Psalm 29:11
Ds HH van Alten - Sondag 24 Februarie 2008
Lees: Psalms 28 en 29, Efesiërs 1:15-23
Teks: Psalm 29:11
Sing: Sien liturgie
Tema: Aanbid die Koning wat regeer!
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Stilte… Soms is dit heerlik as daar stilte is, veral wanneer dit voorafgegaan is deur ‘n kakofonie van klanke en geraas; soms is dit nodig dat daar stilte is, sodat ‘n mens rustig kan raak en kan besin. Maar ander kere is stilte bedreigend. Stilte kan ons neerdruk, veral wanneer dit gepaard gaan met eensaamheid; u ken miskien die gevoel om elke dag in ‘n doodstil huis te moet instap. Stilte kan ons bang maak, veral daardie onheilspellende stilte wanneer ons sommer kan aanvoel dat alles nie pluis is nie. Stilte kan ons hartseer maak, veral wanneer dit ‘n geliefde is wat maar net nie wil praat nie.
Maar die mees bedreigende van alle stiltes is wanneer ons die Here nie meer hoor nie, wanneer sy stem vir ons gevoel stil geword het. Maar is dit moontlik? Sekerlik, gemeente! Daar kan dinge in ons lewens gebeur wat ons laat voel asof die Here ligjare van ons verwyder is; jy kan deur fases in jou lewe gaan waarin dit voel asof jy nog die Here soek, maar Hy sy rug op jou gedraai het; jy kan deur moeilike tye gaan waarin jy juis die Here so nodig het, terwyl dit voel asof Hy nie meer met jou wil praat nie. Dit is verskriklik, wanneer – in ons belewenis – die Here se stem in ons lewens stil geword het…
Nou, dit is presies wat ons ook in Psalm 28 teëkom. Dawid is in Psalm 28 desperaat dat die Here net nie moet stil wees nie. Ons hoor hom smeek in verse 1 en 2: “Ek roep U aan, o HERE! My rots, draai nie stilswygend van my af weg nie, sodat ek nie, as U teenoor my bly swyg, word soos die wat in die kuil neerdaal nie. Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binnste van u heiligdom.” Dawid ervaar in die eerste paar verse van Psalm 28 ‘n doodse stilte van die kant van die Here. En daarom pleit hy by die Here: “Here, moenie. Praat met my, laat U self hoor!” En, gemeente, dit is teen hierdie agtergrond dat ons vervolgens Psalm 29 kan lees – as ‘n soort antwoord van die Here op Dawid se stiltevrees. Psalm 29 deurbreek die stilte wat Dawid so wanhopig gemaak het. Op ‘n indrukwekkende wyse kom toon die Here dat Hy nie stil is nie, inteendeel…
Tema: Aanbid die Koning wat regeer!
Kom ons begin deur eenvoudig te kyk wat die psalm sê…
Verse 1 en 2 van Psalm 29 rig ‘n uitnodiging; dit is ‘n oproep aan die ‘seuns van gode’ – so staan dit letterlik in die Hebreeus. Ons vertaling praat van ‘hemelinge’. Dit gaan hier dus oor die engele – húlle word opgeroep, uitgenooi. Om wat te doen? Hulle word uitgenooi om aan die Here eer en sterkte toe te skryf. Eer en sterkte!
Nou, gemeente, ‘eer’ – wanneer dit aan God toegeskryf word – het twee aspekte. In die eerste plek is God se eer sigbaar. Ons lees byvoorbeeld in Deuteronomium 5:24: “Kyk die HERE onse God het ons sy heerlikheid (in Hebreeus dieselfde woord as wat met eer vertaal word) laat sien…” En in Exodus 33 word Moses toegelaat om God se eer te sien, hoewel net van agter af. In lyn hiermee kan Johannes daarom in hoofstuk 1:14 van sy evangelie sê: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid (sy eer) aanskou…” God se eer is dus ‘n sigbare heerlikheid. Die ander aspek, broers en susters, van God se sigbare heerlikheid, is dat dit ‘n koninklike heerlikheid is. Ons het daarvan gehoor in Psalm 24, enkele weke gelede: “Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle ewige deure, dat die Erekoning – die Koning van eer – kan ingaan!” God se eer is dus ‘n sigbare Koningsheerlikheid!
Verder moet die engele ook nog ‘sterkte’ aan die Here toeskryf – dit is weereens ‘n koninklike eienskap. Dink maar aan Psalm 68 waar gesê word: “o God, hulle sien u optogte, die optogte van my God, my Koning in die heiligdom.” En net daarna word van hierdie Koning gesê dat Hy sterkte gebied het: “betoon U sterk, o God, wat vir ons gewerk het.” Dus, die engele moet aan die Here koninklike en sigbare eer en sterkte toeskryf. En dit moet gebeur in die vorm van aanbidding! Let maar op die laaste woorde van vers 2: “Aanbid die Here in heilige sieraad.” Letterlik: aanbid die Here in die luister van sy heiligheid.
Maar hoekom moet die engele die Here aanbid, gemeente? Wat is die aanleiding daartoe? Immers, in die psalm net hiervoor het ons nog Dawid hoor smeek dat die Here net nie moet stil wees nie… Watter rede is daar dan nou skielik vir die hemelinge om die Here te aanbid? Wel, dit vind ons in die volgende gedeelte van psalm 29, die verse 3-9. Die Here staan naamlik op die punt om sy eer en sy sterkte sigbaar te maak! Die Here staan gereed om te wys dat Hy heerlik en sterk is!
Verse 3-9 beskryf ‘n massiewe donderstorm wat die beloofde land van wes na oos deurkruis. En dan moet ons nie dink dat die digter hier maar net van beelde gebruik maak nie. Nee, baie konkreet is ‘n donderstorm besig om sy weg te vind vanaf die see in die weste tot by die woestyn in die ooste, naastenby oor die gebied waar God se volk gewoon het. ‘n Egte donderstorm, soos wat ons hulle hier ook kry.
Vers 3 open die toneel: “Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters.” Die stem van die Here in die eerste sinnetjie, word in die tweede sinnetjie nader verklaar as God se donder – dit gaan hier dus oor die donderweer. En verder word die waters, waarvan in die eerste sinnetjie gepraat word, aan die einde nader toegelig as “die groot waters”. Dus, ons sien hier ‘n donderstorm besig om op te bou oor die Middellandse See, wat ook soms die Groot See genoem word. Vers 4 sê vir ons dat hierdie storm die krag en die heerlikheid van die Here vertoon; ons lees daar: “Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid.” ‘Krag’ en ‘heerlikheid’ – hoor u, dit is dieselfde terme as in vers 1. En dit word doelbewus hier gebruik om die broeiende storm te verbind aan die uitnodiging in verse 1 en 2 om die Here te aanbid! Want die krag en die heerlikheid wat in die donderstorm sigbaar word, is die HERE se krag en heerlikheid, en niemand anders s’n nie. En daarom is daar rede vir die engele om juis Hóm in die hemel te aanbid!
Maar goed, wat het intussen van die storm geword?
Wel, iets van die beweging en die intensiteit van die storm kom na vore in verse 5 en 6: “Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Libanon; en Hy laat hulle opspring soos ‘n kalf, die Libanon en Sirjon soos ‘n jong buffel.” Ons sien hier dat die storm intussen geskuif het vanaf die see, bo-oor die kusberge, na die Libanon bergreeks, noord van Israel. En vers 6 wys ‘n verdere beweging: die oorgang in vers 6 van ‘Libanon’ na ‘Sirjon’ wys dat die storm intussen aanbeweeg het vanaf die Libanon bergreeks na die Hermon-gebergte, wat oos daarvan lê. Hermon is ‘n ander naam vir Sirjon; ons lees in Deuteronomium 3:9: “die Sidoniërs noem Hermon Sirjon.” Verder toon die beelde, wat die digter in hierdie verse gebruik, vir ons ook die hewigheid van die storm: eeue-oue seders wat deur bliksemstrale verbreek word en aan die brand slaan, en massiewe berge wat, by die geluid van die donder, heen en weer golf soos kalwers en jong buffels.
Nadat die storm sy weg oor die Libanon-bergreeks en die Hermon-gebergte voltooi het, gaan dit rigting die woestyn, oos van die Hermon. Ons lees in vers 8: “Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe.” Dáár in die woestyn van Kades woed die storm homself uit, maar nie voordat selfs die woestyn onder die krag daarvan gebewe het nie.
Gemeente, nadat ons die storm op sy spoor gevolg het, toon die digter in vers 9 vir ‘n laaste keer aan ons die intensiteit daarvan. Die bosse word deur die bliksem kaal gestroop, en die dragtige takbokke word deur die intensiteit van die storm daartoe gebring om vroegtydig te lam.
Maar terwyl die natuur sidder onder die magtige stem van die Here, is daar ander geluide in sy hemelse tempel. Die engele, wat in verse 1 en 2 uitgenooi is om die Here te aanbid en aan Hom heerlikheid toe te skryf, gee gehoor aan hierdie oproep, want – so lees ons aan die einde van vers 9 – in sy tempel sê elkeen: Heerlikheid!
Met die beskrywing van die storm agter die rug, trek die digter in verse 10 en 11 die nodige konsekwensies. In vers 10 wys die digter vir ons dat die koms van die storm die bewys is dat die Here regeer: Hy sit as Koning oor die Watervloed. Maar, gemeente, wat moet ons presies onder hierdie ‘Watervloed’ verstaan? Dui dit op die waterstrome wat deur die pas afgelope donderstorm veroorsaak is en waaroor die Here volle beheer het? Dit is waarskynlik deel daarvan, maar ons moet ook wyer as dit kyk…
Met die keuse van hierdie woord ‘Watervloed’ herinner die digter ons ook daaraan dat die Here by die skepping alreeds die waters bedwing en aan hulle hul plek toegewys het. Toe alreeds het Hy sy troon bo die hemeloseaan – op die waters bo die firmament – gevestig. Hy het Homself as Koning oor die waters, en daarmee oor die hele skepping, op die troon geplaas en daar regeer Hy nou tot in ewigheid. Die donderstorm van sopas is dus vir die digter ‘n herinnering aan die Here se dade in die begin. In hierdie storm het die Here weereens gewys dat Hy vanaf die begin oor alles regeer. By die beskrywing van die storm sien die digter die Here as’t ware sittende op sy troon – vanaf die begin en tot in ewigheid!
En wanneer ons dit raaksien, dan besef ons ook dat die engele se aanbidding nie iets is wat sopas, tydens die donderstorm ontstaan het nie. Nee, vanaf die begin was hierdie aanbidding die voortdurende aktiwiteit van die seuns van God, die engele. Ons lees immers in Job 38:4 en verder hoe die Here vir Job vra: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? … Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God getuig het?” Die aanbidding van die engele oor die eer en die krag van die HERE is nie iets van gister of eergister, of van die tyd toe die Here in Dawid se dae ‘n donderstorm gestuur het nie. Nee, die engele se aanbidding is iets wat voortdurend voortgaan. Voortdurend word in die hemelse tempel gehoor: Heerlikheid! Die Koning regeer oor alles!
En, broers en susters, as die hemelse Koning oor alles regeer, dan het dit uiteraard konsekwensies vir sy volk op aarde – gelukkig is die volk van hierdie Koning! En dit sien ons dan ook duidelik in vers 11: “Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.” Dieselfde sterkte, wat in die pas afgelope donderstorm sigbaar geword het, is die Here in staat én bereid om aan sy volk te gee. God se krag in die storm is ‘n demonstrasie van die krag wat tot die beskikking staan van sy volk; hulle mag daarin deel. En só seën die Here sy volk – Hy gee aan hulle wat hulle nodig het om op die optimale vlak en in ware harmonie voor sy aangesig te lewe, in volkome welsyn en voorspoed; dit is die vrede, die sjaloom, waarmee vers 11 eindig.
Gemeente, wat ‘n wonderlike boodskap vir God se volk – die God van die donder is ons God! Ons kan sy eer en sy krag sien – ons het dit dan sopas van oos na wes oor ons land sien beweeg. Ons wil saam met die engele Hóm aanbid! In Hom is ons sterk, in Hom ken ons ware vrede! Heerlik is sy Naam!
Tot sover die uitleg van hierdie indrukwekkende ‘donder’-psalm…
Maar wat beteken dit nou vir ons vandag? Hoe moet ons onsself in hierdie psalm vind?
Wel, kom ons gaan terug na die stilte, waarvan ons in die inleiding gepraat het. Die stilte wanneer dit voel asof die Here ver weg is; die stilte wanneer dit voel asof Hy nie meer met ons praat nie, asof ons Hóm nog wel soek, maar Hy sy rug op ons gedraai het. Ja, dit kan die lewe van God se kinders baie moeilik maak. Of miskien het jy effens teruggesak in jou lewe met die Here, sodat daar ‘n stilte tussen julle is – dit kan gebeur in die lewe van die gelowige; ons geloofslewe is nie altyd op dieselfde hoë vlak nie. Of moontlik het jy al so agtelosig geword in jou lewe met die Here, dat sy stem stil geword het sonder dat jy dit eers agterkom; miskien pla dit jou glad nie dat jy Hom nie meer hoor nie.
Broers en susters, watter van hierdie stiltes jy ook al in jou lewe mag beleef, in psalm 29 word ons opgeroep om weer te hoor dat die Here spreek. Sy stem is hoorbaar en sigbaar en tasbaar! Sy stem – ons kan dit eenvoudig nie mis nie. Die sewevoudige herhaling van “die stem van die HERE” in verse 3-9 rol deur die teks soos wat die donder rol deur die heuwels en valleie van die beloofde land; sewe keer “die stem van die HERE” – die volmaakte getal, die volmaakte stem. Maar, ons moet weer daarna leer luister, ons moet weer leer luister hoe die Here Homself laat hoor. En daar lê baie keer ons moeite; ons het verleer om die stem van die Here te hoor dáár waar Hy Homself bekend maak…
Neem byvoorbeeld iets soos weerlig. Weerlig is vir ons dikwels niks meer nie as die ontlading van elektrisiteit teen ‘n temperatuur wat vyf keer meer is as dié van die son. Of neem donderweer. Donderweer is vir ons dikwels niks meer nie as warm lug wat ontplof en in ons ore soos donderweer klink. Moontlik ontlok dit nog by ons verwondering, maar dit is niks meer as ‘n verwondering oor die verskynsel nie. Maar vir die Israeliet was donderweer en weerlig baie meer as dit; wanneer die Israeliet weerlig en donderweer gesien het, was dit vir hom “die stem van die Here.” Wanneer die gelowige Israeliet donker wolke oor hom heen sien beweeg het, het hy meer gesien as net wolke; in die wolke het Hy die Here op sy wa sien ry, soos wat ons lees in Psalm 104:3. Die volk Israel het geglo dat die hemele die eer van God vertel en die uitspansel die werke van sy hande verkondig (Ps. 19:2). Hulle het geglo dat God se onsigbare dinge, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien kan word (Rom. 1:20). Dít is hoe hulle na die stem van die Here geluister het. En Psalm 29 nooi ons nou uit om dieselfde te doen.
Broers en susters, ons moet weer leer om die stem van die Here te hoor in die natuur en die bestuur van hierdie wêreld. En dit is moeilik - ons lewe in ‘n raserige tyd, die geraas van elkeen wat sy eie stem wil hoor. Ons lewe in ‘n tyd waarin daar vir alles ‘n verklaring is, waarin daar vir alles ‘n teorie is. Elke weersomstandigheid kan wetenskaplik verklaar word, elke gebeurtenis het ‘n oorsaak en ‘n gevolg. En ons drink dikwels saam uit die fontein van hierdie ons-weet-alles-ideologie. Wanneer daar iets in die wêreldgeskiedenis gebeur, dan roep ons ‘n analis in om dit vir ons te verklaar; wanneer daar ‘n ongeluk gebeur, dan soek ons na die redes hoekom dit so, en nie anders gebeur het nie; wanneer ons lewens op sy kop gekeer word deur een of ander gebeurtenis, dan vra ons: “Wat sou dit veroorsaak het? Hoe was dit moontlik?” En êrens bly ons onrustig, bly ons met vrae sit wanneer ons dit nie kan verklaar nie…
Maar dan maak Psalm 29 ons stil; Psalm 29 plaas die vinger op ons mond: “Hou op praat, hou op vir alles ‘n antwoord en verklaring soek, en luister… Hoor die stem van die Here!” Ja, as gelowiges is dit vir ons verskriklik wanneer ons die Here nie meer hoor nie, maar dit is dikwels omdat ons self so baie praat, so besig is om verklarings te soek, so getrou agter die alles-weet-denke aanstap. Maar dan wil Psalm 29 ons ore skoonspuit en ons weer in geloof laat luister: “Word stil, en luister… En dan besef ons skielik weer dat agter alle dinge die Here regeer, dat in alle gebeurtenisse sy hand te sien en te hoor is. In elke ding in jou lewe, klein en groot, blyk sy heerlikheid en krag. Hy is Koning wat regeer oor die Watervloed, vanaf die allereerste begin en tot in ewigheid!
En die gelowige wat dít begin raaksien, ontvang van hierdie Koning ‘n geweldige hoop en verwagting. As gelowiges ontvang ons dan die belofte dat die Here die krag en die heerlikheid, wat Hy in die natuur, in die wêreldgeskiedenis en in die heilsgeskiedenis so asemrowend ten toon stel, ook vir ons wil gee. Die krag van die Here is nie slegs ‘n krag op sigself nie – nee, dit is ‘n krag vir ons! Die apostel Paulus bid daarom ook in Efesiërs 1:18 en 19 dat ons verligte oë van die verstand mag hê, sodat ons kan weet wat die rykdom van God se heerlikheid en die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo. Ja, die digter van psalm 29 wil ons daartoe bring om te glo dat God én in staat is én gewillig is “om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Ef. 3:20).
Broers en susters, wanneer ons leer luister na die stem van die Here in alles wat hier op aarde gebeur, dan kom daar geweldige kragte tot ons beskikking, dan kom God met daardie kragte in ons lewens in. Nee, dan kom Hy nie met donderweer en weerlig nie, maar dan kom Hy met sy Seun, Jesus Christus wat vir ons gelewe en gesterwe het, wat deur God uit die dode opgewek is, en wat daarna ‘n plek aan die regterhand van die Vader ontvang het. Hierdie opstanding en hemelvaart van Jesus Christus – dit is die hoogtepunte van die manifestering van God se krag, soos Paulus in Efesiërs 1:19 en 20 sê. In Christus het God se krag en heerlikheid hulle hoogtepunt bereik, en juis dáármee wil Hy ons lewens binnekom. Ja, Hy kom met die Gees van Christus om kragtige dinge in ons lewens te werk.
En weet u wat, dan begin ons heeltemal anders dink oor ons lewens. Ons dink dikwels so klein – en natuurlik moet ons klein dink van onsself, maar ons moet groot dink van ons God. Wanneer jy in Hom glo, kom daar groot kragte tot jou beskikking. En dan word daardie sonde, wat jou al so dikwels moedeloos gehad het, skielik klein in die lig van die krag van God in jou lewe. Waar jy voorheen gedink het dat jy nie in staat sal wees om op te staan vir jou geloof nie, kry jy nou skielik die moed om voor konings en hooggeplaastes te getuig. Waar vroeër die vrugte van die Gees by jou maar skaars was, sien jy skielik hoe vriendelikheid, selfbeheersing en liefde jou lewe begin kleur.
Aan elkeen wat na sy stem leer luister het, gee God die krag van die Gees van Christus! En met behulp van daardie krag word jou lewe heilsaam, en word God se vrede – sy sjaloom – in jou lewe sigbaar. Vrede, deur Jesus Christus. Ja, het die engele dit nie gesing nie? Watter engele? Die engele van Psalm 29? Ja, hulle ook. Maar nog mooier klink dit in daardie heerlike nag in Betlehem: Ere aan God in die hoogste hemele (hoor u Psalm 29:1?), en daarom ook vrede op aarde in die mense ‘n welbehae (ja, daar het ons Psalm 29:11!). Dít is God se krag waardeur die lewe geseën word! En Paulus sê dit ook, in ander woorde, in Efesiërs 1:22, naamlik dat Christus regeer in groot krag … vir wie? Vir ons, sy gemeente. Hy gee Homself in sy heerlikheid en in sy krag vir ons, broers en susters!
En daarom, broers en susters, is die oproep in verse 1 en 2 om die Here te aanbid nie slegs meer ‘n oproep wat vir die engele bedoel is nie. Dit word nou ‘n oproep vir elkeen wat glo en wat God se krag in sy lewe ervaar. Gee aan die Here eer en sterkte – jy weet mos dat Hy regeer, jy weet mos dat Hy die Koning is wat oor die Watervloed sit, jy het immers na sy stem leer luister, jy ervaar dan elke dag sy krag! Aanbid Hom daarom, skryf aan Hom toe dat Hy alle krag en heerlikheid besit tot in alle ewigheid.
Gemeente, ons is geseënd om so ‘n Koning te mag hê. Die nasies van hierdie wêreld is onderdane van konings wat ónder die Watervloed regeer, wat elkeen koning is op sy eie beperkte plekkie. Maar ons is onderdane van die Koning wat bó die Watervloed sit, wat sy stem laat hoor sodat die aarde bewe. Maar in sy tempel, in sy gemeente hier op aarde, sê elkeen: Heerlikheid! En dan volk daarop die seën van die Here: Vrede vir julle!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 47:3 en 4
Wetslesing
Sing Ps. 130:2-4
Gebed
Lees: Psalm 28 en 29
Efesiës 1:15-23
Sing Ps. 93:1 en 2
Teks: Psalm 29:11
Preek
Amenlied Ps. 93:3 en 4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 29:1, 4 en 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)