2 Korinthiërs 4:5
Ds HH van Alten - Sondag 21 Oktober 2007 - Verkiesing van ampsdraers
Lees: 2 Korinthiërs 4:1-15; 11:1-15; 12:1-10
Teks: 2 Korinthiërs 4:5
Sing: Sien liturgie
Tema: Die ampsdraers is diensknegte om Jesus wil!
- Hulle laat die lig van die evangelie skyn,
- in die besef van hulle eie swakheid,
- ter wille van die lewe van die gemeente en die eer van God.
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
In ons tyd word daar groot klem geplaas op die belangrikheid van leiers in die kerk – die kerk het sterk leiers nodig. Hierdie klem is veral afkomstig vanaf kerke in Amerika, maar uiteraard werk dit deur na ander dele van die wêreld. Ook in ons eie land is dit sigbaar. En die gevolg hiervan is ‘n toenemende fokus om die leierseienskappe van voorgangers en ampsdraers te ontdek en te bevorder. Ons sien byvoorbeeld dat predikante, ouderlinge en diakens gestuur word vir kursusse in leierskap, en ons sien dat teologiese studente spesifiek gevorm word om leiding te kan gee aan die gemeente van Christus.
Maar, broers en susters, is dít wat die kerk nodig het? Leiers? Dit klink op sigself baie mooi, maar ons moet duidelik raaksien wat die gedagte is agter hierdie klem op leierskap. Die belangrikste gedagte agter hierdie klem op leierskap – en dit kom vanuit die bestuursdenke in die besigheidswêreld – is die gedagte van ‘maakbaarheid’. Net soos wat ‘n maatskappy vanaf dreigende bankrotskap deur ‘n goeie leier opgehef kan word totdat dit goeie winste vertoon, só kan ons die kerk deur goeie leierskap uit sy betreurenswaardige posisie in die samelewing ophef tot ‘n posisie van aansien. Ons kan die kerk ‘maak werk’! En ons moet toegee, dat as ons na die toestand van sommige kerke in die wêreld kyk, dan lyk dit na die enigste manier om die afgang van daardie kerke te stuit – sterk, positiewe leiers.
Maar, gemeente, die Here Jesus leer ons in Mattheus 23:8 dat ons slegs een Leier het – Hy self! “Een is julle leermeester … en julle is almal broeders.” Die kerk van Christus het dus nie leiers nodig nie; immers, die leiding van die kerk is mos in goeie hande. Ons bely dit ook in Sondag 21: Christus vergader, beskerm en onderhou sy kerk. Nee, die kerk het dienaars nodig! Nederige diensknegte wat bereid is om instrumente in die hande van Jesus Christus te wees. En ons gaan hulle net hierna verkies: diensknegte om Jesus wil, vir die amp van ouderling en diaken.
Kom ons luister daarom, as afsluiting van ons reeks preke oor diensbaarheid, na die Woord van die Here oor die diens van die ampsdraers.
Tema: die ampsdraers is diensknegte om Jesus wil!
-
Hulle laat die lig van die evangelie skyn,
-
in die besef van hulle eie swakheid,
-
ter wille van die lewe van die gemeente en die eer van God.
1. Uit sy tweede brief aan die Korinthiërs is dit baie duidelik dat teenstanders van Paulus hulle in die gemeente van Korinthe tuisgemaak het, teenstanders wat daarop uit was om die persoon en amp van Paulus te minag; in sy afwesigheid het hulle ‘n openlike aksie teen Paulus gevoer. Op indrukwekkende wyse het hierdie teenstanders hulleself aan die gemeente gepresenteer, en daardeur die evangelie wat Paulus verkondig het, in diskrediet gebring. Lees maar hoofstuk 10:10: “Want die briewe, sê hulle, is wel gewigtig en kragtig, maar die persoonlike teenwoordigheid is swak en die woord niks werd nie.” Paulus en sy boodskap was dus eintlik van ‘n minderwaardige kwaliteit… Verder het hierdie teenstanders die gemeente in Korinthe beïndruk met hulle joodse afkoms, soos wat ons kan aflei uit hoofstuk 11:22: “Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook.” En daarby het hierdie teenstanders hulle ook nog daarop beroem dat hulle besondere openbarings ontvang, soos wat blyk uit hoofstuk 12:1-6, wat ons saam gelees het. Hier was dus mense wat vir die gemeente in Korinthe gesê het: “Hierdie Paulus is nie werklik ‘n apostel nie, hy vertoon dan niks van die uiterlike tekens van ‘n apostel nie; nee, kyk na ons!”
Broers en susters, kennende die gemeente van Korinthe was hulle uiters vatbaar vir hierdie soort van indrukwekkende uiterlike vertoon. Paulus, wat verder nie ‘n baie indrukwekkende figuur was nie, het in hulle oë maar sleg afgesteek teen hierdie teenstanders. En u verstaan waarskynlik die dilemma waarin hierdie situasie Paulus geplaas het – hy was geensins van plan om sy eie persoon in die kollig te plaas nie, en tóg het hy verplig gevoel om homself te verdedig! Want dit het nie slegs oor sy persoon gegaan nie; nee, in die vernedering van sy persoon en sy apostelskap het hierdie teenstanders sy evangelie verdag gemaak! Dít was Paulus se dryfveer…
Nou moet ons nie dink, gemeente, dat hierdie teenstanders ‘n ander leer gebring het nie; nêrens in hierdie tweede brief is daar aanduidings van ‘n valse leer nie. Nee, dit nie. En nogtans het die gevaar gedreig dat die gemeente van Korinthe, onder invloed van hierdie teenstanders, sou oorgaan na ‘n ander Jesus, ‘n ander gees, ‘n ander evangelie (2 Kor. 11:4). En die rede daarvoor, is dat die teenstanders se hoogmoedige houding en instelling gedreig het om die gelowiges in Korinthe af te trek van die eenvoudige diens aan Christus. Die gevaar het gedreig dat die gemeente gedegradeer sou word tot ‘n groep ondersteuners van gesiene en indrukwekkende persone. By hierdie “valse apostels, bedrieglike arbeiders” – soos wat Paulus hulle in hoofstuk 11:13 noem – het die hele gees van die evangelie verander.
Die gees wat naamlik pas by verkondigers van die evangelie, is dat hulle diensbaar aan daardie evangelie is! Mense wat Christus mag verkondig, is slegs dienaars wat na Hóm verwys. Paulus gebruik hiervoor in hoofstuk 11:2 die beeld van ‘n bruid wat aan haar man verbind word. Hy sê daar: “… ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.” En in hierdie proses om die bruid aan die bruidegom te verbind, is hy, Paulus, slegs die tussenpersoon, en die tussenpersoon verdwyn in die agtergrond wanneer die verbinding tussen bruid en die bruidegom werklikheid geword het. En daarom mag die gemeente van Korinthe haar nie vergaap aan mense, aan die tussenpersone, nie. Indien sy dit wel sou doen, sou sy in feite die band met Christus en met sy evangelie van genade verbreek.
Broers en susters, Paulus wil dus vir die gemeente van Korinthe, maar ook vir sy hoogmoedige teenstanders, duidelik maak dat die ampsdraer altyd ‘n dienaar van Christus en van die gemeente is. En, ja, Paulus self moes dit ook leer… Ons het daarvan gelees in hoofstuk 12. Die Here het hom doelbewus ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan om hom met die vuis te slaan, sodat hy klein en nederig sou bly. En toe Paulus tot die Here gebid het om hierdie doring van hom weg te neem, was die Here se antwoord: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.”
Toe Paulus dít verstaan het, toe het sy swakhede, sy mishandelinge, node, vervolginge en benoudhede – dit alles het toe sy roem geword. Hy het besef dat sy krag as dienaar van die Gekruisigde juis lê in sy swakheid: “Want as ek swak is, dan is ek sterk” (12:10). Die doel van Paulus se tweede brief aan die Korinthiërs is daarom ook om die verband duidelik te maak tussen die krag van Christus, en die swakheid van die dienaar. In sy bespotte swakheid was Paulus die grootste van al die apostels, die pionier vir die christendom, en die voorbeeld vir elke ampsdraer wat ná hom sou volg.
En, gemeente, dit is dan ook wat op ‘n besondere wyse in 2 Korinthiërs 4, ons Skrifgedeelte, na vore kom. In ons teksvers sê Paulus: “… ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.” Paulus en sy kollegas bied hulleself dus aan as diensknegte van die gemeente, hulle is daar om die gemeente te dien. En hoe doen hulle dit? Deur die kollig op Christus te skyn, of in die woorde van vers 2: deur die waarheid aan die lig te bring. Niemand anders as jyself word gedien wanneer jy, as ampsdraer, die kollig op jouself plaas nie; wanneer jy dít doen, is jy egter nie meer ‘n dienaar nie, maar is jy soos een van Paulus se teenstanders wat hóm afgekraak het om hulleself te verhoog. Hierdie teenstanders het in listigheid gewandel en die woord van God vervals (vers 2). Listigheid is ‘n kenmerk van die duiwel – Paulus verwys daarna in hoofstuk 11:3, waar hy sê: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak…” En verder dui ‘vervalsing van die woord’ op handelaars wat probeer om hulle handelsware te verkoop, deur dit mooier te maak as wat dit in werklikheid is.
Maar dit is nie hoe Paulus te werk gegaan het nie. Paulus het niks gedoen om die lig van die evangelie, die lig van Jesus Christus, te verduister nie. Hy het op geen enkele manier ‘n bedekking op daardie lig geplaas nie. Die enigste bedekking wat daar, volgens Paulus in verse 3 en 4, nog was, was die bedekking van die ongeloof. En die oorsaak daarvan het nie by hom gelê nie, maar by die hoorders. Hy het te alle tye die lig in sy volheid laat skyn.
Die beste manier waarop ampsdraers dus die gemeente kan dien, is deur Jesus Christus in waarheid te verkondig, deur alle aandag op Hóm te vestig, nie op jouself nie. Soos wat Johannes die Doper in Johannes 3:30 sê: “Hy moet meer word, maar ek minder.” Dít is die grondhouding wat die Here van ons vra, wanneer Hy ons as instrumente in die ampsdiens wil gebruik.
En, broeders ampsdraers, asook dié wat vandag verkies gaan word, dít is presies julle taak: laat die lig van die evangelie skyn, plaas die kollig in al u ampswerk volledig op Christus. Só dien u hierdie gemeente die beste – deur tydens huisbesoeke, gesprekke in die gemeente, in besluite as kerkraad, niks anders te weet nie as Jesus Christus en Hom as die gekruisigde. Laat ons onsself wegsyfer, sodat Christus aan die woord kan kom. U is die tussenpersoon wat die gemeente as bruid aan haar hemelse Bruidegom moet verbind – deur te vermaan, deur te vertroos, deur te bemoedig. Maar in daardie huweliksverhouding verdwyn die tussenpersoon, hy syfer homself weg. En elke keer as die gemeente of ‘n gemeentelid dreig om die tussenpersoon in die kollig te plaas, dan wys hy: nee, nie hier nie, dáár is jou Bruidegom, dáár is jou Geliefde!
Slegs só is ons egte dienaars. En as u uself daarin onbekwaam voel, gaan dan na die God van die lig, die God wat – volgens vers 6 – gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn. Paulus verwys hier doelbewus terug na die skepping, na die Skepper-God, wat gesê het: “Laat daar lig wees! En daar was lig.” Dit is Hy wat die harte van sy dienaars verlig met die kennis van sy heerlikheid, juis sodat hulle daardie lig kan versprei. Terwyl satan die menslike verstand verblind (kyk maar na vers 4), is dit God wat die harte verlig deur sy Woord: “U woord is ‘n lamp vir my voet, en ‘n lig op my pad.” Bly by daardie lig, en kry daarin alles wat u nodig het vir u werk as dienaars om Jesus wil.
En gemeente, moet u nie, soos die Korinthiërs laat verlei deur uiterlike vertoon nie. Ywer daarvoor dat die ampsdraers u dien met die Woord alleen! En as hulle dít doen, eer hulle daarvoor, want dan is hulle besig om vir u die lewe te gee.
Vervolgens: die ampsdraers is diensknegte in die besef van eie swakheid.
2. Paulus het in vers 6 gewys dat God in die harte van sy dienaars skyn om hulle die nodige kennis te gee vir hulle dienswerk. Maar hy is baie vinnig om daarna in vers 7 te wys dat die dienaars steeds swak mense bly. Hy gebruik in hierdie vers die beeld van erdekruike, of in gewone taal: klei potte. Dit is dus ‘n alledaagse beeld. Mense het in die bybelse tye klei potte gebruik om allerhande dinge in te bewaar – van skatte tot waardelose besittings, van kos tot drinkgoed. En omdat hierdie potte van klei vervaardig was, het dit maar al te maklik gebreek, en daarom was dit goedkoop en is dit redelik gereeld vervang.
En, gemeente, so was en is dit ook met die dienaars van die evangelie. Paulus se eie lewe was by uitstek die bewys van die kwesbaarheid en swakheid van die evangelie-dienaars. En hy wys dit vervolgens in verse 8-11 – hy is verdruk, vervolg, neergewerp, oorgelewer in die dood. En die ampsdraers is vandag nie beter daaraan toe nie. Ook in die ampsdraers van hierdie gemeente het ons te make met swakheid. Swakheid omdat hulle mense is – hulle weet nie alles nie, hulle dra nie altyd kennis van u moeites of siektes nie, hulle sien nie altyd raak dat u in nood is nie, hulle tyd is beperk, en hulle eie lewensomstandighede maak dat hulle soms met groot opoffering hulle ampswerk moet verrig.
Maar daarby ook nog swakheid omdat hulle sondig is – hulle is soms onwys in hulle woorde, hulle is soms liefdeloos, hulle maak soms verkeerde beslissings – en dalk was u al aan die ontvangkant daarvan. Hou hiermee rekening, broers en susters. U ontvang die evangelie in erdekruike, breekbare en swak klei potte. En u kan die broeders maar vra: só ervaar hulle ook dikwels hulleself – swak en beperkte mense wat ‘n onberekenbare skat ronddra en probeer uitdra.
Maar dit is nog geen rede om die kleipotte as nutteloos weg te gooi nie. Dit was immers God se keuse om sy skat juis daarin te bewaar. Hy het gekies vir eenvoudige broeders as ampsdraers. En die rede? Lees maar die einde van vers 7: “… sodat die voortreflikheid van die krag van Gód mag wees en nie uit ons nie.” God het gekies om deur swak en sondige mense sy evangelie tot ons te laat kom om daarin sy ongelooflike krag ten toon te stel, sodat alle mense kan sien dat Gód, en nie mense nie, die bron van die evangelie is. God se krag word in mense geopenbaar wat, in die oë van die wêreld, geen betekenis het nie.
Kyk maar na die dissipels, eenvoudige vissermanne, wat, vervul met die Heilige Gees, die evangelie tot aan die eindes van die aarde uitgedra het (Hand. 1:8). Kyk na Jason en ‘n paar van sy mede-christene wat voor die stadsowerhede van Thessalonika gesleep word met die indrukwekkende beskuldiging dat hulle die wêreld in opstand bring (Hand. 17:6). Eenvoudige manne wat die wêreld in opstand bring!? En wat van Paulus wat geensins indrukwekkend was nie en nie werklik goed kon praat nie, en tog het hy die evangelie verkondig, gemeentes gestig, en briewe geskryf wat oral in die wêreld van daardie tyd gesirkuleer het en gelees is. Goddelike kragte was hier werksaam.
Sien daarom in hierdie manne die krag van God, broers en susters! Die krag waarmee Hy hemel en aarde deur sy woord geskape het, die krag waarmee Hy Israel uit Egipte gelei het, die krag waarmee Hy Jesus uit die dood opgewek het, die krag waarmee Hy die moordenaar Saulus geroep het om vir Hom Paulus onder die heidene te wees. En dit is daardie krag waardeur Hy gewone mense gebruik om die wonder van die evangelie aan u oor te dra. Die prediking is gebrekkig – maar nogtans is dit die krag van God vir elkeen wat glo. Die huisbesoeke is gebrekkig, en tog lê daarin God se krag om ons op sy weg te hou. Die vermaning, die bemoediging, die tugtiging – daarin is soveel foute, en tog wil God sy krag in hierdie swakheid openbaar.
Gemeente, die skat van die evangelie kom na u in erdekruike. En die erdekruike vergaan, hulle word vervang met ander. Deur alle eeue se kerkgeskiedenis het die klei potte gekom en gegaan, maar die evangelie het onverstoord sy pad voortgesit. Die skat bly! Daarin prys ons die krag van God. En daarin eer ons ons ampsdraers wat die skat vorentoe dra. Slegs op hierdie manier, broers en susters, is daar lewe vir die gemeente, en slegs op dié manier kry God al die eer wat Hom toekom
Daarop let ons ten slotte: ter wille van die lewe van die gemeente en die eer van God.
3. Die tweeledige doel van hierdie werkswyse van die Here, naamlik om die skat in erdekruike te plaas, dus om swak mense te gebruik om die evangelie deur te gee, is dat daar enersyds lewe is vir die gemeente, en andersyds – en die belangrikste – dat God die eer ontvang. En dit is ook Paulus se konklusie in vers 12 en vers 15. Kom ons kyk eers na die lewe vir die gemeente…
Tot dusver het Paulus net oor hom en sy kollega-apostels gepraat, maar nog nie oor die ontvangers van sy brief nie. Nou wys hy dat hy, met alles wat hy tot dusver oor homself en sy medewerkers gesê het, die welstand van die gelowiges op die oog het. In vers 12 sê hy: “So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.” Paulus is dus ‘n swak mens, hy staar selfs die dood in die gesig, maar hy verdra dit alles ter wille van die gemeente. En ons sien dit baie duidelik in Paulus se lewe, byvoorbeeld in Handelinge 16. Daar, in Filippi, word Paulus en Silas met stokke geslaan en in die tronk gegooi – sonder om iets te sê. Maar toe die Romeinse owerhede die volgende dag agterkom dat Paulus en Silas eintlik Romeinse burgers is, was hulle baie bang en het hulle dit nie gewaag om iets aan die christene in Filippi te doen nie. Deur stil te bly oor hulle Romeinse burgerskap, iets waardeur Paulus en Silas eintlik vrystelling van lyfstraf gehad het, het hulle die gemeente in daardie stad gedien.
Paulus wys dus dat hy en sy mederwerkers se verkondiging van die evangelie ter wille van die gemeente is. Dit sê hy dan ook letterlik in vers 15: “Want dit is alles om julle ontwil…” Paulus sit sy hele lewe en werk in vir die gemeente van Korinthe, en natuurlik ook vir die ander gemeentes. Hy wil hê dat soveel as moontlik mense die genade kan ontvang, en hy wil hê dat dié wat die genade reeds ontvang het, daarin sal groei.
Broers en susters, dit is dan ook die doel van die werk van die ampsdraers, naamlik die welstand en opbou van die gemeente. Ons, u en ek, word daardeur gedien wanneer daar getroue ampsdraers in die gemeente is. Want hulle soek, in diens van die Here, ons welstand. Hulle soek op wie siek is, sodat die siekes nie moedeloos word nie. Hulle vermaan wie in sonde lewe, sodat die sondaar nie sterwe nie. Hulle bemoedig wie swak is in die geloof, sodat die swakke nie die geloof verloor nie. En u mag weet dat dit ‘n vraag is wat ook telkens op kerkraadsvergadering gevra word: waardeur word die gemeente gedien? Wat dien tot opbou van die gemeente? Is hierdie besluit werklik tot opbou van die gemeente? Dus, die werk van die ampsdraers is nie iets wat niks met u te make het nie; inteendeel, dit het alles met u te make, u lewe hang vir ‘n deel af van die diens van die ampsdraers. Daarom dat hulle ook eendag verantwoording sal moet doen van die siele wat aan hulle toevertrou is.
En dan, gemeente, die uiteindelike doel waarna alles strewe: die eer van God. God soek getroue dienaars, want deur getroue dienaars kom daar lewendige gemeentes, en deur lewendige gemeentes kry Hy die eer en die dank wat Hom toekom. Paulus verwoord dit op ‘n besondere wyse in vers 15. Hy sê daar: “… sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot heerlikheid van God.” Hoor u dit? Groter, baie, oorvloedig. Dus Paulus sê eintlik: Meer en meer genade, by meer en meer mense, tot meer en meer danksegging aan God.
En dit is ten slotte die doel van ons lewe en werk. Dit is waarvoor die ampsdraers hulle werk doen, en dit is waarvoor ons almal lewe: die eer van God. En gemeente, waar ons nou aan die einde gekom het van die reeks preke oor diensbaarheid, tref ons hier die gevoelige snaar. Ons is almal diensknegte van ‘n baie groot God. Meer nog: ons is gewillige diensknegte omdat hierdie groot God bereid was om in Christus Jesus diensbaar te word aan ons. Hy was die Kneg van die Here wat met sy lewe en bloed ons voete kom was het. Hy het ons kom bevry van die slawerny van die dood, om diensknegte te word van die Lewe! En gevolglik is ons ook mekaar se diensknegte, bereid om vir almal alles te word om mekaar vir Christus te wen.
Diensbaarheid – die basishouding van die christen. Dieselfde houding sien ons ook in die hemel wanneer die skare om die troon in eerbied neerval voor die Lam om sy lof te besing: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Skr. 45:1, 10 en 12
Wetslesing (+ v/a 112)
Sing Ps. 101:1, 3-5
Gebed
Lees: 2 Korinthiërs 4:1-15
2 Korinthiërs 11:1-15
2 Kornithiërs 12:1-10
Kollekte
Sing Ps. 145:2, 5 en 9
Teks: 2 Korinthiërs 4:5
Preek
Amenlied Ps. 22:9-11
Gebed
Slotsang Ps. 138:3 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)