Ons vryheid in Christus gee ruimte tot diensbaarheid aan almal

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-10-07
Teks: 
1 Korinthiërs 9:19-23
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 9:19-23

Ds HH van Alten - Sondag 7 Oktober 2007

Lees: 1 Korinthiërs 8:1-9:1;  1 Korinthiërs 9:15-27;  Matthéüs 25:31-46
Teks: 1 Korinthiërs 9:19-23
Sing: Sien liturgie

Tema: ons vryheid in Christus gee ruimte tot diensbaarheid aan almal

  1. Ons vryheid is nie ons s’n nie (vers 19)
  2. Skep in alle gevalle ‘n wen-wen situasie (verse 20-22)
  3. Word ‘n deelgenoot van die evangelie (vers 23)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Een van Maarten Luther se mees bekende geskrifte is getiteld Die vryheid van die christen. Hierin bespreek Luther wat ware vryheid is. En hy begin hierdie geskrif met ‘n baie treffende uitspraak. Hy sê: “Van alle mense is die christen die mees vrye mens, en aan niemand onderworpe nie; van alle mense is die christen die mees pligsgetroue dienskneg, en aan almal onderworpe.” Luther erken dat hierdie twee stellings die indruk wek van teenstrydigheid – immers, die christen is tegelykertyd vry en diensbaar – maar hy gaan voort om aan te toon dat dit nie die geval is nie.  

Want, sê Luther, ons moet ‘n onderskeid maak tussen die gees en die liggaam van die mens. Die liggaamlike dinge, dié dinge wat op ons liggame inwerk – dinge soos kos, klere, gesondheid, siekte ens. – dit is nie die dinge wat die vryheid of slawerny van die christen bepaal nie. Uiterlike dinge bepaal dus nie of die christen werklik vry is, of dat hy ‘n slaaf is nie. Nee, die christen se vryheid is ‘n geestelike vryheid, en dit word verkry deur die Woord van God, die evangelie van Jesus Christus. Soos wat ons lees in Johannes 8:36: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”

Immers, broers en susters, wanneer ons deur die geloof aan Jesus Christus verbonde is, is ons konings saam met Hom, dan regeer ons met Hom oor alle dinge. Soos Paulus sê in 1 Korinthiërs 3:21-23: “… want alles behoort aan julle … of dit die wêreld is of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge – alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus.” Dit gaan hier dus oor ‘n geestelike heerskappy wat regeer te midde van al ons vyande, en wat magtig is te midde van enige moeite. Saam met Christus regeer ons as konings en is ons aan niemand onderworpe nie! Maar – en dit is die ander kant – behalwe dat ons konings is, is ons saam met Christus ook priesters. En dit behels dat, hoewel ons vry is en bo almal staan, ons tog ook diensbaar is aan alle mense.  

Gemeente, dít is nou die dubbele perspektief van die christen se lewe: Koning… maar ook priester! Vry… en tog diensbaar! Dit is dan ook die tema van hierdie volgende preek in die reeks oor diensbaarheid.

Tema: ons vryheid in Christus gee ruimte tot diensbaarheid aan almal

  1. Ons vryheid is nie ons s’n nie (vers 19)

  2. Skep in alle gevalle ‘n wen-wen situasie (verse 20-22)

  3. Word ‘n deelgenoot van die evangelie (vers 23)

1. In vers 19 van ons teksgedeelte sê Paulus eintlik presies wat ons sopas in die inleiding ook Luther hoor sê het. Paulus sê daar: “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak…” Vryheid en diensbaarheid. Dit is egter goed om te verstaan in watter konteks Paulus dit sê. En daarvoor moet ons enkele hoofstukke teruggaan.

In 1 Korinthiërs 7 begin Paulus met ‘n nuwe deel van sy brief aan die gemeente in Korinthe. Ons lees in hoofstuk 7:1: “Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het…” Duidelik blyk dus hier dat die Korinthiërs ‘n brief aan Paulus geskryf het waarin hulle ‘n aantal vrae stel – onder andere vrae oor die huwelik (hoofstuk 7), vrae oor vleis wat aan die afgode geoffer is (hoofstuk 8), vrae oor die erediens (hoofstukke 11-14) en vrae oor die opstanding uit die dood (hoofstuk 15).  

Een van die vrae gaan dus oor die vleis wat aan die afgode geoffer is (hoofstuk 8). En in verband hiermee wys Paulus in hierdie hoofstuk dat daar lidmate in die gemeente in Korinthe is, wat volledig daarvan bewus is dat ‘n afgod in werklikheid niks is nie en dat ‘n afgodsoffer eintlik niks beteken nie. Hierdie lidmate het die nodige kennis om te weet dat daar slegs een ware God is, en dat vleis wat aan sogenaamde afgode geoffer is, hulle niks kan doen nie. Hulle leef in vryheid. Maar, sê Paulus, daar is in die gemeente ook nog steeds mense wat beïnvloed word deur afgodery en deur die voedsel wat aan die afgode geoffer word. Hierdie lidmate het swak gewetens.

Nou waarsku Paulus dié lidmate met kennis dat hulle hul vryheid nie mag gebruik ten koste van die swakker lidmate nie. Hy sê in hoofstuk 8:9: “Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ‘n struikelblok word vir die wat swak is nie.” “Want, sê Paulus dan in vers 10, as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in ‘n afgodstempel, sal sy gewete, as hy ‘n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie?” Jou optrede kan dus meebring dat jou swakker broeder in sonde val en uiteindelik verlore gaan, en dán sondig jy nie slegs teen jou broeder nie, maar meer nog teen Christus (verse 11-12). “Daarom – só sluit Paulus af in vers 13 – as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.” 

En, gemeente, as daar nou iemand was wat vryheid geken het, was dit Paulus – immers, hy was die apostel van Jesus Christus. Kyk maar na hoofstuk 9:1: “Is ek nie ‘n apostel nie? Is ek nie vry nie?” Ja, Paulus het, vanweë sy apostelskap, in hoë mate christelike vryheid besit. En hy wys in die volgende verse ook watter vryhede hy gehad het – die vryheid om te eet en te drink (vers 4), die reg om ‘n suster as vrou saam te neem (vers 5), die vryheid om die hande-arbeid na te laat (vers 6). “Maar – sê hy dan in vers 15 – ék het van geeneen van hierdie dinge gebruik gemaak nie…” Ter wille van die evangelie, ter wille van die gelowiges waaronder hy gewerk het, het Paulus daarvan afgesien om sy vryheid uit te oefen. En daarom dat Paulus in vers 19 kan sê: “alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak.”  

Broers en susters, Paulus se vryheid – as gelowige en as apostel – het nooit vir hom beteken dat hy nou ongebonde is nie, dat hy geen verantwoordelikhede het nie. Vryheid was vir Paulus nooit vryheid om te doen wat hy self wil nie. Dít is hoe daar in die wêreld na vryheid gekyk word: “Ek is vry, dus het niemand die reg om te sê wat ek mag of nie mag doen nie!” Ons hoor dit soms in die kerk ook…

Maar, gemeente, vir Paulus is sy vryheid altyd ‘n vryheid in Christus! Christus het Paulus vry gemaak van die sonde en die dood – daarom dat niemand iets aan hom kan doen nie, niemand kan hom raak nie; ook al ontvang hy amper veertig houe van die Jode, ook al word hy drie maal met stokke geslaan, ook al word hy gestenig, ly hy skipbreuk, bring hy ‘n nag op die diepwater deur; ook al is hy in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van sy volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; ook al ly hy honger en dors, koue en naaktheid (2 Kor. 11:24-27). Dit álles is nie in staat om Paulus se vryheid in Christus van hom weg te neem nie! En tóg – en dit is nou die ongelooflike, gemeente – tóg gebruik hy sy vryheid om aan almal diensbaar te wees.

En nou sou hy graag wou sien dat die gelowiges in Korinthe op ‘n soortgelyke wyse optree; dat hulle bereid sal wees om hulle vryheid te gebruik ter wille van die diensbaarheid aan almal!  

Sien u, broers en susters, dat ons vryheid in Christus nie ons s’n is om daarmee te maak wat ons wil nie! Paulus, wat alle vryhede van ‘n apostel gehad het, sê dat as voedsel sy broeder laat struikel, hy in der ewigheid geen vleis sal eet nie. Paulus, wat vry is van almal, maak homself diensbaar aan almal. Dus, Christus maak my nie vry van die sonde en die dood om nou opnuut myself en die sonde te gaan dien nie; ek is nie ‘n volgeling van Christus wat my eie kop kan volg nie. Nee, vryheid in Christus is altyd vryheid in gebondenheid aan Hom en aan mekaar! Vryheid in Christus beteken dat ek Hom volg en dat ek aan alle mense diensbaar is. Dié twee gaan altyd hand aan hand.

Ons sien dit baie duidelik in Mattheus 25 wat ons saam gelees het. Sowel die skape as die bokke in hierdie verse is verbaas, want Jesus skryf aan hulle iets toe waarvan hulle hulself geensins bewus is nie. Die skape word geprys omdat hulle Jesus te ete en te drinke gegee het, omdat hulle Hom herberg gegee het, geklee het, en besoek het. En die bokke word vervloek omdat hulle geeneen van hierdie dinge gedoen het nie. En beide groepe wonder: maar, Here, waar kom dít vandaan? En dan wys Jesus hoe onlosmaaklik die diens aan Hom verbonde is met die diens aan mekaar: “vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” óf “vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.” Dit is dus nie genoeg om “Here, Here” te sê nie; “Here, Here” moet konkreet word deur: “wat kan ek vir jóú doen, my broeder, my suster”.  

Gemeente, laat ons ons vryheid in Christus gebruik om mekaar te dien. Christus het, deur die geloof, die ondraaglike las van die sonde van jou skouers afgehaal. Waar jy eers gebuk gegaan het onder daardie las, kan jy nou weer regop loop, kan jy nou weer jou kop oplig. En dan sien jy: maar… daardie broeder het my hulp nodig, ek moet daardie gesin gaan dien, hy of sy is in nood. Sien u: vryheid en diensbaarheid – hand aan hand. Meer nog: vryheid ter wille van die diensbaarheid! Alhoewel ek van almal vry is, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win.

Daarop let ons nou vervolgens: skep in alle gevalle ‘n wen-wen situasie. 

2. Paulus wys in verse 20-22 hoe hy te werk gegaan het in sy diensbaarheid, wat sy werkwyse was om soveel as moontlik mense vir die geloof te wen. En die kern van sy werkwyse vind ons aan die einde van vers 22: “vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red.” En Paulus maak dit ook konkreet met betrekking tot die verskillende groepe waaronder hy werksaam was.  

Hy begin in vers 20 met die Jode; hy sê daar: “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win.” Natuurlik was Paulus van geboorte self ook ‘n Jood; dus, in daardie opsig was dit nie vir hom nodig om ‘n Jood te wórd nie. Maar as volgeling van Jesus Christus het hy ‘n nuwe skepsel geword, en was daar vir hom nie meer onderskeid tussen Jood en Griek nie. As volgeling van Christus was Paulus ook nie meer onder die wet nie. En in dáárdie lig kan hy sê dat hy vir die Jode onder die wet ‘n Jood gewórd het.

En gedurende sy bediening het Paulus dit op verskeie geleenthede ook laat blyk. Ons lees byvoorbeeld in Handelinge 16:3 dat hy Timotheus laat besny het ter wille van die Jode wat in daardie streke was. Hy was geensins verplig om dit te doen, maar in sy diensbaarheid is Paulus bereid om dit te doen. En ons sien ook in Handelinge 21 dat Paulus, na aanleiding van gerugte dat hy die Jode onder die heidene leer om van die wet van Moses afvallig te word, bereid was om homself saam met vier ander manne wat die Nasireër-gelofte afgelê het, te reinig en hulle kostes in hierdie verband te dra – net sodat die vrede onder die joodse christene herstel en bewaar kan word. In sy omgang met die Jode het Paulus hom dus aangepas aan Joodse praktyke, net sodat hy dié wat onder die wet was, met groter aanvaarbaarheid kon benader en hulle sodoende vir die evangelie van Jesus Christus kon wen.  

Dieselfde doen Paulus ook met dié wat sonder die wet is (vers 21) – dit is die heidene, dié wat dus nie die wet van Moses ontvang het nie. Ook ter wille van húlle pas Paulus homself aan. Wanneer hy met heidene omgang gehad het, het hy die joodse lewensstyl laat vaar, en het hy die heidene nie onder die Joodse wet geplaas nie – dit is juis ook waaroor Paulus vir Petrus vermaan het in Galasiërs 2:11-14. Paulus soek dus daarna om die heidene op húlle gronde te ontmoet. Dit sien ons byvoorbeeld in Handelinge 17:22 e.v. wanneer Paulus sy prediking tot die Atheners aanpak vanuit hulle eie godsdienstigheid, en spesifiek ook die altaar aan die onbekende God ter sprake bring. Daarmee wil Paulus nie die indruk skep dat hy ‘n wettelose is nie; nee, sê hy, ek het wel ‘n wet, die wet van Christus. Dit is die wet van die liefde, en daaronder staan ons almal. Maar ek is nie van plan om heidene onder ‘n wet te plaas wat in Christus tot vervulling gekom het nie.  

En ten slotte pas Paulus sy werkwyse ook nog toe op die swakkes in die gemeente (vers 22) – dit is die christene met swak gewetens wat nog onder die invloed van die afgode gestaan het. En as ons mooi opgelet het, sal ons sien dat Paulus hier die sirkel voltooi, waarmee hy in hoofstuk 8 begin het. Hy kom terug by dieselfde onderwerp as in hoofstuk 8, naamlik die omgang met die swakkeres in die gemeente. En daaroor sê Paulus: vir hulle word ek ‘n swakkere – ek sal in der ewigheid nie vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie (8:13). 

Gemeente, ten opsigte van al die verskillende groepe wys Paulus sy bereidheid om aan te pas, wys hy sy bereidheid om diensbaar te wees aan almal. Maar hoekom? Het hy dit gedoen om in te wees? Was hy ‘n man van kompromieë wat met alle winde van lering saamgewaai het? Nee, dit nooit nie! Paulus kon uiters skerp wees wanneer Christus en die evangelie op die spel gestaan het. So lees ons byvoorbeeld in Galasiërs 1:8: “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” Dus, van aanpassing van die boodskap van die evangelie is daar by Paulus geen sprake nie. Die evangelie van Christus het vir hom bo alles gestaan.

Maar juis ter wille van die deurwerking van dáárdie suiwer evangelie pas Paulus homsélf aan. En daarin volg hy in die voetstappe van die Here Jesus – immers, Jesus het tydens sy lewe op aarde saam met hoere en tollenaars geëet, Hy het bekend gestaan as hulle vriend. Jesus het water gedrink saam met die Samaritaanse vrou, iets wat ongehoord was in daardie tyd. Jesus het die Fariseërs beveel om die keiser te betaal wat hom toekom, en om aan God te gee wat aan God behoort. Só het Jesus die voorbeeld gestel van aanpassing aan die kultuur en tyd waarin Hy die evangelie verkondig het. En dít terwyl die evangelie onveranderd gebly het!

So ‘n houding openbaar Paulus nou ook. Paulus wil hê dat die evangelie kan deurdring in die lewens van alle soorte mense, sonder dat menslike byvoegsels of gewoontes daarby ‘n verhindering is. Want as Paulus nou vir die heidene, die Grieke, sou gesê het dat hulle die joodse lewenspatroon moes oorneem, dan sou hulle mos ‘n verkeerde beeld van die evangelie gekry het? As hy van die Jode sou verwag het om hulle joodse lewenspatroon op te gee en nie meer soos Jode te lewe nie, dan sou hy mos vir hulle die weg na Christus geblokkeer het? 

En, gemeente, hierin lê vir ons vandag so ‘n belangrike les: so dikwels verwag ons van mekaar in die gemeente dinge wat Christus ons nie oplê nie, en word ons op grond daarvan beoordeel as regsinnig of vrysinnig; en so dikwels verwag ons van mense wat tot bekering kom en deel word van die liggaam van Christus dat hulle allerhande reëls en gewoontes, wat ons opgestel het en wat nie die kern van die evangelie raak nie, sal nakom. Maar daardeur wen ons nie mense vir Christus nie! Ja, ons wen hulle miskien vir onsself, vir óns kerk met sy eienaardighede, maar nie vir Christus nie.

Laat ons daarom die weg na Christus nie blokkeer nie – nie vir mekaar nie, ook nie vir die persoon daarbuite nie. As ons in aanraking kom met mense wat die persepsie het dat dit in die christelike geloof net oor reëltjies en wette gaan, dan help dit nie ons begin deur ‘n klomp reëls en regulasies aan hulle op te dra nie. As ons in aanraking kom met mense in die gemeente wat angsvallig vashou aan ou tradisies en patrone, dan help dit nie ons spreek hulle op ‘n onsensitiewe manier daaroor aan nie. As ons te make kry met buitekerklikes, dan wys ons vir hulle nie die weg na Christus wanneer ons óns tradisies as norm aan hulle voorhou nie. In sulke gevalle leer Paulus ons om aan te pas. Nee, nie die evangelie aan te pas nie, maar onsself aan te pas, onsself te buig ooreenkomstig die situasie. In sulke gevalle word van ons gevra om elasties te wees in ons omgang met mense.  

Paulus was die eerste om, waar beginsels ter sprake was, die waarheid vas te hou ten alle koste, ook al kon dit sy lewe kos. Maar waar daar geen beginsels op die spel was nie, was hy bereid om tot die uiterste te gaan om mense in hulle omstandighede te ontmoet. Laat daardie selfde gesindheid in ons wees om onsself aan te pas en onsself as slawe in ander se diens te stel om soveel as moontlik mense te red. En dit ter wille van die evangelie, in diens van die vryheid wat Christus vir ons verwerf het! Só skep ons ‘n wen-wen situasie: enersyds kry die evangelie – menslik gesproke – alle kans om deur te werk, en is daar vir die evangelie geen blokkering van ons kant af nie; en andersyds kan op dié manier soveel as moontlik mense gered word.

Broers en susters, ken ons hierdie elastisiteit? Is u, is jy bereid om agteroor te buig om sodoende ‘n broer of ‘n suster voort te help op die weg na Christus toe? Is ons bereid om buigbaar te wees in bysake wanneer ons met iemand omgaan wat sopas tot geloof gekom het, of as ons met iemand omgaan wat belangstelling toon in die geloof? Laat ons onsself oefen in hierdie elastisiteit deur vir onsself duidelikheid te kry oor wat die evangelie is, en wat bysake is. So word ons diensbaar, én aan Christus ter wille van die evangelie, én aan alle mense ter wille van hulle saligheid.

Ten slotte: word ‘n deelgenoot van die evangelie. 

3. Gemeente, al hierdie aanpassings, waaroor ons in die vorige punt gehandel het, doen Paulus ter wille van die evangelie. Paulus is ‘n nederige dienaar van die evangelie wat tot die uiterste sal gaan solank as wat die evangelie maar net verkondig word. Paulus het nie iets soos diskriminasie geken in sy verbreiding van die evangelie nie.

Nou sou ‘n mens verwag dat Paulus aan die kortste end gaan trek in hierdie poging van hom om diensbaar aan alle mense te wees. Dit is dikwels hoe óns in sulke situasies redeneer: ek is nie bereid om agteroor te buig vir hom of haar nie, ek kan nie bly gee en niks terug kry nie, ek trek elke keer aan die kortste end. En hoewel ons Paulus bewonder vir sy houding, weet ons nie of ons bereid is om dieselfde houding aan die dag te lê nie.  

Maar, gemeente, dan is dit opvallend dat Paulus juis nie aan die kortste end trek nie, hy is nie die verloorder nie. Inteendeel, hy is die begunstigde! Hy trek voordeel uit die seëninge wat gepaard gaan met die verkondiging van die evangelie. Elke keer wanneer iemand tot geloof in Jesus Christus kom, is daar vreugde en blydskap in die Here. En as verkondiger deel Paulus in die feesvieringe. Letterlik staan daar dat hy ‘n vennoot is in die seëninge van die evangelie.

Broers en susters, wie homself werklik diensbaar stel aan alle mense ter wille van die evangelie sal ervaar watter seën daaruit voortspruit vir hom of haar. Elke keer wanneer ek diensbaar is aan my broer of suster ter wille van die evangelie, ook al gaan dit gepaard met groot aanpassing en opoffering van my kant af, dan beleef ek die vreugde van die werk van God in die lewe van daardie persoon. Elke keer wanneer God my diensbaarheid wou gebruik om ‘n persoon tot bekering te bring en te red, dan vier ons fees omdat nog ‘n siel gered is.

Broers en susters, waar daar op dié manier in die gemeente ‘n netwerk van diensbaarheid groei, waar ‘n kris-kras van hulp en diens en omgee sigbaar word, dáár groei ook die vreugde in die gemeente, en word ons ‘n feesvierende gemeente. Diensbaarheid bring nie gesug nie; nee, diensbaarheid bring groot vreugde! Soos wat ons sing in Psalm 87: “… en singend, juigend klink die lofstem daar: ons heilsfontein stroom neer uit Sions walle!” Almal saam is ons dan vennote in die seëninge van die evangelie. Toets dit maar uit, probeer dit ‘n slag…

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 103:1, 3 en 4
Wetslesing (+ v/a 109)
Sing Ps. 50:8-11
Gebed
Lees:  1 Korinthiërs 8:1-9:1
      1 Korinthiërs 9:15-27
      Mattheus 25:31-46
Sing Skr. 16:3-5
Teks: 1 Korinthiërs 9:19-23
Preek
Amenlied Skr. 41:1, 2, 5 en 7
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 87:2, 4 en 5 (ons sing van die feit dat ons almal saam deelgenote in die heil is)
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)