Die kerk leef wanneer die HERE se stem gehoor word

Predikant: 
Ds E Viljoen
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-05-04
Teks: 
I Samuel 3
Preek Inhoud: 

1 Samuel 3:10

Ds E Viljoen - Sondag 4 Mei 2003

Lees: 1 Samuel 3 – 4 : 1a
Teks: 1 Samuel 3 : 10
Sing: Sien liturgie

Die kerk leef wanneer die HERE se
stem gehoor word

  1. Die kerk sonder die Woord 
  2. Die kerk met die Woord
     

Geliefde gemeente van ons Here Jesus
Christus,

In 1 Samuel hoofstuk 1 het ons reeds ’n
gesin ontmoet wat deel was van die volk van die HERE.  ’n Gesin in die kerk van
die HERE, sou ons kon sê.  ’n Gesin met wie dit nie so goed gegaan het nie. 
Maar met die gemeente van die HERE het dit óók nie so goed gegaan nie soos wat
alles op die oog af kon gelyk het nie.  Dit was die tyd van die Rigters.  Dit
was die tyd toe daar nog geen koning in Israel was nie.  Elkeen het gedoen wat
hy goedvind in eie oë.  En dan, te midde van al daardie geharwar in die lewe van
die volk van die HERE, word Samuel gebore.  En in Samuel se lewe word weer
duidelik wat dit beteken om ’n lewe te leef wat aan die HERE gewy is.  ’n Lewe
waaroor die HERE self Koning is.  Uit Samuel se lewe word duidelik hoe die HERE
ook Sy gemeente verlos.  En hoe Sy gemeente naby aan Hom kan leef.  In 1 Samuel
3 sien ons hoe onmoontlik dit is om met die HERE te lewe wanneer Sy Woord nie ’n
ereplek in ons lewe inneem nie. 

Want dit was juis die groot rede waarom
elkeen in die Rigter-tyd gedoen het wat hy maar wou.  Die Woord van die HERE het
byna geen plek meer in die lewe van die volk van die HERE ingeneem nie.  En dan
met Samuel begin dit alles te verander.  Die koningskap van die HERE begin nie
met Saul wat as eerste koning aangewys word nie.  Die herstel van die koningskap
begin wanneer die woord van die HERE weer in die gemeente gehoor word.  Werklik,
die HERE se stem gehoor.  En dit sien ons dan ook in die houding wat Samuel, die
jong Samuel, inneem as hy sê: Spreek, want u kneg hoor.  Dis meer as maar net
“my ore is oop”.  Dit spreek van ’n lewenshouding wat Samuel inneem.  HERE,
praat... ek luister na U.  Ek wil U stem hoor. 

Die tema van die preek is daarom vanoggend:

Die kerk leef wanneer die HERE se
stem gehoor word

  1. Die kerk sonder die Woord 
  2. Die kerk met die Woord

1.  Broeders en susters, in 1 Samuel
3 sien ons nie maar net ’n gelowige luisterhouding van Samuel nie.  Hierdie
hoofstuk begin heel anders.  Kyk wat staan aan die begin van 1 Samuel hoofstuk 3
vers 1.  Dit sê eintlik alles.  Die Woord van die HERE was skaars in dié dae. 
In dié tyd – waar elkeen gedoen het wat hy goeddink, was juis die Woord skaars. 
En dit was in die tyd dat Samuel die HERE gedien het by Eli.  Dis tog
verskriklik, broers en susters!  God se Woord is skaars.  En nie onder die
heidene nie.  Onder Israel.  Daar in Silo.  Daar waar Samuel in die heiligdom
van die HERE gedien het.  Die Woord was skaars in die kerk.  In Israel.  In
Silo.  Waar die tabernakel en die ark van God was.  Daar waar die eredienste met
eentonige reëlmaat voortgegaan het.  Daar waar die volk nog so gereeld kom offer
het.  Daar waar daar nog priesters was.  Dink u dit in: die huis van God sonder
die Woord van God.  Dit is tog ondenkbaar!  Ja, dit was nie heeltemal sonder die
Woord nie, maar daar was ’n groot skaarste. 

As ons in die Rigter-tyd die Woord nog
êrens moes verwag het, dan moes dit tog sekerlik daar in Silo gewees het.  Maar
ook daar is dit skaars.  Stel u dus voor, gemeente, ’n kerk sonder ’n Bybel.  ’n
Kerk sonder die lewende verkondiging van die Woord.  ’n Kerk sonder lidmate wat
met liefde, met aandag, insig en geloof leef en lees in die Bybel.

Baie van u ken nog uit vroeër jare in
Nederland ’n skool met ’n bord daarvoor waarop staan: Die skool met die Bybel. 
Stel u voor dat dit kon gebeur dat daar ’n kerk staan, met ’n bord daarop
geskrywe: Die kerk sonder die Bybel.

Broeders en susters, dit het nie beteken
dat daar in die tyd reeds Bybels was soos wat dit vandag is nie.  Daarom staan
daar in vers 1b: gesigte was daar nie baie nie.  Want dit was die manier waarop
die HERE Homself in daardie tyd in Silo bekend gemaak het.  Deur ’n profeet wat
’n visioen gekry het.  Die HERE verskyn aan sy profeet, maar in dié tyd gebeur
dit nie baie nie.  Want die HERE het geswyg.  Hy sê niks.  Die God, wat juis
daarvoor bekend is dat Hy sy stem aan sy volk laat hoor, Dié sê niks. 

Broeders en susters, nou moet ons nie
voorstel dat die mense nie meer kerk toe gegaan het nie.  O nee, daar het
ontsettend baie gebeur.  Allerhande kerk-aktiwiteite het maar voortgegaan.  In
hoofstuk 2, wat ons nou vanoggend nie gelees het nie, sien ons wel genoeg
daarvan.  Dit is wel geen mooi prentjie nie: die mense kom om te offer; die
tabernakel se deure staan oop; die bloed van die offerdiere vloei by die altaar;
maar die HERE laat niks van Hóm hoor nie.  Die kerk het eintlik soos ’n
geestelike basaar geword.  Van alles en nog wat is op die godsdienstige mark
beskikbaar.  Jy kan koop, godsdienstig, net wat jy wil.  En tog was die kerk in
’n krisis.  Die HERE bly stil.  Die HERE se stem word nie gehoor nie.  Hoe kan
dit, gemeente?  Stel u voor dat die hemelse Vader niks meer vir u sê nie.  Dat u
nie meer Sy stem in u lewe hoor nie.  Die Woord waarin die HERE u alles laat
verstaan hoe groot Sy sondaarsliefde is.  Die Woord wat my alles wil leer oor
die verlossing van kinders van die HERE.  ’n Lewe sonder die Woord van die HERE,
wat ’n lig is vir my pad en ’n lamp is vir my voet.  Die Woord wat my die weg
wil wys waarop die HERE wil dat ek sal gaan.  Stel u voor dat u nie meer kon
hoor en lees van Christus se sterwe aan die kruis, sy opstanding en sy
hemelvaart nie.  Of van sy Heilige Gees wat uitgestort is en wat alles kom nuut
maak nie. 

Is ’n lewe vir ’n gelowige, vir ’n kind van
die HERE, op hierdie manier moontlik?  Dit sou beteken dat ’n mens nie meer
werklik met God kan lééf nie.  As God se stem nie gehoor word nie kan jy nie
leef as kind van God nie.  Maar hoe sou u daarop reageer as u nie meer die Woord
van die HERE het nie?  As u heel eerlik moes antwoord, sou u lewe anders gewees
het as vandag?  Vir die jongmense wil ek vra: sou dit vir jou erg gewees het
sonder die Bybel in jou lewe?  Dink maar: geen lang preke meer nie.  Geen
juffrou of meneer op skool wat vir jou voorlees en vertel van die HERE nie. 
Geen gelees uit die Bybel aan etenstafel nie.  En, gelukkig, geen voorbereiding
meer vir jeugvereniging nie.  Dink net daaraan. 

Sou ons lewe anders gewees het?  Of dalk
lees ek nog die Bybel maar die Bybel sê in elk geval vir my niks, ten spyte van
ál hierdie aktiwiteite wat ons tog wel mee aangaan.  Dalk moet ons eerlik
antwoord dat ek wél my Bybel lees, maar eintlik baat dit my so min.  Dit raak my
nie in die mate dat ek sou sê: dit spreek my verhouding met die HERE aan nie. 
Daarom, broeders en susters, is die vraag: sou u lewe enigsins anders wees as
nou indien die HERE werklik glad nie met u gepraat het nie? 

Nou, in só ’n tyd kom die HERE na Samuel. 
In die heiligdom. Waar die ark van God en die offeraltaar was.  En dan lees ons
die lamp of die kandelaar van God het nog nie uitgegaan of doodgegaan nie.  Nou,
dit kan in hierdie gedeelte ’n aanduiding wees dat dit vroeg in die oggend was,
nadat die kandelaar wat deur die nag moes gebrand het nog nie uitgegaan het
nie.  Maar dit kan ook ’n beeld wees om iets te sê oor die toestand van die volk
van die HERE.  Die HERE het nog nie finaal weggegaan van sy volk nie.  Sy lig is
nog nie finaal uitgedoof nie.  Die HERE gaan weer sy stem laat hoor.  Vanaf die
verbondsark – dit is tog die troon van God by sy volk?   Dit was die funksie van
die verbondsark: die hemelse Koning wat kom troon by sy volk.  Die Koning gaan
weer sy stem laat hoor. 

En tog, broers en susters, word die Woord
heel swak ontvang.  Samuel word by die náám geroep deur die HERE, tot 3 keer
toe.  Maar hy herken nie eers die stem van die HERE nie.  Hy weet nie dit is die
HERE wat met hom praat nie.  Telkens dink hy dit is Eli wat hom geroep het.  Die
Woord van die HERE was só skaars dat ons van Samuel lees: Samuel het die HERE
nog nie geken nie.  Wat beteken dit?  Dat Samuel nog nie gered was nie?  Dit is
nie waaroor dit gaan nie.  Dit beteken die Woord van die HERE was nog nie aan
hom geopenbaar nie.  Stel u dit voor: in Silo!  Daar waar die stem van die HERE
elke dag gehoor moes word.  Daar herken Samuel nie eers die stem van die HERE
nie!  So min het God gespreek tot sy volk. 

Hierdie dienskneg Samuel, wat sonder
onderbreking gedien het, daar in Silo – hý herken nie eers die stem van die HERE
nie.  Dit is veelseggend, nie waar nie?  En die bejaarde Eli?  Hy sal tog
sekerlik van beter weet?  Maar nee, eers na die derde keer nadat Samuel
opgestaan het en 3 keer na Eli toe gegaan het, dán eers dring dit tot Eli deur –
maar is dit nie dalk die stem van die HERE nie?  Hoe is dit moontlik, broers en
susters, dat God se stem so onherkenbaar geword het in die midde van sy
gemeente?  Daar was maar net 1 antwoord.  Dit was nie die HERE wat Homself maar
net willekeurig onttrek het aan sy volk nie; dis nie die HERE wat maar
moedswillig stilgebly het nie.  Dit was die sonde van die volk wat die HERE laat
swyg het.  Dit was die sonde van die volk wat die stem van die HERE onherkenbaar
gemaak het.  Selfs in Silo. 

Die oorsaak vir die skaarste van God se
Woord is nie by die HERE te soek nie – dit lê by die kerkmense, wat elkeen maar
doen wat hy goedvind in eie oë.  Ek dink, ék voel, ék sê, ék het gehoor.  Elkeen
leef sy eie lewe.  En dit sien ons dan ook in Silo, in 1 Samuel 2.  U kan gerus
by die huis daardie hoofstuk gaan deurlees – hoe elkeen maar doen wat hy
goedvind.  Die volk kom nie om die stem van die HERE te hoor nie.  Ja,
uiteindelik verag hulle selfs die offer aan die HERE.  Heeltemal verstaanbare
rede:  want die 2 seuns van Eli, Hofni en Pinehas, maak van die tabernakel niks
anders as slagpale waar hulle goedkoop vleis in die hande kan kry nie.  Nie meer
’n plek waar daar geoffer word, waar die stem van God se vergifnis gehoor word
nie, maar slagpale waar die priester vir homself goedkoop vleis kan kry. 

En almal praat kwaad van kerk toe gaan. 
Hoekom gaan jy nog kerk toe?  Waaroor gaan dit alles?  Die volk hoor nie meer
die vergifnis van die HERE nie, en hulle vra ook nie meer daarna nie.  Ja, daar
moet tog eenmaal geoffer word.  Die wiele van die kerk moet mos maar draai?  Aan
en aan.  En blykbaar is die kerk ook nog ’n plek waar jy jou kan bevredig met
die teenoorgestelde geslag.  Ons lees van Eli se seuns, wat omgang gehad het met
die vroue wat gedien het by die ingang van die tent van samekoms.  Daarvoor is
die kerk darem nog goed genoeg?  Die kerk kan ook hierdie funksie in my lewe
vervul.  Nie ’n plek waar ek heengaan om die stem van die HERE te hoor nie, maar
waar ek ’n jongman of ’n meisie kan ontmoet waarmee ek kan uitgaan.  Ek kan vir
my ’n lewensmaat in die kerk kry.  Dis tog gesellig - as ons jeugvereniging toe
gaan kan ek langs die meisie gaan sit.  Ek kan heel naby haar in die oë kyk. 
Die kerk is tog ook daardie funksie in my lewe, nie waar nie?  Ek kan ’n
lewensmaat daar gaan kry!  Lekker uitgaan met ’n meisie.  Dis tog ’n gelowige –
dan moet dit wel goed wees?  Só het Hofni en Pinehas omgegaan daarmee – as ’n
plek war die vroue in die gemeente ook benut kon word.  Jeugvereniging word ’n
plek waar ek ’n meisie of ’n ou kan ontmoet.  Maar die belangstelling vir die
Woord van die HERE – dit is soek, dit is weg.

Só lyk die kerk.  Sonder die Woord. 

Maar nou mag ons in die tweede plek kyk,
broeders en susters, na die kerk mét die Woord.

2.  Wat doen die HERE in hierdie
omstandighede?  Laat Hy maar die sonde begaan?  Swyg Hy vir ewig? 

In 1 Samuel 2, vanaf vers 27, stuur die
HERE eers ’n onbekende profeet.  Ons lees van ’n man van God wat na Eli gekom
het – ons weet nie wat sy naam was nie – maar dit was ’n profeet wat na die Eli
gekom het om die oordeel van die HERE oor die huis van Eli aan te kondig.  Maar
die HERE kondig dit net vir Eli aan, net hý weet daarvan.  Hulle wat die Woord
moes laat hoor, maar dit nie gedoen het nie, dié gaan nou uit die weg geruim
word.  En daarom kom die HERE se straf oor Eli en sy seuns.  Hierdie seuns sou
albei op 1 dag sterf.  En die HERE beloof dan dat Hy vir Homself ’n getroue
priester sal verwek, wat die volk sal leer.  Luister mooi, broeders en susters,
wat daar staan in 1 Samuel 2 vers 35 : “Ek sal ’n priester vir My verwek, wat
die volk sal leer wat in die hart en in die siel van die HERE is.”  Die volk sal
weer hoor wat in Gód aangaan oor sy kinders.  Hoe Hy oor hulle voel.  Wat Hy vir
hulle wil sê.  Daarvoor sal God weer ’n priester aanstel. 

Hierdie profeet gee die Woord eers net aan
Eli en aan sy huis. Wat gaan daar nou in Silo gebeur?  God gaan ’n nuwe begin
maak.  Met die jong priester-profeet Samuel.  Wat die volk gaan laat hoor wat in
die hart van God en in die siel van God aangaan.  En dan begin die HERE met ’n
jong Samuel, kom ons sê maar met ’n jong kerklidmaat.  Samuel wat nog nie eers
die stem van die HERE geken het nie.  Ja, wat die erediens bygewoon het; elke
keer daar was as Eli geoffer het; en so, langsamerhand, soos hy sien wat Eli
doen en waarskynlik ook hoor wat Eli sê – wel geleer het waaroor dit gaan in die
kerk.  Maar Samuel het nog nooit die HERE se stem self gehoor nie.  Nou gaan die
HERE vir die eerste keer regstreeks met Samuel praat.  Eers moet die trae Eli
sover kom om uiteindelik te besef dat die HERE weer sy stem hoorbaar maak in
Silo.  En dan, na die derde keer, nadat die HERE vir die derde keer met Samuel
gepraat het, besef Eli dit.  Die HERE praat weer.  Dit is die stem van die
HERE!  En tog, hoe verskriklik dat die HERE se stem so onherkenbaar geword het
in die kerk.  Is dit moontlik?  Is dit moontlik dat die stem van die HERE
onherkenbaar geword het by al ons Bybel lees en studie en kerk wees?  Is dit so,
broers en susters, dat ons, wanneer ons die Bybel lees, ons dit nog lees
met die gewaarwording: Kyk wat sê die HERE vir my, hier?  Kyk wat sê die HERE
vir sy gemeente, hier?  Herken die stem van die HERE en sê: Die HERE het vir my
gesê, en ek gaan na my man, na my vrou, na my kinders, of ek gaan na pappa en
mamma en sê:  Kyk wat het die HERE hier vir my gesê!  Kyk wat sê die HERE hier
vir sy gemeente.  Lees ons die Bybel nog so?

Broers en susters, watter mooi geleentheid
het ons eerskomende Donderdagaand: die kerkraad wil Bybelstudie doen saam met
die gemeente.  Dit het ons in die afkondiging vanoggend gehoor.  Geen
Bybelkringe, nie omdat ons sê die Bybel word nie daar gelees en verstaan nie,
maar omdat ons tog wel beperkings, gebreke, opmerk waarvan ons sê: Mense,
luister ons nog, en hoor ons die stem van die HERE nog soos wat ons dit behoort
te hoor?  Die kerkraad wil Bybelstudie doen saam met die gemeente.  Ons wil vir
mekaar gaan vra: Wat sê die HERE vir ons hier?  Dis tog waaroor dit gaan as ons
Bybel lees?  Ons wil mekaar help om die stem van die HERE te hoor en te herken! 
En daarin wil die kerkraad kom en self leiding neem en sê: So moet ons luister
na die stem van die HERE.  Soos wat Eli vir Samuel kon gesê het: maar dit is die
HERE wat met jou praat. 

En dan mag die kerkraad ook eerskomende
Saterdag met die jeugvereniging praat oor die tema: Bybellees op vereniging. 
Wat ’n geweldige geleentheid.  Sonder dat enigeen van ons dit so heel doelbewus
beplan het, dit alles in hierdie een week. 

Die wonder was dat die HERE nie weggegaan
het uit Silo nie.  Die HERE het nie maar net 3 keer met Samuel kom praat en
daarna verdwyn nie.  Die HERE het ’n vierde keer na Samuel gekom.  En Hy het
gekom om te bly.  Want die HERE wou Sy stem weer by Sy volk laat hoor.  Dít,
broers en susters, dít is genade.  Genade is wanneer die HERE Sy stem weer deur
Sy volk wil laat hoor.  God kom herstel die kontak wat die volk verbreek het
deur hulle sondes.  Hulle sondes wat gemaak het dat hulle nie meer sê “dit sê
die HERE vir my” as hulle, sê maar, hulle Bybel gelees het nie.  Maar elkeen gee
sy opinie.  Ek dink... en ek voel... 

Die HERE maak ’n nuwe begin, uit genade
alleen.  En dit is die pragtige van die roeping van Samuel tot profeet en
priester.  Samuel moet weer die stem van die HERE laat hoor aan Sy volk.  Die
volk moet weer die kerk met die Bybel word!  Die kerk met die Woord!  Nie elkeen
wat doen en hoor wat hyself goedvind nie.

Broeders en susters, sal ons dit nie op die
naambord van ons kerk hier buitekant voor die gebou laat skryf nie?  Die kerk
met die Woord.  Die kerk met die Bybel.  Sal dit nie in ons dag ontsettend veel
sê nie?  Die kerk met die Woord! 

Die volk het dit nie verdien nie.  Maar die
HERE gaan wys Hy is Koning wat regeer vanaf ’n genadetroon.  Hy regeer met Sy
Woord!  Daarom geen koms van die koninkryk van die HERE onder Sy volk sonder die
stem van die HERE wat regeer in die lewens van Sy volk nie.  En daarom kom die
HERE ’n vierde keer na Samuel.  “Samuel, Samuel”.  Hy roep hom by die naam.  Hy
spreek hom persoonlik aan.  En dan antwoord Samuel.  En hier spreek die hele
lewenshouding van Samuel wat by elkeen van ons pas: “Spreek, HERE, u kneg hoor”. 
’n Vreemde taal in ’n tyd waar elkeen dink en doen en sê wat goed is in sy eie
oë.  U kneg.  Praat, HERE, ek wil hoor wat U sê. 

En dis nou presies wat elkeen van ons moet
doen wanneer die HERE met ons praat uit Sy Woord.  Dit gaan oor hierdie
luisterhouding wat Samuel inneem.  En Eli leer dit nog vir hom (dis die een
goeie ding wat Eli nog vir hom kan leer).  Hy sê vir hom: Sê vir die HERE
“Spreek HERE”.  En so word Samuel God se profeet wat die volk weer terugbring na
die Woord van die HERE.  Maar die eerste reël is altyd: Luister goed.  Dit het
gegeld vir al die profete van die HERE.  Dit het gegeld vir Samuel, dit geld ewe
goed vir u en vir my.  Wanneer ons ons Bybel lees, dan neem ek ’n houding aan
van ’n dienskneg.  Dan neem ek ’n luisterhouding aan, waarmee ek sê: “HERE,
praat met my.  U kneg luister.”  ‘n Oop gemoed.  Ontvanklik vir wat die Gees van
die HERE vir Sy gemeente te sê het.  Heel konkreet, as ek my Bybel lees, dan vra
ek die vraag: Wat sê die HERE vir my, hier, in hierdie gedeelte?  Wat sê die
HERE oor Homself?  Wat sê die HERE oor Christus, oor die Messias?  Wat wil die
HERE hê moet ek doen?  Dis tog die vrae wat ons vra, broeders en susters, as ons
die Bybel lees, nie waar nie? 

En dan kom die woord heel skerp na Samuel. 
Dis nie ’n aangename woord wat na Samuel gekom het nie.  Dit was wel ’n
genade-woord.  Want die HERE wil Sy Woord weer laat hoor, maar dit beteken ’n
oordeel oor Eli en sy seuns wat die Woord nié wou laat hoor nie.  Want die Woord
van die HERE wat na Samuel kom is ’n woord van verwerping van Eli.  Al was daar
hoeveel offers gebring deur Eli en sy seuns, dit beteken nie daar was outomaties
vergifnis nie.  Die Woord in vers 14 is juis “Al die slagoffers en die
spysoffers wat tot in der ewigheid gebring was, sou nie die sonde kon versoen
van Eli en sy seuns nie.  Geen vergifnis as die stem van die HERE nie tot ons
persoonlik spreek nie.  Maar nou, as die profeet Samuel hierdie woorde
verkondig, dan hoor nie net Eli hierdie woorde nie, soos by die onbekende
profeet in 1 Samuel 2 nie.  Die hele volk moes dit nou hoor.  Die volk moes hoor
dat hulle wat die voortgang van die Woord van die HERE in Sy gemeente in die pad
staan, dié sal God uit die weg ruim.  Want God wil Sy stem laat hoor in die
gemeente.  En uiteindelik dra Samuel dan ook, met alle eerbied, sal ons sê met
puïteit, met die nodige eerbied en ootmoed en versigtigheid dra hy hierdie
boodskap oor aan Eli.  Eli, God gaan jou en jou seuns straf.  Uit die weg uit
neem.  Samuel sê nie “Ek is jonk, ek lees die Bybel vir die eerste keer, ek sal
vir almal wel sê hoe lees ons die Bybel” nie.  Nee, maar met vrees en angs:  Ek
het die stem van God gehoor, en kyk wat is die implikasie vir die lewe van die
gemeente van die HERE.  Hy is te bang om dit vir Eli te gaan sê.  Nie omdat hy
nie die stem gehoor het nie, maar die geweldige implikasie van God se Woord vir
Sy gemeente word werklikheid in die lewe van Samuel. 

En wanneer Samuel daardie woord uiteindelik
tog ook aan Eli laat hoor; nie bang is om heel reguit die woord tog te spreek
nie: kyk dan, broeders en susters, wat is die uitwerking van daardie woord in
die lewe van Eli.  Want Eli antwoord vir Samuel.  En hy sê vir hom: Hy is die
HERE, laat Hom doen wat goed is in Sy oë.  Sien u die terugkeer na onderwerping
aan die Woord van die HERE?  Hý is die HERE!  Nie ek en my seuns wat so lank
gedoen het wat ons goedgedink het nie.  Hy is die HERE, laat Hy doen wat goed is
vir Sy gemeente.  En dan, broeders en susters, laat die HERE weer sien hoe
betroubaar Sy Woord is.  Die HERE kan geglo word, want die HERE voer uit presies
wat Hy gesê het vir Samuel.  Vers 19 lees ons: die HERE het nie een van Sy
woorde onvervuld laat bly nie. 

Gemeente, u kan die HERE glo as Hy met u
praat. 

En dan erken die hele volk, lees ons in
vers 20: Die hele volk het erken dat Samuel betroubaar was as profeet van die
HERE.  En die HERE het weer in Silo verskyn.  Want Samuel het die HERE se Woord
laat hoor.  Daarom het die HERE wéér in Silo verskyn. 

Die skaarste het weer ’n oorvloed geword. 
Die armoede aan die Woord het rykdom geword in die lewe van die gemeente!  Omdat
Samuel begin het deur te sê: Spreek HERE, u kneg hoor.  Die HERE het weer met Sy
Woord kom woon by Sy volk.  Israel het weer die kerk met die Woord geword.  Die
kerk met die Bybel.  Die HERE het Hom aan Samuel geopenbaar, sodat Israel kon
wees die volk tot wie die HERE spreek.  Dit is wat ons moet wees, gemeente: die
kerk met die Woord. 

Amen.

Liturgie (oggend)
Seën
Ps 43 : 3-5
Wetslesing
Ps 71 : 1,2
Gebed
Lees: 1 Samuel 3 – 4 : 1a
Ps 119 : 39 en 43
Teks: 1 Samuel 3 : 10
Preek
Ps 89 : 6, 7 en 14
Gebed
Kollekte
Ps : 63 : 2, 3, 4 en 6
Seën

Liturgie: 

(kyk in preek)