God se reg daar te bedien. Helaas het
hulle na hul aanstelling hulle ontpop as onbetroubare manne.
Hulle kan hul verantwoordelike pos nie hanteer nie. Hulle kom
onder die ban van geld en mag. Hulle wil ryk word en van die lewe
geniet. Dit verblind hulle. Sodat hulle allerlei dinge doen wat
God uitdruklik verbied het. In Deut 16 het die Here die regters
verbied om die reg te verdraai en geskenke aan te neem. Maar
Joél en Abia doen presies dit. Hulle jaag na onregverdige wins,
neem omkoopgeskenke aan en verdraai die reg. Die Here het reeds
in Deut 16 gewaarsku dat omkoopgeskenke die oë van die wyse
verblind en die sake van die wat reg het, verdraai. Dis presies
wat gebeur by Samuel se seuns. Die mense wat die meeste geld bied
word vrygespreek, terwyl onskuldiges veroordeel word.

Selfs die seuns van die vrome Samuel word ’n prooi van
die sonde. Asof hulle nie ’n goeie opvoeding gehad het nie.
Hulle kies die verkeerde pad. Hulle kies vir die moderne afgode
van geld en plesier, soos baie na hulle gedoen het en vandag nog
doen. Wat ’n verdriet vir vader Samuel. Samuel is self van
jongs af opgevoed in die huis van die Here in Silo. Daar het hy
met sy eie oë gesien hoe die seuns van Eli tot hul eie voordeel
God se reg verdraai het en hoe Eli hul vader hulle nie verhinder
het nie. Samuel het as jong seun die oordeel van die Here oor
daardie gesin moet aansê. Hy sou dit anders doen, beter doen, ja,
hy moes dit beter doen. Maar dan ontdek hy later tot sy groot
verdriet dat sy eie seuns ook tot hul eie voordeel die reg van
die Here verdraai. ’n Ander gesin, ’n beter opvoeding,
maar dieselfde bitter resultaat. Wat ’n ontnugtering vir
ouers. Jy het gedink dat jy dit beter sou doen, maar helaas jou
kinders kan in dieselfde sondes verstrik raak.

Dit laat ’n mens klein en nederig voel. In die besef dat
selfs die allerheiligste nog maar ’n geringe begin van die
volmaakte gehoorsaamheid het. Jy hoef by die Christene geen
suksesverhale te verwag nie. Dis goed dat kinders en ouers dit
steeds weer besef. Nie om tou op te gooi nie, asof jy tog niks
kan begin nie. Die antwoord van die kategismus wat ons netnou
aangehaal het, gaan positief verder: “Maar tog so dat hulle
(die allerheiligste) met ’n ernstige voorneme begin om nie
alleen volgens sommige nie maar volgens al die gebooie van God te
lewe.”

Die stryd van die geloof is vir die kinders dieselfde as dit
vir die ouers was. Dat ouers faal is nie so vreemd vir ’n
kind wat sy Bybel ken nie. Heel menslik sê die kategismus dan
ook dat ek met die gebreke van my ouers geduld moet hê. Dis
’n antwoord wat die kinders moet leer, maar dit is ook iets
wat die ouers eerlik moet erken. Selfs al sou jy ’n heilige
wil wees, of tenminste soos ’n heilige wil lyk, jy is dit
net in Christus. Maar dan ook voluit: as ouer mag jy vanuit dit
“geheilig” wees begin om heilig te lewe. Dit wat
misgaan mag en moet bely word. Voor God en voor die mense. Dit
sal vir jou as ouer dan ook heilsaam wees om jou sondes, jou
swakhede voor jou eie kinders te bely. Dan sal hulle die stryd
van die geloof herken as iets waarmee nie net hulle te doen het
nie, maar as iets waarmee alle Christene te doen het.

Gemeente, die geskiedenis van Samuel se gesin laat ’n
mens ook besef dat genade geen erfgoed is nie. Ons kinders deel
nie outomaties daarin nie. Hulle is uit hulself kinders van Adam.
Sondaars, wat opnuut gebore moet word. Sondaars wat moet leer om
Christus as Verlosser aan te neem. Dit vra aanhoudende gebed vir
hulle. Dit spreek nie vanself dat ons kinders openbare
geloofsbelydenis aflê nie. Dis ’n geskenk van God. Wat Hy
in die reël wil gee in die weg van Christelike opvoeding en
onderrig. In biddende afhanklikheid aan Hom. Ek is mos nie in
staat om my kind op die regte pad te bewaar nie. Net God kan dit
doen.

Hoe praat ons oor kinders wat die verkeerde pad kies en die
kerk verlaat? Blameer ons die ouers daarvoor? Kerkverlating hoef
nie die skuld van ouers te wees nie. Dink aan Samuel. Pasop vir
jou tong. Hoe maklik en onregverdig word ouers en ander soms nie
veroordeel nie.

Bowendien, is jy eintlike wel in ’n posisie om te oordeel?
En te veroordeel? Kom die oordeel nie aan God toe nie? En wat van
Christus se versoening en voorbede? Miskien het ouers en
ampsdraers al in Christus se bloed versoening gevind vir sondes
wat jy hulle nog toereken. Dink aan die vergewing wat Dawid
ontvang het. Pasop dat jy nie teen Christus se versoeningswerk en
voorbede ingaan nie. Moenie oordeel nie. Laat jou liewer deur die
Here Jesus waarsku dat jy self geen struikelblok is nie, vir jou
kinders nie, maar ook nie vir die kinders van ander nie. Want wee
diegene wat een van God se kleintjies laat struikel. Christus sê:
Dit sou vir hom beter wees dat ’n meulsteen aan sy nek
gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.(Mt 18:6).
Bid vir hulle en wees daarop uit om hulle saam te neem.

Maar gemeente, hoe hanteer ’n mens die hartseer oor
kinders wat die verkeerde pad kies?

Ons het Dawid se verdriet gehoor. Aangrypend. Hy trek hom
terug in die bovertrek van die poort en loop daar onafgebroke
heen en weer terwyl hy in trane sy jammerklag bly uit: “My
seun Absalom, my seun, my seun Absalom. Ag as ek self maar in jou
plek gesterf het. Absalom, my seun, my seun.”

Aan die een kant is die jammerklag indrukwekkend. Absalom het
Dawid se vyand geword. Hy het sy vader probeer doodmaak. Tog het
Dawid hom nie afgeskryf nie. Tog het Dawid nie gesê: jy is nie
meer my seun nie. Inteendeel, Dawid bly bewoë oor die lot van sy
seun. Hy wil selfs wel vir hom sterf. Dit styg bo die normale
gedrag uit. Dit is messiaans. Wie doen so iets, sê Paulus in Rom
5. Wie is bereid om vir ’n goddelose te sterf? Miskien sal
iemand nog die moed hê om vir ’n goeie mens te sterf, maar
vir ’n slegte mens wil niemand dit doen nie. En tog is dit
presies wat Dawid wou gehad het: om te sterf in die plek van
Absalom. En dit is presies wat die Here Jesus gedoen het. Hy het
vir ons gesterf toe ons nog sondaars was (Rom 5:6-8). Hy het nie
gesterf vir mense wat goed en lief was nie, maar vir goddeloses
wat niks van hom wou weet nie en teen God opgestaan het. Vind
julle dit nie indrukwekkend nie? Wat ’n kontras met die
hardheid waarmee ons sondaars, soms selfs ons eie kinders,
afskryf. Wat is daar in ons lewe dikwels min sigbaar van ’n
navolging van Christus.

Aan die een kant is Dawid se weeklag dus indrukwekkend. Aan
die ander kant dreig egter die gevaar dat hy in sy vaderlike
verdriet die erns van die situasie vergeet en sy
verantwoordelikhede verwaarloos. Dawid bly koning van Israel. Die
opstand van Absalom was opstand teen die gesalfde koning. En
daarin opstand teen die gesalfde Jesus Christus. ’n Baie
ernstige oortreding wat gestraf moet word. Die twee boodskappers
Ahimaäs en die Kusiet wys daar tereg op dat die Here oorwinning
oor die vyande gegee het en die koning reg verskaf het teenoor
almal wat teen hom opgestaan het. Maar die koning wil dit nie
hoor nie, hy stel net belang in die welstand van sy seun. So
verloor hy hom in sy verdriet en versaak hy sy
verantwoordelikheid as God se gesalfde koning. Hy ignoreer sy
manskappe wat getrou vir hom en die Here gestry het en laat na om
hulle as oorwinnaars terug te verwelkom. Ja, hoe maklik gebeur
dit nie dat ons in ons verdriet bly steek en daardeur verblind en
verlam raak. Waardeur ons die verantwoordelikhede wat God nog gee,
bv tov die ander kinders, verwaarloos. Joab ruk Dawid op ’n
hardhandige manier reg sodat hy weer sy verantwoordelikhede as
koning aanvaar.

Gemeente, Samuel sal ook wel verdriet om sy seuns geken het.
Hy sal geworstel het met God se welbehae. Waarom het God sy seuns
nie op die goeie pad bewaar nie? Dis ’n vraag waar jy as
mens nooit uitkom nie. Ek vind net rus en vrede as ek weet dat
die saak in God se hande lê en dat Hy heilig en regverdig is en
hom nooit vergis nie. Hy is nie onberekenbaar of ontrou nie. Al
sy weë is heilig en regverdig. So ken ons Hom tog? Die God wat
sy eie Seun nie gespaar het nie, maar hom vir ons oorgegee het.
Die God wat sy planne uitvoer.

Wanneer ons na Samuel kyk, kan die vraag opkom: waaraan het hy
dit verdien dat sy seuns die verkeerde pad gekies het? Ons hoor
Samuel nie hieroor kla nie. Hy weet dat hy voor die Here staan.
En ons? Ons besef: as dit so ’n vroom en getroue dienaar van
die Here oorkom het, wie is ons om te sê dat ons anders verdien
het? Is dan nie elke kind wat wel in die weë van die Here gaan,
’n groot geskenk nie en ’n rede vir groot dankbaarheid
nie? Ons kan die Here niks verwyt nie.

Maar dit neem die pyn van die afkerige kinders nie weg nie.
Die onmag bly. En daardeur bly ook, as dit goed is, die gebed.
Die gebed om bekering van ons kinders, van ons broer of suster,
pa of ma. Die Here dwing ons om die moontlikhede aan te gryp om
hulle aan te spreek en terug te wen. Die pyn en die hartseer
waarvoor daar geen troos lyk te wees, laat ons telkens weer tot
die Here vlug.

En naas die gebed om bekering, bid ons vir rus en vrede in God
se welbehae. Die rus en vrede sal ons kry. Die Here Jesus het dit
ook ontvang toe hy geween het oor volksgenote wat geweier het om
hulle te bekeer. Hy het toe tot die Vader gevlug en vrede in sy
welbehae gevind. Hy het gesien dat God reg is in al sy weg en
werk. Hy het ingesien: as Vader vir mense die deur toesluit, dan
het hulle dit verdien. Hoe sou ek Hom dan aankla? Hoe moeilik ons
dit kan indink, eendag sal ons ook die Here in sy oordeel byval.
Ons sal leer sien hoe God se liefde alles oortref, hoe die band
met Hom werklik oorweldigend is.

Gemeente, die hartseer oor ons familielede is nie ewig nie.
Die Here sal dit van ons wegneem. Dis ’n verdriet waarvoor
Hy ’n oplossing, troos het. Hy sal alle trane van ons oë
afdroog. Ons sal met Hom saamstem. Hier vlam die pyn en hartseer
telkens weer op. Tot ons dood toe. Maar daar kom ander tye.
’n Nuwe hemel en nuwe aarde, waar daar volkome geluk en
vrede is.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)