Jakob se verlange in die lig van Dan se geskiedenis

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-11-26
Teks: 
Génesis 49:16-18
Preek Inhoud: 

Génesis 49:16-18

Ds HH van Alten - Sondag 26 November 2006

Lees: Gen. 49:1-28;  Gen. 30:1-6;  Open. 7:1-8;  Gen. 49:16-18
Sing: Sien liturgie

Tema: Jakob se verlange in die lig van Dan se geskiedenis

  1. God se genade
  2. Dan se afval
  3. Jakob se verlange

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Hoe dink u het die mense van die Ou Testament gevoel oor die komende Messias? Dink u hulle het na Hom verlang? Kinders, dink julle die kinders in Israel het gewens dat die Verlosser moes kom? Die Ou Testament gee vir ons genoeg aanduidings dat daardie verlange wel daar was. Natuurlik nie by almal nie, en ook nie by almal ewe sterk nie, maar die gelowiges in die Ou Testament het verseker na die Verlosser verlang. Lees maar wat sê Hebreërs 11 oor Abel en Henog, oor Noag, Abraham en Sara: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet…” (Hebr. 11:13). Die gelowiges het dus geglo dat die Messias sou kom, en hulle het uitgesien na sy kom!

Verlang óns nog na die koms van die Messias, broers en susters? Natuurlik, Hy hét intussen gekom, maar ons weet ook dat die Bybel ons vertel dat Hy wéér kom. Die engele sê vir die dissipels: “Hierdie Jesus … sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand. 1:11), en Paulus verkondig in 1 Thessalonicense 4:16: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God…” Hoe vurig is ons verlange na hierdie koms van ons Verlosser?  

Gemeente, ek wil in die komende adventsweke – in die aanloop tot die fees van Christus se geboorte – hierdie tema breër uitwerk. Dus, die adventsprediking van die komende weke sal staan in die lig van ons verlange na die koms van die Messias. Vandag wil ons hierdie verlange belig vanuit die geskiedenis van Genesis 49. Ek verkondig aan u die evangelie van Jesus Christus onder die volgende tema:

Tema: Jakob se verlange in die lig van Dan se geskiedenis

  1. God se genade
  2. Dan se afval
  3. Jakob se verlange

1. Jakob lê op sterwe, en hy besef dit – hy het dit net hiervoor in hoofstuk 48:21 self vir Josef gesê. En soos ons so dikwels by ‘n sterfbed sien, word al die kinders en kleinkinders bymekaargeroep. En dan begin Jakob om elkeen van sy twaalf seuns te seën; deur Goddelike openbaring sien hy die toekoms van elkeen van sy seuns en van die stamme wat uit hulle sou voortkom.

Eers kom Lea, Jakob se eerste vrou, se ses seuns aan die beurt: Ruben, Simeon, Levi, Juda, Sebulon en Issaskar. Nadat Jakob hierdie ses seuns geseën het, is dit Dan se beurt. En dit is ‘n belangrike oomblik. Want Dan, ja, hy is eintlik nie ‘n egte seun van Jakob nie. U sal onthou – en u kan dit gaan nalees in Genesis 30 – dat Ragel, Jakob se tweede vrou, aanvanklik geen kinders kon kry nie. Dit het haar jaloers en moedeloos gemaak, sodanig dat sy vir Jakob gesê het: “Gee vir my kinders of anders sterf ek” (Gen. 30:1). Ten einde raad het sy maar haar slavin, Bilha, vir Jakob gegee, sodat sy uit háár tog kinders kon kry en ‘n nageslag kon hê. Lea het toe, sodat sy nie by haar suster sou agterbly nie, ook haar slavin vir Jakob gegee. En uit hierdie mag-speletjie is daar uiteindelik vier seuns gebore, vier slavinne-seuns, waarvan Dan die eerste was! Ná hom volg nog Gad, Aser en Nafatali – wat ook net hierna in Genesis 49 hulle seën sal ontvang. Maar as oudste slavinne-seun is Dan eerste! 

En dáárom is dit so ‘n belangrike oomblik wanneer Jakob op die punt staan om Dan te seën. Want die gevaar was wesenlik dat Jakob se egte seuns – die seuns wat uit Lea en Ragel self gebore is – dat hulle die slavinne-seuns sou verdryf, hulle uit die familie sou verban – juis omdat hulle onegte seuns was. En indien hierdie basters wel toegelaat sou word om deel van die familie te bly, was die kanse baie goed dat hulle onder die heerskappy van die egte seuns te staan sou kom. Verstoting en veragting het soos ‘n swaard bo hulle koppe gehang…

Maar Jakob sien dit, deur die Gees van God… en hy verhoed dit! Dit blyk duidelik uit die seën wat hy vir Dan gee: “Dan sal aan sý volk reg verskaf, net soos enigeen van die stamme van Israel” (Gen. 49:16). Net soos enigeen van die stamme van Israel – watter seën skuil daar nie in hierdie woorde nie. Die man wat, volgens sy afkoms, onder sy broers gestaan het, word deur hierdie woorde verhoog sodat hy langs sy broers te staan kom. Net soos die egte seuns kry hy in die beloofde land uiteindelik ook ‘n stuk grond toegewys; hy deel in die erfenis saam met die ander. Niemand het die reg om hom te onterf nie. Maar daar is meer… Hy sal nie maar net wees soos die ander nie; nee, Dan sal aan sy volk – dus, sy stam – reg verskaf soos elke ander stam in Israel. Hy mag self oor sy stam regeer, aan hierdie stam word selfbestuur toegeken. Net soos die egte seuns, die seuns van die vrye, oor hulle eie gebied die septer mag swaai, so mag Dan, die seun van die slavin, dit óók doen!

U sal begryp dat hierdie seën oor Dan ook ‘n belangrike boodskap vir die egte seuns ingehou het: julle mag hom nie onterf nie, nog minder mag julle hom verag! Die Here het hom vandag verhoog; Dan staan nie onder julle nie, maar langs julle. Hy het dieselfde regte as die seun van die vrye.  

God self gee aan Dan en die ander slavinne-seuns ‘n ereposisie in sy volk; God maak hulle lidmate met volle regte in die kerk van daardie tyd. “Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle ‘n erestoel te laat beërwe” (kyk maar na Hanna se loflied in 1 Sam. 2:8). Dan kry van die Here ‘n erestoel! Die seun van die vrye, sowel as die seun van die slavin is saam deel van God se uitverkore volk; God maak daarin geen onderskeid nie.

Gemeente, hierdie werkwyse van God het deur alle eeue heen die samestelling van sy volk bepaal. Die hooggeplaastes en die nederiges kniel almal saam voor die een God! Wie hoog van afkoms is, word deur die Here verneder; hy word herinner aan sy sonde, sodat hy hom diep voor die Here neerbuig. Die nederige daarenteen word deur God verhoog. Die man van aansien en die onaansienlike, die ryke en die arme, die baas en sy werker – almal buig hulle saam voor die troon van die genade. Want dít is waaroor dit gaan – almal moet van genade lewe! Ruben, die oudste, moes net so goed van genade lewe as Juda, die een aan wie die belofte van die Verlosser gedoen is; Josef, Jakob se lieflingseun, moes net so goed van genade lewe as Dan, die basterseun. In God se volk staan almal langs mekaar! Dit geld vir die volk van die Ou Testament, dit geld ook vir die kerk van die Nuwe Testament… 

Wanneer die Heilige Gees op die Pinksterdag uitgestort word, dan val Hy op alle vlees – soos Joël geprofeteer het. Elkeen deel op gelyke vlak in die oorvloed van Christus se verdienste. En Paulus wys in sy brief aan die Kolossense dat daar in Christus geen onderskeid tussen Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scyth, slaaf en vryman is nie, maar dat Christus alles en in almal is (Kol. 3:11). God se hele volk, sy hele kerk, het deel aan die seën van Dan: “Dan sal aan sý volk reg verskaf, net so enigeen van die stamme van Israel!” In Christus se gemeente beklee álle lede dieselfde ereposisie, nie uit verdienste, maar deur die werk van Christus.

Gemeente, laat die seën van Dan ons bewaar van selfverheffing. Natuurlik is daar verskille tussen God se kinders, natuurlik is daar verskeidenheid in die gemeente. Maar laat niemand homself bo ‘n man soos Dan verhef nie – nie as die Hére hom verhoog het nie!

Ons let vervolgens op Dan se afval. 

2. Dan se afkoms was gering – dit het ons hierbo gesien. Maar daarby was sy krag ook klein. Dit blyk uit die vervolg van Jakob se seën: “Laat Dan ‘n slang wees op die weg, ‘n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval” (Gen. 49:17). Jakob vergelyk sy seun dus met ‘n slang. Maar nie ‘n groot slang nie, nie een wat bekend is vir sy krag nie. Nee, hy vergelyk Dan met ‘n horingslang, ‘n kleinerige slangetjie, wat sy naam te danke het aan twee uitsteekseltjies op sy kop. Dit was nie ‘n sterk slang nie; meer nog, hierdie was eintlik ‘n baie onopvallende slang omdat dit vanweë sy sandkleur nie goed gesien kon word nie.

En die geringheid van hierdie slang word nog duideliker wanneer Jakob die kontras skets met sy vyand – die ruiter op sy perd. Die perd was in daardie tyd ‘n simbool van krag; hoe meer perde jy in daardie tyd gehad het, hoe groter was jou kans om die oorlog te wen.

Dus, dit was die sterk perd, teenoor die klein horingslangetjie… 

En gemeente, hierdie beskrywing van Jakob van sy seun Dan het ook heeltemal met die werklikheid van die stam Dan gestrook. Toe Israel in die Beloofde land gekom het, en die land onder die verskillende stamme verdeel is, het Dan ‘n deel aan die westekant van die land gekry, teenaan die Middelandse see – u kan dit op die kaart agter in u bybel maar naslaan. En dan sal u ook sien dat Dan se erfdeel teenaan die gebied van die Filistyne gelê het. Die Filistyne, daardie volk wat die volk van God so ongelooflik baie leed aangedoen het, daardie volk wat Israel verslaan het, en hulle huise en landerye leeggeplunder het. Reg langs hierdie groot en roofsugtige volk vind ons die gebied van Dan… Die klein horingslang was voortdurend onder die bedreiging van die sterk perd met sy ruiter.

Maar, gemeente, kom ons kyk nou weer ‘n keer na die horingslang kyk; en as ons goed kyk, dan ontdek ons sy krag. Sy krag was in sy bek; wanneer hy sy giftande in die teenstander ingeslaan het, het dit so vinnig deurgewerk, dat die dood vinnig toegeslaan het. Die sterk perd was dus in werklikheid nie opgewasse teen hierdie slangetjie nie. Die byt van die horingslang het die perd verskrik laat opsteier, die ruiter is afgegooi, en redelik gou daarna het die perd dood neergeval. En só kon Dan, die horingslang, teen die Filistyne, die perd met sy ruiter, standhou! Die stam, wat van nature swak was, ontvang Goddelike krag. Die krag van die Here maak Dan onweerstaanbaar. Wanneer God die horingslang sterk maak, dan oorwin hy, selfs teen die perd!  

En, gemeente, ons sien die waarheid hiervan so pragtig in die geskiedenis van Simson, die rigter uit die stam van Dan. Klokslag, elke keer as die Gees van die Here oor hom vaardig geword het, kon geen Filistyn hom keer nie – met die Gees van God was Simson in staat om dertig Filistynse manne neer te slaan, was hy in staat om met driehonderd jakkalse die Filistyne se oes te verwoes, was hy in staat om met ‘n eselskakebeen duisende Filistyne te verslaan, het hy die stadspoorte van Gasa met grendel en al uitgeruk, en het hy uiteindelik die pilare van die tempel van Dagon ontwrig en die tempel in mekaar laat tuimel. Soos Simson, was die stam van Dan sterk in die Here! Die horingslang was, met die krag van God, opgewasse teen die perd met sy ruiter! 

Maar gemeente, Dan het dit vergeet… Dan het, soos die geskiedenis gevorder het, nie meer sy krag in die Here gesoek nie, Dan het vergeet watter ereposisie hy as basterseun van die Here gekry het! Dan het begin hink op twee gedagtes – aan die een kant wou hy wel die Here dien, aan die ander kant was hy ook baie vatbaar vir die verleidings om hom heen. Gaan slaan maar weer die geskiedenis na. Om te begin, dink aan Levitikus 24, die geskiedenis van die seun wat die Naam van God gelaster het – sy ma was Selomit, van die stam Dan, sy pa was ‘n Egiptiese man – vermenging met van kinders van die Here met die ongelowiges…

Dink aan Rigters 5 waar die volk saam optrek om die Kanaanitiese koning te verslaan, maar waar is Dan…? Debora sê in haar lofsang dat Dan nie saam opgetrek het nie, omdat hulle te besig was by die skepe, te besig om handel te dryf en geld te maak. Dan het nie tyd gehad vir die geestelike stryd teen die vyande van God nie.

Dink ook aan die verhaal in Rigters 18 – die stam Dan wat, op soek na nuwe woongebied, die stad Lais met al sy inwoners verbrand het, totaal uitgewis het – teen die wil van die Here. En wat erger is, dan voer hulle ook nog hulle eiewillige godsdiens in deur ‘n afvallige Leviet aan te stel om tot die afgodsbeelde te bid.

En dink ook nog aan die tyd van Jerobeam wat die kalwerdiens ingestel. Waar? In Dan en Bethel! Dan word die sentrum van die eiewillige godsdiens.  

Die horingslang wat sterk was in die Here, het sy eie gang gegaan, sy eie paadjie geloop. Die geseënde stam het ‘n verkeerde pad ingeslaan: die pad van eiewillige godsdiens. Presies dít word kenmerkend van Dan se geskiedenis, ‘n geskiedenis van dubbelhartigheid, ‘n geskiedenis van eiewilligheid. ‘n Afvallige lewensstyl word bedek met ‘n vroom vernis. Dan wil nog ‘n god hê, maar op sy eie voorwaardes.

En gemeente, sien hoe lankmoedig die Here met die stam Dan is, verwonder u oor die geduld van die Here met ‘n stam wat niks verdien het nie, en tog alles gekry het. Wanneer die profeet Esegiël in hoofstuk 48 die nuwe Jerusalem beskryf, wys hy vir sy lesers ‘n vierkantige stad. Aan elke kant is daar drie poorte, waarop die name van die stamme van Israel geskrywe staan. Onder hierdie twaalf vind ons ook die Dan-poort. Die Here het Dan, ten spyte van sy afval, nog nie vergeet nie. Ten spyte van al sy kwaad het Dan nog steeds die ereplek wat die Here hom in Genesis 49 gegee het. Maar kyk nou na Openbaring 7, wat ons saam gelees het: twaalfduisend verseëldes uit elkeen van die stamme van Israel … behalwe uit Dan! Dan se naam is uitgewis, hy word nie meer genoem nie. Sy plek word in die nuwe Jerusalem nie meer gevind nie. Dan se afval, sy volharding en voortgang in die sonde, lei uiteindelik tot sy verbanning uit die kerk. Daarmee sê ons nie dat geen Daniet die ewige lewe beërf het nie – nee, Hebreërs 11 noem spesifiek Simson as ‘n voorbeeld van geloof. Maar as stam het Dan sy ereposisie verspeel, het hy die geduld van die Here te lank op die proef gestel.  

Gemeente, laat ons altyd weer die Here se genade raaksien in die posisie wat ons van Hom ontvang het. Laat ons bly besef dat ons slegs in daardie posisie bly deur sy krag; ons is slegs sterk in die Here! Kinders van God beërf die nuwe hemel en aarde nie as iets vanselfsprekends nie. Wie in die sonde volhard, verbeur die ewige lewe. Dan, die basterseun, deur die Here verhoog, maar deur sy eiewilligheid neergewerp in die diepste duisternis. Broers en susters, laat ons asseblief trou bly aan die God wat aan ons ons posisie gee, en wat ons ook daarin kan bewaar.

Daarom kyk ons nou ten slotte nog na Jakob se verlange.

3. Jakob sluit sy seën oor Dan af met ‘n uitroep: “Op u verlossing wag ek, HERE!” (Gen. 49:18). Dit is eintlik die enigste persoonlike woorde van Jakob in die hele Genesis 49? Maar waarom hier? Waarom nie byvoorbeeld by Juda se seën, waar Jakob so duidelik van die Verlosser geprofeteer het nie? Waarom nie aan die begin of aan die einde van hierdie reeks seëninge nie? Gemeente, omdat Jakob deur die Heilige Gees gesien het waarheen dit gaan met Dan, in sy geestesoog het hy moeite vir Dan sien kom, hy het gesien dat die toekoms van die volk van God gevaar geloop het. En daarom beroep hy hom juis hier op die God van die volk: “Op u verlossing wag ek, HERE!” Jakob besef dat die voortgang van die volk, die pad na die heil, slegs kan oopbly as die Here dit doen, as die volk hulle krag in die Here soek.  

En hoe moes Jakob dit in sy lewe nie geleer het nie – so dikwels weer was hy die een wat gemeen het om die dinge self te kan doen, so dikwels was hy ook eiewillig. Sonder om op die Here te wag, het hy Esau so ver gekry om sy eersgeboortereg te verkoop; sonder om die Here te raapleeg, bedrieg hy sy pa sodat dié hom moes seën; en by Laban sorg hy deur slim plannetjies daarvoor dat sy kudde vermeerder. Ja, Jakob was hardkoppig, eiewys, ‘n bedrieër. Maar geleidelik in sy lewe het die Here oor Jakob getriomfeer, het die Here sy eiesinnigheid afgebreek. En nou lê Jakob op sy sterfbed – hoe hy ook sou wou, daar is niks meer wat hy vir die toekoms van sy kinders kan doen nie; al wat hy kan doen is om uit te spreek wat die Here hom ingee. En as hy dan, gelei deur die Heilige Gees, sien wat die toekoms vir sy seun Dan gaan bring – ‘n basterseun verhoog tot ‘n ereposisie, maar wat daardie posisie gaan verspeel – dan kan hy nie anders nie as om te smag na die verlossing. Jakob verlang met sy hele wese na die verlossing van die Here; hy verstaan dat hierdie volk slegs bestaan by die genade van God, hy besef dat hierdie volk slegs toekoms het deur die Messias wat verlossing kom bring.  

Gemeente, ons was basters, ons behoort van nature nie tot die volk van God nie. God het ons ons ereposisie gegee – nie soseer ‘n ereposisie in die wêreld nie, maar ‘n ereposisie in die Koninkryk van God, ons mag deel wees van sy volk. Wat ‘n wonder! Maar gaan kyk dan maar na u eie lewe, ondersoek die lewe van die gemeente… Dan sien u die sonde, dan sien jy jou eiewilligheid – ja, ek wil die Here dien, maar daar moet ook nog ruimte bly vir die sonde; ek wil ‘n christen wees, maar dit mag nie te veel van my vereis nie; ek wil God hê in tye van nood, maar andersins loop ek die pad van die wêreld. Sien dit raak, sien raak hoe halfslagtig ons, u en ek, soms in ons lewens is. Kom onder die indruk daarvan! Dan bring dit ons tot die uitroep: Op ú verlossing wag ek, HERE! Here, dit moet van U af kom, U moet dit gee. Broers en susters, dít waarna Jakob gesmag het, dit het die Here gegee, die verlossing het gekom. God dank daarvoor! God dank vir Jesus Christus! 

Gemeente, wie die weg van Dan wil gaan, sal uiteindelik vind dat die poort van die hemelryk vir hom gesluit is. Daar is slegs een opening deur daardie poort, Jesus Christus, ons Verlosser. Deur Hom ontvang ons ons ereposisie binne sy volk, deur Hom word ons van slawekinders tot kinders van die Lewende God. En dit is ook slegs deur Hom dat ons in daardie posisie kan bly. Laat ons sterk staan in die Here, laat ons elke dag weer smag na die verlossing van die Here. En wanneer ons vanuit daardie verlossing lewe, dan mag ons deel wees van die 144 000, dan mag jy weet dat jou naam by daardie volmaakte getal nie sal ontbreek nie! Op u verlossing wag ek, HERE – dit is steeds ons bede vandag, maar dit is ‘n bede in die lig van Betlehem, dit is ‘n bede wat smag na die wederkoms van ons Verlosser, dit is ‘n bede wat smeek dat God ons in ons ereposisie sal bewaar, wat smeek dat Hy sy handewerk in ons nie sal laat vaar nie.

God is getrou! Dan sal nie daar wees nie, maar deur Christus u en ek wel…

Amen.

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Skr. 22:3, 5 en 8
Gebed
Lees:  Genesis 49:1-28
      Genesis 30:1-6
      Openbaring 7:1-8
Sing Ps. 22:9 en 12
Teks: Genesis 49:16-18
Preek
Amenlied Ps. 113
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 36:1, 4 en 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)