In die derde bede bid ons vir die totale oorgawe van ons wil aan die wil van God!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-02-24
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 49
Verwysing: 
HK 49-1
Preek Inhoud: 

Sondag 49

Ds HH van Alten - Sondag 24 Februarie 2008

Lees: Mattheus 16:20-28, Romeine 12:1-2
Teks: HK Sondag 49
Sing: Sien liturgie

Tema: in die derde bede bid ons vir die totale oorgawe van ons wil aan die wil van God!

  1. In Christus is dit moontlik
  2. In die erediens van ons lewe word dit sigbaar

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Laat u wil geskied” – as ons praat van God se wil, waaroor gaan dit dan? Wat bedoel ons daarmee?

Wel, dit kan in die eerste plek verwys na God se raadsplan, daardie deel van sy wil wat vir ons verborge is. Dit is daardie deel van sy wil waarmee ons dikwels so worstel. Dit is vir ons so moeilik om te verstaan hoekom duisende mense in oorloë moet sterf. Dit is vir ons so verskriklik moeilik om te aanvaar dat die Here besluit het om my man, of my vrou of ons kind tot Hom te neem. En verder sou ons so graag wou weet wat God se wil vir my lewe in die toekoms is: watter werk gaan ek eendag doen? Gaan ek eendag ‘n man of vrou kry? Is hierdie een vir my bedoel? Watter keuse moet ek in hierdie of daardie geval maak?

Gemeente, hier gaan dit oor God se verborge wil, waarvan ons in artikel 13 van die NGB bely: “ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat God bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.” In God se raad, sy verborge wil, het ons dus niks te soek nie. Ons bely slegs, en dit dikwels met groot moeite en tussen die trane deur, dat niks per toeval oor ons kan kom nie, maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom.  

Maar dan, broers en susters, is daar vervolgens ook God se geopenbaarde wil. Sy geopenbaarde wil is sy gebooie, sy wette vir ons lewe. Daarvan kan ons wel alles weet – vanuit sy Woord. God het sy Woord, die Bybel, aan ons gegee om aan ons te openbaar hoe Hy wil hê dat ons met Hom en ons naaste moet lewe.

Dus, wanneer ons praat oor God se wil, dan onderskei ons tussen God se verborge wil en sy geopenbaarde wil. En van hierdie twee moet ons saam met Moses in Deuteronomium 29:29 sê: “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.”

Die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet – en gemeente, juis daarvoor bid ons in die derde bede: Laat u wil geskied! In die derde bede gaan dit dus nie oor die verborge dinge nie, maar oor die geopenbaarde wil van die Here. En ons bid dat ons hierdie wil sal gehoorsaam… 

Tema: in die derde bede bid ons vir die totale oorgawe van ons wil aan die wil van God!

  1. In Christus is dit moontlik

  2. In die erediens van ons lewe word dit sigbaar

1. Gemeente, vir ons mense is die onderskeid, wat ons sopas getref het tussen God se verborge en sy geopenbaarde wil, noodsaaklik. Immers, ons is nie in staat om God se diepste oorlegginge te peil nie; dit is nie vir ons moontlik om selfs maar vir ‘n oomblik ‘n kykie te neem in sy raadsplan nie. En daarom moet ons werk met wat Hy wél geopenbaar het, en moet ons erken dat Hy heelwat dinge nie geopenbaar het nie.

Maar dit was natuurlik nie die geval by ons Here, Jesus Christus, nie. As Seun van God, en daarom God self, het Hy in alle gevalle presies geweet wat God se wil is. In sy geval is dit dus nie nodig om hierdie onderskeid tussen God se verborge en geopenbaarde wil te tref nie. Vir Hom was daar niks verborge in die Godheid nie, Hy het die dieptes van sy Vader deur en deur geken – ook tydens sy lewe op aarde. En die vraag is nou: hoe het Hy op hierdie wil van die Vader – wat vir Homself altyd openbaar was, maar vir ons dikwels verborge – hoe het Hy daarop gereageer? Het Hy te alle tye hierdie wil laat geskied, soos wat ons in die derde bede vir onsself bid? Kom ons kyk na wat ons vind in Mattheus 16… 

In Mattheus 16:13 en 14 sien ons dat die reaksie op die Persoon en werk van die Here Jesus taamlik teleurstellend was: “Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?” En dan kom daar ‘n hele rits van verskillende antwoorde – almal verkeerd. Daarteenoor vind ons die ware belydenis van Petrus, ook namens sy kollega-dissipels: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Maar dan, opmerklik, gee Jesus onmiddellik na hierdie belydenis aan sy dissipels die bevel dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie; hulle belydenis word stilgemaak. Dit wat die dissipels dus alreeds vir ‘n tyd lank gedoen het, naamlik om Christus te verkondig (dink byvoorbeeld aan Mt. 10 waar Jesus sy dissipels uitgestuur het), word nou deur Jesus stopgesit. Hoekom? Wel, broers en susters, tot dusver was daar nog altyd ‘n openlike aanbod aan die volk om in die Messias te glo. En wat was die resultaat daarvan? Negatief. En nou wil Jesus, deur onderrig, vir sy leerlinge wys dat hierdie negatiewe resultaat deel is van sy werk. Hierdie afwysing, wat sopas gekonstateer is, móét daar wees. Trouens, die negatiewe resultaat van die skare se reaksie is nog maar die begin; dit gaan nog erger word. Want van hier af gaan Jesus na Jerusalem toe moet gaan om daar te ly en gedood te word. Jesus berei sy leerlinge voor op sy kruisweg – Hy moes ly, dit was Goddelike noodsaak. Of anders gestel: dit was God se wil, ‘n wil wat vir die Seun van God maar al te goed bekend was…

En daarom, soos wat Jésus stil en stom sal moet wees voor sy regters en hulle woede sal moet verduur, so moet die dissipels ook maar solank begin om hulleself stil te hou onder mense wat tog nie wil glo nie. Hulle moet in stilte ly onder die feit, dat ánder ontken wat hullesélf so vol oortuiging bely! 

Maar tipies Petrus – hy is nie tevrede hiermee nie, en hy gryp in. Heeltemal begryplik – sopas het hy dan nog bevestig dat Jesus vir hom (en die ander dissipels) “die Seun van die lewende God” is. Sou God dan wil hê dat hierdie Seun van Hom moet sterf? Petrus is oortuig daarvan dat dit nie die geval kan wees nie. En daarom gaan bestraf hy Jesus met ‘n bemoediging, wanneer dit lyk asof Jesus die slagoffer van pessimisme geword het: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie.” Petrus is baie seker van sy saak: die Seun van God sal nooit deur sy Vader aan die dood oorgegee word nie.

Gemeente, skynbaar was hierdie woorde van Petrus vir Jesus baie pynlik; Hy reageer naamlik besonder heftig daarop. Hoewel Petrus vir Jesus apart geneem het om rustig ‘n vermanende en bemoedigende woord met Hom te kan spreek, ruk Jesus Hom los uit hierdie afsondering. Hy draai sy rug op Petrus en sê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” Natuurlik bedoel Jesus nie dat Petrus self die Satan is nie, en Hy wys dit deur van Petrus af weg te draai. Maar die Satan is wel besig om deur die mond van hierdie welwillende dissipel Jesus in versoeking te probeer lei. Want Satan wil nie hê dat Jesus moet ly en sterf nie, terwyl God dit juis wél wil hê! Satan wil, net soos die mense, nie hê dat Jesus vir die sonde moet sterf nie – vir sowel Jode as Grieke is hierdie gedagte ‘n ergernis en ‘n dwaasheid, … en duidelik vir die Satan ook. Maar dit is wel Gód se wil! En Jesus, wat dít maar al te goed geweet het, sien Petrus se woorde daarom as ‘n subtiele poging om Hom te verlei om nie die wil van God te gehoorsaam nie. En dan reageer Jesus: “Nee, gaan weg, Ek wil doen wat God wil – laat U wil geskied!” 

Maar hoekom dan so heftig reageer? Jesus kon Petrus mos rustig tereg gewys het, soos Hy al so dikwels in die verlede gedoen het. Hierdie leerling verdien mos nie so ‘n heftige antwoord nie? Broers en susters, om Jesus se reaksie te verstaan, moet ons iets verstaan van sy emosionele betrokkenheid by die feit dat Hy “moet ly”. Petrus raak ‘n baie gevoelige snaar: glo Jesus werklik dat die Vader Hóm sal verlaat, sodat Hy moet ly en sterf? Ja, gemeente, vir die Seun, wat lewe van die liefde van die Vader, is dit inderdaad ‘n angsaanjaende realiteit! Dit sal die grootste benoudheid van Jesus se lyding wees, naamlik dat Hy verlaat sal word. En Jesus wéét dat dit gaan kom.

Daarom is Petrus se woorde, waarin hy appelleer op die liefde van die Vader vir sy Seun, so pynlik. Petrus het slegs goeie woorde oor God se liefde gespreek. Hoe bitter is dit dan dat Jesus weet dat Hy hierdie liefde sal moet verloor om te sterf vir die sonde. En hoe heftig moet Hy Homself wapen teen die verleiding om aan hierdie lyding te ontkom, net sodat Hy die gemeenskap met die Vader kan behou. En sy enigste wapen teen hierdie verleiding is die wete dat dit God se wil is dat Hy moet ly, sodat die gelowiges kan lewe! Dit kan nie anders nie – só is dit die wil van sy Vader, só wil Jesus dit daarom ook doen. 

Broers en susters, voel u iets van die intensiteit van wat hier gebeur? Hier sien ons die Seun in sy intense liefde vir sy Vader, Hy het geen groter begeerte as om met die Vader gemeenskap te beoefen nie, niks sal Hom groter vreugde verskaf as in harmonie met die Vader te verkeer nie. En tog sê Hy, ten spyte van alle stryd wat Hy in sy menslike natuur moes verduur: “Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God” (Hebr. 10:7 en 9). Hoe maklik sou dit nie vir Hom gewees het nie om saam met Petrus te sê: “Dit sal my nooit oorkom nie!” Maar in sy Godheid het Hy geweet dat dit Hom wel sou oorkom, en daarom moes Hy in sy mensheid tot die uiterste toe hierdie verleiding weerstaan: “Gaan weg agter My, Satan, want jy is besig om My te probeer aftrek van die wil van my Vader wat Ek wil doen!”

Gemeente, dank die Here vir die evangelie van Christus se sielestryd en gevolglike onderwerping aan die wil van sy Vader. Daarsonder sou ons nie hier gesit het nie, daarsonder sou ons almal in ons goddeloosheid voortgeleef het, daarsonder sou ons almal sonder hoop en sonder God in hierdie wêreld gewees het. Sonder Christus se werk was die derde bede ‘n lugkasteel, ‘n lagwekkende onmoontlikheid in my sondige bestaan waarin ek van nature soek om net my eie wil te laat geskied. Sonder Christus se sielestryd sou ek nooit eens die stryd aangegaan het nie. Maar danksy Christus se gehoorsaamheid aan die wil van die Vader het dit moontlik geword dat ek ook weer gehoorsaam kan word. Danksy sy onderwerping kan ek die derde bede bid as ‘n konkrete realiteit in my lewe. Danksy Christus se werk het dit moontlik geword om harte van steen te verander in harte van klip. Daarvoor kan ons nie anders as om in verwondering die Here te loof nie. Loof die Here vir sy Seun wat, ten spyte van sy stryd, altyd gehoorsaam was, altyd trou, altyd gesoek het na die wil van sy Vader.

Die Here is goed, broers en susters. Sy wíl is goed, en daarom wil ons uit dankbaarheid niks anders nie as om te wil wat Hy wil…

Daarop let ons vervolgens: dit word sigbaar in die erediens van ons lewens. [sing Ps. 40:4-5] 

2. Gemeente, Jesus se weg na die lyding en sterwe is nie slegs vir Homself nie, maar ook vir sy leerlinge bepalend. Wie as leerling agter Jesus wil aankom, moet net soos Hy homself verloën (Mt. 16:24). Waaroor dit vir Jesus hier gaan, is die radikale en totale inset van jou lewe, en dit blyk ook uit die skokkende (en tot op daardie stadium ongebruiklike) beeld van die kruis. Jy moet bereid wees om jou kruis op jou te neem en Jesus te volg – volgelinge moet dus maar solank die galgtou om hulle nekke sit wanneer hulle Jesus wil volg. En die rede daarvoor gee Jesus in vers 25: “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” Ter wille van die gehoorsame navolging van Jesus Christus moet ons dus bereid wees om alles prys te gee; meer nog: moet ons bereid wees om onsself prys te gee, op te offer.

En dit stry teen ons menslike natuur, broers en susters. Dit is die drang van elke mens om sy eie baas te wees, sy eie lewe te bestuur; ons hou daarvan om in beheer te wees, dit is vir ons mooi as dinge loop soos wat ons dit wil hê. En verder streef ons na dinge wat ons sélf kan verwerf en beheers en besit. Maar, sê Jesus in vers 26, dít is nou werklik ‘n doodloopstraat. Al sou ‘n mens op hierdie selfstandige manier die hele wêreld wen, dan baat dit jou nog niks as jy daarby jou siel verloor nie. Want wat ons nodig het, gemeente, is nie om die wêreld te verower nie, maar om ons lewens te behou. En ons lewens behou ons slegs wanneer ons onsself prysgee en radikaal agter Christus aangaan op die pad wat oënskynlik doodloop in sy sterwe aan die kruis. Hierdie doodlooppad is ironies genoeg die enigste deurgang na die lewe. Want – en dit is die geheim - hierdie pad loop nie werklik dood nie. Die pad agter Jesus aan loop nie dood in sy graf nie, want Hy is opgewek uit die dood. Jesus lewe, en Hy staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade (vers 27). Die pad agter Chritus aan loop nie dood nie, gemeente; inteendeel dit lei na die lewe, dit lei na die Lewende! Maar… dit vra van ons totale oorgawe, dit vra die inset van jou hele persoon! Net so radikaal as wat Jesus die wil van sy Vader gevolg het – selfs teen die kragtige verleidings van die Satan in – so radikaal word nou ook van ons gevra om die geopenbaarde wil van ons God te gehoorsaam. Slegs op dié manier gaan ons agter Christus aan. 

Gemeente, ‘n uitwerking van hierdie radikaliteit vind ons in die eerste verse van Romeine 12, wat ons saam gelees het. Hier eis Paulus van sy lesers: “stel julle liggame as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens.” Dit is julle redelike godsdiens – vir die woord ‘godsdiens’ staan daar in die Grieks letterlik ‘erediens’. Paulus eis dus van sy lesers erediens. En hy noem hierdie erediens ‘redelik’ – dit is dus ‘n rasionele erediens, ‘n deeglik deurdagte erediens aan die enigste ware God.

Nou, hierdie beskrywing van hulle diens aan God as ‘redelik’ of ‘rasioneel’ moes vir die christene in Rome baie opmerklik gewees het. Dit het naamlik in skrille kontras gestaan met die heidense afgodery waarmee hulle daagliks te make gehad het. Dit was ‘n afgodery waar jy nooit seker was oor hoe die afgode gedien moes word nie, waar jy maar moes staatmaak op die toorkuns van ‘n ingeligte, waar jy maar moes vertrou op raaiselagtige tekens wat na vore gekom het by die bestudering van ‘n stuk beeslewer… Dit is irrasioneel, broers en susters. Terloops, afgodery is altyd irrasioneel.

Maar daarteenoor leer Paulus nou sy lesers dat die Here van sy kinders ‘n redelike erediens vra, ‘n weldeurdagte erediens. Hulle hoef hulle nie te verlaat op toorkuns nie, hulle hoef nie te wonder wat die afgode volgende wil hê nie, want die God wat hulle dien het Homself dan aan hulle geopenbaar, Hy het Homself aan hulle bekend gemaak. Hy het aan hulle sy wet gegee waardeur hulle kan weet hoe Hy gedien moet word. Daarom is die erediens aan die Here ‘n redelike erediens, wat eenvoudig van ons vra dat ons na sy openbaring, sy wet vir ons lewens, sal luister en dit sal deurdink. Die erediens wat Paulus beskryf, is ‘n erediens waarin jy die Here kan dien met jou hele verstand – waarin jy by jou volle positiewe kan bid: “Laat u wil geskied” want daardie wil is bekend gemaak! 

Die opmerklike van hierdie redelike erediens is egter dat dit nie slegs gevra het vir offers in die tempel nie; ons redelike erediens voor die Here is nie slegs iets vir Sondae in die kerk nie. Nee, hierdie erediens betrek die hele bestaan van die mens – dit is wat Paulus bedoel wanneer hy praat van die offer van ons liggaam. Die erediens aan die Here omvat dus ons hele lewe! Ons moet leer om God te dien met ons hele hart, ons hele verstand en met al ons kragte. Ons moet onsself as offer aanbied. Só ontstaan daar ‘n offer wat lewend, heilig en aan God welgevallig is.  

Nou, gemeente, hierdie erediens van ons lewe het natuurlik geweldige konsekwensies, en dit wys Paulus vervolgens in vers 2 ook aan sy lesers uit. Hy wys vir sy lesers in Rome dat hierdie erediens volgens die wil van die Here ‘n radikale breuk impliseer met die wêreldse gees wat so bepalend was vir die omgewing en die tyd waarin die christene in die stad Rome gelewe het. Die christene mag hulleself nie meer aanpas by die skema van hierdie wêreld nie – so staan dit letterlik daar. Modes, smaak, styl, gewoontes en tendense – dit is die dinge wat vorm gee aan menslike samelewings in verskillende tye en op verskillende plekke. Maar Paulus roep sy lesers op om nie hieraan deel te neem nie; hy wil hê dat hulle hulself nie hierby moet aanpas nie, hy wil hê dat hulle non-konformiste sal wees in hulle kultuur.

En indien hulle wel sou toegee aan die gees van hulle tyd, dan is hulle in feite alreeds oud en aan die verbygaan. Nee, hulle moet hul denke vernuwe en anders word! Hulle moet hulself oriënteer op God se wil. Dit lewer ‘n nuwe houding en ‘n nuwe lewenstyl op! Die standaardvraag is dan nie meer: “Wat is normaal?” nie, maar die nuwe vraag vir die christene word nou: “Wat wil die Here hê?” En wat die Here wil hê, is wat goed en welgevallig en volmaak is. Dit staan teenoor die slegte en die bedorwe lewenswyse van die heidene. 

Broers en susters, wat hierin duidelik word, is dat die derde bede ons nie slegs oproep tot uiterlike pligsvertoon nie; die offers wat die Here vra is nie in die eerste plek ons geld en goed nie, die Here vra nie iets nie. Nee, om die derde bede reg te bid, is om dit te bid met die houding en die bereidheid om aan die Here die offer van jou hele lewe te gee, in radikale gehoorsaamheid aan sy wil – dit is ons redelike, weldeurdagte, erediens. Om die derde bede te bid, is om jou eie wil prys te gee om aan God se wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees. En uiteraard, om hierdie bede in jou lewe hande en voete te gee, beteken dat jy met die wet van die Here besig sal moet wees, dit beteken dat jy jouself daarin sal moet verdiep, sodat jy kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.  

Gemeente, hierdie oorgawe aan God se wil is so totaal dat ons nie meer gelykvormig kan wees met die gees en kultuur van hierdie wêreld nie. In die woorde van Elia in 2 Konings 18 aan die volk: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baal dit is, volg hom na!” Dit is ‘n keuse – of die een of die ander. En as ons vir die Here kies, dan kan ons nie meer dieselfde vorm as die ongelowiges hê nie, dan kan ons nie meer soos die wêreld lyk nie – hoewel dit vir ons soms so lekker is om op twee gedagtes te hink. Nee, dan moet ons ‘n nuwe vorm kry, dan moet ons ‘n metamorfose ondergaan – dit is letterlik waarvan Paulus praat wanneer hy sê dat ons verander moet word.

‘n Metamorfose – dit is soos ‘n paddavissie wat in ‘n padda verander, of soos ‘n ruspe wat homself in ‘n kokon toespin en waaruit ‘n vlinder te voorskyn kom. Daarmee bly dit dieselfde dier, maar in ‘n totaal ander vorm. So is dit met ons ook. Wanneer ons radikaal die wil van die Here navolg, dan bly ons nogtans mense, hoewel die wêreld ons kan aankyk asof ons ‘n vreemde spesie is. Terloops, ware christene sal vir die wêreld altyd ‘n vreemde spesie wees. Tog bly ons mense, maar ons word vernuwe, ons kry ons oorspronklike paradys-vorm weer terug. Jou lewe begin dan geleidelik aan wees pas op God se meester, op sy oorspronklike patroon.  

En dit is waarvoor ons bid in die derde bede – ons bid vir ‘n Godgegewe gedaanteverwisseling, sodat my lewe en God se wil al hoe nader aan mekaar kom. Dit is ‘n voortdurende stryd, ‘n stappie-vir-stappie proses. En daarom is ons hier op aarde nooit klaar met die derde bede nie. Maar Christus se oorwinning in sy aanvegting is vir ons die waarborg – eendag sal my lewe volmaak op God se wil pas.

Amen

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 72:11
Gebed
Lees: Mattheus 16:20-28
      Romeine 12:1-2
Sing Ps. 86:3 en 6
Teks: HK, Sondag 49
Preek

    • Na 1ste punt Ps. 40:4 en 5
    • Amenlied Ps. 50:4, 7 en 11

Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 128:1 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)