Markus 9:21-24
Ds HH van Alten - Sondag 11 November 2007 - Viering van die heilige Nagmaal
Lees: Markus 9 : 14-29
Teks: Markus 9 : 21-24
Sing: Sien liturgie
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Waaroor gaan dit in Markus 9:14-29 wat ons sopas saam gelees het? Nie so ‘n moeilike vraag nie, sou baie van ons sê. Dit gaan mos oor die seun wat maansiek was en wat deur Jesus genees is. Maar, gemeente, wanneer ons noukeuriger na hierdie gedeelte kyk, sal ons sien dat die siekte en genesing van die seun slegs die agtergrond vorm van ‘n verhaal oor ‘n baie ernstiger aangeleentheid. Jesus se fokus in hierdie stukkie geskiedenis is nie soseer die siek seun nie, maar eerder die “ongelowige geslag” waarvan Hy in vers 19 praat. Erger nog as die swaar vorm van besetenheid waaraan die seun gely het, is die feit dat hier ‘n volk is wat ‘besete’ is van ongeloof! En dáárop rig Jesus sy aandag. Kom ons kyk wat hier gebeur…
Wanneer Jesus van die berg af terugkom, sien Hy ‘n groot toeloop van mense. En in die middel van hierdie groep mense staan die skrifgeleerdes, besig om met sy dissipels te twis. En dan is dit opvallend om te sien hoe die mense reageer wanneer hulle Jesus raaksien. Ons lees in vers 15 dat hulle verbaas was; ons kan dit nog sterker vertaal met “verskrik wees” of “ontsteld wees”. Maar hoekom is die skare so verbaas en geskok?
Wel, ons kan aflei dat hulle Jesus nie meer terug verwag het nie. Want terwyl Jesus saam met Petrus, Johannes en Jakobus op die berg was, het die ander nege dissipels probeer om die maansiek seun in Jesus se Naam gesond te maak, ‘n poging waarin hulle nie kon slaag nie. Dus – het die skare en die skrifgeleerdes geredeneer – as sy dissipels nie meer wonders in sy Naam kan doen nie, dan is dit waarskynlik met Jesus self ook gedaan. Hy het waarskynlik vertrek, en daarmee saam het die kragstroom agter Hom ook afgeslaan. Die einde van die Jesus-sage…
Wanneer Jesus egter op daardie oomblik aangeloop kom, val die monde oop van verbasing. En met ‘n skuldige gewete, omdat hulle so vroegtydig sy einde bespreek het, hardloop die skare na Jesus toe en begroet Hom op oordrewe wyse. Nêrens anders in die bybel lees ons van so ‘n begroeting nie…
Maar Jesus laat hom nie flous deur hierdie oordrewe vriendelikheid nie, en Hy vra vir die skrifgeleerdes waarom hulle met sy dissipels geredetwis het. ‘n Effens pynlike vraag: moet hulle nou vir Jesus gaan vertel dat hulle eintlik besig was om sy einde te bespreek? Gelukkig red die maansiek seun se pa hulle van die verleentheid. Ten slotte was die situasie met sy seun die rede vir hierdie hele twisgesprek. En daarom neem hy die woord, en vertel hy wat gebeur het: hy het sy seun na die dissipels gebring, maar hulle kon hom nie genees nie.
In sy reaksie hierop gaan Jesus geensins in op die situasie van die arme jongman nie; in elk geval nie onmiddellik nie. Immers, ons het reeds gesê dat die maansiek seun nie die kern van hierdie verhaal is nie. Nee, Jesus slaak ‘n versugting oor die “ongelowige geslag”. Wie sou dit wees? Wel, ons lees in vers 19: “Toe antwoord Hy hom (Jesus antwoord die vader) – dus, Jesus se uitspraak oor die ongelowige geslag is gerig op die váder, en daarmee saam op die skáre waarvan hy ‘n deel gevorm het. Dit gaan in hierdie uitspraak nie oor die mislukking van die dissipels nie, maar oor die ongeloof van die skare waaronder Jesus gely het. En Hy kla oor hulle: “Hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra?” Hierin is amper iets dreigends – blykbaar sal Jesus hierdie ongelowige geslag nie bly verdra nie. Sy geduld gaan tot ‘n einde kom, en dan sal Hy hierdie ongelowige geslag voor sy oë verwyder!
Maar, gemeente, was die vader dan deel van hierdie ongelowige geslag? Hy het dan sy seun gebring om genees te word… Is dit nie juis ‘n teken van gelóóf nie? So mag dit lyk, maar kom ons kyk wat vervolgens gebeur. Die seun word na Jesus gebring waar hy, vanweë stuiptrekkings, op die grond val en rondrol met skuim in die mond (vers 20). Eers in verse 25-27 lees ons dan dat Jesus die bose gees bestraf en uitdryf. Die gees verlaat die seun met ‘n laaste sarsie aanvalle wat hom soos ‘n dooie op die grond laat neerval. Wanneer die omstanders dink dat die seun dood is, gryp Jesus sy hand en rig hom op.
Hierdie indrukwekkende genesing is vir Jesus egter slegs ‘n raamwerk vir iets anders. In die middel van die vertelling van hierdie genesing (dus, tussen verse 20 en 25-27) staan ‘n gesprek met die vader (verse 21-24). Vir Jesus gaan dit nie soseer daaroor om die seun op sy voete te laat staan nie, maar om die vader op te help in die geloof!
In vers 21 vra Jesus vir die man hoe lank sy seun al aan hierdie siekte ly. En sy antwoord: “Van sy kindsdae af; en dikwels het hy hom in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak.” Met hierdie antwoord wys die vader op die erns van sy seun se siekte, maar tegelykertyd kom hiermee ook die erns van sy eie situasie na vore. Want hoekom het hy nie vroeër al na Jesus gekom nie? Jesus was immers voortdurend daar in die omgewing waar Hy baie bose geeste uitgedryf en maansiekes genees het. Die seun se ernstige nood het hom afgespeel in ‘n tyd toe Jesus as’t ware op die man se voorstoep gestaan het. Hoekom nou eers?
Gemeente, ons sien in Jesus se ontdekkende vrae die ongeloof van hierdie vader. En dit word nog verder versterk deur die vader se volgende woorde: “Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” Hoor u die twyfel? Die man is nie seker of Jesus kan help nie, maar goed, dit kan ook nie kwaad doen om te probeer nie: “As U iets kan doen, asseblief, ons beveel ons by U aan.” Hierdie versoek spreek van beleefdheid, maar nie van vertroue nie. Vergelyk dít nou met die woorde van die melaatse in Markus 1:40: “As U wil, kan U my reinig.” Dít is geloofstaal, broers en susters: U kán my reinig, wil U dit in u genade ook doen! Maar daarteenoor is die woorde van die vader die taal van vertwyfeling: Ek weet nie of U kan nie, maar as U kan…
Jesus wys die vader se ongeloof vervolgens baie duidelik aan hom uit. Hy sê in vers 23: “Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Jesus sluit dus aan by die werkwoord ‘kan’ wat die vader ook gebruik het. Maar Hy verander die vraagstelling. Die vraag is immers nie of Jesus die seun kan genees nie, maar of die vader kan glo dat Jesus dit kan doen. En nie net dat Jesus dít kan doen nie, maar dat Hy in sy almag álle dinge kan doen! Dit is ‘n indringende boodskap vir die hele skare, vir daardie hele geslag. Daardie geslag was gefassineer deur Jesus, hulle het Hom oral gevolg, hulle wou van Hom voordeel trek. Maar in wese het dit ‘n ongelowige geslag gebly wat hulleself nie volledig aan Hom wou oorgee nie, wat nie van harte in Hom geglo het nie!
Hoe dreig hier nie ‘n voortdurende gevaar vir mense wat met Jesus in aanraking kom nie – ook vir kerkmense, mense wat hulleself gelowiges noem – naamlik dat hulle slegs voordeel van Jesus wil trek, slegs daaruit wil haal wat hulle pas. Jesus word dan vir ons ‘n nuttige gebruiksartikel – een van vele in ons verbruikerskultuur. Dit is in elk geval die moeite werd om Hom uit te probeer, dit kan nie kwaad doen nie. Maar om onsself werklik met ons hele hart in geloof aan Hom oor te gee – dit is iets anders. Daartoe kom ons dikwels nie.
Gemeente, die Here Jesus wys hier vir ons op ons kleingeloof en ons ongeloof. Ons is dikwels nie bereid om ons hele lewe in Jesus se diens te wy nie, maar nogtans wil ons Hom gebruik, want wie weet, dalk kán Hy help, dalk kán Hy my probleem oplos, dalk kán Hy my sondes vergewe. En dan sê Jesus: “Nee, die vraag is nie of Ek kan help nie, die vraag is of jy in My kan glo…” Dit is ‘n kernvraag, gemeente, wanneer ons net hierna aan die nagmaal gaan – miskien het jy jouself al daarin ondersoek, en indien nie, doen dit dan nou: Glo jy dat Jesus met sy liggaam en bloed jou hele lewe kan verander? Die vraag gaan nie oor Jesus se vermoë nie, maar oor ons oorgawe: Glo jy in Hom?
Broers en susters, Jesus plaas die vader van die maansiek seun voor ‘n definitiewe keuse; hy kan nie meer afstandelik bly staan nie, hy kan nie aangaan om Jesus as ‘n gebruiksartikel te beskou wat dalk voordeel kan bring nie. Hy moet kies! En dan sien ons in vers 24 hoe daar ‘n wonder gebeur. Voordat die onrein gees al skreeuende die seun verlaat, sien ons hoe die vader al skreeuende sy ongeloof verloor. Dit is asof Jesus se radikale woorde iets stukkend breek in hierdie man. Tot nou toe het hy Jesus op ‘n veilige afstand van sy hart af gehou; Hy wou voordeel uit Hom trek, maar nie sy hele lewe aan Hom toewei nie. Hy wou kyk of Jesus se krag enige voordeel vir hom inhou, maar hy wou nie in Hom glo nie.
Maar skielik skreeu hy dit uit, met trane in sy oë. Snikkend en gebroke sê hy: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.” Ons sien hier ‘n skielike bekering wat deur Jesus bewerk word. En dit blyk nie slegs uit die uiterlike geroep en trane nie, maar ook uit die inhoud van sy woorde. Die vader het ingesien dat hy méér hulp nodig het vir sy óngeloof, as die seun vir sy besetenheid. En Hy erken Jesus as die Een wat die mag het om sy ongeloof te verander in geloof. Hierdie man, wat eers ‘n tipe was van die ongelowige geslag, word nou ‘n voorbeeld vir die skare van wat elkeen van hulle sou moes doen en vra. Gemeente, uiteindelik bereik Jesus die gewenste houding by hierdie vader; Jesus werk in hom ongelooflike geloof, sodat hy vervolgens ook die wonder van die genesing van sy seun na waarde kan skat.
En dit is dáárdie houding wat die Gasheer soek by elkeen van sy tafelgenote. Jesus gaan net hierna vir ons die brood van die lewe uitdeel, Hy wil ons verlos van ons kleingeloof en ongeloof. Maar Hy vra daarby van ons die regte houding, Hy vra dat ons na die tafel sal kom met die houding van die bekeerde vader van Markus 9. Ek kan nie hier na die tafel toe kom met die hoop om dálk iets te kry wat my probleem gaan oplos nie. Daarvoor kan ek Makro toe gaan of dokter toe gaan. Nee, wat die Here soek wanneer ons nou aan sy tafel gaan sit, is ‘n gebroke en verslae hart. Niemand kan in selfvoldaanheid maar net kom voordeel put uit die kruisdood van Jesus wat hier voor ons afgebeeld word nie; niemand van ons kan aan die tafel kom sit met die houding dat ons niks het om te verloor nie, dat ons maar kan probeer of dit effek het. Jesus Christus soek volle oorgawe, mense wat hulle hele hart en lewe aan Hom wei. Mense wat besef dat hulle nog elke dag swaar sondig, maar dan tog sê: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.” En dan is die Here hier om te ons te troos en te versterk en om ons verder te help in sy diens, wanneer Hy sê: “Neem, eet… Neem, drink almal daaruit… Gedenk en glo dat my liggaam en bloed gegee is tot ‘n volkome versoening van al jou sondes.”
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 97:4, 5 en 7
Gebed
Lees: Markus 9:14-29
Teks: Markus 9:21-24
Preek
Antwoord Ps. 123:1
Nagmaalsformulier:
- Lees by “die volgende sondaars word genoem” die wet
- Sing daarna Ps. 13:3 en 5
Verder nagmaalsformulier
Sing:
- Terwyl tafel in gereedheid Ps. 81:1-2
- 1ste tafel Ps. 81:3-4
- 2de tafel Ps. 81:6-7
- 3de tafel Ps. 81:11-12
Voltooi nagmaalsformulier + gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 147:1-2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)