Wandel in die goddelike lig!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-08-06
Teks: 
I Johannes 1:5 ─ 2:2
Preek Inhoud: 

1 Johannes 1:5-2:2

Ds HH van Alten - Sondag 6 Augustus 2006

Lees: 1 Joh. 1:1-2:2
Sing: Sien liturgie

Tema: Wandel in die goddelike lig! Johannes wys vervolgens wat hierdie oproep vir die praktyk van elke christen se lewe beteken. En dit doen hy deur drie bewerings van die dwaalleraars te vat en dit te weerlê. U sal onthou dat ons twee weke gelede gesê het dat Johannes sy brief skryf na aanleiding van dwaalleraars wat die gemeente geleer het dat die stoflike en materiële dinge onbelangrik is, en dat dit slegs gaan oor die geestelike dinge. Nou vat hy drie bewerings van hierdie dwaalleraars en hy weerlê dit om sodoende aan te toon wat dit beteken om in die goddelike lig te wandel.

  1. Die eerste bewering wat die dwaalleraars gemaak het, is: Ons het gemeenskap met God (1:6-7)
  2. Die tweede bewering wat hulle gemaak het, is: Ons het geen sonde nie (1:8-9)
  3. En ten slotte het hulle beweer: Ons het nooit gesondig nie (1:10-2:2)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Johannes het die inleiding van sy brief beëindig; ons het die vorige keer daarna gekyk. Die doel van sy skrywe was dat sy lesers, en ons vandag, gemeenskap met God en volkome blydskap kan ontvang. En dit ontvang ons deur die Woord van die lewe, Jesus Christus, wat Johannes en die ander apostels gehoor en gesien en gevoel het.

En dan begin Johannes in vers 5 met die verkondiging wat hulle van hierdie Jesus gehoor het. ‘n Mens sou verwag dat daardie verkondiging, sê maar, ‘n verdere uitwerking sou wees van dít waaroor dit in die inleiding gegaan het, naamlik gemeenskap met God en volkome blydskap. Maar Johannes verras ons met ‘n ander tema. Hy sê in vers 5: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”

Johannes sê dus dat Hy van Jésus gehoor het dat God lig is. Dit is opvallend, want ons vind dit nêrens in Jesus se onderwys in die vier evangelies nie. Inteendeel, Jesus self word juis die lig vir die wêreld genoem. Dink maar aan Mattheus 4:16: “die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan”; en Simeon noem die babatjie Jesus in Lukas 2:32 “’n lig tog verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel”; en Johannes self sê in sy evangelie: “die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld” (Joh. 1:9). Maar hier, in sy eerste brief, sê Johannes dat hy Jesus hoor verkondig het dat dit juis Gód is, wat lig is. Wie is dan nou die lig: God of Jesus Christus? 

Broers en susters, ons hoef hierdie twee nie teen mekaar uit te speel nie. God wat lig is & Jesus Christus wat die lig vir die wêreld is – dit kan baie goed saamgaan.

Aan die een kant is daar die Drie-enige God wat na sy aard, sy karakter, lig is; dit wys op sy heerlikheid, sy heiligheid. Die Ou Testament praat op verskillende plekke daarvan. Psalm 104:2 praat van God wat Homself omhul met die lig soos met ‘n kleed; en Habakuk sê in hoofstuk 3:4: “En glans soos sonlig is daar, ligstrale aan sy sy…”. God is dus een en al lig, daar is geen sweempie duisternis in daardie lig nie. En aan die ander kant is daar Jesus Christus, wat die vleeswording van daardie lig is ter wille van die mense. Christus bring die goddelike lig tot by die mense.

Wanneer Johannes dus in vers 5 sê dat God lig is, dan moet ons enersyds dink aan God se heiligheid en verhewenheid, maar dan moet ons andersyds ook daaraan dink dat Hy daardie heiligheid geopenbaar het, bekend gemaak het. Jesus Christus het die goddelike lig op aarde gebring, Hy is die lig vir die nasies!  

Gemeente, hoe anders praat die bybel nie oor die lig as die ander godsdienste van daardie tyd nie… Ook in ander godsdienste uit die eerste eeu was lig ‘n populêre beeld, maar dáár funksioneer dit baie meer om die gode se verhewenheid en onaantasbaarheid te benadruk. Daar bo is die lig van die gode, hieronder is die mense in duisternis. Die dwaalleraars in die gemeente waaraan Johannes skryf, het iets dergeliks geleer: hieronder is die duisternis van die materiële en die stoflike dinge, daarbo is die lig van die goddelike en geestelike dinge; en ons moet sorg dat ons, deur onsself van die aardse dinge los te maak, by daardie lig uitkom.

Maar die Skrif praat anders, die Skrif gebruik die beeld van die lig om te wys dat God, in sy verhewenheid, tog nou betrokke is by die wêreld. Ja, God is verhewe, Hy is heilig, Hy bewoon ‘n ontoeganklike lig (soos Paulus sê in 1 Tim. 6:16), en tog openbaar Hy daardie lig aan mense, tog kom Hy met daardie lig na mense toe. Mense wat in duisternis vasgevang is, wat ronddwaal sonder om werklik te weet waarheen hulle gaan, wat hulself beseer en in gevaar stel omdat hulle nie eintlik weet hoe om verder te gaan nie, word skielik omstraal deur die goddelike lig in die Persoon van Jesus Christus. Ons hoef nie, soos die dwaalleraars geleer het, na daardie lig op te klim nie, daarna te probeer gryp nie. Nee, God géé die lig, sodat mense kan deel in daardie lig; Hy géé die lig, sodat ons mense van die lig kan wees; God verlig ons, sodat ons gemeenskap met Hom kan hê.  

En nou sien ons, broers en susters, hoekom Johannes na sy inleiding (verse 1-4) juis met hierdie tema verder gaan; dit is nie so verrassend as wat ons aanvanklik gedink het nie. Nee, kyk maar na verse 1-4: ons ontvang die gemeenskap met God en die volkome blydskap deur Jesus Christus; Hy laat ons deel in die goddelike lig. En nou die oproep vanaf vers 5 om ook in daardie lig te bly. Dit is dan ook die oproep van die woordverkondiging:   

Tema: Wandel in die goddelike lig! Johannes wys vervolgens wat hierdie oproep vir die praktyk van elke christen se lewe beteken. En dit doen hy deur drie bewerings van die dwaalleraars te vat en dit te weerlê. U sal onthou dat ons twee weke gelede gesê het dat Johannes sy brief skryf na aanleiding van dwaalleraars wat die gemeente geleer het dat die stoflike en materiële dinge onbelangrik is, en dat dit slegs gaan oor die geestelike dinge. Nou vat hy drie bewerings van hierdie dwaalleraars en hy weerlê dit om sodoende aan te toon wat dit beteken om in die goddelike lig te wandel.

  1. Die eerste bewering wat die dwaalleraars gemaak het, is: Ons het gemeenskap met God (1:6-7)
  2. Die tweede bewering wat hulle gemaak het, is: Ons het geen sonde nie (1:8-9)
  3. En ten slotte het hulle beweer: Ons het nooit gesondig nie (1:10-2:2)

1. Die eerste bewering wat die dwaalleraars gemaak het, is dat hulle gemeenskap met God het. Hulle het dus aanspraak gemaak op dít wat Johannes in sy inleiding aan sy lesers aangebied het, naamlik gemeenskap met God. Dít wou Johannes by sy lesers bewerk deur die verkondiging van Jesus Christus. En hiervan het die dwaalleraars gesê: “Maar… ons het dit al, ons het al deel aan die goddelike natuur!”

En dan rig Johannes hulle aandag op sekere aspekte van hulle lewenswandel wat nie verenigbaar is met ‘n lewe in gemeenskap met God nie. Hierdie mense was besig om vir hulself en ander te lieg deur te beweer dat hulle gemeenskap met God het, terwyl hulle intussen in sonde geleef het. Om in gemeenskap met God te lewe, beteken om in sy lig te lewe, maar hierdie mense het nie in die lig gelewe nie!!! Hulle lewens het dan gewys dat hulle besig was om in die duisternis te wandel!  

Maar gemeente, wat was daar dan in die lewenswandel van die dwaalleraars wat gewys het dat hulle besig was om in die duisternis te lewe? Waaraan kon Johannes dit sien? Johannes wys in vers 7, op ‘n positiewe manier, wat kenmerkend is van ‘n lewe in die lig. Hy sê daar: “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan 1) het ons gemeenskap met mekaar; en 2) die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde.”

Dít is dus waarskynlik wat by die dwaalleraars geskort het. Enersyds wou hulle nie gemeenskap met die ander gelowiges onderhou nie; hulle het hulself hoër as die ander gelowiges geag, gemeen dat hulle al verder was op die pad van verlossing; daarom was dit, volgens hulle, nie nodig om met die agterosse gemeenskap te bly hou nie. En andersyds wou hulle nie reiniging van sonde in die bloed van Christus aanvaar nie – u onthou miskien dat hierdie dwaalleraars nie wou aanvaar dat Christus ‘n mens van vlees en bloed was nie, en daarom was daar, volgens hulle, ook nie reiniging van sonde by Hom te vinde nie.

Gemeente, hierdie twee kernaspekte sien Johannes by die dwaalleraars raak en daarom is sy konklusie: “Maar… julle lewe nie in die lig nie; kyk dan na julle lewenswandel! Julle lewenswandel getuig van duisternis! En duisternis gaan nie saam met lig nie!”  

Sien u, broers en susters, u en my lewenswandel wys of ons werklik gemeenskap met God het. Ons kan nie sê dat ons gemeenskap met God het, en intussen in die sonde bly lewe nie; ons kan nie sê dat ons deel het aan die goddelike natuur, en dan intussen in die duisternis bly wandel nie; u kan nie daarbuite uself presenteer as ‘n christen en intussen die lewe van ‘n heiden lei nie. Dan lieg ons, dan doen ons nie die waarheid nie!

Om gemeenskap met God te hê, beteken in die praktyk van ons lewens om dan ook in sy heilige lig te wandel. As ons besef dat God lig is, en in Hom géén duisternis is nie, dan besef ons ook dat die gemeenskap met Hom in dáárdie lig móét geskied. Duisternis is nie deel van daardie lig nie; dus, dan kan duisternis – die sonde – ook nie meer deel van ons lewenswandel wees nie. Ja, dan is daar nog wel baie duisternis rondom ons; ons lewe immers in ‘n wêreld vol duisternis, ‘n wêreld vol sonde en die gevolge van die sonde; maar dan lewe ons nie meer in daardie duisternis nie. Nee, dan word elke christen soos iemand wat op ‘n donker verhoog in die helder lig van die kollig loop; hy beweeg stadig vorentoe sodat hy in die lig kan bly, sonder om te verdwaal of te struikel; en terwyl hy in die lig wandel, doen hy die dinge wat pas by daardie lig, tree hy op soos ‘n kind van die lig, en lê hy alle werke van die duisternis af.   

Gemeente, laat ons in daardie lig wandel. U wat uself ‘n christen noem, lewe ook soos ‘n christen, doen die werke van die lig! En as ons in God se lig wandel, dan is ons nie alleen nie, ons is nie enkelinge op die pad nie. Nee, ons ontmoet ander wandelaars in die lig, mede-gelowiges, die mense wat hier in die kerk om u heen sit. Hulle is mede-wandelaars in die lig! U mag, nee, u moet met hulle gemeenskap hê; wandelaars in die lig wys mekaar nie af nie, laat mekaar nie alleen nie. Ons hou ons nie in hoogmoed afsydig van ons mede-wandelaars nie. Nee, ons vind mekaar juis in die besef dat ons almal, een vir een, reiniging van sonde nodig het in die bloed van Jesus Christus. Dit bind ons saam hier in die gemeente. En elke keer as daar nog iemand bykom in daardie ligkring, elke keer as daar, soos vanoggend, ‘n kind gedoop word, dan groei daardie kollig, dan groei die sigbaarheid van God se heerlikheid in ‘n donker wêreld.

Broers en susters, om gemeenskap met God te hê, beteken om gemeenskap met mekaar te hê, dit beteken om gereinig te word in die bloed van Christus. Gemeenskap met God word dus sigbaar in ons lewenswandel.

Ons let vervolgens op die tweede bewering van die dwaalleraars wat deur Johannes weerlê word.  

2. Ons het gesien dat Johannes die dwaalleraars daarvan beskuldig dat hulle beweer om gemeenskap met God te hê, terwyl hulle eintlik in die duisternis, die sonde, wandel. Dit wil voorkom asof die dwaalleraars hierdie beskuldiging ontken het. “Ons het geen sonde nie” was hulle antwoord. En dit word weerspieël in die eerste woorde van vers 8: “As ons sê dat ons geen sonde het nie…” – en dit is presies wat die dwaalleraars beweer het.

Gemeente, die gedagte dat ‘n mens in hierdie lewe alreeds sonder sonde kan lewe, dus volmaaktheid kan bereik, het gereeld in die geskiedenis van die kerk kop uitgesteek. Ons noem dit die perfeksionisme, en ons vind dit ook in ons tyd in charismatiese en metodistiese groepe. In hierdie groepe word dikwels gepraat van ‘n ‘second blessing’ (‘n tweede seën) wat die gelowige in staat sou stel om vandag alreeds sondeloos te lewe.

Die dwaalleraars in Johannes se tyd het nog nie van ‘n ‘second blessing’ geweet nie, maar ook hulle was van mening dat hulle tydens hierdie lewe reeds ‘n toestand van sondeloosheid kan bereik. Immers, hulle was tog geestelike mense… hulle het tog nie meer probleme gehad met die aardse en die stoflike nie… Nee, hulle het nie reiniging van sonde nodig gehad nie. Hulle het mos in gemeenskap met God geleef…! 

Maar Johannes wys baie duidelik in verse 8 en 9 dat om in gemeenskap met God te leef, nie beteken dat ons sondeloos word nie. Nee, dan mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons. Dit stry immers teen alles wat die Skrif oor die mens sê. Dink aan Psalm 130: 3: “As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” En wat van Romeine 3:10: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.” En Paulus moet in Romeine 7:21 bely: “… as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig.” Maar, gemeente, behalwe dat dit teen die Skrif stry, stry dit ook teen wat ons self beleef. Hoe ken ons nie Paulus se stryd nie, hoe beleef ons nie die mag van die sonde in ons lewens nie, sodanig dat ook ons soms uitroep: “Ek, ellendige mens…”

Nee gemeente, om in God se lig te mag wandel, maak ons nie sondeloos nie; dit is ook nie ‘n vereiste van God nie, ons hoef nie sondeloos te wees om in sy lig te mag wandel nie. Maar gemeente, wanneer ons in sy lig wandel, dan word ons wel haters van die sonde. Wie die heerlikheid van God se lig leer ken, kry – net soos God – ‘n afkeer van alle vorme van duisternis, in besonder van die duisternis hier in sy eie hart. Wie gemeenskap met God het, streef daarna om ‘n einde te bring aan enige vorm van gemeenskap met die sonde.  

En dit begin, broers en susters, deur die sondes wat nog in ons lewens oorgebly het, te bely. En dit is waartoe Johannes oproep in vers 9. Die woord wat hier vir ‘bely’ gebruik word, word meestal gebruik om te wys dat iemand openlik vir sy geloof uitkom. Dit is daarom moontlik dat Johannes hier nie slegs verwys na die persoonlike skuldbelydenis in die gebed nie, maar na ‘n openbare skuldbelydenis. So iets vind ons ook in Handelinge 19:18, waar ons lees: “En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak…”, asook in Jakobus 5:16: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar…” Miskien is dit ‘n gebruik waaroor ons in ons kerke weer moet nadink.

Hoe dit ook al sy, broers en susters, Johannes roep ons op om ons sondes te bely. Want ons word tydens hierdie lewe nie sondeloos nie; inteendeel, die doopouers het vanoggend juis bely dat hulle kind in sondes ontvang en gebore is en daarom aan allerhande ellende, ja, selfs aan die ewige oordeel onderworpe is. En ook volgende week, wanneer ons na die nagmaal kom, dan gee ons daarmee nie te kenne dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie; inteendeel, daar is nog baie sondes en gebreke in ons hart en lewe: ons het nie ‘n volmaakte geloof nie; ons dien God nie met so ‘n ywer as wat ons verskuldig is nie; en ons moet daagliks stry teen die swakheid van ons geloof en die sondige begeertes van ons vlees. Ons kom juis na die nagmaal omdat ons weet dat geen sonde of swakheid wat teen ons wil in ons oorgebly het, kan verhinder dat God ons in genade aanneem nie. Broers en susters, ons mag gemeenskap met God hê, want vergifnis is moontlik, reiniging is moontlik, maar laat ons dan ons sondes bely! Laat ons ons sondes bely as sondes, as ons sondes, konkrete sondes waarvoor ons vergifnis nodig het. Laat ons soos Dawid in Psalm 32:5 sê: “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” En dan is die Here getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Gemeente, ons mag in gemeenskap met God lewe, ten spyte van ons sondes, ten spyte van ons liefdeloosheid. Maar laat ons nooit verval in ‘n lewe van sonde nie; laat ons telkens weer, konkreet en opreg, ons sondes bely. Laat die lig van God se heerlikheid telkens weer die sondes aantoon en ons in berou na Christus dryf – sy bloed reinig ons, sy bloed herstel die gemeenskap met God elke keer weer, sy bloed laat God se aangesig weer vriendelik oor ons skyn.

Ons let ten slotte op ‘n laaste bewering van die dwaalleraars wat Johannes weerlê. 

3. Die dwaalleraars gaan nog ‘n stappie verder – hulle sê nie slegs dat hulle tans geen sonde het nie, maar ook dat hulle in die verlede nie gesondig het nie. Johannes wys dat hulle met hierdie bewering die toppunt bereik – want waar hulle met die vorige bewerings gelieg het en hulself mislei het, maak hulle nou God tot leuenaar. Dit is die ergste! God sê immers in sy woord dat alle mense sondig is, dat alle mense Jesus Christus nodig het, en nou beweer hierdie dwaalleraars dat hulle dit nie nodig het nie omdat hulle nog nooit gesondig het nie. Daarmee maak hulle God tot leuenaar en is sy woord nie in hulle nie.

Maar voordat Johannes verder gaan om hierdie dwaling te weerlê, voeg hy iets belangriks in. Hy onderbreek kortliks die lyn van sy betoog met ‘n bewoë uitroep in hoofstuk 2:1: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie…” Hoekom doen Johannes dit? Hoekom sou hy sy duidelike struktuur verbreek? Wel, Johannes het in die voorafgaande gestry teen die dwaling van die perfeksionisme; hy het gewys dat ons hier op aarde nooit ‘n toestand van sondeloosheid sal bereik nie, en hy het gewys dat God se vergewing oorvloedig is vir elkeen wat sy sondes bely. Maar nou is dit asof hy bang is dat die lesers gemaklik oor die sondes kan begin dink, dat hulle gaan dink dat die sonde nie so ernstig is nie.

Johannes roep hier dus nie op tot sondeloosheid nie, maar hy wil bereik dat die christene minder maklik sal sondig. Gemeente, die feit dat daar vergifnis is in oorvloed, beteken nie dat ons maar kan voortgaan om te sondig nie. Nee, steeds weer kom die oproep van die Here Jesus in Johannes 5:14: “… moenie meer sondig nie.” Steeds moet daar die strewe wees om die sonde teen te staan, steeds moet ons daarna soek om binne die kollig van God se heerlikheid te bly, onsself nie daarbuite in die duisternis te waag nie.

Maar, en so keer Johannes weer terug na die bewering van die dwaalleraars dat hulle nog nooit gesondig het nie, as iemand wel gesondig het, het God genadiglik voorsiening gemaak om die gemeenskap weer te herstel. Ons het ‘n Voorspraak by die Vader. Jesus Christus is ons Advokaat, Hy tree vir ons in by die Vader, Hy gee Homself as die versoening van ons sondes. Hy sê: “Vader, hier is ek! Kyk na my, laat hulle vrygaan, want Ek het betaal!” Roep Hóm daarom in as u hulp, roep Hóm in om u by te staan; Hy is die Regverdig, Hy kan vir u instaan.  
 
Gemeente, om in gemeenskap met God te lewe, beteken om in sy goddelike lig te wandel. Om in gemeenskap met God te lewe, beteken om van die sonde weg te vlug en die dinge van die lig te doen! Laat u lewenswandel daarom weerspieël dat u uself nie meer met die duisternis besig hou nie. Verwyder daarom uit u lewe alle sondes, alle liefdeloosheid. Laat dit ook blyk dat jy in die goddelike natuur deel!

En as jy wel gesondig het, en ons doen dit dikwels, moet dan nie moedeloos word nie. Gaan na God toe, kom elke sondag onder sy genadige woord, kom volgende week na die nagmaal van ons Here! Want as jy oor die sondes van harte berou het, dan is God se lig op daardie oomblik vir jou nie meer ‘n verterende vuur waarvoor jy bang hoef te wees nie, dan is sy lig nie ver van jou af nie. Nee, dan is sy lig naby aan jou! Jesus Christus, die lig tot verligting van die nasies, tot vergifnis van ons sondes, tot herstel van die gemeenskap met die Vader. Die goddelike lig het by die mense gekom, sodat mense soos u en ek in die goddelike lig mag deel.

Wandel dan ook in daardie lig, vandag op die Sondag, maar ook van Maandag tot Saterdag. Lewe daarin, as jy gaan lê en as jy opstaan, as jy in jou kar klim en werk toe gaan, as jy klas loop en sokker speel, as jy inkopies doen en kinders bad, as jy kuier en plesier het. Doen dit alles in die lig!

Amen

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 56:4
Wetslesing
Sing Ps. 19:4 en 6
Gebed
Doopsbediening en dankgebed
Sing Ps. 105:4 en 5
Lees: 1 Johannes 1:1-2:2
Sing Ps. 36:2-3
Teks: 1 Joh. 1:5-2:2
Preek
Amenlied Skr. 3
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 89:6, 8 en 11
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)