Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-06-11
Teks: 
Efésiërs 4:30
Preek Inhoud: 

Tema: Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie

  1. Dat jy die Gees kan bedroef

  2. Hoe jy die Gees kan bedroef

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe opvallend is die woorde van die teks. Paulus het netnou ’n aantal praktiese aansporings gegee. En hy gaan daarmee aan na die teks. Tussen ’n reeks praktiese aansporings sê Paulus skielik: “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” Verrassende woorde. ’n Pragtige klimaks van wat Paulus reeds besig was om te sê. Paulus het ons vermaan: Lê die leuen af, moenie op ’n sondige manier kwaad word nie, moenie steel nie, laat geen vuil taal uit julle mond kom nie. Paulus sê feitelik: sorg daarvoor dat jy daardie sondes nie doen nie, want as jy dit wel doen dan bedroef jy die Heilige Gees van God.

Dis dus ’n pragtige klimaks op wat Paulus reeds besig was om te sê. Ook ’n passende inleiding op wat hy nog wil sê: Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

Broers en susters, wat is dit wat ons Christelike etiese beginsels onderskei van die etiese beginsels van ander mense? Dit woorde van die teks gee ’n indikasie. Selfs ongelowiges sal jou vertel dat jy nie moet lieg nie en dat jy altyd die waarheid moet spreek. Hulle sal jou vertel dat jy nie kwaad moet word nie, maar dat jy altyd beheers en gedissiplineer moet wees. Hulle sal jou vertel om nie te steel nie en om nie vuil taal te gebruik nie maar om vriendelik en hulpvaardig te wees. Ongelowiges doen dit alles, maar jy sal hulle nooit hoor sê: “bedroef nie die Heilige Gees van God nie.” Nee nooit nie. Dit is wat jou Christelike etiek van alle ander etiese sisteme onderskei. Goeie gedrag is nie noodwendig Christelik nie. Dit is die toets: is jou gedrag gegrond op die werklikheid van die Heilige Gees in jou lewe? En soek jy werklik die eer van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees?

Let daarop dat Paulus in ons teks die gelowiges nie oproep om net ’n sekere standaard te handhaaf nie. Standaarde is goed op hul plek maar dit is nie spesifiek Christelik nie. Paulus vra ook nie van ons om sekere dinge na te laat vir ons eie beswil nie, net omdat dit vir ons goed sou wees nie. Dis nie die Bybelse manier om oor heiliging te praat nie. Dit begin nie by onsself nie. Dit sê nie in die eerste plek: as jy werklik gelukkig en bly wil wees en wonderlike ervarings wil hê, hou dan op om dit of dat te doen. Natuurlik, is slegte dinge ook sleg vir jou. Die slegte dinge sal natuurlik jou belewing beïnvloed. Maar dit is nie die belangrikste nie. Die belangrikste behoort te wees: God se eer. Dis waarom ek sekere dinge moet doen. “Bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” Hier het jy die Bybelse manier om na die saak van heiliging te kyk. Nie terwille van myself nie, maar terwille van Hom. My heiliging, my gedrag, behoort altyd die gevolg te wees van wat Hy vir my gedoen het en van my begeerte om tot lof van sy heerlikheid te lewe.

Ek verkondig vir julle: Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie

  1. Dat jy die Gees kan bedroef
  2. Hoe jy die Gees kan bedroef

Die apostel leer ons dat sondige gedrag die Heilige Gees van God bedroef. Die oorspronklike volgorde van die woorde benadruk dit nog sterker: Bedroef nie die Gees, die heilige Gees van God nie. Ja, dis die Heilige Gees van God waarmee jy te doen het. Sondige gedrag, ’n onheilige lewe, bedroef hierdie heilige Gees van God.

Let ook op die werkwoord “bedroef”. Deur hierdie woord wys Paulus dat daar ’n liefdesverhouding is. ’n Mens bedroef nie ’n vyand nie. Jy bedroef nie iemand wat nie vir jou omgee nie. Jy kan net iemand bedroef wat jou liefhet. So herinner die woord bedroef aan die liefde van die Gees vir jou as gelowige. Hy is voortdurend met jou besig. Hy wil jou lewe ryk en mooi voor God maak. Vanweë sy liefde en sorg vir jou maak dit Hom verdrietig as jy tog nog ’n onheilige lewe lei.

Dit spreek vanself dat dit nie vir ongelowiges kan geld nie. Nie Christene kan die Heilige Gees weerstaan, maar Hom nie bedroef nie. ’n Mens kan Hom slegs bedroef as jy ’n persoonlike verhouding met Hom het.

Geliefdes, dat ons ’n persoonlike verhouding met die Heilige Gees van God het, word in die teks veronderstel wanneer gesê word. “Bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”

Ons is verseël. God het sy seël op ons gedruk. Paulus het dit reeds in hoofstuk 1:13,14 genoem. Daar skryf hy: Christus, “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”

Met ander woorde: in Christus is jy wat glo verseël met die Heilige Gees. Die seël is die Heilige Gees self. God verseël jou met die Heilige Gees. Hierdie uitdrukking staan teen die agtergrond van die gebruik dat mense ’n seël op dinge geplaas het om die dinge as hul persoonlike eiendom te waarmerk. Deur sy Gees aan my te gee waarmerk die Here my as sy eiendom. Die Gees is immers die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!. Ek kan weet dat ek ’n kind van God is, deur die Gees wat God my gegee het.

Gemeente, die woord “seël” wys nie net op eienaarskap nie, dit praat ook van bewaring, beveiliging. Waarom is die graf van die Here Jesus verseël? Om dit te beskerm teen grafskending van mense wat sy liggaam sou wou steel. Wanneer Paulus in ons teks sê dat die gelowiges verseël is tot die dag van verlossing wil hy sekerlik ook sê dat die Heilige Gees ons beskerm, bewaar met die oog op die groot dag van verlossing.

As kind van God word ek nog omring deur dreigende magte. Die wêreld is nog nie vry van sonde, dood en verdriet nie. Maar die groot dag van verlossing kom. Die Gees is besig om my te beveilig vir daardie dag. Hy is immers die Gees van die heerlikheid (kyk 1 Petr 4:14), die Gees wat almal wat glo tot heerlikheid bring. In ’n wêreld vol vyandelike magte kan ek vol goeie moed wees. Ek het ’n spesiale Gids wat my lei en bewaar: die Heilige Gees. Hy bewaar my vir die groot bevrydingsdag.

Broers en susters, wat ’n wonderlike werklikheid om met so ’n seël gemerk te wees, ja, met die Heilige Gees self. Ek is gemerk as God se eiendom. Ek het die belofte van beskerming, bewaring vir die groot dag van verlossing. Ja, die Heilige Gees self is my waarborg. Hy staan daarvoor in dat ek eendag die beloofde erfenis sal ontvang.

Let daarop dat dit Paulus se uitgangspunt is: julle is deur die Heilige Gees van God verseël tot die dag van verlossing. God het julle sy Gees gegee. Niemand kan ’n Christen wees, sonder dat die Heilige Gees in hom woon nie. ’n Ware Christen het per definisie die Heilige Gees. Paulus sê dan ook in Romeine 8:9: “As iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie.”

Dit word reg deur die Nuwe Testament geleer. In 1 Korintiërs 3 herinner Paulus ons daaraan dat die Heilige Gees in die kerk as tempel van God woon. In hoofstuk ses van dieselfde brief skryf Paulus vir die individuele gelowiges: “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”

In ons teks gaan die apostel daarvan uit dat ons tempels van die Heilige Gees is, waarin die Gees woon. Dis vanweë hierdie werklikheid dat ek die Heilige Gees kan bedroef. God het sy merk op my gedruk, die Heilige Gees. Hy het my met die Heilige Gees verseël. Hy het my tot sy eiendom en erfgenaam gemaak. Daarom, wat ek ook al doen, raak die Heilige Gees in my. Waar ek ook al mag wees, daar is die Heilige Gees. Moenie dit ooit vergeet nie. Dis jou uitgangspunt as Christen. Daar begin jy wanneer jy oor jou heiliging praat, oor jou daaglikse lewenswandel. Met God, die Heilige Gees, in jou teenwoordig, sal jy ’n ander soort lewe lei. Probeer om jou dit voor te stel: God die Heilige Gees woon in jou, Hy gaan altyd met jou saam. Wat ’n wonder. Wat ’n voorreg. Die Gees, ja, die heilige Gees van God met jou en in jou. Dis onvoorstelbaar, onbegryplik. Maar dit is ’n werklikheid vir elkeen wat in Christus glo. ’n Voorreg het ek gesê. Maar ook ’n groot verantwoordelikheid. Ek kan nie net aangaan met my ou lewe nie. Hy die heilige Gees van God is daar. Ek wil Hom tog nie bedroef nie?

So kom ons uit by die tweede gedagte: hoe jy die heilige Gees van God kan bedroef.

Die antwoord is eenvoudig. Jy kan die Heilige Gees bedroef deur onheilige dinge te doen. Paulus maak dit duidelik wanneer hy in Efesiërs 4 praat van ’n heidense lewenswandel (vers 17), van leuen (vers 25), van sondige toorn (vers 26), van diefstal (vers 28), van vuil taal (vers 29), van bitterheid, woede, toorn, geskreeu en lastering (vers 31). In hoofstuk 5 voeg Paulus hieraan toe: hoerery, allerhande onreinheid, hebsug, gemeenheid, dwase of lawwe praatjies, dronkenskap, losbandigheid. Dit alles is deel van die onvrugbare werke van die duisternis.

Ek bedroef die Heilige Gees nie net deur my dade en optrede nie. Die lys wys dat ek die Heilige Gees ook deur my woorde kan bedroef. Hy is altyd by my. Hy hoor elke woord wat ek sê. Daarom: “laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is, vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor." Soms kan dit veral vir jong mense stoer lyk om vuil taal te gebruik of saam te doen met growwe, ligsinnige of vuil praatjies. Jy wil nie as ’n swakkeling beskou word nie. Daarom doen jy sommer saam met dinge waarvan jy weet dat dit die heilige Gees sal bedroef. Maar wie is eintlik die swakkeling? Is jy sterk wanneer jy vuil taal gebruik en met growwe en ligsinnige praatjies saamdoen? Is dit nie juis ’n teken van swakheid nie. Onthou, die Heilige Gees van God is met jou. Hy hoor alles wat jy sê. In Hom kon jy sterk en heilig wees. Maar jy het gekies om swak en sondig te wees. Jy het die Heilige Gees bedroef.

Jy kan die Heilige Gees ook deur jou gedagtes bedroef. Hy is in jou. Hoe dikwels het Satan ons nie op hierdie punt verstrik nie. Ek dink en beweer: maar sulke dinge doen ek nie. Miskien het ek dit nie gedoen omdat ek nie durf nie. Maar ek het dit moontlik wel gedink en dalk in my verbeelding met die gedagte gespeel. En ek het gedink alles is reg omdat ek dit nie gedoen het nie.

Maar dit is nie die geval nie. Ek het die Heilige Gees bedroef. ’n Onwaardige of onheilige gedagte, gedagtes van woede, gierigheid, onsedelikheid bedroef Hom net soos ook die dade self. Hy weet alles. Selfs my diepste gedagtes.

Broer, suster, jy bedroef die Heilige Gees wanneer jy vergeet dat die Heilige Gees binne in jou is, wanneer jy nie met Hom rekening hou nie en Hom nie die eer gee wat Hom toekom nie. Is daar iets wat meer beledigend is as dit? Hoe sou jy voel as iemand maak asof jy nie bestaan nie terwyl jy daar wel aanwesig is? Sou jy jou nie verskriklik beledig en verneder voel nie? Daarom, moenie as Christen ooit vergeet dat die Heilige Gees van God in en met jou is nie. Eer jy Hom dan ook? Om hierin tekort te skiet is om Hom te bedroef.

Jy kan Hom ook bedroef deur nie te reageer op sy aanwysings en leiding in jou lewe nie. Die Heilige Gees is voortdurend in jou besig om jou te vorm en te vernuwe. Dis Hy wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil 2:13). Jy word dan geroep om uit te werk wat Hy in jou werk. Dis Hy wat jou aanspoor, wat jou lei, wat Christelike gedagtes en verlangens in jou wek. Hy leer jou om sekere dinge te doen en ander dinge nie te doen nie. Dis alles deel van sy groot werk van heiliging. Hy sê vir jou dat jy nie moet deelneem aan negatiewe groepsdruk nie, of growwe, ligsinnige of vuil praatjies nie. Hy sê vir jou dat jy nie ander moet verneder of kleineer nie. Om nie na Hom te luister of om dit uit te stel tot wanneer dit jou pas, dis maniere waarop jy Hom kan bedroef.

Vergelyk dit met die verhouding tussen ouers en kinders. Hoe voel jy as ouer wanneer jou kind nie na jou leiding wil luister nie of dit uitstel? Dit maak jou verdrietig. Hoeveel te meer geld dit vir die Heilige Gees van God wat ’n volmaakte gids is.

Geliefdes, ons het gekyk na sommige van die maniere waarop ons die Heilige Gees bedroef of kan bedroef. Maar waarom is dit so ernstig om die Gees bedroef?

Vanweë Wie Hy is en wat Hy is. Dit behoort voldoende rede te wees. Hy is mos die derde Persoon van die goddelike Drie-eenheid. En Hy woon as ’n gas en gids in jou, in jou eie liggaam. Die grootheid van sy Persoon behoort vir jou genoeg te wees. Julle besef tog wat dit in die praktyk beteken? Daar is sekere dinge wat ons normaalweg doen, maar wat ons bewus sou nalaat in die teenwoordigheid van ’n vername gas. Ons voel intuïtief aan dat ons op ons bes moet wees wanneer so ’n agbare gas by ons is. Wat doen jy as so ’n vername persoon jou by jou huis kom opsoek en daar oornag? Die kinders word duidelike instruksies gegee. Hulle moet beleef wees, op die vroeë oggend of selfs die hele tyd nie te veel lawaai maak nie, want die en die eerbare persoon bly in die huis. Dis ’n teken van eerbied en respek. Wanneer jy in die teenwoordigheid van ’n President of koning kom, dan sal jy bv wel oppas om geen growwe of vuil taal te gebruik nie. Maar broers en susters, sou ons in ons gedrag en woorde nie nog baie versigtiger moet wees nie, vanweë die goddelike Gas wat in ons woon? Ons gedagtes, ons fantasieë – Hy is daar, Hy weet daarvan.

Dit is die Christelike heiliging. Dit is die besef dat die Heilige Gees van God in my is. Nie, wat kan ek doen nie, maar dink aan Hom; dit is genoeg aansporing. Ek hoef nie enige magiese ervarings te hê nie. Ek moet net die waarheid wat God se woord aan my voorhou glo en besef. As ek maar net sou besef dat Hy altyd in my is, sou my gedrag anders wees. Dink aan alles wat Hy vir my gedoen het en wat Hy nog besig is om te doen met die oog op my verlossing. Die Heilige Gees wil my lewe mooi voor die Here maak, Hy wil my voor die Here stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig. As ek dan onheilige, onreine dinge in my lewe tolereer, dan bedroef ek die Heilige Gees.

Inderdaad die Heilige Gees het ook baie geduld. Maar wanneer jy onheilige praktyke wil aanhou, kan Hy homself aan jou onttrek. Hy sal dan tenminste vir ’n tydjie nie meer homself wys nie. Jy sal die gevoel van God se liefde verloor. Jy sal die vreugde van die redding verloor. Jy sal geen vrede ervaar nie. Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek sê nie dat jy verlore is nie. Wat ek wel sê is dat jy die vrede en blydskap in die Here sal mis en verloor.

As jou geloofslewe nie bloei, as jou gebede stagneer, as daar geen blydskap in jou hart is, dan moet jy jouself ernstig beproef. Kan dit wees dat jy voortdurend besig is om die Heilige Gees te bedroef?

Wat moet jy dan doen? Eenvoudig dit: onthou dat die Heilige Gees altyd in jou is. Begin jou dag deur te sê: ek is ’n kind van God en daarom woon die Heilige Gees van God in my. Waar ek ook al mag wees, wat ek ook al moet doen, wat ook al met my gebeur, Hy sal by my wees. Al my gedagtes, woorde en werke sal voor sy oë en in sy teenwoordigheid wees. Ek dank God vir daardie voorreg. Hoe versigtig moet ek dan ook wees om Hom nie te bedroef of teleur te stel nie. “Bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” Bly aan Hom dink. Onthou wat Hy besig is om in jou te doen. Dink aan die heerlikheid waarvoor Hy besig is om jou voor te berei. Dan sal jy self bedroef wees oor die dinge wat Hom bedroef. En dan sal jy juis sy leiding wil volg en in sy krag wil lewe. Vanuit die verlossing wat in Hom gewaarborg is.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

Lees: Efesiërs 4:17-5:2.
Sing: Ps 125:1-3; Ps 125:4-7; Ps 119:39,62; SB 24:2,3; SB 24:6,7.