Mag dit so wees dat broers en susters van mekaar voordeel kan trek in die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-09-30
Teks: 
Filémon 1
Preek Inhoud: 

Filémon 1:20

Ds HH van Alten - Sondag 30 September 2007

Lees: Filémon : 1-25
Teks: Filémon : 20
Sing: Sien liturgie

Tema: Mag dit so wees dat broers en susters van mekaar voordeel kan trek in die Here!

  1. Want ons is broeders en susters in die Hére
  2. Dít maak ons nuttig vir mekaar
  3. En só kan ons mekaar verkwik

Broers en susters in die Here,

Het jy al ooit voordeel getrek van iemand in die gemeente? Maar…  mag ons dan van mekaar voordeel trek? Dit klink só asof jy iemand uitbuit, en dit sou mos teen die aard van die geloof ingaan? Dit is mos nie die soort liefde wat die Here vra in 1 Kor. 13:5 nie? Ons lees daar: die liefde “handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie…” As jy van iemand voordeel trek, dan soek jy mos jou eie belang?

‘n Voorbeeld daarvan is om in die gemeente te sorg dat jy nooit verversings hoef te bring vir wanneer ons ná die erediens saam koffie drink nie, maar tog altyd eerste in die ry staan om van ander se verversings te geniet… Of om die Kompas of Olielamp met groot graagte te lees, terwyl jou intekengelde al vier jaar agterstallig is… Ja, dan trek jy mos voordeel van die gemeente en van jou mede-lidmate 

Broers en susters, om voordeel van iemand te trek, het vir ons dikwels ‘n negatiewe konnotasie – jy buit iemand uit, jy soek jou eie belang. Om voordeel van iemand te trek, kom in ons belewing dikwels vanuit egoïstiese motiewe.

En tog sien ons dat Paulus – in sy kort, persoonlike briefie aan Filémon – kan sê: “Ja, broeder, mag ek tog van jou voordeel trek in die Here!” Dít is ‘n verrassende uitspraak! Die gelowige apostel van Jesus Christus hoop om voordeel te kan trek van sy broeder in die geloof, Filémon. Is dít nou tekend van ware geloof en liefde? Hoe kan Paulus dít sê? Maar, gemeente, voordat ons hierdie woorde van Paulus verkeerd beoordeel, is dit baie belangrik dat ons Paulus se hele uitspraak lees, ook die laaste woorde: “Ja, broeder, mag ek tog van jou voordeel trek in die Here.” Paulus is nie besig om Filémon uit te buit nie, dit is geen egoïstiese voordeel-trekkery nie. Nee, Paulus hoop dat Filémon hom, op grond van hulle gemeenskaplike geloof in God, van diens kan wees, dat Filémon sy dienskneg kan wees, net soos wat hy ook al Filémon se dienskneg was en steeds is.

Gemeente, laat ons vandag hieraan aandag gee. Ons gaan voort met die reeks preke oor diensbaarheid, deur te luister na die Woord van die Here vanuit die brief van Paulus aan Filémon. Die tema vir die preek is:

Tema: Mag dit so wees dat broers en susters van mekaar voordeel kan trek in die Here!

  1. Want ons is broeders en susters in die Hére

  2. Dít maak ons nuttig vir mekaar

  3. En só kan ons mekaar verkwik

1. ‘n Besondere boek, hierdie kort briefie van Paulus aan Filémon. Paulus sit in die gevangenis – hy praat immers tot twee maal toe van homself as “’n gevangene van Jesus Christus” (verse 1 en 9), en tot twee maal toe praat hy ook van sy boeie (verse 10 en 13). Waar Paulus presies in die gevangenis was, is nie duidelik nie – miskien in Rome, miskien in Efese. Hoe dit ook al sy, vanuit sy gevangenskap skryf hy ‘n brief – eintlik niks meer as ‘n notatjie nie. En hy skryf dit aan Filémon, asook aan Filémon se vrou, Appia, en hulle seun Archippus – dit is waarskynlik waarna hierdie name in vers 2 verwys. En, sê Paulus, hierdie briefie is ook nog bedoel vir die gemeente wat in jou huis is.

Watter gemeente sou dít wees? Wel, dit is baie waarskynlik dat Filémon ‘n inwoner van die stad Kolosse was. Hoe weet ons dit? Wel, kom ons kyk na die feite… Paulus skryf sy brief aan Filémon na aanleiding van ‘n sekere Onesimus. Onesimus was ‘n slaaf van Filémon wat weggeloop het. Moontlik het hierdie slaaf na ‘n tyd van rondswerf en wegkruip besef dat hy in die moeilikheid is, en het hy vir hulp gaan aanklop by Paulus in die gevangenis. Paulus was immers ‘n bekende in die huisgesin van Filémon, en Onesimus het sekerlik geweet wie Paulus is en wat hy van hom kon verwag. Tydens sy verblyf by Paulus kom Onesimus tot geloof, hy word ‘n christen (verse 10-11). En as christen word hy vir Paulus tot groot hulp, sodanig dat Paulus hom eintlik by homself sou wou gehou het (kyk maar vers 13). Maar, Paulus weet ook dat die wette wat die slawerny gereël het, dit nie toegelaat het nie. ‘n Slaaf wat weggeloop het, moes na sy heer teruggestuur word, en verskriklike strawwe het op so ‘n slaaf gewag.  

Nou kan ‘n mens natuurlik vra: “Maar het Paulus die slawerny dan goedgekeur?” Nee, Paulus het dit nie goedgekeur nie, maar hy het ook nie probeer om dit met rewolusie omver te gooi nie. Vir Paulus moes die evangelie hierdie gruwelike misdryf van die slawehandel omverwerp. Soos hy sê in Galasiërs 3:28: “Daar is nie meer slaaf of vryman nie, want julle is almal een in Christus Jesus.” Dus, geen rewolusie nie, maar wel bekering op grond van die evangelie van Christus. En daarom, hoewel Paulus die slawehandel nie goedgekeur het nie, het hy homself wel gehou aan die reëls wat hierdie bestaande praktyk gereël het. Gevolglik stuur Paulus vir Onesimus terug na Filémon.

En, gemeente, presies hiervan lees ons nou in Kolossense 4:9. Daar lees ons dat Paulus vir Tichikus stuur met die brief aan die gemeente in Kolosse. En dan lees ons in vers 9: “saam met Onesimus, die getroue en geliefde broeder wat van julle mense is.” Dus, hier lees ons wat Paulus aan Filémon ook skryf, naamlik dat hy Onesimus na hom toe terugstuur. En dit bring ons tot die konklusie dat Filémon ‘n inwoner van Kolosse was, waarskynlik ‘n gesiene inwoner met baie slawe. En waarskynlik het die gemeente van Kolosse in sy huis vergader. Ons kan onsself dit soos volg voorstel: Paulus skryf vanuit die tronk sy brief aan die Kolossense (dit is die boek Kolossense soos ons dit in ons bybels het), en daarmee saam stuur hy ook nog ‘n kort notatjie vir die gesin van Filémon rakende die saak van Onesimus (dit is in ons bybels die boek Filémon). Dus, gemeente, in feite besit ons vandag in die bybel twee briewe aan die huisgemeente daar in Kolosse. Eintlik jammer dat hierdie twee in die Nuwe Testament nie direk ná mekaar volg nie – dit sou dit baie duideliker gemaak het. Maar dit daar gelaat… 

Waaroor gaan dit vir Paulus in hierdie kort notatjie? Wel, Paulus pleit by Filémon vir Onesimus. Hy vra dat Filémon sy weggeloopte slaaf asseblief in goedgunstigheid sal aanneem. En dit lyk asof Paulus ook ‘skimp’ dat Filémon nog meer sal doen – kyk maar na vers 21 waar Paulus sê: “In vertroue op jou gehoorsaamheid het ek aan jou geskrywe, omdat ek weet dat jy nog meer sal doen as wat ek sê.” Waarskynlik verwys dit na verse 13 en 14 waar Paulus gehoop het om Onesimus vir homself te kan hou, iets wat hy egter nie sonder Filémon se goedkeuring wou doen nie. Tog was die boodskap vir Filémon duidelik: laat asseblief Onesimus vry sodat hy my kan kom dien.

Maar op grond waarvan kan Paulus dit vra? Hy het tog die wette van daardie tyd geken? Hy het tog geweet in watter moeite dit Filémon sou bring as hy hierdie weggeloopte Onesimus net so sou vrylaat? Moeite met sy ander slawe wat die boodskap kon kry dat dit lonend is om te dros, maar ook moeite met die ander slaafeienaars van Kolosse vir wie dit sosiaal onaanvaarbaar was om drosters so sag te behandel.  

Maar, broers en susters, dan moet ons raaksien dat Paulus sy versoek aan Filémon voortdurend op ‘n hoër plan plaas, dat hy sy versoek voortdurend bo die norme van die samelewing uitlig. Vir Paulus is die norme van die samelewing nie bepalend nie, vir hom gaan dit oor die norme van die evangelie! Want, sê Paulus vir Filémon, in die Here – dus volgens die norme van die evangelie – is Onesimus nou nie meer jou slaaf nie, hy is méér: hy is jou geliefde broeder! (vers 16) En daarom betrek Paulus vervolgens in vers 17 ook vir Onesimus in die broederskap van die gelowiges. Hy sê daar: “As jy dan vir ‘n metgesel hou, neem hóm aan net soos vir my.” Dus, as Paulus Filémon se broeder is, dan is Onesimus dit nou ook. Ja, in Christus is die gesiene Filémon en die gevange ou man, Paulus, en die gedroste slaaf, Onesimus, gelyk in waarde. Hulle is broeders.

Gemeente, ons moet probeer aanvoel en ervaar hoe ingrypend dit is wat Paulus hier skryf. In die konteks waarbinne Paulus gelewe het – die Grieks-Romeinse wêreld van die eerste eeue – was daar naamlik net twee tipes mense: vry persone en slawe. Die vry persone is voor die wet beskou as mense, maar slawe was wetlik nie mense nie; hulle is beskou as dinge, as lewendige stukke eiendom. En nou vra Paulus van Filémon om sy stuk eiendom terug te ontvang en aan te neem as sy broeder; hy verwag van die gesiene Filémon om ‘n dienaar te word van ‘n gedroste slaaf. Hoe is dit moontlik? Eenvoudig omdat Onesimus in die Here – en kyk maar hoe dikwels Paulus hierdie woorde gebruik: in die Here, tot twee maal toe in ons teks – eenvoudig omdat Onesimus in die Here nou Filémon se gelyke is. Hulle het dieselfde Verlosser, hulle het een Vader, hulle is geliefde broeders, broeders wat mekaar behoort lief te hê.  

Ja, Paulus het verneem van Filémon se liefde vir die Here Jesus en vir al die heiliges (kyk maar na verse 5 en 7), en daarom pleit hy in vers 9 ook op daardie liefde: Filémon, wees lief vir hierdie persoon wat in die samelewing jou slaaf was, maar wat in die Here jou broeder geword het. Ons liefde in die Here, gemeente, oorwin sosiale range en stande, ons liefde in die Here laat ons uitstyg bo die vlakke wat in die samelewing geskep is – vlakke van rykdom, vlakke van geleerdheid, vlakke van aansien en mag. En dit plaas ons almal, as sondaars, voor dieselfde kruis. Almal op ons knieë, broers en susters in die evangelie.

En dáárom mag ons van mekaar voordeel trek. Ja, in die wêreld trek die ryke voordeel van die arme, en trek die magtige voordeel van die onderdrukte, en trek die geleerde voordeel van die ongeleerde. Maar in die koninkryk van God, in die kerk van Christus, mag broeders en susters positief voordeel trek van mekaar, en word daar van broeders en susters verwag om vir mekaar tot voordeel te strek, om mekaar te dien! En Paulus leer in sy kort notatjie aan Filémon dat niemand van hierdie diens uitgesluit is nie – selfs die slaafeienaar word ‘n dienskneg van sy christen-slaaf omdat hulle broeders in die Here is! 

Gemeente, ons noem mekaar broers en susters, maar bedoel ons dit ook? Beleef ons dit ook werklik? Meer nog: leef ons dit ook? Is die ongeleerde hier in die gemeente ook werklik jou suster? Is dié een wat soveel ryker is as jy ook werklik jou broeder? Strek die broeder- en susterskap ook oor die kleurgrense van ons kerkverband heen, of het die heer-slaaf verhouding van Paulus se tyd nog sy invloede in ons tyd? Gemeente, leer om na mekaar te kyk in die Here! Dít verbind ons! Daarmee is natuurlik nie onmiddellik alle verskille in rykdom en geleerdheid en sosiale aansien weg nie, maar dit is dan wel so dat die verskille geen verhindering meer is om mekaar tot nut te wees nie. Die ryke word dan die dienskneg van die arme, en die ongeleerde word nuttig vir die geleerde.

Daarop let ons vervolgens: dit maak ons nuttig vir mekaar. 

2. Gemeente, Onesimus was ‘n niksnut, ‘n slaaf wat, terwyl hy nog by sy baas was, vir hom nutteloos was – so sê Paulus in vers 11. Maar vandat hy tot geloof gekom het, het daarin verandering gekom. Paulus sê vir Filémon dat Onesimus, wat vroeër vir hom nutteloos was, nou baie nuttig vir hom is. En hy staaf dit deur in vers 13 te vertel hoe hy Onesimus eintlik graag by homself sou wou gehou het, aangesien hy hom so goed gedien het. Ja, gemeente, so bring die evangelie verandering in mense se lewens; hulle kan weer werklik diensbaar wees aan ander, hulle word weer nuttig en voordelig…

Nuttig en voordelig – dit is ‘n interessante woordkeuse van Paulus in vers 11 en vers 20. En ons kan seker wees dat Paulus sy woorde hier baie sorgvuldig gekies het. Want Onesimus, die nuttelose slaaf, se naam beteken letterlik ‘nuttig’ of ‘voordelig’. En daardie naam het hy oneer aangedoen toe hy van sy baas weggehardloop het, toe was hy werklik nutteloos. En hy was nie slegs nutteloos nie, maar hy het sy heer ook nog skulde op die lyf gejaag. Kyk maar na verse 18 en 19: Paulus sê daar vir Filémon dat as Onesimus hom benadeel het of hom iets skuld, hy – Paulus – dit sal betaal. Moontlik dat Onesimus met sy vlug geld by Filémon gesteel het, of miskien moes Filémon baie geld betaal om Onesimus te laat opspoor. Hoe ook al, Paulus is bereid om uit sy eie sak enige skulde te betaal. Só probeer hy op alle maniere om Onesimus se terugtog na Filémon goed voor te berei.  

Maar noudat die evangelie Onesimus se lewe kom verander het, nou het hy werklik geword wat sy naam aandui – nuttig, voordelig. Nuttig vir Paulus in die gevangenis, maar ook nuttig vir Filémon. En, gemeente, dit is nou presies die bedoeling van die evangelie van Jesus Christus. Dit verander niksnutte – dít wat ons almal van nature is – in nuttige mense, mense wat vir hulle broers en susters tot voordeel strek. En dit is dan ook wat Paulus in ons teks van Filémon vra: wees vir my tot voordeel (die Griekse woord wat Paulus hier in vers 20 gebruik, kom van dieselfde vorm as die naam Onesimus). Dus, Paulus vra eintlik van Filémon om vir hom nuttig te wees: wees vir my ‘n Onesimus! Filémon – die slawe-eienaar, die baas, die gesiene man van Kolosse – hy moet ‘n Onesimus word, sodat Onesimus met sy broeder Filémon verenig kan word. En dit alles: in die Here.

Gemeente, in die Here, dus deur die verlossende werk van Jesus Christus, mag en behoort elkeen van ons die ander se Onesimus te wees, vir die ander nuttig en voordelig te wees. Maar dan moet dit ook werklik in die Here wees, dan moet dit ook werklik vanuit die geloof wees. Voordat Onesimus tot geloof gekom het, kon hy ook nie werklik Onesimus wees nie; voordat die geloof in Jesus Christus ons lewe nie deurtrek nie, bly ons tot ‘n groot mate nutteloos vir mekaar. Maar wanneer ons werklik in die Here is, wanneer Hy ons bestaan van elke dag oorgeneem het, sodat ons nie meer vir onsself lewe nie, maar Hy in ons en ons in Hom, dán word ons nuttig vir mekaar, dán kan ons mekaar tot voordeel strek. Dan word ons mekaar se diensknegte.  

En, gemeente, daar is soveel terreine in ons gemeentelike lewe waar ons mekaar se nuttigheid en diens nodig het. Ons is tans op soek na Onesimusse wat in die amp kan dien, broeders wat nuttig kan wees om die gemeente te lei en te versorg; as u daarom nog nie name ingehandig het nie, gaan dink vandag aan broeders wat hierdie gemeente tot voordeel kan strek. Ons het verder Onesimusse nodig om in kommissies te dien, broeders of susters wat nuttig kan wees vir die Finansiële Kommissie of die Sendingskommissie of die Evangelisasie kommissie. Verder word ons almal geroep om Onesimusse te wees teenoor die bejaardes en die eensames in die gemeente; en ons kan maklik hiervan wegskram, maar die Here roep jou om jouself nuttig te maak vir hierdie mense.

Maar dit geld ook omgekeerd: as jy in nood is, as jy in ‘n finansiële verknorsing is, as jou huwelik moeites bring, as jy siek of swak is, as daar probleme is en jy nie uitkoms sien nie, trek dan ook voordeel van die ander! Die lidmaat agter jou is nie jou meerdere in rykdom nie, hy is jou broeder – trek voordeel van hom. Die lidmaat voor jou is nie jou mindere in geleerdheid nie, sy is jou suster in die Here – benut haar. Trek voordeel van mekaar, want ons besit mekaar in die Here – soos Paulus in vers 15 sê: “Want miskien is hy om hierdie rede ‘n tydjie van jou geskei, dat jy hom vir altyd kan besit.” Die Here gee ons aan mekaar as kosbare besittings, sodat ons mekaar kan help, mekaar verder kan help op die weg van die lewe. Laat ons houding wees soos wat Paulus skryf in Romeine 15:2: “Want elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot stigting.”

En gemeente, hoe mooi en gesond sal ons gemeente nie wees nie wanneer natuurlike niksnutte sodanig deur die evangelie verander word, dat hulle mekaar tot voordeel strek.

Ten slotte: só kan ons mekaar verkwik. 

3. Paulus sluit ons teks af met die woorde: “Verkwik my hart in die Here.” Vir ‘verkwik’ gebruik Paulus hier ‘n woord wat letterlik beteken ‘om tot rus te kom’. En vir ‘hart’ gebruik hy nie die normale griekse woord kardia nie, maar eerder ‘n woord wat letterlik dui op die emosionele sentrum van die mens, jou diepste wese.

Dit is ook nie die eerste keer dat Paulus hierdie woorde teenoor Filémon uit nie; reeds in vers 7 het hy presies dieselfde woorde gebruik om Filémon se liefde vir die heiliges te beskryf. En op hierdie woorde in vers 7 kom hy nou in vers 20 as’t ware weer terug; sodoende wil Paulus vir Filémon aanmoedig om voordelig teenoor hom op te tree sodat, net soos die heiliges van vers 7, ook hart verkwik mag word, sodat ook diepste wese tot rus mag kom oor sy kind, Onesimus. Wat Paulus hier dus sê, is dat deur Filémon se diens aan hom in die aanneming van Onesimus as broeder, Paulus se diepste wese tot rus sal kom in die Here.  

Gemeente, dit is die wonderlike uitwerking van ons diens aan mekaar, van die feit dat ons mag voordeel trek van mekaar en mekaar ook tot voordeel kan strek. Ons vind rus in die Here, persoonlik maar ook as gemeente saam. Is dit nie wat ons sien in die eerste gemeente in Jerusalem nie? Ons lees in Handeling 2 hoe die gemeente mekaar gedien het: almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het. Daar was ware diensbaarheid aan mekaar. En gevolglik was daar ook blydskap en eenvoudigheid van hart in die gemeente. Die Here het rus aan hierdie eerste gemeente geskenk, mede deurdat hulle mekaar se voordeel gesoek het.

Broers en susters, in hoe ‘n mate is daardie begeerte ook by ons aanwesig, die begeerte om mekaar se voordeel te soek, mekaar te dien? By sommige van ons ontbreek dit, omdat ons te onbetrokke is, omdat ons die kerk soos ‘n inkopiesentrum gebruik waar ons slegs kom haal wat óns nodig het. Vir ander ontbreek dit vanweë die sug na aansien en eer, ‘n sug wat die hele tyd besig is om die ander die loef af te steek, meer te doen, meer gesien te word, ‘n beter naam in die gemeente te verwerf. Wie op dié manier in die gemeente besig is, sal ook ervaar dat daar nooit rus is nie; die egoïsme, in watter vorm dat ook, word nooit bevredig nie, soek altyd na meer en meer.  

Maar, broers en susters, Paulus se hart word verkwik deur die diensbaarheid – sy diensbaarheid aan Filémon deur Onesimus terug te stuur en enige skulde te vereffen, maar ook Filémon se diensbaarheid aan hom deur Onesimus as sy broeder in die Here te aanvaar. Dít bring vir hom verkwikking, lafenis, rus in die Here.

Gemeente, om mekaar te dien, om vir mekaar tot nut te wees, om voordeel van mekaar te kan trek, is nie iets negatiefs nie. Dit is in alle opsigte tekenend van die feit dat ons saam – hy wat dien, sowel as hy wat gedien word – een in die Here is! Dit is tekenend van die werklikheid dat Christus in hierdie gemeente regeer. Christus regeer nie daar waar ons die beste posisies soek nie, Christus regeer nie daar waar almal uitmekaar spat en elkeen sy eie pad gaan nie. Christus regeer daar waar ons, in navolging van ons Koning, oog het vir die ander, raaksien dat die ander in nood is sonder dat hy ‘n woord gespreek het. Christus regeer daar waar ek die vrymoedigheid het om, in my nood, vir u of vir jou om hulp te vra. En dan daal daar ‘n rus in die gemeente, ons word verkwik deur elke daad van diens en liefde. Liefde wat nie sy eie belang soek nie, liefde wat nie jaloers is of grootpraat nie, liefde wat die kwaad nie toereken nie, liefde wat alles bedek, alles glo, alles hoop, alles verdra… Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers en susters ook saamwoon!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 96:5-7
Wetslesing (lees ook v/a 107)
Sing Ps. 5:3-7
Lees: Filemon :1-25
Kollekte
Sing Ps. 62:7 en 8
Teks: Filemon :20
Gebed
Preek
Amenlied Skr. 21:4-6
Gebed
Slotsang Ps. 133
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)