Die koninkryk van God word uit genade ontvang deur kinders en volwassenes

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-04-23
Teks: 
Markus 10
Preek Inhoud: 

Markus 10:13-16

Ds C Kleyn - Sondag 23 April 2006

Lees: Matthéüs 18:1-6; Markus 10:13-16.
Sing: Ps 93:1,2; Ps 93:3,4; Ps 105:5; Ps 131; SB
15; Ps 115:7,8.

Tema: Die koninkryk van God word uit genade ontvang
deur kinders en volwassenes

Daarom:

  1. laat die kindertjies tot my kom
  2. wees soos die kindertjies

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waaroor gaan dit in ons teks? Gaan dit net oor die kindertjies,
dat Jesus hulle seën? Blykens vers 15 gaan dit oor meer as dit.
Dit gaan oor die toegang tot die koninkryk van God, oor die
ontvang van daardie koninkryk uit genade.

Daarom vat ek die teks soos volg saam: Die koninkryk van God
word uit genade ontvang deur kinders en volwassenes.

Daarom, eerstens: laat die kindertjies tot my kom

En tweedens: wees soos die kindertjies.

Kan jy dit voorstel? Op ’n Sondag oggend gaan jy kerk toe
met jou kinders. Daar staan mense by die ingang van die kerk wat
jou kinders terughou en wegstuur. Hoe sou jy voel? Sou jy nie
ontsteld wees nie?. Wie stuur nou kinders weg van die Here weg?
Hoe durf hulle om so iets te doen? Wat besiel hulle?

Tog, gemeente, iets dergeliks gebeur in ons teks. Dit word
gedoen deur niemand minder as die dissipels van die Here Jesus
nie. Ouers bring hul kindertjies na Jesus. Die dissipels voel
ongelukkig daaroor. Hulle bestraf die ouers. Wat gee die ouers
die reg om Jesus se aandag vir hul kinders op te eis? Jesus het
meer om te doen, dinge wat baie belangriker is. Hy moet die
koninkryk van God oprig. Hy het sy tyd nodig vir prediking en
onderrig. Hoe durf die ouers Jesus met hul kinders ophou.

Kan jy dit voorstel? Dat ouers met hul kinders weggestuur word?
Die benadering van die dissipels is beïnvloed deur die denkwyse
van die Fariseërs. Julle ken dalk die belangrikste stelling van
die Fariseërs. Hulle het geleer: in jou lewe met God moet jy
leer om te doen wat goed is. Jou verhouding met God kan slegs reg
wees indien jy doen wat goed is. Jy moet goeie werke doen, jy
moet self iets presteer, jou eie heil verdien.

Met die oog daarop het die leraars in Israel ’n
uitvoerige lys van moets en moenies opgestel. Dit was om jou so
naby as moontlik by die wet van God te hou. Allerlei besonderhede
moes gereël word, sodat jy geen risiko sou loop nie, en jy
presies sou weet wat van jou verwag word. As jy jou aan die
voorskrifte, die wette, hou, dan is jy veilig. Slegs dan sou dit
reg tussen God en jou wees.

In so ’n klimaat tel ’n kind amper nie. Solank jy
nog ’n kind is, moet jy agter bly, op die agtergrond. Jy ken
nog nie al die reëls nie. Jy moet hulle nog leer onderskei. Eers
dan kan jy begin om op die pad van die wet te wandel. Maar
daarvoor, aan die begin van jou lewe is dit onmoontlik. Jy kan
nog nie loop nie. Laat staan dat jy in die wet sou uitmunt.

Jy begin eers te tel wanneer jy heelwat ouer is, en, as
’n seun of dogter van die wet, die kennis het. Eers na
talryke lesse word jy binne die gemeenskap toegelaat. Dan bereik
jy die vlak waarin die lewe hom afspeel.

Gemeente, ons tref ’n vergelykbare denkwyse in ons
huidige samelewing. Dikwels tel jy slegs werklik mee wanneer jy
produktief kan wees, wanneer jy self iets kan presteer. Jong
kinders word soms as duur gesien. Hulle kos baie geld en bring
geen geld in nie. Dit is waarom die werkloses dikwels so sleg
voel oor hul situasie. Hulle kry die gevoel dat hulle nutteloos
is, nie meer meetel nie. Hulle is immers onproduktief in ’n
samelewing waar alles om geld draai.

Op die geestelik vlak tref ons ook iets dergeliks. ’n
Groot aantal moderne Christene wys die kinderdoop af. Waarom?
Omdat hulle dink dat die persoon wat gedoop word eers sy eie
keuse moet maak. Jy moet eers iets van jouself aan die Here
aanbied. Jy moet eers wys dat jy geloof het. Tot daardie oomblik
behoort jy nie by die verbond nie. Ja, jy mag wel kerk toe gaan,
maar jy behoort nie wesenlik by God en sy gemeente nie. Jy tel
nog nie werklik nie.

Wel, broers en susters, die Here Jesus wys hierdie denkwyse af.
Hy wag nie tot die kinders grootgeword het nie. Tot hulle self
iets kan presteer nie. Hy gee baie eerder aandag aan die kinders.
Hy het groot belangstelling vir die kinders. Hy bestraf sy
dissipels omdat hulle die kinders verhinder het. Hulle moet die
kinders toelaat om na Hom te kom. En Jesus slaan sy arms om hulle.
Hy laat hulle deel in sy gemeenskap en seën hulle.

Die Here leer sy dissipels ’n belangrike les. Jesus wil
omgang met die kinders hê. Hy wil hulle, wat na menslike
maatstawwe nog nie daarvoor gereed is nie, sy seën gee, deel gee
aan die weldade van sy koninkryk. Wie gee nou sy liefde vir hulle
wat nog niks van hul kant kan aanbied nie?

Met verbasing sien die dissipels wat Jesus doen. Hy wag nie
totdat die mense, op hul eie inisiatief, na Hom kom nie. Hy wag
nie totdat mense iets aan Hom kan aanbied nie. Hy neem self die
inisiatiewe en gee sy liefde en seën aan die klein kinders wat
die ouers na Hom bring. Ja, Hy gee sy liefde en seën aan hulle
wat dit nog nie kan verstaan of daarop kan reageer nie.

Gemeente, in julle lewe met God kom alles van God se kant. Dis
hoe dit begin. God gryp in in ons lewe wat anders in sonde
verlore sou wees. God kom na ons en ons kinders toe met die
beloftes van vergewing van sondes en ewige lewe. Daarom vind die
doop plaas aan die begin van my lewe met God. Die doop is ’n
eensydige sakrament. Ek word gedoop. Die kinders is netnou gedoop.
Dis nie iets wat hulle vir hulleself gedoen het nie. Dit is aan
hulle verrig. By die doop is ek self passief. Die Here is die
aktiewe party. Hy kom my lewe binne met sy liefde en seën. Alles
kom van God se kant.

Ouers bring hul kinders by Jesus. Hulle het hoë agting vir
Jesus. Hulle het groot verwagtings van Hom. Hulle verwag die
toekoms van hul kinders van Jesus. Dit gaan hulle oor die lewe en
toekoms van hul kinders, hul geestelike welsyn. En hulle verwag
dat Jesus die seën van die koninkryk kan gee. Hulle begeer die
seën vir hul kinders. Die seën van die Here, die Verbondsgod.
Hulle wil hê dat Jesus die kinders aanraak en vir hulle bid. Dit
sou baie vir hulle lewe en toekoms beteken. Christus se reaksie
wys dat Hy dit in die ouers waardeer.

In ons teks word die weg na Jesus se seën toe op ’n
verrassende manier gelykgestel met die weg na die koninkryk toe.
Jesus vergelyk die ontvang van sy seën met die ingaan in die ryk.
Jesus verbind die twee deur te praat van die ontvang van die
koninkryk. Hoe kan die gaan na Jesus gelykgestel word met die
gaan na die koninkryk van God? Dit is moontlik omdat daar ’n
onlosmaaklike samehang is tussen Jesus en die hemelryk. Jesus is
die poort, die weg, die toegang tot die ryk. Baie meer as wat die
ouers dit besef het, lê die toekoms van die kinders in Jesus se
seënende hande.

Broers en susters, daardie ouers het nie Jesus geken soos
julle Hom vandag ken nie. Julle ken Jesus nou baie beter as die
Redder van die wêreld. Julle weet nou hoe Jesus, na hierdie
geskiedenis met die kinders, aan die kruis gesterf het om vir
jonk en oud die seëninge van die verbond te verwerf, die
vergewing van sondes en die ewige lewe. In die lig van daardie
meerdere kennis, sou jy dan nie des te meer rede hê om Jesus
Christus vir jou kinders te soek nie? Sou jy nie des te meer jou
kinders na Christus toe lei nie? Dis langs die weg van
aanvaarding van die beloftes in geloof dat die kinders kan geniet
van daardie weldade van Christus, dat hulle kan geniet van die
vergewing van sondes en die vernuwing van hul lewe. Daarom wil jy
alles in jou vermoë doen om hulle te lei na die geloof toe.
Daarom wil jy jou kinders oor die Here Jesus leer. Jy onderrig
hulle in die leer van die Skrifte en laat hulle daarin onderrig
word. Daarom lees jy die Bybel vir hulle, die woord waardeur
Christus na hulle toekom. Jy neem hulle saam kerk toe, waar Jesus
Christus deur sy Gees en Woord teenwoordig is, waar Hy sy seën
gee. Die seën van die Here is die grootste geskenk wat jou
kinders kan ontvang.

Hieruit blyk, geliefdes, dat die laaste vraag van die
doopsformulier baie belangrik is, die vraag naamlik: “Belowe
julle en neem julle dit op julle om hierdie kinders van wie julle
die vader en moeder is, wanneer hulle dit kan verstaan, in die
genoemde leer na jul vermoë te onderrig en te laat onderrig?”
God maak gebruik van ouers om sy seën aan die kinders mee te
deel. Hy maak gebruik van jul monde en hande om vir hul
geestelike welsyn te sorg sodat hulle Hom leer ken en van die
weldade van sy koninkryk geniet. Gewoonlik sou die kinders,
sonder daardie betrokkenheid van Christelike ouers, sonder God en
sonder sy seën grootword.

Gemeente, laat ons nie ligtelik oor God se seën vir ons
kinders dink nie. Laat ons dit soek en fasiliteer. Lei die
kinders na die Here Jesus toe, vanaf die begin, sodra hulle dit
kan verstaan. Christus wil sulke kinders in sy koninkryk ontvang.
Hy verwelkom hulle. Die kinders is vir hom belangrik, dierbaar.
Want aan sulkes behoort die koninkryk van God.

Die dissipels het gedink dat daar belangriker dinge was om te
doen as om kinders te verwelkom. God se koninkryk sou ander
prioriteite stel. Dis die gewoonte in die wêreld om die grotes
en sterkes te dien. Maar Christus leer dat sy volgelinge die
wêreld se kleintjies moet ontvang en verwelkom. “Elkeen wat
een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang my.”
Wat ’n pragtige en belangrike taak is dit dan om kinders in
God se koninkryk te verwelkom. Laat ons deur ons woorde en dade
wys dat ons hulle verwelkom. Ook in ons versorging en opvoeding
van ons kinders. Om vir kinders te sorg en te lei is een van die
mees wonderlike take wat bestaan. Dis belangrik werk in God se
koninkryk. Laat ons dit nie onderskat nie. Christus gebruik sterk
taal teenoor hulle wat teen die belange van die kinders handel.
Hy sê: “elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo,
laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy
nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.”

Om een van hierdie kleintjies te laat struikel is ’n
ernstige saak. Dit kan op allerlei maniere gebeur. Deur ’n
slegte voorbeeld of deur verwaarlosing. Wanneer jou gedrag nie
met jou belydenis ooreenstem nie. Dit belemmer die kinders op hul
pad na God toe. Laat elkeen dus ernstig wees om die kinders na
God te lei, om hulle in sy weë te lei, weg van die sonde weg.
Laat ons dit deur woord en daad doen.

Geliefdes, kindertjies moet nie net verwelkom word nie.
Christus hou hulle ook aan ons voor as voorbeelde: wees soos die
kindertjies. Christus sê: “aan sulkes behoort die koninkryk
van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van
God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan
nie.”

Die groot vraag is: wat kenmerk die kinders en hoe is hulle
’n voorbeeld vir ons? Dit tref ons dat kindertjies geen
pretensies het nie. Hulle maak nie aanspraak op allerlei dinge
nie. Hulle ontvang net. Hulle neem dinge sonder meer aan.

So moet ook ons geloofshouding teenoor God wees, wanneer ons
die heil ontvang. God se koninkryk met al sy weldade word net uit
genade ontvang. As sondige mense kan ons geen reg of aanspraak
laat geld nie. Sonder enige pretensies, met leë hande, moet ek
voor God verskyn, klein en nederig, dankbaar en vol verwondering
dat God my tot so iets groots, tot sy heerlike koninkryk wil roep.

Gemeente, die teenstelling van hierdie kinderlike houding sien
ons byvoorbeeld by die dissipels, wanneer hulle onder mekaar twis
oor wie van hulle die grootste in die koninkryk is. Dis die
konteks van Mt 18. In daardie konteks roep Jesus ’n kindjie
na Hom en laat hom in hul midde staan en sê: “Voorwaar Ek
sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word
nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan
nie” (Mt 18:2,3).

Die feit dat die dissipels twis oor wie die grootste is, wys
dat hulle nog geen idee het waaroor dit gaan in die koninkryk van
die hemele nie. Jesus leer hulle dat die maatstawwe in God se
koninkryk heeltemal anders as die maatstawwe in aardse koninkryke
is. In die wêreld is jy groot wanneer jy groot mag en invloed,
rykdom en eer het, wanneer jy jouself kan laat geld. Gewoonlik
hou volwassenes daarvan om hulleself te laat geld en te vertrou
op hul eie krag en wysheid. Wel, hierdie houding is onmoontlik
vir hulle wat die koninkryk wil ingaan.

Om hierdie punt te illustreer plaas Jesus ’n kind voor sy
gehoor. Die koninkryk van die hemele is nie vir mense wat groot
is volgens menslike maatstawwe nie. Dis vir kleintjies. Jy is
groot in God se koninkryk wanneer jy klein is, wanneer jy soos
die klein kinders is. Die kleintjies is groot in God se koninkryk.

Christus wys hoe dwaas die dissipel se vraag is. Nie hulle wat
groot is nie, maar hulle wat weet dat hulle klein is, gaan in in
God se koninkryk. “Elkeen wat homself verneder soos hierdie
kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.”
As jy in God se kerk en koninkryk groot wil wees, verneder
jouself soos ’n klein kind, wys dat jy ’n nederige kneg
is. Soos Christus dit ook in Mk 9:35 sê: “As iemand die
eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar
wees.”

Wanneer jy die koninkryk ingaan, skryf jy jou nie in vir
’n wedstryd vir die top posisie nie. Jy skryf in vir
nederige diens, jy word almal se dienaar. Om dit te kan doen,
moet jy leer van die klein kinders, soos die kinders word.
Christus dink hier volgens Mt 18 veral aan nederigheid.
“Elkeen wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die
grootste in die koninkryk van die hemele.” Christus het
homself gewys as sagmoedig en nederig van hart. Dis kwaliteite
wat Hy nou by sy volgelinge soek. Dis nie deugde wat maklik en
vanself opkom. Ons moet dit in geloof ontvang.

Die kleinheid van kinders het hulle nederige burgers gemaak.
Hulle is swak, kwesbaar en heeltemal afhanklik. ’n Kind kom
nie met eie prestasies nie. ’n Klein kind het geen
pretensies nie. So is ’n klein kind ’n groot voorbeeld
vir ons volwassenes. Ek moet soos die kindjie word in God se
koninkryk. Waarom moet ek die koninkryk soos ’n kind ontvang?
Waarom is daar vir ons volwassenes geen hoop nie, tensy ons soos
die kindertjies word? Dis vanweë ons sondes. Ek kan net die
koninkryk deur Jesus Christus ingaan. Hy is die deur, die weg,
die toegang. Ek kan nooit op my eie daar ingaan nie. Ek is
heeltemal van Hom afhanklik. Ek kan nie vertrou op my eie krag en
wysheid nie. Ek het Jesus Christus nodig, as my enige en volkome
verlosser. Daarom, strek jou hande na Hom uit. Soek jou heil
buite jouself in Christus. Wees soos ’n kindjie. Soos
’n nederige smekeling: O Here, wees my sondaar genadig. Leef
uit genade. God se koninkryk word immers net uit genade ontvang
deur kinders en volwassenes. Daarom: laat die kinders tot my kom
en wees soos die kinders.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)