Christus lei ons in die wêreld van sy liefde

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-07-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 2
Verwysing: 
HK 2-0
Preek Inhoud: 

Sondag 2

Ds HH van Alten - Sondag 30 Julie 2006

Lees: Joh. 13:1-20, 31-38; Rom. 13:8-14; HK Sondag 2
Sing: Sien liturgie

Tema:  Christus lei ons in die wêreld van sy liefde

  1. Christus onthul sy eie liefde
  2. Hy onthul die nuwe liefdesgebod
  3. Hy onthul ons liefdeloosheid

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Daar was ‘n slag ‘n kind wat vir sy ma gevra het: “Maak asseblief die gordyne toe, want daar kom so baie stof in die kamer wanneer die son daarin skyn.” ‘n Stukkie onkunde van dié kind, dink jy nie? Want wat hy nie besef het nie, is dat die stof gaan bly, ook al word die gordyne toegetrek. Ja, dis waar, hy gaan dit nie sien nie, maar dit maak die aanwesigheid van die stof in die kamer nie minder nie.

Gemeente, ons is ook soms soos hierdie kind. Ons verkies ook dat die gordyne liewer toe bly oor ons lewens, ons verkies dat die skerp lig liewer buite gehou word. Want ons hou so baie van ons gemaksone in die donkerte; dáár kan ons ten minste leef met onsself, dáár kan ons selfs nogal goed voel oor onsself. Ja, ons is soms soos ‘n klein kind wat sy hand voor sy oë hou en dan dink dat ander hom nie kan sien nie – as ons maar net in die donkerte kan bly, dan is die sonde nie sigbaar nie, dan kan niemand dit sien nie, en hoef ons nie met hierdie aaklike skuldgevoelens rond te loop nie. Maar as die lig eers oor ons lewens skyn, dan… ja, dan kan ons dit nie meer ontken nie, dan kan ons onsself nie meer onkundig hou nie, dan staan ons oop en bloot in al ons sondigheid. 

Broers en susters, hoe graag ons ook al in die donker bly sit, die Kategismus maak nie die gordyne toe nie, dit hou nie die lig buite nie. Inteendeel, die Kategismus trek die gordyne wawyd oop, sodat elkeen van ons in die helder kollig geplaas word, die kollig van God se wet. Dit is immers die wet van God wat ons ons ellende laat ken, die donkerte hier binne-in ons. Só sê Paulus dit in Romeine 7:7: “… ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie”, en só bely ons dit ook in v/a 3. Wanneer die wet in ons lewens sy lig laat skyn, dan begin ons dit raaksien: “Eer jou vader en jou moeder” – ja, ek was hierdie week weer ongehoorsaam teenoor pa en ma; “jy mag nie doodslaan nie” – ja, nou sien ek dat ek daardie persoon oneer aangedoen het deur agter sy rug te praat; “jy mag nie egbreek nie” – nou verstaan ek dat ek gister op ‘n verkeerde manier na daardie man of vrou gekyk het. Die wet van God dui baie presies aan hoe sondig en ellendig ek is, hoe diep my ellende eintlik is; die wet verlig elke hoekie en gaatjie van my lewe… 

Maar gemeente, dit is belangrik dat ons hier ook nog iets ekstra sê. Bo-aan Sondag 2 staan: DIE EERSTE DEEL: DIE ELLENDE VAN DIE MENS – dit is dus die eerste deel van die Kategismus. En dan volg vanaf Sondag 5 die tweede deel, wat handel oor die verlossing, en vanaf Sondag 32 die derde deel oor die dankbaarheid. Maar is dit chronologiese stappe wat die Kategismus hier uitspel? Moet ons eers deel 1 afhandel om vervolgens na deel 2 te kan gaan? Dit is ‘n gedagtegang, broers en susters, wat al dikwels in die geskiedenis kop uitgesteek het. En dit leef vandag nog – eers moet ek op my eie hierdie eerste fase deurloop, eers moet ek self in my lewe gaan krap en grawe om daar die diepte van die ellende te peil, eers moet ek deur selfondersoek die krag van die sonde in my lewe ervaar, voordat…  

U kan uself miskien voorstel watter genadelose sweep die wet in so ‘n denkwyse word. Miskien ervaar u dit self in u eie lewe: Ek mag nie dit nie, ek mag nie dat nie – en met elke “mag nie” tref die sweep harder en seerder. Wie het daarna nog krag oor om die verlossing op te soek? Maar gemeente, dit is nie hoe die Kategismus dit bedoel nie; dit is nie chronologiese stappe nie; nie eers ellende, en daarna verlossing nie. Immers, ons het verlede week begin op die hoogtepunt: my enigste troos in lewe en in sterwe… Jesus Christus! Hy is my getroue Verlosser, Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Ek behoort aan Hom! Hy laat my nie meer los nie! Ek is nie op my eie wanneer ek die diepte van my sonde leer raaksien nie, ek is nie oorgegee aan die sweepslae van die wet nie, kennis van my ellende is geen doen-dit-self-fase nie; nee, ook dán behoort ek aan Jesus Christus.

En hoe mooi kom dit nie na vore in v/a 4 nie; ons het gesien dat ons ons ellende ken uit die wet van God, maar: “Wat eis die wet van God van ons?” En dan verwag ons almal om te hoor wat ons alles moet en nie mag doen nie. Maar nee, dit is nie wat die Kategismus doen nie; die Kategismus begin nie om die tien gebooie op te noem nie – dit kom in sondag 34 by die deel van die dankbaarheid. Maar niks daarvan in Sondag 2 nie; nee, in Sondag 2 word eenvoudig Jesus Christus aan die woord gestel. Jesus Christus, my enigste troos in lewe en in sterwe, Hy bepaal wat die inhoud van die wet is, Hy wat my van al my sondes en van die heerskappy van die duiwel verlos, Hy leer my wat die wet eis. Ek hoef nie alleen hier in my donker hart te gaan rondkrap nie, nee, Jesus Christus vat my aan die hand, en Hy lei my in in die wêreld van sy liefde. 

Ek het die boodskap van Sondag 2 daarom ook soos volg saamgevat:

Tema:  Christus lei ons in die wêreld van sy liefde

  1. Christus onthul sy eie liefde
  2. Hy onthul die nuwe liefdesgebod
  3. Hy onthul ons liefdeloosheid

1. Ons lees in Johannes 13:1 dat Jesus sy eie mense, dus sy volgelinge, liefgehad het tot die einde toe – ons kan hierdie “tot die einde toe” verstaan in chronologiese sin, naamlik dat Jesus sy volgelinge liefhet tot die einde van sy lewe hier op aarde. Maar meer as ‘n blote tydsaanduiding dui hierdie “tot die einde toe” ook op die intensiteit van Christus se liefde; Jesus het lief tot in die hoogste moontlike graad, sy liefde bereik die toppunt! En dit is wat in hierdie vers sentraal staan, veral as ons let op wat in die vervolg gebeur.

Dit het etenstyd geword en die laaste paasmaaltyd sou begin. Die duiwel het alreeds begin om sy planne in die hart van Judas Iskariot te saai, en Jesus het dit geweet, maar Hy laat Hom nie daardeur afsit nie. Nee, hoekom sou Hy? Immers – so lees ons in vers 3 – die Vader het alles in sy hande gegee! Jesus het alle mag gehad, die duiwelse planne in die hart van Judas het Hom nie afgeskrik nie. Gemeente, Jesus is op hierdie stadium baie goed bewus van sy hoë afkoms – Hy kom van die Vader af! En Hy bly nie hier op aarde nie, nee, Hy is op deurreis, Hy is weer oppad terug na die Vader.  

En juis op hierdie oomblik, juis wanneer Hy in besonder bewus is van sy goddelike mag, juis wanneer Hy sy hoë afkoms en bestemming baie goed besef, juis dán kom Jesus tydens hierdie laaste paasmaaltyd, en verneder Hy Homself tot die uiterste toe! In nederige slawewerk demonstreer Jesus sy grootheid.

So sien Johannes en die ander dissipels hoe Jesus van die maaltyd af opstaan, sy bo-klere uittrek en ‘n eenvoudige linnedoek om sy middel vasmaak. Daarna gooi Hy water in ‘n bak wat daar gereed gestaan het, en begin Hy die voete van sy dissipels was en dit daarna met die linnedoek om sy middel afdroog. Hierdie optrede van hul meester het die dissipels sekerlik in groot verleentheid gebring, want dit was ongehoord dat ‘n persoon van ‘n hoër status die voete moes was van iemand met ‘n laer status. Maar Jesus wil sy diensknegte dien! Hy bewys liefde van die hoogste graad wanneer Hy ter wille van sy mense bereid is om die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem.  

Dit is nie duidelik of Petrus die eerste was wie se voete deur Jesus gewas is, of dat hy die eerste was wat geprotesteer het nie; in elk geval verwoord hy iets van die geskoktheid wat daar in die kring van die dissipels geheers het: “Here, gaan U my voete was?” Dit klop nie vir Petrus nie; hy het dan nog ‘n kort rukkie gelede bely: “… ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God” (Joh. 6:69). En nou sien hy hierdie Here in ‘n slawekleed… Hulle Here kan tog nie ‘n vernederende dienskneggestalte aanneem nie?

Gemeente, Petrus se reaksie is heeltemal begryplik, ons sou waarskynlik ook so gereageer het. Maar Petrus verstaan nog nie dat dit nodig is dat Jesus Homself verneder! En dat Jesus dit ook wíl doen, uit liefde vir sy eie mense. Dit is nie maar ‘n skaamtelose daad van selfvernedering nie, dis nie maar ‘n daad wat sê: “Kyk na my, en kry my jammer” nie. Nee Jesus bewys Homself hier as die Kneg van die Here, die Herder wat bereid is om sy lewe vir die skape af te lê! Vir jóú, Petrus! Vir my! Vir ú!  

Maar op hierdie stadium verstaan Petrus dit nog nie, en dit is begryplik, want die egte vernedering moet nog kom, die egte selfopofferende liefde volg net hierna op Golgota. En daarom sê Jesus ook: “Wat Ek doen, begryp jy nou (op hierdie stadium) nie, maar jy sal dit hierna verstaan.” As Petrus maar net toelaat dat Jesus nou sy voete was, sal hy met verloop van tyd insien hoekom die Here dit gedoen het. Eers in die lyde en sterwe van Jesus, wanneer Hy sy lewe sal aflê soos wat Hy hier sy klere afgelê het, dán sal hierdie slawediens duidelik word. Wanneer Hy Homself uiteindelik sal verneder tot in die dood, slegs met ‘n linnekleed om sy middel, dán sal Petrus die selfopofferende liefde van sy Here leer raaksien. “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil. 2:6-8). Liefde in die hoogste graad van ons Heer en Meester!

Ons let vervolgens daarop dat Christus die nuwe liefdesgebod onthul.  

2. Nog steeds wil Petrus nie byt aan die rustige verklaring van sy Here nie. Hy reageer skerp: “U sal my voete in der ewigheid nie was nie.” Vervolgens laat Jesus duidelik blyk wat die verreikende gevolge van Petrus se afwysing is: “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.” Hiermee wys Jesus op Petrus se saligheid; sy deel met Jesus in die ewige heerlikheid staan op die spel. As Petrus nie Jesus se dienende liefde, wat Hy by uitstek aan die kruis sal openbaar, wil aanvaar nie, het hy geen toegang tot die ewige koninkryk van sy Here nie! 

Skielik meen Petrus dat hy sy Here verstaan… Jesus wil natuurlik sy onreinheid wegneem met die oog op die ewige koninkryk! Maar as dít die geval is, laat Hy dan sommer alles was – so redeneer Petrus. En daarom vra hy vir Jesus: “Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.” Maar in sy antwoord wys Jesus dat dit hier by die voetwassing nie gaan oor die reiniging nie; Hy sê: “Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein.” Hierdie reaksie van Jesus word duidelik teen die agtergrond van die joodse reinigingsgebruike: mense wat die tempel besoek het, het normaalweg eers gaan bad voor hulle na die tempel vertrek het. Hoewel jou voete oppad daarheen weer vuil en stowwerig geword het, was dit nie nodig om weer te gaan bad nie. Om die tempel binne te kan gaan, was dit voldoende om eenvoudig jou voete te laat was.

Met sy voetwassing wou Jesus dus nie wys dat Hy nog enige onreinheid by sy dissipels moes wegneem nie; nee, hulle het reeds gebad, hulle was reeds rein omdat hulle in Hom geglo het, hulle het deur hulle geloof reeds deel aan sy komende lyding en dood aan die kruis gehad; sy liefdevolle selfopoffering is reeds hulle deel, omdat hulle dit in geloof aanvaar het. Dit was nie nodig om weer te bad nie.  

Wat hulle wél nodig het, is om nou ook daardie selfde gesindheid as hul Meester teenoor mekaar uit te leef! En dit is wat Jesus, wanneer Hy weer aan tafel gaan sit het, vir sy dissipels leer: “Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?” “Ek het nie julle voete gewas om julle daarmee te reinig nie; julle is rein deurdat julle my dienende liefde vir julle in geloof aanvaar het. Nee, Ek het julle voete gewas om julle te leer wat egte liefde is!” Jesus wou ‘n voorbeeld stel! Hulle noem Hom Meester en Here, en heeltemal tereg, want Hy is dit. Maar nou, in sy verhewe posisie as hulle Heer en Meester het Hy neergekniel en het Hy sy leerlinge se voete gewas. As Hy dit gedoen het, hoeveel te meer behoort hulle dan nie mekaar se voete te was nie! Sy dienende liefde word vir sy leerlinge ‘n verpligtende voorbeeld – gaan doen julle ook so!

En hierna verwys Jesus ook wanneer Hy later dié aand, in vers 34 sê: “’n Nuwe gebod gee Ek aan julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Hierdie gebod was nie nuut in die sin dat dit nog nooit voorheen gegeld het nie; nee, kyk maar na byvoorbeeld Lev. 19:17-18: “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie. Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Die nuwe van hierdie gebod het te make met die persoon wat die opdrag gee: Jesus self. ‘n Ou beginsel word opnuut gemotiveer deur die liefde van Christus.  

Hy wys met die voetwassing wat egte liefde is, en dit stel Hy dan as gebod om ook so teenoor mekaar op te tree. Geen dienskneg mag homself verhewe ag bo hierdie styl van sy heer nie, geen dissipel mag ongehoorsaam wees aan hierdie gebod van sy leermeester nie. Nee, ons moet doen soos wat Hy gedoen het! Soos wat Hy sy klere uitgetrek het om hulle te dien, só moet sy volgelinge die werke van die duisternis aflê; en in die plek daarvan moet hulle hulself nou met Hóm beklee, om sodoende mekaar te kan dien. Dit is wat Paulus sê in Romeine 13:12 en 14: “Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. [En] beklee julle met die Here Jesus Christus…”

Broers en susters, dit sê die apostel aan die einde van ‘n gedeelte waarin hy opgeroep het tot die liefde: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê…” Die liefde is die een skuld wat nooit afbetaal word nie. Voortdurend is ons dit teenoor mekaar verskuldig; in elke gebod van die Here moet die liefde ons dryfveer wees. En dan noem Paulus ‘n aantal gebooie op: Jy mag nie egbreek nie (die sewende gebod) – wat is dit anders as om in ware liefde trou te wees teenoor jou eie man en vrou, en om in ware liefde ander manne en vroue in hul waarde te laat? Jy mag nie doodslaan nie (die sesde gebod) – hoe anders wil ek wegvlug van haat, belediging, afguns en woede as ek nie die liefde het nie? Jy mag nie steel nie (die agste gebod) – dit is tog om in liefde my naaste se besittings te respekteer, en sy belange waar ek kan en mag te bevorder? Jy mag nie begeer nie – hoe anders wil ek ‘n hartgrondige vyand van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê, as die liefde by my ontbreek?  

Gemeente, die liefde bring ons op ons knieë voor ons naaste, die liefde dien die naaste, die liefde is bereid om nederig te wees. En daarom, omdat die liefde die naaste op geen enkele manier kwaad doen nie, altyd die beste vir die naaste soek, daarom is die liefde die vervulling van die wet! Dan doen ons wat Christus ons beveel het, dan volg ons sy volmaakte voorbeeld in gehoorsaamheid na.

Dus: wat eis die wet van ons? Liefde, volgens die voorbeeld van Christus. En dít, broers en susters, kry ons slegs wanneer ons onsself met Christus beklee, soos Paulus sê in Romeine 13:14. Ons trek dus die ou lewensstyl uit, die lewensstyl van haat en afguns, die lewensstyl waarin ons voortdurend voorsorg maak vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig. En ons kry ‘n nuwe uitrusting: ons gee onsself met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand oor aan ‘n nuwe Heer. Slegs die persoonlike band met hierdie Redder is die regte beginpunt vir die lewe in die lig, omgord met die wapens van die lig.

Ons let ten slotte nog daarop dat Christus ons liefdeloosheid onthul. 

3. U kan uself voorstel hoe die dissipels moes gevoel het toe Jesus opgestaan het, Homself verneder het, en soos ‘n slaaf die voete van sy dissipels begin was het. Die kans dat die dissipels eenvoudig sou vergeet het om die voete te was, is skraal. Immers, die nipter, die bak waarin die voete normaalweg gewas is, het klaarblyklik daar gereed gestaan. Jesus het in elk geval nie moeite gehad om dit te vind nie. Nee, dit was nie onskuldige vergeetagtigheid nie; hier sit meer agter. Nie een van die dissipels kon homself so ver kry om die minste te wees nie. Die ou vraag oor wie die grootste in die Koninkryk van die hemele is (lees maar Mattheus 18), het ook hier maar weer parte gespeel: “Wie van ons is die grootste? Ons weet nog nie, maar dit gaan in elk geval nie my saak bevorder as ek nou hierdie ander se voete gaan was nie.” En wanneer Jesus dan opstaan om hulle voete te kom was, dan besef hulle tot hul skaamte: Hy is die grootste, omdat Hy bereid was om die minste te wees.  

Sien u gemeente, so openbaar die Here Jesus aan sy dissipels hulle liefdeloosheid. Hy gee aan hulle ‘n kykie in hulle eie harte, nie deur hulle met die wet te slaan nie, maar deur hulle neuse te druk op sy liefde vir mense. Dit was nie vir Hom nodig om iets te sê nie; al wat Hy gedoen het was om die volmaakte liefdesvoorbeeld te gee, en dit was genoeg om Petrus, rooi van skaamte, te laat protesteer: “Here, gaan U my voete was?”

En so werk die Here Jesus. Die wet op sigself is nie genoeg om ons ‘n besef van ons ellende te gee nie; moet daarom ook nie die wet op sigself beskou nie; dis nie: eers die wet, en daarna Christus nie. Nee, dis die wet van Christus – ja, dit slaan diep, dit tref seer. Elke keer as ons lees van sy liefdevolle gehoorsaamheid aan die Vader, elke keer as ons hoor van sy liefde vir mense, elke keer as ons sien met watter liefde Hy die wil van God volbring het, dan dring dit tot ons deur – ons doen dit nie…, ons kán dit selfs nie doen nie! Sy voorbeeld is te hoog gegryp vir ons, ons kan nie daardie standaarde handhaaf nie. Slegs in die lig van sy liefde, sien ons ons eie liefdeloosheid.

Ons moet daarom nie dink, broers en susters, dat ons hierdie indrukwekkende sondebesef gaan hê as ons die Here Jesus nie ken nie; die wet wat ons tydens die oggenddienste lees, gaan nie effek hê as ons nie sien dat dit wet van Christus is wat Hy in volmaakte liefde volbring het nie; moenie verwag dat u u liefdeloosheid gaan insien as u band met Christus nie gesond is nie – ook wanneer ons oor enkele weke nagmaal gaan vier, moet u nie probeer selfondersoek doen los van Christus nie.  

Maar wanneer ons wel aan Hom verbonde is, wanneer Hy wel ons enigste troos in lewe en in sterwe is, dan besef ons dit, dan word dit vir ons duidelik: ek is diep ellendig! Maar dan weet ons ook waar om die verlossing te gaan soek. Want my wetgewer is ook my Verlosser; Christus wat sê: Jy moet God bo alles liefhê en jou naaste soos jou self, sê ook: Ek is jou enigste troos in lewe en in sterwe, Ek het vir al jou sondes ten volle betaal en jou uit alle heerskappy van die duiwel verlos.

En hoe sterker my band met Hom dan word, hoe meer skyn sy lig in elke hoekie en gaatjie van my lewe; dinge wat ek voorheen nie as sonde beskou het nie, word skielik iets wat ek as belemmering begin sien vir my lewe met die Here; iets waaraan ek vroeër nie so swaar gedra het nie, word nou ‘n gebedsaak: “Here, verlos my van hierdie sonde.” Hoe swaarder dan die sonde weeg, hoe meer vlug ek na Hom wat my daarvan verlos. En Hy verlos werklik, broers en susters, want Hy het ons lief, sy liefde is eindeloos. Sy liefde is van dien aard dat Hy wat God was mens geword het, en Hy wat volmaakte mens was, het Homself oorgegee tot in die dood aan die kruis. Wie sal ons skei van hierdie liefde van Christus? Vervolging of benoudheid of honger of gevaar of swaard? Nee, dit kan ons nie skei van Christus se liefde nie! My eie sondigheid dan? Nee gemeente, wanneer ons ons eie sondigheid in die lig van sy kruis ontdek, dan kan ook dit ons nie van sy liefde skei nie. Leer ken daarom maar u sonde, bely dit maar, en wees dan versekerd dat niks u sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie!

Amen. 

Liturgie (aand) 

Groet en afkondigings
Seën: Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 18:1, 5 en 14
Gebed
Lees:  Johannes 13:1-20, 31-38
          Romeine 13:8-14
Kollekte
Sing Geloofsbelydenis
Teks: HK, Sondag 2
Preek
Amenlied Skr. 33
Gebed
Slotsang Ps. 116:1, 5 en 10
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)