Paulus spoor die soldate van Christus aan om in gebed te volhard

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-11-19
Teks: 
Efésiërs 6
Preek Inhoud: 

Efesiers 6:18-20

Ds C Kleijn - Sondag 19 November 2006

Lees: (Markus 14:27-42); Efesiers 6:10-20.
Sing: Ps 146:1,8; Ps 103:2,5; Ps 56:1,4; Ps 27:1,4;
Ps 27:6.

Tema: Paulus spoor die soldate van Christus aan om in
gebed te volhard.

  1. Hoekom ons moet bid?
  2. Vir wie ons moet bid?
  3. Waarvoor ons moet bid?

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Paulus het duidelik gemaak dat ons in ’n hewige stryd
betrokke is. ’n Stryd nie in die eerste plek teen mense nie,
maar teen geestelike magte – die duiwel en sy bondgenote,
daardie wrede en listige duiwel, daardie mensemoordenaar en
leuenaar met die tallose agente. Menslike krag kan sulke vyande
nie hanteer nie. “Gord ons met eie krag ons aan, dan is die
stryd verlore.”

Daar is egter geen rede om moed te verloor nie. God het
’n pragtige wapenrusting gereed. Al wat jy hoef te doen is
om dit aan te trek.

Terwyl jy dit doen is daar egter een ding wat jy nie moet
vergeet nie, dit is gebed. Sonder gebed sal die beste
wapenrusting jou nie help nie. Dis nie die wapenrusting wat die
soldaat maak nie. Jy moet ook moed en krag hê, jy moet ook sterk
wees in die Here en in die krag van sy sterkte uittrek. Om met
die volle wapenrusting te kan veg is gebed nodig. Net dan sal jy
staande kan bly.

Paulus noem dit in ons teks. Die woorde van die teks is direk
verbind aan die woorde van vers 14 ev: Staan dan vas, julle
lendene met die waarheid omgord ens. Terwyl jy al daardie dinge
doen, moet jy bid. Die gebed moet dus elke aksie van die soldate
van Christus begelei.

Ek verkondig aan julle: Paulus spoor die soldate van Christus
aan om in gebed te volhard.

  1. Hoekom ons moet bid?
  2. Vir wie ons moet bid?
  3. Waarvoor ons moet bid?

Hoekom is gebed nodig? Deur gebed bly jy in kontak met die
hoofkwartier, die hoofkwartier waarvandaan jou instruksies en
voorraad kom. Ons is nooit self-onderhoudend nie. Van onsself is
ons so swak, dat ons nie eens vir ’n oomblik staande kan bly
nie. God self moet sy leër aanhou toerus met die nodige moed en
krag. Sou die toevoerroete ooit verbreek word, sou jy geen
toekoms hê nie. Want jy het vyande waarteen jy nooit op jou eie
kan stry nie: jou eie vlees, die wêreld en, agter dit alles, die
duiwel. Daarom bid ons in HK 52: “Wil U ons tog deur die
krag van u Heilige Gees staande hou en versterk sodat ons teen
hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie
beswyk nie totdat ons eindelik die oorwinning ten volle behaal.”

As antwoord op ons gebed, gee God Sy Heilige Gees, versterk Hy
ons met die krag van die Gees. Net op hierdie manier kan jy vir
die Here veg.

Geen gebed beteken geen kontak met die hemelse hoofkwartier
nie. Dan moet jy op jou eie regkom. Dan is die stryd jou eie
stryd. Jy veg uiteindelik vir jou eie saak. En verloor. Dit kan
ook in die kerk gebeur. Jy kan met allerhande dinge aktief besig
wees, jy kan besig wees om dinge op te rig, die kerklike lewe te
ontwikkel, ’n eie skool te bedryf, bybelstudie verenigings
te organiseer – sonder volgehoue gebed sal jy nêrens kom
nie, hoe indrukwekkend dit ook al mag lyk. Jy is dan besig om jou
eie koninkrykie te bou – ’n koninkryk wat verloor.
Satan is die oorwinnaar.

Broers en susters, daardie gebed moet in die Gees wees. Deur
die Gees aangespoor en gelei. Die Gees leer jou hoe om te bid. Hy
wys vir jou wat belangrik is. Hy leer jou om nie al jou aandag op
jouself te vestig nie, maar op God, op Sy saak in die wêreld.
“Nie my wil nie, maar U wil geskied.” God is bly met so
’n gebed, en sal dit verhoor.

Daarom, bid in die Gees, met ’n geopende Bybel, met
’n hart gewillig om te luister. Moenie slegs nou en dan bid,
wanneer dit jou pas nie. Bid voortdurend, by elke geleentheid.
Gereeld en aanhoudend. In verband hiermee, skryf Paulus: “en
juis daartoe (met die oog op die gebed) waak met alle volharding.”

“Waak en bid,” het Jesus sy dissipels beveel. Dit
was hulle nalatigheid om hierdie bevel te gehoorsaam wat tot
hulle ontrou gelei het. Waak, hou jou oë oop, wees bewus van die
gevare, wees bedag op Satan se mag en jou eie swakheid en bid!
Nalatigheid om dit te doen lei tot soortgelyke ontrou vandag.
Slegs deur gebed wag ons op die Here en vernuwe Hy ons krag.
Sonder gebed is ons te swak om staande te bly.

Waak en bid. Ek is bevrees ons is meer gewoond aan die gesegde:
bid en werk. Ja, dit is ook ’n skriftuurlike gesegde. Maar
is ons nie geneig om die laaste gedeelte daarvan te benadruk nie:
bid en werk? As Gereformeedes is ons geleer hoe om allerhande
dinge te organiseer. Allehande dinge moet gedoen word. As sulks
is dit nie verkeerd nie, solank ons nie te haastig is om aan die
werk te spring nie, solank ons nie vergeet van die eerste
woordjie ‘bid’ nie en nie te veel nadruk lê op die
woordjie ‘werk’ nie. Die skrif leer ons ook: “waak
en bid.” Letterlik, kan hierdie woord selfs beteken: Bly
wakker om te bid. Gebruik die tyd daarvoor wat jy gewoonlik vir
slaap sou gebruik. Neem die tyd daarvoor pleks van oorhaastig aan
die werk te spring.

“Waak en bid.” Ons kan dit nooit te veel vir mekaar
sê nie. Hou jou oë oop, wees bewus van die teenstand en jou eie
swakheid en bid.

Geliefdes, as ons kyk na ons persoonlike lewe en kerklike lewe,
kan ons onsself afvra: het ons genoeg gewaak en gebid? Is ons
bewus daarvan dat Satan by enige positiewe ontwikkeling in ons
persoonlike lewe en in die kerklike lewe des te aktiewer is om
alles te probeer af te breek? Het ons onsself daarteen beskerm:
waak en bid? Neem ons voldoende tyd om te bid om onsself teen
Satan te beskerm? Te bid dat hy nie ’n greep op ons kry nie?
Is ons voldoende bewus van die gevare in ons eie harte? ’n
Mens kan so maklik vir sy eie saak gaan veg. En spreek ons
hierdie gevare aan? In biddende waaksaamheid?

Ons is nie bekend met gebedskringe nie. Dalk is ons te nugter
daarvoor. Dalk is ons te bang dat mense weggesleep word deur
hulle gevoelens sodat sulke vergaderings mens-gesentreer raak.

Maar, geliefdes, gebruik ons hierdie instrument, die gebed,
genoegsaam om God se krag en wysheid te ontvang en die Satan van
ons af weg te hou? As daar iets is wat Satan vrees, dan is dit
die gebed van die heiliges. Hy haat dit as hy sien jy put jou
krag van bo, van God. Want dit doen jy as jy bid! Satan kan
daardie hemelse kragte nie hanteer nie.

Miskien het ons meer gebid toe ons deur moeilike tye was. Maar
het ons aangehou daarmee? Paulus skryf: “waak met alle
volharding.” Moet nooit verslap of moed opgee nie. Na
’n ruk is ons so geneig om moeg of nalatig te raak. Ons voel
ons het nou genoeg gebid. Ons gaan aan met ons gewone lewens. Dit
gee Satan ’n kans om ons te tref met sy vurige pyle.

Broers en susters, deur middel van gebed word God soos ’n
muur om ons om ons te beskerm. ’n Muur waardeur die vyand
nie kan dring nie. Krake in die muur word sigbaar as ons nalatig
word of oppervlakkig bid. Dan kan die vyand inkom.

Daarom: waak en bid! Volhard in die gebed. Soos ’n goeie
soldaat moet jy waaksaam bly en nooit moed opgee nie. Anders
verloor jy die geveg.

Geliefdes, die teks gebruik twee verskillende woorde vir gebed:
gebed en smeking. Die woord “gebed” verwys na praat met
die Here. Dit word slegs gebruik as jy jouself tot God rig. Dit
bly dus altyd God-gesentreerd. Wanneer jy bid moet jy dus besef
met Wie jy praat. Jou almagtige, alwyse God. ’n Wonderlike
geleentheid, dat jy met alles na Hom toe kan gaan. Niks is te
groot vir Hom nie. Jy kan dit in Sy hande lê. Hy sal sorg.

Die tweede woord wat Paulus gebruik is smeking. Dit wys daarop
dat jy ’n versoek rig in gebed. Dit wys ons behoeftigheid,
ons menslike ontoereikendheid. Ons benodig hulp. Ons kom nie op
ons eie reg nie. Ons kort wysheid en krag. Daarom rig ons nederig
’n versoek aan die Here om ons te versorg met alles wat ons
nodig het.

Die eerste woord beklemtoon die adres van ons gebed, terwyl
die tweede woord benadruk hoe ons moet bid, naamlik as smekelinge,
in nederigheid.

Miskien is een van die grootste swakhede van vandag dat ons
geneig is om ons eie swakheid te vergeet, dat ons nie roem in ons
eie swakheid nie, soos Paulus daarvan praat. As ek nie besef dat
ek slegs in die Here goed kan doen – in Sy krag – dan
is my stryd – hoe indrukwekkend dit ook al mag wees –
nutteloos. Ek besit geen ware krag. Satan is dan die wenner.
Daarom, neem Paulus se woorde ter harte: “Terwyl julle met
alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en
juis daartoe waak met alle volharding.”

Ons kom by die tweede gedagte: Vir wie moet ons bid?

Paulus vervolg: “en smeking vir al die heiliges.” Jy
moet dus vir al die heiliges bid. Die stryd waarvan Paulus
gepraat het, word nie slegs tussen ’n individuele Christen
en Satan geveg nie. Dit is ’n oorlog tussen alle gelowiges
en die magte van die duisternis. Geen soldaat wat die stryd
aanvaar, bid slegs vir homself nie. Hy bid ook vir sy kamerade in
die oorlog. Saam vorm hulle een krygsmag. Die sukses van die een
is die sukses van almal. Net so is ons Christene verenig in een
leër met ’n gemeenskaplike doel.

Daarom, elkeen van ons moet vir ons almal bid. As een van ons
’n neerlaag ly, ly ons almal. As een oorwin, oorwin ons
almal. Hier is die voorgaande woorde ook van toepassing: “en
juis daartoe waak met alle volharding.” Om vir die ander
heiliges te kan bid, moet mens waaksaam bly. Dan besef jy hoekom
die gebed vir die heiliges so belangrik is. Dan weet jy in watter
gevare die heiliges hulleself begeef. Die gevare waarmee die
sieke, die eensame of behoeftige omring word. As jy die tyd neem
om in te dink hoe so ’n situasie jou sou beinvloed – en
jy moet stop en nadink, waaksaam wees – dan kan jy baie meer
konkreet vir hierdie heiliges bid. Dan kan jy bid dat Satan in sy
spore gestuit word en dat die beproewing die heiliges nader aan
die Here sal bring.

Die heiliges sluit ook hulle in wat voorspoedig is. Miskien is
voorspoed juis meer gevaarlik as teëspoed. Hoeveel mense verlaat
God nie omdat hulle dink hulle het God nie meer nodig nie. In
hulle voorspoed kom hulle reg sonder God. Hoeveel gevare omring
ons nie in ons gegoede gemeenskap nie? Ons geniet van
moontlikhede en luukshede wat onbekend was in vorige eeue en
vandag nog vir baie in ons land onbekend is. En Satan probeer sy
uiterste bes doen om ons hier gemaklik te laat voel. Om die
verlange na Christus se wederkoms weg te neem. Satan probeer hard
om ons afhanklikheid van die Here te laat kwyn. Hy strooi sand in
ons oë. Ons word weggesleur met die stroom van die wêreld.
Aanhoudend gebed is nodig. Vir al die heiliges. Want Satan rig
hom veral op die heiliges. Met al sy lis en ywer probeer hy die
heiliges van die Here weg te trek.

“Vir al die heiliges.” Dit sluit ook die jeug van
die kerk in. Hulle word aan baie wêreldse gevare blootgestel.
Afgesonder vir die Here, maar reg in die middel van die wêreld
geplaas. Hulle moet hulle pad probeer vind. Hulle lewensmaat kies.
’n Eie lewenstyl kies. Maar hulle is nog nie ten volle bewus
van die gevare nie. En dus baie kwesbaar. Hulle het jou gebed
dringend nodig. Menslik gesproke is hulle die toekoms van die
kerk. As Satan die jeug wen, het hy ’n sterk greep op die
toekomstige kerk.

“Smeking vir al die heiliges.” Ons het mekaar se
ondersteuning nodig. Ons moet ons waens in ’n kring trek, om
die Satan uit te hou.

Geliefdes, in hierdie gebed vir die heiliges is daar twee
gevare waarvoor ons moet oplet. Eerstens, kan ons vir ander bid,
en dan dinge hul eie gang laat gaan. Ja, dis ’n maklike
uitweg. Maar is gebed voldoende? Is jy dan verlos van verdere
verpligtinge? Dit is tog nie genoeg om net vir ons jong mense te
bid en hulle verder aan hulle eie lot oor te laat nie? Hier het
Jesus se woorde toepassing: bid en werk.

’n Ander gevaar is dat ons in ons gebed nie op God
afgestem is nie. Ons het klaar ’n besluit geneem, ons weet
wat nodig is, en probeer vir God vertel wat Hy moet doen. Dan
loop jy voor God uit, en volg Hom nie. Dan tree jy op volgens eie
denke. Dan glo jy jy’t iets goeds vermag. Maar ondertussen
maak jy probleme net erger. Jy het gehelp, van die wal af in die
sloot.

Jou gebede en werke moet in die Gees wees. Met ’n
geopende Bybel. Met ’n nederige hart, wat deur die Gees
gelei wil word. Met ’n hart gewillig om deur die Woord van
Christus gelei en gekorrigeer te word.

Paulus vervolg: “en bid vir my.” Die heiliges sluit
ook die woordverkondigers, die ampsdraers, die gesante van die
Here in. Gesante met ’n baie verantwoordelike taak. Soms
onder moeilike omstandighede, bv. Paulus is in kettings terwyl hy
hierdie brief skryf.

Die ampsdraers moet hulle Heer verteenwoordig. Hulle moet die
soldate toerus vir die stryd. Daarom verdien hulle spesiale
aandag. Hulle het ons aanhoudende gebed nodig. Sodat hulle as
waardevolle instrumente mag dien in die stryd tussen Satan en die
kerk – as instrukteurs.

Geliefdes, Paulus is wys genoeg om sy eie nood te besef. Hy
het ook krag nodig om teen die vyand staande te bly. Hy is ook
nederig genoeg om vir die heiliges se gebede te vra. Die krag wat
hy nodig het, is nie slegs vir sy persoonlike stryd met die
duiwel nie. Hy het krag nodig vir sy bediening, waardeur hy mense
wil red van die duiwel se greep.

Waarvoor moet die soldate van Christus dan bid? Dit is die
derde gedagte. Paulus gee slegs die inhoud van die gebed wat die
heiliges vir hom moet bid. Daaruit kan ons aflei watter aspekte
is belangrik om vir te bid.

Paulus is in kettings in die tronk. Beperk in sy beweging en
kontakte. Waarvoor sou jy verwag sou hy in sulke omstandighede
bid? Sou jy nie verwag dat die heiliges vir sy vrylating moet bid
nie? Maar Paulus vra nie daarvoor nie. Hy vra nie vir iets vir
homself nie. Daar is geen teken van self-gesentreerdheid nie. Nee,
Paulus plaas God in die middelpunt. Sy koninkryk. Sy belange in
die wêreld – die verkondiging van Sy evangelie.

Paulus skryf: “en (bid) vir my, sodat ’n woord my
gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die
verborgenheid van die evangelie bekend te maak.”

Dis nie moeilik vir ’n prediker om sy mond oop te maak om
te praat nie. Enigiemand kan praat. God het ons ’n mond
gegee waarmee ons kan praat. En meeste mense geniet dit ook om te
praat. Om te luister blyk veel moeiliker te wees. Hoeveel mense
sukkel nie om die tong in bedwang te hou nie? ’n Gevaar wat
enige ampsdraer ook in die gesig kan staar. Veral hulle, omdat
hulle ’n taak ontvang het om te spreek. ’n Baie
verantwoordelike taak. Hulle moet die Woord van God deurgee.
Hulle moet die soldate leer hoe om die swaard van die Gees te
gebruik.

Daarom vra Paulus vir die aanhoudende gebed van die heiliges.
Dat hy die regte woorde sal ontvang elke keer as hy sy mond
oopmaak. Paulus weet dit kom nie vanself nie. Die verleiding is
altyd daar om jou eie woorde te spreek. Veral as jy in moeilike
omstandighede verkeer, soos tronkstraf, kan jy maklik verlei word
om woorde aan te pas om jou vryheid te verkry.

Nee, om die regte woorde te spreek word aan die prediker gegee.
Dit is ’n geskenk van bo. Geen natuurlike talent nie. Paulus
is bewus van sy totale afhanklikheid van die Here as dit kom by
sy bediening. Hy bely dat hy alles van God moet ontvang: die
regte woorde, die regte tyd om te spreek, maar ook moed en krag.
’n Predikant ontvang nie sy vrymoedigheid uit homself uit
nie. Paulus ontvang nie outomaties die vrymoedigheid om die
verborgenheid van die evangelie aan die heidense soldate te
verkondig nie. Ook nie as hy voor die Roomse gereg oor Jesus moet
getuig nie. Nee, die regte woorde en die vrymoedigheid moet aan
hom gegee word.

Daarom is die gebede van die heiliges, wat die hemelse
hulpbronne oopmaak, dringend nodig. Dit is ook van toepassing vir
ampsdraers en predikante vandag. Nee, ons is nie apostels nie.
Maar ons moet wel hul woorde oordra. Daarom moet jy voortdurend
bid vir die ampsdraers en predikante, dat hulle die regte woorde
mag ontvang elke keer as hulle hul monde oopmaak.

Want ons is as ampsdraers ook sondige mense. Mense wat maklik
ons monde oopmaak om eie woorde te spreek, wat nie deur ons
Opdraggewer gegee is nie. Woorde wat uit ons sondige harte opkom.
Woorde wat ons huidige gevoelens weerspieël. Woorde waarin God
se Woord nie weerklink nie. Woorde waarmee ons kan steek en slaan,
maar nie soos die swaard van die Gees dit doen nie. Woorde wat as
klip, en nie as brood dien nie. Woorde wat die soldate sand in
ons oë gooi. Om op te som: woorde wat nie die soldate van
Christus toerus vir die stryd nie.

Daarom, broers en susters, bid sonder ophou vir al die
heiliges, vir al die soldate van Christus. Sodat ons almal kan
staande bly teen die liste van die duiwel. Sodat ons aanhoudend
die swaard van die Gees – dit is die Woord van God –
kan opneem en veg teen die magte van die duisternis. Bid ook vir
die predikante en ampsdraers. Sodat hulle nuttige en getroue
instrumente van God mag wees in hierdie oorlog. Om die heiliges
toe te rus. Volhard in gebed. Wees waaksaam. Waak en bid. Sodat
Satan se werk vernietig word en God se koninkryk mag kom.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)