Jesus se sirkelroete ter wille van die herstel van die vrede

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-02-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Verwysing: 
HK 18-0
Preek Inhoud: 

Sondag 18

Ds HH van Alten - Sondag 11 Februarie 2007 - Nagmaal

Lees: Joh. 13:36-14:7, Joh. 17:24, Kol. 3:1-11
Teks: Sondag 18 HK
Sing: Sien liturgie

Tema: Jesus se sirkelroete ter wille van die herstel van die vrede

  1. Jesus gaan na die hemel toe
  2. Ons moet ook na die hemel gaan
  3. Ons word weer teruggestuur na die aarde

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dit is opvallend om te sien hoe baie aandag die Kategismus bestee aan die historiese feitlikheid van Christus se hemelvaart. En dit sou nie so opvallend gewees het as dit die Skrif dit ook gedoen het nie. Maar die Skrif doen dit juis nie! Mattheus en Johannes vermeld in hulle evangelies niks van die hemelvaart nie, terwyl Markus en Lukas dit met ‘n enkele sin afmaak. In die boek Handelinge word daar ‘n bietjie meer aandag aan bestee, maar tog ook nie so baie nie. Waarom nou ‘n hele vraag en antwoord wy aan die gebeurtenis van die hemelvaart? Wel, gemeente, ons kry in die tyd waarin die Kategismus opgestel is, Lutherane (volgelinge van Maarten Luther) wat beweer het dat Christus se liggaam met sy hemelvaart nie letterlik in die hemel opgeneem is nie, maar eerder dat sy liggaam met sy hemelvaart vergoddelik is, met die gevolg dat Christus as mens, liggaamlik, nou oral teenwoordig is. Christus is dus nou sowel in sy Godheid as in sy mensheid alomteenwoordig… 

En híérteen gaan die Kategismus in, eers deur in v/a 46 die feitlikheid van die hemelvaart weer te gee, dus deur te stel dat Christus as mens werklik van die aarde af weggegaan het, verplaas is, na die hemel toe, voor die oë van sy dissipels. Hy is dus, na sy mensheid, nie meer hier op aarde nie. Maar vervolgens – in v/a 47 en 48 – gaan die Kategismus verder deur die onderskeid tussen Christus se menslike en goddelike natuur te verduidelik. Wat sy mensheid betref is Hy nie meer by ons nie, sy mensheid is nou in die hemel; maar wat sy godheid betref is Hy oral – by óns, maar ook verenig met sy mensheid in die hemel. Maar gemeente, laat ons hier nie in dooie teorie verval nie. Net soos die Kategismus kan ons hier ook die vraag stel: wat is die nut hiervan vir ons? Wat help dit u en my dat Christus na die hemel opgevaar het?  

Ek verkondig aan u die goeie nuus van Christus se hemelvaart onder die volgende tema:

Tema: Jesus se sirkelroete ter wille van die herstel van die vrede

  1. Jesus gaan na die hemel toe
  2. Ons moet ook na die hemel gaan
  3. Ons word weer teruggestuur na die aarde

1. Jesus bly nie by sy dissipels nie… So sou hulle dit wel wou gehad het. En daarom vra Petrus ook in Johannes 13:36: “Waar gaan U heen? Ek wil U volg, ek sal my lewe vir U gee!” En dan antwoord Jesus: “Waar Ek heengaan, kan jy My nou nie volg nie, maaar later sal jy My volg.” En dan maak Jesus bekend dat Hy oppad is na die huis van sy Vader. Daarmee bedoel Hy nie die tempel op aarde nie, maar God se hemelse paleis. Die Seun is ‘n kind in daardie huis van sy Vader. En daarom weet Hy ook dat God se woonplek baie mense kan huisves. Dit is ‘n huis met baie blyplek. God se koninklike paleis, Jesus se Vaderhuis dus, bied rojale akkomodasie. Daar is so baie vertrekke, dat dit ruimte bied vir ‘n groot aantal bewoners. En Jesus is nou oppad om ‘n voorbereidingsreis te onderneem om vir sy leerlinge as’t ware ‘n verblyfspermit te reël. Hy sal in die huis van sy Vader ‘n plek vir hulle voorberei. Danksy hierdie reis van Jesus kan sy leerlinge op ‘n later stadium ook hulle intrek neem in een van die gereedgemaakte wonings wat deel is van God se huis.  

Broers en susters, nou moet ons nie aards en plat oor hierdie voorbereidingsreis dink nie. Ons moet nie dink in terme van kamers en Jesus wat besig is om beddens op te maak nie. Nee, op geestelike wyse berei Hy vir ons ‘n plek in die Vaderhuis. Hy sorg dat sy verdienste hier op aarde ons ten goede kom in die hemel, Hy sorg dat sy lyding en sterwe voortdurend onder die Vader se aandag gebring word, Hy herinner die Vader voortdurend daaraan dat die gelowiges, u en ek, nou óók kinders is wat ‘n plek in die Vaderhuis verdien. Hy hou nie op om hierdie taak te verrig nie! In die woorde van die Kategismus: Hy is ons Voorspraak by die Vader. Jesus pleit dag en nag vir ons by die hoogste instansie wat oor elke mens se lot beskik, naamlik voor die aangesig van sy Vader.

En dan pleit Hy nie maar in die sin dat Hy dit wens nie, Hy hoop nie maar net dat die Vader na Hom luister nie. Nee, sy voorspraak is sy wil! Ons het daarvan gelees in Johannes 17:24; daar bid Jesus: “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees…” Sien u, ons Voorspraak lewer bepalende insette in God se plan met mense. En Hy kan dit doen op grond van sy werk hier op aarde, Hy kan dit doen omdat Hy kind in die Vaderhuis is, Hy kan dit doen omdat sy wil volledig met die Vader se wil ooreenstem.  

Gemeente, hoe goed weet hierdie Voorspraak nie wat ons nodig het nie. Hy is die mees aangewese Persoon om by die Vader vir ons te pleit. Hy het immers in ons menselewens ingekom, Hy het ons vlees en bloed aangeneem, Hy ken ons swakhede, Hy ken ons versoekinge. Hy is voortdurend met innerlike ontferming bewoë oor ons, Hy vergeet ons nie! As u daarom vir die hoeveelste keer gestruikel het, as ek al weer ontrou was in my diens aan God, God oneer aangedoen het, nie bereid was om vir Hom te getuig nie, God se toorn teen my opgewek het, dan kom staan Christus tussen die Vader en my, en bid Hy vir my: “Vader, moenie vir hom kwaad wees nie, moenie vir haar kwaad wees nie, U was reeds kwaad vir My, U het reeds u toorn en woede op My uitgehaal, en daarmee is die sonde tog versoen…?”

En só, gemeente, berei Christus vir ons plek in die Vaderhuis. Op geestelike wyse sorg Hy dat daar ook vir my ‘n plekkie is. En Hy doen dit deur vir ons in te tree ten goede, Hy sorg daarvoor dat die Vader ons goedgesind bly. Hy bid voortdurend dat almal wat die Vader aan Hom gegee het, by Hom mag wees. Is dit nie wonderlik nie? Jesus verlang na sy broers en susters hier op aarde, Jesus verlang na my, Hy wil my by Hom hê. En aan daardie wil gee Hy uitvoering deur te sorg dat dit ook sál gebeur. Nou is ons nog nie by Hom nie, maar later sal ons by Hom wees, sal ons saam met Hom ons intrek in die Vaderhuis maak. Sy vleeslike teenwoordigheid in die hemel is daarvan die waarborg; Hy het nie verniet as mens van vlees en bloed na die hemel opgevaar nie; as ons groot Broer, ons vlees en bloed, die volmaakte, sondelose mens, pleit Hy vir ons by die Vader.  

En daarom is dit ‘n hartseer dwaling van die Lutherane wat meen dat die mens Chrisus tydens sy hemelvaart vergoddelik is om oral teenwoordig te kan wees. Ons soek die mens Jesus Christus nie oral nie, ons soek Hom by die Vader! Dáárnatoe wil ons Hom immers volg, ons wil ook eendag dáár ons intrek neem. Gemeente, weet dat die Lam van God aan die regterhand van die Vader sit, dat Hy dag en nag sy wonde aan die Vader voorhou. Ons plek in die hemel staan vas. Christus wil dit hê!

Ons let vervolgens daarop dat ons ook na die hemel toe moet gaan

2. Christus het in Johannes 14 eers gewys waarheen Hy gaan en wat Hy daar gaan doen. Maar dan wys Hy vervolgens vir sy dissipels, wat gaan agterbly, watter pad húlle moet volg om ook eendag saam met Hom in die Vaderhuis ‘n plek te ontvang. En, gemeente, dan is dit nie skielik ‘n totaal ander pad wat hulle volg nie. Dit is nie so dat Jesus op sy manier by die Vader kom, en die dissipels op húlle manier by die Vader kom nie.

Nee, Jesus het sy posisie as Voorspraak verdien deur sy werk op aarde; Hy is nou die Een wat deur sy lyding en sterwe vir ons blyplek kan versorg in die Vaderhuis, Hy sorg deur sy verdienste dat ons daar kan inkom! Wanneer Thomas daarom sê: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?”, dan antwoord Jesus: “Ek is die weg… Ek, Thomas… ” Jesus is dus nie slegs iemand wat die weg na die Vaderhuis aanwys nie: “Ja, gaan julle daardie pad…” Hy is ook nie slegs ‘n gids op die pad nie. Nee, Ek is die weg: Jesus self is die enigste, eksklusiewe toegang tot God. Niemand anders as die Seun is die weg na die Vader nie. Daar bestaan nie ander roetes na die hemel nie. Buiten Hom kan niemand God bereik nie: “niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” En hoekom is Jesus die enigste weg? Omdat Hy persoonlik ook die waarheid en die lewe is. Ek is die waarheid, sê Jesus: in Hom word dus die werklikheid van God in die wêreld geopenbaar; elke ander weg is ‘n dwaalspoor. En Ek is die lewe: in Hom kom die lewende God die wêreld binne; elke ander weg loop dood. 

Gemeente, só word God bereikbaar vir mense op aarde. Omdat Jesus in eie Persoon die ware God en die ewige lewe is, kan slegs Hy die toegang tot die Vader wees. Langs hierdie ware jakobsleer word die afstand tussen hemel en aarde oorbrug vir mense wat God soek. Jesus gaan sy dissipels voor na die Vader, en Hy sal ook vir elkeen, wat glo dat Hy die waarheid en die lewe is, die weg na die Vader oopmaak. En daardie weg na die Vader begin by die kruis en eindig in die hemel. Jesus se dood is soos ‘n rooi loper wat afrol in die rigting van die Vaderhuis. Deur in Hom te glo, volg ‘n mens hierdie unieke roete na God toe.

En daarom kan Paulus in Kolossense 3 ook so ‘n dringende oproep tot die gemeente van Kolosse maak: Fokus op wat daarbo is! Daar is die weg na die lewe! “As julle dan saam met Christus opgewek is…” – en dit is ons, gemeente! Ons is saam met Christus opgewek, kyk maar na Kolossense 2:13: “En julle wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het…” Ons het dus saam met Christus gesterf (soos Paulus ook in hoofstuk 3:3 sê), ons is saam met Hom opgewek, laat ons dan ook saam met Hom na die hemel gaan: “… soek dus die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (vers 1-2).  

En, gemeente, ons het soveel moeite hiermee. Ons soek die dinge hier op aarde, ons bedink die dinge van die aarde. En dan gaan dit natuurlik nie oor gewone skeppingsgawes nie. Dit gaan nie daaroor dat ons nie ‘n huis mag koop en nie aardse dinge bymekaar mag maak nie. Nee, dit gaan oor die rigting van ons lewe; watter weg bewandel ons: die smal weg, Christus, wat na die hemel lei? Of die breë pad waarop sondige plesier en begeerlikhede ons lok? En daarmee sukkel ons: ons loop met ons blik na die aarde, na die dinge van hierdie wêreld, ons blikveld gaan net sover soos wat die modes en die giere van ons tyd gaan. Ons hardloop dikwels nog vinniger as die ongelowiges om deel te neem aan die begeerlikhede van die wêreld; ons is dikwels nog meer wêrelds as die wêreldse mense self.

En dan roep Paulus ons toe: Maar daarbo is julle lewe! Dáár is Christus! Rig julle aandag boontoe, loop die weg wat na die hemel lei, loop Christus! En as ons só gerig raak op die lewe daarbo, dan volg outomaties ook die oproep om nou dood te maak dié dinge wat ons wil doodmaak: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is…” Immers, ons is nou lede van Christus, ons is lede van ‘n hemelse Heer, ons is lede van sy liggaam; dan moet ons daaraan werk dat dié lede wat ons nog aan hierdie aarde laat vashou, weggesny word, geamputeer word: hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal. As ons nog op die aarde gerig is, dan doen ons dié dinge, maar ons kan dit nie meer doen as ons op die hemel gerig is nie.  

Gemeente, wie in Jesus Christus glo, wie saam met Hom gesterf en opgestaan het, is onlosmaaklik aan Hom verbonde, is onvermydelik op Hom gefokus. En Hy is in die hemel… Dus moet ons fokus ook hemels wees! Soek die hemelse dinge, bedink die hemelse dinge…

Ons let ten slotte daarop dat ons weer teruggestuur word na die aarde.

3. Paulus se oproep in Kolossense 3 het al tot baie verkeerde opvattings gelei. Baie het sy oproep verstaan as ‘n oproep tot wêreldmyding. As ons die dinge moet soek wat daarbo is, dan beteken dit seker dat ons ons aan hierdie wêreld moet onttrek. En dit het daartoe gelei dat baie in afsondering ‘n kloosterbestaan gaan voer het. Maar, gemeente, dit is nie wat Paulus hier bedoel nie, dit is ook nie wat die Here met ons lewens in gedagte het nie.  

Christus het na die hemel opgevaar, en nou moet daar in die lewe van sy kinders en van sy gemeente ook ‘n hemelvaart wees. Dit is wat die band tussen die Hoof en die lede vereis. Hierdie band sou verbreek word as ons onsself hier op aarde volledig tuis gevoel het, en in ons aardsgesindheid die hemel en ons Verlosser vergeet het. Maar, dit beteken nie ‘n vlug uit hierdie wêreld uit nie; dit beteken ook nie dat ons een of ander mistieke verlange na die hemelse dinge sou hê en met ons kop in die wolke sou loop nie. Nee, dit beteken dat ons sal soek na die dinge wat daarbo is, en dít in hierdie wêreld en in alle menslike verhoudings sal indra.

Ja, dit is waar: Christus berei ons woning in die hemel, daar is ons egte huis. En daar verskyn ons ook daagliks voor die troon van God in ons gebede. Maar dít waarop ons onsself daarbo rig, en dít wat ons daar in die hemel ontvang, dít wat Christus vir ons verdien het, dit vat ons saam na die aarde; ons keer nooit met leë hande van die hemel af terug nie. Soek wat daarbo is! En watter rykdom ontvang ons nie daarbo nie: egte vrede, harmonie, heiligheid, geregtigheid, eerlikheid, vergifnis en vergewingsgesindheid ensovoort, ensovoorts. En, broers en susters, dit alles dra ons in die wêreld in; ons word vredestigters in ons huise, ons gesinne en in die samelewing; iets van die heiligheid daarbo probeer ons indra in hierdie onheilige en sondige lewe; die vergifnis wat ons van God in Christus ontvang, beoefen ons self ook teenoor almal wat teen ons oortree. En so word daar iets van die hemel sigbaar hier op aarde.  

Christus het met sy hemelvaart nie die aarde ontvlug nie; inteendeel, Hy het gegaan om die hemel voor te berei om soos ‘n bruid op aarde neer te kan daal. En net so word ons, wanneer ons ons fokus op die hemel rig, teruggestuur na die aarde om hier vernuwend, reformatories, werksaam te wees. Christus se hemelvaart plaas ons met beide voete op die aarde – nugter en prakties. Mense wat glo in die hemelvaart vermy nie die wêreld nie, loop nie met hulle koppe in die wolke nie, maar is mense vol van die Gees, die Gees van Christus. En as Geesvervulde mense gaan werk ons hier op aarde tot eer van die Here. En dan soek ons nie wat hier op aarde is nie, maar dan soek ons wat hier nog nie is nie, die dinge van die hemel.

Gemeente, stel u self voor: as ons werklik gerig is op die hemel, en die dinge soek wat daarbo is, watter suiwerende en heiligende invloed kan ons nie hier op aarde hê nie. Hoe mooi en nuut gaan die lewe dan nie word nie; mooi en nuwe huwelike en gesinne, mooi en nuwe kerkgemeenskappe, pligsgetroue arbeiders en leerlinge. Dit sal soos ‘n suurdeeg werk wat deurwerk na alles om ons heen. Ons sal dan iets begin sien van die hemel op aarde. Ek sê: iets! Want dit word eers ten volle werklikheid die dag wanneer Christus sy sirkelroete voltooi het, wanneer Hy weerkom op die wolke van die hemel. En daarom, terwyl ons die dinge van daarbo soek en in hierdie wêreld indra, bid ons ook: Kom, Here Jesus, kom gou!

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 52:1, 3 en 4
Kort nagmaalsformulier
Nagmaalsviering

    • Sing terwyl tafel in gereedheid: Ps. 67:1
    • Sing aan tafel Ps. 67:2 en 3
    • Voltooi nagmaalsformulier en -gebed

Lees:  Johannes 13:36-14:7
      Johannes 17:24
      Kolossense 3:1-11

Sing Ps. 47:3 en 4
Teks: HK, Sondag 18
Preek
Amenlied Ps. 123
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 138:1, 2 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)