Die ware geloof werk iets uit in jou lewe

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-08-13
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 24
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 24

Ds C Kleijn - Sondag 13 Augustus 2006

Lees: Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel
24; Johannes 15:1-11.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 116:1,4 (voor
HN); Ps 116:7,9,10; Ps 99:1,2; Ps 92:6,7; Ps 99:3-5.

Tema: Die ware geloof werk iets uit in jou lewe

  1. wat God van jou as gelowige mag verwag
  2. wat jy as gelowige van God mag verwag

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Gered deur genade en nie deur werke nie. Dis onder ons ’n
bekende waarheid. Maar ook ’n moeilike waarheid. Dit tas ons
menslike hoogmoed aan. Daar is steeds die versoeking om in ieder
geval ’n bietjie op eie werke te vertrou. Ons hou daarvan om
te dink dat ons onsself kan red. Dit voel nie lekker om afhanklik
te wees nie. Dis vernederend om te erken dat ek geestelik bankrot
is, dat ek heeltemal niks aan my saligheid kan bydra nie. Dis nie
maklik om te erken dat ek ’n dief en ’n moordenaar is
aan wie kwytskelding, begenadiging gegee is. Want dit is wat ons
van nature feitelik is. Diewe, mense wat God se gawes misbruik en
onsself toe-eien. Moordenaars, mense wat hul eie lewe en die lewe
van ander skade aandoen. Ons het die ewige dood, oftewel
lewenslange tronkstraf, verdien. Maar God gee kwytskelding. Dink
vir ’n oomblik daaroor na. Terwyl jy die ewige dood verdien
het, ontvang jy begenadiging. Dit maak ’n mens nederig en
dankbaar.

Gered deur genade, dis moeilik om te aanvaar. Dit maak ’n
mens ook onrustig oor die gedrag van mense. As jy nie goeie werke
hoef te doen om dit weer reg met God te maak nie, gaan jy dan nie
kry dat mense onverskillig en goddeloos raak nie? Sal mense dan
nie doen wat hulle lus is om te doen nie. Dis hoe daaroor gedink
is in die tyd van die groot Hervorming. Soos julle weet het die
Hervorming die hart van die evangelie herontdek, naamlik redding
deur genade alleen, sola gratia. Toe ’n Rooms Katolieke
biskop dit gehoor het, het hy ’n ramp voorspel. As jy goeie
werke gaan onderwaardeer, kan dit volgens hom net lei tot
losbandigheid. As vir jou geleer word dat goeie werke vir jou
redding nie nodig is nie, sal jy onherroeplik onverskillig en
goddeloos word. Geneve, die stad van die groot Hervorming, sal
vinnig agteruitgaan vanweë die geestelike verval van die burgers.

Dit gee jou ’n veiliger gevoel om goeie werke te benadruk,
om jouself en ander aan die hand van goeie werke te beoordeel.
Dit lyk asof die evangelie van genade alleen enige aansporing tot
goeie werke wegvat. En het ons nie dikwels so ’n aansporing
nodig nie? Is daar dan ’n beter aansporing tot goeie werke
as om te sê dat die werke nodig is om jou verhouding met God reg
te maak, so van: Doen dit en dat en jy sal ’n goeie Christen
wees en God sal jou in guns aanneem?

Broers en susters, God wys sulke gedagtes radikaal af. Jou
werke dra heeltemal niks by aan jou redding nie. Jy word uit
genade alleen gered, dis ’n onverdiende guns. Jy moet uit
genade leef en werk.

Sommige mense misbruik inderdaad hierdie evangelie. So kry jy
die passiewe of onverskillige Christene. Jy verskoon dan jou slap
gedrag met die redenering dat Christus alles reeds vir jou gedoen
het. Maar deur so te praat, wys jy dat jy niks van die evangelie
van genade verstaan het nie. Die genade word deur geloof aanvaar.
En die geloof staan nooit op sy eie nie. Die geloof werk iets uit
in jou lewe. ’n Onaktiewe Christendom is geloof sonder werke
en so ’n geloof is dood.

Laat ek vir julle die evangelie mag verkondig: die ware geloof
werk iets uit in jou lewe

  1. wat God van jou as gelowige mag verwag
  2. wat jy as gelowige van God mag verwag

Joh 15 illustreer wat die geloof in jou lewe tot stand bring.
Deur die geloof is jy een met Christus. Christus illustreer
daardie eenheid deur die beeld van die wynstok en die lote.
Wanneer het Christus daardie beeld gegee? Kort nadat Hy die
Heilige Nagmaal ingestel het. Die dissipels het net hul intieme
band met Jesus Christus ervaar. Hulle het simbolies sy vlees
geëet en sy bloed gedrink. “Dit is my liggaam wat vir jou
gebreek word. Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed.”
Die dissipels het simbolies hul eenheid met Christus geproe: sy
vlees en bloed. Soos ons dit vandag aan die Nagmaal ervaar het.
Juis by die geleentheid kom Christus met daardie allegorie van
die wynstok en die lote. ’n Allegorie van ons intieme band
met Christus en van ons lewe uit Hom.

Wanneer jy goed kyk, dan sien jy die onderskeid tussen die
wynstok en die lote. Die stam, dit is die wynstok. Die stam dra
die lote. Los van die stam is die lote waardeloos. Hulle droog
uit en word in die vuur gegooi. Die stam sorg vir die lewensappe.
Dit is wat lewe in die lote bring. Dis hoe die lote vrug kan dra.
En dit is waarin die boer belangstel. Hy wil vrugte sien. Hy wil
druiwe kan pluk. Daarom het hy die wingerdstok geplant. Daarom
gee hy baie aandag aan sy wingerdstok. Daarom gaan hy rond met sy
snoeimes. Hy wil vrugte sien.

Gemeente, dat die Vader in die vrugte belangstel, is duidelik
uit Joh 15. Daar sê die Here Jesus: “Elke loot wat in My
nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, die
maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.” Die boer let
goed op die lote. Die lote wat geen vrug dra nie, sny hy af.
Sulke lote is waardeloos. Die waarde van die loot lê immers in
sy vrug. Dis sy normale funksie. Die lote wat wel vrug dra,
ontvang alle sorg van die boer sodat dit nog meer vrug kan dra.
Hy snoei hulle reg sodat die dinge wat die groei belemmer,
weggesny word.

Dis, broers en susters, ’n pragtige beeld van julle band
met Jesus Christus. Ek is soos ’n loot wat aan Christus, die
wynstok, verbind is. Deur die geloof is ek in Christus ingelyf.
Dis hoe die lewensappe van Christus na my kan toevloei.

Wat mag die boer, jou hemelse Vader dan van jou verwag? Vrugte,
oorvloedige vrugte. As jy eenmaal die lewensap van Christus
ontvang, kan jy nie anders as vrug dra nie. Wanneer jy leef
vanuit die volheid van Christus, sal jy vrug dra. Om dit met ons
belydenis te sê: “Dit is daarom onmoontlik dat hierdie
heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie.”
Waar die vrugte heeltemal afwesig is, tensy daar ernstige siekte
is, daar is die geloof dood. Daar het die lote doodgegaan en sal
dit deur die boer afgesny word. Daar is geen band met Christus
nie. So ’n vrugtelose loot is soos waardeloos brandhoud.

Broer, suster, wat bring die geloof in jou lewe tot stand?
Raak dit jou werklik, maak dit jou lewend? Herken jy wat ons met
art 24 bely: “Ons glo dat die geloof die mens weergebore
laat word en tot ’n nuwe mens maak, hom ’n nuwe lewe
laat lei en hom van die verslawing van die sonde bevry. Daarom is
daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens
vir ’n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie”
ens.

Herken jy dit in jou lewe? Watter vrugte herken jy dan in jou
lewe? Dit gaan nie net daaroor dat jy sekere dinge doen en ander
dinge nalaat nie. God soek vrugte van dankbaarheid, dinge wat uit
die geloof en in liefde vir God en die naaste gedoen of nagelaat
word. Dis waarop ons moet let. Nie dat elkeen net doen wat van
hom of haar verwag word nie. Maar dat elkeen uit die geloof leef,
dat elkeen uit dankbaarheid dinge doen. Net dan is dit werklik
goeie werke waarin God plesier het.

Leef jy werklik uit Christus? Haal jy jou krag en lewe uit Hom?
Dit sal ’n impak hê op die manier waarop jy dink, praat en
optree. Jy word dan immers deur ’n ander gees gedrywe.
Wanneer jy uit Christus jou lewensap trek, dan sal dit ’n
verskil maak in die keuses wat jy maak. Jy sal dan die sonde haat
en daarvan wegvlug. Dit sal dan jou lus en liefde wees om volgens
die wil van God in alle goeie werke te lewe.

Hoe hanteer jy dan moeilikhede in jou lewe? By tye het elkeen
van ons met teleurstellings en frustrasies te doen. Daar is altyd
wel dinge wat ’n mens omkrap. Mense kan jou soms ook baie
seer maak. Sulke dinge kan diep spore by jou nalaat. Maar nou is
die goeie nuus: jy mag uit Christus lewe. Jy mag jou lewensap uit
Hom trek. Christus se oorvloedige genade stroom na jou toe,
stroom deur jou are so te sê. Dit laat jou anders teen die dinge
aankyk. Genade beteken alles vir jou. Dit maak weer bly, ondanks
die moeilikhede, ja midde in die nood. Genade help jou om baie te
verdra. Genade help jou om die woorde van Paulus uit Ef 4:1-3
weer in praktyk te bring ondanks allelei teleurstellings. Daar
spoor Paulus ons aan om te wandel waardig die roeping waarmee
julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met
lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig
strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van
vrede.

Dis Christus wat ons aan mekaar verbind. Dit mog ons weer aan
die Nagmaal beleef. ’n Wonderlike belewenis. Kyk maar na die
verskillende mense rondom die nagmaalstafel, mense van
verskillende agtergrond, met verskillende karakters, verskillende
gewoontes, verskillende sterktes en swakhede. Tog een in Christus.
Saam het ons ons heil buite onsself in Christus gesoek. Saam wil
ons dan ook uit Christus lewe. Dis tog waarvan jy getuig het toe
jy die nagmaal gevier het? So kan ons dan vrugbaar saamwerk en
saam groei. Genade maak dit wat onmoontlik lyk, moontlik, dat
sondaars in liefde mekaar aanvaar, vashou en opbou. As ek uit
Christus lewe, dan sal die vrug van die Gees steeds meer en meer
my onderling omgang, ja my hele lewe kenmerk. Wat is dan die vrug
van die Gees? Paulus vat dit saam in Gal 5:22 waar hy skryf:
“Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede,
lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
sagmoedigheid, selfbeheersing.” Herken jy dit in jou lewe en
in die lewe van jou medegelowiges? Julle leef tog saam uit
Christus?

Broers en susters, wat is die oorsaak daarvan as die vrug van
die Gees nie sigbaar is nie? Dit lê nie aan Christus nie. Sy
lewensap vloei oorvloedig uit die stam na die lote. Jy mag
voortdurend uit sy volheid ontvang. Dit kan ook nie die Vader se
skuld wees nie. As boer is geen moeite teveel vir Hom nie om die
groei en dra van vrug te bevorder nie. Hy besproei en snoei sodat
die vrugte kan toeneem. Hy bly aan jou werk deur sy Woord en
sakrament. Wat is dan die oorsaak daarvan as die vrugte uitbly?
Die enigste rede kan wees dat ek te dikwels nalaat om werklik uit
Christus te lewe. Te dikwels wil ek dinge self doen, wil ek self
regkom. Te dikwels leef ek volgens eie insigte en in eie krag. Te
dikwels is daar ’n gebrek aan oorgawe aan Christus sodat ek
deur Christus gevul kan word. Wat ’n belediging van Christus
die wynstok en van sy Vader die landbouer.

Dis nie sonder rede dat Christus jou herhaaldelik aanspoor om
in Hom te bly. Hy doen dit 6 keer in die allegorie van die
wynstok en die lote. Blykbaar is dit nie voldoende om met
Christus verenig te word nie. Jy moet daarvoor sorg dat jy in Hom
bly. Dat jy jou lewensap uit Hom bly trek, dat jy sy woord en
Gees in jou laat werk. Wanneer jy werklik uit Christus lewe, dan
kan die vrug nie uitbly nie.

Nou die tweede gedagte: ons het gesien wat God van jou mag
verwag. Nou kyk ons na wat ons van God mag verwag.

Gemeente, die Bybel praat voortdurend van loon. Wanneer jy die
Here getrou dien, sal jy loon ontvang. Dawid sing in Ps 19: In
die onderhouding van die wet is groot loon. Om die Here te dien,
kos baie moeite en inspanning. Christus praat van ’n
verloëning van jouself en die opneem van jou kruis. Jy moet dus
bereid wees om nee vir jouself en jou begeertes te sê en om die
grootste offer vir Christus te bring, naamlik jou eie lewe.

Die dissipels het hiermee geworstel. Op ’n sekere oomblik
sê Petrus vir Jesus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En
Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand
wat huis of broers en susters of vader of moeder of vrou of
kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat
het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel:
huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam
met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe (Mk 10:28-30).

Jy mag dus iets van die Here verwag in antwoord op jou ywer en
inspanning vir Hom. Loon. En die loon is nie net vir later, in
die eeu wat kom, nie. Ook vir hier en nou. Die loon is
veelkleurig. Soos die lewe van God se kinders veelkleurig is.
Jesus noem as voorbeeld van loon vir die verlaat van huis,
familie en besittings: die gemeenskap van die heiliges met alle
liefde en sorg wat dit behels.

So ontvang jy loon vir jou keuse teen die sonde, vir jou moed
om vir die Here en sy wil op te kom. Om God en jou naaste lief te
hê, kan baie pyn veroorsaak, jou vrye tyd kos. Maar jy kry iets
daarvoor terug. Jou gesamentlike studie van die Bybel kan bv jou
lewe met God en jou medegelowiges verryk, verdiep. Om goeie
opbouende lektuur te lees, kos inspanning, maar dit is die moeite
werd, dis baie verrykender as om voortdurend flieks te kyk. Om
tyd en aandag aan jou mede gelowiges te gee, baat nie net die
lidmate nie, maar ook jouself. Om die minste te wees en jou eie
swakhede en tekortkomings te erken terwille van die vrede met
ander, werk bevrydend vir jouself. ’n Las val van jou skouer
af, ook al sou die versoening nie bereik word nie. Jy vind rus
daarin dat jy van jou kant gedoen het wat jy kon. Jy kan dit dan
ook aan die Here oorlaat. So kan ’n mens nog baie voorbeelde
noem. Jou aanhoudende gebed word beloon. Nie dat daar altyd
’n sigbare verandering in jou situasie kom nie, maar jy
ontvang die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Jy ontvang loon
op jou getroue kerkgang. God versterk jou in jou geloofstryd. Hy
gee groei in geloof en kennis. Hy rus jou toe om die lewe met sy
hoogtes en dieptes te kan hanteer. Hy gee weer perspektief. Jy
besef opnuut hoe ryk jy is met die Here en sy volk. Uiteindelik
ontvang jy baie meer as wat jy ooit gegee het, naamlik die ewige
lewe. Niks weeg daarteen op nie. Dis oorweldigend.

Maar gemeente, wanneer ons so oor loon praat, lyk dit dan nie
asof goeie werk tog nog iets bydra aan jou verlossing nie? Onthou
dit: wanneer God goeie werke beloon, bekroon Hy feitelik sy eie
gawes. As jy goed oplet, dat sien jy dat jou werke nie eers jou
eie werke is nie. Jy het dit aan Christus te danke. Dink aan die
beeld van die wynstok en die lote. Sonder die wynstok kan daar
geen lote wees nie en kan die lote niks doen nie. Christus sê
uitdruklik in Joh 15: “Sonder My kan julle niks doen nie.”
Jy kan net ’n gesonde loot wees wat vrug dra, as gevolg van
die lewensap wat vanuit Christus na jou toevloei. Ons praat dan
ook van vrug dra. ’n Loot dra net vrug. ’n Loot
produseer dit nie. Feitelik produseer die wynstok dit. Wanneer
God dan die goeie werke beloon, dan bekroon Hy sy eie gawes.

Die beloning word ook nie uit verdienste nie, maar uit genade
gegee. Jy ontvang dit as ’n bonus. Maar waarom praat God dan
nog van loon? Dit doen hy om ons te bemoedig. Vergelyk dit met
die situasie in ’n gesin. Seun, dogter, hoe dikwels help jy
jou ouers met allerlei werkies in of rondom die huis, byvoorbeeld
met die skottelgoed of met die tuin? Wanneer jy dit doen, dan eis
jy tog nie van jou ouers: waar is my loon, gee my tog my loon nie.
Nee, wat sou jy van hulle kan eis? Jy is nie hulle bediende of
arbeider nie, maar jy is hul kind. ’n Kind wat voortdurend
mag geniet van hul liefde en sorg. Wat het hulle nie vanaf jou
geboorte vir jou gedoen nie en hoeveel doen hulle nie nog steeds
vir jou nie? Die hulp wat jy bied is ’n vorm van wederliefde.
Tog kan dit gebeur dat pa of ma wel op ’n sekere oomblik
iets spesiaals vir jou doen of vir jou gee. Waarom? As ’n
teken van waardering. Om jou as kind te bemoedig. Jy voel goed
wanneer jy sien dat pa en ma jou hulp waardeer. Dit gee jou des
te meer plesier om hulle jou hulp te bly aanbied.

So is God ook besig met ons sy kinders. Hy gee iets in
antwoord op jou goeie werke. Hy wys hoe gelukkig Hy daarmee is.
Hy bemoedig jou om daarmee aan te gaan. Jou inspanning en sorg is
nie ydel nie. Inteendeel.

Gemeente, laat God se groot liefde julle bly aanmoedig tot
wederliefde. Julle mag daagliks genade op genade ontvang. Diewe
en moordenaars ontvang begenadiging. Danksy Jesus Christus. Sou
so ’n groot genade jou koud kan laat, onverskillig? Nee,
wanneer jy eenmaal deur die geloof aan Christus verbind is, dan
begin ’n nuwe lewe vir jou. Die geloof laat jou weergebore
word en laat jou ’n nuwe lewe lei. Dei vrugte kan nie uitbly
nie. Vrugte van dankbaarheid. Die geloof werk iets uit in jou
lewe. God mag die vrugte verwag. Hartlike liefde vir Hom en die
naaste. En jy mag iets van God verwag: Hy maak sy beloftes waar
in jou lewe. Jy ontvang ’n ryke beloning.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)