Wees maar net vrolik voor die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-05-06
Teks: 
Deuteronómium 16:13-17
Preek Inhoud: 

Deuteronómium 16:13-17

Ds HH van Alten - Sondag 6 Mei 2007

Lees: Deuteronómium 16:1-17, Levítikus 23:39-43
Teks: Deuteronómium 16:13-17
Sing: Sien liturgie

Tema: Wees maar net vrolik voor die Here!

  1. Kyk na die tyd van die fees,
  2. weeg só die seën van die Here,
  3. en betoon dán jou dankbaarheid

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die volk Israel was meer aan die Here verskuldig as wat hulle ooit kon besef. Hoe baie het Hy nie vir hulle gedoen nie? En die Here het geweet dat dit skadelik sou wees as sy magtige dade in die geskiedenis uit hulle herinnering sou verdwyn. Ondankbaarheid, selfsug en liefdeloosheid sou so vinnig die oorhand oor die volk kry. En daarom vind ons, veral in Deuteronomium, ‘n voortdurende oproep tot die volk om te ‘onthou’ wat die Here vir hulle gedoen en gesê het.

Om die volk hierby te help, het die Here ook nog verskeie feeste ingestel, wat daarop gemik was om die groot feite van skepping en verlossing voortdurend aan die volk voor te hou.  Daar was veral drie groot feeste. En elke man in Israel was verplig om drie maal in ‘n jaar, juis tydens hierdie drie groot feeste, ‘n pelgrimstog na Jerusalem te onderneem (Ex. 23:17). Hierdie drie groot feeste was die Fees van die ongesuurde brode (die Pasga, dus), die Fees van die Weke (later die Pinksterfees genoem) en ten slotte die Loofhuttefees.

Die Fees van die ongesuurde brode was die eerste fees van die feessiklus. Dit is tydens die eerste maand, die maand Abib, gevier. Tydens hierdie fees het die volk die heerlike uittog uit Egipte en die wording van die volksbestaan van Israel gedenk en ook vooruit gekyk na die koms van die ware Paaslam. Sewe weke (om presies te wees op die 50e dag) ná die Fees van die ongesuurde brode is die Fees van die weke gevier – later is dit, onder invloed van die Griekse taal, Pinksterfees genoem. Tydens hierdie fees moes elke persoon twee beweegbrode voor die Here bring uit dank vir die graan-oes. In die Nuwe Testament is hierdie fees geassosieer met die uitstorting van die Heilige Gees.  

En dan, in die sewende maand, kry ons die Loofhuttefees. Dit was die derde en laaste van die drie groot feeste. Hierdie was tewens die vrolikste van al die feestye in Israel. Dat hierdie fees waarskynlik ook die bekendste van alle feeste was, blyk uit die res van die Skrif. In later dele van die Skrif word daar immers na hierdie fees slegs as “die fees” verwys en dan het almal geweet waarvan gepraat is. Kyk maar na 2 Kronieke 7:8-10 waar daar slegs vertel word dat Salomo “die fees” gehou het – vanuit die konteks (kyk maar na die datum van vers 10) weet ons dat dit hier oor die huttefees gegaan het. Ook in Esegiël 45 en Johannes 7 word daar slegs van “die fees” gepraat.  

Gemeente, op hierdie dankdag vir gewas en arbeid wil ons stilstaan by die rykdom van hierdie derde van die drie groot feeste – die Loofhuttefees.

Tema: Wees maar net vrolik voor die Here!

  1. Kyk na die tyd van die fees,
  2. weeg só die seën van die Here,
  3. en betoon dán jou dankbaarheid

1. In Deuteronomium 16:16 lees ons dat die Loofhuttefees die derde en laaste fees in die feessiklus van die volk Israel was. Net ter herhaling van wat ek in die inleiding reeds gesê het: eers was daar die Fees van die ongesuurde brode in die maand Abib – Maart/April in ons terme; vervolgens, 50 dae daarna, was die Fees van die weke; en ten slotte die Huttefees, wat volgens Levitikus 23 vanaf die 15de tot die 21ste dag van die sewende maand gevier is – sê maar September/Oktober in ons terme. Nou, gemeente, September/Oktober was ongeveer die tyd dat die insameling van die oes in Israel einde se kant toe gestaan het. Daarom lees ons in Levitikus 23:39 dat die volk hierdie fees moes vier “as julle die opbrings van die land insamel.” Dus, die Huttefees was, as laaste fees in die feessiklus, ook aan die einde van die landbouseisoen.  

Nou was die Huttefees nie die enigste fees waarin daar ‘n verwysing na die opbrings van die land is nie. As u ‘n tydjie het, lees gerus Levitikus 23 in sy geheel deur – dan sal u sien dat die Here by sowel die Fees van die ongesuurde brode as die Fees van die weke óók die opbrings van die land ter sprake bring. By die Fees van die ongesuurde brode moes die volk naamlik die eerstelingsgerf van die gars-oes na die priester toe bring (Lev. 23:10-11), terwyl die Fees van die weke, 50 dae daarna, as’t ware die afsluiting van die graan-oes aangedui het – dan moes elke Israeliet nie slegs ‘n gerf nie, maar twee beweegbrode voor die Here bring.

Dus, die verwysing na die oes by die Huttefees was nie uniek nie. En tog was die Huttefees die afronding van die volledige oes, die afsluiting van die hele voorafgaande seisoen. Dit blyk duidelik uit die bewoording van Deuteronomium 16:13, waar die Here sê: “Die huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou.” Nou moet u onthou, gemeente, dat die insameling van die dorsvloer tydens die Huttefees – dus, in September/Oktober – al ‘n hele paar maande lank agter die rug was; al wat op daardie stadium nog ingesamel is, was eintlik maar die produkte vir die ‘wynpers’ – druiwe, olywe, dadels en vye. En tog sê die Here: “Die huttefees moet jy … hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou – dorsvloer en wynpers gaan hier saam om as’t ware die hele voorafgaande seisoen te dek. Ja, by die Fees van die ongesuurde brode en die Fees van die weke het dit oor onderdele van die oes gegaan – ‘n eerstelingsgerf en twee beweegbrode – maar die Huttefees het alles gedek: én dorsvloer én wynpers.  

Die Huttefees was dus by uitstek die fees om terug te kyk, om die hele voorafgaande seisoen in oënskou te neem en te oordink. Die Here gee dus vir sy volk geleentheid om retrospeksie te doen, terug te blik op die hele afgelope seisoen.

En nie slegs gee die Here vir die volk geleentheid om terug te blik oor die afgelope seisoen nie; nee, Hy rig hulle blik ook nog verder terug, terug na die tyd net na die bevryding uit Egipte. Ons het daarvan gelees in Levitikus 23: “almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het.” Deur die volk tydens die Huttefees in hutte, wat met takke gemaak is, te laat woon, het die Here die volk voortdurend herinner aan die tyd van bevryding uit Egipte, toe hulle ook in sulke soort hutjies gewoon het.

Let wel, gemeente, die hutte het nie die doel gehad om die volk te herinner aan die 40 jaar omswerwing deur die woestyn as gevolg van hulle sonde en ondankbaarheid nie; immers, die Here het hierdie fees alreeds by Hóreb ingestel – dus, nog voordat die 40 jaar omswerwing begin het. Nee, hierdie fees het nie die doel gehad om die volk te herinner aan húlle sonde nie, maar dit het die doel gehad om die volk aan die einde van elke seisoen weer te herinner aan die Here se sorg by die uittog uit Egipte; toe reeds het hulle deur sy sorg gelewe! Seisoen ná seisoen het die volk geleentheid gehad om terug te kyk – sowel na die sorg van die Here in die afgelope seisoen, as na sy magtige werk in die bevryding uit Egipte.  

Gemeente, hierdie retrospeksie, hierdie terugblik op die nabye en die verre verlede is wat ons ook in ons tyd so dringend nodig het. Veral wanneer die tye nie so goed is nie, veral ook wanneer die opbrings van die land, soos in die afgelope seisoen, minder suksesvol was, eintlik misluk het. Dan vra ons onsself so maklik af: “Maar… is daar rede om ‘n Dankdag te hou? Is daar rede om dankbaar en vrolik voor die Here te wees? Sal ons nie maar hierdie jaar se dankdag oorslaan tot volgende seisoen nie?” En dan is dit só belangrik dat ons ons dankbaarheid en ons vrolikheid nie slegs laat voed deur die hier en die nou nie, maar dat ons van die Here ‘n breër perspektief ontvang! En hierin is die instelling van die Ou Testamentiese Huttefees so ‘n groot hulp – dit bewaar ons van bysiendheid, dit bewaar ons daarvan om die lewe en God se optrede daarin te versmal tot wat ons daarvan waarneem in die hede, vandag.

En hoe dikwels doen ons dit nie, gemeente? Die oes is nie wat ons gedink het nie – dus, nie werklik rede vir vrolikheid nie… My salarisverhoging het teleurgestel, en daarom sukkel ek om dankbaar te wees. Ek het gehoop om teen Mei 2007 hierdie en daardie te kan aankoop, maar nou moet ek konstateer dat hierdie en daardie eers moet wag – dus, geen rede vir dankbaarheid nie. Maar, broers en susters, kyk dan ‘n bietjie verder terug – kyk na die hele afgelope seisoen, na die hele jaar wat verby is: het u honger gely? Was daar dan nóóit geleentheid vir iets nuuts nie? Het die Here vir u géén rede vir dankbaarheid en vrolikheid gegee nie? En sélfs al sou dit die geval wees – kyk dan nog verder terug, na die werk van die Here in die heilsgeskiedenis, sy groot dade van skepping en verlossing, sy werk in ons Here Jesus Christus… Gee dit geen rede vir dankbaarheid en vrolikheid nie?  

Gemeente, hierin lê vir ons – wat in ‘n tyd lewe waarin mense nie meer terug wil kyk nie, nie meer die waarde van die geskiedenis raaksien nie – ‘n baie belangrike oproep. Leer om terug te kyk na God se werk in die geskiedenis! Ken in besonder die heilsgeskiedenis, die geskiedenis van God se groot dade wat in die Skrifte opgeteken is. Dit is nie verniet dat Asaf die volk in Psalm 78 oproep om die groot dade van die Here aan die volgende geslag te vertel nie. Hoekom? Sodat die tradisie lewendig gehou kan word? Sodat die legende van Jahwe nie uitsterf nie? Nee, “sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op Gód kan stel! (vers 6) Gemeente, dit is só belangrik dat ons en ons kinders die groot dade van die Here ken om daarop te kan bou, om daarop te kan teer, juis ook wanneer dit vandag minder goed gaan. En wanneer ons daardie breër perspektief behou, en dit kry ons deur gelowig die Skrifte te bestudeer, dan is daar altyd rede om dankbaar te wees vir God se werk – sy werk van skepping, sy werk van verlossing, sy werk in Christus Jesus wat ons volgende week in die nagmaal gaan vier, sy werk in die verspreiding van die evangelie, sy werk in onderhouding van die wêreld, en as u die Skrif ken, sal u self verder kan invul…

Maar as jy jou persoonlike waarnemings in die hede bepalend maak vir jou dankbaarheid en vrolikheid teenoor die Here, dan is jy soos ‘n winkeleienaar wat halfpad deur die jaar die balans begin opmaak. Asof die jaar al verby is… Dan doen jy die Here te kort, omdat jy Hom as’t ware afreken op grond van ‘n fraksie van sy volledige optrede – daardie fraksie wat jy in jou kortsigtigheid waarneem. Jy bepaal die ‘hoeveelheid’ dankbaarheid aan die Here op grond van wat jy kan sien, vandag Maar wie sy perspektief laat verbreed deur die rykdom van God se werk, soos pragtig in die Skrif beskrywe, hy kry elke dag weer nuwe stof tot dankbaarheid.

Gemeente, laat die laaste fees van Israel se feessiklus ons help om die geheel te oorsien, God se volledige werk deur alle eeue te aanskou – en wees dan net vrolik voor sy aangesig!

Ons het nou na die tyd van die fees gekyk, en ons wil vervolgens op grond hiervan die seën van die Here weeg.

2. Deuteronomium 16 eindig met ‘n bepaling vir die manne – en uiteraard ook hulle gesinne – wat drie maal in ‘n jaar tydens die drie groot feeste voor die aangesig van die Here moes verskyn. Daardie bepaling lui dat hulle nie met leë hande voor die aangesig van die Here mag verskyn nie; nee, elkeen moes die gawe van sy hand bring “ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.” Elke Israelitiese man en sy gesin moes dus bepaal in watter mate die Here hulle geseën het. En dit het natuurlik in die eerste plek betrekking gehad op die oes wat sopas ingesamel is. Maar was dit slegs dít? Moes die gawe van die Israeliet slegs ‘n getroue weerspieëling wees van die totaalinhoud van sy dorsvloer en sy wynpers? Amper soos die VVB-skale waarvan ons dikwels gebruik maak – dit is jou inkomste, dit is jou gesinsituasie, dit is jou belasting, dus soveel hou jy oor en soveel gee jy dan vir die kerk. Om dit effens onnatuurlik uit te druk: seën van die Here = salaris minus belasting…  

Maar, gemeente, die perspektief wat die Huttefees gebied het op die héle afgelope seisoen sowel as op God se redding in die geskiedenis, moes die Israeliet juis vérder laat kyk as slegs die som van die oes. Die Here wou vir sy volk wys dat wat op hulle dorsvloer en in hulle wynpers gelê het, die gevolg is van sy seën in die hele afgelope seisoen – Hy het die Israeliet in staat gestel om te kan werk, Hy het gesondheid en krag gegee, Hy het reën en vrugbaarheid gegee, Hy het elke dag se daaglikse brood voorsien. Dit gaan nie net oor die eindproduk nie; nee, die hele voorafgaande seisoen is gedra deur sy onderhoudende krag. En asof hierdie besef nog nie genoeg was nie, wys die Here die Israeliet nog verder terug: die feit dat jy vandag lewe, die feit dat jy vry is in die Beloofde Land, dat jy nie meer slaaf van ‘n ander is nie, dat jy jou eie grond het waarop jy kan woon en werk – dit is alles as gevolg van my sterke hand en uitgestrekte arm in die bevryding uit Egipte.  

Gemeente, die Israeliet moes dus die hoogte en breedte en diepte van God se seën leer peil om dienooreenkomstig die gewig van sy gawe te kan bepaal. En daarin moes die perspektief, wat die Huttefees gegee het, hom help. En hierin help die Huttefees ons vandag nog; ons vind naamlik in hierdie fees ‘n riglyn oor hoe gelowiges vandag die grootsheid van God se seën moet leer weeg. Jy leer nie God se seën weeg deur ‘n bankstaat te trek, of deur jou bates en jou laste te bereken nie. Ja, dit natuurlik ook, maar bo en behalwe dit leer jy God se seën weeg wanneer jy sy sorg en sy genade en sy groot dade in die héle Skrif en in jou héle lewe leer raaksien. En wie iets hiervan leer peil, kan nie tot ‘n ander konklusie kom nie as dat ons ons hele lewe en alles wat ons het aan God verskuldig is…

En voor u nou sê: “Ja, maar dit is mos onrealisties! Ons kan moes nie alles vir die Here gee nie? Hoe moet ons dan lewe?” – hou éérs die beginsel van Deuteronomium 16:17 vas: die Here se seën vra ‘n gawe wat daarby pas – dit is eerste… En vervolgens: wie nou die seën van die Here leer peil, wil ook die gawe gee wat daarby pas: sy hele lewe en alles wat hy het. En, gemeente, as geloofsbeginsel is dit ook presies wat die Here vra. Natuurlik, in die praktyk het Hy gereël hoe ons dit moet vormgee, onder andere deur middel van ons tiendes. Maar in beginsel bly staan wat die Here Jesus vir die ryk jongman gesê het: “… gaan verkoop jou goed; en kom hier, volg My” (Matt. 19:21). Broers en susters, daardie bereidheid moet in ons almal se harte leef en groei wanneer ons die Here se seën leer raaksien. En laat dáárdie bereidheid die betoning van ons dankbaarheid stuur en rig.

Hierop let ons ten slotte… 

3. Uit Deuteronomium 16 blyk baie duidelik dat die Israeliete dankbaarheid moes bewys vir die seën van die Here. Die Here wys verder in hierdie gedeelte teenoor wie hierdie dankbaarheid vorm moes kry.

In die eerste plek teenoor die Here – immers, niemand was toegelaat om met leë hande voor die aangesig van die Here te verskyn nie (einde van vers 16). Dus, eers moes die Israeliet aan die Gewer van alle goeie dinge ‘n bewys van dankbaarheid lewer. Hierdie beginsel geld ook vir ons, gemeente. Ons gee in ons kerklike bydraes en in ons kollektes ons gawes aan die Here. Nie dat Hy dit nodig het nie, want die aarde en sy volheid behoort immers aan die Here. Maar dit is óns reaksie van dankbaarheid teenoor die Here vir sy seën.

Broers en susters, laat hierdie gawe van dankbaarheid aan die Here altyd geskied vanuit die besef van die diepte van sy seën – soos ek hierbo geskets het. Laat ons hierdie gawe van dankbaarheid altyd baie bewustelik gee. Dit is nie maar net ‘n debietorder wat elke maand, sonder dat ek daarvan bewus is, van my rekening afgetrek word nie; dit is nie maar net ‘n deel van my begroting nie; dit is nie maar net tien persent van my salaris wat ek onmiddellik verminder sodra daar in my salaris gesny word nie. Dit is ‘n deel van my dankbaarheid – en nie naastenby passend by die Here se seën nie, ek weet – maar nogtans, dit is ‘n deel van my dankbaarheid vir alle liggaamlike en geestelike seëninge wat die Here aan my geskenk het, vandag, maar ook deur die geskiedenis heen. Laat u VVB en die geld wat u in die kollektesakkies gooi ‘n voluit geestelike saak wees, nie met droefheid of uit dwang nie, maar met blymoedigheid – soos Paulus in 2 Kor. 9:7 sê. ‘n Bewustelike geloofsdaad waarby ek diep onder die indruk is van God se sorg in alle opsigte.  

Maar vervolgens is daar ook nog die dankbaarheid teenoor die naaste, wat ons nie kan verontagsaam nie. Want dit blyk duidelik uit Deuteronomium 16:14 dat die Israeliet nie op sy eie vrolik kon wees nie; hy was geen solo-genieter nie. Nee, “jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is.” Dus, ook nie slegs die gesin nie; die gesin kon die vreugde nie vir hulleself hou nie. Die maaltyd moes gedeel word met die werkers in die huis, met die plaaslike priester, sowel as met diegene wat maklik misgekyk word in tye van vreugde en feesvieringe – die vreemdeling, die wees en die weduwee. Die Huttefees het die volk daaraan herinner dat, omdat God se seën oorvloedig is, hulle dit ook vrygewig met mekaar moes deel.

Gemeente, wie vandag die seën van die Here in sy hele lewe en in die Skrif leer raaksien, kan dan ook nie anders as om daardie seën met ander te deel nie, in besonder met broers en susters in die geloof. Gemeente, hierdie is ‘n oproep van die Here wat ons baie konkreet – en vandag reeds – vorm kan gee.

Gemeente, laat ons offer aan die Here en ons liefde vir mekaar nie ‘n las wees nie, maar ‘n saak van groot vreugde. Laat elke VVB-betaling en elke daad van omgee in die gemeente ‘n fees wees. Die Here seën ons in ons inkomste en in al die werk van ons hande, die Here seën ons in Christus bo enigiets wat ons onsself kan voorstel. En al wat ons hoef te doen, is: vrolik wees! Wees maar net vrolik, broers en susters, want ons is ryk in God! En wanneer die vrolikheid vandag nog vermeng is met trane en groot hartseer, met moeite en sorge, sien dan uit na die vervulling van die Huttefees op die nuwe aarde, waar die volledige oes sal binnekom, waar die feessiklus van God se volk ewige vervulling sal vind in die bruilofsmaal van die Lam. Laat ons vrolik wees in ons verlange daarna!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 65:1 en 6
Wetslesing en 1 Johannes 2:1-2
Sing Ps. 65:2-4
Gebed
Lees:  Deuteronomium 16
      Levitikus 23:39-43
Sing Ps. 33:1, 2
Teks: Deuteronomium 16:13-17
Preek
Kollekte
Amenlied Ps. 136:1, 10, 17, 19 en 20 (beurtsang: verse 1 en 20 – almal saam; verse 10, 17 en 19 – vroue 1ste twee reëls, manne laaste twee reëls)
Gebed
Slotsang Ps. 118:2, 12 en 14
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  
 
Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 65:1 en 6
Gebed
Lees:  Deuteronomium 16
      Levitikus 23:39-43
Sing Ps. 33:1, 2
Teks: Deuteronomium 16:13-17
Preek
Kollekte
Amenlied Ps. 136:1, 10, 17, 19 en 20 (beurtsang: verse 1 en 20 – almal saam; verse 10, 17 en 19 – vroue 1ste twee reëls, manne laaste twee reëls)
Gebed
Belydenis (beaam dit met Ps. 118)
Slotsang Ps. 118:2, 12 en 14
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)