Laat u Koninkryk kom

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-05-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Verwysing: 
HK 48-0 (2006)
Preek Inhoud: 

Sondag 48

Ds HH van Alten - Sondag 14 Mei 2006 - Nagmaal

Lees: Ps. 110, Openb. 19:17-21, Sondag 48
Sing: Sien liturgie

Dus, wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, dan bid ons dat God se mags-heerskappy hoe langer hoe meer ‘n genade-heerskappy sal word, waaraan alles wat leef hulself gewillig sal onderwerp.

  1. Dit begin by onsself
  2. Dit kom tot uiting deur die kerk
  3. Dit bereik voltooiing by Christus se wederkoms

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die Koninkryk van God en die Koninkryk van die hemele – twee terme wat ons so dikwels in die evangelies teëkom. Dit is ‘n sentrale aspek van Jesus se onderrig tydens sy lewe op aarde, maar wanneer ons sou moes verwoord wat ons presies daaronder verstaan, dan bly dit dikwels vaag. Dan sukkel ons om te gryp wat presies hiermee bedoel word. En tog ag Jesus dit van die grootste belang. Daarom wil ek vanaand vir ‘n wyle stilstaan om vanuit die Woord van God te probeer duidelik maak wat ons presies onder hierdie terme moet verstaan.  

Die Here Jesus leer ons bid: “Laat u Koninkryk kom.” Maar beteken dit dan dat God se mag beperk is, dat Hy nie alreeds vanaf die allereerste begin oor alles en almal regeer nie? Nee, gemeente, en dit is die eerste misverstand wat ons uit die weg moet ruim. Wanneer Jesus ons hierdie bede op die lippe lê, dan gaan dit hier nie oor die koningskap van ons Skepper-God oor die hele wêreld nie. Hierdie koningskap is immers permanent en ewig. Kyk maar na Psalm 97:1: “Die HERE is Koning; laat die aarde juig; laat die eilande bly wees!” En wat van 1 Kronieke 16:31: “Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: Die HERE is Koning!” Die boek Job wys dit ook pragtig. Daarin sien ons dat selfs die satan nie sonder God se toestemming Job mag aanraak nie (Job 1:12, 2:6). En wanneer Job God se heerskappy bevraagteken, dan wys die Here in hoofstukke 38-41 in beeldende taal sy majesteit en almag oor alle dinge.

Dus, dit eerste – die Here is Koning! As Skepper regeer Hy vanaf die allereerste begin oor alle dinge. V/a 28 van die Kategismus vat dit soos volg saam: alle skepsels is só in God se hand dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.  

Maar wat bedoel die Here Jesus dan wél met die bede: “Laat u Koninkryk kom”? Wel gemeente, ‘Koninkryk’ verwys dus nie na God se ewige heerskappy as Skepper en Onderhouder van die wêreld nie, maar dit verwys na God se ryksgebied wat weer verlos is, en waar sy gesag weer domineer. Ek herhaal: die ‘Koninkryk’ waarvan die tweede bede praat, verwys dus nie na God se ewige heerskappy as Skepper en Onderhouder van die wêreld nie, maar na sy ryksgebied wat weer verlos is, en waar sy gesag weer domineer.  

En dit is goed om te sien dat ons reeds in die Ou Testament hierdie onderskeid aantref. Ons het sopas al gekyk na die uitsprake oor God se ewige Koningskap, maar die Ou Testament bevat ook beloftes oor ‘n komende Koninkryk, en ‘n komende Koning. Direk ná die sondeval kry ons al die belofte dat ‘n kind uit Eva die slang sal vermorsel (Gen. 3:15). ‘n Entjie verder in die heilsgeskiedenis word aan Abraham belowe dat God in hom al die volke sal seën. En wanneer ons nog verder gaan, dan sien ons dat die weg tot hierdie seën via die huis van koning Dawid loop. En Dawid kry die belofte van ‘n groot opvolger wat vir ewig op sy troon sal sit.

Al hierdie beloftes word nóg duideliker in ‘n tyd toe dit gelyk het asof daar van God se beloftes niks sou kom nie, naamlik in die tyd van die ballingskap. Daar kry Daniël die belofte dat die wêreldmagte van daardie tyd, Babilonië en Assirië, die knie sal moet buig voor die nuwe komende ryk uit die hemel. [Kom ons blaai saam na Daniël 2:44]. Daar lees ons: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” Pragtig, is dit nie? ‘n Ewige Koninkryk! Maar wag, daar word nog meer vertel, in Daniël 7. [Kom ons lees Daniël 7:11-14]. Hier hoor ons al iets meer: die Seun van ‘n mens wat alle heerskappy en eer en koningskap sal ontvang! 

Nou spring ons na Johannes die Doper, die voorloper van die Here Jesus. En dan sien ons dat Johannes aansluit by hierdie Ou Testamentiese beloftes waarna ons sopas gekyk het. En dit is opvallend dat Johannes die nabyheid van die vervulling van die beloftes verkondig. Hy sê immers in Matt. 3:2: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Daardie koninkryk, waarvan die Ou Testamentiese beloftes eeuelank gespreek het, is op die punt om te kom!

En dan kan ons almal uitreken wat gaan volg: Johannes sê dat die Koninkryk van die hemele naby gekom het, Johannes is die voorloper van Jesus, dus dit beteken dat in Jesus die Koninkryk van die hemele gekom het. Maar dan is dit baie opvallend: Jesus se boodskap is woordeliks dieselfde as Johanens die Doper s’n. In Matt. 4:17 sê Jesus immers: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Nee gemeente, ons sal fyner moet luister as ons die verskil wil raaksien tussen die prediking van Johannes en dié van Jesus.

Johannes se prediking gaan gepaard met die aankondiging van die sterker Een wat ná hom sal kom. Kyk maar na Matt. 3:11 waar Johannes sê: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” By Jesus val hierdie gepaardgaande aankondiging van ‘n persoon weg. Dus, Johannes het eintlik gesê: “Daar kom iemand, en daarmee nader ook die ryk van God. Maar nou is daar iemand wat sê: “Die ryk van God is naby.” En hierdie iemand, Jesus Christus, is self die sterkere! Met Hom het die ryk van God naby gekom! 

Maar nou bly daar steeds iets wat pla. Want die ‘naby’ kom maar net nie ‘aanwesig’ nie. Selfs later, in Matt. 10, wanneer die twaalf dissipels uitgestuur word, dan moet hulle steeds verkondig: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 10:7). En steeds word die leerlinge geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10). Maar… hoekom bly die Koninkryk slegs ‘naby’? Hoekom kom dit dan nie ‘by’ nie – aanwesig, teenwoordig?!

Gemeente, hier is dit geweldig belangrik om te sien wat Jesus bedoel wanneer Hy bly sê dat die Koninkryk ‘naby’ gekom het. Die nabyheid beteken nie dat die koms van die Koninkryk uitgestel word nie; dit beteken nie dat die ryk nog invloedloos en onbereikbaar is nie. Inteendeel: dit is nou reeds bereikbaar. Maar die Koninkryk van God (wat trouens dieselfde is as die Koninkryk van die hemele) is nie soos die koninkryke van hierdie wêreld nie. Die koninkryke van hierdie wêreld storm met geweld binne, dit oorweldig, dit forseer, dit maak stukkend. Kyk maar na die oorlog in Irak – hoe, sê maar, die koninkryk van die VSA daar binnegestorm het, geforseer het, afgebreek het. So is die Koninkryk van God nie… Nee, die Koninkryk wat uit die hemel kom het ‘n ander werkswyse: die Koning van hierdie Ryk nooi die burgers van die wêreld uit om deur geloof toegang tot hierdie Ryk te verkry. Wanneer Jesus sê dat die Koninkryk van die hemele naby gekom het, dan maak Hy die deur van hierdie Ryk oop, dan nooi Hy mense uit. En weet u wat: Hy is self die deur waardeur mense kan ingaan. Die Koninkryk van die hemele is so naby soos wat Jesus naby is… Wie in Hom glo, word burger en erfgenaam van hierdie Koninkryk. Wie nie in Hom glo nie, is al veroordeel en word uitgewerp in die vuur, in die buitenste duisternis, waar daar gekners van die tande is.  

Die Koninkryk van die hemele, die Koninkryk van God, kom dus naby in die persoon van die Here Jesus. En om daardie Koninkryk te kan ingaan, is dit nodig om in Hom te glo, aan sy persoon vas te klou. Nie slegs aan sy majesteit nie, nee, ook aan sy vernedering. Juis aan sy vernedering! Deur daardie vernedering aan die kruis en in die dood, word die toegang tot die Koninkryk vir die gelowiges ontsluit.

Dit is daarom opvallend om te sien dat die vermelding van die Koninkryk in die prediking en briewe van die apostels sterk afneem. In die plek daarvan kom baie sterker na vore die verkondiging van Christus, die verkondiging van die evangelie. En tereg, want Hy is immers die toegang tot die Koninkryk, deur die geloof in Hom gaan die poorte van die hemelryk vir ons oop!

Gemeente, dít is waaroor die Koninkryk van God gaan: dit gaan oor God se liefdevolle en genadige heerskappy oor elkeen wat hom deur die geloof in Jesus Christus daaraan onderwerp. God wil hê dat sy magsheerskappy, waarvoor alle skepsele willens en wetens moet buig, al hoe meer ‘n genadeheerskappy sal word, waarvoor ons vrywillig en uit dankbaarheid sal buig. En daarom bid ons: “Laat u Koninkryk kom.” Dit wil ek nou nog kortliks uitwerk aan die hand van Sondag 48 van die Kategismus.

Dus, wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, dan bid ons dat God se mags-heerskappy hoe langer hoe meer ‘n genade-heerskappy sal word, waaraan alles wat leef hulself gewillig sal onderwerp.

  1. Dit begin by onsself
  2. Dit kom tot uiting deur die kerk
  3. Dit bereik voltooiing by Christus se wederkoms

1. Broers en susters, die Kategismus begin in antwoord 123 baie persoonlik: “Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp.” Dus, hier is reeds sprake van ‘n mate van onderwerping. As gelowiges, as wedergeborenes, is ons reeds burgers van God se Koninkryk. Ons mag dít vir mekaar sê.

Maar dan moet ons ook nog meer sê. Ons moet ook vir mekaar sê dat ons nog nie volmaak is nie. In die woorde van Sondag 44: Selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin van die gehoorsaamheid aan God. En ons het dit ook met mekaar gelees in die nagmaalsformulier vandag: “Sonder twyfel is daar nog baie sondes en gebreke in ons hart en lewe: ons het nie ‘n volmaakte geloof nie; ons dien God nie met so ‘n ywer as wat ons verskuldig is nie; en ons moet daaglikse stry teen die swakheid van ons geloof en die sondige begeertes van ons vlees.”  

Dus, broers en susters, ook by óns wat reeds deel aan God se Ryk het, moet God se magsheerskappy steeds meer genadeheerskappy word. Ook ons moet Jesus Christus steeds meer en meer in die geloof omhels en aangryp. Ook by ons moet die onderwerping aan die Koning steeds meer gewillig en van harte gebeur. Daar is dus sprake van groei in ‘n gelowige se lewe – die woorde “hoe langer hoe meer…” wys dat dit hier gaan oor ‘n gestadigde toename, ‘n geleidelike proses. Maar dit is wel ‘n proses waarvan God die voortgang verseker deur sy “Woord en Gees”.

Die Kategismus het baie goed daaraan gedoen deur hierdie twee (Woord en Gees) naas mekaar te gebruik. Immers, beide Woord en Gees wys op Christus. Die Woord vertel van Christus, ja meer nog, Christus is die Woord wat vlees geword het. En die Gees werk deur die Woord om ons te laat deel in Christus en sy verdienste. Dus, beide Woord en Gees rig die aandag nie op hulleself nie, maar op Jesus Christus. En daardie aandag het ons nodig. Ons het steeds weer nodig om na Christus gedryf te word, om by die voet van die kruis te gaan kniel. Want dit is immers slegs deur geloof in hierdie Christus dat ons die Koninkryk mag beërwe. 

Broers en susters, wanneer ons dus bid: “Laat u Koninkryk kom”, dan bid ons allereers dat God se genade-heerskappy in ons lewens sal toeneem; dat ek my al hoe meer aan my Verlosser, Jesus Christus sal oorgee; dat ek Hom sal aangryp vir lewe en dood. Uiteindelik sal elke knie in elk geval moet buig en elke tong in elk geval moet bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. Maar laat dit nie so wees dat ons gedwing sal word nie, laat dit nie so wees dat ons deur die Koning op ons knieë geslaan sal word nie. Laat ons Hom aangryp en gewillig en van harte kniel en sy Naam bely!

Ons let vervolgens daarop dat hierdie genade-heerskappy tot uiting kom deur die kerk.  

2. Die vraag wat dikwels gevra word, is: wat is die verhouding tussen kerk en Koninkryk van God. Immers, elkeen wat glo is deel van God se Koninkryk, maar elkeen wat glo, is ook verplig om hom by die ware kerk te voeg. Is kerk en Koninkryk dan dieselfde? Nee, broers en susters, kerk en Koninkryk is nie dieselfde nie. Die Koninkryk gaan heelwat wyer as die kerk. Maar die kerk is wél die vergadering van dié wat hulself gewillig aan die Koningskap van Christus onderwerp, die kerk is wél die middel waardeur Christus ons in die Koninkryk van God wil laat deel (want dit is hier waar die Woord klink), die kerk is wel die instrument waardeur Christus sy Koningskap wil uitbrei!

En, gemeente, dit word so pragtig in Psalm 110 na vore gebring. Hierdie psalm van Dawid begin deur die Koningskap van Jesus Christus te bevestig. Die Here spreek Christus aan nadat Hy sy werk op aarde voltooi het, en nooi Hom uit om die oop plek aan sy regterhand te kom inneem. Christus verkry die sitplek van mag en heerskappy. Hy is die Koning! En dan is dit opvallend om in vers 2 te sien dat hierdie mag en heerskappy uit Sion ten toon gestel sal word. Dit is dus deur Sion, die kérk, dat die mag en heerskappy van Christus bekend word. Die kerk, wat te midde van ‘n vyandige wêreld lewe, het die taak om die mag en heerlikheid van haar Koning te laat blyk, ter wille van die versameling van alle uitverkorenes en ter wille van die onderdrukking van die bose.  

Dit is ons taak, broers en susters, om Christus se magtige septer uit te strek in hierdie vyandige wêreld (Psalm 110:2) – en dit beteken eenvoudig om die kragtige evangelie, die Koninkryks-boodskap, te laat hoor. Laat ons, as volk van die hemelse Koning, gewillig wees vir hierdie krygsdiens om in die wêreld getuies te wees van sy heerskappy. Laat ons wees soos die dou wat in die môre op die gras lê – soos Psalm 110:3 sê – : só talryk, só vars, só skoon, só rein… Laat hierdie gemeente soos die vroeë-môre dou wees in haar uitstraling na buite, laat ons ons Priester-Koning aan die vyandige wêreld voorhou. Hy sal ons bewaar van alle gevare, Hy sal ons laat vermeerder deur geboortes, deur die werk van sending en evangelisasie, Hy sal die werke van die duiwel en elke mag vernietig, Hy sal alle kwaadwillige planne wat teen die Woord bedink word, verydel. Christus is immers Priester en Koning deur ‘n eed van God. Sy amp ontvang Hy deur goddelike ordening, net soos Melgisedek destyds in die Ou Testament.

“Laat u Koninkryk kom” – dit beteken dus baie konkreet: maak ons gewillig en bekwaam om as gemeente van Pretoria-Maranata die evangelie van Jesus Christus uit te dra, op watter wyse dan ook.

Ons let ten slotte nog daarop dat hier genade-heerskappy voltooiing bereik by Christus se wederkoms.  

3. Dit is pragtig, die rustige geloofstaal van die Kategismus in die laaste sinnetjie: “… totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.” Daar kom dus ‘n tyd dat daar slegs een koninkryk sal wees, die Koninkryk van God, die Koninkryk van die hemele. En laat ons goed besef, gemeente, dat, alhoewel ons in die vorige punt opgeroep is om krygsdiens te verrig, die uiteindelike oorwinning deur Christus alleen behaal word. Hy sal die konings verbrysel op die dag van sy toorn, Hy sal strafgerig hou onder die nasies, alle rebelse magte vernietig. Dit sal wees soos wat ons gelees het in Openbaring 19. Alle vlees wat nie voor die Koning wil buig nie, sal aan die voëls van die hemel gegee word om te eet. Selfs die groot wêreldmagte sal nie teen ons Koning kan standhou nie: “Hy verbrysel ‘n hoof oor ‘n groot land.”  

So haastig sal Hy wees om die oorwinning te behaal dat daar nie eens tyd sal wees om rustig verversings te geniet nie: “Uit die stroom sal Hy drink op die pad…” Ja, en ons Koning sal sy hoof ophef as teken van sy oorwinning. En saam met Hom sal al sy volgelinge opgehef word. Met sy vorige koms op die aarde was dit anders – toe het Hy ‘n swaar las gehad, toe was Hy ‘n man van smarte, verag en deur die mense verlaat. Maar by sy tweede koms sal die oorwinning maklik en seker wees. Dan is die skare volgelinge ontelbaar, dan is die vreugde onkeerbaar. Die bede “Laat u Koninkryk kom” sal dan stil word, want dan het sy Koninkryk gekom, dan is sy genade-heerskappy vervolmaak, tot ewige vreugde en volle vrede vir elkeen wat vandag reeds buig, maar tot tandekners en trane vir elkeen wat Hom teenstaan. Dan sal Christus saam met ons die wyn drink in die Koninkryk van sy Vader. Laat ons daarom bly wees, ons vreugde wys en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam kom.

Amen 
 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 99:1-3
Kort gebed om seën oor die erediens
Nagmaalsformulier en -viering
Sing by tafel: Ps. 116:7 en 10
Voltooi formulier en gebed
Lees: Psalm 110, Openbaring 19:17-21
Sing Ps. 97:1, 5 en 7
Teks: HK, Sondag 48
Preek
Amenlied Ps. 110:2, 3 en 5
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 32:1-3
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  
 
 
 

Liturgie: 

(kyk in preek)