God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-07-16
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 20
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 20

Ds C Kleijn - Sondag 16 Julie 2006

Lees: Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel
20; Psalm 85; Romeine 8:1-11.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 25:4,5;
Ps 85:3,4; Ps 145:10-12.

Tema: God se regverdigheid en barmhartigheid in
Christus.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe sien of ervaar jy God? Wat is vir jou die mees kenmerkende
eienskap van God? Is dit sy regverdigheid? Ja, sommiges ervaar
God se regverdigheid as sy mees tiperende eienskap. Jy sien God
dan as ’n baie strenge God. Dat Hy regverdig is beteken
immers dat Hy sy woorde handhaaf. Wat Hy eenmaal gesê het bly
staan. Dit geld vir sy beloftes, maar ook vir sy eise en sy
dreiging. Hy handhaaf dus sy eis van gehoorsaamheid aan sy
gebooie. Hy handhaaf dus ook die dreiging: as jy ongehoorsaam is,
sal Ek jou straf. Dit kan my bang vir God maak. Ek is immers nie
volmaak nie. Ek oortree voortdurend sy gebooie. Openlik en skelm.
Elke keer as ek dan verkeerde dinge gedoen, gesê of gedink het,
kan die gevoel my bekruip dat God gereed staan om my te straf. Ek
durf nie na Hom toe te gaan nie. Dis soos met ’n baie
strenge aardse vader of meester. Trouens die beeld wat ons van
God die Vader het, is dikwels verwant aan die ervaring wat ons
van ons aardse vaders het. As jy onder ’n baie strenge en
hardvogtige aardse vader grootgeword het, gaan jy amper
outomaties ook so na God kyk. Dis dan moeilik om jou van daardie
beeld van God los te maak.

Aan die ander kant is daar mense wat God se liefde as sy mees
kenmerkende eienskap sien. Jy ervaar God as ’n liefdevolle,
vriendelike en barmhartige Vader. Hy staan altyd klaar om jou te
help. Hy kry jou onmiddellik jammer en is onmiddellik bereid om
jou te vergewe. Maak nie saak hoe erg jy iets verbrou het nie, Hy
staan klaar met sy omhelsing.

Gemeente, vir ons gevoel sluit die eienskappe regverdigheid en
barmhartigheid mekaar min of meer uit. Jy is een óf die ander,
regverdig óf barmhartig. Dis moeilik, so nie onmoontlik, om
gelyktydig albei te wees. Dit opskrif bo ons artikel wys egter
daarop dat God tegelyk albei is. Die opskrif lui immers: God se
regverdigheid en barmhartigheid in Christus. Dis die tema van die
preek: God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus.

Dit gaan in die artikel oor ons verlossing. Deur God. Ja, dit
val op hoe die artikel met God begin. “Ons glo dat God ...
sy Seun gestuur het.” Die nadruk val op God. Ons verlossing
het nie by die mens begin nie, ook nie by die Seun wat Homself
opgeoffer het nie, maar by God die Vader. “Want so lief het
God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat
elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige
lewe kan hê.” (Joh 3:16). Verlossing begin by God die Vader.

In verband met hierdie verlossing kom twee eienskappe van God
na vore: sy regverdigheid en sy barmhartigheid. God is regverdig.
Reeds in die paradys het God gesê: wie ongehoorsaam is sal
gestraf word met die liggaamlike en geestelike dood. God het dit
deur sy profete en apostels laat verkondig. Want die loon van die
sonde is die dood (Rom 6:23). As God hierdie
geregtigheidsbeginsel sonder meer konsekwent sou toegepas het,
dan sou die mens, u en ek, vir ewig verlore gegaan het. Ons het
immers aan God se eise nie voldoen nie en ons kan nie daaraan
voldoen nie.

Maar nou is God ook barmhartig. Hy het nie net medelyde met
ons in ons hopelose verlore toestand nie. Hy wil ook iets doen om
ons uit ons nood en ellende te red. Kan Hy ons sonder meer
vergewe? Is God se liefde van so ’n aard dat dit die sonde
as oortreding van sy heilige wil nie ernstig hoef op te neem nie?
Kan die sonde maar oor die hoof gesien en oogluikend toegelaat
word? Dit sou geheel en al teen God se regverdigheid indruis en
daarom ’n God onwaardige optrede gewees het. Wanneer sy
barmhartigheid in aksie kom, kan Hy sy regverdigheid nie tydelik
as ‘t ware opskort nie. Indien God alleen maar sou vergewe,
sou ons sonde en nood bly.

Die groot vraag is daarom: Hoe kan God ons tegelykertyd
barmhartig én regverdig behandel? Hoe kan God ons liefhê én
straf – so liefhê dat ons vir ewig kan lewe, en so straf
dat ons nie in die ewige verdoemenis beland nie?

Die antwoord lê in Jesus Christus, vir wie God gestuur het.
Daarom die tema van art 20 en van die preek: God se regverdigheid
en barmhartigheid in Christus.

Ons let eers op God se regverdigheid in Christus.

Ons artikel beklemtoon, dat God geen duimbreedte van Sy eis
afgewyk het nie. Daar word vir alle oortredings of sondes wat die
mens doen, betaal. Daarom moes Jesus “die natuur waarin die
ongehoorsaamheid begaan is,” aanneem. Dit wil sê, Hy moes
ware mens word. So kon Hy “in die menslike natuur aan die
geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur sy
allerbitterste lyding en sterwe dra.” Die Bybel praat ook
baie duidelik hieroor: “die straf wat vir ons die vrede
aanbring, was op Hom”, en: “die Here het die
ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jes. 53:5,6).

Broers en susters, wanneer jy artikel 20 lees, lyk dit asof
God sy regverdigheid alleen teenoor Christus laat geld het en nie
teenoor ons nie. Ons lees immers dat God sy regverdigheid
“teenoor sy Seun betoon het, maar dat Hy sy goedheid en
barmhartigheid oor ons uitgestort het. Het God dan in sy houding
teenoor ons sy regverdigheid laat vaar om vir sy barmhartigheid
plek te maak? Dit is beslis nie die geval nie. Selfs as God
’n streep deur ons skulde trek, is Hy volkome regverdig.
Hoekom? Omdat daar vir hierdie skulde betáál is. Wat ek,
’n sondaar, verdien het, het God oor Christus uitgegiet. God
het geen sonde ongestraf gelaat nie. Daarvoor is Hy te regverdig.

Volgens ons Kategismus “eis sy geregtigheid dat die sonde
wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is ook met die
swaarste straf gestraf moet word – dit is die ewige straf
aan liggaam en siel.” Daarom het Christus dit gedra. En ten
volle betaal. Dáárom is God wanneer Hy my sondes vergewe nie
net barmhartig teenoor my nie, maar ook regverdig. Aan al sy eise
is voldoen. So toon God sy regverdigheid en is Hy ook self
regverdig, ook wanneer Hy ons sondes in Christus vryspreek. (Rom.
3:26). As ons in hierdie artikel dan bely dat God teenoor sy Seun
regverdigheid bewys het, dan mag ons nie daaruit aflei, dat Hy
daarom teenoor óns Sy regverdigheid vergeet het nie. Ons artikel
bedoel dat God uitsluitlik teenoor sy Seun regverdigheid bewys,
terwyl hy teenoor ons barmhartig én regverdig is.

Gemeente, deur die eeue heen het mense voortdurend God se
regverdigheid agter Sy barmhartigheid laat verdwyn. God se
barmhartigheid, sy liefde sou alles wees, die mees tiperende
eienskap van God. God se liefde word dan omskryf as liefde wat
van straf afsien. Is dit nie onbarmhartig om straf te eis nie?
God is liefde sou dan inhou dat God ons oortredings kwytskeld
sonder om betaling daarvoor te eis. Sy liefde sou daarop wys dat
God nie meer ag op die sondes gee nie en dit deur die vingers
sien. Soms word daaraan toegevoeg: die mens kan dit mos nie help
nie. God het medelyde moet die mens in sy hopelose situasie en
vergewe sonder verdere eise.

In feite is hierdie liefde baie goedkoop en onwaardig vir God.
Sy regverdigheid word hierdeur verswyg en versmoor, sodat daar
niks meer betaal hoef te word nie. Teenoor hierdie redenering,
hou ons artikel vas, dat God se liefde hom op ‘n ander,
waardige manier openbaar. Ons bely mos: “Hy het immers sy
Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee.”
Die Skrif self benadruk die liefde van God. “God is
liefde”, lees ons in 1 Joh 4:8. Maar wat word onder die
liefde verstaan? Die volgende verse kwalifiseer dit. Luister maar:
“Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy
eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom
kan lewe (1 Joh 4:9). Die volgende vers voeg daaraan toe dat God
“sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes.”
As ’n versoening vir ons sondes. Versoening is wat anders as
die sondes oor die hoof sien en sonder meer vergewe. Versoening
praat in die Bybel van voldoening, betaling, regstelling. Die
liefde van God is dus nie dat Hy sy regverdigheid vergeet het nie,
maar dat Hy sy Seun vir ons stuur as ’n versoening vir ons
sondes deur sy bloed. As jy dink dat God niks meer doen as maar
net vergewe en verdra nie, het jy nog niks verstaan van die ware
diepte en karakter van sy liefde nie.

Gemeente, aan die een kant is daar dus mense wat God se liefde
en barmhartigheid benadruk ten koste van sy regverdigheid. Met as
gevolg ’n vertekende beeld van sy liefde. Aan die ander kant
is daar mense wat God se regverdigheid benadruk ten koste van sy
barmhartigheid. So kry jy dan die voorstelling van ‘n God
wat regverdig is, en daarom baie kwaad vir ons is, en ons selfs
haat. So word daar soms ook ’n teenstelling gemaak tussen
die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament.
Die God van die Ou Testament sou ’n strenge, toornende,
wraaksugtige God wees. Dink maar aan al die bloedvergieting in
die OT, die oordeel oor die Kanaäniete en oor die ongehoorsame
kinders van God. Daarteenoor sou die God van die Nuwe Testament
’n God van liefde wees. Asof God in die OT nie regverdig én
barmhartig was nie.

In Gen 3 het God reeds gewys dat Hy regverdig én barmhartig
was. In sy regverdigheid het God sy oordeel oor Adam en sy vrou
uitgespreek en hulle uit die paradys uitgesit. In sy
barmhartigheid het God vir hulle ’n seun belowe wat hul
vyand, die satan, sal oorwin. En wat van die eienskappe waarmee
die Here homself meermale aan sy volk bekendgemaak het:
“HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en
groot van goedertierenheid en trou.” Durf iemand beweer dat
God in die OT nie barmhartig was nie? Hoe het Hy sy
barmhartigheid reeds toe bewys! En praat die NT net van ’n
God van liefde? Wat van die oordele wat God ook in die NT
aankondig? Noem God Homself in die NT ook nie ’n verterende
vuur nie? (Hebr 12:29). Wie ’n teenstelling tussen die God
van die OT en die God van die NT sien, verstaan die Ou en Nuwe
Testament nie mooi nie. Beide Testamente praat van een ware God
wat tegelykertyd regverdig én barmhartig is.

Daar is ook mense wat ’n teenstelling sien tussen God die
Vader en Jesus Christus. God die Vader sou die strenge, harde,
toornende God wees, terwyl Jesus net liefde sou wees. Volgens
sommiges sou Jesus ’n omkering in God gebring het. Hy sou
God tot liefde vir ons beweeg het. Deurdat Jesus God se toorn
stilgemaak het, sou Hy ook God barmhartig teenoor ons gemaak het.
Ook volgens hierdie opvatting kan God nie tegelykertyd volkome
regverdig én barmhartig wees nie. Hy is óf die een óf die
ander. En Jesus word deur hierdie mense vereer, asof Hy Díé Een
is wat God se toorn in liefde verander het. Pleks om die drie-enige
God in die middelpunt van hul verering te plaas, plaas hulle
Jesus in die middelpunt van hul verering. Dis net Jesus voor en
Jesus agter.

Gemeente, het God eers barmhartig geword nadat Jesus Sy toorn
stilgemaak het? Die Skrif praat anders daaroor. Volgens die
Skrifte bely ons “dat God, wat volkome barmhartig (...) is,
sy Seun gestuur het”. God was dus reeds barmhartig toe Hy sy
Seun gestuur het. Dus voordat die Seun God se toorn gestil het.
Ons kan dieselfde sê van die volgende uitspraak: “Hy het
immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood
gegee,”. God het ons alreeds liefgehad voordat Jesus vir ons
sondes gesterf het. Die Bybel sê duidelik, dat God ons éérste
liefgehad het, en dat Hy daarná en dáárom “sy Seun
gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.” (1 Joh. 4:10).
Die diepste grond onder ons verlossing is nie die offer van
Christus nie, want dááronder lê die onverklaarbare liefde van
ons Drieënige God.

Gemeente, as ons so praat van die liefde van God vir verlore
sondaars, selfs voordat Christus vir hulle gesterf het, is dit
dan reg om te sê dat God die sonde haat maar die sondaar liefhet?
Julle herken dalk die gesegde: God haat die sonde, maar het die
sondaar lief. Baie Christene gebruik hierdie gesegde om te wys
dat hulle nie teen sekere sondaars diskrimineer nie. Alle
sondaars is welkom. Hulle het alle sondaars lief, maar hulle haat
net die sonde, soos God die sonde haat en die sondaar liefhet.

Ons kan hierdie woorde verstaan. Dit spreek ons aan. Maar is
dit reg? Dit bevat ’n element van waarheid. Dat God die
sonde haat staan vas. Die Bybel noem dit herhaaldelik. Om net
enkele voorbeelde te noem. In Spreuke 6:16-19 lees ons:
“Hierdie ses dinge haat die Here, en sewe is vir sy siel
’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat
onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam,
voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie
leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.” God haat
die sonde, want “God is lig, en geen duisternis is in Hom
nie.” (1 Joh 1:5). En dan wat die tweede deel van die
gesegde betref, wie sou ontken dat God sondaars liefhet? Spreek
die bekende teks uit Joh 3 nie van sy liefde vir sy sondige en
verlore mensdom nie: Want so lief het God die wêreld gehad dat
Hy sy eniggebore Seun gegee het. Spoor God ons nie in 1 Tim 2:1-4
aan om vir allerlei mense voorbede te doen nie, met as motief:
“Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat
wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid
kom”?

Tog, broers en susters, suggereer die gesegde “God haat
die sonde, maar het die sondaar lief” iets wat in stryd met
die Bybel is. Uit die Bybel weet ons dat God ook die sondaar haat.
Ons lees daarvan veral in die Psalms. Reeds in Ps 1 lees ons dat
die goddelose nie in die oordeel sal bestaan nie. In Ps 11 lees
ons: “Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die
goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose
vangnette, vuur en swawel laat reën.” God se haat vir die
sondaars word hier nie verbloem nie. Die NT praat op dieselfde
manier van Gods se regverdige toorn teenoor die onbekeerlike
sondaar: “Hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie
sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Joh 3:36).

Terwyl ons nie kan ontken dat God sondaars liefhet nie, kan
ons ook nie sê dat God enkel liefde vir sondaars het nie of dat
Hy alle sondaars liefhet nie. Die Skrif maak duidelik dat God ook
toornig is op die goddelose en selfs hulle wat sy wil nie doen
nie, haat. In die geval van ontrou kan God se liefde ook heilig-jaloers
en wraaksugtig wees. God keer Hom dan verskroeiend teen hulle wat
nie in sy liefde bly nie. Ons weet dat God alle uitverkorenes met
’n ewige liefde liefhet. As gevolg van hul uitverkiesing kom
hulle tot geloof en bekering. Tog word ook van die gelowiges
gesê dat hulle van nature kinders van die toorn is.

Daarom moet ons hier, so te sê, met twee woorde praat: God
het ons liefgehad, hy was barmhartig én Hy was toornig op ons.
Hierdie spreek met twee woorde, vind ons duidelik in Efésiërs 2:3
en 4. Aan die een kant word die gelowiges vóór hul bekering
“kinders van die toorn” genoem. Dus mense op wie God se
toorn rus. En tegelykertyd het God, “wat ryk is in
barmhartigheid”, hierdie kinders van die toorn
“liefgehad” met sy “grote liefde”.

Ons probleem, broers en susters, is dat ons God se liefde en
sy toorn moeilik met mekaar kan versoen. Vir ons gevoel sluit
hulle mekaar uit. Daarom spreek die gesegde: God haat die sonde
en het die sondaar lief, ons so aan. Maar God se eienskappe is so
groot en volmaak dat sy liefde en haat gelyktydig aanwesig kan
wees. Ons erken hier die beperktheid van ons menslike verstand.
En ons kyk na die kruis om te sien hoe wonderlik God sy liefde en
haat uitgewerk het.

Die kruis wys immers die groot diepte van God se regverdige
haat teen die sonde. God het hierdie haat gewys deur sy eie Seun
te verlaat en die ewige vloek, wat ons sondes verdien het, op Hom
te lê. Hierdie intense toorn van God teen Christus wys ons egter
ook die groot diepte van God se liefde vir sondaars. Hoewel die
Vader vol van regverdige toorn teen sowel die sonde en die
sondaars was, kon Hy ons tog só liefhê dat Hy gekies het om sy
eie Seun in ons plek te verwerp. Deur sy toorn teenoor sy Seun op
die kruis, aanvaar die Vader elkeen wat in Hom glo terug in sy
liefdevolle gemeenskap.

Hier het jy die waarheid waar Ps 85 reeds van gesing het:
“Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar, geregtigheid en
vrede kus mekaar.” Op die eerste gesig lyk dit asof daardie
eienskappe nie by mekaar pas nie. Goedertierenheid praat immers
van God se vergewende liefde terwyl trou sê dat God hom aan sy
woorde hou. Geregtigheid praat van God se reg wat gehandhaaf moet
word terwyl vrede praat van harmonie, geluk. Die woorde pas nie
vanself by mekaar nie. Dis net in Christus dat ons kan sing:
goedertierenheid en trou ontmoet mekaar, geregtigheid en vrede
kus mekaar. In Christus ontmoet hulle mekaar; kan hulle
gelyktydig geld. God wys immers in Christus hoe regverdig én
barmhartig Hy is.

Nou terug na die vrae in die inleiding. Hoe sien of ervaar jy
God? Watter eienskap sien sy as die mees tiperende eienskap van
God? Sy regverdigheid en strengheid? Sy barmhartigheid en liefde?
As jy Christus ken dan staan die twee eienskappe nie teenoor
mekaar nie. God is in Christus gelyktydig my strenge én
liefdevolle Vader. Ek kan nie sommer my sondes ignoreer of
kleineer nie, nie maak asof hulle nie so ernstig is nie. Hulle is
en bly baie ernstig, ’n belediging van die allerhoogste
majesteit van God. Maar ek hoef nie bang vir God te wees nie. Ek
mag met volle vrymoedigheid na Vader toegaan en pleit op wat
Christus vir my gedoen het. Juis deurdat ek die diepte van God se
toorn besef, mag ek ook die diepte van sy liefde ervaar. In die
vergewing en redding van my, ’n verlore sondaar.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)