Ons regverdiging deur die geloof

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-07-30
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 22
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikels 22 en
23

Ds C Kleijn - Sondag 30 Julie 2006

Lees: Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikels
22 en 23; Sagaría 3:1-5; Romeine 3:21-4:12.
Sing: Ps 31:1,3,5; Ps 103:1,2; Ps 32:1,6;
Apostoliese Geloofbelydenis; Ps 31:17-19.

Tema: Ons regverdiging deur die geloof

  1. wat die regverdiging beteken
  2. wat daarin die rol van die geloof is

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons heilige God is ’n regverdige God. Sy regverdigheid
eis dat alle sonde gestraf moet word. Dit beteken dus dat ek,
’n sondaar, God se oordeel verdien. Ons het egter die vorige
keer reeds bely dat God se reg reeds tevrede gestel is. Hoekom?
Omdat Christus God se toorn teen my sonde gedra het. Daar aan die
kruis was Christus my plaasvervanger “God het Hom wat geen
sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak.” “Die straf
wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom.” In verband
hiermee het ons verlede week Joh die Doper se rake identifikasie
van Christus genoem: “Daar is die Lam van God wat die sonde
van die wêreld wegneem.” Die Lam wat van God self kom. Die
onskuldige Lam belaai met die sonde van die wêreld. Geslag om
die sonde van die wêreld weg te neem.

Gemeente, as Christus nou getipeer word as die Lam wat die
sonde van die wêreld wegneem, beteken dit dan nie dat Christus
die sonde van elke mens op aarde weggedra het nie? Beteken dit
dan die elke mens, hoof vir hoof, gered sal word? Daar is dan mos
vir hul sonde reeds betaal. Ongelukkig dink ons dikwels te
individualisties. Daarom dink ons by die woord
“wêreld” meteen aan elke individuele persoon. Die
aanduiding van Christus as die Lam wat die sonde van die wêreld
wegneem, impliseer egter nie algemene versoening nie. Die sonde
van God se geskape wêreld word as een geheel gesien. Soos Adam
in sy sondeval die hele mensheid verteenwoordig het, so neem
Christus as die tweede Adam die sonde van die eerste Adam op Hom.
Dit beteken egter nie dat elke individuele kind van Adam dan ook
aan Christus se betaling van die sondes deel het nie. Deur
geboorte is elkeen van ons inderdaad aan die eerste Adam verbind.
Ons ontkom daar nie aan nie. Ons hoef niks daarvoor te doen nie.
Dit gebeur so te sê vanself. Maar so is dit nie tov ons band met
Christus nie. Dit gebeur nie vanself nie. Daarvoor is meer as
’n natuurlike geboorte nodig. Daarvoor is wedergeboorte
nodig, ’n nuwe geboorte deur die Gees van God. Daarvoor is
geloof nodig. Om deel te kry aan die betaling deur die Lam van
God, is dit dus nie voldoende dat ek ’n mens is nie, ook nie
dat ek in die kerk gebore is nie. Ek sal in geloof my toevlug
moet neem tot die bloed van die Lam. Ek sal deur die geloof aan
Christus verbind moet wees. Daarom lees ons herhaaldelik in die
Bybel die oproep: Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.

Geliefdes, vir wie het Christus dan as plaasvervanger gesterf?
Vir elke individuele mens? Hoor wat Christus self daaroor sê in
Joh 10:14,15: “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en
word deur my eie geken. ... Ek lê my lewe af vir die skape.”
Wie is dan die skape, vir wie Christus sy lewe aflê? Later in
Joh 10 sê Christus vir die Jode in die tempel: “Maar julle
glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle
gesê het. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle
volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit
verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my
hand ruk nie” (die verse 26-28). Hierdie woorde van Christus
maak duidelik dat sommiges nie skape van Hom is nie en ander wel.
Dis net sy skape waaraan Christus die ewige lewe gee. Dis net sy
skape wat voordeel uit Christus se werk trek. Christus lê mos sy
lewe af vir sy skape. En sy skape is uiteindelik almal wat in Hom
glo.

So kom ons uit by die tema van vanaand se artikels: ons
regverdiging deur die geloof.

Ons wil eers let op wat die regverdiging beteken en daarna op
wat daarin die rol van die geloof is.

Die begrip regverdiging voer ons in die wêreld van die reg in.
Dit bring ons met name in ’n hofsaal, waar die regter besig
is om ’n aangeklaagde te verhoor. Aan die einde van die
verhoor, na alle getuienisse gelewer en aangehoor is, spreek die
regter sy oordeel en vonnis uit. As jy as aangeklaagde skuldig
bevind word, moet jy gestraf word. As jy onskuldig bevind word,
word jy natuurlik vrygespreek. In laasgenoemde geval is jou
verhouding tot die wet in orde; die polisie sal jou nie weer soek
of in hegtenis neem nie en jy hoef hulle nie meer te vrees nie.

Die Bybel stel die saak tussen God en ons mense ook voor as
’n regsgeding. God is die Regter en ek is, vanweë my sonde,
nie maar net die aangeklaagde nie, maar die skuldige. God moet
dus die straf uitspreek. Maar dan gebeur die onbegryplike: God
spreek my, ’n skuldige mens, vry. Hoekom? Nie omdat God my
oortreding geringskat en dit maar oor die hoof sien nie. Nie
omdat God nie meer daarin belangstel om reg te laat geskied nie.
Maar omdat God Iemand gevind het wat my straf op Hom geneem het.
Nee, God het nie net Iemand gevind nie. Hy het Iemand gegee:
Jesus Christus.

Omdat Hy die straf gedra het, gebeur die wonder: die Regter
spreek my vry. Ek, ’n skuldige mensekind, mag nou as ’n
onskuldige uit die hof uitstap met die wete dat die gereg niks
meer teen my het nie. Ek mag daardeur geniet van vrede met God.
Dit beteken ’n herstelde paradys. Die sonde wat my die
paradys gekos het, is weg. Ek mag weer in gemeenskap met God lewe
soos in die begin. Nie dat ek dit altyd so ervaar nie. Wat kan
die sondes my nog pla. Hoe kan die sondes uit die verlede my ook
lang bly agtervolg. Wat kan dit soms lyk asof God ver weg is en
geen belang in my stel nie. Waar is die vrede met God waaroor
Paulus skryf? Paulus benoem die werklikheid soos God dit sien,
hoe ek dit ook al mag ervaar. Die feit is dat God my onskuldig
verklaar het. Dit beteken dat Hy nie langer toornig op my is nie.
Hy het soos die vader in die gelykenis van die verlore seun na my
toe gehardloop en sy arms om my heengeslaan. Sonder om eers te
eis dat alles uitgepraat moet word. Gevolglik mag ek geniet van
vrede met God. God se uitspraak het my ’n nuwe status gegee,
naamlik van ’n vry mens. Besef jy dit wel, dat jy werklik
’n vry mens is?

Dis wel ’n baie uitsonderlike uitspraak, ’n vreemde
vryspraak. Sonder dat ek die vryspraak op enigerlei wyse verdien,
word ek regverdig verklaar. Ek, ’n skuldige sondaar, word
vrygespreek. Ek word genoem wat ek nie is nie. So iets pas nie by
die mens nie. Tog laat God dit pas. Hoe dan? Want die
geregtigheid waaroor die hier gaan, is die geregtigheid van
Christus. Die voldoening aan die eise wat God stel, is die
voldoening van Christus.

Gemeente, ’n pragtige illustrasie van hierdie
regverdiging vind ons in die vierde gesig van Sagaria, die
gedeelte wat ons gelees het. Josua, die hoëpriester, verskyn
voor God die Regter. Hy staan daar met vuil klere. Soos ’n
boemelaar voor God se troon. Die vuil klere wys op sy sonde, sy
skuld, sy onreinheid. Satan is ook teenwoordig om Josua by God
aan te kla. Satan het ’n goeie rede om aan te kla, sou jy
dink. Hy kan wys op die skuld en sondes van die hoëpriester en
van God se volk. Kyk maar na sy vuil klere. So kan Satan en so
kan ons ook baie sondes en tekortkomings van kerkleiers en
gemeentelede opsom. Ja, ons eie gewete kla ons aan dat ons teen
alle gebooie van God gesondig het en dat ons nog steeds tot alle
kwaad geneig is. Wie is ons om voor die heilige God te kan
verskyn?

Maar wat doen God? Bestraf Hy Josua wat daar in sy vuil klere
voor Hom staan? Nee God bestraf Satan. En God verklaar dat Josua
regverdig is. God eis dat Josua se vuil klere van hom weggeneem
word – die vergewing van sondes. En dat nuwe klere hom
aangetrek word.

Hoe kan God so iets verklaar? Was Satan se aanklagte nie reg
nie? Is die aanklag van my gewete nie reg nie? Ja seker, Satan
was reg en my gewete wat my aankla, is ook reg. Maar God verklaar
die sondaar onskuldig vanweë die werk van Christus, Christus wat
as die Engel van die Here in hierdie visioen sy verskyning maak.
Josua se onskuld was ’n onskuld in Christus. Christus sal
die straf wat die sondaar verdien, dra. Omdat Christus Josua se
plaasvervanger is, gaan Josua vryuit. Pleks van God se toorn,
ontvang Hy God se genade. Die grond vir sy regverdiging het dus
beslis nie in homself gelê nie. Hy het daar mos gestaan in vuil
klere. Nee, die basis van hierdie vryspraak was God se welbehae
in Christus. Dit was ’n onverdiende, vrye gawe van God. Hier
het jy die wonderlike, onbegryplike van die evangelie, dat Josua,
ja, dat ek ’n sondaar regverdig verklaar word. En let daarop
dat dit die heilige God is wat vir my en jou sê: rein, onskuldig
en wat vir my en jou wit klere laat aantrek.

Broers en susters, dis wat ons so pragtig in Sondag 23 van die
HK bely. “Al kla my gewete my aan, nogtans skenk God aan my,
sonder enige verdienste van my kant, uit louter genade, die
volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus.
Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie,
asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir
my volbring het.” Pragtige woorde. Feitelik skenk God aan my
Christus. Christus my geregtigheid en heiligheid. Die nuwe wit
klere wat God vir ons gee kan ook as Christus getipeer word. Ons
trek Christus aan. Daarom sien God my aan en behandel Hy my asof
ek Christus self is. Kan jy jou dit voorstel? Dat God jou
behandel asof jy Christus self is? Wie sou hier nie verwonderd
staan nie en God nie daarvoor prys nie?

Ons het nou as eerste gesien wat die regverdiging beteken. Nou
die tweede gedagte: wat is hierin die rol van die geloof?

Christus is aan ons gegee as ons regverdiging. Hoe kry ons
deel aan Hom? Ons word opgeroep om ons met Christus te beklee.
Hoe doen ons dit? Dit gebeur nie outomaties en vanselfsprekend
nie. Dit gebeur net deur die geloof, bely ons in art 22. Wat is
die band wat my aan Christus en sy verdienste verbind? Dis die
geloof. Die geloof is die band wat Christus met my verenig. Ek
behoort aan Hom en Hy behoort aan my. Die geloof is die
instrument waardeur Christus se verdienste myne word. Die geloof
omhels Jesus Christus en al sy verdienstes. Dit vlug na Hom toe
en klou aan Hom vas.

Broer, suster, wat doen jy as iemand, wat jy swaar beledig het,
desondanks met oop arms na jou toekom? Dink hier aan die vader
uit die gelykenis van die verlore seun. Wat doen jy as die
persoon jou wil omhels? As jy die breuk herstel wil hê, dan
aanvaar jy tog met blydskap sy omhelsing? Jy laat Vader jou
omhels en jy omhels Hom. Of as die persoon sy hand ter versoening
na jou uitsteek? Dan is daar geen beter manier om die breuk weer
te herstel as om hom ’n stewige handdruk te gee nie. Dan vra
ek nie hoekom hy dit doen nie en of hy dit werklik bedoel nie.
Natuurlik sal daar nog gepraat moet word, maar ek begin deur sy
uitgestekte hand te aanvaar. Nou ja, Christus is God se
uitgestrekte hand na ons toe. Daaraan weet ek seker, dat Hy my
wil aanvaar. Daar is geen ander en geen sekerder weg om met God
versoen te word nie, as om Sy uitgestrekte hand te aanvaar en om
Christus te omhels. Glo in die Here Jesus Christus, wat in die
evangelie aan jou voorgestel en aangebied word, en jy sal gered
word. Die geloof gryp God se uitgestrekte hand vas, en omhels
Christus.

Ons artikel beklemtoon dat ek, as ek Jesus Christus deur die
geloof besit, volle saligheid het. Alles wat die geloof nodig het,
vind ek in Hom. Calvyn het hom eens min of meer soos volg
uitgelaat: soek jy behoud, dan vind jy dit in die naam van
Christus; soek jy sterkte, dan vind jy dit in sy heerskappy; soek
jy verlossing, dan vind jy dit in sy lyding; soek jy vryspraak,
dan vind jy dit in sy veroordeling; soek jy kwytskelding van
vervloeking, dan vind jy dit in sy kruis; soek jy reiniging, dan
vind jy dit in sy bloed; soek jy doding van die vlees, dan vind
jy dit in sy graf; soek jy nuwe lewe, dan vind jy dit in sy
opstanding. Met reg kan art 22 gevolglik sê: “Daar is dus
net twee moontlikhede: in Jesus Christus is nie alles wat vir ons
saligheid nodig is nie, óf dit is alles wel in Hom, en dan het
hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid.
Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie, maar dat
daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike
godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs
’n halwe Verlosser is.”

Daarom beklemtoon ons belydenis ooreenkomstig die Skrifte dat
ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke
geregverdig is. Dis die boodskap van die gedeelte wat ons uit Rom
3 en 4 gelees het. Bv hoofstuk 3:28: “Ons neem dus aan dat
die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van
die wet.” Hfst 4:3-5: “Want wat sê die Skrif? Abraham
het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Maar
aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar
na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom
wat goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”

Maar gemeente, hoe kan Jakobus dan sê dat Abraham uit die
werke geregverdig is (Jak 2:21)? Enkele verse later konkludeer
Jakobus: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word
uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” Is dit nie
in stryd met wat Paulus in Rom 4 skryf nie, naamlik dat Abraham
net deur die geloof geregverdig is, sonder die werke? Dis
duidelik dat Paulus en Jakobus ander aksente plaas. Paulus
benadruk die geloof sonder die werke terwyl Jakobus baie aksent
op die werke plaas. Dit is geen teenstrydigheid nie, maar het te
make met die verskillende situasies wat hulle moet aanspreek.
Paulus spreek die kwessie van verdienstelike werke aan. Mense
dink dat hulle deur hul goeie werke tot hul heil kan bydra. Hy
gee antwoord op die vraag: ontvang ek vryspraak net deur die
geloof, of ook deur my goeie werke? Dan is sy antwoord: deur die
geloof sonder die werke. Jakobus het egter te doen met die
kwessie van ’n dooie geloof, ’n geloof wat nie uit die
werke blyk nie. Hy gee antwoord op die vraag: ontvang ek
vryspraak deur ’n dooie geloof, deur ’n geloof wat net
uit goedkoop woorde bestaan? In antwoord op die vraag benadruk
Jakobus die verband tussen geloof en werke. Die geloof moet uit
die werke blyk ’n lewende geloof te wees. Daarom sê hy dat
daar geen regverdiging deur ’n dooie geloof is nie. ’n
Geloof wat net uit mooi, leë woorde bestaan, baat jou niks nie.
Daardeur kry jy geen deel aan Christus nie. Goeie werke is nodig
om te wys dat jou geloof werklik is.

Bybels gesien is goeie werke ’n onlosmaaklike deel van
jou geloof en daarom noodsaaklik, ook al is dit nie verdienstelik
nie. Jy word nie geregverdig ter wille van die werke van jou
geloof nie, maar ook nie sonder die werke van jou geloof nie.
Geloof as egte, lewende geloof, dws ’n geloof wat Christus
en sy verdienste aanvaar, gaan altyd gepaard met werke.

Maar broers en susters, hoe moet ek dan my geloof takseer?
Christus en sy werk word nie outomaties myne nie. Om die heil in
Christus te ontvang, het ek geloof nodig. Die geloof speel dus
’n belangrike rol tussen Christus en my heil. My geloof
staan tussen Christus en my heil in. Wat is dan die rol van my
geloof? Moet ek tussen Christus en my geloof ’n plusteken
plaas sodat dit word: Christus plus my geloof verseker my van my
verlossing? Maar so sou ek tog weer self iets aan Christus se
werk toevoeg. Dan sou my geloof Christus se werk aanvul en
kompleet maak, om my verlossing moontlik te maak. Dan sou daar by
my tog weer iets verdiensteliks wees. Die Skrif sluit egter elke
gedagte uit wat suggereer dat die geloof self verdienstelik is.
Ek kan onmoontlik sê dat my redding van my geloof afhanklik is,
soos my redding van Christus se werk afhanklik is.

Gelukkig maar! Gestel dat ek deur my geloof eers self ’n
bydrae tot my vryspraak sou moet lewer. Sou my vryspraak dan ooit
werklikheid word? Hoe is immers my geloof? Dis verre van volmaak.
Hoe swak, weifelend, onstabiel is nie dikwels my geloof nie. As
my vryspraak daarvan sou afhang, dan was daar vir my nie baie
hoop nie. Ek sou soos ’n skip wees, wie se anker in sy eie
ruim geval het. Dit help niks nie. So ’n anker moet buite
die skip ’n vashouplek vind. So moet ek geen houvas soek in
my eie geloofslewe nie. My geloof is dikwels maar wisselvallig.
Ek moet en mag my houvas vind in Christus, die anker van my siel,
God se uitgestrekte hand.

Hoe moet ek dan die verhouding tussen Christus en my
verlossing verstaan? Ons art omskryf die so: “die geloof is
slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid omhels.”
Ja, om gered te word moet ek glo. Die geloof speel ’n rol
tussen Christus se werk en my verlossing. Maar my geloof is niks
meer as die middel waardeur ek aan Christus en al sy weldade deel
kry. Dis niks anders as die hand waarmee ek God se uitgestrekte
hand vasgryp. My geloof is niks meer as die leë hand waarmee ek
Christus se skatte en gawes in ontvangs neem. Het ek dan enige
rede om in myself, in my geloof, te roem? Wie wil roem, laat hom
in die Here roem. Want alles is uit Hom, deur Hom en tot Hom. Aan
Hom kom die lof toe vir my verlossing wat ongehoord en volkome is.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)