Die staf van God – ‘n bewys van God se genade vir sowel die ampsdraers as die gemeente!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-11-18
Teks: 
Exodus 4:20b
Preek Inhoud: 

Exodus 4:20b

Ds HH van Alten - Sondag 18 November 2007 - Bevestiging van ampsdraers

Lees: Exodus 3:1-5; Exodus 4:1-5, 17-20; Exodus 7:8-13
Teks: Exodus 4:20b
Sing: Sien liturgie

Tema: Die staf van God – ‘n bewys van God se genade vir sowel die ampsdraers as die gemeente!

  1. As middelaar van die Ou Verbond ontvang Moses ‘n instrument vir sy werk
  2. As swakke mens ontvang Moses ‘n hulpmiddel vir sy werk

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Om verskillende redes is dit altyd weer ‘n spannende tyd – die tyd wanneer nuwe ampsdraers voorgestel, verkies en bevestig word. Vir sommige is dit ‘n spannende tyd omdat hulle daarna begeer om in die amp te dien. Dit is mooi as dit so kan wees; ampsdiens is immers ‘n voortreflike werk, volgens Paulus in 1 Timotheus 3:1. Maar vir die meeste broeders, wat op tal kom, is die realiteit effens anders. Vir die meeste is hierdie tyd ‘n spannende tyd omdat hulle daarteen opsien om hierdie verantwoordelike taak vir drie jaar op hulle te neem, en dit terwyl daar alreeds so baie druk by die werk is; dit is ‘n spannende tyd omdat hulle wonder – en soms twyfel – of hulle geskik is om hierdie amp te kan uitvoer. Ook vir vroue en kinders is dit ‘n spannende tyd omdat hulle weet dat, as man en pa verkies word, ‘n besige tyd vir die gesin voorlê. En vir die gemeente is daar ook spanning, omdat hulle wonder wie hulle nuwe ampsdraers gaan wees.  

Gemeente, al hierdie spanning is begryplik; immers, die lewe ís besig, daar ís baie druk by die werk, ons gesinslewens ís bedrywig – sodat ons met reg soms kan wonder waar ons die tyd en die krag vandaan gaan kry om die ampsdiens vir drie jaar lank vol te hou. En verder skort daar nog baie aan ons geskiktheid om in die amp te dien, sodat ons inderdaad kan twyfel of ons hierdie werk goed sal kan doen.

Maar die gevaar dreig ook dat die menslike en die begryplike só sentraal begin staan, dat ons vergeet dat ons eintlik diensknegte is in die hande van die Allerhoogste God! Ons kan soveel gewig op die amp begin plaas, dat ons vergeet dat daar nog ‘n God agter die amp staan – Jahwe, die Een wat is wat Hy was, en wat sal wees wat Hy is. ‘n God wat vandag nog dieselfde sê as wat Hy vir Moses in Exodus 3:10 en 12 gesê het: “Gaan dan nou heen, … lei my volk, … en Ek sal met jou wees.” En dit is van die allergrootste belang, gemeente, dat ons hierdie perspektief sal behou. Geen gemeente kan goeie ampsdraers kies, en geen ampsdraers kan die gemeente na behore dien sonder hierdie perspektief nie – die Here is met jou!

En om ons daarby te help, wil ons vandag let op die staf van God, soos wat ons op verskeie plekke in die boek Exodus daarvan gelees het.

Tema: Die staf van God – ‘n bewys van God se genade vir sowel die ampsdraers as die gemeente!

  1. As middelaar van die Ou Verbond ontvang Moses ‘n instrument vir sy werk

  2. As swakke mens ontvang Moses ‘n hulpmiddel vir sy werk

1. Moses pas die skape van sy skoonpa, Jetro, op. U sal onthou dat Moses vanuit Egipte na Midian gevlug het, en daar met Sippora, Jetro se dogter, getrou het. En nou help hy sy skoonpa met die kleinvee. Ons kan maar sê dat Moses ‘n herder geword het. Op ‘n dag kom hy met die kleinvee by die berg Horeb aan. Hy het sy kleinvee verby die woestyn gedryf om aan hulle goeie weiding te kan gee. En dáár, by Horeb – ook die berg van God genoem – verskyn die Engel van die HERE aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. Almal van ons ken die verhaal baie goed; dit is ‘n indrukwekkende verhaal van ‘n doringbos wat brand, maar wat nie verteer nie. Maar, gemeente, belangriker nog as die verskýning van die Here, is sy wóórde aan Moses.

Die Here vertel vir Moses dat Hy die ellende van sy volk gesien het, dat Hy hulle jammerklagte gehoor het, dat Hy hulle smarte ken, en dat Hy hulle op grond van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob wil verlos. Die Here wil dus die verhouding, wat Hy met hierdie aartsvaders gehad het, voortsit met Israel, die groot volk wat uit hulle voortgekom het. Hy wil sy beloftes ook teenoor húlle waar maak. Hy wil vir hulle ‘n God wees, hulle versorg, en hulle bring na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning.  

En, gemeente, presies vir hierdie doel wil die Here nou vir Moses gebruik. Moses word deur die Here ingespan om sy verteenwoordiger by die volk te wees. Die Here wil Moses as’t ware gebruik as sy hande en voete daar in Egipteland. Moses moet namens die Here vir die volk opkom by die Farao, hy moet namens die Here die volk bemoedig, en ten slotte moet hy hulle namens die Here uit Egipteland uitlei. En tydens die woestynreis moet Moses daardie taak voortsit – hy moet die man wees wat tussen die Here en sy volk staan; hy moet God verteenwoordig by die volk, maar hy moet ook die volk verteenwoordig by God. Moses word ‘n middelaar!

En, broers en susters, dit is ‘n gedagte wat ons op verskeie plekke in die Skrif terugvind. Dink maar net aan wat ons lees in Psalm 106:23 in verband met die sonde met die goue kalf: “Toe het Hy gesê dat Hy hulle sou verdelg, as Moses, sy uitverkorene, nie voor sy aangesig in die bres gaan staan het om sy grimmigheid af te keer, dat Hy nie sou vernietig nie.” Sien u, Moses verrig die werk van ‘n middelaar deur tussen die Here en sy volk te gaan staan; deur sy tussenkoms tree hy vir die volk in die bres by God, en keer hy dat God se toorn oor die volk uitgegiet word. Dink ook aan Stefanus se toespraak in Handelinge 7, waar hy in vers 38 sê dat Moses die lewende woorde van God ontvang en aan die volk deurgegee het. Weereens, Moses funksioneer as tussenganger om God se woorde aan die volk deur te gee. Dus, gemeente, Moses is die middelaar tussen God en sy volk. 

Die Hebreërskrywer maak egter op verskeie plekke duidelik – en u kan maar gaan lees in Hebreërs 8 en 9 – dat Moses die middelaar van die ou verbond was. En dit is belangrik om dít raak te sien: Moses is nie dié Middelaar waarvoor almal gewag het nie. Want ná Moses kom daar ‘n beter verbond! Immers, die ou verbond het, vanweë die sonde, altyd gehunker na iets meer, het altyd uitgesien na die koms van die ware Middelaar wat versoening kan doen tussen God en die mense, Jesus Christus. Hy is die Middelaar van die nuwe en beter verbond. Maar nietemin, Moses wás ‘n tipe van Jesus Christus; hy was die middelaar van die ou verbond, ‘n voorafskaduwing van die volmaakte Middelaar van die nuwe verbond, Jesus Christus, wat sou kom. Broers en susters, hou hierdie gedagte van die middelaarskap van Moses en Christus vir ‘n oomblik in u agterkop, ons kom net hierna weer daarop terug.  

In Exodus 4 sien ons dat Moses van die Here ‘n instrument kry waarmee hy sy taak kan gaan uitvoer. Hy kry ‘n staf… Nou moet ons nie, soos wat in die verlede al dikwels gebeur het, van hierdie staf meer maak as wat dit was nie. Daar was werklik niks besonders aan hierdie staf nie. Inteendeel, dit was ‘n eenvoudige stok, wat Moses waarskynlik êrens van ‘n boom afgebreek het om te gebruik in sy taak as herder van Jetro se kleinvee. Ons weet uit Psalm 23 dat die herder Dawid ook van so ‘n stok en staf geweet het. Hy sê in vers 4 die bekende woorde: “u stok en u staf dié vertroos my.”

Maar, gemeente – en hier gebeur iets besonders – hierdie gewone stok van Moses word nou deur die Here bruikbaar gemaak vir die bevordering van sy saak; hierdie stok word deur die Here geheilig tot diens aan Hóm. Ons sien dit wanneer die Here, met behulp van hierdie stok, vir Moses ‘n voorspel gee van die tekens wat hy daarmee voor die Farao sal kan verrig. Ons het daarvan gelees in Exodus 4:3-5 – die staf wat ‘n slang word, en die slang wat weer ‘n staf word waneer Moses hom aan die stert gryp. Die staf word diensbaar in God se saak! En daarom beveel die Here ook vir Moses in vers 17 om hierdie staf saam te vat op sy reis na Egipte. En dan lees ons vervolgens in ons teks (vers 20b): “Moses het ook die staf van God in sy hand geneem.” Sien u? Nie meer Moses se staf nie; nee, dit het nou die staf van Gód geword! Moses kry ‘n instrument van God ter wille van sy taak! En ons sien in die vervolg van Exodus hoe dikwels hierdie staf ingespan word ten bate van die saak van die volk.  

Dink maar aan wat ons gelees het in Exodus 7. Moses en Aaron staan voor die Farao met die versoek om die volk te laat trek. Wanneer die Farao om ‘n teken vra, gooi Aaron sy staf – wat dieselfde staf was as dié van Moses – voor Farao en sy dienaars neer, sodat dit ‘n slang word. Farao is egter nie van stryk gebring deur hierdie vertoon nie, en hy laat sy towenaars dieselfde doen. Maar – so lees ons dan in hoofstuk 7:12 – Aaron se staf het hulle stawe verslind. Moses se staf – nee, Gód se staf – is dus ‘n instrument wat op kragtige wyse deur Moses gebruik mag word ter wille van die volk.

En daardie selfde staf sien ons weer terug by verskeie van die tien plae (lees maar Exodus 8 en 9); ons sien dit by die deurtog deur die Skelfsee wanneer Moses sy staf moet ophef om die water te laat kloof en uiteindelik weer te laat terugvloei; ons sien dit in Exodus 17 by die geveg teen Amalek, waar Moses vir die volk sê: “Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand”; en ons sien dit ook in Numeri 20 wanneer Moses met die staf op die rots slaan om aan die murmurerende volk water te kan gee. Die staf van God – instrument van God aan Moses vir sy taak as middelaar van die ou verbond.  

En nou terug na Jesus Christus, die Middelaar van die núwe verbond. Hy ontvang, net soos die middelaar van die ou verbond, ook ‘n instrument; of beter: Hy ontvang meerdere instrumente waarmee Hy sy taak as Middelaar en Verlosser uitvoer. En daar is niks besonders aan hierdie instrumente nie, net soos wat daar niks besonders was aan Moses se staf nie. En tóg word hierdie instrumente deur die Gees van Christus geheilig vir dienswerk aan God – ter wille van die kerk. Broers en susters, die instrumente van die Middelaar van die nuwe verbond is … die ampsdraers. Húlle is die staf van Moses in die hand van Jesus Christus. En daar is niks besonders aan hierdie broeders nie; hulle is nie heilig en bruikbaar in hulleself nie. Maar Christus máák hulle bruikbaar, Hy heilig hulle sodat hulle vrugbaar in sy diens besig kan wees. Hy gebruik hulle op kragtige wyse in sy Koninkryk.  

En, gemeente, hierin sien ons die Here se genade vir sowel hierdie broeders as vir u self. Hierdie broeders ampsdraers mag die Here se genade dáárin sien dat hulle instrumente in die Here se hand mag wees – niks meer nie, maar ook niks minder nie. Ek herhaal dit: u is ‘n instrument in die Hére se hand. Hy gebruik u, Hy máák u bruikbaar, Hy máák u kragtig. Wéés dan ook ‘n instrument in sy hand, gee u self oor in sy hand, en stel u self tot sy beskikking. Doen dit elke keer as u op huisbesoek gaan, elke keer as daar ‘n vergadering is met moeilike sake, elke keer as u groot wysheid nodig het – stel uself dan in nederige gebed in sy hand, en sê: “Here, hier is u dienskneg, u instrument; ek stel myself in u hand. Maak my kragtig, maak my wys, en gebruik my tot u eer.” Slegs dan, broeders, kom die instrument werklik tot sy reg in die saak van Jesus Christus.

En gemeente, ook u mag die Here se genade sien in hierdie broeders. U mag die Here se genade dáárin sien dat die Here instrumente het én gebruik ter wille van die verlossing van sy volk, die kerk. Ja, daaroor gaan dit: die verlossing van die kerk, die groei van die koninkryk. Kyk maar na Moses met sy staf: Moses se staf kom telkens na vore, word telkens gebruik, wanneer dit gaan oor die verlossing van die volk. By die tien plae: laat my volk trek! Nee? Slaan dan met jou staf op die water, sodat dit bloed word. Laat my volk trek! Nee? Steek dan jou staf uit oor die waters, sodat daar paddas kom; steek jou staf uit en slaan die stof, sodat dit muskiete word; steek jou staf uit, sodat die hael val; steek jou staf uit, sodat daar sprinkane kom. Maar laat net my vólk trek! En dan ook weer by die Skelfsee en by die geveg met die Amalekiete – elke keer word die staf gebruik tot verlossing van die volk! Hierdie ampsdraers is dus instrumente in Christus se hand tot jou verlossing, hulle is gegee om te veg vir jou saligheid, vir die saligheid van die kerk! Gemeente, u ontvang in hierdie broeders stawe in die hand van die Here, wat die stawe van die vyand verslind; hulle veg teen die vyande van die kerk, sodat dit met die kerk goed mag gaan, sodat die lidmate van hierdie gemeente nie val in die kloue van die satan en die sonde nie. Hulle is hier ter wille van jou en my, ter wille van die gemeente van Christus.

Vervolgens: as swakke mens ontvang Moses ‘n hulpmiddel vir sy werk. 

2. Moses, die middelaar van die ou verbond – dit is ‘n mooi en raak beskrywing. En, gemeente, ter wille van ons verstaan van die Ou Testament is dit belangrik om hierdie tipering raak te sien; dit wys vir ons sowel die skaduwee as die voorafskaduwing van die Ou Testament ten opsigte van die Nuwe Testament. Maar daar is egter ook ‘n ander kant van Moses wat ons deeglik moet raaksien. Hy is nie net middelaar van die ou verbond nie, maar hy is ook gewone mens, en swakke mens daarby…

Immers, vanuit Exodus 3 en 4 sien ons dat Moses nie staan en spring van opgewondenheid om hierdie taak, waarvoor die Here hom gekies het, op hom te neem nie. Met verskeie besware probeer Hy die Here daarvan oortuig dat hy nie die geskikte persoon is vir hierdie taak nie. In sy eerste beswaar wys Moses na sy eie kleinheid: “Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?” (3:11). In sy tweede beswaar sê Moses dat hy nie eintlik weet wie sy Sender is nie: “… as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? – wat moet ek hulle antwoord?” (3:13). In sy derde beswaar opper Moses die moontlikheid dat die volk die verskyning van die Here aan hom in twyfel sal trek: “Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie?” (4:1). Sy vierde beswaar is die bekende ek-kan-nie-praat-nie beswaar: “Here, ek is nie ‘n man van woorde nie… want ek is swaar van mond en swaar van tong” (4:10). En wanneer Moses ten slotte uit besware gehardloop het, sê hy moedeloos: “Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur” (4:13). 

Dus, tot vyf maal toe skram Moses weg. Vier van die vyf kere is die Here geduldig, maar die vyfde keer ontvlam sy toorn. Ja, gemeente, Moses is ‘n swakke mens – hy is ‘n swakke mens, in die eerste plek omdat hy méns is, maar hy is ook ‘n swakke mens omdat hy kleingelowig is, en nie onmiddellik aan die opdrag van die Here gehoor wil gee nie. Middelaar van die ou verbond of nie – ook hierdie kant van Moses moet ons raaksien.

Maar – en dit is nou die mooi – ook vir hierdie swak kant van sy kneg het die Here ‘n antwoord, ook hiervoor gee Hy hulp. “Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” – só lees ons immers in Psalm 103:14. Die Here ken sy kneg, en daarom gee Hy vir hom, behalwe ‘n instrumént vir sy taak, ook ‘n hulpmiddel by sy taak. En daardie hulpmiddel is – weereens – die staf. Daardie gewone stok word, benewens ‘n instrument, ook ‘n hulpmiddel vir Moses om hom in sy swakheid en vrees en kleingeloof te help en te steun. Met daardie stok kry Moses, die onaansienlike man met die gebrekkige kennis en die swaar tong, die moed om voor die groot Farao te gaan staan en aan hom die amper lagwekkende eis te stel dat hy die volk van die Here moet laat trek. Met daardie stok kan hy kragtige tekens en wonders doen voor die aangesig van sowel die Farao as die volk. Ja, die staf van God word Moses se bondgenoot in die uitvoering van sy grootse opdrag. Probeer u self dit voorstel: vanaf sy eerste besoek aan Farao tot by sy dood net voor die intog in Kanaan was hierdie stok naby Moses; wanneer hy saans gaan slaap het, het hy hom waarskynlik reg langs hom neergesit; wanneer hy soggens opgestaan het, was dit een van die eerste dinge wat hy in sy hand geneem het. Vir die volk was dit waarskynlik ‘n eenheid: Moses met die staf van God. Hulle het hom nie anders geken nie… 

Broeders, u het miskien soos Moses gevoel toe ons sopas gekyk het na sy verskillende besware. Miskien het u in u hart gedink dat vyf keer nog maar eintlik min is in vergelyking met die aantal kere wat u die Here probeer oorreed het om eerder iemand anders vir die amp te gebruik. Maar dan ontvang ook u vandag ‘n besondere hulpmiddel uit die hand van die Here. Hy weet dat ons nie alleen en in eie kragte hierdie swaar taak op ons kan neem nie; Hy weet beter as onsself dat hierdie goddelike opdrag swaar op menseskouers kan lê. En daarom gee Hy vir ons ‘n hulpmiddel, ‘n bondgenoot, ‘n stok in die hand waarmee ons hierdie taak kan gaan uitvoer, naamlik sy Woord!

Met daardie Woord in die hand kan ons oppad gaan, soos wat Moses die staf van God in sy hand geneem het toe hy oppad gegaan het na Egipte. Met daardie Woord word swak mense sterk. Daar is werklik geen beter hulpmiddel wat Jesus Christus aan sy instrumente kon gegee het as die bybel nie. Want met die bybel bring jy nie jou eie woord nie, maar bring jy die Woord van die Here. Met die bybel in die hand gaan nie op besoek nie, maar doen die groot God sy rondtes in hierdie gemeente.  

Broeders, ken daarom die Skrifte; dus, ken die hulpmiddel wat die Here aan u gee vir u amp. Studeer gereeld in die Skrifte, oefen u daarin. En laat dit die basis wees op grond waarvan u by die lidmate van die gemeente op besoek gaan. As u moet vermaan, laat dit uit die Skrif wees; as u moet vertroos, laat dit wees met die woorde van God; as u moet weerlê, laat dit wees met die gesag van die Skrif. En dieselfde geld vir al u ander ampswerk. Is dit vergaderings, of besluite, of oorwegings – gebruik die hulpmiddel. Maar bo alles: lewe in u persoonlike lewe met hierdie hulpmiddel, die Woord van die Here.

En met hierdie hulpmiddel word dan al u Moses-besware besweer. As u wonder: wie is ek dat ek hierdie groot werk moet doen?, dan sê die Here: “Ek sal met jou wees.” As u wonder wie u Sender is, lees die Skrif en ontdek die Skepper wat in sy Seun, Jesus Christus, en deur die krag van die Heilige Gees ons Vader is. As u wonder of die lidmate u gaan aanvaar of dat hulle u gaan afwys, gebruik dan die bybel en plaas hulle voor die aangesig van Gód; dit vat ‘n dapper mens om Hóm af te wys. As u dink dat u nie goed kan praat nie, glo dan dat die Here die Een is wat die mens se mond gemaak het, en dat sy Gees u in daardie uur sal leer wat u moet sê (Luk. 12:12). En as u dink: Ag Here, stuur liewer iemand anders, hoor dan die roep vanuit die Skrif aan die herders van die gemeente om getrou te wees in hulle arbeid.  

En gemeente, wanneer die ampsdraers dan kom met die hulpmiddel wat die Here aan hulle gegee het, gee daaraan gehoor. Moet dan nie wees soos die Farao wat sy hard verhard het en sy eie kop gevolg het nie. Wanneer jy dít doen, sal jy ervaar dat die hulpmiddel van die Here sterker is as jy, kragtiger is as al jou menslike hulpmiddels. Dan sal jy agterkom dat daar groot krag skuil in die Woord van die Here – groot krag van straf en oordeel vir wie nie daaraan gehoor wil gee nie. Immers, die staf van Aaron het die stawe van die Egiptenaars verslind... Wie ongehoorsaam wil wees aan die ampsdraer met die Woord doen dit tot sy eie ondergang.

Maar in die Woord van die Here skuil ook groot krag tot redding vir elkeen wat glo. Dit is werklik heilsaam vir ons wanneer ons ampsdraers het wat nie met hulle eie verhaal huisbesoek kom aflê nie, ampsdraers wat nie die hele aand hulle eie storie kom vertel of die hele aand na u lysie met klagtes luister nie. Maar ampsdraers wat tot diep in u hart en lewe indring en sê: “So spreek die Here!” Dan is daar redding uit die slawehuis van Egipte, dan bly u op die regte spoor selfs wanneer die Skelfsee van die lewe dreig om u pad te versper, dan bly u lewe as die Amalekiete van ons tyd daarop uit is om u te verslind.  

Gemeente, mag die Here ons seën met hierdie ampsdraers. Mag Hy gee dat ons gemeente, deur die leiding van hierdie broeders, op die weg mag gaan na die beloofde Kanaan. Instrumente… Hulpmiddel… Ontvang hulle uit God se liefdevolle hand!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 29:3-5
Wetslesing en 1 Johannes 2:1-2
Sing Ps. 32:1, 3 en 6
Gebed
Lees:  Exodus 3:1-5
      Exodus 4:1-5, 17-20
      Exodus 7:8-13
Sing Ps. 105:14 en 15
Teks: Exodus 4:20b
Preek
Amenlied Ps. 18:11, 14 en 15
Bevestiging
Sing ampsdraers toe: Ps. 115:6-8 (staande)
Voltooi bevestigingsformulier
Formulier- en dankgebed
Kollekte
Slotsang Ps. 103:7 en 9
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)