Die opbou van die eenheid van Christus se gemeente

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-11-19
Teks: 
Efésiërs 4:7-12
Preek Inhoud: 

Efésiërs 4:7-12

Ds HH van Alten - Sondag 19 November 2006

Lees: Efes. 4:1-16, Num. 11:25-30, Efes. 4:7-12

Sing: Sien liturgie

Tema: Die opbou van die eenheid van Christus se gemeente

  1. Die werk van Christus tot die opbou van die eenheid
  2. Die gawes wat nodig is vir die opbou van die eenheid
  3. Die plek van die ampte in die opbou van die eenheid

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

In die gesprekke met groepe en individue voordat ons die beroep na hierdie gemeente aangeneem het, het een aspek telkens weer na vore gekom: die egte eenheid in die gemeente ontbreek. Ja, ons kom Sondae saam in die kerk, maar daarna spat elkeen weer in sy eie rigting. Daar skort iets aan die samehorigheid.

Nou is ons bietjie meer as ‘n jaar verder, en ek vra myself soms af hoe ver ons gekom het op die pad om hierdie eenheid te bevorder. Miskien vra ú dit ook… En dan is daar in die gemeente beslis verblydende tekens, dinge waarin ons deur die krag van God gevorder het; ander dinge weer kan ‘n mens moedeloos maak.  

Maar voordat ons daadwerklik moedeloos word, is die goed om te sien wat die Skrif ons oor die eenheid leer. Want die Skrif leer ons iets baie moois oor die eenheid van die kerk; die Skrif leer ons naamlik dat die kerk ‘n eenheid is! Die eenheid van hierdie gemeente is nie iets van die verre toekoms nie, dit is nie iets waarvoor die predikant of kerkraad hulle arms stompies hoef te werk nie. Nee, hierdie gemeente is ‘n eenheid – Paulus skryf indrukwekkend daaroor in Efesiërs 4:4-6, die gedeelte net voor ons teks: Dit is een liggaam en een Gees, in een hoop; een Here, een geloof, een doop; een God en Vader. Sien u hoe die drie Persone van die Drie-eenheid hier funksioneer: een Gees, een Here, een God en Vader. Die christelike eenheid, die eenheid van hierdie gemeente, het sy bron in die eenheid van God: Vader, Seun en Heilige Gees is een.

Ons eenheid lê dus nie in die eerste plek daarin dat ons almal dieselfde dink nie, ook nie in die feit dat almal getrou die kerklike funksies bywoon nie en alles saam doen nie, maar ons eenheid lê in die wese van die Drie-enige God. Hierdie God staan waarborg vir die eenheid van die kerk. En dit gee so ‘n groot vreugde en rus, broers en susters, om te weet dat hierdie gemeente ‘n eenheid is – ‘n eenheid ten spyte van ons en ons pogings, ‘n eenheid ondanks al ons sondes. God self sorg daarvoor! 

Maar, dan volg ook die oproep in vers 3: strewe ernstig daarna om nou ook die eenheid te bewaar! Ons is geestelik een – en om dit te glo moet u nie om u heen kyk nie; nee, daarvoor moet u op kyk, na die Drie-enige God; in Hom is ons een! Maar – en kyk nou maar om u heen – laat ons dan ook een wees. Laat dit uitkom, laat daardie eenheid hande en voete kry. En, gemeente, daaroor gaan ons teks van vandag, verse 7-12.  

Tema: Die opbou van die eenheid van Christus se gemeente

  1. Die werk van Christus tot die opbou van die eenheid
  2. Die gawes wat nodig is vir die opbou van die eenheid
  3. Die plek van die ampte in die opbou van die eenheid

1. Vanaf vers 7 begin Paulus om uit te werk wat óns taak en plek is in die bewaring van die eenheid van Christus se gemeente. En dan wys hy op die belang daarvan dat elkeen van ons – niemand is uitgesonder nie! – ons gawes sal gebruik tot opbouing van die gemeente, dus tot bewaring van die eenheid. En hierdie gawes waarvan Paulus dan praat, is nie aangebore talente, of gawes wat ons van nature het nie. Nee, hierdie gawes, letterlik staan daar genade, is aan ons gegéé. Dit is ‘n goddelike geskenk; dit is Christus wat hierdie gawes uitdeel! 

Paulus gebruik ‘n pragtige beeld om dit te verduidelik. Hy begin deur Psalm 68:19 aan te haal; daar lees ons: “U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense…” Waaroor gaan dit in hierdie vers uit Psalm 68? Wel, volgens die gebruik van daardie tyd het ‘n koning wat sy vyand oorwin het, in ‘n triomftog na sy woning opgetrek. Met ‘n vrolike en feesvierende stoet het hy oppad gegaan, terug na sy paleis. In sy stoet het so ‘n koning ook krygsgevangens saamgevat as teken/bewys van sy oorwinning; die volk moes kon sien dat dit nie sommer ‘n skynoorwinning was nie. Ook het hy skatte, wat hy by die vyand buitgemaak het, saamgeneem. En wanneer hy dan by sy woning aangekom het, dan is daar groot fees gevier, en dan het hy sy onderdane oorlaai met geskenke deur hulle te laat deel in die buit.

Dit is hierdie beeld wat ons in Psalm 68 terugvind. Psalm 68 wys op God se triomtog; hoogswaarskynlik verwys dit na daardie gebeurtenis toe die ark, onder leiding van Dawid, vanaf Kirjat-Jearim na Jerusalem geneem is. Nog nie lank daarvoor nie het God sy vyande, die Filistyne, eiehandig verslaan. U onthou, die ark het in al die stede van die Filistyne die ronde gedoen, en telkens het dit vir hulle net ongeluk gebring. Ten einde laaste het hulle die ark, met geskenke, na Israel teruggestuur. En nou word daardie ark, die teken van God se teenwoordigheid by sy volk, in ‘n triomftog na Jerusalem geneem. En dan lees ons in 2 Samuel 6:19 dat Dawid by hierdie geleentheid aan die volk feesgawes uitgedeel het, hulle laat deel het in die buit – ‘n broodkoek, ‘n stuk vleis, en ‘n rosynekoek aan elke Israeliet.

Nou – hierdie triomftog van God in Psalm 68 pas Paulus in Efesiërs 4 toe op Christus se hemelvaart. Christus het die vyand, die satan en die dood, oorwin. Hy het die oorwinning behaal, en sy hemelvaart was sy triomtog, Hy het gegaan om sy plek op die hemeltroon te gaan inneem. En tydens hierdie triomftog van Christus het Hy ook krygsgevangenes saamgeneem, bewyse van sy oorwinning! Wie of wat hierdie krygsgevangenes presies was, is nie heeltemal duidelik nie. Maak ook nie so baie saak nie, dit gaan daaroor dat Christus die bewys kon lewer dat die teenstanders uitgeskakel is. En daarby het Hy ook nog ‘n oorvloedige buit saamgeneem om aan sy onderdane uit te deel.  

Voordat Paulus egter uitwy oor die uitdeling van die buit, die gawes, maak hy sy lesers daarvan bewus dat aan Christus se hemelvaart, sy triomtog, ‘n neerdaling vooraf moes gegaan het. Hiermee wys hy op Christus se koms na die aarde, na ons aarde, hier waar ons woon. Christus se hemelvaart kan nie losgedink word van sy koms na die aarde nie; sy triomftog kan nie losgemaak word van sy stryd nie. Hier, in ons geweste, het Hy die stryd aangegaan, hier het Hy kom oorlog voer met die satan, hier op aarde het Hy Homself verneder tot aan die kruis. Deurdat Hy die stryd hier op aarde nie ontvlug het nie, daarom het Hy die oorwinning behaal; Hy het die dood gevange geneem. En so het Hy as Oorwinnaar sy troon bestyg, verhewe bo alles! So diep soos sy vernedering was, so allesoortreffend is sy oorwinning en heerlikheid.

En Hy het nie van die buit vergeet nie. O nee, Christus het ‘n onoortreflike buit verwerf, die Heilige Gees. En ons, gemeente, ons wat Christus liefhet, ons wat sy onderdane is, ons mag deel in daardie buit, ons mag deel in die oorwinning van Christus. Christus vervul ná sy hemelvaart sy kerk met die gawes van sy Gees. Hy oorlaai sy kerk, sy volk, met die buit. Moses se versugting in Numeri 11 – ag, as almal maar die Gees gehad het – word hier bewaarheid. Die buit is binne, en elke lidmaat van die kerk mag daarin deel. Christus self deel aan elkeen uit – nie aan almal dieselfde nie – maar wel aan álmal! Elkeen wat glo in Jesus Christus, het deel aan sy oorwinning, mag deel in sy buit.  

Gemeente, dit is geweldig belangrik dat, wanneer dit gaan oor die bewaring en die opbou van die eenheid van Christus se gemeente, ons nie dadelik aan die werk spring met allerhande aksies nie. Nee, die eenheid kom van God af, maar ook die bewaring van daardie eenheid kom van God af. Die gawes om hierdie opdrag te kan uitvoer, kry ons van Christus; Hy gee die gawes om die eenheid, wat alreeds bestaan, te bewaar en uit te bou! Hy het dit verdien, Hy het tot bloedens toe daarvoor geveg, Hy het tot in die hel toe neergedaal en was van God verlate… Daarom mag jy en ek en die hele christelike kerk buit hê, dit is waar ons gawes vandaan kom. Om jou deel van die buit dus goed te gebruik, om jou gawes te benut, is dus ‘n erkenning van Christus se oorwinning! Maar om jouself onbetrokke binne die gemeente op te stel, om geen belangstelling te wil hê vir die ander lede van die gemeente nie, om jou gawes onbenut in die grond te begrawe, is ‘n miskenning van wat Christus vir jou gedoen en gegee het.

Christus se werk is die basis op grond waarvan ons alles kry wat nodig is om die eenheid van hierdie gemeente te bewaar en in praktyk te bring. As jy in hierdie Christus glo, dan is benutting van jou gawes nie vryblywend nie, maar verpligtend.

Ons let vervolgens op die gawes wat nodig is vir die opbou van die eenheid. 

2. Christus se onderdane mag dus deel in sy buit. En ek het dit hierbo al genoem, maar dit is goed om dit weer te sê: elkeen deel in daardie buit, elkeen van ons het gawes van Christus ontvang. Paulus verwoord dit in vers 7 soos volg: “Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus.” En dan gaan dit by die woordjie ‘genade’ nie oor die verlossing in die algemeen nie. Dit is natuurlik waar dat alle gelowiges daardie verlossing ontvang het, maar dit is nie waaroor Paulus hier praat nie.

Nee, dit gaan hier oor elke lidmaat se besondere genadegawe, dit gaan oor die konkrete vorm wat die genade aanneem in die lewe van elke christen afsonderlik. Elke lidmaat van hierdie gemeente se genadegawe is volgens die maat wat Christus in sy wysheid vir hom of haar gegee het; elke lidmaat se genadegawe is dus spesifiek vir hom of haar afgemeet. Elkeen kry sy eie gawe, sy eie present. Niemand het alles nie, niemand van ons kan daarom ook sê dat hy die ander een nie nodig het nie; nee, elkeen kry ‘n deel, ‘n unieke gawe en funksie.

Gemeente, ons sien hier iets van die wysheid van Christus by die uitdeel van sy gawes. Hierdie gawes het ten doel om die eenheid te bewaar en op te bou, maar dit beteken nog nie dat almal ook dieselfde gawes ontvang nie. Nee, Christus wys hier dat die eenheid juis gedien word deur die verskeidenheid in die gemeente. Daar is in die gemeente soveel verskillende gawes, maar elkeen is nodig om die gemeente as eenheid te laat funksioneer. Ons het die een nodig wat goed kan luister na ander mense, maar ons het ook diegene nodig wat op kan staan en goed kan praat; die susters wat in stilte die bejaardes besoek is net so onmisbaar soos die broeders wat die klanksisteem beheer; ons kan nie regkom sonder die broeders en susters met ‘n Afrikaanse agtergrond nie, net so min kan ons dié met ‘n Nederlandse agtergrond mis; hoe kosbaar is diegene wat die gevare van vernuwing uitwys, maar net so kosbaar diegene wat Skriftuurlike reformasie soek. Christus deel juis hierdie verskeidenheid uit met die oog op die goeie funksionering van alle dele van hierdie liggaam.  

En, broers en susters, wanneer Christus sy gawes uitdeel, dan word niemand in die kerk oorgeslaan nie, niemand in hierdie gemeente sit sonder gawe nie, niemand is gawe-loos nie. Almal wat Christus volg, mag deel in die rykdom van sy buit. Aan elkeen is immers die genade gegee; ja, volgens die mate van Christus, dis waar – dus, daar is verskeidenheid. Maar elkeen ontvang die genade.

Laat ons daarom goed besef, gemeente, dat wanneer ons onsself rig op die bewaring van die eenheid in ons gemeente, wanneer ons soek na praktiese maniere om daardie eenheid hande en voete te gee, dan is elke gawe nodig! Paulus wys dit ook pragtig in vers 16 met die beeld van die liggaam – die liggaam word goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate. Die liggaam word dus bymekaar gehou, vorm ‘n eenheid, wanneer elke lid daarby betrokke is.

Elke gelowige moet homself dus ook ondersoek en afvra water gawe hy of sy ontvang het. Ook moet elke lidmaat gaan soek waar en hoe hy sy onverdiende genadegawe kan aanwend tot opbou van die eenheid van hierdie gemeente. Dit is ‘n opdrag, broers en susters – jy moet gaan kyk waar jy die gemeente kan dien. Niemand van ons kan ontkom met die verskoning dat ons nie ‘n gawe ontvang het nie. Christus het dit dan vir jou verdien en uitgedeel, gaan soek dit! Ontdek dit! Gebruik dit! Verder kan niemand van ons die ander afmaak as onnodig in die gemeente nie; elkeen van ons het die ander nodig. Moet daarom nie die geringe gawe van jou broeder of suster minag nie – inteendeel, eer hom daarvoor wanneer hy sy geringe gawe ten volle benut.  

Gemeente, so sal daar samehorigheid in die gemeente kom, so sal ons die eenheid beleef, wanneer ek besef en dit ook uitleef, dat ek elkeen van u nodig het vir my lewe as kind van die Here.

Ons let ten slotte op die plek van die ampte in die opbou van die eenheid.  

3. Maar gemeente, wat nou van die ampsdraers wat vandag bevestig word? As elkeen van ons dan gawes ontvang het, en elkeen van daardie gawes nodig is om die eenheid te bewaar, hoekom dan nog aparte manne hê as ampsdraers? Lig ons hulle dan nie bo die ander uit nie? En as ons na vers 11 kyk, dan wil dit voorkom asof Paulus dit ook doen – al die voorbeelde van die verskillende gawes wat hy in hierdie vers gee, verwys na ampte: apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Kry ons op so ‘n manier nie twee aparte klasse nie? Daarbo is die ampsdraers, en hieronder die gewone lidmate… en, o ja, die gewone lidmate het ook nog gawes, maar…

Nee gemeente, hierdie broeders staan nie bo die ander lidmate nie, hulle is nie belangriker as die res nie; so beleef hulle dit ook nie. Ek dink u kan verskeie van hulle gaan vra, en hulle sal u vertel dat as dit van hulle afgehang het, hulle vanweë gesondheid, ouderdom of werksdruk liewer nie hier sou wou gestaan het nie. 

Maar hulle is dienaars van Christus wat deur Christus aan u gegee word! Gaan kyk maar hoe Paulus hulle taak, hulle funksie, in vers 12 beskryf: Christus het hierdie spesifieke gawes gegee – sommige daarvan het trouens al verval, want ampte soos dié van apostel, profete en evangeliste was spesifiek gekoppel aan die beginfase van die christelike kerk – maar Christus het hierdie gawes gegee “om die heiliges toe te rus…” Waarvoor? “Vir hulle dienswerk…” En waartoe dien die dienswerk? “tot opbouing van die liggaam van Christus…” Dít is waarvoor hierdie manne hier staan, ter wille van u! Hulle is hier om u te dien!

Die Griekse woord wat hier gebruik word vir toerusting kan in verskillende kontekste gebruik word. Soms is die term gebruik om die toerusting van skepe te beskryf; as militêre term het dit gedui op die oefening van die leër; en in die mediese wêreld is die term gebruik vir die spalk van ‘n been. In al drie gevalle gaan dit oor toerusting en oefening. En dit is dan ook die taak van die ampsdraers – hulle taak is om u só toe te rus en te oefen en te ondersteun dat u die gawe wat u van Christus gekry het, effektief begin gebruik in diens van die gemeente. Wanneer die ouderling by u huisbesoek kom doen, dan soek hy daarna om u geestelik alles te gee wat nodig is vir ‘n gesonde geloofslewe, sodat u ook ander kan gaan dien. Wanneer die diaken by jou besoek kom aflê, dan doen hy dit nie in die eerste plek om te hoor of jy genoeg verdien nie – anders het 95% van hierdie gemeente nie diaken-besoek nodig gehad nie; nee, dan doen hy dit onder andere ook om u gawes te ontdek, om u te stimuleer om daardie gawes te gaan gebruik.  

Sien u, die aktiwiteite van die ampsdraers moet uitloop op die aktiwiteite van die gemeentelede, en spesifiek hierin dat ons mekaar begin dien. Dit is die enigse manier waarop die liggaam van Christus werklik gebou word. ‘n Gemeente waar die predikant by allerhande dinge betrokke is, waar die ouderlinge soos besige bye rondhardloop, en waar die diakens al die siekes self hanteer, terwyl die gemeentelede op hulle stoele sit, is ‘n gemeente wat nie werklik gebou word nie! So dikwels gebruik ons die gawes wat Christus vir ons verdien het, vir onsself. Maar dit gaan lynreg in teen Christus se bedoeling; Hy wil nie hê dat sy gawes individualisties en vir privaat doeleindes gebruik word nie; Hy het nie sy gawes gegee sodat individuele gemeentelede goed oor hulleself kan voel nie. Nee, Christus wil sy christene toerus vir diakonale werk, Hy wil hê dat ons die mure van ons privaat bestaan sal deurbreek en sal uitgaan om ander te dien, Hy wil hê dat ons dit wat ons van Hom ontvang het, met ander sal deel en dat ons ons gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lidmate sal aanwend. Daarvoor het Christus sy gawes aan die gemeente gegee. Ons moet leer om die mure van ons ek-gerigte bestaan te deurbreek en mekaar tot ‘n hand en ‘n voet te wees. Slegs op dié manier word die liggaam van Christus gebou.  

En gemeente, daarvoor is u ouderling en u diaken daar; dit is sy taak om u daarvoor toe te rus. Hy is nie daar om die dienswerk vir u te doen nie, maar om u toe te rus en aan te moedig sodat u met u gawes dienswerk gaan verrig! Laat hulle daarom toe om daardie werk te doen, en moet hulle taak nie swaarder maak as wat dit is nie. Staan oop vir die toerusting wat hulle u wil gee, leer van hulle.  En word so ‘n gemeente wat groei in die eenheid van die geloof, en wat groei tot volwassenheid – kyk maar vers 13. ‘n Gemeente wat nie soos kindertjies beïnvloedbaar is deur allerhande nuwe lering nie, wat nie soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring nie – vers 14. ‘n Gemeente wat nie onmondig word, terwyl die predikant of die kerkraad al die toutjies trek nie. Maar ‘n gemeente wat, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, opgroei in Hom wat ons Hoof is, naamlik Christus.

Broeders ouderlinge en diakens, verrig die taak wat die Here u gee met ywer; u het nie die taak om allerhande dinge te reël nie, u is nie ‘n offisier vir openbare betrekkinge nie. U is dienaar van Christus, wat met sy Woord in die hand oppad gaan om die lidmate onder u verantwoordelikheid alles moontlik te gee om werklik in die eenheid van die geloof te kan staan. Dit is u taak om hulle toe te rus, om alles in hulle rugsak te gee wat nodig is.

Laat ons so opgroei in ons Hoof, Jesus Christus. Hy het diep neergedaal, helse angste en pyn deurstaan – vir hierdie gemeente. Moenie sy bloed vertrap en die eenheid verwaarloos nie. Maar groei in Hom, wat uiteindelik alles tot volheid bring; wat alles volmaak, wat alles tot hulle werklike bestemming bring. Een Gees, een Here, een God en Vader, en ons in Hom!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 97:6 en 7
Wetslesing (by 8ste gebod lees v/a 111)
Kollekte (as uiting van gehoorsaamheid aan 8ste gebod)
Sing Ps. 15:1, 2 en 5
Gebed
Lees:  Efesiërs 4:1-16
      Numeri 11:25-30
Sing Ps. 68:8 en 9 (Paulus gebruik Ps. 68:19 vir sy argumentasie in Ef. 4:8)
Teks: Efesiërs 4:7-12
Preek
Amenlied Ps. 122
Bevestiging van ampsdraers
Sing ampsdraers toe: Ps. 134:1, 2 en 4
Formuliergebed + dank&bid
Slotsang Ps. 47:3 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)