Die heerlike posisie van Christus se uitverkore volk

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2007-07-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 12
Preek Inhoud: 

Sondag 12, Vraag en Antwoord 32

Ds C Kleijn - Sondag 1 Julie 2007

Lees: 1 Petrus 2:1-10; Sondag 12, Vraag en
Antwoord 32.
Sing: Ps 118:12,13; SB 8:1,2; SB 27; Ps 89:6,7.

Tema: Die heerlike posisie van Christus se uitverkore
volk

  1. Ons heerlikheid – wat ons is; en
  2. Ons roeping – wat van ons verwag word.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Naam Christen word baie gebruik. In ons land noem die
meeste mense hulleself Christene. Ook in die ander lande word die
naam baie gebruik. Die stryd in verskillende lande word as
’n stryd tussen Christene en Moslems genoem. Mense wat die
Christelike godsdiens aanhang word Christene genoem.

Maar wat behels dan die Christelike religie? Op die vraag kry
’n mens teenstrydige antwoorde. Mense met sterk
uiteenlopende beginsels en oortuigings noem hulleself Christene.

Wie is dan werklik ’n Christen? Is ek ’n ware
Christen?

Die Naam Christen word reeds in die Bybel genoem. Dis duidelik
dat die naam nou samehang met die naam Christus. In Hand 11:26
lees ons dat die dissipels in Antiochië vir die eerste keer
Christene genoem is. Die dissipels, leerlinge, volgelinge van die
Here Christus is Christene genoem. Hulle is genoem na Christus,
die naam wat hulle verkondig. Hulle behoort aan Christus. Uit wat
ons verder in die Skrif lees, weet ons dat die verhouding tussen
Christus en die Christen ’n baie intieme verhouding is. Ek
is net werklik ’n Christen as ek nou aan Christus verbind is.
Ek moet selfs deur die geloof een met Hom wees. As ek nie een met
Christus is nie, dan noem ek myself ten onregte ’n Christen.
Om ’n Christen te wees is nie net om die sogenaamde
Christelike godsdiens aan te hang nie. Om ’n Christen te
wees is om deur die geloof een met Christus te wees as ’n
lewende lidmaat van sy liggaam. So verstaan is dit inderdaad
’n pragtige naam.

Gemeente, die naam Christen is ook op ’n ander manier
’n pragtige naam. Ons kon bv ook na die persoonlike noemnaam
van ons Heiland genoem gewees het, na die naam Jesus. Mense kon
ons bv Jesuïete genoem het of iets dergeliks, soos die
volgelinge van Boeddha Boeddhiste genoem word. Maar dis nie die
geval nie. Ons word Christene genoem na Jesus se amptelike naam,
na die naam wat van sy salwing praat. En dit is pragtig so. Want
as Christus gesalfde beteken dan klink die salwing ook deur in
die naam Christen. As ek aan Christus behoort, dan mag ek ook God
se gesalfde genoem word, ’n Christen.

In 2 Kor 1: 21 noem Paulus ons eenheid met Christus en ons
salwing in een asem: "Maar Hy wat ons, saam met julle,
bevestig in Christus en ons gesalf het, is God." God
bevestig ons in Christus, dws in die gesalfde. Hy maak ons een
met Hom. Bowendien het Hy ons gesalf, vervolg Paulus. God het ons
gesalf tot sy ampsdraers. Ons word geroep en toegerus tot die
oorspronklike drievoedige amp van profeet, priester en koning, in
diens van God. Dis waarop die naam Christen wys.

Vanaand wil ek hieroor die woord van die Here verkondig nav 1
Pt 2. In daardie gedeelte val die nadruk op ons priesterskap. Dit
beteken egter nie dat die profetiese en koninklike aspekte buite
beeld bly nie. Nee, daardie drie aspekte van ons amp, blyk nou
aan mekaar verbind te wees. Ons is mos herstel in ons drievoudige
amp. Wanneer jy een aspek daarvan noem dan kom die ander aspekte
ook in beeld.

Ek verkondig vir julle: die heerlike posisie van Christus se
uitverkore volk

  1. Ons heerlikheid – wat ons is; en
  2. Ons roeping – wat van ons verwag word.

Broers en susters, die apostel Petrus sê pragtige dinge oor
die Christene. Hulle word in hoofstuk 1 vreemdelinge van die
verstrooiing genoem. Vanweë hul geloof in die Here Jesus word
hulle verwerp, verag. Hulle het vreemdelinge in hul eie omgewing
geword. Vervreemd van die mense rondom hulle. Hulle ly ter wille
van Christus. ’n Droewige situasie, sou ’n mens sê.
Maar wat sê Petrus? Hy praat van ’n voorreg. Hy sê: sien
jou isolasie en vervreemding as ’n eer. In hoofstuk 1:3
skryf hy: "Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus
Christus wat na sy groot barmhartigheid ons die wedergeboorte
geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van
Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en
onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat is die hemele
bewaar is vir ons." M.a.w. sien jou posisie as ’n
ereposisie.

Petrus beskryf in hoofstuk 2 verder hierdie heerlike posisie
van die vervolgde Christene. Dit begin reeds in vers 7: "Vir
julle dan wat glo, is Hy, die steen, kosbaar." Die steen.
Waarop wys Petrus? Hy verwys hier na die uitverkore en kosbare
hoeksteen Jesus Christus. Die wat in Hom glo, sal nooit beskaam
word nie. Wanneer ek op Hom bou, sal ek nooit teleurgestel wees
nie. "Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar." Die eer is
vir julle. Dit in teenstelling tot die ongelowiges. Vir hulle is
Christus ’n steen van aanstoot en ’n rots van
struikeling. In ongeloof en ongehoorsaamheid struikel hulle oor
hierdie kosbare steen. Hulle val te pletter teen die Verlosser
van die wêreld.

Maar julle, vervolg Petrus in vers 9, "julle is ’n
uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n
heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die
deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy
wonderbare lig." Wat ’n voorreg is dit om Christen te
wees, ook al word jy moontlik verwerp of bespot deur mense, selfs
deur jou klasmaats of kollegas. Ek weet dat dit nie altyd so voel
nie. ’n Voorreg? Dis nie hoe ons dit gewoonlik ervaar
wanneer mense ons vanweë ons geloof pla, bespot, verneder nie.
Maar dit is tog die werklikheid. Dis ’n voorreg. Hoe dan?
Wel, ek is ’n Christen. In Christus besit ek alles. Mense
hoef nie my jammer te kry nie. Ek het alle rede om die mense wat
my bespot en verag, jammer te kry. Hulle leef nog in duisternis,
sonder God en sonder werklike hoop in hierdie wêreld. Daarom
reageer hulle ook op daardie manier. God het my egter uit die
duisternis geroep tot sy wonderbare lig. Ek is deur Christus
bevry. Verlos van die dodelike duisternis, van die slawerny aan
die sonde en aan Satan. Ek mag geniet van lig en lewe.

Gemeente, Petrus benadruk die groot voorregte van die
gelowiges in teenstelling tot die ongelowiges. Terwyl hulle hul
aan Christus verwond, te pletter val, ontvang ek deur Hom die
grootste eer. Op ’n bondige manier beskryf Petrus die
ereposisie van die kerk van Christus. Hy gebruik uitdrukkings wat
reeds in die OT voorkom. Daar, in die OT, was die heerlike titels
gebruik vir die Joodse volk, God se OT iese verbondsvolk. Neem bv
Eks 19:5,6. Daar sê die Here vir Israel: "Dan sal julle my
eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En
julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n
heilige nasie wees."

Al hierdie titels word nou op die kerk van Christus toegepas,
die kerk uit Jode en heidene. God kies nie net die Jode nie.
Heidene mag ook in Israel se voorregte deel. Die eer is, broeders
en susters, dus ook vir julle as NT iese gemeente van Christus.

Julle is eerstens ’n uitverkore geslag, sê Petrus. Hoe
kom julle aan die eer? Julle is wat julle is, nie deur eie
toedoen nie. Julle het julleself nie tot die ereposisie opgewerk
nie. Julle sou dit nooit kan nie. Wat julle as kerk is, het julle
aan God se verkiesing te danke. Jul geheim is God se liefde, nie
jul eie prestasies of kwaliteite nie. God het julle met sorg
bymekaargebring, as kinders van een Vader, as lede van sy gesin.
God is en bly die eerste. Sy verkiesende liefde.

Hoe merk jy dan God se keuse? Dit blyk uit die feit dat God
met sy woord van genade na jou toekom. Daar is soveel mense wat
die woord nie hoor nie en vreemdes vir God en sy diens bly. Maar
die woord het jou lewe binnegekom as ’n woord wat lewend en
kragtig is. Daarmee het Hy die geloof in jou bewerk. Of glo jy
soms nie? Indien jy wel glo mag jy God se verkiesing in jou
geloof herken. Met sy lewende woord het Hy jou hart en lewe
vernuwe. Sien daar God se verkiesende liefde aktief in jou lewe.
Hy het jou uit die verlore menslike geslag uitgekies om jou te
bevry. Hy het jou uit die sonde dood uitgehaal en jou lewend
gemaak. Wat ’n onverdiende guns en voorreg. Waarom my wel en
soveel ander nie? Waarom bly soveel mense in hul ellende lê
terwyl ek daaruit gered word?

Petrus vervolg: julle is ’n koninklike priesterdom.
Christene is priesters. Verbind aan Christus die groot Priester
oor die huis van God. Maar wat tipeer ’n priester? Dit, dat
jy naby God mag wees, dat jy Hom mag nader, dat jy in die
heerlikheid van sy nabyheid mag staan en werk.

In Israel mog net priesters God in sy heiligdom nader. Dis hoe
dit ook vandag is. Alleen met hierdie verskil, nou is alle ware
gelowiges priesters. Daar is geen spesiale klasse priesters meer
nie. Sedert Christus se voltooide werk mag elke gelowige na vore
kom, as priester en koning. Ons het vrye toegang tot die hemelse
heiligdom, lees ons in Hebr 10, deur die bloed van Jesus. "Laat
ons dan toetree met ’n waaragtige hart in volle
geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van
’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water."

Petrus noem die gemeente ’n koninklike priesterdom. Julle
vorm saam ’n koninkryk van priesters onder die ewige Koning
Jesus Christus. Julle word so ook self koninklik. Julle deel in
die heerlikheid van die koning. Julle geniet van die beskerming
van die koning. Julle mag jul God en koning dien.

Gemeente, Die derde eretitel wat Petrus die kerk gee is:
’n heilige volk. Uit alle volke van die wêreld het God
julle afgesonder om sy volk te wees. God het julle nie net
afgesonder nie, maar Hy het julle afgesonder met die positiewe
doel dat julle daar vir Hom sou wees, tot sy verheerliking. So is
hierdie titel ook nou verbind aan die laaste titel: ’n volk
as eiendom verkry. Julle is God se eiendom, sy kosbaar besit.
Duur gekoop met Christus se bloed. Daarom baie dierbaar vir Hom,
sy privaat besit, waaroor Hy seggenskap het en in wie Hy Hom
verheug.

Aan hierdie pragtige titels voeg Petrus die woorde van vers 10,
waarby hy Hosea aanhaal: "julle wat vroeër geen volk was
nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen
barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is."

Broers en susters, wat ’n heerlike posisie ontvang ons
tog as gemeente van Christus. In Christus mag julle al die
pragtige eretitels besit. Let daarop dat Petrus die heerlikheid
nie in die eerste plek as ’n roeping beskryf nie, maar as
’n werklikheid. "Julle is ’n uitverkore geslag,
’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n
volk as eiendom verkry." Dis die situasie. So is julle. Dit
is julle posisie. ’n Lewende bewys van God se verkiesende
liefde. Onvoorstelbaar! Maar waar in Christus.

Hierdie heerlike posisie het ook gevolge. Ons ontvang hierdie
voorregte nie net vir onsself nie. God het ons afgesonder sodat
ons Hom kan dien as ’n koninklike priesterdom. Hier het ons
die roeping van Christus se uitverkore geslag. Dis die tweede
gedagte. Wat van ons verwag word.

Die gawe en die roeping hang nou saam. Sonder die gawe sou die
roeping onmoontlik wees. Wat doen jy as jy God se gesalfde is, as
jy deur God se woord en Gees sy besondere eiendom geword het? Dan
gaan jy jou tog ook as God se gesalfde en eiendom gedra? As ek
’n priester is, dan gaan ek Hom tog ook as priester dien?
Dis veral die priesterlike diens wat Petrus in hierdie hoofstuk
beklemtoon. Hy praat van die bring van geestelike offers.
Hoofstuk 2:5. "Laat julle ook soos lewende stene opbou, tot
’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om
geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus
Christus." Let op die laaste woorde: deur Jesus Christus.
Hoe kan ek sulke geestelike offers bring wat aan God welgevallig
is? Alleen deur Jesus Christus. Deur die krag wat Hy verleen.
Deur sy Gees. Daarom sê Petrus ook daarvoor: "Kom na Hom,
die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God
uitverkore en kosbaar is." En as daar nog allerlei sondes en
gebreke in my priesterdiens is, dan was Christus dit weg deur sy
bloed. So bly my diens aan God tog waardevol en aanvaarbaar vir
God.

Petrus sê dus: "Laat julle soos lewende stene opbou, tot
’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom om
geestelike offers te bring." Laat jou opbou in Christus. Wys
jouself as ’n lewende lidmaat van sy kerk. Dien mekaar in
die liefde. Dien God as priester. Bring geestelike offers. Jy
hoef nie meer bloedige diereoffers te bring nie, soos dit in die
Ou Testament gebruiklik was. Bring geestelike offers. Wys die
vrug van die Gees. Bring nie net offers aan die Here uit gewoonte
, omdat dit van jou verwag word nie. Gaan nie net kerk toe, bid
nie net tot God, lees nie net uit jou Bybel, omdat jy nie durf om
dit na te laat nie. Bring geestelike offers, sê Petrus. Doen die
dinge uit geloof, van harte, deur die Gees.

En moenie net iets van jou besit gee nie, jou tyd of geld of
energie nie. Nee, gee jouself. Stel jou hele lewe in sy diens.
Soos Paulus skryf in Rom 12:1: "Ek vermaan julle dan,
broeders, by die ontferminge van God dat julle jul liggame stel
as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer –
dit is julle redelike godsdiens." Wat is dus jou redelike
erediens? Dat jy jou liggaam stel as ’n lewende offer. Jou
hele persoon moet op die altaar, jou liggaam met al sy lede en
vermoëns.

Kan jy jou dit voorstel? Om so priester te wees? Om jou hele
persoon aan God te gee. Dit impliseer totale selfverloëning,
totale oorgawe aan God. Dan gaan jy nie uit van wat jy aantreklik
of aangenaam vind nie. Jy wil mos diensbaar wees. Daarom sê jy
voortdurend vir die Here: "Here, hier is ek, tot u diens.
Wat wens U dat ek sal doen? Vra en ek sal dit vir U gee. By die
skool as leerling of onderwyser. By die college, universiteit of
enige ander tersiêre onderwys instelling, as dosent of student.
By die werk, by die huis, in die kerk en in die samelewing. Vra
Here en ek sal dit vir U gee. Niks is net vir my nie. Dis alles
van U. My verstand, my tong, my hande en voete, my oë en ore, my
tyd en geld. Alles behoort aan U. Ek wil dan ook alles in u diens
gebruik, as priester. Uit dank vir u bevryding van my lewe. Ja,
as bewys van u bevryding."

Dit beteken dan dat jy alle boosheid aflê, alle bedrog en
geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery en dat jy sterk
verlang na die onvervalste melk van die woord , dat julle
daardeur kan opgroei (1 Petrus 2:1,2). Bring geestelike offers,
gedra jou as ’n ware priester, wat tot God se beskikking
staan, tot sy diens bereid. Wys die vrug van die Gees: liefde,
blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid,
getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal 5:22).

Gee jouself aan God, nie om sy guns te wen nie. Daardie offers
kan jou nooit met God versoen nie. Christus het dit reeds vir jou
gedoen. Daarom is jy ook ’n koninklike priesterdom. Daarom
het jy reeds vrye toegang tot God. Jou geestelike offers kan net
dankoffers wees. Jy het gesmaak dat die Here goed is. Jy wil dan
jou dank vir sy oorweldigende liefde en genade wys.

Geliefdes, as jy met Christus die gesalfde verenig is, dan is
jy nie net ’n priester nie, jy is dan ook ’n profeet.
God het my uit die duisternis geroep tot sy wonderbare lig. Sou
ek dan nie verbaas wees nie? Wat ’n verlossing!. Uit die
duisternis van verlorenheid tot sy wonderbare lig. En watter prys
het Hy nie daarvoor betaal nie, Christus se bloed. Kan ek dan
stilbly daaroor? Sou ek daardie verlossing wil wegsteek? Dit kan
tog nie! Om in God se lig te leef, kan nie verborge bly nie. Jy
kan dit nie wegsteek vir jou klasmaats, vir jou kollegas nie.
Tensy jy weer vir die duisternis kies. God se lig maak jou tot
’n lig. Wanneer jy deur God gered is, sal jy sy deugde
verkondig. Dis die doel van jou verkiesing deur God, volgens
Petrus, dat jy die deugde verkondig van Hom wat jou uit die
duisternis tot sy wonderbare lig geroep het. Met woord en daad.
God het jou afgesonder vir Homself. Tot sy verheerliking. Dis dan
ook wat ’n verloste kind van God graag wil doen. As profeet
gaan ek sy Naam bely. Ek gaan praat van sy roemryke dade. Ek is
trots op so ’n magtige Skepper en Verlosser. Ek kom op vir
Hom. Ek verheerlik Hom. Ek wil dit met ander mense deel. Ek wil
hê dat ander ook Hom leer ken en saam met my Hom verheerlik.

Broers en susters, as ’n gesalfde van die Here is jy ook
’n koning. Wat doen ’n koning? Hy regeer. Van Christene
kan gesê word dat hulle saam met Christus regeer. Die Christene
wat in Christus gesterf het, regeer reeds met Christus in die
hemel. In beginsel regeer ons as Christene reeds op die aarde.
Wat beteken dit? In Christus, in sy krag, mag ek daagliks stry
teen die sonde en die duiwel. Daagliks oorwinnings behaal. Van
nature is ek ’n verloorder. Maar in Christus mag ek meer as
oorwinnaar genoem word. In Christus leer ek en word ek in staat
gestel om my situasies in die lewe te hanteer. Ek leer om myself,
om my gevoelens, te beheers. Ek leer om nie maar toe te gee aan
my sonde en swakhede nie, maar hulle te bestry. Ek leer om nee te
sê teen die sonde wat my maats so maklik doen, om nee teen
negatiewe groepsdruk te sê. Deur Christus word ek ’n
oorwinnaar. Soos Joh die skryf in 1 Joh 5:4: "Want alles wat
uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning
wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof." Dit is die
oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. My
geloof maak my sterk. My geloof maak my ’n oorwinnaar.
Waarom? Omdat my geloof my met Christus verenig. Uiteindelik is
dit dus Christus wat my ’n oorwinnaar maak.

Broers en susters, hoe ryk is ons om lede van Christus te wees
en om daardeur deel aan sy salwing te hê. In Hom maak die lewe
sin. In Hom het die lewe ’n doel. Ons mag opnuut God se
profete, priesters en konings wees. ’n Ereplek in sy
koninkryk hê.

Dikwels ontdek ek slapheid in my lewe, ’n gebrek aan
geestelike krag, ’n gebrek aan rigting. Hoe kan ek dan die
geestelike lewe weer aanwakker en die geestelike krag herwin? Hoe
kan ek weer rigting in my lewe terugvind? Petrus sou sê: Kom na
Hom toe, die lewende steen. Keer terug na Christus toe. Vertrou
op Hom. Verlang sterk na die onvervalste melk van die woord, dat
jy daardeur kan opgroei. Laat jou deur Christus se Woord en Gees
lei. Ons Kategismus sou sê: Let op jou eenheid met Christus en
jou salwing. Jou salwing stel jou in staat as Christen te lewe.
In antwoord op die vraag: Waarom word jy ’n Christen genoem
bely ons met die Kategismus: “Omdat ek deur die geloof
’n lid van Christus is en daardeur deel het aan sy salwing,
sodat ek sy Naam kan bely, myself as ’n lewende dankoffer
aan Hom kan toewy, met ’n vrye en goeie gewete in hierdie
lewe teen die sonde en die duiwel kan stry om hierna in ewigheid
saam met Hom oor alle skepsele te regeer.”

Alleen deur een met Christus te wees en so deel aan sy salwing
te hê kan ek werklik ’n Christen wees. En my as ’n
Christen wys.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)