Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, dan bid ons dat God se mags-heerskappy hoe langer hoe meer ‘n genade-heerskappy...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-02-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Verwysing: 
HK 48-0 (2008)
Preek Inhoud: 

Sondag 48

Ds HH van Alten - Sondag 17 Februarie 2008

Lees: Psalm 110, Openbaring 19:17-21
Teks: HK Sondag 48
Sing: Sien liturgie

Dus, wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, dan bid ons dat God se mags-heerskappy hoe langer hoe meer ‘n genade-heerskappy sal word, waaraan alles wat leef hulself gewillig sal onderwerp.

  1. Dit begin by onsself
  2. Dit kom tot uiting deur die kerk
  3. Dit bereik voltooiing by Christus se wederkoms

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die Koninkryk van God en die Koninkryk van die hemele – twee terme wat ons so dikwels in die evangelies teëkom. Dit is ‘n sentrale aspek van Jesus se onderrig tydens sy lewe op aarde, maar wanneer ons sou moes verwoord wat ons presies daaronder verstaan, dan bly dit dikwels vaag. Dan sukkel ons om te gryp wat presies hiermee bedoel word. En tog wil dit voorkom asof Jesus dit van die grootste belang geag het. Daarom wil ons vanaand vanuit die Woord van God duidelikheid probeer kry oor wat ons presies onder hierdie terme moet verstaan.  

Die Here Jesus leer ons bid: “Laat u Koninkryk kom.” Maar beteken dit dan dat God se mag en koningskap beperk is, dat Hy nie alreeds vanaf die allereerste begin oor alles en almal regeer nie? Nee, gemeente, en dit is die eerste misverstand wat ons uit die weg moet ruim. Wanneer Jesus ons hierdie bede op die lippe lê, dan gaan dit hier nie oor die koningskap van ons Skepper-God oor die hele wêreld nie. Hierdie koningskap is immers permanent en ewig en onbetwisbaar. Kyk maar na Psalm 97:1: “Die HERE is Koning; laat die aarde juig; laat die eilande bly wees!” En wat van 1 Kronieke 16:31: “Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: Die HERE is Koning!” Ook in die boek Job blyk dit op ‘n besondere wyse. Daarin sien ons dat selfs die satan nie sonder God se toestemming Job mag aanraak nie (Job 1:12, 2:6). En wanneer daardie einste Job op ‘n stadium God se heerskappy begin bevraagteken, dan wys die Here in hoofstukke 38-41 in beeldende taal sy majesteit en almag oor alle dinge.

Dus, dit eerste – die Here is Koning! As Skepper regeer Hy vanaf die allereerste begin oor alle dinge. Ons bely dit in v/a 28 van die Kategismus soos volg: alle skepsels is só in God se hand dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. ‘n Groot troos vir elke christen, veral wanneer die omstandighede moeilik is! 

Maar wat bedoel die Here Jesus dan wél met die bede: “Laat u Koninkryk kom”? Wel, gemeente, ‘Koninkryk’ verwys in die tweede bede nie na God se regering oor alle dinge nie (daaroor het ons sopas gepraat), maar dit verwys na God se ryksgebied wat bevry is, en waar sy gesag weer domineer. Ek herhaal: die ‘Koninkryk’ waarvan die tweede bede praat, verwys nie na God se ewige heerskappy as Skepper en Onderhouder van die wêreld nie, maar na sy verloste ryksgebied, waar sy gesag weer domineer.  

Gemeente, reeds in die Ou Testament tref ons hierdie onderskeid aan. Ons het nou al klaar gekyk na enkele uitsprake oor God se ewige en onbetwisbare Koningskap, maar die Ou Testament bevat óók beloftes oor ‘n komende Koninkryk, en ‘n komende Koning. Kyk maar… Direk ná die sondeval kry ons al die belofte dat ‘n kind uit Eva die slang sal vermorsel (Gen. 3:15). ‘n Entjie verder in die heilsgeskiedenis kondig Jakob oor sy seun Juda die volgende aan: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees” (Gen. 49:10). En wanneer ons nog verder gaan, dan sien ons dat die weg tot hierdie seën via die koningshuis van Dawid sal loop; Dawid kry immers die belofte van ‘n groot opvolger wat vir ewig op sy troon sal regeer (2 Sam. 7:12-13).

Al hierdie beloftes word nóg duideliker in die tyd van die ballingskap. Daar kry Daniël die belofte dat die wêreldmagte van daardie tyd, Babilonië en Assirië, die knie sal moet buig voor die nuwe komende ryk uit die hemel. Ons lees in Daniël 2:44: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” Pragtig, is dit nie? ‘n Ewige Koninkryk! Maar wag, daar word nog meer vertel. In hoofstuk 7 sien Daniël Een soos die Seun van ‘n mens, en dan lees ons vervolgens in vers 14: “En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”  

En nou spring ons na Johannes die Doper, die voorloper van die Here Jesus. Johannes sluit aan by hierdie Ou Testamentiese beloftes waarna ons sopas gekyk het. Maar meer nog, hy verkondig ook die nabyheid van die vervulling van hierdie beloftes. Al hierdie beloftes van eeue se geskiedenis in die Ou Testament, van hulle sê Johannes: “Let op, hulle staan op die punt om werklikheid te word!” Hy sê immers in Mattheus 3:2: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Daardie koninkryk, waarvan die Ou Testamentiese beloftes eeuelank gespreek het, en waarvan God in die Ou Testament elke keer ‘n bietjie meer besonderhede bekend gemaak het, staan dus op die punt om te kom! En dan kan ons almal uitreken wat gaan volg. Natuurlik, Jesus Christus – in Hom het die Koninkryk van die hemele gekom!

Maar ons word effens teleurgestel. Want wanneer Jesus dan daar is, en tussen die mense lewe, dan is sy boodskap woordeliks dieselfde as Johannes die Doper s’n. Jesus sê óók: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 4:17). Die ‘naby’ kom maar net nie ‘aanwesig’ nie. Selfs later, in Mattheus 10, wanneer die twaalf dissipels uitgestuur word, dan moet hulle steeds verkondig: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 10:7). En daarby word die leerlinge steeds geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10). Maar… hoekom bly die Koninkryk slegs ‘naby’? Dit is vir ons gevoel net nie goed genoeg nie. Hoekom kom dit wat ‘naby’ is, dan nie ‘by’ ons nie – aanwesig, teenwoordig?!  

Gemeente, hier is dit geweldig belangrik om te sien wat Jesus bedoel wanneer Hy bly sê dat die Koninkryk ‘naby’ gekom het. Hierdie nabyheid beteken nie dat die koms van die Koninkryk uitgestel word nie; dit beteken nie dat die ryk nog oppad is, en daarom tans nog onbereikbaar is nie. Inteendeel: dit is nou reeds bereikbaar. Maar die Koninkryk van God (wat trouens dieselfde is as die Koninkryk van die hemele) is nie soos die koninkryke van hierdie wêreld nie. Die koninkryke van hierdie wêreld storm met geweld êrens binne, dit oorweldig, dit forseer, dit maak stukkend. Kyk maar net na die vele oorloë in die geskiedenis – hoe koninkryke van hierdie wêreld hulleself eenvoudig êrens ingeforseer het.

So is die Koninkryk van God nie… Nee, die Koninkryk wat uit die hemel kom het ‘n ander werkwyse, ‘n ander modus operandi. En dit is dat die Koning van hierdie Ryk die burgers van die wêreld uitnooi om deur geloof toegang tot hierdie Ryk te verkry. Wanneer Jesus sê dat die Koninkryk van die hemele naby gekom het, dan bedoel Hy dit nie afstandelik nie. Inteendeel, wanneer Hy dit sê, dan maak Hy juis die deur van hierdie Ryk wyd oop, dan nooi Hy mense uit om in te kom. En weet u wat: Hy is self die deur waardeur mense kan ingaan. Die Koninkryk van die hemele is so naby soos wat Jesus naby is… Wie in Hom glo, word ‘n burger en ‘n erfgenaam van hierdie Koninkryk. Wie nie in Hom glo nie, is alreeds veroordeel en word uitgewerp in die vuur, in die buitenste duisternis, waar daar gekners van die tande is.  

Broers en susters, die Koninkryk van die hemele, die Koninkryk van God, kom dus naby aan ons in die persoon van die Here Jesus. En om daardie Koninkryk te kan ingaan, is dit nodig om in Hom te glo, aan sy persoon vas te klou. Wie dít doen, gaan die Koninkryk binne! En nie net gaan die gelowige die Koninkryk binne nie, maar die Koninkryk kom dan ook binne-in jou! Dan word jy as’t ware trotse draers van die Koninkryk van die hemele!

Gemeente, dít is waaroor die Koninkryk van God gaan: dit gaan oor God se liefdevolle en genadige heerskappy oor elkeen wat hom deur die geloof aan Jesus Christus onderwerp. God wil hê dat sy magsheerskappy, waarvoor alle skepsele willens en wetens móét buig, dat daardie magsheerskappy al hoe meer ‘n genadeheerskappy sal word, waarvoor ons vrywillig en uit dankbaarheid wíl buig – neem my lewe laat dit Heer, U gewy wees meer en meer! En dáárom bid ons: “Laat u Koninkryk kom.” Gemeente, ek wil dít nou nog kortliks uitwerk aan die hand van Sondag 48 van die Kategismus.

Dus, wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, dan bid ons dat God se mags-heerskappy hoe langer hoe meer ‘n genade-heerskappy sal word, waaraan alles wat leef hulself gewillig sal onderwerp.

  1. Dit begin by onsself

  2. Dit kom tot uiting deur die kerk

  3. Dit bereik voltooiing by Christus se wederkoms

1. Broers en susters, die Kategismus begin in antwoord 123 by elkeen van ons persoonlik: “Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp.” Wat heel eerste uit hierdie antwoord blyk, is dat daar reeds sprake is van ‘n mate van onderwerping – anders kan die Kategismus mos nie praat van “hoe langer hoe meer” nie. As gelowiges, as mense wat Jesus Christus as Verlosser bely, is ons dus reeds burgers van God se Koninkryk. En dit gee groot rus. Ons ywer nie met groot vrees en onsekerheid om binne te gaan nie; nee, ons is binne! En dit is nie verwaandheid of gearriveerdheid nie; nee, dit is ‘n geloofsuitspraak – as gelowige is ek reeds in die Koninkryk! Ek is binne!

Maar dan moet ons ook nog meer sê. Ons moet ook vir mekaar sê dat ons nog nie volmaak is nie. In die woorde van Sondag 44: Selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin van die gehoorsaamheid aan God. En ons het dit ook verlede week in die nagmaalsformulier gelees: “Sonder twyfel is daar nog baie sondes en gebreke in ons hart en lewe: ons het nie ‘n volmaakte geloof nie; ons dien God nie met so ‘n ywer as wat ons verskuldig is nie; en ons moet daaglikse stry teen die swakheid van ons geloof en die sondige begeertes van ons vlees.”  

Dus, broers en susters, ook by óns wat reeds deel aan God se Ryk het, moet God se magsheerskappy steeds meer en meer genadeheerskappy word. Ook óns moet Jesus Christus steeds meer en meer in die geloof omhels en aangryp. Ook by óns moet die onderwerping aan die Koning steeds meer gewillig en van harte gebeur. Daar is dus sprake van groei in ‘n gelowige se lewe – die woorde “hoe langer hoe meer…” wys dat dit hier gaan oor ‘n gestadigde toename, ‘n geleidelike proses van onwillige slaaf na gewillige kind. En dit is ‘n proses wat, volgens antwoord 123, aangedryf word deur twee middele wat God gee, naamlik deur sy “Woord en Gees”.

Die Kategismus het baie goed daaraan gedoen deur hierdie twee (Woord en Gees) naas mekaar te gebruik. Immers, Woord en Gees is ‘n volmaakte kombinasie wat beide op Christus wys. Die Woord, aan die een kant, vertel ons van Christus; ja meer nog, Christus is self die Woord wat vlees geword het. En die Gees, aan die ander kant, werk deur die Woord om ons te laat deel in Christus en sy verdienste. Dus, beide Woord en Gees rig die aandag nie op hulleself nie, en ook nie op ons nie, maar op Jesus Christus. En daardie fokus het ons nodig, gemeente. Ons het steeds weer nodig om na Christus gedryf te word, om by die voet van die kruis te gaan kniel. Want dit is immers slegs deur geloof in hierdie Christus dat ons die Koninkryk mag beërwe.

En daarom  is dit so ‘n dwaasheid as ons willens en wetens daarvoor kies om ‘n ander dryfveer in ons lewens te kry, as ons die Woord en die Gees – die enigste dryfvere na Christus toe – afskeep. Dit is so dom om eredienste doelbewus te versuim, dit is so onwys om daarvoor te kies om geen bybelstudie te doen en by te woon nie. Dit is slegs die dwaas wat sê: ek kan die genade ontvang sonder die genademiddele! Nee, ek het die genademiddele só nodig om God se genade-heerskappy in my lewe te laat groei; ek kan nie sonder die Woord en die Gees daarin slaag om my onwillige hart gewillig te maak nie. Tot vervelens toe word ons daaraan herinner in die Woord, in die gereformeerde belydenisskrifte, en in die prediking… Bly die genademiddele gebruik, sodat God se genadeheerskappy kan groei! 

Broers en susters, wanneer ek dus bid: “Laat u Koninkryk kom”, dan bid ek allereers dat God se genade-heerskappy in my lewe sal toeneem; dat ek my al hoe meer aan my Verlosser, Jesus Christus sal oorgee; dat ek Hom sal aangryp vir lewe en dood. En dit het uiteraard ook konsekwensies vir my lewe, dit moet sigbaar word in my lewe wie my Koning is, en dit moet sigbaar word dat ek in sy Koninkryk is.

In ‘n land soos Nederland kan ‘n mens dit baie mooi sien: wanneer jy in Nederland naamlik na ‘n wedstryd van die nasionale sokkerspan gaan kyk, dan dra almal oranje. Oranje? Die landsvlag is dan rooi en wit en blou? Ja, maar die koningshuis is Oranje! Oranje is die kleur om te dra, want daardeur word duidelik wie jou koningin is. Nou, so moet duidelik word wie jou Koning is – dit moet duidelik word in jou kleredrag, in jou taalgebruik, en in die styl van jou ontspanning; dit moet sigbaar word in die vrugte van vrugte van die Gees! Die Gees van Wie? Die Gees van Christus, jou Koning. En daar vrugte is: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal. 5:22). So kan mense sien wie die Koning is aan wie jy jou gewillig en van harte onderwerp. 

Ja, uiteindelik sal elke knie in elk geval voor hierdie Koning moet buig, en sal elke tong in elk geval moet bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. Maar laat dit nie so wees dat ons gedwing sal word nie, laat dit nie so wees dat ons deur die Koning op ons knieë geslaan sal word nie. Laat ons Hom vandag reeds aangryp en gewillig en van harte voor Hom kniel en sy Naam bely! Só kom die koninkryk van die hemele ook in jou lewe!

Ons let vervolgens daarop dat hierdie genade-heerskappy tot uiting kom deur die kerk.  

2. Die vraag wat dikwels gevra word, is: wat is die verhouding tussen kerk en Koninkryk van God. Immers, elkeen wat glo, is deel van God se Koninkryk, maar elkeen wat glo, is ook verplig om hom by die ware kerk te voeg. Is kerk en Koninkryk dan dieselfde? Nee, broers en susters, kerk en Koninkryk is nie dieselfde nie. Die Koninkryk gaan heelwat wyer as die kerk, ons kan die Koninkryk nie slegs tot die kerk beperk nie. Maar die kerk is wél die vergadering van dié wat hulself gewillig aan die Koningskap van Christus onderwerp, die kerk is wél die middel waardeur Christus ons in die Koninkryk van God wil laat deel (want dit is hier waar die Woord verkondig word), die kerk is wel die instrument waardeur Christus sy Koningskap wil uitbrei! Dus, vir ons as gelowiges is die kérk die plek waar die Koninkryk sigbare gestalte hier op aarde vind.  

En, gemeente, dit word so pragtig in Psalm 110 na vore gebring. Hierdie psalm van Dawid begin deur die Koningskap van Jesus Christus te bevestig. In vers 1 spreek die Here vir Christus aan nadat Hy sy werk op aarde voltooi het, en nooi Hom uit om die oop plek aan sy regterhand te kom inneem. Christus verkry dus die sitplek van mag en heerskappy. Hy is die Koning in die hemel! Maar dan is dit opvallend om in vers 2 te sien dat hierdie mag en heerskappy van Christus uit Sion as’t ware ten toon gestel sal word. Dit is dus deur Sion – en Sion is die kérk – dat die mag en heerskappy van Christus in die wêreld bekend word. Die kerk, wat te midde van ‘n vyandige wêreld lewe, het die taak om die mag en heerlikheid van haar Koning te laat blyk, en dit ter wille van die versameling van alle uitverkorenes en ter wille van die onderdrukking van die bose.  

Dit is ons taak, broers en susters, om Christus se magtige septer uit te strek in hierdie vyandige wêreld (Psalm 110:2). En dan hoef ons nie strydlustig te word nie, dan hoef ons nie die wapens op te neem. Nee, wanneer ons Christus se septer uitstrek, dan beteken dit eenvoudig om die kragtige evangelie, die Koninkryks-boodskap, te laat hoor. Die Woord en Gees, waardeur ons self deelkry aan die Koninkryk van die hemel – soos ons sopas gehoor het – moet nou ook deur die diens van die kerk uitgestraal word na buite toe.

Laat ons daarom, as volk van die hemelse Koning, gewillig wees vir hierdie krygsdiens om in die wêreld getuies te wees van sy heerskappy. Laat ons wees soos die dou wat in die môre op die gras lê – soos Psalm 110:3 sê – : só talryk, só vars, só skoon… Laat hierdie gemeente soos die vroeë-môre dou wees in haar uitstraling na buite, laat ons ons Priester-Koning sonder vrees aan die vyandige wêreld voorhou. Hy sal ons bewaar van alle gevare, Hy sal ons laat vermeerder deur geboortes en deur die werk van sending en evangelisasie, Hy sal die werke van die duiwel en elke mag vernietig, Hy sal alle kwaadwillige planne wat teen die Woord bedink word, verydel. Christus is immers Priester en Koning deur ‘n eed van God. Sy amp ontvang Hy deur goddelike ordening, net soos Melgisedek destyds in die Ou Testament.  

“Laat u Koninkryk kom” – dit beteken dus baie konkreet: maak ons gewillig en bekwaam om as gemeente van Pretoria-Maranata die evangelie van Jesus Christus uit te dra, op watter wyse dan ook. Dit vra ons betrokkenheid by sending, dit vra ons betrokkenheid by georganiseerde evangelisasie, maar bo alles vra dit van ons om lewende getuies te wees. Só word meer en meer mense gewen vir God se genadeheerskappy, só word die bose planne teen God se genadeheerskappy vernietig, só kom die Koninkryk deur die diens van die kerk

Ons let ten slotte nog daarop dat hier genade-heerskappy voltooiing bereik by Christus se wederkoms.  

3. Dit is pragtig, die rustige geloofstaal waarmee die Kategismus hierdie Sondagsafdeling afsluit: “… totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.” Daar kom dus ‘n tyd, broers en susters, dat daar slegs een koninkryk sal wees, die Koninkryk van God, die Koninkryk van die hemele. En laat ons goed besef dat, alhoewel ons in die vorige punt opgeroep is om krygsdiens te verrig, die uiteindelike oorwinning deur Christus alleen behaal sal word. Hy sal die konings verbrysel op die dag van sy toorn, Hy sal strafgerig hou onder die nasies, en alle rebelse magte vernietig. Dit sal wees soos wat ons gelees het in Openbaring 19. Alle vlees wat nie voor die Koning wil buig nie, sal aan die voëls van die hemel gegee word om te eet. Selfs die groot wêreldmagte sal nie teen ons Koning kan standhou nie: “Hy verbrysel ‘n hoof oor ‘n groot land” (Ps. 110:6).  

So haastig sal Hy wees om die oorwinning te behaal dat daar nie eens tyd sal wees om rustig verversings te geniet nie: “Uit die stroom sal Hy drink op die pad…” (Ps. 110:7) Ja, en dan sal ons Koning sy hoof ophef as teken van sy oorwinning. En saam met Hom sal al sy volgelinge opgehef word, verhoog word. Met sy vorige koms op die aarde was dit anders – toe het Hy ‘n swaar las gehad, toe was Hy ‘n man van smarte, verag, deur God geslaan en deur die mense verlaat.

Maar by sy tweede koms sal die oorwinning onstuitbaar en seker wees. Dan is die skare volgelinge ontelbaar, dan is die vreugde onkeerbaar. Die bede “Laat u Koninkryk kom” sal dan stil word, want dan het sy Koninkryk gekom, dan is sy genade-heerskappy vervolmaak, tot ewige vreugde en volle vrede vir elkeen wat vandag reeds buig, maar tot tandekners en trane vir elkeen wat Hom teenstaan. Dan sal Christus saam met ons die wyn drink in die Koninkryk van sy Vader. Laat ons daarom bly wees, ons vreugde wys en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam kom.

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 99:1-3
Gebed
Lees: Psalm 110, Openbaring 19:17-21
Sing Ps. 97:1, 5 en 7
Teks: HK, Sondag 48
Preek
Amenlied Ps. 110:2-4, 6 en 8
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 32:1-3
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
 
 

Liturgie: 

(kyk in preek)