Jesus Christus verbind Hom aan God se bouplan vir die geskiedenis!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-03-11
Teks: 
Matthéüs 5:17-20
Preek Inhoud: 

Matthéüs 5:17-20

Ds HH van Alten - Sondag 11 Maart 2007

Lees: Matthéüs 5:17-48
Teks: Matthéüs 5:17-20
Sing: Sien liturgie

Tema: Jesus Christus verbind Hom aan God se bouplan vir die geskiedenis!

  1. Christus waarborg die voltooiing daarvan (vv. 17-18)
  2. Ons word opgeroep om daaraan deel te neem (vv. 19-20)

Broers en susters, kinders van een Vader,

Enkele weke gelede het ek met die katkisante gepraat oor die Gideon-bybeltjies. Die meeste van hulle ontvang so ‘n bybeltjie wanneer hulle in die hoërskool kom. ‘n Kompakte, klein bybeltjie wat goed gebruik kan word wanneer ‘n mens nie so ‘n groot bybel kan ronddra nie. Sinvol om by jou te hê… En ons kan die werk van die Gideons hoog op prys stel; hulle versprei bybels oor die hele wêreld, bybels wat in 82 tale vertaal is en waardeur mense in hulle eie taal die evangelie van Jesus Christus kan lees.

En tog is daar een groot gebrek aan hierdie bybeltjies… Dit bevat naamlik slegs die Nuwe Testament en die Psalms. Êrens het hierdie organisasie dus ‘n keuse gemaak uit die 66 boeke van die bybel, en besluit om slegs die Nuwe Testamentiese boeke en die boek van die Psalms in ‘hulle bybels’ te gebruik. Gemeente, is dit nie tekenend van hoe daar deur die eeue met dele van die Skrif omgegaan is nie? Marcion het, in die tweede eeu na Christus, al presies dieselfde gedoen toe hy die Ou Testament en dele van die Nuwe Testament verwerp het, en sy ‘eie bybel’ geskep het. Ons sien dieselfde in die 18e en 19e eeu wanneer die Skrifkritiek opkom – dan word die Ou Testament afgewys as die religieuse handboek van die Jode wat ons nie meer in ‘ons bybels’ nodig het nie. En in die 20ste eeu kry ons ‘n meer verfynde vorm van Skrifkritiek met die opkoms van ‘n nuwe verstaan van wat waarheid is – iets is slegs waarheid as dit vir my waarheid is; só skep elke mens as’t ware sy ‘eie bybel’ met dié gedeeltes wat vir hom of haar van waarde en betekenis is.  

Vir die Jode in Jesus se tyd het dit moontlik gelyk asof Jesus ook só ‘n vernuwer was, iemand wat met ‘n ander leer en ‘n ander lewenswyse gekom het. Ons het naamlik in die vorige preek oor die bergrede alreeds gesien dat die goeie werke wat Hy in hoofstuk 5:16 van die skare geëis het, van ‘n totaal ander aard was as die wette en reëltjies van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes. Die goeie werke wat Jesus geëis het, was om arm van gees te wees, om te treur, om sagmoedig en barmhartig en rein van hart te wees. Dit moes so anders geklink het in die ore van hierdie skare wat gewoond was aan: Jy moet dít, en jy mag nie dat nie. En so maklik kon die gedagte ontstaan dat hierdie Jesus besig was om sy ‘eie bybel’ te propageer.

Ons moet onthou, broers en susters, dat Israel geleef het by die Ou Testament; die Ou Testament was hulle bybel. Maar natuurlik het dit nie bekend gestaan as die Ou Testament nie. Nee, onder die volk was daar verskillende benamings vir die Ou Testament. Tradisioneel is die Ou Testament in drie dele verdeel: die wet, die profete en die geskrifte. Daarom kan Lukas in hoofstuk 24:44 van sy evangelie na die hele Ou Testament verwys as “die wet van Moses en die profete en die psalms”. Op ander plekke word daar slegs gepraat van die wet en die profete om na die hele Ou Testament te verwys – kyk maar na Lukas 16:16 en ander plekke. En in Johannes 10:34 verwys Jesus na die hele Ou Testament eenvoudig as “die wet”. Nou kon dit vir die skare, wat by hierdie Ou Testament geleef het, voorkom asof Jesus ‘n nuwe boodskap gebring het, en gevolglik kon die vraag ontstaan: wil Hy iets anders in die plek van die wet en die profete stel?

En, gemeente, voordat hierdie misverstand die dissipels en die skare se luistervermoë sou begin belemmer, wou Jesus dit uit die weg ruim. En daarom dat Hy, na die inleiding tot die bergrede, nou eers hieraan aandag gee: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie” – dus, moenie dink dat Ek gekom het om die Ou Testament te ontbind nie. “Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul!” Jesus se gesag verdring of vervang nie die bybel nie. Inteendeel, Hy hou voortdurend sy hand op die bybel, Hy wys voortdurend op die Skrifte!

Ek het die boodskap van ons teks soos volg saamgevat:

Tema: Jesus Christus verbind Hom aan God se bouplan vir die geskiedenis!

  1. Christus waarborg die voltooiing daarvan (vv. 17-18)
  2. Ons word opgeroep om daaraan deel te neem (vv. 19-20)

1. Gemeente, ons sou die bybel kon vergelyk met ‘n bouplan vir die geskiedenis. God is die Boumeester wat besig is om ‘n paradyslike wêreld te bou. En selfs na die opstand en afval van die mens, laat God hierdie plan nie vaar nie. Nee, Hy gaan daarmee voort, nie omdat Hy hardkoppig sy eie idees wil vashou nie, maar omdat Hy weet dat dit goed is. Dus hou God sy bouplan ongewysig vol!

Die bouproses oppad na die nuwe paradys word egter wel ‘n lang pad van stagnasie en teëwerking, met die gevolg dat God se vorderingsverslag ook voortdurend langer word. In sy bouplan doen God onder andere verslag van Kaïn, die sondige generasie van die sondvloed, die bouers van die toring van Babel; Hy doen verslag van die afval in Israel, hulle kleingeloof en ongehoorsaamheid, van die baie konings wat nie in sy weë gewandel het nie, en van die afval ná die terugkeer uit ballingskap. En wanneer Johannes die Doper uiteindelik optree as die voorloper van die Messias, ja, dan moet ons erken dat die plan nog nie baie verder gevorder het nie as ‘n oproep tot boetedoening: “Bekeer julle!” Ons sien dus dat God se bouverslag eintlik maar ‘n aaneenskakeling is van stakings en vandalisme. So dikwels word dít wat God opbou, weer deur die mense afgebreek, en nie die minste deur sy eie volk nie. Tog bly die plan staan… 

En, gemeente, Jesus gaan nie teen hierdie plan in nie; Hy wysig nie die plan nie, Hy gooi ook nie die plan weg nie. Ook al mag die skare en die leiers van die volk moontlik so dink… ook al mag sy leer en sy lewenswandel moontlik daardie indruk wek. Nee, Jesus staan met sy leer en lewe volledig in die lyn van God se plan. Veral in die evangelie volgens Johannes wys Jesus dit keer op keer: “Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Joh. 5:30), en: “… die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat my gestuur het” (Joh. 14:24).

Nee gemeente, Jesus wil nie die bouplan weggooi nie, en die skare moet dit baie goed besef: “Ek het nie gekom om die wet of die profete (dus, die bouplan) te ontbind nie.” Die woord wat hier vir ‘ontbind’ gebruik word, beteken letterlik “ongedaan maak” of “verwoes”. Christus maak nie God se plan met die wêreld ongedaan nie. Inteendeel, “Ek het gekom om te vervul!” 

Wat bedoel Jesus hier met ‘vervul’? Wel, Mattheus en die ander evangeliste praat in die evangelies verskeie kere oor die vervulling van dít wat die Here gesê het, óf deur sy profete óf deur die Skrifte. So lees ons byvoorbeeld in Mattheus 1:22: “En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem…” ‘n Ander mooi voorbeeld vind ons in Mattheus 26:54 waar Petrus, nadat hy die dienskneg se oor afgekap het, deur Jesus beveel word om sy swaard terug te sit. En dan sê Jesus: “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” En ‘n laaste voorbeeld vind ons in Lukas 24:44, waar Jesus sê: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.”

By vervulling, broers en susters, gaan dit dus oor die realisering van dít wat nog oopgestaan het; dit gaan oor dié dinge waarvan die wet en die profete alrééds gespreek het, maar wat nog móés gebeur.  Jesus gee in hierdie verklaring, dat Hy gekom het om te vervul, dus die waarborg dat alles wat in die wet en die profete nog onaf was, nog oopgestaan het, deur Hom gerealiseer sou word. Hy neem dit op Homself om God se plan – tot in die nuwe paradys – te voltooi! 

En Hy onderbou dit vervolgens in vers 18 met ‘n gesaghebbende verklaring: “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan todat alles gebeur het nie.” Soos u waarskynlik weet, is die jota die kleinste letter van die Hebreeuse alfabet, en die tittel is ‘n klein hakie aan sommige letters. In Afrikaans sou ons sê dat selfs die puntjie op die ‘i’ nie verlore sou gaan nie.

Gemeente, Jesus is in hierdie vers nie besig om te verkondig dat die wet ewige geldigheid het nie, maar Hy leer wel dat nie een woord in die wet verniet geskrywe is nie; alles wat aangekondig is, sál gebeur. Wanneer die hemel en aarde verbygaan, en die nuwe geskiedenis aanbreek, ja, dan sal die tyd van die openbaring deur wet en profete verby wees, dan het die Ou Testament (en ook die Nuwe Testament) hulle tyd gedien. Dit is wat Petrus ook leer in sy tweede brief, hoofstuk 1:19: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.” Maar vóór die dag aanbreek, broers en susters, sal álles in wet en profete tot hulle bedoelde vervulling kom; niks sal onvervuld bly nie, niks sal vergeet word nie; geen deeltjie van God se bouplan sal nie uitgevoer word – alles, selfs die kleinste detail, sal uitgevoer word, sodat die nuwe paradys skitterend mooi sal wees.

En met sy “voorwaar, Ek sê vir julle” gee Jesus Homsélf hiervoor as waarborg. Hy het gekom om te vervul, en daarom sal Hy daarvoor sorg dat ook niks van God se bouplan onvervuld bly nie. Jesus Christus gee Homself as waarborg vir die koms van die paradys, die koninkryk van die hemele, soos dit in die wet en die profete voorberei en aangekondig is. Ons mag hiervan seker wees, deur Jesus se eed: Voorwaar, Ek sê vir julle.  

Broers en susters, so baie mense – ook onder ons – sien die bybel as iets staties, asof dit ‘n stilstaande beeld is, ‘n bouplan sonder vordering. Maar die beeld van die bybel staan nie stil nie; nee, die beeld is voortdurend aan die beweeg, dit is oppad na die toekoms; Jesus Christus het én is besig om die bouplan uit te werk, te realiseer.

Baie van wat in die wet en die profete belowe is, is alreeds vervul. Dink maar aan al die offerwette; dink aan die tempel met sy hele inrigting: die waskom, die altaar, die toonbrode; dink aan wat in die Ou Testament aangekondig is oor die plek waar Jesus gebore sou word (Betlehem-Efrata), oor die manier waarop Hy sou sterf (Psalm 22), oor die koms van die Heilige Gees (Joël 2), oor die heidene wat sou deel in die heil (ons het vanoggend nog daarvan gesing uit Psalm 87). Baie dinge uit die wet en die profete is nie slegs meer letters nie, maar het vlees geword in Jesus Christus.

Maar dan is daar ook baie dinge wat nog moet kom. Die berge dra nog nie vrede, en die heuwels nog nie geregtigheid, soos Psalm 72 verkondig nie. Die wolf en die lam wei nog nie saam, en die luiperd lê nog nie by die bokkie nie, soos wat Jesaja profeteer. Maar ons mag daarna uitsien! Die bybel is ‘n boek oppad – nie in die sin dat die inhoud daarvan voortdurend aan die verander is nie; nee, die woord staan vas. Maar die bybel is wel oppad in dié sin dat dit wat daarin vasstaan stap vir stap, een vir een, gerealiseer word, klaarkom, voltooi word. Die bybel is ‘n boek oppad en ons is al ver oor die helfte! Die boek van gister bring ons by die tyd van môre, by die heerlike toekoms van die koninkryk van die hemele. Alles wat daarin staan, sál vervul word! Jesus Christus waarborg die voltooiing van God se bouplan. Wat ‘n heerlike wete, broers en susters, ons Messias, sorg dat die plan voltooi word – daarvoor het Hy gekom, daarvoor moes Hy kom, want ons sou niks daarvan tereg gebring het nie. As God uit God, Lig uit Lig, ware God uit ware God, werk Hy nie teen die Vader in nie, maar doen Hy alles wat die Vader Hom opdra tot herwinning van die vrede tussen God en mens. In Hom is al God se beloftes ja, en in Hom is al God se beloftes amen (2 Kor. 1:20) – dit sal verseker vervul word!  

Moet daarom nie ophou om u oog op Hom gerig te hou nie, moenie ophou om na Jesus Christus te kyk nie – al die beloftes wat in u lewe nog wag op vervulling, al die beloftes waarna die kerk met verlange uitsien, sal sekerlik kom. Jesus Christus waarborg dit!

Vervolgens word ons opgeroep om daaraan deel te neem. 

2. Vers 19 sluit deur die woordjie ‘dus’ baie duidelik aan by die voorafgaande. Jesus het in verse 17 en 18 verklaar dat Hy die Een is wat God se bouplan voltooi sodat alles wat die wet en die profete aangekondig en belowe het, ook werklik sal gebeur. Hy staan dus waarborg vir die koninkryk van die hemele. Maar as Hy waarborg staan vir die koninkryk van die hemele, dan kan sy hoorders (en ons) ons nie afsmeer aan sy wette vir daardie Koninkryk nie! Dan kan ons die pad wat Hy wys oor hoe om in daardie Koninkryk in te gaan, nie negeer nie! Jesus sê: “Ek staan waarborg vir die realisering van die Koninkryk! – elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele, elkeen wat nie die pad na die realisering wil volg wat ek wys nie, sal nooit die koninkryk binnegaan nie. Volg daarom my weg, volg my minste gebooie…”  

Waarna verwys hierdie ‘minste gebooie’? Baie is van mening dat dit verwys na die gebooie wat Jesus net hierna in verse 21-48 gaan gee. Indirek is dit ook so, aangesien hierdie gebooie in verse 21-48 ‘n uitwerking is van die saligsprekinge in verse 3-12. Maar in die eerste plek verwys hierdie ‘minste gebooie’ na die gebooie wat Jesus in die vorm van saligsprekinge uitgespreek het in die begin van sy bergrede. Dáár het Hy bepaal aan wie die koninkryk toekom – gaan kyk maar weer na die eerste en laaste saligsprekinge (verse 3 en 10: want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele). Aan wie? Aan die wat arm van gees is, en nederig en sagmoedig en rein van hart. Dít is die minste gebooie waaroor Christus gepraat het.

Vir die skare wat vertroud was met die wet en die profete en wat die groot, nuwe wette van die hemelse koninkryk verwag het, was dit eintlik maar geringe gebooie. ‘n Mens kan nie help om minderwaardig na hierdie gebooie te kyk nie. Maar omdat Christus die Een is wat gekom het om God se openbaring – die wet en die profete – te vervul, sal ‘n mens met sy gebooie, hoe gering dit in óns oë ook al mag lyk, deeglik rekening moet hou. Juis omdat Hy die openbaring en die belofte van God realiseer en die koninkryk van die hemele tot uitvoering bring, sal niemand hierdie minste gebooie kan negeer nie. Wie dink dat Hy in die koninkryk van God kan ingaan terwyl hy die gebooie van Christus minag, juis hy sal in die koninkryk geminag word. Maar wie in die koninkryk van die Vader wil ingaan met eerbied vir die gebooie van Jesus, hy sal eervol onthaal word.  

Slegs húlle is groot in die koninkryk wat bereid is om hierdie minste gebooie te gehoorsaam. Want, gemeente, hierdie minste gebooie – ja, hulle lyk so gering, so niksseggend: wie van ons wil nederig wees, wie van ons wil werklik arm van gees wees, wie van ons wil vervolg word? – maar hierdie minste gebooie leer ons iets onmisbaars vir die ingang in die koninkryk: hierdie gebooie leer ons geloof in Jesus Christus! En daaroor gaan dit uiteindelik.

Ja, ons mense soek die groot en die indrukwekkende gebooie, ons soek na die skouspelagtige wat ons kan gaan uitvoer. Want ten diepste wil ons sélf die koninkryk realiseer. Maar dan leer hierdie minste gebooie ons: slegs deur geloof gaan ons die koninkryk binne, wat Jésus besig is om te realiseer. En daardie geloof blyk wanneer ons op Jesus se gesag die klein en onaansienlike gebooie van die saligsprekinge op ons neem en daaraan gehoorsaam is. 

En daarom dat Jesus ook kan sê dat ons geregtigheid méér moet wees as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Let op, Christus maak die geregtigheid van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie af as waardeloos nie, Hy sê nie dat hulle niks goeds gesê en gedoen het nie. Dit is dikwels die beeld wat onder ons bestaan, asof die skrifgeleerdes en Fariseërs sulke goddelose mense was… Glad nie! Inteendeel, dit was diep godsdienstige manne. Maar hulle geregtigheid het net sover gestrek as wat hulle in hul sondige geaardheid kon vermag – en in daardie lig was hulle geregtigheid nie baie groot nie. Nee, gemeente, ons geregtigheid moet meer wees. Maar hoe dan? Jesus gee dan vir ons die ‘minste gebooie’!? Hoe kan ons die meerdere wees met die mindere? Want, gemeente, hierdie minste gebooie maak ons klein, leer ons nederigheid, bring ons tot geloof en oorgawe aan Jesus Christus – en Hy het die geregtigheid volmaak volbring, Hy het die eis van God volmaak gehoorsaam, Hy was volmaak regverdig. En in Hom vind ons daarom ook die geregtigheid wat meer is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseers. Slegs deur geloof in Jesus Christus is ons geregtigheid meer as dié van die leiers van die volk, is ons geregtigheid volmaak.

En daarom kan Jesus vervolgens, in verse 21-48, die gebooie in die saligsprekinge verder gaan uitwerk tot in die radikale toe. Wanneer Hy die radikale vir ons gedoen het, naamlik om die geregtigheid vir ons te volbring, dan kan Hy vervolgens ook die radikale van ons eis. Die sesde gebod: jy mag nie doodslaan nie – Jesus wys, dit gaan oor baie meer as net doodslaan; selfs al is ek sonder rede kwaad vir my broeder, dan sal ek daarvoor verantwoording moet aflê. Die sewende gebod: jy mag nie egbreek nie – Jesus wys, Ek eis baie meer as om net net daadwerklik egbeuk te pleeg nie; selfs al kyk ek net na ‘n vrou of man om haar of hom te begeer, dan het ek reeds in my hart egbreuk gepleeg. Die agste gebod: jy mag geen valse getuienis aflê nie – Jesus wys, dit gaan baie dieper; elke ja moet ja wees, en elke nee moet nee wees. En so gaan Jesus deur die wet van Moses en wys hy vir die skare wat die radikale eis van die wet is.  

Ondoenbaar? Ja, selfs die skrifgeleerdes en die Fariseers kon nie hierdie geregtigheid bereik nie. En ons dan? Ons vind hierdie geregtigheid slegs in Hom wat dit tot op die letter uitgevoer het. Hy het die wet van God vervul, en daarom kan Hy eis dat sy volgelinge dieselfde doen: “Neem deel aan die bouplan, wees deel van die vervulling. Ek het dit vervul, sê Jesus, maar wees nou ook deel daarvan. Bou saam in die geregtigheid wat Ek verdien het!”

Christus het vervul, en daarom kan Hy ten slotte ook eis in vers 48: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Dit is waarheen ons oppad is, broers en susters, die vervulling van die koninkryk van die hemele waar God alles en in almal sal wees, waar ons volmaak sal wees soos ons Vader volmaak is. God se bouplan sal klaarkom, eendag sal ons die plan nie meer nodig hê nie, want dan sal ons die gebou betrek, die nuwe Jerusalem, waar Christus self ons sal binnenooi: Kom in, goeie en getroue slaaf, kom in in die Koninkryk van jou Heer!

Amen. 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 101:1, 2 en 4
Gebed
Lees: Mattheus 5:17-48
Sing Ps. 85:3 en 4
Teks: Mattheus 5:17-20
Preek
Amenlied Skr. 7:4, 8-10
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 33
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)