Ons God is drie in een

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2007-04-15
Teks: 
Génesis 8
Preek Inhoud: 

Sondag 8

Ds C Kleijn - Sondag 15 April 2007

Lees: Johannes 14:15-31; Sondag 8.
Sing: Ps 96:1,2; SB 24:1,6,7; Apostoliese
Geloofsbelydenis; SB 50:1,4,7.

Tema: Ons God is drie in een

Hierdie waarheid word

  1. geopenbaar in die Skrifte
  2. bestry in die geskiedenis
  3. ervaar deur ware gelowiges

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is die onderwerp van Sondag 8 nie baie leerstellig en moeilik
begrypbaar nie? Wat maak jy met hierdie leer van die Drie-eenheid?
Is dit nie iets wat ons beter aan die teoloë kan oorlaat nie?

Vanweë daardie gevoelens is dit goed om vantevore duidelik te
stel dat jy nie oor God moet dink en praat op ’n abstrakte
manier nie. Kom ons bly by die konkreetheid en eenvoud van die
Skrifte. Dan praat jy nie oor die drie-enige God nie. Jy praat
dan van jou God as Vader, Seun en Heilige Gees. Ons drie-enige
God is nie ’n vaag en abstrakte God wat ver van ons lewe
verwyder is nie. Nee, Hy is die God wat omgang met ons wil hê,
aan ons verbind wil wees juis as Vader, Seun en Heilige Gees.

Waarskynlik is elkeen van julle gedoop. Water is op jou
voorhoof gesprinkel. By die geleentheid is jou volle naam genoem.
Saam met die naam van God, ook sy volle naam: Vader, Seun en
Heilige Gees. Julle is vir die lewe aan mekaar verbind: ’n
klein mensekind en die ewige God. Jou naam is verbind met die een
naam van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Onthou ook, broeders en susters, dat die Heidelbergse
Kategismus jou belydenis is. Jy is vanaand besig met jou eie
belydenis. Dit wat jy met die hart glo en met die mond bely. Ons
is nie besig met ’n saai teorie nie, maar met iets waarby jy
baie persoonlik betrokke is. Die goeie nuus van jou verlossing.
Van jou God. Ons glo in een enige goddelike Wese, wat uit drie
Persone bestaan, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige
Gees.

So verkondig ek vir julle die evangelie van ons drie-enige God:
Ons God is drie in een.

Hierdie waarheid word

  1. geopenbaar in die Skrifte
  2. bestry in die geskiedenis
  3. ervaar deur ware gelowiges

Waar staan dit in die Bybel dat God ’n drie-enige God is?
Probeer maar om ’n teks te vind waarin die woord Drie-eenheid
gebruik word. Jy sal so ’n teks nie vind nie. Daaruit
konkludeer sekere mense: die leer van die Drie-eenheid is net
’n konstruksie van geleerde mense. Dis ingewikkeld en
onverstaanbaar. Los dit maar.

Maar, geliefdes, dat die woord Drie-eenheid in die Bybel nie
voorkom nie, maak nie saak nie. Die Bybel is geen handboek wat
die Christelike leer sistematies behandel nie. Die Bybel is juis
nie ’n ingewikkelde handboek nie. Dis ’n boek waarin
God wys hoe Hy met sy volk omgaan; hoe Hy vir hulle omgee en sorg
dra; hoe Hy met die wêreld besig is. Wanneer die Here dit in sy
woord wys, wys Hy ook wie Hy is. En wat Hy is: ’n drie-enige
God.

Jy sien dit sodra jy die Bybel begin lees. Jy hoef dan nie
ingewikkeld te doen nie. Jy hoef nie moeilike konstruksies te
bedink nie. Dit val jou gewoon op dat die Here ’n drie-enige
God is. Wanneer jy rustig die Bybel lees, kan jy dit nie misloop
nie.

Slaan die eerste bladsy van die Bybel maar oop. “In die
begin het God (enkelvoud) die hemel en die aarde geskape.”
“En God het gesê: laat daar lig wees.” “Toe sien
God alles wat Hy gemaak het, en dit wat baie goed.” Steeds
in die enkelvoud. ’n Eenheid. Die een God het hemel en aarde
en alles wat daarin is geskep.

’n Ander teks wat die eenheid noem is Deut 6:4: Hoor,
Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE. God se volk moet
dit altyd onthou. Dit het as Israel se geloofsbelydenis
gefunksioneer. Hulle leef onder heidene wat meerdere gode ken.
Maar daar is net een God. Die HERE onse God is ’n enige HERE.
Hy is nie net die enigste nie, maar ook een. Een in wese. Dit
beteken dat God nie verdeel kan word nie. Jy kan nie ’n
versameling van dele hê wat minder as God is nie, hulle saamvoeg
en so een God kry nie. Hy is nie soos ’n legkaart nie. Ook
nie soos ’n menslike liggaam wat bestaan uit verskeie organe,
onderdele nie. Nee God is ondeelbaar. Hy is een.

Tog, gemeente, is dit vanaf die begin ook duidelik dat God
meer as een is. Daar is ’n meervoud van Persone in die
goddelike wese. Gaan maar terug na die eerste bladsy van die
Bybel. Daar lees ons dat hierdie een God wat alles geskep het,
met Homself oorleg pleeg. “En God het gesê: laat ons mense
maak na ons beeld” (Gen 1:26). Let op die meervoud. Daar
blyk meerdere persone in die Goddelike eenheid te wees.

Die Ou Testamentiese gelowige het geweet dat daar ’n
meervoud in God was. Ja, hy het selfs ’n vae aanduiding
gehad dat die een God drie is. Elke keer as die priester die volk
geseën het, het hy die naam van die HERE mos drie maal herhaal.
“Die HERE sal jou seën en jou behoud. Die HERE sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Die HERE sal sy
aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” En het Jesaja
die serafs nie hoor roep: Heilig, heilig, heilig is die Here van
die leërskare nie? Drie maal heilig is die HERE.

Dit alles en nog meer was ’n voorbereiding vir die
waarheid wat in die Nuwe Testament ten volle geopenbaar is. God
het Homself in die Ou Testament bietjie bietjie geopenbaar. Hy
het Homself uiteindelik ten volle bekendgemaak in die Seun. So
kan ons nou die Ou Testamentiese verwysings na die drie persone
in die een God makliker herken. Ons sien die drie persone in
aksie by Jesus se doop in die Jordaan (Matthéus 3). Ons hoor die
stem van Vader uit die hemel: “Dit is my geliefde Seun in
wie Ek ’n welbehae het.” Gelyktydig sien ons die
Heilige Gees soos ’n duif op Jesus neerdaal. Kort daarna lei
die Heilige Gees Jesus die woestyn in om deur die duiwel versoek
te word. Dis duidelik: daar is drie onderskeie Persone. Daarom
beveel die Here Jesus sy dissipels om te doop in die Naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees. Opnuut is daar sprake van
eenheid (daar moet in die een Naam gedoop word) en van drieheid (in
die een naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees)

So kan die Vader in sy liefde vir die wêreld sy Seun gee
sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die
ewige lewe kan hê (Johannes 3:16). Maar die Here Jesus kan ook
sê: Ek en die Vader is een (Johannes 10:30). En wanneer die Here
Jesus opvaar na die hemel stuur Hy sy Heilige Gees wat ook God is.

’n Mens kan dit nie ontken nie: die enige HERE maak
homself bekend as die drie-enige God. Daarom is daar aan die
einde van die erediens die trinitariese seën: “Die genade
van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees is met elkeen van julle.”
Dis hoe God Homself bekend gemaak het. Dis hoe Hy met jou deur
die lewe gaan. Vanaf die begin toe jy gedoop is. En na elke diens
wanneer jy ’n nuwe week ingaan.

Gemeente, ons het nou gesien hoe die waarheid God is drie in
een in die Skrifte geopenbaar word. In die tweede punt wil ons
sien hoe die waarheid in die geskiedenis bestry word.

Die Drie-eenheid bly moeilik om te verstaan. So het baie mense
in die geskiedenis hierdie leer verklaar op ’n wyse wat nie
reg aan die Skrifte doen nie. Mense probeer voortdurend om
hierdie leer vir die menslike verstand aanneemlik en grypbaar te
maak. Kom ons kyk na die belangrikste slaggate waarin mense geval
het. Ons kan dit verdeel in drie groepe.

In ’n poging om reg te doen aan die Skriftuurlike
waarheid dat God drie is, het sommiges daarby uitgekom om die
eenheid van God te ontken. Hulle het in die slaggat geval om te
dink dat die drie Persone drie aparte gode is. Dis die dwaling
van die triteïsme. Hulle glo in drie gode. Ons sal waarskynlik
nie gou in hierdie slaggat val nie. Tog is daar baie Christene
wat geneig is om meer oor God te dink in terme van sy drieheid as
van sy eenheid. Die drieheid word dan benadruk ten koste van die
een in drie en drie in een. Dit het dan ook gevolge vir hul
aanbidding van God en hul gebedslewe.

Na die triteïste is daar die Unitariërs. Hulle wil die
eenheid van God verdedig maar hulle ontken die godheid van
Christus en die godheid van die Heilige Gees. Slegs God die Vader
sou God wees. Die Seun en die Gees word wel as belangrik beskou,
maar hulle is nie deel van die Goddelike wese nie. Daarmee word
daar ’n kloof geslaan tussen die Vader aan die een kant en
die Seun en die Gees aan die ander kant. Dit sou beteken dat die
Seun en die Heilige Gees ondergeskik aan die Vader is. Hierdie
dwaling handhaaf die drieheid ten koste van die eenheid. Arius in
die vroeë kerkgeskiedenis het dit reeds geleer. Vandag word dit
verdedig deur die Jehova Getuies en baie moderne liberale
“Christene”. Die stryd op hierdie punt is beslis nie
oor nie. Ons sal moet bly vashou dat Jesus Christus God is en dat
die Heilige Gees God is net soos die Vader God is.

Dan is daar die derde groep wat ons Modaliste noem. Hulle sien
God as een Persoon wat soos ’n akteur beurtelings drie
verskillende rolle speel. In die OT sou Hy as die Vader verskyn,
in die NT voor Pinkster as die Seun en na Pinkster as die Heilige
Gees. Omdat die drieheid hier beskou word as net drie wisselende
uitdrukkingsvorme van die een goddelike Persoon noem ons hierdie
dwaling modalisme.

Hier word die eenheid gehandhaaf ten koste van die drieheid.
Die waarheid dat daar in die een God drie onderskeie Persone is
word ontken. Vir hulle is daar net een Persoon wat drie
verskillende rolle speel. Hieruit volg dat die Persoon wat aan
die kruis gesterf het, eenvoudig die Vader was, wat besig was in
Sy rol as verlosser. Hierdie gedagte vind ’n mens soms terug
in Christelike gebede. Jy begin dan jou gebed met die aanroeping
van God die Vader. Kort daarna dank jy Hom dat Hy vir jou aan die
kruis gesterf het. So val jy in die slaggat om dinge van die
Vader te sê wat net van die Seun gesê kan word. Net die Seun
het immers aan die kruis gesterwe en nie die Vader nie. Gelukkig
kyk God na ons hart en weet Hy wat ons bedoel. Maar laat ons ook
oppas hoe ons bid sodat ons nie verkeerde gedagtes oor God
verwoord nie.

Nou die derde gedagte van die preek: die waarheid God is drie
in een word deur die ware gelowige ervaar.

Hoe leer ons God ken? As kind leer jy God veral as jou Vader
ken. Hy is sterk en magtig. Hy het my gemaak. Hy sorg vir my.
Deur my opvoeding, via ouers en onderwysers, het ek God leer ken
as die groot Skepper. Ek het toe gedink dat my aardse vader baie
sterk was en my onderwyser baie slim. Maar ek het leer ontdek dat
God baie sterker is, selfs almagtig, en baie slimmer, Hy weet
werklik alles. Aan Hom kan ek myself toevertrou. As ’n Vader
sorg Hy vir my. Hy skenk die goeie en gebruik die kwade. Agteraf
sien ek hoe Hy die kwade inderdaad tot my heil aangewend het. By
Hom soek en vind ek leiding en geborgenheid. So ervaar ek
voortdurend God die Vader in my lewe. Vir ’n kind is God die
Vader konkreet: God bo ons.

Ek het in die loop van my lewe steeds meer en meer leer nadink
oor myself. As tiener het ek baie gehad om mee klaar te kom.
Gevoelens van minderwaardigheid, spanning, ontdekking van my
moontlikhede en grense. Dit was nie altyd ewe duidelik vir my dat
God vir my sorg en my liefhet nie. Ek ervaar ook die afstand
tussen die heilige God en myself met my verwarde gedagtes. My
sondes pla my. Angs bekruip my. Ook eensaamheid. Hoe geweldig is
dit dan dat God na my toekom in die Seun. Hy het mens geword. Hy
verstaan my. Hy kan met my meevoel. In Hom is daar vergewing,
bevryding. Hy het siekes genees. Sondaars het vergewing ontvang.
Nee, ek sou hier nie net in die verlede tyd moet praat nie. Hy is
nog so vandag. Na sy dood het Hy opgestaan. Hy leef. Hy is God
wat na ons toekom en ons saak verdedig. Christus het op die kruis
gesterwe. Hy bevry my van die mag en vloek van die sonde en van
Satan. In Hom kan ek voor God bestaan. Ondanks my sondes. Sonder
verskrikking. Hy is God met ons en vir ons. Immanuël, God met
ons. .

Geliefdes, my verantwoordelikhede het met die tyd toegeneem.
Ek moet my planne gaan verwesenlik, God se wil uitvoer. Maar hoe
teleurstellend is dit dikwels nie. Ek kan net nie doen wat ek
weet ek moet doen. Dan word die Heilige Gees en sy krag steeds
meer ’n lewende werklikheid vir my. Ek hoef dit nie alleen
aan te pak nie. Ek kan dit ook nie alleen aanpak nie. Ek mag iets
ervaar van die kontak met God, iets van sy krag in my lewe. Ek
ontdek dat ek die ondersteuning van die groot Trooster, die Gees
van Christus, nodig het. Hy hou my in kontak met my gekruisigde
en opgestane Here Jesus. Wanneer die stryd hewig word, die
versoekings sterk, sien ek hoe nodig dit is dat God in my lewe
aktief word. Dit doen die Heilige Gees. Hy beloof en gee ’n
nuwe lewe, krag om te stry, geloof en groei. Sonder Hom het ek
geen doel, geen krag, geen blydskap, geen volharding nie. Hy is
God in ons.

Broer, suster, so kom ek dan in kontak met God op drieërlei
wyse. Hy kom steeds nader en nader. Bo my as die Skepper, vir en
met my as Verlosser en selfs in my as Trooster wat my geloof en
volharding skenk. Hy is die begin en die einde. Skepper,
Verlosser en Heiligmaker. Jy kan ook sê: God verbind homself aan
my op drieërlei wyse. Deur die geloof het ek ’n drievoudige
band met God.

Kort voor sy hemelvaart het die Here Jesus sy dissipels belowe:
Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee
om by julle te bly tot in ewigheid. ... Ek sal julle nie as wese
agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. ... In die dag sal julle
weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.

Geliefdes, die Bybel maak dit duidelik dat agter hierdie drie
verhoudings met my daar die drie verhoudings binne God self is.
God die Vader is my liefdevolle Vader. Hy was altyd reeds Vader.
Hy is nie net my Vader nie, maar Hy is in die eerste plek die
ewige Vader van ons Here Jesus Christus. Daarom reik Hy uit na
elkeen wat by sy Seun behoort.

God die Seun is die beeld van die Vader, die ewige Woord.
Verstaan jy waarom die Bybel Jesus die Woord van God noem? Deur
Jesus Christus gee God uitdrukking aan sy gedagtes. Hy is die
beeld van die onsigbare God. In Hom sien jy God. Die Woord het
vlees geword en het onder ons gewoon ... vol van genade en
waarheid. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun
wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar.

En die Heilige Gees gaan uit van die Vader en die Seun. Hy is
een met die Vader en die Seun. Daarom kan Hy ook werklik ons laat
deel in Christus en in God. “Die Gees ondersoek alle dinge,
ook die dieptes van God. ... Niemand weet wat in God is nie,
behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel ontvang die Gees wat
uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade skenk (1
Kor 2:10-12).

Die Drie-eenheid beteken dus nie net dat God drie gesigte het
nie, drie maniere om met ons kontak te hê nie. So is God: Drie-enig.
Vol van liefde en lewe. En so kom Hy ons lewe binne.

In sy werk is God eindeloos: Skepping, Verlossing en
heiligmaking is sy werk. Maar agter die rykdom en oorvloed is
daar die rykdom en oorvloed van sy eie wese. Hy is Vader, Seun en
Heilige Gees. Skepper, Verlosser en Heiligmaker. So is God. Dis
hoe Hy werk.

Vroeër of later kom jy dit as gelowige in jou verhouding met
God agter. Jy ervaar in jou eie lewe die werke van die drie
persone van die heilige Drie-eenheid. Jy ontdek dat hierdie leer
nie net teorie is nie, maar dat God inderdaad so wonderlik ryk en
gevarieer is. Hyself maak seker dat jy dit opmerk en ervaar. Nie
elkeen sal alles verstaan wat ek vanaand probeer verklaar het nie.
Daar kan gelowiges wees wat dink dat dit bo hul koppe gaan. Maar
broer, suster, as jy God ken en liefhet dan sal jy altyd iets van
die grootheid van God herken. Jy kan dit moontlik nie in woorde
uitdruk nie. En al die woorde lyk miskien te moeilik vir jou.

Maar God is jou Skepper bo jou. Jy mag jou by Hom veilig voel.
Hy sorg. Hy is die God wat jou verlos deur Jesus Christus. Jy mag
ervaar dat Hy jou sondes vergewe en jou aanvaar. God vir en met
jou. Hy is die God wat jou troos, in jou woon en jou nooit
verlaat nie. Die God wat jou geloof en kragte gee. God in jou.
Dis hoe Hy is en dis hoe Hy sal wees, ook vir my.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)