Romeine 6:12-23
Ds HH van Alten - Sondag 16 September 2007
Lees: Rom. 5:12-6:23
Teks: Rom. 6:12-23
Sing: Sien liturgie
Tema: Ons word geleer Wie die nuwe identifikasiepunt in ons lewens is: Jesus Christus, ons Here!
- Gee jou arms en bene vir hierdie Here
- want jy dra nou sy brandmerk,
- en Hy sal aan jou die ewige lewe skenk.
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Vanuit Jesaja 42 en Johannes 13 het ons gekyk na die diensbaarheid van ons Here, Jesus Christus. Sy diensbaarheid, sy bereidheid om nederig te wees en op sy knieë te gaan vir ons, is die wortel en die bron vir ons eie diensbaarheid. Diensbaarheid aan wie? Baie van ons sal waarskynlik antwoord: diensbaarheid aan mekaar. En dit is nie verkeerd nie. Maar voordat ons uitkom by ons diensbaarheid aan mekaar, moet ons eers nog let op ons diensbaarheid aan Gód. Ons Here het ons kom dien, sodat ons nou ook Hom kan dien. Ons Here het sonde vir ons geword, sodat ons - bevry van die slawerny van die sonde – nou sý diensknegte kan word.
En, gemeente, dit is nou ook wat Paulus in die eerste 11 verse van Romeine 6 aantoon – dus, die verse net voor ons teks. En om goed te kan verstaan hoe Paulus dit presies oordra, moet ons onsself probeer verplaas in die leef- en denkwêreld van sy lesers.
Die jong gemeente daar in die groot wêreldstad, Rome, het bestaan uit heidene wat tot bekering gekom het. Voorheen het hulle God nie geken nie, en het hulle onder die mag van die Sonde gestaan. Maar nou het hulle tot geloof gekom in die God van Israel. Vir die Jode van daardie tyd het so ‘n bekering tot die God van Israel beteken dat iemand nou nie meer onder die heerskappy van die Sonde gestaan het nie, maar oorgegaan het onder die heerskappy van die joodse Wet. Ja, vir die Jode was daar eenvoudig net een van twee opsies: óf jy leef as heiden buite die wet en dus in die wêreld waar die Sonde heers, óf jy leef as jood onder die wet. Dit is óf afgodstempel, óf sinagoge; dit is óf die mag van die Sonde, óf die heerskappy van die Wet…
Só het die jode van daardie tyd geredeneer, en dit is ook presies wat hulle geëis het van mense wat vanuit die heidendom oorgegaan het na die geloof in die God van Israel. Hulle het gesê: eers was jy ‘n heiden, nou moet jy ‘n jood word! Om in die God van Israel te begin glo, het outomaties ook meegebring dat jy ‘n jood moes word. En dit het beteken dat jy besny moes word, en jouself moes onderwerp aan die joodse wet.
Maar, broers en susters, dan toon Paulus in Romeine 5 aan dat dit vir heiden-gelowiges nie meer nodig is om, wanneer hulle tot bekering kom, onder die wet te gaan lewe nie. Want die teenstelling is nie soseer tussen die mag van die Sonde en die heerskappy van die wet nie; die opsies is nie soseer óf Sonde óf Wet, soos die jode gemeen het nie. Immers, sê Paulus in hoofstuk 5:20, die wet het eers later bygekom, die wet is as’t ware ‘n laatkommer. Nee, die werklike teenstelling is vanaf Genesis 3 die stryd tussen die slangesaad en die vrouesaad. Of in Nuwe Testamentiese taal gestel: die teenstelling is deur alle eeue heen die teenstelling tussen die mag van die Sonde en die regering van Jesus Christus! Kyk maar wat sê Paulus in hoofstuk 5:21: vanaf Adam tot op Christus het die Sonde geheers, maar vanaf Christus heers die genade tot die ewige lewe.
Die vraag vir die jong gemeente daar in Rome was dus nie: staan ons nog onder die Sonde, of is ons nou onder die joodse wet nie. Deur dit só aan die heidene voor te hou, het die jode eintlik ‘n vals opsie aangebied. Die eintlike vraag – ook vir ons – is: behoort ons by die Sonde, of behoort ons by Jesus Christus. Hierdie twee word hier deur Paulus as twee maghebbers, twee heersers, teenoor mekaar gestel. Koning Sonde of Koning Christus? Waarby behoort jy?
Die vraag aan die christene in Rome is dus eintlik: watter identifikasiepunt het julle nou in hulle lewe? Met wie identifiseer julle noudat julle tot geloof gekom het? Beslis nie die Sonde nie, dít het julle afgesterf! En, leer Paulus hulle, ook nie die wet van Moses met die besnydenis en die inlywing in Israel nie. Maar… lewe die christene in Rome dan nou in ‘n vakuum, ‘n lugleegte? Nee, Paulus wys ‘n derde weg, hy wys vir hulle dat hulle ‘n nuwe lewe mag begin. Hulle word nie jode nie, hulle bly ook nie Romeine nie. Hulle kry, deur hulle inlywing in Jesus se dood en opstanding, ‘n nuwe identifikasiepunt: Jesus Christus, die verhoogde, ons Here! Die gelowiges in Rome is nie meer diensknegte van die koninkryk van die Sonde nie, maar het nou oorgegaan om diensknegte te word in die koninkryk van die Seun van God. Hulle is nou diensbaar aan Jesus Christus, hulle staan nou in sy diens! Van slawerny aan die Sonde het hulle oorgegaan tot diensbaarheid aan die Here Jesus. En, gemeente, dit is die realiteit vir elke gelowige, vir u en my: Jesus Christus het Heer van ons lewens geword, en ons het sy diensknegte geword. Kom ons gaan kyk watter implikasies vir ons lewens het.
Tema: Ons word geleer Wie die nuwe identifikasiepunt in ons lewens is: Jesus Christus, ons Here!
-
Gee jou arms en bene vir hierdie Here
-
want jy dra nou sy brandmerk,
-
en Hy sal aan jou die ewige lewe skenk.
1. In ons teks werk Paulus uit wat dit konkreet beteken dat Chrístus nou ons Heer is, en ons sý diensknegte is. Dus, wat hou dit in vir ‘n lewe in sy diens. In vers 12 roep hy die gelowiges op om nie weer in diens van die Sonde te tree nie: die gelowiges het immers nou ‘n ander Heer. Daarom moet hulle nie meer luister na die begeerlikhede van die sondige mag nie, maar hulleself deur die Gees laat oorheers.
En dit behels, volgens vers 13, dat hulle hul lede nie moet stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar dat hulle hulself tot beskiking van God moet stel, en hulle lede as werktuie van geregtigheid moet aanwend. Broers en susters, wat sou Paulus hiermee bedoel? Wel, om goed te verstaan wat Paulus bedoel, moet ons twee woorde wat hy in hierdie vers gebruik, eers verklaar. En dit is die woorde ‘lede’ en ‘werktuie’. Wanneer Paulus hier van ‘lede’ praat, dan bedoel hy daarmee letterlik ons ledemate, ons liggaamsdele – ons arms en ons bene, ons hande en ons voete, ons oë en ons mond. Ons hoef die woord ‘lede’ dus nie figuurlik op te vat nie. Die ander woord wat Paulus gebruik en wat verklaar moet word, is die woord wat in ons vertaling met ‘werktuie’ vertaal is; letterlik beteken hierdie woord egter ‘wapens’. Ons kan hierdie sin dus die beste vertaal: “En moenie julle ledemate stel tot beskiking van die sonde as wapens van ongeregtigheid nie, maar stel julle ledemate as wapens van geregtigheid in die diens van God”
Wat beteken dit nou konkreet? Wel, gemeente, wanneer u en ek aan die begeerlikhede van die Sonde toegee en dit uitleef, wanneer ons sonde doen, dan doen ons dit met ons ledemate – ons arms, ons bene, ons oë, ons mond. Ons stel dus fisies ons liggaamsdele ter beskikking van die Sonde, en dit is deur middel van daardie liggaamsdele dat daar gesteel word, en uitgeskel word, en geslaan word, en na verkeerde dinge gekyk word… Die Sonde kry dus kans om in ons lewens sy gang te gaan met die middele wat óns ter beskikking stel. En só, gemeente, word ons liggaamsdele die wapens in die hand van die Sonde waarmee ander mense onreg aangedoen word, waarmee ander mense seergemaak word, waarmee ander mense verraai word, en waarmee die skepping beskadig en verwaarloos word.
Sien ons watter wrede Heerser die Sonde is, gemeente? En dan hélp ons hom ook nog deur aan hom die wapen- en marteltuig van ons ledemate te verskaf. Elke keer wanneer jy jou liggaamsdele – jou arms en jou bene, jou oë en jou mond – laat beheers deur die begeerlikhede van die Sonde, dan gee jy vir hom wat hy nodig het om die sonde tot uitvoering te bring, dan staan jy in sy diens, dan dien jy sý afskuwelike doel, naamlik om stukkend te maak en seer te maak. Deur jou liggaamsdele in diens van die Sonde te stel, help jy hom, sodat hy kan lag wanneer menselewens verwoes en vernietig word, en wanneer mense uiteindelik die ewige dood ingaan…
Gemeente, is dít waarvoor Christus gesterf het, is dít waarvoor Hy Homself in diensbaarheid aan ons gegee het, is dít hoekom Hy ons voete kom was het? Het Hy ons kom dien, sodat ons ‘n ander en wrede Heer kan gaan dien? Nee! God se liefde in sy Seun wil juis ‘n vernietigende einde maak aan die skrikbewind van die Sonde, Hy wil ons bevry van hierdie onderdrukkende slawerny. En daarom dat Paulus in die tweede deel van vers 13 so ‘n duidelike kontras stel: moenie julle ledemate stel tot beskikking van die sonde as wapens van ongeregtigheid nie, maar stel julle ledemate tot beskikking van God as wapens van geregtigheid! Noudat die identifikasiepunt in ons lewens nie meer die wrede Sonde is nie, maar Jesus Christus ons Here geword het, daarom moet ons daarvoor ywer om al ons liggaamsdele, ons hele lewe, te laat stuur deur die liefde van God!
En, broers en susters, wanneer ons dít begin doen, dán word ons ledemate, ons liggaamsdele, wapens in die hand van ons nuwe Heer en Meester om ander mense te bevry, om ander mense te genees, en om ander mense te help. Moet daarom nie toelaat dat die siddering van ons eie begeertes deur ons hande en ons oë gaan om ander seer te maak en te beskadig nie, maar laat die stroom van God se liefde deur ons liggaamsdele vloei, sodat hulle instrumente word vir reg en eerlikheid en herstel van die mense om ons heen, asook van die omgewing waarbinne ons lewe. As jy jouself ‘n christen noem, wéés dan ook ‘n christen met hart en mond, met al jou krag in jou bene en jou arms. Dit is hoe konkreet Paulus hier die implikasies voorhou van die feit dat ons nou aan Jesus Christus behoort…
Gemeente, die sonde mag dus nie meer langer oor ons heers nie, want – sê Paulus in vers 14 – ons staan nie onder die wet nie, maar onder die genade. Hierdie woorde kan die indruk skep asof die sonde spesifiek geheers het onder die wet. Maar dit is nie wat Paulus hier bedoel nie. Onthou wat ons vroeër gesê het: vir die jode was daar een van twee opsies – jy staan óf onder die heerskappy van die Sonde óf onder die heerskappy van die Wet. Nou sê Paulus: die Sonde sal oor julle nie heers nie, julle is dus nie meer onder die heerskappy van die Sonde nie. Maar is sy lesers dan onder die heerskappy van die Wet? Nee, ook nie! Paulus het immers aan sy lesers en aan ons die derde weg voorgehou: behalwe die keuse tussen jood en heiden, tussen wet en sonde, is daar nou die nuwe weg van genade deur ons Heer, Jesus Christus. Die tyd van die heerskappy van die Sonde is verby: die gelowiges het nou ‘n ander Heer gekry!
En wie sy arms en sy bene, en al sy liggaamsdele, ter beskikking van hierdie Heer stel, sal agterkom dat alles nuut word. Dit is immers waarvoor Jesus gekom het, naamlik om alles nuut te maak. Ons nuwe Heer is ‘n goeie Heer, broers en susters. Hy bring heil, Hy bring genesing, dit is werklik goed om in sy diens te staan. Wie sou dan nie alles – al sy liggaamsdele en sy hele lewe – vir hierdie Here gee nie?
Vervolgens: ons dra nou sy brandmerk.
2. Gemeente, wanneer ons bevry word van die heerskappy van die Sonde, dan beteken dit nie dat ons nou geen heer meer oor ons het nie. Dit is dikwels hoe christene kyk na die bevryding deur Jesus Christus. Hulle is van mening dat wie deur Jesus Christus verlos is, nou ook werklik vry is. En ja, natuurlik is ons vry, maar nie om te doen wat ons self wil nie; ons is vry om ‘n ander – béter – Heer te dien. Dus, broers en susters, in sy nuwe situasie as verloste het die christen net so goed te make met ‘n Heer wat bo hom staan, as daarvoor toe hy nog onder die heerskappy van die Sonde gestaan het. Nou is sy heer natuurlik nie meer die wrede heerser van die Sonde nie, nóg die heer van die wet, maar tog het hy ‘n Heer. Ja, ook die genade het ‘n gesig: die gesig van Jesus Christus.
En die vraag is dan eenvoudig vir elke gelowige: aan watter Heer is jy diensbaar? Want aan wie jy jouself ook al diensbaar stel, aan hom moet jy gehoorsaam wees (vers 16). Óf jy dien die sonde en dan bring dit vir jou die dood, óf jy dien God en dan lei dit tot geregtigheid. Diens aan die sonde bou niks op nie, dit laat op aarde niks agter nie, en dit eindig in die dood. Maar gehoorsaamheid aan God bou ‘n ryk van reg en vrede, en daarvan bly iets oor! Dít is die opsies wat Paulus aan sy lesers voorgehou het.
Vervolgens, in vers 17, kan Paulus die Here dank dat sy lesers, wat eers diensknegte van die sonde was, nou diensknegte van God geword het. Ook in die wêreldstad Rome het God mense in sy diens geneem. Deur die evangelie van harte te aanvaar het die gelowiges in Rome oorgegaan van die heerskappy van die Sonde na die heerskappy van Jesus Christus. Weereens: hulle status van slaaf of dienskneg het nie verander nie! Want ook nóú staan hulle in Iemand se diens – hierdie keer egter nie in diens van die sonde en die dood nie, maar in diens van die geregtigheid en die lewe. Hulle dra nou die teken van hulle nuwe Heer!
En dit is wat Paulus aan die einde van vers 17 op ‘n effens ingewikkelde manier beskryf. Hy sê daar: julle het gehoorsaam geword “aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is.” Die vertaling van hierdie vers skep egter verwarring. Kom ons kyk na wat Paulus presies bedoel…
Die woord ‘oorlewer’, wat Paulus hier gebruik, pas by ‘n slaaf wat oorgegaan het in ‘n ander se diens. Hierdie slaaf is deur ‘n ander gekoop en betaal, en daarmee is hy nou aan sy nuwe heer oorgelewer. Paulus sê egter nie dat sy lesers oorgelewer is aan ‘n nuwe heer nie, maar dat aan hulle die voorbeeld – letterlik die merk – van die leer oorgelewer is. Die woord ‘merk’ dui hoogswaarskynlik op die brandmerk wat die slaaf van sy nuwe eienaar ontvang het. Dus, die gelowiges wat oorgegaan het van die heerskappy van die Sonde na die heerskappy van Jesus Christus, op hulle is ‘n nuwe brandmerk aangebring. En Paulus noem dit die brandmerk van die leer, want die nuwe merkteken wat die mens ontvang wanneer hy of sy deur Christus in sy diens geneem word, bestaan uit die leer van die evangelie en die daarby behorende doop. Dáárdeur word die christen gemerk. Hy staan uit deurdat hy gedoop is in die Naam van Jesus Christus, en deurdat die leer van die evangelie op sy hart en lewenswandel ingedruk is. Daaraan word hy herken!
Gemeente, sien u die wonder van wat vanoggend hier gebeur het: twee jong kindertjies het die teken van die doop ontvang. Meer nog: twee kindertjies, wat van nature onder die heerskappy van die Sonde staan, het die merkteken van hulle nuwe Heer ontvang. En ja, hulle verstaan nog niks daarvan nie, maar daarom het die ouers van hierdie kindertjies belowe om hulle te leer wat dit alles beteken. Hierdie kindertjies moet leer dat hulle nou onder die bewind van Christus staan, hulle moet leer dat hulle hul liggaamsdele in sy diens moet stel, en hulle moet leer om die evangelie van Jesus Christus lief te kry.
En wanneer hulle dit met verloop van tyd leer, dan moet hulle – saam met elkeen van ons wat dit alreeds geleer het – dit ook gaan uitleef. Ons moet verstaan, gemeente, dat elkeen wat die brandmerk van Christus dra, vervolgens ook sy ambassadeur is. Van ons word gevra dat ons uitgeken sal word in ons diens aan Jesus Christus. Ons brandmerk moet in alles sigbaar word.
Is dit ook so in ons lewens, broers en susters? Ons Here het ons gedien, sodat ons aan Hom kan behoort – gee ons nou ook blyk daarvan dat ons aan Hom wil behoort? Gee ons te kenne dat ons nou ook Hom wil dien? Is dit sigbaar wat Paulus in vers 18 sê, naamlik dat ons vrygemaak is van die sonde om diensbaar te kan wees aan die geregtigheid? Doen ons die brandmerk ook gestand deur ‘n lewenswandel wat daarby pas – by die kantoor, in my binnekamer, saam met my vriende? Of steek ons die brandmerk weg? Ja, ‘n slaaf in Rome in die tyd van Paulus was duidelik herkenbaar – hy het sy merk, sy huismerk as’t ware, op sy skouer gedra waar almal dit kon sien. Broers en susters, ons brandmerk is veronderstel om nog baie duideliker te wees. Ons brandmerk is veronderstel om sigbaar te wees in elke daad en elke woord wat uit ons mond uitgaan. Soos wat die Romeinse slaaf oral en altyd herkenbaar moet wees, so moet die slaaf van Christus dit ook wees – oral en altyd.
Gemeente, wanneer ons praat oor óns diensbaarheid, dan begin daardie diensbaarheid in die manier waarop ons die brandmerk van ons Here vertoon. Ware diensbaarheid aan ons Here, Jesus Christus, skaam hom nie om christen genoem te word nie, met alle gevolge wat daarmee saam mag kom. Ware diensbaarheid is bereid om homself heeltemal te gee sodat nie ek nie, maar my Heer in my lewe groter word.
Ten slotte: hierdie Heer gee aan ons die ewige lewe.
3. In vers 20 wys Paulus dat sy gelowige lesers eens diensknegte van die sonde was en daarom nie die geregtigheid kon ontvang nie. Al vrug wat hulle van daardie ou lewe in diens van die sonde oorgehou het, is dat hulle nou skaam is oor dit wat hulle vroeër gedoen het (vers 21). En enige iemand wat in daardie lewe sou voortgaan, sou uiteindelik die wrang vrug van die dood pluk. Maar kyk dán die vrug wat daar is vir dié wat vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God? Heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Of in die woorde van vers 23: “… die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
Sien u, die Sonde word hier voorgestel as die slaaf-eienaar wat aan sy slawe ‘n toelae of sakgeld betaal – soos wat die normale praktyk in Rome was. En die sakgeld wat hierdie slaaf moet verwag, is die dood. Is dit die moeite werd? God, daarenteen, betaal nie sakgeld nie, aangesien geen mens enige iets by God kan verdien nie. Maar die geskenk wat Hy verniet uitdeel, is niks minder nie as die ewige lewe.
Die lewe onder die nuwe Heer het gevolge vir die aardse lewe, maar ook vir die ewige lewe. Die nuwe Heer maak die lewe nuut! Dit is werklik die moeite werd om sy dienskneg te wees, dit betaal om Hom te dien. Nie betaling uit verdienste nie, maar uit pure genade. Verniet! Sy betaling is die dou van Hermon, ryk nes reën, op Sionsberg: die HEER gebied die seën, die lewe tot in ewigheid!
Gemeente, gaan ondersoek vandag en in die komende week, persoonlik en in u gesinne, weer die diensbaarheid van Christus aan ons, wat Hy bereid was om vir ons te doen. En gaan ondersoek dan verder hoe dit staan met u diensbaarheid aan Hom… Ondersoek of ons, soos die dienskneg en diensmaagd van Psalm 123, ons oë nie kan aftrek van ons Heer nie. Gaan kyk of ons, soos wat ons hierna uit Skrifberyming 24 gaan sing, toebereide harte en ore het wat in diens van Christus staan. En weet dan dat ons in lewe en in sterwe Gods eiendom vir altyd sal wees!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 108:1-3
Wetslesing
Sing Ps. 90:4, 7-9
Doopsbediening en dankgebed
Sing Ps. 100:1 en 2
Lees: Romeine 5:12-6:23
Teks: Romeine 6:12-23
Preek
Amenlied Skr. 24:3, 6 en 7
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 138:1-2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)