God se aanwesigheid hier op aarde

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-06-04
Teks: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

Handelinge 2:4

Ds C Kleijn - Sondag 4 Junie 2006

Lees: Handelinge 2:1-21; Handelinge 2:4.
Sing: Ps 145:1,2; Ps 145:3,10 (na die wet); SB
14; SB 27:4,5 (na die preek); Ps 67 (na die kollekte).

Tema: God se aanwesigheid hier op aarde

  1. in die volheid van sy Gees
  2. in die lewe van die kerk
  3. in die verkondiging van die evangelie

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waar is God? Herken julle Hom hier op aarde? Hoe herken julle
Hom? Dwarsdeur die geskiedenis het gelowiges met die werklikheid
van God in hierdie lewe geworstel. In die Ou Testament het dit
spotters daartoe gebring om te vra: waar is julle God? Dit het
gelyk asof God nie aanwesig was nie; dat ’n mens nie met Hom
hoef rekening te hou nie.

Vandag is die situasie nie veel anders nie. Waar is God in ons
samelewing? In watter mate word met God rekening gehou? Word Hy
nog ervaar as die groot aktief Aanwesige? Word Hy nie dikwels as
irrelevant beskou nie? Sien jy in die daaglikse praktyk van die
lewe, werklik ’n groot verskil tussen die Christene en die
nie-Christene? Doen ook baie Christene nie hul eie dinge nie,
asof hulle hul eie heer en meester is? Hou ons nog werklik in
alles met God rekening? Ja, herken jy God wel in jou lewe en
samelewing?

Wat het dit met Pinkster te doen? Wel, Pinkster gaan oor God
se aktiewe en kragdadige aanwesigheid hier op aarde. Tydens die
Pinksterdag toon God dat Hy intensief by hierdie wêreld betrokke
is. God gaan met krag voort met sy werk van verlossing. Christus
is met Hemelvaart in die hemel opgeneem. Met Pinkster toon Hy dat
Hy die aarde nie losgelaat het nie, maar dat Hy hier deur sy Gees
des te kragtiger besig is met die herstel van alle dinge.
Pinkster leer ons ’n drievoudige aanwesigheid van God.

Ek verkondig vir julle: God se aanwesigheid hier op aarde

  1. in die volheid van sy Gees
  2. in die lewe van die kerk
  3. in die verkondiging van die evangelie

Met Pinkster het God sy Gees vir sy kerk gestuur. Wag ’n
bietjie, het God sy Gees nie reeds aan sy Ou Testamentiese volk
gegee nie? Was die groot leiers van die Ou Testament, soos Moses,
Josua, Gideon en Dawid, nie met die Gees van God vervul nie? Was
die Gees, wat deur die profete gespreek het, nie dieselfde Gees
as wat op Pinkster gegee is nie? Was Israel nie die volk onder
wie die Gees van God gewoon het nie? Dink bv aan wat die Here
deur die profeet Haggai sê: "Skep moed, julle almal, volk
van die land, spreek die Here, en werk! Want Ek is met julle
… en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie
bevrees nie!" (Hag 2:4,5).

Wat is dan so besonder met Pinkster? Dit is die volheid van
die Heilige Gees. Hulle almal is vervul met die Heilige Gees. Die
Heilige Gees word uitgestort. Die sluise word so te sê oopgegooi.
Die Gees daal in volle krag. Dit loop oor aan alle kante. Daar is
oorvloed en volheid.

Wat is dan die geheim van daardie volheid? Dit is Jesus
Christus. Petrus verklaar Pinkster vir ons in vers 33 wanneer hy
sê: "Nadat Hy (dit wil sê Jesus Christus) dan deur die
regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van
die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle
nou sien en hoor." Die Heilige Gees is die Gees van Christus.
Hy kom dan ook met Christus se skatte en gawes. Oorvloedig! Hulle
word almal daarmee vervul.

So sien jy dan die verskil tussen die werk van die Heilige
Gees in die Ou Testament en sy werk in die Nuwe Testament. In die
Nuwe Testament is alles veel voller en ryker, want God het
gevorder in sy werk van verlossing. Dit was Goeie Vrydag, Pase en
Hemelvaart gewees. Die Verlosser Jesus Christus sit nou aan die
regterhand van die Vader, nadat Hy deur sy bloed verlossing
aangebring het. Hy het alle mag in die hemel en op aarde. Hy gaan
nou sy groot Nuwe Testamentiese veldtog begin om die eindes van
die aarde in besit te neem. Tot nou toe was die volke van die
aarde volkome aan Satan oorgelewer. Satan was die owerste van die
wêreld. Nou gaan dit drasties verander. Christus gaan die hele
wêreld herwin. So wil Hy kragdadig werk aan die herstel van alle
dinge. Daarby wil Hy die apostels en die kerk inskakel. Hulle is
sy instrumente. Daarom stort Hy sy Gees uit. Hy mobiliseer sy
kerk vir sy groot offensief hier op aarde.

Die nuwe, laaste fase van die heilsgeskiedenis begin. Dit word
op ’n opsienbarende manier aangekondig. Daar kom skielik uit
die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind en
dit vul die hele huis waar Christus se volgelinge bymekaar is.
"’n Geluid soos van ’n geweldige rukwind."
God die Seun tree te voorskyn. Hy laat sy aanwesigheid hoor. Hy
toon dat Hy met krag en spoed sy werk gaan doen.

Dan is daar die tweede teken. Hulle sien tonge soos van vuur
wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. "Tonge
soos van vuur." Christus maak sy aanwesigheid sigbaar. Hy
toon watter middels Hy vir sy veldtog gaan gebruik: tonge wat
deur die Gees gereinig en toegerus is.

Albei is tekens van die uitstorting van die Heilige Gees en
van die begin van Christus se wêreldwye veldtog. Dit word
bevestig deur die woorde van die teks. "Hulle is almal
vervul met die Heilige Gees en begin spreek in ander tale, soos
die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek."

Gemeente, sou ’n mens nie terug verlang na daardie
opsienbarende gebeure nie? Moet jy verlang na ’n herhaling
van daardie gebeure? Nee tog? Die nuwe en laaste fase van die
heilsgeskiedenis hoef tog nie opnuut aangekondig te word nie? Dit
hoef slegs een keer te begin. Die sluise hoef maar een keer
oopgegooi te word. Nee, dit beteken nie dat die stroom van God se
Gees altyd met dieselfde intensiteit loop nie. Tydens ’n
bepaalde periode en op ’n bepaalde plek kan dit met meer
krag en intensiteit kom as op ander tye en plekke. Dink maar aan
die periodes van kerkreformasie. Dit het meesal met ’n groot
oplewing gepaard gegaan.

Jy kan dit vergelyk met die stroom van ’n rivier wat in
die berge begin. Die begin in die berge is rumoerig soos die
water met geweld van die klippe afstroom. Daarna kry ’n mens
’n relatief rustige stroom totdat die stroom skielik weer in
’n bergagtige gebied versmal. Die rustige stroom verander
ineens in ’n rumoerige en bruisende waterval. Tog moet jy
onthou dat Pinkster ’n unieke heilshistoriese gebeure is,
soos die geboortedag van Jesus, Goeie Vrydag, Pase en Hemelvaart.
Dit het geen herhaling nodig nie. Die sluise is oopgegooi en bly
oop. Die Gees is uitgestort.

Gemeente, dat Pinkster ’n eenmalige historiese gebeure is,
wil nie sê dat dit slegs tydelike waarde het nie. Nee, die Gees
is uitgestort om aktief te bly. Die Gees is nog aanwesig in die
wêreld en in die kerk. God self is aanwesig. Ook wanneer die
wind van die Gees nie soos ’n geweldige rukwind waai nie.
Ook wanneer die stroom van die Gees nie bruis soos ’n
bruisende waterval nie. Glo jy dit? Ook al sien en belewe jy dit
nie altyd so sterk nie?

Maar, wat dink jy van die kennis van Christus wat jy en baie
ander gelowiges mag besit? Is dit vanselfsprekend, minderwaardig?
Jy mag leef uit die oorvloed van Christus se skatte en gawes. Jy
is as Christen vandag baie ryker as die Ou Testamentiese
gelowiges, wat nie die volle openbaring van Christus ontvang het
nie en Christus dus nie soos jy geken het nie. Die blom wat in
knop was, staan nou in volle bloei. Herken jy dit? In jou eie
lewe en in die lewe van medegelowiges? Jy mag leef vanuit die
volbragte werk van Christus. Jy mag jou kinders daarvan vertel
sodat hulle ook met die woord en vrede van Christus mag grootword.
Besef jy wel hoe ryk en besonder dit is om ’n ware Christen
te wees? Die Gees is uitgestort. Hy is nog aanwesig met krag. Hoe
anders sou jy as gelowige in Christus getroos kan lewe, stry en
sterwe? Hoe anders sou jy die vrugte van die Gees kan vertoon?
Dit kan net deur die Gees van Christus wat met Pinkster
uitgestort is. Sien daar dan God se teenwoordigheid in jou lewe
en in die samelewing. Elke ware Christen is ’n lewende
getuienis daarvan.

Om met die Gees vervul te wees sal vandag nie op dieselfde
manier sigbaar wees as met Pinkster nie. Die buitengewone
begeleidende tekens word nie herhaal nie. Ons moet konstateer dat
selfs die apostels nie altyd op dieselfde wyse met die Gees
vervul was soos met Pinkster nie. Tydens hierdie lewe is daar nog
die stryd teen ons sondes en gebreke. Maar ons mag leef en stry
vanuit die volheid van Christus. Hierdie begin met Pinkster
waarborg die voltooiing van God se werk. Sodat God uiteindelik
alles in almal sal wees.

Broer, suster, leef jy dan ook deur die Gees, vanuit die
volheid van Christus? As jy dit nie doen nie, dan is dit nie die
Gees se skuld nie. Hy is uitgestort! Dan moet die rede daarvoor
wees dat jy die volheid van die Gees in jou lewe weier. Daarom,
weerstaan nie die Heilige Gees soos die afvallige Jode gedoen het
nie (Hand 7:51). En bedroef nie die Heilige Gees van God nie (Ef
4:30) en blus die Gees nie uit nie (2 Thess 5:19).

Wat is die gevolg van ’n gebrek aan geestelikheid onder
God se kinders? Dan het die wêreld geen aanwysing dat God
werklik aktief aanwesig is in hierdie lewe nie. Ons glo dat God
aanwesig is op grond van wat God self in die Bybel daaroor sê.
Maar hulle wat nie in die Bybel glo nie, moet dit sien in die
lewe van God se kinders. My lewe en jou lewe moet getuig van God
se aktiewe aanwesigheid. Sien die mense in jou dat God lewend en
kragtig is en dat Hy Iemand is waarmee rekening gehou moet word?

Gemeente, God toon dat Hy hier op aarde aktief aanwesig is in
die volheid van sy Gees, dit was die eerste gedagte. Nou die
tweede gedagte: Hy toon dit ook in die lewe van die gemeente.

Wie word almal op Pinkster met die Gees vervul? Nie sommer
’n willekeurige groep mense nie. Nee, die groep wat rondom
die apostels vergader is. Die N. Testamentiese kerk van Christus.
Die kerk van Christus is nie iets wat ’n mens kan of mag
ignoreer nie. Deur die kerk te vul met sy Gees het God dit tot
’n teken van sy aanwesigheid op aarde gemaak.

Wat is tiperend vir die kerk? Dit is geloof in Jesus Christus.
Van die kerk bely ons dat dit "’n heilige vergadering
van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hul saligheid in
Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en
verseël deur die Heilige Gees" (art 27 van die NGB). Dit is
goed om onsself aan die kwalifikasie van die kerk te herinner.
Die kwalifikasie kan na twee kante toe bedreig word.

Aan die een kant kan ’n mens allerlei kulturele of
nasionale verworwenhede gaan sien as karakteristieke eienskappe
vir die kerk. Wat tipies by die Nederlandse of die Afrikaner of
die Sotho of Zulu kultuur behoort, kan dan tot ’n kenmerk
van die ware kerk verhef word. So kan mense mekaar bo die Skrifte
gaan bind. Daarom is dit belangrik om te onderskei tussen
gewoontes en praktyke wat kultureel of histories bepaal is en
praktyke wat direk op die woord van God gegrond is. Die kerk is
’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo.
Geloof is dit wat ons moet verenig en nie bepaalde tradisies of
gewoontes nie.

Aan die ander kant kan ’n mens ook val in die uiterste om
dan maar elkeen wat wil as lidmate te verwelkom, ongeag wat hulle
glo aangaande Christus en die andere Bybelse waarhede. Ons sou
dan die fout begaan dat ons die onderskeid tussen kerk en wêreld
ophef. Die Bybel benadruk dat geloof in die evangelie van Jesus
Christus vir die kerk van Christus kenmerkend moet wees.

Broers en susters, toon ons as gemeenskap dat ons die kerk van
Christus is? Deur ’n ware geloof wat ons verbind aan
Christus en al sy weldade? Toon ons as kerk ’n eie karakter,
onderskeie van die van die wêreld? Ons glo aan ’n heilige,
algemene Christelike kerk. Die wêreld het nie die geloof nie.
Hulle kan slegs afgaan op wat hulle sien. En wat sien hulle as
hulle na die kerk kyk? Sien hulle ’n gemeenskap met die Gees
vervul? Sien hulle die vrug van die Gees, die vrugte van Christus
se verlossingswerk? Sien hulle in die gemeente dat hulle God tog
nie kan ignoreer nie en dat Hy kragdadig aanwesig is? Of is dit
so dat hulle niks besonder by ons kan ontdek nie?

"En hulle is almal vervul met die Heilige Gees."
Almal. Nie slegs die 12 apostels nie. Ook die meer as honderd
ander Christene: manne, vroue en waarskynlik selfs seuns en
dogters. Wat hier gebeur is immers ’n vervulling van Joel se
profesie: "En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my
Gees uitstort op alle vlees." Wat ’n geweldige
deurbraak in die lig van die OT. Toe was die Gees slegs in ruime
mate toebedeel aan bepaalde persone. Veral aan profete, priesters
en konings, wat die Gees vir hul besondere ampte bekwaam gemaak
het. In die nuwe Testamentiese kerk het elke lid weer op ’n
besondere wyse die drie ampte ontvang. Julle is nou almal profete,
priesters en konings, gesalf deur die Gees van Christus.

Besef jy wat hier gebeur? In daardie gemeenskap het almal die
amp van alle gelowiges. Dit is daarom teen die gees van Pinkster
om die gemeente te verdeel in twee groepe: die geestelikes en die
leke, ampsdraers en eenvoudige lidmate. Dit is teen die gees van
Pinkster om te dink dat die ampsdraers verantwoordelik is vir
alle werk in die gemeente, terwyl die gewone lidmate slegs
’n voorwerp van sorg sou wees. Nee, almal is vervul. Almal
het die Gees van God ontvang. Almal is tot diens geroep en
toegerus. Julle almal moet dan ook betrokke wees by die lewe en
die getuienis van die kerk. Die kerk van Christus bestaan nie uit
passiewe toeskouers nie, maar almal word geroep en toegerus om
aktiewe medewerkers te wees, elkeen volgens sy eie gawes.

Broers en susters, het hierdie boodskap wel tot julle
deurgedring? Ook wanneer julle miskien liewer aan die kant sit of
liewer die rol van toeskouers vervul? Om met die Gees vervul te
wees is vir elke gelowige bestem. En dit dien om julle almal tot
lewende en aktiewe lidmate van die kerk te maak. Is ons as
gemeenskap met die Gees vervul? Sodat die amp van alle gelowiges
duidelik sigbaar is en elkeen op sy eie plek sy amp en beroep
gewillig en getrou uitvoer? Dan het die mense rondom ons geen
rede om te vra: waar is julle God nie. Hulle sal dit dan immers
duidelik kan sien in lewe van die gemeente? En in ons getuienis?

Ja, gemeente, God toon sy aanwesigheid nie slegs in die lewe
van die kerk nie (die tweede gedagte), maar ook in die
verkondiging van die evangelie. Dit is die derde gedagte van die
preek.

"Hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin
spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te
spreek." Lukas verklaar nie hoe alles presies gebeur het nie.
Twee dinge val onmiddellik op: eerstens dat hulle in ander tale
spreek en tweedens dat die spreek in ander tale onmiddellik
verstaan word. Niemand hoef dit eers uit te lê, soos dit die
geval was in die gemeente te Korinte nie (1 Kor 14). Mense van
oos en wes, noord en suid hoor elkeen hoe hulle in hul eie taal
oor die groot dade van God spreek. Geen tolk is nodig nie. God
sorg daarvoor dat elkeen die verkondiging verstaan in hul eie
moedertaal. Waarskynlik het ons hier dus te doen met ’n
spreek en hoor wonder.

Vervul met die Gees begin hulle te spreek. Dit is al ’n
deurbraak. Daarvoor was God se volk so te sê binne sy grense
opgesluit. Hulle het die kennis van God ontvang, maar dit was
veral vir hulself bestem. Met Pinkster word dit anders. Hier kry
ons die begin van die wêreldwye veldtog van die kerk met die
evangelie van Christus. Van nou af aan is God se volk ’n
sprekende en getuigende volk. Om te getuig word ’n kenmerk
van die kerk. Paulus skryf aan die Thessalonicense "want van
julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in
Macedonië en Achaje nie, maar ook op elke plek het julle geloof
in God uitgegaan" (1 Thess 1:8). Kan dit van ons gesê word,
dat God se woord van ons uit weerklink. Daardie verbreiding van
die evangelie is een van die maniere waarop God sy aanwesigheid
op aarde sigbaar maak. As ons as gelowiges of as kerk swyg hoe
sal dan die wêreld kan weet dat God in Christus Jesus tot
redding aanwesig is?

Die verkondiging van God se Woord het ’n adres. Dit word
gehoor deur mense uit allerlei windstreke, oos, wes, noord en
suid. Pinkster beoog die verkondiging van die evangelie aan elke
nasie wat onder die hemel is (vers 5). Mense uit elke stam en
nasie, volk en taal moet dit hoor. Met die Gees vervul gaan
Christus se volgelinge onmiddellik mense uit elke nasie en taal
aanspreek. Die Gees stel hulle in staat om so te spreek dat alle
luisteraars hulle in hul eie taal verstaan.

Pinkster is dus die teendeel van Babel. God kondig die herstel
van die eenheid van die mensheid, wat by Babel verbreek is, aan.
By Babel het God die taal van die hele aarde verwar (Gen 11:9).
Met Pinkster oorbrug God alle taalkundige en kulturele
versperrings. Jode en Jodegenote uit allerlei nasies hoor die
evangelie en word geroep om hulle te voeg by die een algemene
Christelike kerk.

Die Bybelboek Handelinge toon hoe die Heilige Gees die
evangelie laat uitgaan van Jerusalem na Judea en Samaria en tot
aan die uiterste van die aarde. Na Pinkster is die kerk ’n
sendings kerk. Die evangelie moet uitgaan tot aan die uiterste
van die aarde. In hoeverre is ons sendings kerk? Gefokus op die
verbreiding van die evangelie? Watter boodskap stuur ons uit deur
woord en daad?

Wel, gemeente, waar is God in ons land en wêreld? Herken
julle Hom as die aktief aanwesige God? Juis na Pinkster laat God
sy kragtige aanwesigheid op aarde sien. Waar herken jy Hom dan?
In die volheid van sy Gees, in die ryke uitdeling van Christus se
skatte en gawes. In die lewe van sy kerk. Die feit dat hier nog
’n kerk van Christus bestaan is reeds ’n duidelike
bewys van God se kragtige aanwesigheid. Tenslotte herken jy God
in die verkondiging van die evangelie. Sien hoe die goeie nuus in
ons land en in die hele wêreld nog steeds versprei word. So is
God op ’n kragtige manier besig om verlore sondaars te roep
en sy wêreldwye kerk te voltooi.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)