Bewaar julleself van verkeerde denkbeelde!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-10-22
Teks: 
I Johannes 5:18-21
Preek Inhoud: 

1 Johannes 5:18-21

Ds HH van Alten - Sondag 22 Oktober 2006

Lees: 1 Joh. 5;  1 Joh. 5:18-21
Sing: Sien liturgie

Tema: Bewaar julleself van verkeerde denkbeelde!

  1. Oor die sonde… (vers 18)
  2. Oor die wedergeboorte… (vers 19)
  3. Oor God… (vers 20)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het in die afgelope maande diep gedelf in die eerste brief van die apostel Johannes. Sake wat aan die orde gekom het, is: die gemeenskap met God, om in die lig te wandel, die oorwinning van die geloof, die antichris, Christus se wederkoms en ons voorbereiding daarop, en ook die liefde vir God en ons broers en susters. Moet egter nie dink, gemeente, dat ons hierdie brief selfs naby aan uitgeput het nie. Hierdie brief is, soos die res van die Skrif, ‘n rykdom waaruit ons telkens weer ou en nuwe skatte te voorskyn kan haal. En daarom moet u bly lees en bly delf. Vandag wil ons egter ons studie van 1 Johannes afsluit, en ek wil dit doen aan die hand van die vers waarmee Johannes self sy brief afsluit, hoofstuk 5:21: “My kinders, bewaar julleself van die afgode.”

Hierdie woorde is seker een van die mees abrupte eindes vir ‘n brief wat ons onsself kan voorstel. Baie sien hierdie afsluiting daarom ook as ‘n antiklimaks. Net hiervoor het Johannes nog so pragtig gepraat oor die Waaragtige en oor sy Seun, Jesus Christus, en dan dit… Maar gemeente, behalwe dat dit ‘n abrupte einde is, is dit ook een wat vir ons gevoel geen aanleiding het nie. Nêrens anders in sy brief praat Johannes van afgode nie, ook die sáák van afgode kom nêrens aan die orde nie. Feitlik alle verklaarders is dit daarom eens dat Johannes hier nie praat van letterlike afgodsbeelde nie, aangesien Johannes nêrens anders daarna verwys nie, en omdat niks daarop dui dat dít sy lesers se stryd was nie.

Waarskynlik die beste verklaring wat ons vir hierdie woorde kan vind, is dat Johannes sy lesers waarsku om nie vir hulleself verkeerde denkbeelde van God te skep nie. Want, broers en susters, ons maak nie eers afgode wanneer ons ‘n goue of silwer godjie op die bedkassie neersit nie, afgode is nie slegs iets sigbaars en tasbaars nie. Nee, hier in ons gedágtes begin die afgodery alreeds, ook vir kinders van die Here! Vir ons geld die tweede gebod (“jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie”) nog net so sterk as vir die volk Israel wat die goue kalf gemaak het. En daarom kan die Kategismus, by die verklaring van die tweede gebod, ook duidelik sê: “Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.”

En dit is presies wat die dwaalleraars, wat ons in ons behandeling van hierdie brief teëgekom het, gedoen het; hulle het vir hulself ‘n denkbeeld van God geskep, hulle het vir hulself ‘n ander god geskep as die Een wat Homself aan ons geopenbaar het, nie omdat hulle bewustelik die geloof en die evangelie teëgestaan het nie, maar omdat hulle nie toegelaat het dat die verkondiging van die evangelie hulle selfgemaakte denkbeelde korrigeer en verander nie.

En hierteen waarsku Johannes sy lesers nou reg aan die einde van sy brief: moenie in julle gedagtes vir julle ‘n idee van God skep wat anders is as die God wat ek aan julle verkondig het nie, bewaar julleself van sonde teen die eerste gebod, laat toe dat julle denkbeelde deur die Woord van God reggestel word. En dit sê Johannes op grond van die sekerhede wat hy net hiervoor, in verse 18-20, uitgewerk het – tot drie maal toe kom ons in hierdie verse die woorde “ons weet” teë: ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; ons weet dat ons uit God is; ons weet dat die Seun van God gekom het. Ons weet dit verseker, op grond van die Woord van die Here, op grond van die verkondiging – dit is die slotsom waartoe Johannes kom. Maar as laaste nog die waarskuwing: Moet nou nie toelaat dat jou eie denkbeelde hierdie sekerhede van jou wegneem nie.  

Tema: Bewaar julleself van verkeerde denkbeelde!

  1. Oor die sonde… (vers 18)
  2. Oor die wedergeboorte… (vers 19)
  3. Oor God… (vers 20)

 1. In vers 18 word die kinders van God aangedui met die woorde: “elkeen wat uit God gebore is.” Dit gaan hier dus oor elkeen wat weergebore is, van bo af gebore is, wat deur die Gees van God ‘n nuwe mens geword het. So iemand sondig nie! Ons het ‘n soortgelyke stelling al teëgekom in hoofstuk 3:6 en 9. Toe het ons alreeds daarop gewys dat dit nie beteken dat God se kinders nooit meer sonde doen nie, maar dat die werkwoordsvorm wat gebruik word dui op iets wat nie meer as gewóónte gedoen word nie. Kinders van God lééf nie meer in die sonde nie, verlústig hulle nie meer in die sonde nie; in ons lewenswandel is ons nie meer in opstand teen God nie. Dit is die aard van God se kinders, broers en susters, dat ons nie meer die sonde opsoek nie; inteendeel, ons vlug daarvan weg, ons soek dit nie meer nie. Maar, elke gelowige kan – en moet – daarvan getuig dat ons nog wel sonde doen; ons bereik geen volmaaktheid in hierdie lewe nie; ons struikel nog dikwels, ook al is ons wandelaars op die ewige weg. Maar ons het opgehou om soos varke te wees, wat hulleself doelbewus in die modder van die sonde gaan rondrol.  

En gemeente, laat ons eerlik wees: dit kan ook nie meer nie, dit mag nie meer nie, daar is geen rede om terug te val in ‘n lewe van sonde nie. Ons word immers beskerm! Om dit te verstaan, is dit belangrik om iets oor die vertaling te sê. Ons vertaling sê: “hy wat uit God gebore is, bewaar homself”, maar daar is vanuit die oorspronklike taal meer rede om te vertaal: “Hy wat uit God gebore is, bewaar hom.” Die Een wat uit God gebore is, dui dan op Jesus Christus; Hy is dus die Een wat ons beskerm. Christus bewaar die christen; die Een wat by uitstek uit God gebore is, God se eie Seun is, bewaar elkeen wat ná Hom uit God gebore word!

En, gemeente, dít gee aan Johannes die vrymoedigheid om as ‘n seker wete te poneer dat die kinders van God nie sondig nie, nie meer in sonde lewe nie. Deur Christus se beskerming het die duiwel, die Bose, geen vat meer op ons nie. Die werkwoord wat hier gebruik word, beteken letterlik “aansteek” of “laat ontvlam” – die duiwel kan ons dus nie meer in sonde laat ontbrand nie, hy kan ons nie meer aansteek met vuur vanuit die hel (Jak. 3:6) en ons sodoende beseer nie.  

Gemeente, Johannes stel hier as sekerheid dat God se kinders nie meer in die sonde lewe nie. Hy sê: “Ons wéét…” Weet ons dit? Vind hierdie seker wete ook uiting in ons lewenswandel? Is hierdie wete ‘n deurleefde oortuiging? Of is ons baie subtiel besig om op hierdie punt afgode in ons gedagtes te maak? Denkbeelde waarmee ons onsself sus dat ons kinders van God kan wees en intussen steeds onsself in die sonde kan verlustig? Denkbeelde wat nie ooreenstem met wat God in sy Woord leer nie…?

Dit gebeur maklik: ons dink dat ons bewustelik in sonde kan bly lewe, en dan tog met vrymoedigheid die liggaam en bloed van die Here Jesus aan die nagmaal kan geniet; ons verbeel onsself dat ons maar kan aangaan om ons jongmenslewe in te vul soos wat die wêreld dit doen, en dan tog meen dat God dit eenvoudig gaan vergewe wanneer ons daarvoor bid! Maar dan het ons vir onsself, in ons denke, afgode gevorm oor die manier waarop die kinders van God met die sonde behoort om te gaan; dan het ons in die plek van Gód se wysheid oor ons omgang met die sonde, ons eie wysheid gestel.

En gemeente, net hiervoor in verse 16 en 17 het Johannes nog baie duidelik gewys dat ons nie ligtelik met die sonde kan omgaan nie, die Here laat nie toe dat ons ons eie bepalings oor die sonde maak nie. Elke sonde, sê Johannes in vers 17, is ongeregtigheid, elke sonde is teen God se wil, geen sonde pas by die styl van God se Koninkryk nie.

Maar daar is sonde wat nie tot die dood is nie – en dan gaan dit oor daardie sonde wat in die Ou Testament beskryf word as sonde uit swakheid, sonde sonder opset, onbewustelike sonde (lees maar Levitikus 4 en 5). Dit gaan dus oor sonde wat nie die verwerping van God en sy weg tot verlossing inhou nie; by sulke sondes word die sondaar, u en ek, teen ons wil oorval deur verleiding, ons wíl steeds God en ons naaste liefhê, ons streef steeds daarna om vry van sonde te lewe. Vir sulke sondes is daar vergewing by die Here.

Maar – en daarop moet ons goed let, gemeente – dan is daar ook dié sonde uit moedswilligheid en vermetelheid, sonde wat opsetlik gedoen word. Sonde waar die sondaar bewustelik kies om die weg van die sonde te gaan, ‘n lewe van sonde te lei. En hiervan sê die Ou Testament baie duidelik dat hierdie sondaar uit die midde van sy volksgenote uitgeroei moet word. Ook die Nuwe Testament is baie duidelik hieroor; lees maar Hebreërs 10:26: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.” Om doelbewus in die sonde te lewe, jouself daarin te verlustig beteken om die pad van die dood te bewandel, en wie die pad van die dood bewandel sal sekerlik sterwe! 

Gemeente, laat ons daarom ons denkbeelde oor die manier waarop die gelowige teenoor die sonde behoort te staan, regstel in die lig van God se verlossende Woord. Wie in Christus is, kán nie die gemeenskap met die sonde voortsit nie; dit is ‘n onding dat mense christene wil wees, maar steeds die sonde wil aanhang, dit is nie moontlik nie. Vir Christus, wat uit God gebore is, bestaan dit nie – daarom ook nie vir alle ander wat uit God gebore is nie. Christus weerhou ons daarvan om die sonde te doen, Hy bewaar ons van die Bose. Gemeente, bewaar daarom u self van die afgode!

Ons let vervolgens op verkeerde denkbeelde oor die wedergeboorte. 

2.  In vers 19 tref ons die tweede sekerheid in die rytjie van drie aan. Hier gaan dit nie, soos in vers 18, oor die gelowige se houding teenoor die sonde nie, maar oor sy herkoms. Dus, waar kom die gelowige vandaan, wat is die bron van sy bestaan? En dan is dit mooi om te sien hoe Johannes homself met sy lesers assosieer deur te sê: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.” Letterlik staan hier: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die Bose lê” – en dit blyk in ons vertaling uit die feit dat die woorde “die mag van” in vers 19 skuinsgedruk is, wat ‘n aanduiding is dat dit nie in die oorsponklike staan nie.  

Gemeente, dit is belangrik dat ons hier die kontras raaksien tussen die gelowiges, ons, aan die een kant, en die hele wêreld aan die ander kant. Om hierdie kontras helder te kry, begin ek met die wêreld. Johannes sê van die hele wêreld dat dit in die Bose lê. Letterlik: lê. Dit is ‘n passiewe, nie-vooruitstrewende posisie. Die wêreld is nie besig om ywerig te worstel om vry te kom nie, die ongelowiges doen nie moeite om hulle passiewe posisie te verander nie; nee, die wêreld lê daar rustig in die omhelsende arms van die Bose, salig onbewus van sy toestand. Die Bose kan geen vat kry op die christen nie, maar die wêreld is hulpeloos in sy greep – Hy is die Prins van hierdie wêreld! En soos gehipnotiseerdes volg die wêreld die satan in die afgrond in…

En daarteenoor is daar “ons”, soos Johannes dit stel: “Ons weet dat ons uit God is…” Broers en susters, om uit God te wees – soos dit letterlik daar staan – impliseer ‘n geboorte, ‘n wedergeboorte, dit impliseer dat jou toestand verander het. Om wedergebore te wees, beteken dat jy vanuit die dood oorgegaan het in die lewe, dit wys op iets dinamies – ‘n nuwe lewe! Sien u die kontras: teenoor die passiewe lê van die hele wêreld, is daar die dinamiese nuwe lewe van die kinders van God. Hulle lê net daar, maar ons is, ons lewe, ons gaan vir hierdie lewe!  

Is dit nog so, broers en susters? Is ons denke suiwer oor hierdie dinamiese nuwe lewe, hierdie wedergeboorte? Laat ons onsself ook vanuit God se Woord onderrig oor wat hierdie nuwe lewe inhou, of het ons ons eie denkbeelde hieroor gevorm? Is daar nie op hierdie gebied moontlik afgode wat afgebreek moet word nie?

Want, gemeente, ons sien soms so min van hierdie nuwe lewe, hierdie uit-God-gebore-wees… Ons beskou ons wedergeboorte dikwels as ‘n toestand – eenmaal daar, altyd daar. Ons is dikwels heeltemal tevrede om in God te lê, soos wat die wêreld in die Bose lê, in plaas van om in God te wees, in God te lewe! Maar ons vergeet dan dat die nuwe lewe ‘n werksame lewe is, dat die dinamiek van hierdie lewe vir alle mense sigbaar behoort te wees. En Johannes wys dit baie duidelik in die begin van hoofstuk 5.

In hoofstuk 5:1 lees ons dat wie uit God gebore is, glo dat Jesus die Christus is. En dan het dit ook gevolge vir ons omgang met mekaar, want elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is. En hoe gee ons uiting aan hierdie liefde vir God se kinders? Deur sy gebooie te onderhou (vers 2). Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar. Sien u gemeente, om in God te wees, is volgens Johannes geen toestand nie, maar ‘n lewe vanuit gehoorsaamheid aan God; om wedergebore te wees, beteken om God se wet na te kom; dit beteken om jou liefde vir jou broers en susters te bewys in die navolging van elkeen van God se gebooie.  

Gemeente, laat ons onsself bewaar van afgodery op hierdie punt, verkeerde denkbeelde oor ons kind-wees van God; laat ons daarteen waak om in selfgerustheid agteroor te sit en te meen dat my toestand genoeg is. Jou toestand is nie genoeg nie… Nog minder jou werke – as jy gemeen het dat dit die regte antwoord is. Nee, dit is ons geloof wat die wêreld oorwin het – so sê Johannes in hoofstuk 5:4 en 5 – ons geloof in Jesus Christus wat die oorwinning behaal het. En geloof is nooit werkeloos nie, geloof sit nooit stil nie. Geloof beroem hom in die verlossing van sonde deur Jesus Christus, en wys dit dan ook teenoor die mede-gelowiges. Elkeen wat uit God is, bewaar jouself van die afgode, van verkeerde denkbeelde.

Ons let ten slotte op verkeerde denkbeelde oor God.

3. Die derde sekerheid in die rytjie van drie wat Johannes in verse 18, 19 en 20 noem, het betrekking op God self. Die vraag wat ontstaan as ons vers 19 lees, is: as die hele wêreld dan in die Bose lê – en onthou: ons was ook eers van die wêreld, ons het ook eers in die mag van die Bose gelê – maar as dit so is, hoe het ons dan uit die greep van die Bose gekom om uit God te wees? Hoe kom mense vandag nog los van daardie greep?

Gemeente, hier gaan Johannes weer direk in teen die dwaalleraars wat gemeen het dat jy jouself moet losmaak van die aardse en die stoflike en na God moet opstyg – dit was hulle oplossing van hierdie probleem. Nee, sê Johannes, ons hoef nie op te styg nie; ons hoef nie met ons kennis na God te gaan nie, ons kan dit nie eens doen nie. Hy kom na ons toe! Sy Seun het gekom en aan ons verstand gegee, insig gegee, om die Waaragtige te ken. Die Seun van God is die Een waardeur u God kan ken! En let wel, dit gaan hier nie oor intellektuele kennis nie, dit gaan nie daaroor dat ek ‘maar’ weet nie. Nee, dan kon God nie so wel die bybel uit die hemel laat val het. Dan kon ons gelees het en geweet het… Maar dit is nie wat God doen nie, want om God te ken is nie slegs ‘n seker wete nie, maar ook ‘n vaste vertroue; geloofskennis is deurleefde kennis, dit is diep persoonlike kennis, dit is eerstehandse kennis! En daarom, gemeente, kom God ook in die hoogseie persoon van sy Seun na ons toe. Juis sodat ons kennis van Hom deurleef en persoonlik en eerstehands kan wees. Deur Hom weet ons nie slegs dat God die Waaragtige is nie, maar deur Hom ken ons die Waaragtige, word ons uit die Waaragtige weergebore! 

En gemeente, dan beteken Waaragtige nie in die eerste plek dat Hy waar is nie – dit natuurlik ook. Maar heel eerste beteken dit dat Hy eg is, werklik bestaan! Deur Jesus Christus weet ons dat God IS, deur Christus het ons ‘n persoonlike band met die hoogste werklikheid! Want God is die hoogste werklikheid! Alles wat u in die lewe van elke dag as werklik beleef, is maar ‘n afskynsel van God. U werk, u vrou, jou fiets, jou hond – ja, dit is werklik, maar nie so werklik soos God nie. En om deel te mag wees van hierdie hoogste werklikheid, om in God self te kan wees, om met Hom gemeenskap te kan hê, moet ons in sy Seun, Jesus Christus wees. Hy is immers self die waaragtige God en die ewige lewe wat persoonlik by ons gekom het. Slegs deur hierdie selfopenbaring van God verkry ons die egte kennis van die Waaragtige God.  

Snaaks, ons gooi dit dikwels om. Dit wat ons kan voel en tas en proe en sien, is vir ons dikwels baie meer werklik as God. Die aardse en die stoflike is vir ons dikwels baie meer reëel as die Waaragtige. Het ons dit nie by die volk Israel gesien nie – ‘n goue kalf, want Moses is weg en hulle kan God nie sien nie. Soek ons nie in ons diens aan God dikwels na die tasbare en voelbare nie? Soek ons nie maar ook daarna om aan ons God in allerhande sigbare dinge vorm te gee nie? En dan sien ons ‘n oormatige klem op die gevoel, ons sien dat die visuele in die erediens begin oorneem, ons sien hoe allerlei tasbare vorme die behoefte om die werklikheid te beleef, moet bevredig. En geleidelik aan, sonder dat ons agterkom, neem die afskynsel van die werklikheid die plek van die werklikheid self in! Dan moet die werklikheid terugstaan vir die plaasvervanger, dan het die hulpmiddel die saak self geword! 

En intussen gemeente, lees ons nie meer die Woord van die Here nie. Want ons hét dan dinge wat God tasbaar en sigbaar vir ons voorstel, ons hét dan vir onsself ‘n werklikheid geskep. Maar dan het ons vergeet dat ons slegs deel word van die hoogste werklikheid, slegs deel kry aan die Waaragtige, deur sy Seun, Jesus Christus. Hy is die Woord, Hom vind ons slegs in die Bybel en in die prediking. Daar leer ons God ken, daar doen ons eerstehandse kennis van die Waaragtige op!

Broers en susters, waak vir afgode, valse denkbeelde, oor wie God is. Moenie toelaat dat u vir uself ‘n ander werklikheid van God skep as wat ons in die evangelie van sy Seun leer ken nie. Moet daarom nooit tevrede wees met jou kennis van Jesus Christus nie. Bly ondersoek, bly delf in die skat van God se Woord. Só kan jy deur Jesus Christus die Waaragtige leer ken. Só kom daar egte gemeenskap met God. En só, broers en susters, is ons weer waar ons met hierdie brief begin het – gemeenskap met God! Dít maak van jou ‘n christen, iemand wat deel in die goddelike natuur.

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 35:4 en 12
Gebed
Lees: 1 Johannes 5
Kollekte
Sing Ps. 97:4 en 5
Teks: 1 Johannes 5:18-21
Preek
Amenlied Ps. 81:9, 10 en 15
Belydenis van geloof
Sing Ps. 91:1, 6 en 7
Gebed
Slotsang Skr. 34:1 en 3
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)