Christus… en daarom altyd ook die antichris

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-09-03
Teks: 
I Johannes 2:18-27
Preek Inhoud: 

1 Johannes 2:18-27

Ds HH van Alten - Sondag 3 September 2006

Lees: 1 Joh. 4:1-6, 1 Joh. 2:18-27
Sing: Sien liturgie

Tema: Christus… en daarom altyd ook die antichris.

  1. Hierdie stryd lei tot twee partye (vv. 18-21)
  2. Hierdie stryd is die gevolg van  twee visies op Christus (vv. 22-23)
  3. Vir hierdie stryd gee Christus twee beveiligings (vv. 24-27)

Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,

Die antichris – altyd ‘n moeilike onderwerp om te bespreek. Wat is die antichris? Wie is die antichris? Kan ons die antichris met iets of iemand in ons tyd identifiseer? – alles vrae wat rondom hierdie onderwerp na vore kom. En ons is nie die eerstes wat antwoorde op hierdie vrae probeer vind nie. Ons sien byvoorbeeld hoe die vroeë kerk vir keiser Nero, die groot christenvervolger, as die antichris beskou het. In die middeleeue is die pous soms as die antichris beskou. Ook vir Luther en Calvyn was die pous duidelik die antichris. Calvyn noem die pous die aanvoerder en hoofman van die goddelose en verfoeilike ryk van die antichris. Maar voordat ons dadelik lyne wil trek na ‘n spesifieke persoon, is dit miskien goed om kortliks te kyk na wat die Skrif ons leer oor die antichris.  

Die woord ‘antichris’ kom ons slegs teë in die twee gedeeltes wat ons gelees het in 1 Johannes 2 en 4, asook in 2 Johannes, vers 7. Soos sy naam aandui, is die antichris die teenstander van Christus. Dit is iets anders as die ‘valse’ christusse waarvan die Here Jesus self verskeie kere in die evangelies praat (Matt. 24:24) – vir hulle word trouens ook ‘n ander naam gebruik, naamlik ‘pseudo’-christusse; hulle gee hulleself dus voor as Christus, maar is dit nie. Maar die antichris (en dit is die woord wat letterlik in die Grieks gebruik word) is nie iemand wat homself voorgee as Christus nie; nee, hy stel homself doelbewus in die plek van en teenoor Christus. Daarom is dit ook begryplik dat die antichris juis dán na vore kom, wanneer Christus voluit geopenbaar word in die Nuwe Testament. 

Ons sien al voortekens van die koms van die antichris in die Ou Testament – dink maar aan Daniël 7, waar Daniël die gesig ontvang van die vier diere, en dan word van die vierde dier gesê: “En hy sal woorde spreek téén die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel…” Sien u die ‘anti’ in die optrede van hierdie vierde dier? – hy sal woorde spreek téén die Allerhoogste.

Maar wat in die Ou Testament nog maar voortekens is, kom in die Nuwe Testament in al sy krag na vore. Die egte, growwe ‘anti’ kom wanneer Christus gekom het. Eenvoudig gestel: wanneer Christus gebore word, dan kruip die antichris ook uit sy skuilplek uit; toe Christus op aarde gekom het, toe was daar skielik werk vir die antichris; daar waar Christus werk, werk die antichris ook. Ons kan die antichris daarom nooit los van Christus sien nie; ons kan nie antichris sê sonder om ook Christus te sê nie. Die antichris is aan Christus gebonde, hy is ‘n bestryder is van alles wat Christus in die wêreld doen en beteken.

En dit is duidelik uit 2 Thessalonicense 2 en Openbaring 13, dié twee gedeeltes waarin daar, buiten dan die gedeeltes in die briewe van Johannes, ook oor die saak van die antichris gepraat word. Uit beide hierdie gedeeltes blyk dat die antichris ‘n instrument van die satan is om die laaste aanslag teen Christus en sy volgelinge (die kerk hier op aarde) te loods; die antichris word deur die satan toegerus met besondere vermoëns om sy duiwelse werk teen Christus te kan uitvoer. Die antichris beïndruk mense met tekens en wonders van die leuen, die antichris verlei mense met afval en sonde. Die antichris is by uitstek Christus se konkurrent; hy bestry openlik die heil wat Christus gebring het, deur sy eie heil in die plek daarvan te stel.  

En daarom, gemeente, kan ons die antichris nie uitstel tot die tyd net voor Christus se wederkoms, soos so dikwels gedoen word nie: “Die antichris kom nog lank nie, eers ver in die toekoms sal hy kom.” Uit vers 18 van ons teks wil dit egter wel voorkom asof daar teen die einde ‘n besondere openbaring van die Antichris sal wees, maar dit sal dan nie die eerste keer wees wat hy werksaam is nie. Nee, onmiddellik as Christus kom, is die antichris daar; kort op Christus se hakke volg altyd sy teenstander, die antichris. Wanneer Johannes daarom sy brief skryf, is daar al baie antichriste alreeds aan die werk.

En daaruit lei Johannes af dat dit die laaste uur is (vers 18). En dan gaan dit nie oor ‘n chronologiese aanduiding, asof Johannes wil beweer dat Christus se wederkoms net om die draai is nie. Nee, die term ‘laaste uur’ is ‘n beskrywing van die tyd waarin die mens leef vandat Christus op die aarde gekom het totdat Hy weerkom; dit is dus die tyd waarin Johannes self geleef het, maar dit is ook die tyd waarin ons vandag nog leef. Vandat Christus op die aarde gekom het, leef ons in die laaste uur; van toe af leef ons in die uur van die finale opposisie teen Christus; ook vandag nog het ons te make met die volskaalse teenstand van die antichris teen Christus en sy volgelinge. En ons moet weet dat hierdie teenstand in intensiteit sal toeneem; dit is soos golwe wat al hoe hoër word totdat dit ‘n ongekende hoogte sal bereik. 

Maar, gemeente, wat hou die antichris nou prakties vir u in? Waar kan jy die antichris prakties aan die werk sien? Wel, oral in ons wêreld waar die naam van Christus aktief verloën en doelbewus doodgeswyg en weggewerk word, daar is die antichris besig. Die antichris is teen Christus, Hy wat die Waarheid is. En daarom is die antichris die personifikasie van die leuen en die leuengees.

Ons sien hierdie leuengees werksaam in ons tydsgees, waar die enigste waarheid van die Skrif verruil word vir elke persoon se eie waarheid. Ons sien die antichris werksaam in politieke strukture, waar ons owerheid elkeen toelaat om sy eie religieuse oriëntasie te bepaal, maar nie verdra dat christene Jesus Christus as die énigste waarheid bely nie. Ons sien die antichris werksaam in ons grondwet waaruit enige verwysing na die christelike geloof verwyder is. Ons sien hoe die antichris gebruik maak van die media en van die onderwysstelsel. Ons sien die leuengees werk in sosiaal-maatskaplike ideologieë. Ook die kerk word nie gespaar nie – die antichris tree op binne sowel as buite die kerk, hy maak gebruik van kerkmense en onkerklikes. Die antichris probeer die menslike samelewing ondermyn en onmoontlik maak; hy streef daarna dat alle respek vir grense, norme, waardes, en vir die lewe self, uitgewis word.  

Vul self in, broers en susters, waar u hierdie invloed van die antichris in die omgewing waarin u verkeer, herken. Sien raak, christenstryder, waar die antichris jou aanval. Ja, jy is as christen betrokke in die stryd tussen Christus en die antichris. Daarvan kan jy jouself nie afsluit nie! Wanneer ons Christus sê, dan sê ons onmiddellik ook antichris. Maar dit het dan ook implikasies vir jou, die volgeling van Christus.

Kom ons kyk nou vervolgens na hierdie stryd, onder die tema:

Tema: Christus… en daarom altyd ook die antichris.

  1. Hierdie stryd lei tot twee partye (vv. 18-21)
  2. Hierdie stryd is die gevolg van  twee visies op Christus (vv. 22-23)
  3. Vir hierdie stryd gee Christus twee beveiligings (vv. 24-27)

1. In vers 19 identifiseer Johannes die baie antichriste (wat alreeds bestaan het) as die dwaalleraars wat onrus in die gemeente gebring het met hulle verkeerde leer (terloops, dit blyk dus moontlik te wees om die antichris met spesifieke persone te verbind). Maar hierdie dwaalleraars was intussen nie meer deel van die gemeente nie; hulle het die gemeente vrywillig verlaat, moontlik omdat hulle nie daarin kon slaag om die lidmate vir hulle sienings te wen nie.  

En Johannes wys dan, deur middel van ‘n skerp kontras, dat hierdie mense nie slegs op hierdie stadium nie meer deel van die gemeente is nie, maar dat hulle eintlik nog nooit deel van die gemeente was nie. Hy sê: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle wás nie van ons nie” – dus, alhoewel hulle aanvanklik lidmate van hierdie gemeente was, en later uit die gemeente uitgegaan het, was hulle eintlik nooit deel van ons nie. En, broers en susters, dan gaan dit hier oor iets anders as wat ons dikwels in ons kerke vind, naamlik dat mense nie inpas by ons gewoontes en kultuur nie, en uiteindelik vertrek; en dan sê ons: “Ja, hulle was nooit regtig deel van ons nie…” Maar dit is nie wat Johannes hier bedoel nie; vir Johannes gaan dit hier nie oor verskille in kultuur en gewoontes nie, Johannes trek nie skeidslyne op grond van kultuur of taal of kleur nie. Nee, Johannes trek die duidelike lyne van die geloof – hulle was nooit een in die gelóóf met ons nie!  

Gemeente, ons sien dus hier dat die stryd tussen Christus en die antichris skeiding bring, juis in die kerk. Christus is nie versoenbaar met sy teenparty, sy ‘anti’, nie. O ja, Christus versoen wel gelowiges oor taal- en kultuurgrense heen – gelowiges met ‘n nederlandse, afrikaanse en sotho agtergrond kan in groot harmonie kerk van Christus wees, en laat ons daarom nooit daaraan skuldig wees dat mense ons verlaat omdat taal of kultuur ons kriteria geword het nie…  Maar Christus laat nooit versoening toe tussen Homself en die Antichris nie, tussen christene en antichriste nie; hier lê vir Hom die skeidslyn: navolging van Hom, of verwerping van Hom. Dit is twee onversoenbare teenpole! Ook in sy eie dissipelkring het Hy nie toegelaat dat dié twee saamgaan nie; ook dáár moes uiteindelik ‘n skeiding kom toe Judas Iskariot van die res van die dissipels uitgegaan het – so lees ons in Johannes 13:30. Dit is trouens dieselfde woord as wat hier in ons teks gebruik word – hulle het uitgegaan; hulle het vertrek, want hulle was nooit deel van ons nie, hulle het wesenlik van ons verskil.

Broers en susters, hoe hierdie mense deel geword het van die gemeente daar in Efese, is nie heeltemal duidelik nie. Miskien dat hulle aanvanklik die christelike belydenis afgelê het, maar tog ‘n verkeerde interpretasie daaraan geheg het. In elk geval is duidelik dat hulle nie in die geloof een was met die gemeente nie. En dit blyk ook uit die feit dat hulle weggegaan het. Johannes sê immers in vers 19 – “… as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het.” Dus, as hulle een in die geloof met ons was, sou hulle nie weggegaan het nie, “… maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” Dit moes dus blyk dat daar onversoenbare verskille bestaan tussen Christus en die antichriste.  

Gemeente, dit mag na ‘n harde oordeel klink, en dit is ook hard. Daar mág ook ‘n harde oordeel klink wanneer mense die kerk van Christus verlaat omdat hulle Christus bewustelik begin teenwerk. Let wel, dit is iets anders as mense wat ons gemeente om wettige redes verlaat. Maar as mense die kerk van Christus, waarvan hierdie gemeente ‘n plaaslike en sigbare verskyning is, verlaat en Hom openlik bestry, dan mag en moet die oordeel klink: hulle is nie van ons nie, hulle is nie van Christus nie!

Maar intussen mag u uself ook getroos weet deur dit wat Johannes hier sê: As hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het. Dit word as beginsel gestel. Dus, die teenorgestelde is: die wat van ons is, bly by ons! Dié wat saam met ons in Christus glo, bly deel van ons, sal altyd deel van ons bly, sal altyd saam met ons Christus bly volg! Broers en susters, hier bely ons die volharding van die heiliges, waarvan die Dordtse Leerreëls in hoofstuk 5 so pragtig praat. God laat sy kinders nooit los nie! Dit is nie so dat ons vandag opreg glo, en môre daardie geloof kan verloor nie. Nee, lees maar DL, hfst. 5, par. 3: “… God is getrou. Uit barmhartigheid bekragtig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig daarin bewaar.” En paragraaf 4: “Die mag van God waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bekragtig en bewaar, is so groot dat dit nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie.” Is dit nou nie vertroostend nie? Christus laat sy volgelinge nie in die steek nie. Dié wat van ons is, bly by ons – nie omdat hulle van óns is nie, maar omdat ons almal van Christus is.

Gemeente, die stryd tussen Christus en die Antichris het altyd stryd tussen hulle aanhangers tot gevolg. Dit bring altyd skeiding tussen christene (volgelinge van Christus) en antichriste (volgelinge van die Antichris). Dit het altyd twee partye tot gevolg. En daarom ook die oproep in hoofstuk 4:1: “… stel die geeste op die proef of hulle uit God is.” Maar intussen mag ons seker weet dat ons wat van Christus se party is; ons wat Hom navolg, hoef nie bang te wees oor ons toekoms nie. Immers, so sê Johannes in vers 20, ons het die salwing en weet alles – dit wil sê, ons het deur Christus die Heilige Gees ontvang, en ken alles wat vir ons saligheid nodig is. Die gelowiges ken die waarheid, en daar is gee leuen uit die waarheid nie (vers 21).

Ons let vervolgens daarop dat die stryd tussen Christus en die antichris ook twee visies op Christus tot gevolg het.  

2. Gemeente, Johannes gee in verse 22 en 23 duidelike riglyne oor hoe ons die vele antichriste van ons tyd kan herken. Hy wys wat skeiding bring tussen christene en antichriste, hy wys wat dit is wat maak dat christene en antichriste nie saam in die kerk kan sit nie. Die antichris is naamlik die leuenaar is; hy bly dus nie in die waarheid wat God geopenbaar het nie. En waarin kom dit by uitstek na vore? In die feit dat hy ontken dat Jesus die Christus is. Johannes sê dit ook in hoofstuk 4:2 en 3: “elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.” Dit wat Johannes hier na vore bring, is nie iets nuuts nie – dit is immers wat hy nog die hele tyd in sy brief bestry – mense wat die vleeswording van Christus ontken! 

En daarom, gemeente, stel Johannes ons hier voor die eenvoudige keuse: bely jy dat die Seun van God mens geword het? En dan sluit dit alles daarby in: bely jy sy geboorte uit die maagd Maria, bely jy dat Hy gesterf het aan die kruis, en na drie dae opgestaan het? Bely jy dat Hy na die hemel opgevaar het en tans aan die regterhand van die Vader sit, waar Hy vir sy volgelinge intree? Glo jy dit met jou hart en bely jy dit met jou mond? Want hier val die beslissing tussen christene en antichriste; hier word bepaal by watter party jy tuishoort. Johannes is hier swart-wit in sy siening. Hy is nie bereid om teenstrydige oortuigings te verander in komplementêre sienings nie; nee, dit gaan hier oor waarheid en leuen. En ons het dit deur die hele brief al gesien: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons…”, “Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ‘n leuenaar…” Maar hy wat ontken dat Christus mens geword het, hy is “die” leuenaar, die leuenaar by uitstek! Dit is ‘n duiwelse leuen wat hier aangehang word. 

Gemeente, toets daarom maar die geeste, toets mekaar, toets die mense met wie u in aanraking kom: glo jy dat Jesus Christus werklik mens was? Glo jy dat Hy God en mens in een persoon was? Glo jy dat sy dood aan die kruis vir jou sondes was? Glo jy dat Hy uit die dood opgestaan het? Glo jy dat Hy na die hemel opgevaar het? Want iemand wat een van hierdie ontken, moenie verwag dat hy gemeenskap met die Vader het nie. Slegs deur die Seun, slegs deur Christus soos die Skrif Hom aan ons voorhou, kan ons werklik tot die Vader kom.

Broers en susters, die antichris werk Christus teë. Moenie ligtelik oor hierdie teëwerking dink nie, moenie dit as minder belangrik beskou as iemand nie Christus se goddelikheid en menslikheid kan bely nie, moenie dink: “waaroor al die herrie?” wanneer iemand openlik Christus se opstanding verloën nie. Nee, hier val die beslissing: vir Christus of anti Christus?!

Ons let ten slotte daarop dat Christus ons in hierdie stryd twee beveiligings gee.

3. Nadat Johannes duidelik onderskei het tussen die antichriste en die ware gelowiges, en daarna ook die aard van die dwaling blootgelê het, wys hy nou op twee beveiligings wat sy lesers daarvan sal beskerm om van Christus afgetrek te word.

In die eerste plek sê hy: “Wat julle dan van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly.” Johannes roep sy lesers dus op om trou te bly aan die verkondiging van die evangelie. En dit is nie ‘n boodskap wat verander het nie; inteendeel, dit is dieselfde boodskap wat van die begin af aan hulle verkondig is. Ja, die boodskap van die evangelie bly altyd dieselfde.

Dit is kenmerkend van die swaar tye in die laaste dae dat mense altyd nuwe dinge wil hoor, maar nooit tot die kennis van die waarheid kom nie (kyk maar na 2 Tim. 3:1 en 7). Die voortdurende obsessie vir die nuutste idees is ‘n kenmerk van die Athener, maar nie van die christen nie. Die christen staan vas in die leer van die Skrif – dít verseker dat ons in die Seun en in die Vader bly, dus dat ons gemeenskap met God het! Dít verseker dat ons die ewige lewe het! In ‘n tyd wat voortdurend vra vir nuwe dinge, sal die kerk, broers en susters, sal ons daarom moet vashou aan die bybelse waarheid. Nie omdat ons hierdie ultra-konserwatiewe mense is wat nie wil verander nie, maar omdat ons weet dat die evangelie van Jesus Christus relevant is vir alle tye. Jesus Christus is relevanter as gister se rugby of vandag se politiek. Jesus Christus het op hierdie oomblik meer te sê as enige iets anders. Laat ons daarom die Skriftuurlike onderrig nie verag nie, laat ander dinge ons nie hiervan aftrek nie, laat ons die eredienste, die persoonlike bybelstudie en gesamentlike bybelstudie en die katkisasies hoog ag, sodat dit wat ons van die begin af geleer het, in ons kan bly.   

Johannes gee nog ‘n tweede beveiliging, nie een wat los staan van die vorige een nie, maar een wat nou daarmee verbonde is. Hy sê in vers 27: “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie.” Die salwing dui in hierdie konteks op die Heilige Gees. Christus – en die naam ‘Christus’ beteken gesalfde – was gesalf met die Heilige Gees (Luk. 4:18), en daardie salwing gee Hy ook aan ons. En dit is daardie Gees wat ons in ons het, dit is daardie Gees wat altyd by die kerk bly, soos Christus belowe het. Die beproefde gemeente, die gemeente wat in hierdie wêreld deur die antichris bedreig word, staan nie alleen nie, maar het die Heilige Gees wat ons in die waarheid van die Skrif sal lei.

En daarom, gemeente, hou ons hierdie twee altyd so nou bymekaar: Woord en Gees! Die twee beveiligings wat God gee om vir Christus te kan lewe en nie anti Christus te word nie, naamlik die Woord en die Heilige Gees. En ons het beide! Johannes sê immers: Julle het die Woord gehoor (vers 24), julle het die Heilige Gees ontvang (vers 27). Hierdie twee saam is nodig om voort te kan gaan as volgelinge van Christus – nie ‘n oormatige klem op een van die twee nie, want dan loop dit skeef. Wanneer ons net die Woord beklemtoon, sonder die Gees, dan verval ons in dooie ortodoksie, dan verval ons in droë kennis sonder die dinamiese lewe wat die Gees bring. Wanneer ons net die Gees beklemtoon, sonder die Woord, dan verval ons in subjektivisme, ‘n emosionele belewiing sonder enige basis. Daarom gemeente, hou Woord en Gees saam – hulle behoort bymekaar! Dit is deur hierdie twee, en nie deur nuwe leringe of leraars nie, dat ons kan voortgaan in die waarheid; kan voortstry teen die antichris.  

En weet, broers en susters, dat die aanvalle van die antichris nie minder word nie; inteendeel, dit sal in hewigheid en intensiteit toeneem. Maar laat dit u nie moedeloos maak nie. Eenmaal sal Jesus Christus, God en mens, wat gesterf en opgestaan het, wat na die hemel opgevaar en aan die regterhand van God sit, eenmaal sal Hy die Antichris in al sy magteloosheid ontmasker. Dan sal die Antichris en al sy volgelinge drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hulle sal gepynig word met vuur en swawel (Openb. 14:10). Maar ons sal drink van die wyn van die bruilof van die Lam. Die oorwinning is seker, eendag, binnekort sal die Seun daardie oorwinning ook kom opeis.

En daarom word u opgeroep om intussen die goeie stryd te bly stry; neem die swaard van die Gees – dit is die Woord – op en stry.

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 71:9 en 14
Wetslesing
Gebed
Sing Ps. 112:1, 2 en 4
Lees: 1 Johannes 4:1-6
Sing Ps. 119:51, 52 en 59
Teks: 1 Johannes 2:18-27
Preek
Amenlied Ps. 20:2, 6, 7, 9
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 43:1, 2 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)