Sing die marslied van die geloof!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-12-31
Teks: 
Númeri 10:35-36
Preek Inhoud: 

Numeri 10:35-36

Ds HH van Alten - Oujaarsaand 31 Desember 2007

Lees: Numeri 10:11-13 en 28-36;  Psalm 68
Teks: Numeri 10:35-36
Sing: Sien liturgie

Tema: Sing die marslied van die geloof!

  1. Staan op, Here
  2. Keer terug, Here

Broers en susters, gemeentes van ons Here, Jesus Christus,

Miskien het sommige van u gisteraand geluister na die aanddiens op RSG. Die predikant het vanuit Jeremia 29:11 sy nuwejaarsboodskap vir die luisteraars gebring. In die Nuwe Vertaling van Jeremia 29:11 lees ons: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” Op grond van hierdie teks was die boodskap dat die Here vir elkeen van ons ‘n voorspoedige 2008 beplan. Die Here wil hê ons moet vergeet van die slegte dinge wat in 2007 gebeur het, ons moet nie meer agtertoe kyk nie. Nee, ons moet vorentoe kyk na die voorspoedige toekoms wat die Here in die nuwejaar vir ons beplan; die Here gaan groot dinge vir ons doen. Al wat ons moet doen, is om te sorg dat ons verhouding met die Here reg is. Dit was dan ook die oproep: wy jou lewe vanaand aan die Here, en dan belowe Hy vir jou ‘n voorspoedige 2008. 

Nou, broers en susters, afgesien nog van die vraag of dit reg is om ‘n teks – sonder dat jy enigsins na die konteks gekyk het – as geïsoleerde boodskap na vandag toe deur te trek, vra ‘n mens jouself af of dít werklik die boodskap van die teks is. Is dít werklik wat die Here vir 2008 aan ons belowe? Dit klink natuurlik pragtig: Ek beplan vir jou voorspoed!

Maar wat nou as teenspoed ons tref in die jaar wat voorlê? Wat nou as ‘n geliefde siek word of sterf? Wat nou as ek my werk verloor of my besigheid bankrot gaan? Wat nou as my verhouding, wat sopas by die kongres ontstaan het en waaroor ek so opgewonde is, deur die ander een beëindig word? Wat dan? Die Here het dan vóórspoed belowe!? Is die Here dalk onbetroubaar? Of was sy belofte nie eg nie?  

Broers en susters, laat ons dit maar eerlik vir mekaar sê: nêrens belowe die Here dat dit met ons in die nuwejaar in alles voorspoedig sal gaan nie. Ons gaan nie 2008 binne met die seker wete dat alles goed sal gaan nie. Ons lewe immers deur geloof en nie deur aanskouing nie. En daarom gee ons mekaar vanaand nie ‘n goedkoop boodskap dat net voorspoed vir ons wag nie, maar ons word deur die Here self bemoedig in die pelgrimstog van die geloof.

Tema: Sing die marslied van die geloof!

  1. Staan op, Here

  2. Keer terug, Here

1. Die volk het, nadat hulle uit Egipte weggetrek het, oppad gegaan na die berg Sinai. Op hierdie berg het die Here vir die eerste keer aan Moses verskyn (Exodus 3), en aan hom belowe dat as hy die volk uit Egipte gelei het, hulle op hierdie berg hulle God sou dien. En só het dit ook gebeur. In die derde maand ná die uittog uit Egipteland, het die volk in die woestyn Sinai aangekom. “En – so lees ons in Exodus 19:2 – Israel het daar teenoor die berg laer opgeslaan.” Die volk het dus hulle aanvanklike bestemming bereik. Dit was in die derde maand na die uittog…

En dan in die tweede jaar ná die uittog sien ons vir die eerste keer dat die volk weer in beweging kom. Ons lees naamlik in Numeri 10:11: “In die tweede jaar, in die tweede maand, op die twintigste van die maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel van die Getuienis af.” Amper ‘n volle jaar lank het die volk op hierdie een plek gebly. Dus, alles wat ons lees vanaf Exodus 19 (die aankoms by die Sinai), regdeur die hele boek Levitikus, tot by Numeri 10:11 (die oomblik dat die wolk vanaf die tabernakel optrek), dit alles speel hom af op daardie een plek, naamlik aan die voet van die berg van God, die berg Sinai. ‘n Volle jaar neem die Here die tyd om die verbond met sy volk te sluit, leer Hy hulle wat dit beteken om sy volk te wees, en gee Hy aanwysings vir die bou van die tabernakel en die vormgewing van die gepaardgaande erediens.  

En dan is dit tyd om te trek…

Die wolk wat vanaf die tabernakel optrek, is vir die volk die teken dat hulle gereed moet maak om oppad te gaan. Maar dit is nie so dat elkeen sommer lukraak in die pad val nie. Nee, baie gestruktureerd, volgens die orde wat die Here in Numeri 2 gegee het, gaan die volk oppad. Stam vir stam trek hulle in goeie orde agter mekaar weg. Dit moes ‘n spannende oomblik vir die volk gewees het om ná ‘n volle jaar se uitspan by die Sinai nou behoorlik oppad te gaan na die beloofde land. Spannend, want tussen die Sinai en Kanaan het daar ‘n lang reis voorgelê deur die droë woestyn waar kos en water vir die volk en weiding vir die vee ‘n chroniese probleem was; spannend, want tussen Sinai en Kanaan was daar verskeie volke wat die volk van die Here geensins goedgesind was nie; spannend, want wat sou hulle te wagte wees op hulle reis deur hierdie soms onherbergsame gebied?

Dit is daarom ook nie so vreemd dat Moses, by die gedagte aan die moeilike woestynreis, die nodige voorbereidings tref nie. Ons sien in vers 29 hoe hy, waarskynlik terwyl die volk besig was om in gelid te kom, ‘n gesprek aangaan met Hobab. Hobab was die seun van Rehuel, oftewel Jetro, en hy was dus Moses se swaer. Volgens vers 29 was hy ‘n Midianiet. Nou, as u na die eerste kaart agter in u bybel kyk, sal u sien dat die gebied van die Midianiete presies die gebied was waardeur die volk vanaf die Sinai moes trek om in Kanaan uit te kom. Wie beter om dan saam te neem tydens die reis as hierdie Hobab? Hy was immers ‘n kind van die land, een wat beter as enige iemand anders die fyner besonderhede van daardie gebied geken het. Hy het geweet waar om die waterbronne te vind, hy het geweet waar hulle weiding vir die vee kon vind, hy het geweet hoe hulle moes reis om die gevare te vermy.  

Dit is dus heeltemal verstaanbaar dat Moses alles moontlik doen om hierdie Hobab te oorreed om saam met hulle te trek. Hy sê in vers 29: “Trek saam met ons en ons sal aan jou goed doen; want die HERE het oor Israel goeie dinge gespreek.” Sien u, Moses gebruik selfs die beloftes van die Here om Hobab te oortuig dat dit die moeite werd is om saam met hulle te kom; die volk sal hom laat deel in die goeie dinge wat die Here belowe het.

Hobab val egter nie daarvoor nie; hy sê in vers 30: “Ek sal nie saamtrek nie; maar ek sal na my land en my familie gaan.” Bloed en bodem trek vir Hobab sterker as die heerlike beloftes van die Here. Maar Moses is nog nie klaar nie, hy hou aan om aan Hobab te trek (verse 31 en 32). En hierdie keer gebruik hy ‘n effens ander strategie: hy wys vir Hobab daarop dat die Israeliete hom nodig het. Met sy groot kennis van die woestynland kan hy vir hulle as oë dien. Hobab kan dus, met sy kennis van die waterbronne en die weiplekke, vir die volk die regte plek aanwys waar hulle moet laer opslaan. En dáárom is Hobab vir Moses so ‘n begeerlike hulp om saam te neem op die lang en gevaarlike reis.  

Broers en susters, wat Hobab se antwoord op hierdie tweede versoek was, is nie bekend nie. Dit is moontlik dat hy saamgegaan het, want uit ander Skrifgedeeltes lei ons af dat sy nakomelinge by die inname en bewoning van Kanaan nog steeds deel was van die volk Israel (Rigt. 1:16). Hoe dit ook al sy, ons Skrifgedeelte maak nie vir ons bekend wat Hobab uiteindelik besluit het nie. Ons Skrifgedeelte sê ook nie of Moses se versoek aan Hobab reg of verkeerd was nie. Maar ons Skrifgedeelte doen wel iets anders…

Sonder om enigsins die antwoord van Hobab af te wag, gaan die geïnspireerde skrywer in vers 33 daartoe oor om te vertel hoe die volk op reis gegaan het en dat die verbondsark van die Here voor hulle uit getrek het om vir hulle ‘n rusplek uit te soek. Of Hobab saam gegaan het of nie, is vir die Here nie belangrik nie – Hy laat dit in elk geval nie in die Skrif opteken nie. Moses was nog besig om met Hobab te onderhandel, maar ons lees verder niks daarvan nie. Wat ons wel weet, is dat die Hére saamgegaan het! Hy het in die sigbare gestalte van die ark voor die volk uitgetrek en vir hulle ‘n plek gesoek waar hulle kon uitspan.

Die ark – ja, die ark is die sigbare teenwoordigheid van God self! Die ark is die troon van die Here deur middel waarvan Hy self by sy volk aanwesig is! Dit blyk uit verskeie Skrifgedeeltes. Byvoorbeeld, wanneer in 1 Samuel 4 die ark in die laer van die Israeliete gebring word, dan sê die Filistyne in vers 7: “Gód het in die laer gekom.” En wanneer Dawid in 2 Samuel 6 die ark na Jerusalem oorbring, dan word van hierdie gebeurtenis in Psalm 132:8 soos volg gesing: “Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte.” En, ten slotte, wanneer in 1 Konings 8 die ark in die pasgeboude tempel sy plek kry, dan lees ons dat die heerlikheid van die HERE die tempel vervul het.  

Ons sou nog talle voorbeelde hieraan kon toevoeg, maar dit is in elk geval duidelik dat die ark die aanwesigheid van God by sy volk verteenwoordig het. Moses hoef dus nie koorsagtig te probeer om Hobab te oortuig om saam met hulle te trek nie, want die Here is by sy volk. Hy trek voor hulle uit deur middel van die ark, Hy is bo hulle deur middel van die wolk! Wat ‘n onskatbare genade! In plaas daarvan die volk ‘n rusplek vir die huis en die ark van die Here moet gaan soek, soek Hy ‘n rusplek vir húlle. En as Hy ‘n geskikte plek vir hulle gevind het – een met waterfonteine en kos en weiding, een waar hulle veilig kon uitspan – dan het Hy daar gebly en sy wolk bekermend oor hulle uitgesprei teen alle gevare. Moses beskryf hierdie sorg van die Here pragtig in sy afskeidslied in Deuteronomium 32:10-12: “Hy het [Israel] gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel. Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels – die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.” Die volk was nie alleen nie, hulle was nie afhanklik van menslike hulp nie – nee, die Here het hulle voorgegaan! 

Broers en susters, hoe gaan ons die nuwejaar binne? Weet jy waarheen jy oppad is, en saam met wie jy oppad is? Of is ons koorsagtig besig om bondgenote te soek wat ons kan help, hulpmiddele wat ons oë en ons ore in die nuwejaar kan wees? Dalk ‘n nuwe polis waarmee die studies vir die kinders betaal kan word? Dalk ‘n blink plan waarmee jy probeer verseker dat jou studies, of jou huwelik, of self die kerk in die nuwe jaar beter kan funksioneer? Dalk ekstra sekuriteit waardeur jy probeer om die veiligheid van jou en jou gesin te verseker? Ja, dit is vir ons dikwels maar bitter moeilik om vir elke stap van ons lewensreis op God te vertrou. Dit is vir ons maar bitter moeilik om op ‘n onsigbare arm te leun. ‘n Sigbare Hobab boesem vir ons meer vertroue in as die lewende God. Ons gaan moedig verder wanneer ons op die hulp en beskerming van ‘n medemens kan vertrou, maar ons aarsel en sidder wanneer God ons roep om in geloof op Hom verder te gaan. Is dit nie so nie? Watter christen is daar wat nie hierdie realiteit in sy eie lewe herken nie?

Broers en susters, leer dan van Moses die marslied van die geloof! Moses, wat net hiervoor nog besig was om sy menslike bondgenoot te probeer oorhaal om saam te reis, het geleer dat die Here hulle voorgaan op hulle reis. En wie beter om die volk te lei! Hy het gevolglik elke keer daarna wanneer die ark weggetrek het, die volk se geloof in hierdie God bely met die woorde: “Staan op, HERE, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug.” Elke keer wanneer die Here dus die teken gegee het dat die volk moes verder trek deur ‘n onherbergsame gebied met baie gevare en vyandige volke, dan het die volk dit gedoen in die vertroue dat die Here sal opstaan tot hulp en tot verlossing van sy volk, en tot vernietiging van sy vyande; dan het hulle die ark, as die troon van God, gevolg in die geloof dat Hy regeer!  

Gemeente, ons weet nie wat die toekoms bring nie. Niemand kan sê dat 2008 slegs voorspoed vir ons sal bring nie. Wat hierdie jaar vir ons wag, weet net die Here. Gelukkig maar… Maar daarom hoef ons nog nie bang en onseker te wees vir die reis wat voorlê nie. Want ons Koning gaan ons voor! Jesus Christus – wat na die aarde gekom het, wat die dood oorwin het, en wat nou vanuit die hemel regeer – Hy is elke treetjie van die pad by ons. Deur sy Woord en Gees is Hy selfs in ons.

En elke keer wanneer die vyand kom, wanneer die hartseer ons tref, wanneer die aanvalle van die satan ons verlam, dan hef ons die marslied aan: “Staan op, HERE, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug!” Let op, hier word gepraat van die Here se vyande, maar as gelowiges is die Here se vyande mos ons vyande, en ons vyande is sy vyande. Ons veg ‘n gemeenskaplike stryd, ons sing ons marslied in die een groot leër van ons Strydvoerder, Jesus Christus. En as Hy vir ons is, wie kan dán teen ons wees? Wat sou ek vlees dan vrees?

[Kom ons sing nou saam hiervan uit Psalm 56:1 en 3]

Vervolgens: Keer terug, Here! 

2. So het die volk dus oppad gegaan, met die ark van die Here op die voorpunt. Drie dagreise ver het hulle getrek. Aangesien dit die eerste keer was dat die volk in hulle nuwe formasie gereis het, kan ons aanneem dat hulle nie baie ver gereis het nie. Maar of hulle ver gereis het of nie, die Here het hulle voorgegaan. En daar waar die ark tot stilstand gekom het, daar kon die volk tot ruste kom. Die Hére het vir hulle ‘n rusplek gesoek.

Nou is dit belangrik, broers en susters, om raak te sien dat daar tydens die reis van die volk deur die woestyn natuurlik verskeie rusplekke was. Net in Numeri 11, die hoofstuk wat volg op ons teks, lees ons alreds van Tabéra en van Kibrot-Hattaawa. Ons lees vervolgens hoe die volk vanaf Kibrot-Hattaawa na Haserot getrek het en ‘n tyd lank daar gebly het. En dan lees ons aan die einde van hoofstuk 12 dat die volk van Haserot af weggetrek het en in die woestyn Paran laer opgeslaan het. ‘n Mens sou dus op ‘n kaart van die Midde-Ooste elke keer die plek kon inkleur waar die Here vir sy volk ‘n rusplek gebied het – hulle het getrek van rusplek na rusplek na rusplek.  

Maar uit die aard van hulle reis na die beloofde land was al hierdie rusplekke natuurlik slegs tydelike rusplekke. Die volk het slegs vir kort tydjies by hierdie tydelike rusplekke vertoef, en vervolgens weer verder getrek. Want ten slotte was hulle oppad na die uiteindelike rusplek wat die Here uitgekies het in die beloofde land. Sinai is die begin; vandaaraf kry ons ‘n hele reeks tydelike rusplekke, wat ons op ‘n kaart van daardie omgewing kan merk. En uiteindelik, ná ‘n lang reis, bereik die volk die egte rusplek.

Nou, broers en susters, dit is presies hierdie beweging na die egte rusplek wat so pragtig in Psalm 68 beskryf word. In hierdie psalm – en gaan lees dit maar weer ‘n slag by die huis deur – vertel Dawid ons van die triomfantelike opmars van die Here in die gestalte van die ark – vanaf die berg Sinai via al die tussenstoppe na die berg Sion.  

Dit begin dus by die berg Sinai, en dit blyk duidelik uit die woorde in vers 2 van hierdie psalm: “God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg.” Hoor u dit? Ons vind hier feitlik ‘n woordelike aanhaling van die marslied in Numeri 10:35. Hier begin die opmars dus, van hier af gaan die Here sy volk voor, veg Hy vír sy volk (die regverdiges) en téén die vyande (die goddelose) – kyk maar na verse 1-3 van psalm 68. Die vernietiging van sy vyande staan egter teenoor die sorg wat Hy vir sy volk openbaar in hulle reis deur die woestyn (verse 4-6). Ons sien dat die Here tydens die reis deur die woestyn vir sy volk soos ‘n Vader is. In verse 7-10 vind ons vervolgens iets terug van die veertig jaar wat die volk deur die woestyn moes swerf; ook daar het die Here vir hulle gesorg. Verse 11-14 beskryf in taal, wat vir ons soms baie moeilik is om goed te verstaan, die oorwinning oor die konings van die land Kanaan in die rigtertyd – ons vind in hierdie verse immers duidelike verwysings na die lied van Debora in Rigters 5.

En dan, in verse 15-19, kom die ark uiteindelik by die berg Sion aan. Lees maar vers 17: “Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die HERE sal daar woon tot in ewigheid.” Dus, die lang reis vanaf Sinai het via al die tydelike rusplekke sy doel bereik, God het sy rusplek gevind op die berg Sion in Jerusalem. Die res van die psalm beskryf in vreugdevolle taal die oorwinning van die Here. 

Dus, broers en susters, wanneer die ark in Numeri 10 vir die eerste keer wegtrek, dan is dit die begin van ‘n lang opmars na die uiteindelike doel! Dáár in Jerusalem, op die berg Sion, kom God se troon tot stilstand, “want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê: Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer” (Psalm 132:13-14). God het sy rusplek bereik!

God se rusplek – in Jerusalem? Vir ewig? Maar Jerusalem is dan verwoes met die ballingskap?! Die aardse Jerusalem kan tog nie die finale rusplek wees nie? Gemeente, soos wat die ark slegs die simbool van God se troon was, só was Jerusalem slegs die simbool van God se woonplek. Met die heerskappy van die bose hier op aarde, kon Jerusalem egter nooit die finale rusplek wees nie. Jerusalem sou altyd bedreig word, altyd aan aanvalle blootgestel wees. Maar deur die werk van Jesus Christus mag ons vandag verder kyk as die ark, en verder as Jerusalem. Vandag kyk ons op na Jesus Christus wat regeer in die hemelse troonsaal! Deur sy werk hier op aarde en aan die kruis, deur sy oorwinning oor die dood en sy triomtog na die hemel het Hy die ware, hemelse rus vir al God se kinders voorberei en moontlik gemaak! Daarheen is al die gelowiges oppad, daarheen is die kerk van alle eeue oppad. Deur al die eeue van kerkgeskiedenis gaan God sy kerk voor na die hemelse rusplek.  

Gemeente, ons sien dus dat God se opmars na sy finale rusplek ‘n proses is; God gaan ‘n pad na sy rusplek toe. En dit is belangrik dat ons ons lewens sal sien binne die groter geheel van die opmars van God en sy volk na die hemelse rus. Jy is deel van daardie opmars; as kerk is ons deel van daardie opmars. En ons weet dat die Here ons voorgaan. Hy gaan voor ons uit, en oral langs die pad gee Hy vir ons ‘n plek om te rus, gee Hy vir ons tyd om asem te skep. Ons mag mos enige oomblik die bybel oopmaak en God se gerusstellende stem daarin hoor; ons mag elke week in die huis van die Here saamkom, woorde van bemoediging en verkwikking hoor, gevoed word met die brood van die lewe. Só versterk God ons, gee Hy vir ons rus. Maar… dit is ‘n tydelike rus. Ons moet weer verder gaan, ons moet die opmars voortsit, ons moet ons oog hou op die finale rusplek wat Christus vir ons voorberei het. Daarheen is ons oppad!  

Maar dit vat tyd… Soos wat dit honderde jare geduur het voordat God vanaf die Sinai sy rusplek op die berg Sion betree het, so duur dit tyd om die ewige en hemelse rus binne te kan gaan. Die opmars vat vir ons gevoel soms baie lank; nog ‘n jaar, nog ‘n dekade, nog ‘n eeu. En tydens hierdie opmars is daar stryd, ons word aangeval deur die vyande van die Here, ons verkeer dikwels in groot gevare. En soms kan die stryd vir ons te veel raak, soms word die hartseer of die moeite te swaar. Broers en susters, sing dan die marslied van die geloof, soos wat Moses dit gedoen het in Numeri 10:36: “Keer terug, HERE, na die tienduisende van die duisende van Israel.” Gaan as gelowige van rusplek na rusplek om deur die Here versterk te word, maar bid intussen vir die finale rusplek. Bid dat Jesus Christus sal terugkeer na sy kerk hier op aarde, dat Hy sal kom voordat dit vir ons te swaar word. Bid dat ons behoue mag bly tot ons die finale bestemming bereik.

Broers en susters, ook 2008 staan in die groter skema van God se opgang na sy rus. Wat die komende jaar ook al mag bring, behou die perspektief op waarheen jy oppad is, en saam met wie jy oppad is. Ek is oppad saam met die Drie-enige God, Hy wat my na kort verdriet ‘n ewige vreugde bied.

Amen

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 68:1 en 2
Gebed
Lees:  Numeri 10:11-13 en 28-36
      Psalm 68
Sing Ps. 132:5, 9-11
Teks: Numeri 10:35-36
Preek

    • Na eerste punt: Ps. 56:1 en 3
    • Amenlied: Ps. 43:3 en 4

Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 68:5, 7 en 9
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)