Handelinge 2:17-21
Ds HH van Alten - Sondag 4 Junie 2006 - Pinkster
Lees: Joël 2; Hand. 2:18-32; Hand. 2:17-21
Sing: Sien liturgie
Tema: Die laaste dae bring ‘n stortvloed van God se genade en oordeel.
Ons kyk na:
- Die stortvloed van God se genade
- Die stortvloed van God se oordeel;
En dan sluit ons af met die vraag:
- Onder watter stortvloed wil jy staan?
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Stel u self voor dat, by verlede week se basaar, skielik die geluid van ‘n ontsaglike rukwind die omgewing gevul het. Die bome beweeg nie, die blare is stil, maar daar is tog die geluid van ‘n orkaansterkte stormwind. En dan kom daar uit die hemel ‘n groot vuurvlam, en daardie vlam verdeel in kleiner vlammetjies, en op elkeen van ons wat by die basaar was, kom sit daar so ‘n vuurvlammetjie. En dan begin elkeen van ons skielik ook in ander tale praat, die een in afrikaans, die ander in engels, nog ‘n ander in sotho, en ‘n vierde in nederlands. Stel u verder voor watter reaksie dit by die mense van die omgewing sou ontlok – hulle hoor die geluid van die stormwind, hulle storm by hulle huise uit, sien dat die bome en blare roerloos is, kyk dan na die ander kant van die straat, en sien hierdie klomp basaar-gangers met liggies bo hulle koppe, besig om in allerhande tale te praat. Is dit onmoontlik dat sommige van hulle miskien sou sê: “Die VGK het ‘n bietjie te veel bier op sy basaar verkoop”? Die reaksie is miskien nie tereg nie, maar sekerlik ook nie totaal onverwags nie. Net so min as wat die reaksie van die Jode in Jerusalem onverwags was: “Hulle is vol soetwyn.”
Maar Petrus, in sy toespraak, skryf hierdie toneel toe aan ‘n ander oorsaak. Hier is ander kragte werksaam as wyn. Wat die omstanders hier sien is nie dronkenskap nie, maar die vervulling van die profesie. Ja, die profesie van Joël gaan hier in vervulling. En dan haal Petrus byna woordeliks die profesie van Joël 2:28-32 aan. Maar dit is nie meer ‘n profesie nie, want die profesie het werklikheid geword. En daarom dat Petrus die bewoording van Joël 2:28 ook effens verander. Joël 2:28 begin met: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet…”; Petrus verander dit na: “En in die laaste dae sal Ek van my Gees uitstort…”
“Die laaste dae” – na watter tyd verwys dit? Dikwels wanneer ons hierdie woorde hoor, verstaan ons daaronder die tyd net voor Christus se wederkoms, daardie onwerklike fase van die geskiedenis wat êrens in die verre toekoms lê. Maar is dit so? Is die laaste dae werklik so ver van ons af? Kan ons die laaste dae so maklik afmaak as iets vir die generasies van die toekoms? Gemeente, die Skrif praat anders oor die laaste dae. Hand. 2:17 wys dit al: “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort…” Maar… die uitstorting van die Gees – dit is dan wat sopas daar in Jerusalem gebeur het!? Beteken dit dat die laaste dae toe al daar was? Inderdaad! Petrus het alreeds in die laaste dae geleef; ons leef nog steeds in die laaste dae. Gemeente, in die Skrif is die laaste dae die hele periode tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms. Hierdie hele periode, wat nou al strek oor omtrent 2000 jaar, is die laaste fase van die geskiedenis voordat Christus terugkom op die wolke. Hy het met sy lewe, sterwe en opstanding reeds in beginsel alle dinge herstel, en nou wag ons nog net op die finale voltooiing. En ja, dan klink dit seker effens vreemd om die term “laaste dae” te gebruik vir ‘n periode wat nou al 2000 jaar duur, maar broers en susters, dit gaan hier nie oor die lengte van die periode tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms nie, want dan sou die term onvanpas gewees het. Nee, dit gaan oor die aard van hierdie periode – ons leef in die tyd van die laaste dinge; die werk is gedoen, dit is volbring. Binne God se heilsplan is dit nog net die voltooiing wat moet kom.
Gemeente, kom ons leer op hierdie Pinksterdag van die laaste dae, wanneer ek aan u die Woord van die Here verkondig onder die volgende tema:
Tema: Die laaste dae bring ‘n stortvloed van God se genade en oordeel.
Ons kyk na:
- Die stortvloed van God se genade
- Die stortvloed van God se oordeel;
En dan sluit ons af met die vraag:
- Onder watter stortvloed wil jy staan?
1. “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort…” – altyd weer roep hierdie woorde vrae op. Was Pinkster dan die eerste keer dat God se Gees op mense gekom het? Was die Gees nie reeds in die Ou Testament aanwesig nie? Nee gemeente, ons lees immers verskeie male van God se Gees in die Ou Testament. Ons lees in Numeri 11 dat die Gees op Moses was, en dat die Here van daardie Gees geneem het en dit op die sewentig oudstes geplaas het wat hom moes bystaan, onder andere ook op Josua wat ná Moses die leierskap sou oorneem. Verder lees ons van die Gees by verskeie rigters: Otniël, Gideon, Jefta en Simson. Ons lees dat die Gees op Saul en later op Dawid gekom het. Ons lees ook van die gees van Elia wat op Elisa gerus het, en dan blyk dit uit die konteks dat dit daar oor die Gees van God gaan.
Dus gemeente, die Gees was in die Ou Testament ook alreeds aanwesig. Maar as ons kyk na dié mense op wie die Gees gerus het, dan moet ons konstateer dat dit spesifiek mense was wat ‘n amptelike posisie in Israel vervul het – die leiers (soos Moses, sommige van die rigters en enkele konings), die profete (soos Elia en Elisa), en waarskynlik ook die priesters. Die mense wat dus in die Ou Testament spesifieke ampte beklee het, hulle ontvang die Heilige Gees.
Maar Joël vertel van ‘n verandering in hierdie situasie; Joël sien uit na ‘n tyd van oorvloed, wanneer die Here die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, op sy volk sal laat neerdaal (vers 23). Net soos reën vir ‘n dorstige land is, so is die Gees vir ‘n dorstige siel en ‘n dorstige volk. Die Here belowe in Joël 2 dat die tyd sal kom dat Hy sy Gees sal uitgiet. En gemeente, dit is iets anders as wat ons in die Ou Testament teëkom – in die Ou Testament vind ons hier een op wie die Gees geplaas word, en daar een op wie die Gees geplaas word, altyd sporadies, plek-plek…
Maar die profeet skilder iets oordadigs, rojaal, uitbundig, amper spandabelrig… Die motreëntjie van die Ou Testament beloof om ‘n stortbui te word, die druppels uit die kraan van die Ou Testament beloof om ‘n donderende waterval te word. Die Here belowe om die sluise oop te draai, en sy Gees onbeperk uit te giet. En, broers sn susters, dit wat Joël profeteer, word bevestig deur ander profete in die Ou Testament. Jesaja profeteer in hoofstuk 44:3: “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.” En in Esegiël 39:29 lees ons: “En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Israel uitgegiet het, spreek die Here HERE.” En dieselfde vind ons in Sagaria 12:10: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge…” Die hele Ou Testament smag saam na daardie tyd dat die kinders van God nie meer van die druppeltjies hoef te leef nie, maar waar almal eenvoudig onder die stortvloed van God se genade mag staan.
En gemeente, dit is nou presies wat ons in vervulling sien gaan op die Pinksterdag. Hier sien ons duidelik dat die Gees nie beperk word tot sekere persone nie, maar dat al God se kinders in hierdie stortvloed mag deel. Die geluid van die rukwind het immers die hele huis gevul, die tonge van vuur het op elkeen gaan sit, hulle is almal vervul met die Heilige Gees, en hulle het almal begin spreek in ander tale. Ja, God was hier besig om sy Gees uit te stort op alle vlees. En “alle vlees” verwys dan in die eerste plek na die 120 gelowiges wat hier bymekaar was – hulle verteenwoordig die hele Israel, die volledige volk van God. En van hierdie gelowiges is niemand uitgesonder nie – seuns en dogters, jongelinge en ou mense; al God se diensknegte en diensmaagde mag deel in die rykdom van sy genade, in die stortvloed van sy Gees. Dit wat in die Ou Testament slegs in beperkte mate beskikbaar was, kom hier in oorvloed tot die volk van God.
Maar voordat ons nou te begeesterd raak, laat ons eers onsself afvra: hoekom juis nou? Hoekom kom die Gees juis op hierdie tydstip? Wat het gemaak dat die druppeltjies juis op hierdie punt in die geskiedenis ‘n stortvloed geword het? Gemeente, dit is so belangrik om te sien wat dit was wat gemaak het dat God juis nou die sluise van die hemel oopgemaak het. God maak die sluise van die hemel oop omdat die see van sy genade juis in hierdie tyd as’t ware vol geloop het. U moet onthou – skaars tien dae gelede het Jesus na die hemel opgevaar, skaars tien dae gelede het ons Verlosser al sy werk wat Hy op aarde gedoen het, alles wat hy verdien het, al die skatte van vergifnis, redding en nuwe lewe, voor die Vader gebring, het Hy sy plek op die troon gaan inneem omdat Hy alle owerhede en magte en kragte aan Hom onderwerp het. En dáárom kon die sluise oopgaan – omdat die see vól was!
Gedurende die hele Ou Testament was daar die verwagting na die Messias, het die gelowiges vanuit die verte uitgesien na die Verlosser. Bokke en skape en duiwe is geslag – nie omdat dié stomme diere die sonde kon wegneem nie, maar as heenwysing na Christus wat sou kom. Priesters het diens gedoen in die tempel – nie omdat dié arme manne se diens enigsins versoening kon bewerk nie, maar as heenwysing na Christus wat sou kom. Die volk het die volledige Mosaiese wetgewing gekry – nie omdat hierdie wette die volk voor God kon regverdig nie, maar as tugmeester na Christus toe! Al die Ou Testamentiese seremonies en gebruike was nie die ware Jakob nie, maar het as heenwysing en herinnering gedien aan die werklike Verlosser, die Here Jesus Christus.
En toe Hy gekom het, gemeente, toe het Hy alles volbring wat hierdie seremonies en gebruike afgebeeld het. Toe het Hy met sy lyding en sterwe die sondes kom wegneem, toe het Hy met sy opstanding die dood oorwin en die verhouding met God herstel, toe het Hy met sy hemelvaart die heerskappy oor die duiwel bevestig. En daarom, toe sy werk afgehandel was, en Hy dit alles aan die Vader gaan aanbied het, toe sê die Vader: “Nou is die tyd ryp, nou kan die sluise van die hemel oopgaan, nou kan my genade met ‘n stortvloed op al my kinders val!”
En daarom, gemeente, Pinksterfees is nie die fees van die Heilige Gees nie. Pinksterfees is die fees van die Gees wat die stroom van Christus se verdienste ons s’n kom maak. Pinksterfees is die fees van die Gees wat op ons val met die stroom van genade wat Christus vir ons verdien het. Christus het die see van genade vol gemaak, die Gees kom stort dit oor ons uit, sodat ons ook mag drink van die water van die lewe. In die laaste dae is die Gees nie slegs meer bedoel vir enkeles nie, nie slegs vir die profete en die priesters en die konings onder ons nie; nee, in die laaste dae is die Gees bedoel vir elkeen wat die uit die see van genade wil drink, vir elkeen wat deur Christus se bloed profeet, priester en koning is!
Gemeente, ons leef in die laaste dae, ‘n tyd van oorvloed, ‘n tyd waarin genade op genade ons deel mag wees: vergifnis van sondes, herstel van die verhouding met God, nuwe lewe, ewige lewe… En dit hou nie op nie! Immers, die bron wat God se see van genade voed, raak nie leeg nie, Christus se verdienste hardloop nie uit voorraad uit nie. Nee, die stortvloed van God se genade bly vloei tot op die dag van die wederkoms. En daarom hoef ons nie te bid vir ‘n herhaling van Pinksterfees nie, ons hou nie pinksterbidure waarin ons vra dat die Gees wéér uitgestort moet word nie. Nee, die stroom vloei immers onophoudelik, die sluise bly oop! U mag dit beleef, elke keer wanneer u die bybel oopmaak en in geloof daaruit lees; seuns en dogters, elke keer wanneer meneer of juffrou bybelles gee, dan plaas hulle julle onder die waterval van God se genade. Elke keer wanneer die Woord van die Here hier in die erediens verkondig word, dan stort God se genade op u neer. Neem dit op, drink dit in, word vol van God se genade.
En dan sal u sien – elkeen wat so uit God se genade wil drink en vol word, word dan self ‘n fontein waaruit die water opborrel en uitstroom, dan sal elke dienskneg en diensmaagd van die Here profeteer van God se genade, dan word die kerkraad se vraag: “moet ons weer ‘n Evangelisasie Kommissie aanstel of nie”, daardie vraag word dan irrelevant. Want dan sal elke gelowige, vervul van die Gees, getuies wees van God se groot dade. Dan sal Moses se versugting in Numeri 11:29 uitkom: “Ag, as die héle volk van die HERE maar profete was, dat Hy sy Gees oor hulle mag gee!”
[Kom ons sing nou van God se stortvloed van genade uit Ps. 67, al drie die verse]
Ons let nou vervolgens op die stortvloed van God se oordeel.
2. Joël begin sy profesie in hoofstuk 1 met die aankondiging van ‘n onvoorstelbare sprinkaanplaag. Dit sou ‘n plaag wees van so ‘n omvang, dat die Here tereg vra: “Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind?” (1:2) Die kerkvader Augustinus vertel ons van die vernietiging wat so ‘n sprinkaanplaag kan aanrig. Hy skryf: “Toe Afrika ‘n Romeinse provinsie was, is dit aangeval deur ‘n groot getal sprinkane. Nadat hulle alles geëet het, blare en vrugte, het ‘n groot swerm in die see verdrink. Toe hulle dood op die kus uitgespoel is, het die verrotting van hierdie insekte die lug so geïnfekteer dat dit ‘n pes veroorsaak het wat so erg was dat slegs in die koninkryk van Masinissa 800,000 of meer gesterf het. En van die 30,000 soldate het slegs 10,000 oorgebly.” Die sprinkaanplaag op die skaal wat Joël dit voorspel het, moes vir die volk ‘n nagmerrie gewees het. Dit was die Here se oordeel oor die afval en ongehoorsaamheid van sy volk.
En tog, broers en susters, as die Here in Joël 2:30-31 ‘n beskrywing gee van die laaste dae, dan blyk dit dat sy oordeel dan nog omvangryker, nog intenser, sal wees. Joël praat van wondertekens aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. Petrus gee ook hierdie aankondiging byna woordeliks weer tydens sy toespraak op die Pinksterdag.
Maar wat sou bedoel word met hierdie wonders en tekens? Weer is die verleiding groot om dit te verskuif na die verre toekoms, na daardie tyd wanneer ons waarskynlik nie meer hier op aarde sal wees nie.
Wat Petrus met hierdie wonders en tekens bedoel, word duidelik uit Jesus se rede oor die laaste dinge, soos ons dit vind in Lukas se evangelie, hoofstuk 21. Die tekens op die aarde is die botsings tussen volke en koninkryke (21:10), aardbewings, hongersnood, epidemies (21:11), en vervolging (21:12). Hierdie tekens sal gedurende die hele periode van die laaste dae voorkom.
Maar daar sal ook verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom. Voordat die Seun van die mens kom, dus voordat Christus terugkeer op die wolke, sal daar tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde sal daar benoudheid van nasies wees in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemel sal geskud word (21:25-26). Die drie ure duisternis tydens Jesus se kruisiging was al een so ‘n teken.
U sien dus dat ons die tekens en wonders waarvan Petrus praat nie na die verre toekoms kan verplaas nie. Hierdie wondertekens is deel van die laaste dae, die tyd waarin Petrus al geleef het, die tyd waarin ons leef. En ons sien dit, ons hoor daarvan, ons beleef dit. Ons weet van oorloë, mense wat sterf in bomaanvalle, jong kinders wat moet veg vir ‘n goedkoop vryheid. Ons weet van aardbewings, skaars 7 dae gelede in Java – duisende mense dood. Ons weet van hongersnood – as u dit nog nie op die televisie gesien het nie, kyk dan om u heen – die honger mense in ons eie omgewing. Ons weet van epidemies – as u nog nie die impak van VIGS gesien het nie, gaan besoek ‘n slag die tehuise waar van ons eie lidmate en lidmate van ons susterkerke hul kragte inspan. Ons lees van die vervolging van God se kinders in lande soos Noord-Korea, Viëtnam en China.
Sien u, gemeente, soos wat die laaste dae ‘n stortvloed van God se genade bring, so bring dit ook ‘n stortvloed van God se oordeel.
Maar, broers en susters, ons wil hier dieselfde vraag stel as in die eerste punt: hoekom spesifiek nou? Waarom gee God hierdie stortvloed van oordeel spesifiek in die laaste dae? Wat was daar in die laaste dae wat tot hierdie stortvloed van oordeel aanleiding gegee het? En dan moet ons by dieselfde antwoord uitkom as waarby ons in die eerste punt uitgekom het: Jesus Christus! Jesus Christus het gekom, en die see van God se genade het vol geloop. Maar wanneer die see vol is, dan raak die trefkrag van die golwe soveel groter wanneer ons nie uit daardie see wil drink nie. Wie nie onder die stortvloed van God se genade wil gaan staan, om daardeur gered te word nie, staan onder die stortvloed van God se oordeel. Gemeente, wanneer die genade soveel meer word, dan word ook die oordeel meer vir dié wat nie glo nie. God raak so verskriklik kwaad as Hy aan ons die lewe aanbied – Jesus Christus, ons Verlosser – en ons dit in hoogmoed afwys. Dan staan ons onder sy oordeel, sy ewige oordeel, maar óók reeds sy oordeel hier op aarde.
En gemeente, dit beteken nie dat al hierdie dinge – aardbewings, oorloë, epidemies, hongersnood – dat dit die gelowige nie kan tref nie. Nee, dit kan! En dit doen ook! Maar, vir die gelowige is dit geen oordeel nie, vir die gelowige is dit nie die toorn van God oor sy lewe nie. Vir die gelowige is dit die bewys: Christus is oppad! En daarom dat Christus, nadat Hy in Lukas 21 die stortvloed van God se oordeel aan sy dissipels voorgehou het, hulle aanmoedig: “… as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28). Aan al hierdie tekens kan die gelowige sien: Christus se wederkoms is op hande, God se Koninkryk is naby, die nuwe hemel en aarde is oppad!
[Kom ons sing nou van die stortvloed van God se oordeel uit Psalm 18:5, 7 en 8]
Ten slotte wil ons nog die vraag stel: onder watter stortvloed wil jy staan?
3. Gemeente, uit die voorafgaande het duidelik geblyk dat Pinksterfees ‘n stortvloed bring van sowel God se genade as sy oordeel. En die vraag nou tot elkeen van ons op hierdie Pinksterdag: onder watter stortvloed wil jy staan? Wil jy staan onder die stortvloed wat lewe en vrede bring? Of wil jy staan onder die stortvloed wat geween en gekners van die tande bring?
En gemeente, dit is dan ook die rede waarom Petrus nog ‘n laaste deeltjie van Joël se profesie aanhaal: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Dit is ‘n oproep, ‘n dringende oproep aan sy luisteraars daar in Jerusalem: soek die Here! Maar wie is hierdie Here? En dan gaan Petrus verder om in die vervolg van sy toespraak aan sy luisteraars die evangelie van Jesus Christus te verkondig – ons het dit gelees, Handelinge 2 vanaf vers 22 tot die einde. Jesus Christus, Hy is die een wat deur God bestem is om mens te word, Hy is dit wat deur die leiers van die volk gekruisig en omgebring is, Hy is dit wat deur God uit die dood opgewek is, Hy is dit oor wie die dood geen mag gehad het nie, maar wat die dood oorwin het en nou op die ewige troon van Dawid sit. Roep Hom aan!
Sien u, broers en susters, die keuse lê by hierdie Jesus. By Hom val die beslissing. Die vraag is nie of ek meer van die Gees wil hê nie… Die vraag is nie hoe ons ‘n meer begeesterde gemeente kan word nie. Die vraag is: glo ek in Jesus Christus as my Verlosser, my Redder. Glo ek dat Hy aan die kruis gesterf het, dat Hy opgestaan het, dat Hy vandag aan die regterhand van die Vader regeer. Glo u dit? Glo jy dit? Dán staan jy onder die stortvloed van die Gees, dan stroom God se genade oor jou heen! So sê Petrus dit ook vir sy luisteraars nadat hulle, diep onder die indruk van sy toespraak, aan hom vra: “Wat moet ons doen, broeders?” Dan antwoord Petrus: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van die sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Glo daarom in Jesus Christus, liewe broer en suster, en dan hét u die Heilige Gees as gawe. Dan staan u onder God se genadige stortvloed, ‘n stortvloed wat vernuwing werk in ons hele lewe, ‘n stortvloed wat ons huwelike en gesinne vernuwe, wat gebroke verhoudings genees, wat elke aspek van my lewe in ‘n ander lig plaas, ‘n nuwe lig.
En as u sukkel, as jy soms twyfel, as die sorge van die lewe die geloof onderdruk, as die stortvloed in jou lewe miskien ‘n piepklein straaltjie geword het, vlug dan in gebed na Christus. En weet dat die Gees ons swakhede te hulp kom, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge! (Rom. 8:26) Die Gees self vorm ons gebed só dat dit voor God aanneemlik is, welbehaaglik is. Niks sal ons skei van die liefde van Christus nie – die Gees van Pinkster waarborg dit! Amen.
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 98:1 en 2
Wetslesing
Sing Ps. 51:3, 5 en 8
Gebed
Lees: Joël 2:18-32
Sing Skr. 13:1-3
Teks: lees Handelinge 2, met as teks spesifiek verse 17-21
Preek
- Na eerste punt: Ps. 67:1-3
- Na tweede punt: Ps. 18:5, 7 en 8
- Amenlied: Ps. 143:7-9
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 36:2 en 3
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 98:1 en 2
Gebed
Lees: Joël 2:18-32
Sing Skr. 13:1-3
Teks: lees Handelinge 2, met as teks spesifiek verse 17-21
Preek
- Na eerste punt: Ps. 67:1-3
- Na tweede punt: Ps. 18:5, 7 en 8
- Amenlied: Ps. 143:7-9
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 36:2 en 3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)