Die ware selfondersoek

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-05-14
Teks: 
Psalm 119:57-64
Preek Inhoud: 

Psalm 119:57-64

Ds HH van Alten - Sondag 14 Mei 2006 - Nagmaal

Lees: Ps. 119:57-64
Sing: Sien liturgie

Tema: die ware selfondersoek

  1. Die groot gevaar om dit in jouself te soek
  2. Die ware berou wanneer dit in die lig van die wet gedoen word
  3. Die opregte vreugde wanneer dit in Christus beleef word

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In ons kerke, en ook in ons gemeente, ken ons die gebruik van ‘n geslote nagmaalstafel, of miskien beter: ‘n beperkte nagmaalstafel.

Enige iemand wat met ‘n attestaat vanaf ‘n susterkerk in die binne- of buiteland kom, word deur ons aan die tafel van die Here verwelkom – ons aanvaar die attestaat van so ‘n persoon op die basis van vertroue wat ons in mekaar het as susterkerke, kerke wat mekaar gevind het in die een geloof.

Dan is daar ook gevalle van mense wat nie lid is van ‘n susterkerk nie, maar wat tog vir ‘n periode in ons midde verkeer en die wens uitspreek om saam met ons die nagmaal te vier. In sulke gevalle is daar ook ruimte om so iemand toe te laat tot die nagmaal. Dit geskied dan op grond van ‘n getuienis dat die kerk waarvan hy/sy lid is, ‘n troue kerk van Christus is wat die gereformeerde belydenisskrifte onderhou, asook op grond van ‘n gesprek waarin die kerkraad (of ‘n afvaardiging van die kerkraad) homself daarvan vergewis het dat ons hier te make het met iemand wat in leer en lewe werklik die Here wil dien. 

Maar dit is waar dit stop. Nie elkeen word deur ons aan die nagmaalstafel verwelkom nie. Die man oorkant die straat kan nie sommer op ‘n sondagoggend besluit dat hy saam met ons nagmaal wil vier nie. Hoekom nie? Omdat die tafel van die Here heilig is en slegs bedoel is vir dié wat in die bloed van Jesus Christus gereinig is – dus, vir die gelowiges. Maar wie sê dat daardie man nie ‘n gelowige is nie? Miskien is hy, en laat ons erken wat Paulus sê in 2 Tim. 2:19: “die Here ken die wat syne is…”. Maar die kerk… en die kerkraad…? Ons kan helaas nie in die harte lees nie, en daarom kan ons slegs beoordeel op grond van die uiterlike, dit wat ‘n persoon bely en die manier waarop hy lewe.

En, gemeente, dit geld ook vir ons eie lidmate… Wanneer u ouderling besoek kom aflê, dan doen hy dit om vas te stel of u ‘n kind van God is, of u dit kan bely, en of u dit uitleef. En wanneer die teendeel blyk, dan kan daar ‘n stadium kom waarop die kerkraad iemand adviseer om nie aan die nagmaal te gaan nie. Maar ook ten opsigte van elkeen van ons geld dat die kerkraad nie in ons harte kan lees nie. Die kerkraad kan nie altyd beoordeel of u belydenis en lewenswandel eg is, of dat dit maar skyn is nie. En daarom die oproep in ons nagmaalsformulier om ook onsself te ondersoek. Ja, die kerkraad het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van elke lidmaat, en elkeen van ons het ‘n verant-woordelikheid ten opsigte van mekaar, maar daar is ‘n grens aan daardie verant-woordelikheid. Elkeen van ons het daarom ook ‘n eie, persoonlike verantwoordelikheid om onsself te ondersoek of ons nie dalk besig is om ‘n oordeel oor onsself te eet en te drink nie.

Maar hoe doen ons dit: selfondersoek?

Tema: die ware selfondersoek

  1. Die groot gevaar om dit in jouself te soek
  2. Die ware berou wanneer dit in die lig van die wet gedoen word
  3. Die opregte vreugde wanneer dit in Christus beleef word

1. Selfondersoek – dit is altyd so ‘n moeilike ding om te doen. Elke nagmaalsviering word ons weer gekonfronteer met hierdie stuk in die formulier: Ten eerste moet elkeen nadink oor sy sondes en vervloeking, ten tweede moet elkeen homself ondersoek of hy die belofte glo dat sy sondes slegs op grond van die lyding en dood van Christus vergewe is, en ten derde moet elkeen homself ondersoek of hy van voorneme is om ‘n lewe van ware dankbaarheid te lei.

En dan gaan ons maar weer… Dan gaan haal ons maar weer die sleutel om die kas vol geraamtes oop te sluit; dan klim ons maar weer met die leertjie af tot in die binneste dele van ons hart om weer onder die indruk te kom van hoe swart en vuil dit daar binne is; dan kyk ons vinnig om ons heen in die kerk in die hoop dat niemand sien hoe skaam ek eintlik kry vir my sondige gedagtes, woorde en dade nie. En dán ontstaan die vrae: behoort ek ooit tot die verbond? Mag ek met al hierdie sondes ooit aan die nagmaal gaan? Is ek ooit ‘n kind van God? 

Gemeente, die groot gevaar van so ‘n vorm van selfondersoek is dat dit losgemaak word van Jesus Christus, losgemaak word van die Woord en wet van die Here. Met so ‘n vorm van selfondersoek word die mens na homself verwys: Eers ek… eers moet ek hier in myself die bewyse gaan vind dat ek wel ‘n kind van God is, voordat ek die vraag kan beantwoord of die brood en wyn ook vir my is. Ek word my eie maatstaf om te bepaal of die verlossing, die heil in Christus, vir my bedoel is, of nie… En dan gaan staan elkeen van ons, vir hierdie deel van die formulier, in ons eie hoekie om te ondersoek: is ek oraait of nie?

En die uitkoms van so ‘n vorm van selfondersoek kan een van twee wees: vir die hoogmoediges onder ons lei dit tot oorgerustheid en self-tevredenheid, want hy is van mening dat dit daar binne-in hom glad nie sleg gaan nie; en vir die onsekeres onder ons lei dit tot vrees en groot twyfel, want hy sien al sy sondes en dan wonder hy: is die verlossing vir my bedoel? 

Gemeente, laat ons waak teen so ‘n vorm van selfondersoek, wat eintlik niks anders is nie as religieuse sielkunde. Laat ons daarvoor waak om ter wille van die selfondersoek in onsself te keer. Vir die hoogmoedige, wat baie tevrede oor homself is, bring dit nie by Christus nie, want hy ag dit nie nodig. En vir die onsekere bring dit ook nie by Christus nie, want hy ag homself onwaardig om dit naby Christus te waag. Geen van beide kom op so ‘n manier by die Verlosser uit nie. Nee gemeente, die bybel wys ons ‘n ander weg. Daarop let ons in die tweede punt: die ware berou wanneer dit in die wet ontdek word.  

2. In dié strofe van Psalm 119 wat ons gelees, verse 57-64, begin die digter met ‘n uitroep. Ons vertaling sê dit effens neutraal: “Die HERE is my deel…”, maar eintlik roep die digter uit: “My deel, o HERE!” Die digter staan in verwondering wanneer hy sien dat die groot en heerlike God heeltemal sy eie is; hy verheug homself wanneer hy sy deel van die buit aangryp – hy kies die Here as sy deel van die skat.

Natuurlik, niemand kan uit homself die Here kies, as die Here hom nie eers gekies en vernuwe het nie. En daarom kan ons aanvaar dat dit hier ook geïmpliseer word. Maar in antwoord op die Here se verkiesende genade, wil die digter nou ook die Here kies as sy deel, hy wil die Here se woorde van lewe bewaar.

En gemeente, dit is in die lig van hierdie liefde van God, in die lig van God se woord, dat die digter nou gaan om sy lewe te ondersoek. Hy sê in vers 59: “Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.” Die digter gaan doen selfondersoek in die lig van God se getuienisse, sy wet. God se wet is die bron van ons selfondersoek! Die digter sê nie: “Here, u moet net so bietjie wag tot ek seker is ek is werd om aan U te behoort, en dan sal ek kom” nie. Nee, “U is my deel!”, en dit is slegs binne daardie verhouding waarin God ‘n sondige mens uitkies, en die sondige mens die genadige God aangryp, dat die digter werklik kan ontdek wie hyself is.  

En daardie selfontdekking in die lig van God se wet is pynlik, dit maak seer om in die spieël van die wet te moet erken: “Sjoe, dit is wie ek is…” En die digter van Psalm 119 sien dit ook, dit maak hom ook seer, hy het berou, maar dan gooi hy nie geïrriteerd die wet weg nie. Nee, selfs wanneer die digter deur vyande omring word, selfs wanneer hy in lewensgevaar is, dan nog gee hy nie skiet nie – “u wet het ek nie vergeet nie” (vers 61). Meer nog: “Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge” (vers 62) – die digter offer selfs sy slaap op om die Here te loof vir sy goeie wet; daardie wet wat elke mens se ware aard na vore bring. 

En daarom, gemeente, haal ons nie die wetslesing uit ons eredienste weg, omdat dit mense depressief maak om voortdurend aan die sonde herinner te word, soos wat deesdae op sommige plekke bepleit word nie. Nee, ons lees die wet, ons laat die Here toe om met sy ontleedmes diep in ons te kom sny, ons laat toe dat hierdie wet ons in berou na die Here toe dryf. Want gemeente, dieselfde God wat hierdie verdoemende wet aan ons voorhou, is die God wat in Christus al ons skuld wil wegneem. En dít is die doel van die selfondersoek, nie dat ons eers ons eie huis in orde kry voordat ons na God toe gaan nie, maar dat ons in ons ellendige toestand na God toe vlug, onsself in sy arms werp.

Klink dit teenstrydig? God se wet verdoem ons tot die ewige dood, en dan tog na dáárdie God toe vlug? Waarheen anders? Waar anders kry u ‘n God wat én eerlik is oor u toestand, én in dieselde asem die oplossing vir daardie toestand gee?

Daarop let ons ten slotte: die opregte vreugde wanneer die selfondersoek in Christus beleef word. 

3. Die digter van Psalm 119 het sy lewe in die lig van God se wet geplaas en gesien hoe sondig hy is. Maar dan beroep hy homself ook onmiddellik op daardie God: “Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte” (vers 58). Die digter smeek om die goedertierenheid van die Here, daardie goedertierenheid waarvan die aarde vol is, volgens vers 64. Ja, die digter beroep hom op God se belofte van genade; hy twyfel nie aan daardie belofte nie.  

En ons? Glo jy die vaste belofte van God dat al jou sondes jou alleen op grond van die lyding en dood van Jesus Christus vergewe is en dat die geregtigheid van Christus jou so volkome toegereken en geskenk is, asof jy in eie persoon vir al jou sondes betaal en alle geregtigheid volbring het? Gemeente, die ware selfondersoek dryf ons telkens weer na daardie Christus.

Die ware selfondersoek laat net een konklusie toe: ek is ‘n sondaar; die ware selfondersoek gee net een uitweg: Jesus Christus, die kruis op Golgota, sy liggaam en bloed, die brood en die wyn. Dit is die evangelie, dit is die vreugdevolle boodskap.

En daarom is die nagmaal ook ‘n vreugdemaaltyd, ‘n maaltyd van groot blydskap: “O Here, die aarde is vol van u goedertierenheid.” ‘n Maaltyd wat stem tot groot dankbaarheid. En wanneer die digter die genade van die Here beleef het, dan haas hy homself ook om sy gebooie te onderhou (vers 60), hy smeek selfs in vers 64: “… leer my u insettinge.” Die wet wat hom skuldig voor God gestel het, word die digter se verlustiging omdat Hy die lewe as geskenk van God ontvang het.  

Gemeente, in die nagmaal getuig elkeen van ons dat ons slegs een vlugroete ken: die kruis van Christus. En wie by daardie kruis gaan skuil, besef dat hierdie vlugroete ‘n veilige uitkoms bied. Ons ontkom deur die bloed van Christus aan die doodsheid wat ons in onsself ontdek het, ons word gewek tot vreugde, tot dankbaarheid, tot ‘n nuwe lewe, elke dag. En daarom doen ons nie slegs selfondersoek wanneer ons op Sondagoggend agterkom dat ons vandag nagmaal vier nie. Nee, elke dag, elke konfrontasie met God se Woord, dwing ons om ons lewens te ondersoek en na die kruis van Christus te vlug. Elke dag smeek ons weer: “Wees my, arme sondaar, genadig”. En elke dag belowe God weer: “My genade is vir jou genoeg!” 

Amen.

Liturgie (oggend)

  • Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
  • Sing Ps. 76:1-3
  • Wetslesing
  • Sing Ps. 76:4-6
  • Gebed
  • Nagmaalsformulier: Ons het vorige keer al daarop gelet dat ons nagmaalsformulier in verskillende onderafdelings verdeel is. Toe het ons spesifiek stilgestaan by die eerste deel, die instelling. Vandag wil ons stilstaan by die deel daarna, naamlik die selfbeproewing. Kom ons begin eers lees aan die formulier.
  • Lees: Psalm 119:57-64
  • Preek
  • Sing Ps. 119:19-20
  • Lees res van die formulier.
  • Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 32:1
  • Viering van die nagmaal
    • Eerste tafel – Ps. 32:2-3
    • Tweede tafel – Ps. 32:4
    • Derde tafel – Ps. 32:5-6
  • Voltooi formulier & dankgebed
  • Kollekte
  • Slotsang Skr. 34:2 & 3
  • Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
Liturgie: 

(kyk in preek)