Psalm 33:18-22
Ds HH van Alten - Sondag 18 Maart 2007 - Biddag vir reën
Lees: Psalm 33; Romeine 8:18-30
Teks: Psalm 33:18-22
Sing: Sien liturgie
Tema: Ons siel wag op die HERE! Ons let op:
- Die gronde om te wag
- Die lof gedurende ons wag
- Die gebed tydens die wag
Broer en suster,
Vertrou jy op die Here? En dan bedoel ek met vertroue: om jouself volledig aan jou Hemelse Vader oor te gee, om totaal van Hom afhanklik te wees. Amper soos ‘n babatjie wat van sy ma alles verwag, wat geen oomblik twyfel dat sy ma hom sal voed en sal versorg nie. Vertrou jy só op die Here? Dit is natuurlik redelik maklik om ‘ja’ te sê wanneer die dinge voorspoedig gaan, wanneer ons vertroue nie werklik getoets word nie. Maar wat doen ek as daar skielik nood in my lewe kom? Wat doen ek as ek skielik ernstig siek word? Is my heel eerste gedagte dan om so vinnig moontlik by die dokter te kom om te hoor wat hy vir my kan doen? Of wat daarvan as ek skielik in ernstige finansiële nood beland? Soek ek dan haastig my bankbestuurder op om te hoor watter oplossing hy vir my probleem het? Of wat daarvan as die reën wegbly en die gewasse nie kan groei nie? Wat doen ons dan?
Sien u, skielik word daar aan my vertroue op die Here geknaag, skielik is vertroue op Hom nie meer so maklik nie… Ewe skielik is daar ander mense of dinge wat ywer om my vertroue te wen, mense of dinge wat in ons kortsigte oë soveel vinniger en beter die probleem kan oplos. En dit is nou presies wat die Kategismus as sonde teen die eerste gebod aanwys: “Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel” (v/a 95). Natuurlik sê ek nie dat ons nie van mense en middele gebruik kan maak nie, natuurlik sê ek nie dat ons moet stilsit en niks doen nie. Maar die vraag is wel: wat is my gerígtheid in die nood? Waar lê my hárt in tye van groot moeite? Is my hart angsvallig besig om te soek na uitkoms, na oplossings? Of – soos ons sopas uit Psalm 62 gesing het – is my siel stil tot God, want redding kom op sy gebod?
En, gemeente, dit is waartoe die digter van Psalm 33 ons oproep in ons teks. Tot drie maal toe in verse 18-22 gebruik die digter die woordjie “wag”. In verse 18 en 22 gebruik hy een en dieselfde Hebreeuse woordjie daarvoor, en in vers 20 ‘n ander woordjie. Maar by beide hierdie Hebreeuse woorde gaan dit oor meer as om eenvoudig iets af te wag. Óns gebruik dikwels die woord “wag” in die betekenis van: jy weet nie wat gaan kom nie, jy weet nie wat gaan gebeur nie, jy moet maar afwag en kyk. Maar in hierdie twee Hebreeuse woorde lê daar iets meer, daar lê iets in van: verwagting, hoop (daarom sal u ook sien dat hierdie woorde in baie vertalings met “hoop” vertaal is). Die digter van Psalm 33 roep ons dus op om op die HERE te hoop, Hom te verwag.
Die konteks waarin Psalm 33 ontstaan het, is nie vir ons heeltemal duidelik nie. Bo-aan het die vertalers as opskrif vir hierdie psalm gegee: “Loflied op die almag en genade van die Here”. En dit kan die indruk skep dat hierdie psalm gedig is na aanleiding van die verlossing van die volk uit een of ander noodsituasie. En die eerste verse kan hierdie indruk versterk: “O regverdiges, jubel in die HERE! ‘n Loflied betaam die opregtes. Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp. Sing tot sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.” Maar gemeente, laat hierdie eerste verse ons nie mislei nie; daar is te veel aanduidings in die res van die psalm wat wys dat die digter en die volk hier nog steeds in die middel van ‘n noodsituasie verkeer. Spesifiek die laaste verse maak dit duidelik: kyk maar na die ‘wag’ in verse 18 en 20 – daar word dus nog gewág op uitkoms uit die nood! En ook die ‘hongersnood’ van vers 19 bevestig dit. Wat die nood presies is, is onduidelik; miskien dreigende oorlog, miskien groot droogte – ons kan nie met sekerheid sê nie. Maar in elk geval is duidelik dat die volk in groot nood verkeer.
Kom ons kyk vanoggend hoe die digter van Psalm 33 die volk voorgaan in die manier hoe hulle op hierdie nood behoort te reageer.
Tema: Ons siel wag op die HERE! Ons let op:
- Die gronde om te wag
- Die lof gedurende ons wag
- Die gebed tydens die wag
1. Die digter van Psalm 33 het geleer dat die mens se lewe nie van sy eie krag afhang nie (kyk maar na verse 16 en 17). En dan praat hy in daardie verse nie in die eerste plek van swak en siek mense wat op eie krag sou vertrou nie. Nee, hy praat doelbewus van konings en helde – hulle is immers nie die gewone mense van die samelewing nie, hulle is mense van ‘n hoër status. En juis hulle kan hulself begin verbeel dat hulle buite die bereik van enige gevaar is; en dat, wanneer daar wel gevaar dreig, hulle dit sonder moeite sal kan oplos – die koning vertrou op sy sterk leër en die held op sy groot krag.
Maar helaas, telkens bewys die praktyk dat hierdie mense, net soos alle mense, kwesbaar en swak is. Selfs die perd – ‘n teken van mag en status in daardie tyd – kan nie red nie. En gevolglik kom die digter tot die konklusie dat dit nie die moeite werd is om op mense jou hoop te stel, om iets van hulle te verwag nie.
Maar die Here dan? Want dit is waartoe die digter ons wil bring, naamlik om op die Here te wag, om dit van Hom te verwag… Is dít wél die moeite werd? Die digter ken hierdie vrae, en daarom gee hy drie gronde, drie redes, waarom dit die moeite werd is om op die Here te wag.
* In die eerste plek wys die digter, in verse 6-9, op die skepping en onderhouding van die wêreld; in pragtige taal beskryf hy die grootheid en die almag van ons Here. Die Here het die hemel gemaak, Hy het die leër van die hemel gemaak het – die son wat so sterk is dat ons verblind word wanneer ons daarin kyk, die maan wat lig gee wanneer dit snags so donker is, die miljoene sterre en sterrestelsels. Die Here het die water in die verskillende oseane bymekaar gemaak, sodat daar droë grond was vir die mens om op te woon; Hy het ook die reënwater daarbo in hul skatkamers bymekaar gemaak het – die water waarna ons so smag, is onder sy beheer. En toe Hy dit alles gemaak het, dink u dat Hy toe miljoene jare van harde werk nodig gehad het om dit te maak, dat Hy geswoeg en gesweet het om alles klaar te kry? Vergeet daarvan! … deur sy Woord, en deur die Gees van sy mond – so staan dit in vers 6. Die Here het eenvoudig gespreek, en dit was daar… So magtig is Hy! Laat daarom die hele aarde vir die Here vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees, want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan! (verse 8-9).
* Vervolgens wys die digter, in verse 10-12, op die raadsplan van die Here – daarmee gaan ons dus terug tot agter die Here se werk van skepping en onderhouding. Agter dit alles lê sy raad wat bestaan van ewigheid af, en wat ook vir ewig uitgevoer sal word; sy raad is die fondament onder alles wat Hy doen, en onder alles wat in die skepping gebeur. In vergelyking met die raad van die Here, beteken die raad van die nasies, die gedagtes van die volke, niks nie! Dit is ydel en word deur die Here verydel. En dit blyk ook telkens weer: hoe dikwels sien ons nie hoe die mens wik en weeg, planne maak en opsies uitoefen nie, maar uiteindelik gebeur wat die Here wil, en dit is maar al te dikwels anders as wat die mens beplan het. Teenoor die ydele menslike planne staan die gedagtes van die Here se hart wat van geslag tot geslag is. Die hele geskiedenis hang af van die plan en raad van die Here. Hy bepaal letterlik alles, vir elke saak onder die hemel gee Hy sy tyd: ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede (Pred. 3). Só bepaal die Here elke ding op aarde, elke detail van elke menselewe, ook van ons lewens. Sy raad word nooit gekeer nie, dit sal bestaan in ewigheid. Teen sy besluit is geen verweer nie; bestendig duur dit vir altyd. En omdat die Here se raad standhou, is die volk wie se God die HERE is, gelukkig! Want sy raad is op hierdie volk se welstand gerig; immers, hierdie volk is sy erfdeel, sy eie besitting (kyk maar vers 12) – en elke besitter dra groot sorg vir sy besitting. Die Here se raad, broers en susters, is ten gunste van ons, sy kinders. Hy soek, met alles wat op aarde gebeur, ons heil en ons welsyn.
* Ten slotte verwys die digter, in verse 13-15, nog na die oog van die Here – vanuit die hemel sien die Here alles. Selfs tot in die diepste skuilhoeke van die menslike hart kan die Here sien, want Hy is immers die Skepper van daardie hart, die Een wat daardie hart geformeer het. Hy sien die harte van dié wat kwaad beplan, maar Hy sien ook die harte van dié wat graag sy kinders wil wees. Niks ontgaan ons God nie, niks gebeur sonder dat Hy daarvan weet nie.
Sien u: drie gronde, drie redes, waarom die digter ons oproep om op die Here te wag. Juis ook in hierdie tyd van groot bekommernis en moeite, in ‘n tyd dat daar geen reën uit die hemel val nie terwyl ons dit tog so dringend nodig het, wys die digter dat dit eenvoudig sin maak om op die Here te hoop, van Hom alles te verwag! Hy is immers die Skepper en Onderhouder van hemel en aarde, die Een wat die volmag het om aan ons sy goedertierenheid te skenk – en daarom kan Hy alles gee wat ons nodig het. Sy raadsplan staan immers vas, die gedagtes van sy hart is van geslag tot geslag – en daarom wil Hy alles gee wat ons nodig het. En sy oog rus immers in vaderlike liefde op elkeen wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid wag – en daarom sal Hy alles gee wat ons nodig het.
Soos ons so pragtig sing in Ps. 68:9: “Die God van volle saligheid versterk ons in die dag van stryd en dra ons deur die lewe. Hy kan en wil en sal in nood, selfs as ons sidder vir die dood, volkome uitkoms gewe.” Hy kan dit doen, Hy wil dit doen, Hy sal dit doen. Die Here gee uitkoms vir die ewigheid, sowel as uitkoms uit die sorge en moeites van hierdie lewe, soos wat ons lees in vers 19 van Psalm 33: “… om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.” En daarom hoef God se kinders in tye van groot moeite nie hulle vertroue op mense te stel nie, op prinse en op die mensekind, by wie geen heil is nie! Maar hulle kan vlug tot God: Hy is ons hulp en ons skild (vers 20). En daarom wag ons siel op die Here!
Ons let vervolgens op die lof gedurende ons wag.
2. Gemeente, is ‘n loflied eintlik gepas in ‘n tyd soos hierdie? Moet ons nie eerder wag tot die omstandighede verbeter het nie, tot die reën geval het nie? Ja, dan kan ons weer bymekaar kom en die Here dank en loof… Is dit nie simptomaties van hoe ons ons geloofslewe indeel nie? – die lof is vir die goeie tye, die trane vir die hartseer tye, en die klaaglied vir tye van nood. Sien u, die tye bepaal die stemming; hoe ons voel word bepaal deur hoe dit met ons gaan. En natuurlik staan ons nie koud teenoor ons omstandighede nie, ons is nie robotte nie. Maar die digter van Psalm 33 leer ons dat ons nooit opgaan in die omstandighede nie; immers, die omstandighede van Psalm 33 is beslis nie rooskleurig nie, die digter verkeer saam met die volk in groot nood. En nogtans kan die digter dan sê: ons hart is bly … in Hom! Die Here gee aan ons in ons omstandighede perspektief, Hy kom in ons omstandighede in en bied uitsig op verlossing en redding. Sy beloftes laat ons verder kyk as vandag!
Broers en susters, nie wat ons sien of voel is dus bepalend nie, maar dít wat ons verwag, Hóm waarop ons hoop! Ja, dit is waar, ons omstandighede laat ons sug – so leer Paulus in Romene 8 wat ons saam gelees het. Ook al het ons die eersteling van die Gees, is ook ons nog onderworpe aan die lyding en dood van hierdie tyd; ook ons lewe onvrywillig in ‘n sterflike liggaam en ook ons ondergaan die pyn van hierdie bestaan in ‘n samelewing wat swaarkry en mekaar laat swaarkry. Maar ons hét hoop! Die gesug van die gelowiges word gedra deur die besef dat ‘n beter tyd oppad is. Ons is gered in hoop! Hoop wat hom nie rig op dit wat ons sien nie – ons omstandighede dus – maar hoop wat hom rig op wat ons nie sien nie (verse 24-25). Ons wag op die Here, ons wag daarop dat Hy, deur Jesus Christus, sy beloftes in ons lewens vervul – soos ons verlede week vanuit die bergrede gesien het. Daarop wag ons met volharding. Die Here sal dit doen, daarvan mag ons beslis seker wees.
En wanneer dit daarom vir ons vasstaan, broers en susters, dat, om op die Here te wag, op Hom te hoop, werklik die moeite werd is, dan gee dít rede tot lof. Want dan wag ons nie in onsekerheid nie: “Dalk sal die Here…” Nee, dan wag ons in die vaste vertroue dat die God van ons lewe dáár sal wees tot ons verlossing. Dan wéét ons dit! … en dan loof ons Hom daarvoor! En daarom kon die digter van psalm 33 ook op so ‘n hoë noot begin (verse 1-3): “O regverdiges, jubel in die HERE! ‘n Loflied betaam die opregtes.” Die regverdiges en die opregtes – dít is die mense wat die Here verwag, wat op Hom hoop. Hulle – terloops, hulle (en ons) is ook nie altyd in die stemming om te loof nie – maar hulle word opgeroep om die Here te loof. En nie elkeen op sy eie nie. Nee, die digter maak van hierdie loflied ‘n lied vir die hele volk: “Loof die Here met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp. Sing tot sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.” Waarskynlik het die volk by die tempel hierdie lied of dele daarvan gesing. En daarom moes daar begeleiding wees, sodat almal saam die Here kon grootmaak.
Gemeente, laat daarom ons harte nie verlam word deur ons omstandighede nie, maar laat – soos vers 21 sê – ons harte bly wees in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou! Sy heilige Naam – daardie Naam wat Hy oor elkeen van ons se lewens uitgespreek het, wat Hy aan die begin van hierdie erediens oor ons, as gemeente, uitgespreek het, en waaraan Hy trou bly tot in ewigheid – dít gee rede tot lof, dít gee rede om as gemeente saam te sing. En dan beteken dit nie dat ons nie kommer ken nie, dit beteken nie dat ons nie gespanne is nie. Natuurlik is daar rede vir kommer, ons hou mos nie verniet ‘n biddag nie. En ons mag daardie kommer met mekaar deel. Maar tegelykertyd roem ons in die God van ons lewe wat sy kinders nooit sal afwys nie; ons loof Hom vir wie Hy is.
En dan wag ons… Dan wag ons met sekerheid op die HERE wat die sleutels van die skatkamers vashou, wat met een woord vir ons al die reën kan gee wat ons nodig het, wat die saad laat groei en die asem van die beeste in sy hand hou. Ons sal nie beskaam word in ons vertroue op Hom nie; ons lof sal nie leeg na ons toe terugkeer nie!
Ons let ten slotte nog op die gebed tydens die wag.
3. Psalm 33 sluit af met ‘n bede: “Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag.” Dit is ‘n bede vir die toekoms; die Israeliet het immers, nadat hy hierdie lied by die tempel gesing het, huis toe gegaan, terug na sy gesin en sy werk op die lande. Dar in die tempel het die volk die nabyheid en goedheid van die Here baie intens ervaar; saam kon hulle die Here loof, saam kon hulle mekaar bemoedig in hulle gemeenskaplike verwagting van sy goedheid en verlossing. Maar nou het die gewone lewe weer gewag, die gewone lewe waar die dinge van elke dag die geneigdheid het om ‘n mens se aandag op te eis, waar die sorge en bekommernisse jou aandag van die Here aftrek. En daarom hierdie bede vir die tyd van verwagting: “Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag.” Hierdie bede vra dus dat die Here by elkeen sal wees in sy verwagting, in sy hoop; hierdie bede vra dat die Here sy goedheid sal gee sodat elkeen die verwagting en die hoop kan volhou tot die einde toe: “Laat u goedertierenheid oor ons wees…”
Gemeente, ook ons wag nie sonder om ook stryd te ervaar nie, ons wagtydperk is nie sonder moeite nie. Ons word ook ingetrek deur die omstandighede, ons sukkel om die verwagting hoog te hou, om werklik op die Here te bly vertrou. En daarom die dringende bede dat die Here, terwyl ons op Hom wag, met sy goedertierenheid by ons sal wees. Ons smeek dus eintlik die Here om aan ons wag sy goedertierenheid te verbind – sy genade, sy liefde, sy trou. Ons vra dus dat Hy ons verwagting en hoop nie onbeantwoord sal laat nie. Ons vra dat die Here ook ons tot die einde toe sal bystaan met sy goedheid, dat Hy ook in ons sy werk sal volbring.
En, broers en susters, ons bid dit met die heerlike wete dat ons nie alleen bid nie. Die Gees kom ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie. Ons swakhede waarin die Gees ons te hulp kom, is die swakheid van ons sonde; die sonde wat ons aftrek van die Here en wat maak dat ons nie na behore kan bid nie, nie kan bid soos wat ons behoort te bid nie. Ja, ons bid wel tot God, en ons gebruik ook ons woorde so goed as wat moontlik is, maar tog ontbreek by ons die volledige insig in die huidige omstandighede, ontbreek by ons insig in die toekoms, sodat ons so dikwels in die duister tas oor wat ons behoort te bid. En dan bemoedig Paulus sy lesers met die werklikheid dat die Gees saam met ons bid, en dat Hy bo ons uitstyg met sy alwetende gebed. Ons swak gebed staan in die beskutting van sy geheime en goddelike gebed. Gelowige christene lewe onder die beskuttende dak van ‘n volmaakte gebed tot God wat as’t ware agter ons rug gebid word. Die Gees help ons om die gebed vir God se goedertierenheid vol te hou. Hy bid reg – vir ons! Sodat ons verwagting nie taan nie, sodat ons hoop nie verflou nie, maar deur God se goedheid skerp bly.
Gemeente, moenie ophou om hiervoor te bid nie; laat hierdie bede voortdurend klink in u lewe, in die lewe van u gesinne. Die gebed is die hoogste vorm van afhanklikheid van die Here. En ons het dit so nodig; slegs op dié manier kan ons die wag volhou, die verwagting hoog hou, die hoop tot die einde toe vashou – deur die wagtydperk te vul met ‘n voortdurende bede om die goedheid van die Here.
Gemeente, laat ons wag op die Here – op sy goedheid, op sy sorg vir elke dag, op reën, op sy wederkoms. Elke dag opnuut verwag ons van die Here alles vir die lewe hier, elke dag verwag ons van Hom alles vir die ewigheid. Wag, broers en susters! Wag, met lof en gebede. Bly wag, die Here sal ons nie beskaam nie! Ons siel wag op die HERE!
Amen.
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 145:2, 9, 11 en 12
Wetslesing en lees Romeine 7:21-25
Sing Ps. 14:2, 3, 6 en 7
Gebed
Lees: Psalm 33
Romeine 8:18-30
Kollekte
Sing Ps. 62:1, 4 en 5
Teks: Ps. 33:20-22
Preek
Amenlied Ps. 33:4, 6 en 11
Gebed
Slotsang Ps. 27:3, 4 en 6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)