Psalm 15:1b
Ds HH van Alten - Sondag 3 Februarie 2008
Lees: Psalm 14 en 15, Romeine 3:9-24
Teks: Psalm 15:1b
Sing: Sien liturgie
Tema: Die Here wys hoe ons toegang tot Hom verkry en behou.
- Sy tent
- Sy heilige berg
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Dit is baie maklik om psalm 15 so te verstaan en uit te lê dat ons almal vandag diep onder die indruk, maar tog moedeloos, weer huistoe gaan. Want as onsself in die lig van Psalm 15 toets, wie kan dan in die teenwoordigheid van die Here kom? As ons die vereistes, wat in verse 2-5 opgesom word, tot ons laat deurdring, wie kan dan toegang tot die Here verkry? En die gevolg is dat ons vanoggend hiervandaan weggaan – totaal ontmoedig, en nog verder van die Here verwyder as wat ons moontlik al was. Ja, gemeente, wanneer ons psalm 15 as ‘n voorwaarde gaan lees – as ‘n soort wet – beland ons in ‘n see van angs en onsekerheid, want het ek dan ooit genoeg gedoen om in die teenwoordigheid van die Here te mag kom?
Die ander uiterste is dat ons die psalm so verstaan dat ons vandag heeltemal onaangeraak huistoe gaan, want hierdie psalm het mos gegeld vir die Ou Testamentiese bedeling. Dit was bedoel vir die bedeling toe Christus nog moes kom, toe die volk nog die wet van Moses moes gehoorsaam om volk van die Here te mag wees. As Nuwe Testamentiese kerk leef ons egter nie meer onder hierdie wet nie. Ons het intussen die genade in Christus ontvang, en daarom het hierdie wettiese psalm sy relevansie vir ons verloor.
Gemeente, met nie een van hierdie uiterstes kom ons werklik verder nie, met nie een van hierdie uiterstes kom ons by die Here uit nie. En dit is mos waar ons wil wees, nie waar nie? Ons wil mos naby die Here wees; ons wil mos onder sy vlerke skuil, en aan sy bors gedruk word? Dit is mos jou begeerte om met die Here, as die skaduwee aan jou regterhand, deur die lewe te gaan; om met jou Bewaarder te wandel? Dit sal verskriklik wees wanneer daar vir ons geen toegang tot die Here is nie. Want waarheen moet ek dan gaan, wie gee dan sin en betekenis aan my lewe, wie is dan daar om my te troos en my vas te hou? Ja, broers en susters, as volk van die Here wil ons nie vir een oomblik sonder Hom lewe nie – dit is ons belydenis, en juis hierin wil psalm 15 vanoggend vir ons die weg wys.
Tema: Die Here wys hoe ons toegang tot Hom verkry en behou.
-
Sy tent
-
Sy heilige berg
1. Die eerste drie verse van Psalm 14, wat ons saam gelees het, gee vir ons ‘n genadelose ontleding van die verdorwenheid van die menslike natuur. En, gemeente, hierdie ontleding kom nie van een of ander siniese mens af nie, dit is nie Dawid wat op ‘n blou Maandag sy opinie oor die mensdom op papier gesit het nie. Nee, dit is God wat vanuit die hemel op die mensekinders neergesien het, en sy Goddelike perspektief op ons toestand bekend maak. Maar… hoe staan dit dan met die mensdom vanuit God se oogpunt? Wat is die uitslag van God se analise?
Wel, gemeente, Psalm 14 val sommer met die deur in die huis; die digter draai nie doekies om nie: “Die dwaas sê in sy hart…” Onmiddellik hoor ons hier weer die taal van die wysheidsgeskrifte waarop ek u verlede week ook gewys het. Die dwaas versus die wyse man – of ander gestel: dwaasheid teenoor wysheid – is immers een van die sentrale temas van die wysheidsgeskrifte. En dan moet ons dwaasheid nie verwar met domheid nie; die dwaas is nie ‘n mens met ‘n lae verstandsvermoë nie. Nee, ons moet dwaasheid in die bybelse sin verstaan. Die dwaas is die persoon wat willens en wetens besluit het dat daar vir God geen plek in sy lewe is nie; in sy hart en wil laat hy geen ruimte vir die moontlikheid van die bestaan van God nie. Hierdie ateïstiese besluit vorm vervolgens die dwaas se karakter, sy karakter wat sleg en afskuwelik word; en dit kom ten slotte tot uiting in sy slegte optrede. Dít is die dwaas, broers en susters.
En nou sê die Here, nadat Hy vanuit die hemel op die menskinders neergesien het: “Almal is dwase, daar is niemand verstandig wat na God vra nie.” Sien u, dit is die teendeel van die dwaas, naamlik die verstandige, die wyse, wat wel na God vra, en wat wel in sy lewe plek maak vir God. Maar, sê die Here, van húlle vind Ek geeneen nie. Al die mensekinders het afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie.
Gemeente, ons is dikwels geneig om by hierdie beskrywing – by hierdie Goddelike analise – om ons heen te begin soek na die dwase. En gelukkig hoef ons nooit ver te soek, want ons ken mos die dwase, ons weet mos wie die ongelowiges is wat nie aan God ‘n plek in hulle lewens wil gee nie… Maar wanneer ons dit doen, mis ons die bedoeling van die psalmdigter; dit is nie sy bedoeling dat ons in die eerste plek om ons heen moet kyk nie. Nee, die psalmdigter plaas met hierdie beskrywing ‘n spieël voor elke mens neer, hy gee ‘n selfportret van elkeen van ons: dit is hoe jy lyk! Jy is van nature die dwaas! Ek is van nature die dwaas!
Paulus doen presies dieselfde in sy beskrywing in Romeine 3. Met ‘n aantal aanhalings uit die Ou Testament, onder andere uit psalm 14, wys hy dat elke mens ‘n dwaas is, dat elke mens verderflik is. En, gemeente, hierdie verstaan van die universaliteit van die sonde is die grootste gelykmaker onder mense. Almal staan ons op gelyke vlak voor God – ek ook. As niemand regverdig is nie, dan is ek ook nie regverdig nie; as daar niemand is wat verstandig is nie, dan is ek deel van daardie dwaasheid; as daar niemand is wat na God soek nie, dan soek ek ook nie na God nie; as almal afgewyk het, het ek saam met almal afgewyk; as daar niemand is wat goed doen nie, dan sluit dit my in. Dít is God se genadelose ontleding van die menslike natuur, van my natuur. En, gemeente, hierdie ontleding moet my eie word, dit moet vir myself ‘n deurleefde werklikheid word: ek, ellendige mens; ons, ellendige mensdom! Paulus se konklusie in vers 20 is daarom ook een en al duisternis: uit die werke van die vlees sal géén vlees voor Hom geregverdig word nie… Totale verdorwenheid!
Of nie? Want wanneer ons verder lees, dan wil dit voorkom asof daar ‘n teenstrydigheid in psalm 14 na vore kom. Niemand is goed nie, sê die eerste helfte van die psalm, maar sommige ís, sê die tweede helfte. Hoe is dit moontlik? Wie is hierdie goeie mense, wie is hierdie ‘geslag van die regverdiges’ in vers 5 wat dreig om die algemene uitspraak van vers 3 – oor die menslike verdorwenheid – te ondermyn? Weereens kan Romeine 3 ons hierin verder help. Want nadat Paulus in vers 20 sy donker beskrywing van ons verdorwenheid afgesluit het, begin hy in vers 21 met ‘n opwaartse kurwe om te wys dat sommige van die onregverdiges tóg deur God geregverdig word. Onregverdiges word deur Hom regverdig verklaar. Dít is dan ook die ‘regverdige geslag’ waarvan Dawid in psalm 14:5 praat, dít is die ‘my volk’ van vers 4, dít is die ellendige wat by die Here sy toevlug soek in vers 6, dít is Jakob en Israel in vers 7. Gemeente, aan die een kant dus totale verdorwenheid, maar aan die ander kant is daar tog verlossing vir ‘n sekere groep mense.
Maar… hoe dan? En vir wie? Wie is diegene wat mag vertoef in die tent van die HERE? – dit is die vraag wat Dawid in psalm 15:1 stel. En, broers en susters, hier dreig die wesenlike gevaar wat ek in die inleiding reeds genoem het, naamlik dat ons nou wegspring om die voorwaardes van verse 2-5 as vereiste te stel – slegs hulle wat aan hierdie voorwaardes voldoen, mag in die Here se tent oorbly, hulle is die regverdige geslag. Maar dit is nie die digter se intensie nie. Los daarom eers die verse 2-5 buite beskouing.
Kom ons lees weer Dawid se vraag: “HERE, wie mag vertoef in u tent?” Gemeente, luister deeglik na hierdie vraag. Want om die vraag te stel, is tegelykertyd om hom te beantwoord! Want wat was hierdie tent van die Here? Wat weet ons van hierdie tent? Die meeste van ons ken die antwoord: die tent van die Here was, ook in Dawid se tyd nog, die tabernakel. Ja, in ‘n tyd toe die hele volk tydens hulle woestynreis in tente gewoon het, het die Here bepaal dat sy woonplek ook ‘n tent moes wees. Ja, sy woonplek… Die Here het besluit om by mense sy woonplek op te rig. Huislik en wonderbaarlik – God kom woon onder mense.
Wanneer Johannes baie eeue later, in die inleiding tot sy evangelie, praat van die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het (Joh. 1:14), dan gebruik hy vir ‘woon’ die Griekse woord vir ‘tent’ – die Woord, ons Here Jesus Christus, het dus sy tent onder onregverdiges kom opslaan. Soos wat Johannes dit stel: “Hy het onder ons kom woon … vol van genade en waarheid.”
En daar het ons die antwoord op die vraag hoe dit moontlik is dat daar uit die totale verdorwenheid tog ‘n regverdige geslag kan ontstaan. En daar het ons ook die antwoord op die vraag: Wie mag vertoef in die Here se tent? Of anders gestel: Wie het toegang tot die Here? Gemeente, die toegang tot God is nie iets wat ons moet of kan bewerk nie, maar die toegang word vir ons moontlik gemáák. Dit is deur die feit dat God sy tent onder mense kom opslaan het, dat dit moontlik geword het dat daar onder die ‘niemand wat goed doen nie’ van Psalm 14 tog weer ‘iemand’ kan wees wat na God vra. Onder die onregverdiges kom daar, deur God se genade, weer regverdiges. En dit is nie dié mense, wat al die eise van verse 2-5 nakom nie; dit is nie húlle wat in God se teenwoordigheid mag kom en in sy tent mag vertoef nie. Nee, broers en susters, dit is diegene, wat in die besef van hulle verdorwenheid die tent binnestrompel, wat daar mag verblyf; dit is hulle, wat glo dat in daardie tent heil is, wat toegang kry. Of soos wat Johannes in 1:12 sê: “… aan almal wat Hom aangeneem het, het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.”
Broer en suster, hoe het jy toegang tot God? Hoe weet jy dat jy onder sy vlerke mag gaan skuil, en naby Hom mag wees? Of om dit kontreet te maak: hoe weet jy dat jy volgende Sondag aan die nagmaalstafel mag kom sit? Omdat God na jou toe gekom het. Hy het nie gewag totdat ons die hemel bestorm het nie – dan sou Hy lank gewag het. Nee, Hy het deur sy Seun die aarde binnegedring; Jesus Christus het mens geword en onder ons kom woon. In die totale duisternis het ‘n Lig geskyn! Wie dít in geloof aanneem, het vrye toegang tot God. Daardie persoon mag bid met die seker wete: my Vader hoor! Daardie persoon mag kerk toe kom, met die vertroue: my God is ook hier; mag aan die nagmaalstafel kom sit met die sekerheid dat God sy Gasheer is. Daardie persoon mag elke dag lewe met die besef: die Here is my toevlug.
Gemeente, Dawid se vraag: “HERE, wie mag vertoef in u tent?” is daarom nie ‘n vraag uit desperaatheid en moedeloosheid nie. Dit is geen twyfelvraag nie, so van: Is dit enigsins moontlik? Nee, Dawid se vraag is ‘n geloofsvraag. Die vraag impliseer die antwoord. “Here, wie mag by U vertoef?” Dan antwoord die Here: “Almal wat glo dat Ek by húlle kom vertoef het.” Glo u dit, broers en susters? Werp u dan in die arms van die HERE en gaan woon by Hom. Laat sy tent vol word van gelowige mensekinders – dwase wat wys geword het!
Vervolgens let ons ook nog op sy heilige berg.
2. Daar is nog ‘n tweede vraag in ons teks: “Wie mag woon op u heilige berg?” Om hierdie tweede vraag goed te kan uitlê, moet u eers iets weet oor Hebreeuse poësie. Die mees kenmerkende eienskap van Afrikaanse poësie – en die meeste ander moderne tale – is waarskynlik rym. As ons ‘n gediggie moet skryf, dan sorg ons dat die laaste woorde van die verskillende sinne met mekaar rym. Ons sien dit ook terug in, wat ons noem, die berymde psalmboek. Dink byvoorbeeld aan die bekende psalm 105:5, waar ons sing: “die Heer wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie; al sy beloftes bly van krag, tot in die duisendste geslag. Verbond met Abraham sy vrind, bevestig Hy van kind tot kind.” Baie duidelike rym.
Maar in Hebreeuse poësie is dit anders – in Hebreeuse poësie is die kenmerkende eienskap nie rym nie, maar parallellisme. Hierdie moeilike woord dui daarop dat twee opeenvolgende Hebreeuse reëls betrekking het op mekaar, veral wat betref betekenis. Die Spreuke-boek is vol van voorbeelde hiervan; dink byvoorbeeld aan Spreuke 16:15: “In die vriendelike blik van die koning is lewe (die eerste reël), en sy welgevalle is soos ‘n wolk van die laat reëns (die tweede reël).” Almal van ons kan sien dat die twee reëls van hierdie vers met mekaar verband hou, op mekaar betrekking het. Nou, dikwels word gemeen dat die twee reëls wat parallel is eintlik presies dieselfde sê, maar net in ander woorde. Maar dit is nie heeltemal waar nie. Daar is uiteraard verband tussen die twee reëls, maar die tweede reël voeg tog nog iets toe; daar kom ‘n ekstra element by. En dit is nie altyd so maklik om hierdie ekstra element te ontdek nie, maar tog moet ons daarna soek. Wat is nou die ekstra element wat in Psalm 15:1 bykom – “wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?” Wat is ekstra in die tweede vraag van hierdie vers? Wat kom by? Ons kan op twee dinge wys.
In die eerste plek moet ons let op die ontwikkeling vanaf ‘vertoef’ na ‘woon’: wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Waar vertoef ‘n tydelike saak is, is woon baie meer permanent. Iemand wat vertoef, stop net vir ‘n rukkie op ‘n plek, terwyl iemand wat woon ook werklik op ‘n plek bly. Maar, gemeente, hoe kom die gelowige nou sover dat hy nie slegs by die Here vertoef nie, maar ook werklik by Hom mag woon? Wel, dit is op hierdie punt dat verse 2-5 vir ons belangrik raak.
Waar die eerste vraag van Psalm 15:1 as’t ware terug verwys het na psalm 14 om te wys dat, slegs deur die Here se tentwoning hier op aarde, daar ‘n regverdige geslag uit die totale verdorwenheid kon kom, só wys die tweede vraag van vers 1 vorentoe na die beskrywing van verse 2-5. En wat is die boodskap?
Die boodskap is, dat as jy jou verblyf by die Here permanent wil maak, jy ook volgens sy eise moet handel. Elkeen wat glo, mag in die Here se tent inkom – dit het ons in die eerste punt gesien. Dit is verniet, kom maar net in… Maar om vervolgens vaste verblyf daar te kry, moet jy ook soos sy kind gaan léwe! Wie by die Here regverdiging uit genade ontvang, moet nou ook soos ‘n regverdige gaan lewe, ooreenkomstig die Here se gebooie. En dit is nou presies waarby die verse 2-5 leiding aan ons wil gee. Verse 2-5 gee riglyne aan die regverdige om regverdig te kan lewe. En dan is dit opvallend om te sien dat ons in hierdie verse presies tien voorskrifte teëkom; dus, op die model van die tien gebooie kry die gelowige riglyne oor hoe om by die Here te kan woon, hoe om op sy heilige berg te kan bly woon. Inderdaad, sy heilige berg – heilig omdat die Here self daar woon, en daarom verduur Hy daar geen onheiligheid nie.
En, broers en susters, op hierdie punt is daar dikwels by ons onkunde, of selfs onwilligheid. Ons wil graag by die Here vertoef, maar om ons lewens te verander… En dikwels hoor ons dan die argument by mense: maar die Here vat ons mos soos wat ons is! Ja, inderdaad, die Here vat ons soos wat ons is, maar die Here laat ons nooit soos wat ons is nie. Wanneer die Here jou, deur die geloof, in sy tentwoning toelaat, dan is dit nie die einde van die pad nie. Nee, dan begin daar ‘n hele proses van vernuwing, dan begin daar ‘n lewenslange proses van heiliging sodat jy ook op sy heilige berg kan bly woon. En, gemeente, daardie konsekwensie moet ons goed besef. Ons kan nie by die Here gaan skuil, maar nie ons lewens wil verander nie. Ons kan nie sê dat ons in die tent van die Here woon, maar intussen ook in die tente van goddeloosheid rondhang nie. Die twee gaan eenvoudig nie saam nie.
In verse 2-5 wys die Here daarom vir ons: wie in My glo, moet ook die vrugte van die geloof dra. Wie by my wil woon, moet ook die huisreëls nakom. En oor hierdie huisreëls is die Here geensins onduidelik nie. Tien baie konkrete riglyne wys vir ons hoe ons moet lewe. Kom ons kyk kortlike na elkeen.
Die digter begin in vers 2 met “opreg wandel” – dit gaan hier oor jou integriteit, dit gaan daaroor dat jou hart en lewe heeltemal aan die Here gewy is; dit word vervolgens in die tweede en derde riglyn uitgewerk met betrekking tot jou optrede en spraak. Wanneer jy opreg wandel, moet jy dus geregtigheid doen (doen wat reg is), en ook vanuit jou hart die waarheid spreek. Die volgende drie riglyne is as’t ware die teendeel van die eerste drie waarna ons nou gekyk het. Wanneer jy waarheid spreek vanuit jou hart, dan gaan jy ook nie rond met laster op jou tong nie; wanneer jy geregtigheid doen, doen wat reg is voor die Here, dan soek jy ook nie daarna om jou vriend kwaad aan te doen nie. En wanneer jy opreg wandel, dan spreek jy ook geen smaadrede teen jou naaste uit nie. In die sewende riglyn word jy vervolgens opgeroep om gemeenskap te soek met almal wat die Here vrees, om jouself dus nie in gevaar te begewe deur met verworpenes om te gaan nie. Volgens die agste riglyn sal jy nie jou eed verbreek nie, maar jy sal dit hou omdat jy weet dat jy dit voor die Here afgelê het. En in die laaste twee riglyne, wat amper die mees konkrete riglyne is, word jy opgeroep om nie deel te neem aan woeker nie, en ook nie omkoopgeld aan te neem ten koste van onskuldige mense nie.
Dit is die tien riglyne vir jou, die regverdige, wat in die huis van die Here wil woon, wat jou verblyf by Hom vas wil maak. En wanneer jy dit nakom, broers en susters, kry jy in vers 5 die belofte: “Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.” Jou verblyf by die Here is dan vas en seker.
Dit bring ons dan ook dadelik by die volgende element wat ons in die oorgang van die eerste na die tweede vraag in vers 15 moet raaksien, naamlik dat daar ‘n ontwikkeling is van die tent na die berg van die Here: “wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?” Nou, gemeente, waar die tent ‘n tydelike verblyf veronderstel, wys die berg daarenteen op vastheid en duursaamheid. ‘n Tent is ‘n blyplek vir wanneer jy op reis is; nou slaan jy dit op, die volgende dag pak jy hom weer in om verder te kan reis. So is ons lewe met die Here ook nog nie permanent nie, dit is nog nie volmaak nie, dit is nog onderweg. Maar terwyl ons so onderweg is, ontvang die gelowige die heerlike belofte dat ons oppad is na God se heilige berg, sy berg wat onwankelbaar vasstaan, wat deur niks beweeg of geroer kan word nie. Dit is die vooruitsig vir elkeen wat vandag reeds volgens die huisreëls van die Here wil lewe. Die woning waarheen ons oppad is, is een wat vir ewig vasstaan. Salig is elkeen wat ons reeds voorgegaan het na hierdie vaste burg!
Gemeente, toegang tot die tent van die Here is gratis – glo die uitnodiging en kom asseblief binne. Maar as jy daar wil bly woon, dan is daar huisreëls, heilsame riglyne. Die gelowige, wat by die Here wil woon, se lewe moet gekleur word deur daardie riglyne. Die bybelse vroomheid is nie opsioneel vir wie met die heilige God wil lewe nie. Volg daarom in gehoorsaamheid sy gebooie, en dan word binnekort sy heilige berg ook jou permanente woning. Hou, soos die pelgrim in Israel, jou oog gerig op daardie berg, daardie vesting waarheen ons oppad is. En wanneer, tydens die reis, die gevare op ons afkom, en die werkers van ongeregtigheid ons bedreig, en ons tot skande gemaak word, roep dan saam met Dawid: “Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom. As die HERE die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees!” (Ps. 14:7). Verbly ons, Here, met u koms!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 108:1-3
Gebed
Lees: Romeine 3:9-24
Johannes 1:1-14
Sing Ps. 27:4 en 6
Teks: Psalm 14 en 15, spesifiek Ps. 15:1b
Preek
Amenlied Ps. 125:1-3, 6 en 7
Wetslesing (10 riglyne) & selfondersoek van nagmaalsform.
Sing Ps. 15:1 en 2
Gebed (aandag aan voorbereiding)
Kollekte
Slotsang Ps. 87:1, 4 en 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)