Vreemdelinge burger nie in nie, maar verwag ‘n beter vaderland

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-06-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Verwysing: 
HK 52a-0
Preek Inhoud: 

Sondag 52

Ds HH van Alten - Sondag 18 Junie 2006

Lees: 1 Pet. 4, Sondag 52a
Sing: Sien liturgie

Tema: Vreemdelinge burger nie in nie, maar verwag ‘n beter vaderland

  1. Die gevare van inburgering
  2. Die gevare van vreemdelingskap
  3. Die prys van vreemdelingskap

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In sy eerste brief noem Petrus sy lesers tot drie maal toe: vreemdelinge. In 1:1 en 2 spreek hy hulle direk aan as “uitverkore vreemdelinge”, in 1:17 roep hy hulle dringend op tot ‘n godvresende lewe in die tyd van hulle vreemdelingskap, en in 2:11 noem Petrus sy lesers “vreemdelinge en bywoners”. Sommige meen dat dit hier gaan oor ‘n sosiale groep wat nie werklik ‘n plek in die samelewing gehad het nie; hulle het dus nie baie diep wortels in die samelewing gehad nie. En vir hierdie tipe mense het die christendom dan ‘n ideale tuiste gebied, ‘n onderdak aan vreemdelinge, die verstotelinge van die samelewing. By sulkes sou hulle maatskaplike omstandighede dan die vernaamste oorsaak wees van hulle keuse om christene te word.

Maar gemeente, dit is nie hoe Petrus oor die vreemdelingskap praat nie – vir hom is die vreemdelingskap nie die oorsaak, die rede, waarom mense besluit om christene te word nie, maar eerder die gevolg van hierdie keuse. Mense is dus nie vreemdelinge, en daarom besluit hulle maar om by die kerk aan te sluit nie – die kerk is nie ‘n heenkome vir die outsiders van die samelewing nie. Nee, mense wórd vreemdelinge wanneer hulle tot geloof kom; as gevolg van hulle uitverkiesing deur God ontwortel hulle as’t ware uit die samelewing waarbinne hulle leef. Dit beteken nie dat u, dat jy, van die samelewing af weg hoef te vlug nie, maar dit beteken wel dat jy jou heil êrens anders soek; vreemdelinge is nie meer afhanklik van die samlewing nie, maar van God! Hoe sterk jy ook al by die samelewing betrokke is, jy is en jy bly altyd vreemd voel te midde van jou medeburgers.

Vreemdelingskap is vir Petrus dus ‘n direkte gevolg van die nuwe lewe. Jy kán nie ‘n christen word en nog steeds jou wortels in hierdie aarde hê nie, dit is onmoontlik dat jy tot geloof kom en dan nog steeds bly lewe soos wat jy voorheen geleef het. Kyk maar na 1 Petrus 1:17-19 (een van die plekke waar oor die vreemdelingskap gepraat word) – dit is duidelik dat die vreemdelingskap van die lesers lynreg staan teenoor hulle vroeëre ydele lewenswandel waarvan hulle losgekoop is deur die kosbare bloed van Christus. En kyk ook na hoofstuk 2:11 – die gelowiges word opgeroep om vir goed afstand te doen van die ingeburgerde sondes en sondige lewensstyl.

Wanneer jy tot geloof kom, wórd jy dus ‘n vreemdeling, maar meer nog: jy word nie slegs een nie, jy moet jouself ook soos een gedra; jy moet lewe soos ‘n vreemdeling.

Maar gemeente, om ‘n vreemdeling te wees, beteken nog nie om alleen te wees nie. Jy het miskien jou wortels gelig uit die wêreldse samelewing, maar jy mag nou deel vorm van ‘n ander gemeenskap: daar is immers ‘n broederskap, ‘n gemeenskap van vreemdelinge, die kerk van Christus. En daarom noem Petrus sy lesers ook “uitverkore vreemdelinge” – uitverkies deur God, vreemd vir die wêreld, maar nie sonder broers en susters nie. Ons, gemeente, is saam vreemdelinge. Vreemdelinge opweg na ‘n beter vaderland!

Ek het die tema vir hierdie preek aan die hand van die eerste deel van Sondag 52 soos volg geformuleer:

Tema: Vreemdelinge burger nie in nie, maar verwag ‘n beter vaderland

  1. Die gevare van inburgering
  2. Die gevare van vreemdelingskap
  3. Die prys van vreemdelingskap

 

1. Broers en susters, ons vreemdelingskap in hierdie wêreld is ‘n baie ryk en bybelse gedagte, maar die praktyk bewys dikwels hoe moeilik dit vir ons is om werklik vreemdelinge te wees. Ons wortels is dikwels nog diep geplant in hierdie aarde, ons sukkel nog om te besef dat ons woning nie hier op aarde is nie. Die wil van die heidene, waarvan Petrus in 4:3 sê dat dit veronderstel is om tot die verlede te behoort, is helaas soms nog deel van ons lewens, terwyl die wil van God, wat veronderstel is om ons lewens te beheer, soms nog so swak is. Waardeur kom dit, gemeente? Wat is die oorsaak hiervan? Kom ons kyk na 1 Petrus 4.

 

Petrus leer ons in die eerste verse van hoofstuk 4 dat ons lewens ‘n verlengde van Christus se lewe behoort te wees; ons behoort sy voetstappe na te volg; Hy het ons voorgegaan, laat ons slegs sy spoor volg.

Maar wie wil tog daardie spoor volg? Die spoor wat Christus nagelaat het, was immers een van lyding en bloedvergieting. Inderdaad gemeente, Christus moes geweldig baie verduur; kyk maar wat die mense Hom aangedoen het – Hy het met vyandige regters te make gekry, ‘n woedende menigte het sy kop geëis, spottende soldate het Hom geslaan en gespoeg. Mense – die vlees waarvan vers 1 praat – het Hom baie leed aangedoen… Christus het dus tydens sy lewe op aarde geweldig baie gely; Hy wat sonder sonde was, het die grootste moontlike weerstand ervaar van die kant van die ongeloof. Dit is die reaksie wat sy lewe en boodskap by die wêreld opgeroep het; die duisternis kon hierdie Lig nie vat nie, hulle het kon dit nie verdra nie – en uiteindelik het hulle Hom vermoor! Maar hierdie lyding was nie vir Homself nie, Hy het nie nodig gehad om hierdie lyding te verduur nie; Hy het dit gedoen vir ons! So sê Petrus in 4:1: “Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het…” Vir ons!

En gemeente, daarom moet ons sy spoor navolg, “want – so sê Petrus in 2:21 – hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg…” In ons lewens mag ons Christus se voetstappe navolg, ons lewens lê in die verlengde van Christus se lydensweg… En dan gaan dit nie oor die lyding op sigself nie! Ons volg nie Christus na omdat ons graag wil ly en wil swaarkry nie, ook die martelare in die kerkgeskiedenis het nie opgewonde staan en wag vir die brandstapel of die wilde diere nie. Nee, ons volg Hom na omdat ons weet dat wanneer ons op sy spoor loop, ons opgehou het met die sonde (kyk maar na die laaste woorde van vers 1)! Die sonde as mag het geen vat meer op ons nie; vir dié wat Christus navolg is dit voortaan gedaan met die sonde.

Maar let wel, broers en susters, iemand wat nie langer die sonde tolereer nie, gaan verseker te doen kry met ‘n intolerante wêreld; u kan maar weet dat die wêreld u nie met ope arms gaan ontvang nie. Wie losgemaak is van die mag van die sonde, sal baie lyding moet verduur.

Maar andersom geld ook dat wie baie leed moet verdra, blykbaar opgehou het met die sonde. Wanneer die wêreld om ons heen, ons bure, ons kollegas, ons mede-leerlinge, nie die spoor wat ons agter Christus aanloop, wil aanvaar nie, en ons daarvoor spot en leed aandoen, dan bewys hierdie lyding dat ons die bande met die ou lewe definitief verbreek het, dan wys dit definitief dat ons vreemdelinge in hierdie wêreld is.

Gemeente, begryp u dat om agter Christus aan te gaan, nie opsioneel is nie. Om Christus op die spoor te volg, is nie maar persoonlike smaak nie. Dit is essensieel, lewensbelangrik. Want slegs dan trek ons ons wortels uit hierdie aarde uit en gaan ons op reis na ‘n beter vaderland. So lank as wat ons Christus nie van harte navolg nie, solank as wat ons Hom nie só navolg dat ons kan sê dat ons opgehou het met die sonde nie, bly ons nog gewortel in hierdie wêreld, bly ons nog burgers van ‘n ander koninkryk. En, broers en susters, dit is nie ‘n koninkryk wat u welstand soek nie, die koning van hierdie ryk is nie besorg oor u sieleheil nie. Nee, hy soek inteendeel daarna dat u gewortel bly in die beheerlikhede van die mense, die wil van die heidene, deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye (vers 3).

En gemeente, dan is dit belangrik om te evalueer of u werklik met u lewe agter Christus aanloop, of dat u met u lewe in hierdie wêreld ingeburger geraak het. Het u al u wortels gelig om agter Christus aan te gaan, of is u nog stewig gewortel hier in die tydelike en sondige? En toets dit maar onder andere aan die lysie met heidense begeerlikhede wat Petrus hier opnoem: ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye… Herken u uself in die begeerlikhede van die mense, in die praktyke van hierdie wêreld?

En broers en susters, hier lê nou die groot gevaar van inburgering – dit gebeur so geleidelik, jy kom dit dikwels nie eens agter nie. En die wêreld gaan jou ook nie daaroor inlig nie. Immers, hierdie wêreldse praktyke is die aanvaarde praktyk. Dit is ‘n patroon wat al so gewoon geraak het, dat niemand dit meer vreemd vind nie. En wanneer ons deel van hierdie patroon geword het, dan herken ons nie meer die versoekings wat op ons afkom nie, en ons erken ook nie meer – soos die Kategismus doen – dat ons in onsself so swak is dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Want die versoekings word deel van ons lewensstyl, ons máák dit deel van ons lewensstyl. Ons stort onsself saam met die wêreld in die oop riool van verkeerde praktyke.

En die bede “Lei ons nie in versoeking nie”, word dan stil in die monde van dié wat nie in die voetstappe van Christus wil volg nie. Of as dit nie stil word nie, dan word dit in elk geval niksseggend. Want hy of sy wat Christus nie wil navolg nie, wat stewig geplant is in hierdie sondige bestaan, het lankal toegegee aan alle versoekinge. Meer nog, die versoekinge het deel geword van ‘n algemeen aanvaarde lewensstyl. So iemand het nie opgehou met die sonde nie, maar lééf in die sonde, leef eintlik in die dood…

Broers en susters, waak daarteen om in te burger hier op aarde, waak daarteen dat dít wat vir die gelowige versoekings is, by u algemene praktyk word. Bid voortdurend: “Lei ons nie in versoeking nie, maar lei ons agter Christus aan!”

Ons let nou vervolgens op die gevare van vreemdelingskap.

2. Gemeente, wie dus in pas met hierdie wêreld lewe, staan nie werklik uit nie, so iemand word nie as vreemde in hierdie sondige wêreld beskou nie. Maar diegene wat nie wil deelneem aan die gemeenskaplike sondige aktiwiteite nie, hulle word wel vreemd aangekyk. Petrus sê dit in vers 4: “Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie…” Wanneer ons nie meer wil deelneem aan die sondige praktyke van ons samelewing nie, dan ervaar die samelewing dit as ‘n verhoudingsbreuk; hulle stort hulself immers in die see van losbandigheid, hulle verdrink daarin, en ons, ons werk met alle mag om onsself daaruit te kry – ja, dit werk vervreemding…

Ons moet dus nie verbaas wees, broers en susters, wanneer daar van die kant van die wêreld weerstand teen ons gedrag, as christene, is nie. Petrus sê aan die einde van vers 4: “… en hulle laster”. Ons afwykende gedrag word dus met verbale geweld gestraf. Ons staan onder die beskimping van hierdie wêreld, hulle praat smalend van ons God, hulle laster God deur sy kinders te bespot. En in vers 12 gaan Petrus verder met hierdie tema van lyding: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle nie…”

Lyding is nie in stryd met ons geloofskeuse nie, maar is ‘n wesenlike deel daarvan!

En dan praat ons nie van lyding wanneer ons die slegte doen nie; Petrus wys duidelik dat dit nie goed is wanneer ons moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie. Nee, dan ly ons omdat ons aan die versoeking toegegee het. Maar om as Christen te ly, om te ly omdat ons teen die versoekings van die wêreld weerstand gebied het, nie toegegee het aan die verleidings nie – daaroor hoef ons ons vir geen oomblik te skaam nie.

Ons hoef ook nie daaroor verbaas te wees nie – die ongelowige wêreld verbaas hulle miskien oor ons gedrag, ons gedrag staan uit, is ongewoon, maar ons hoef ons nie oor hulle reaksie te verbaas nie. Vervolging en uitstoting is die deel van elkeen wat in die voetstappe van Christus wil volg; dit is ons deel as vreemdelinge in hierdie wêreld. En dit dien tot ons beproewing, dit het tot doel om ons sterker te maak, om ons geloof te staal. En daarom moet ons nie verbaas wees daaroor nie, maar eerder onsself daaroor verheug! Hoe meer ons deelkry aan die lyding van Christus deurdat ons self moet ly, hoe blyer mag ons wees. Hoe swaarder die lyding word, hoe sterker word immers die binding aan ons Heiland.

En gemeente, dáároor gaan dit ten slotte! Dit gaan daaroor dat ons meer en meer aan Christus verbind word. En daarom sê Petrus ook in vers 14: “As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus.” Wanneer u moet ly, wanneer jy gespot word, wees bly, want jy doen dit ter wille van jou Heiland, en Hy gee sy Gees aan elkeen wat ter wille van sy Naam moet ly. En dit is dáárdie Gees, broers en susters, waarvan die Kategismus in antwoord 127 bid dat Hy ons staande sal hou en sal versterk sodat ons teen die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur sterk teenstand sal kan bied om in hierdie geestelike stryd nie te beswyk nie…

Gemeente, dit is die Gees wat ons in staat stel om egte vreemdelinge te wees, dit is Hy wat ons in staat stel om ons wortels hier uit te trek en agter Christus aan te loop en ook die gepaardgaande lyding met vreugde te dra, dit is Hy wat die bede: “Lei ons nie in versoeking nie” ‘n werklike bede maak, ‘n opregte versoek: “Here, help my met daardie sonde in my lewe, help my om hierdie versoeking te weerstaan, help my om nie aan daardie verleiding toe te gee nie.” “Here, verlos my van die bose, die bose wat my agter Christus wil wegtrek, die bose wat hard daarna streef om my in sonde te laat lewe, die bose wat daarna soek om my te verlei, om my wortels weer terug te sit in hierdie aarde.”

Laat u daarom beheers deur die Gees wat u met Christus verbind, laat Hy u lei op die spoor agter Christus aan. En dan mag u weet dat die wêreld u as vreemdeling sal beskou en u daaroor sal vervolg, maar dan weet u ook dat u opgehou het met die sonde. Die sonde het oor u nie meer mag nie! Ja, dan bly die versoeking nog wel bestaan; meer nog: juis dan soek die satan om u af te trek van Christus, maar dan is u ook verseker van die Gees van Christus wat elke voetstap rig agter Christus aan. Hy dra u, sodat jy jou vreemdelingskap op hierdie wêreld enduit kan volbring.

Ons let nog ten slotte op die prys van die vreemdelingskap.

3. Petrus sê in vers 5 van die ongelowige en dié wat God laster deur sy kinders te bespot dat hulle eendag rekenskap sal gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel. Maar dit is natuurlik nie slegs die ongelowiges wat rekenskap sal moet gee nie; nee, elkeen van ons sal eendag voor God se regterstoel staan. Meer nog: Petrus wys in vers 17 dat die oordeel alreeds begin het by die huis van God. Die suiwering het reeds hier in die kerk begin, die christelike gemeente is die plek waar die bliksem van die Goddelike oordeel die eerste slaan. Broers en susters, hierdie oordeel kan ons bangmaak, dit kan ons laat wonder wat van ons gaan word.

Maar Petrus het ‘n bemoediging vir ons in vers 19: lyding volgens die wil van God en met behulp van God se Gees is beter as om vir ewig verlore te gaan. Maar gemeente, God laat ons tans al ly, sodat ons gesuiwer kan word. God laat tans toe dat ons versoek word, juis sodat ons in ons geloof rein kan wees.

En daarom die oproep van Petrus in 5:6: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.” Laat ons ons lewens toevertrou aan die Skepper, Hy wat uiters betroubaar is. By Hom is ons lewe in goeie hande. As Skepper is God die beste Bewaarder wat jy jou kan voorstel. Hy is die een wat vandag al by ons is om ons deur sy Gees teen die versoeking weerstand te laat bied, maar Hy sal ook by ons bly tot die einde toe. Elke keer wanneer ons bid “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose” dan oorhandig ons onsself in die hande van ons Skepper. Dit is wat die vroeë kerk in Handelinge 4 ook gedoen het, hulself in gebed aan die Skepper oorgegee het. En nadat hulle gebid het, het die Skepper gereageer deur die plek waar hulle saam was te skud en hulle met sy Gees te vervul. Op dieselfde manier mag ons onsself aan ons Skepper oorhandig; elke keer wanneer ons hierdie bede bid dan lê ons ons lewe in sy magtige hand.

En, broers en susters, wanneer ons lewens veilig by Hom is, wanneer ons saligheid by Hom seker is, dan mag ons in alle rus verder gaan om goeie dade te doen (vers 19). Meer nog: wanneer ons goeie dade doen, dan bewys ons daarmee dat ons ons lewe eenvoudig by die Skepper van daardie lewe gelaat het.

Ja, en dan wag vir ons vervolging, wag swaarkry, wag die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur om ons te versoek en ons van Christus af te trek. Maar laat ons nie onder hierdie druk verbitterd word en onsself van die samelewing isoleer nie. Dan doen ons meer kwaad as goed. Nee, laat ons inteendeel, vol vertroue op die Skepper van ons lewe, bly doen wat goed is vir almal. En Petrus het dit alreeds in verse 7-11 gedeeltelik ingevul: ons moet ingetoë en nugter wees, mekaar vurig liefhê, gasvry wees sonder om te kla, mekaar dien, woorde van God spreek. Gemeente, op so ‘n manier is ons nie vreemdelinge wat onsself isoleer nie, maar vreemdelinge wat ten volle betrokke is in hierdie wêreld, en tog weet dat ons eindpunt êrens anders is.

En gemeente, so mag ons gaan lewe omdat ons veilig is in die hande van ons Skepper, omdat ons seker weet dat Hy ons nie sal oorgee in die hande van die bose nie, dat Hy ons nie in versoeking sal lei nie. Inteendeel, Hy lei ons – vandag en vir altyd, sodat eendag die oordeel vir ons geen oordeel is nie, maar sodat ons eendag by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. Laat daardie heerlikheid vandag al in ons lewens openbaar word. Laat in jou lewe – by die werk, in die kombuis, by die skool en universiteit – nie die sondige praktyke van hierdie wêreld sigbaar word nie, maar die heerlikheid van God. En dit is wat ons doen wanneer ons as vreemdelinge lewe, ook wanneer ons as vreemdelinge moet ly – dan verheerlik ons God – so sê Petrus in verse 14 en 16. En gemeente, laat God ook in alles verheerlik word deur Jesus Christus – so sê Petrus in vers 11 – want aan Hom kom toe die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.

Amen

Liturgie (aand)

 

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 31:3-5
Gebed
Lees: 1 Petrus 4
Sing Ps. 119:11, 17, 19
Teks: HK, Sondag 52a
Preek
Amenlied Ps. 69:3, 4, 5, 12
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 139:2, 3 en 12
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)