Gee en vir jou sal gegee word

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-05-07
Teks: 
Spreuke 3
Preek Inhoud: 

Spreuke 3:9,10

Ds C Kleijn - Sondag 7 Mei 2006

Lees: Deuteronómium 26:1-11; Spreuke 3:1-12.
Sing: Ps 65:1,3; Ps 24:1-3; Ps 104:10,14,15, 19,20;
Ps 50:7,11; Ps 56:1,4.

Tema: Gee en vir jou sal gegee word

  1. die bevel om te gee
  2. die belofte dat vir jou gegee sal word

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons kan weer dank. Dank vir gewas en arbeid. Die Here het die
aarde en ons lewens in stand gehou. Hy het weer baie moontlikhede
gegee. Ook al was dit nie vir elkeen ewe maklik nie, God het in
die afgelope jaar weer voorsien. Hy het die dinge wat vir ons
lewe nodig is, weer gegee, ja vir die meeste van ons selfs baie
meer as dit. Maar nou die vraag: wat doen ons met dit wat ons
ontvang het?

Ons teks sê: vereer die Here uit jou goed en uit die
eerstelinge van al jou inkomste. Vereer die Here met jou besit en
inkomste. Dis opvallend dat die Here in hierdie inleidende
hoofstukke van Spreuke, wat op algemene beginsels fokus,
spesifiek die omgang met ons geld aanspreek.

Dis nie sonder rede nie. Die Here ken ons. Hy weet dat jy
mense leer ken aan hul geld. Wil jy weet of jy inderdaad die Here
in al jou weë ken, kyk maar na wat jy met jou geld doen. Hoe jy
met jou geld omgaan, staan nie op homself nie. Dit wys jou
houding. Dit wys jou liefde en trou of jou liefdeloosheid en
ontrou. Hierdie saak maak meestal duidelik of jy Christen wil
wees nie net in jou woorde nie, maar ook in jou dade.

Ek vat die teks soos volg saam: Gee en vir jou sal gegee word

  1. die bevel om te gee
  2. die belofte dat vir jou gegee sal word

Spreuke leer ons mbt ons aardse besit: Vereer die Here uit jou
goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste. Wys hoë agting
vir die Here in die manier waarop jy met jou besit omgaan.
Bevorder daarmee sy grootheid. Jou besit is nie daar vir jou eie
eer, aansien en grootheid nie, maar vir God se eer en aansien.
Dit gaan hierin nie oor my belangrikheid of gewig nie, maar oor
die eer (letterlik die gewig) van die Here.

Hoe kan ek wys dat ek die Here met my goed vereer? Deur ook in
materiële sake volgens God se standaarde te leef. Deur liefde
vir God en die naaste te wys. Deur God te wil behaag in my werk
en sakelewe. Dit word ook gewys deur die eerstelinge aan die Here
terug te gee. Dis wat die teks uitdruklik noem. Daarin herken die
Israeliete God se duidelike voorskrifte in die wet van Moses.

Wat was die eerste wat die Jode moes doen wanneer hulle die
oes binnegehaal het? Hulle moes eers die regte van die Here erken.
Daarom moes hulle ’n mandjie vul met die eerstelinge van al
die vrugte van die land en dit na die heiligdom bring. Die
priester moes dan die mandjie uit hul hand neem en dit voor die
altaar van die Here neersit. Daarna moes die boer daar voor die
Here verklaar: My vader was ’n swerwende Arameër wat na
Egipte afgetrek het met min mense, wat daar tot ’n groot
nasie uitgegroei het. Toe die Egiptenare ons bestaan bedreig het,
het God ons hulpgeroep gehoor. Deur skrikwekkende tekens en
wonders het Hy ons na hierdie pragtige land gebring wat oorloop
van melk en heuning. Hier is nou die eerstelinge van die vrugte
van die land wat U, Here, my gegee het. Daarna het die boer hom
voor die aangesig van die Here neergebuig om vervolgens te geniet
van ’n feestelike maaltyd saam met die Leviet en die
vreemdeling.

In die wet word hierdie aanbieding van die eerste vrugte
voortdurend ’n goddelike insetting vir Israel genoem. Die
boer het sy mandjie met vrugte nie net vir die aardigheid voor
die Here aangebied nie. Nee, hy het na die heiligdom gegaan om
die regte van die Here te erken. Sy regte as Israel se Skepper en
Verlosser. “Want die land behoort aan My” het die Here
duidelik gesê. En so ook die opbrengs van die land. Dit is wat
die Israeliet erken het met sy eerstelinge. Die eerstelinge het
die hele oes verteenwoordig. “Ek kom met ’n mandjie vol
met vrugte, maar die hele oes behoort feitelik aan U, Here. U is
die Eienaar van die grond, my Heerser, my Eienaar aan wie ek
alles verskuldig is.” Ja, die Here het reg op die
eerstelinge. In die eerste plek as Israel se God aan wie die
aarde en sy volheid behoort. Maar nog meer as Israel se Verlosser.
Dis duidelik uit die belydenis van die boer wanneer hy sy mandjie
vrugte aanbied. Sy voorspoed in Kanaän staan teen die agtergrond
van die ongelooflike bevryding uit Egipte.

Dit was, geliefdes, die fundamentele beginsel van Israel se
ekonomiese lewe. Eers erken jy die regte van die Here. Spreuke
sluit daarby aan: “Vereer die Here uit jou goed en uit die
eerstelinge van al jou inkomste.” Pleks van die eerstelinge
kan jy ook vertaal: die eerste of die beste van al jou opbrengs
en inkomste. Die beste deel van jou besit was vir die Here. Dit
moes eers apart geset word voordat jy enige ander uitgawes gemaak
het. Waarom? Omdat die Here daar reg op het en omdat sy regte aan
alle ander regte voorafgaan.

Broers en susters, vandag leef ons nie onder die Ou Testament
met sy altare, priesters en eerstelinge nie. Beteken dit dat dit
nou minder belangrik is wat jy met jou geld en besit doen? Die
teenoorgestelde is waar. As God reeds van sy Ou Testamentiese
volk die eerstelinge, die beste van hul besittings verwag het,
dan mag Hy seker ’n nog groter erkenning van sy regte van
ons verwag. Waarom? Omdat ons feitelik baie ryker as die Ou
Testamentiese gelowiges is, wat hulle mandjies by die ingang van
die heiligdom aan die priesters aangebied het. Jesus Christus het
gesterf en opgestaan en ons saam met Hom. Ons het nou oorgegaan
van die Ou Testamentiese skaduwees na die volle lig van Christus.
Behoort ons dankbaarheid dan nie baie oorvloediger te wees nie?
Julle ken tog vir Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter
wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk
kan word? (2 Kor 8:9).

Die Here Jesus het gesê: “Soek eers die koninkryk van
God en sy geregtigheid.” Dan kan dit tog geen vraag wees of
ek my eerstelinge aan die Here sal gee nie? Om eers God se
koninkryk te soek impliseer dat ek sy eienaarskap oor alle dinge
erken. Ook dit wat ek deur harde werk verkry het, behoort
feitelik aan Hom. Die aarde en sy volheid behoort immers aan die
Here. Dan kan ek God en sy kerk nie met net ’n fooi afskeep
nie. Dan gee ek Hom die eerste en die beste van my inkomste. In
die erkenning: “Here, U is my God en my Verlosser. Daarom is
die beste van wat ek het vir U. Want dit kom alles van U en ek
gee dit aan U terug.’

So kom die woord van God na elkeen van julle wat ’n
sekere inkomste ontvang, jonk en oud, ouers wat vir hul gesinne
moet sorg, ongetroudes, pensioenarisse of seuns en dogters wat
dalk baie min ontvang. Vir elkeen sê die Here: Vereer die Here
met jou goed en met die eerstelinge van jou inkomste.

Geliefdes, wat doen jy dan met jou inkomste? Waaraan gee jy
dit uit? Watter dinge staan eerste op jou lys? Jou plesier en
vermaak? Die handhawing van jou hoë of minder hoë
lewenstandaard? Meestal wil ons self bepaal waaraan ons ons geld
gaan uitgee. Laat niemand hom daarmee bemoei nie. Maar onthou dit,
daar is altyd iemand aanwesig wanneer jy jou geld verdeel. God
sien dit. God wat sê: alles behoort aan My. Wys dit deur jou gee.
Gee My die eerste deel van jou inkomste. Soek eers my koninkryk
en my geregtigheid. Alles wat jy ontvang – ook dit wat jy
deur harde werk ontvang – het jy aan My te danke. Dis
’n kwessie van genade, onverdiende guns. Feitelik sou Ek die
reg het om alles terug te eis. Ek doen dit nie. Wat Ek wel vra is
dit: dat jy die eerste deel van jou inkomste vir My gee. Daarin
wil Ek ’n bewys ontvang dat jy My erken en vereer as die
Eienaar van alles. Die res mag jy gebruik om in al jou behoeftes
te voorsien en om ander te help.

Maar geliefdes, hoeveel vra die Here dan vir Homself, vir die
werk in sy koninkryk, vir die armes en behoeftiges? Die Here
stipuleer dit nie. Van die Ou Testamentiese kerk het Hy die
tiendes gevra, plus die eerstelinge van die land en vee, met
daarbo nog al die offers wat gebring moes word. In ons Nuwe
Testamentiese tyd laat God dit so te sê aan ons oor. Hy het ons
in die volle lig geplaas. Hy het oor ons sy Gees uitgestort.
Verlig deur die Gees moet elkeen in staat wees om dit self te
besluit. Broer, suster, is jy met die Gees van God vervul wanneer
jy jou finansies beheer of deur die gees van die tyd? Die sonde
maak ’n mens selfsugtig, so lank as ek maar my deel kry. Die
Gees soek egter dit wat God behaag. Jy leer dan wat dit beteken
om die Here te vereer met jou besit en inkomste. God sê:
“wys My dat jy my regte erken, dat jy jouself as ’n
rentmeester beskou aan wie Ek my besit toevertrou het.” Dan
laat jy jouself nie deur jou gevoel van geluk of ongeluk lei nie.
Dan laat jy jouself lei deur die Gees van God, in verwondering
oor God se ongelooflike genade.

Maar is dit altyd wel moontlik? Ook wanneer jy net ’n
minimale loon het of selfs minder? Ja, God vra dit. Dink aan die
aalmoes van die arme weduwee. Laat elkeen, ook ons jong mense
leer om ’n deel van alle inkomste vir die Here af te sonder,
hoe klein dit ook al mag wees. Die Here wil nr 1 in jou lewe wees.
Hy soek dankbare harte. Hoe anders sou jy God met jou goed vereer?
Paulus noem dit nadruklik in 2 Kor 9:7: “Laat elkeen gee
soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang
nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.” Ja, nie
met droefheid of uit dwang nie. As ek met teensin gee of omdat ek
nie anders durf nie, verstaan ek nie mooi wat dit is om te gee
nie. Om te gee is ’n saak van erkenning en verering van die
Here, ’n kwessie van dankbaarheid. Ek vereer Hom met die
gawes wat Hy aan my toevertrou het. Ek vereer Hom as die Eienaar
van alles. Ek gee aan Hom terug. Daarom gee ek blymoedig vir God
en sy diens. Nie as ’n laaste item op my begroting nie, maar
as die eerste item. Om te wys dat ek met die Here beïndruk is,
dat ek deur sy grootheid en goedheid in Jesus Christus beïndruk
is.

Laat ons oppas dat ons nie in ’n wêrelds en
materialistiese gees verstrik raak nie, ’n gees wat net dink
aan eet, drink en vrolik wees, aan eie vermaak en welvaart. En as
jy reeds daarin verstrik is, breek daarmee. Daarvoor is jy te
kosbaar. God het sy eniggebore Seun gegee om jou te red. Vra Hy
dan teveel van jou wanneer Hy die eerste van jou inkomste vra as
’n blyk van liefde, dank en vertroue? Terwyl alles feitelik
aan Hom behoort? Daarom: vereer die Here met jou besit en
inkomste. Gee vir Hom die eerste deel terug met ’n
blymoedige en dankbare hart.

Jy sal dan ontdek dat jy nie slegter daarvan word nie. Dis die
tweede gedagte: die belofte dat vir jou gegee sal word.

Die Here wil hulle wat Hom dien, beloon. Dit geld ook mbt
aardse besittings. Die Ou Testament noem dit dikwels. Moses noem
die seëninge van die Here wanneer Israel sy gebooie onderhou in
Deut 28: “Geseënd sal sy wees in die stad, en geseënd sal
jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam
en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel
van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Geseënd sal wees
jou mandjie en jou bakskottel. Geseënd sal jy wees by jou ingang,
en geseënd sal jy wees by jou uitgang.” Spreuke sluit
daarby aan met die woorde: “dan sal jou skure vol word van
oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos (oftewel wyn).”
Wanneer jy die Here vereer met jou gawes dan sal jy nie gebrek ly
nie: jy sal kos en drank in oorvloed hê.

Maar, broers en susters, is dit werklik so? Wanneer jy van jou
besittings weggee, beteken dit tog dat jy met minder moet
klaarkom? So het God se volk dit bv in Maleagi se tyd beoordeel:
Hulle het swaargekry. Hulle het gedink dat hulle niks kon mis om
as bydrae aan die diens van die Here te gee nie. Daarom het hulle
hul tiendes nie meer gegee nie. Hulle kon dit nie bekostig nie,
het hulle gedink. Maar wat sê die profeet Maleagi hieroor? Dit:
“Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My ...”
Vervolgens daag die Here hulle uit: “Bring die hele tiende
na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef
My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle
nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n
oorvloedige seën sal uitstort nie” (Mal 3:8,10). Waag dit
om te gee, sê die Here feitelik, beproef My, gee in geloof en
vertroue en vir jou sal gegee word, jy sal ’n oorvloedige
seën ontvang.

Gemeente, dis waar dat ons in ander tye leef, in die Nuwe
Testamentiese bedeling, met minder uitdruklike aardse beloftes.
Maar ons ontdek dat die Here daardie belofte van beloning
handhaaf. Dink aan die woorde van die Here Jesus in Mt 6:
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en
al hierdie dinge – soos kos, klere en ander behoeftes –
sal vir julle bygevoeg word.” Die Here belowe die burgers
van sy koninkryk hul daaglikse onderhoud.

Dit was nie maklik vir die eerste Christene om hierdie woorde
in geloof te aanvaar nie. Christus het immers sy volgelinge gevra
om hul besittings prys te gee. Daardeur het hulle finansieel
kwesbaar geword. Maar hulle hoef nie bekommerd te wees nie. Deur
hul aardse skatte prys te gee, kan dit lyk asof hulle hul aardse
sekerhede verloor. Maar deur God te soek is hul toekomstige
onderhoud gewaarborg. Vader in die hemel waarborg dit. Dit
beteken nie dat jy altyd daarin sal slaag om deur betaalde arbeid
vir jou daaglikse onderhoud self te sorg nie. God die Vader sorg
bv ook deur die gemeenskap van die heiliges.

Om Christus te volg moet jy baie dinge loslaat. Jy verloor
baie daardeur, sê Christus, maar jy sal ook baie terugontvang in
tyd en ewigheid. “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand
wat huis of broers en susters of vader of moeder of vrou of
kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat
het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel:
huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam
met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe” (Mk
10:29,30). In hierdie tyd broers en susters, kos en behuising,
met vervolginge. Ja, let op die toevoeging: saam met vervolginge.
Die lewe van ’n Christen sal nie altyd maklik en voorspoedig
wees nie. Selfs Spreuke waarsku dat dit nie altyd maklik sal wees
nie. Onmiddellik na ons teks met sy belofte van oorvloed, sê
Spreuke: “My seun, verag die tug van die Here nie, en laat
sy kastyding nie jou weersin wek nie.” Die Here kan ons ook
op die proef stel. In sy vaderlike wysheid kan Hy ons sekere
dinge weerhou. Daarom moet ons onthou dat ons teks net een faset
van die waarheid belig. Hier word gegeneraliseer om die boodskap
tuis te bring: gee en vir jou sal gegee word.

Gemeente, ons lees dieselfde belofte in 2 Kor 9. Dit lyk dwaas
om die eerste deel van die inkomste wat jy deur harde arbeid
verdien het, weg te gee. Wie gee nou ’n deel van sy geld aan
die Here, terwyl jy moeite het om die pot aan die kook kan hou.
Jy kan tog nie ’n deel van jou lae inkomste vir die Here
afsonder nie? Paulus kom dan met ’n beeld vanuit die natuur.
In die natuur is daar ’n verband tussen saai en maai. Wie
spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai. Dit lyk dalk dwaas
om daardie dure saad op die land te saai. ’n Boer doen dit
net as hy ’n sekere vertroue in die toekoms het.

Op vergelykbare manier lyk dit dwaas om in tye van skaarste
’n deel van jou besit weg te gee. Daardeur word jou
finansiële situasie nog kwesbaarder. Nee, sê Paulus, in die
koninkryk van God werk dit anders. As jy na vermoë volop saai. -
onthou die paar rand van die arme weduwee kan baie meer werd wees
as die duisende van die miljoenêr – as jy ryklik saai,
volgens wat God jou gegee het, dan sal jy ook ryklik maai, sê
Paulus. Durf om te gee in dankbaarheid en vertroue. Dan sal jy
daardeur nie slegter af wees nie. Inteendeel, wanneer jy
blymoedig en van harte gee dan sal jy beter af wees. God hou van
’n blymoedige gewer. “En God het mag om alle genade
oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle
opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie
werk” (2 Kor 7:8).

Broer, suster, seun, dogter, vereer die Here met jou besit en
inkomste. Gee, en vir jou sal gegee word. Erken die eerste regte
van die Here. Wys jou dankbaarheid en vertroue. Die Here is tog
jou Skepper en Verlosser! Hy het tog sy eniggebore Seun gegee om
jou ryk te maak?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)