Moenie die diepte van die skuld en die skuldbelydenis probeer systap nie!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-03-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Verwysing: 
HK 51-1
Preek Inhoud: 

Sondag 51

Ds HH van Alten - Sondag 9 Maart 2008

Lees: Jesaja 59:1-2; Jakobus 4:1-10
Teks: HK Sondag 51
Sing: Sien liturgie

Tema: Moenie die diepte van die skuld en die skuldbelydenis probeer systap nie!

  1. Bid vir vergifnis
  2. Bid met ‘n gebroke hart
  3. Bid in vertroue

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Sonde – nie ‘n baie gewilde begrip in ons tyd nie. Nie dat dit al ooit in die geskiedenis ‘n gewilde begrip was of in die toekoms sal wees nie, maar ons tyd word in besonder gekenmerk deur weersin teen hierdie begrip. Miskien ken u ons tyd so ‘n bietjie – hetsy uit ervaring, of uit die bestudering daarvan.

En een van die kenmerke van ons tyd is dat waarheid nie ‘n vaste inhoud het nie, waarheid is relatief – dit wat vir jou waarheid is, hoef nog nie vir my waarheid te wees nie. Uiteraard bring dit mee dat die inhoud van “reg en verkeerd” daardeur ook vaag raak. Dit is nie meer duidelik wat reg is en wat verkeerd is nie. Vat ‘n onderwerp soos aborsie… Jy sê aborsie is verkeerd, op grond van die waarheid van die Skrif. Maar ‘n ander sê: “Wie sê die Skrif is waar?” of “Wie sê jou uitleg van ‘n spesifieke Skrifgedeelte is waar?” Die ander beskou dus nie die Skrif as waar nie, en daarom is aborsie in sy oë ook nie verkeerd nie. U verstaan waarskynlik dat “sonde” binne so ‘n denkwyse nie ‘n baie gewilde woord is nie, want om iets ‘sonde’ te noem, impliseer outomaties ‘n beoordeling van iemand anders se woorde of dade. En wie is ek om jou dade as sonde te beoordeel – jy is immers geregtig op jou eie waarheid en jou eie beoordeling van wat reg en verkeerd is…  

Maar gemeente, die Bybel praat ‘n ander taal as die gees van ons tyd. Dít wat die Bybel oor sonde sê, gaan baie dieper, tref baie harder, as wat die tydsgees oor sonde sê. Het u al ooit ‘n ongelowige hoor praat van sy kind wat in sonde ontvang en gebore is? Het u al ooit ‘n ongelowige hoor sê dat daar niemand is wat goed doen nie, selfs nie een nie? Nee! Maar let nou op die ander kant van die munt… Het u al ooit ‘n ongelowige met sekerheid en vreugde hoor praat oor die ewige lewe? Het u hom al ooit hoor praat oor hoop wanneer hy sy geliefde begrawe?

Sien u die verband? Hoe meer die sondebesef afplat, hoe meer kwyn die hoop op verlossing, ewige lewe, vreugde en vrede. Hoe minder mense die erns van hul sonde besef, hoe minder word die noodsaak van verlossing. Daar is dus ‘n wisselwerking tussen sondebesef en verlossing – jy hoef nie eens jou bybel oop te maak om dit te sien nie. Kyk maar net om jou heen: mense wil nie meer hoor van sonde nie, maar intussen bly Christus, as die enigste Verlosser, ook in die slag. En andersom: Christus word as Verlosser verloën, maar intussen vier die sonde hoogty.  

En, broers en susters, dan skielik besef ons die rykdom van die Skrif, die Skrif wat die waarheid oor elkeen van ons nie verdoesel nie, wat nie die sonde probeer regpraat nie, wat eerlik en reguit sê: “Só IS jy!” En dan is dit nie die Here se doel om ons ‘n sondekompleks te gee nie, Hy wil ons nie gevoelens van minderwaardigheid gee nie. Nee, die Here bring ons na die diepte van ons sondige harte, om ons op so ‘n manier na die hoogte van Golgota te dryf. En andersom: die Here skyn oor ons die helder lig van die verlossing, sodat ons die donkerheid van die sonde leer raaksien. Sondebesef is onontbeerlik vir verlossing!

Sonde – ‘n ongewilde begrip? Miskien, maar tog ‘n noodsaaklike begrip. Ons kan nie kerk wees sonder besef van ons sonde nie, ons kan nie erediens hou sonder om die wet van die Here te lees nie, ons kan nie bid sonder om ons sondes te bely nie. Wie dit wel doen, verlaag die waarde van die verlossing deur Christus, hy maak die bloed van Christus goedkoop.

Tema: Moenie die diepte van die skuld en die skuldbelydenis probeer systap nie!

  1. Bid vir vergifnis

  2. Bid met ‘n gebroke hart

  3. Bid in vertroue

1. Gemeente, christene sondig; hulle het skulde, hulle is skuldig. Dit is ‘n feit waarby u en ek eenvoudig nie verby kan kom nie; dit is ‘n hartseer realiteit waarmee die meeste van ons daagliks weer gekonfronteer word. Miskien sit jy op hierdie oomblik en worstel met ‘n spesifieke sonde… En hoe dieper ons in God se openbaring indring, hoe dieper word die besef van die sonde en hoe swaarder word die worsteling daarmee; hoe beter jy die Here leer ken, hoe helderder staan jou ongeregtighede voor jou – dinge wat vroeër in jou oë maar net ‘n swakheid was, sien jy skielik in hulle sondigheid raak; sondes wat jy voorheen nog nooit raakgesien het nie, tref jou op ‘n dag soos vuishou tussen die oë. Hoe skerper die Here se lig in jou lewe skyn, hoe swarter word die swart van jou eie hart en lewe.

Ek weet, dit klink teenstrydig, en tog is dit so. Dit is die teenstrydigheid van die ‘reeds’ en die ‘nog nie’ van die geloof. Ons is reeds verlos, en tog is ons nog nie volmaak nie. Ons bely dit ook in die Dordtse Leerreëls V,1: “Hulle wat God na sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur en bestaan nie.” Ja, broers en susters, verlos en tog… En daarom vervolg die Dordtse Leereëls ook in paragraaf 2 van dieselfde hoofstuk: “Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig.” Dus, geen volmaaktheid in hierdie lewe nie. Sondes en onvolmaaktheid bly deel van jou en my mondering. 

Maar is dit dan ‘n probleem? Natuurlik is dit! Geen gelowige kan vrede maak met die feit dat daar nog sondes in sy hart en lewe is nie. Die gelowige sal nooit sê dat hy verlos is, en dat die oorblywende sondes daarom nie so erg is nie. Nee, dit bly vir die gelowige ‘n voortdurende probleem – mag die Here ons daarvan bewaar dat ons ooit vrede maak met die sonde. Maar, gemeente, dit is wel ‘n probleem met ‘n oplossing: die gebed om skuldbelydenis!

Ja, die Here het in sy onmeetbare wysheid vir ons die instrument van die skuldbelydenis gegee om ons elke dag opnuut na die kruis van Christus te laat vlug; elke keer wanneer ek die gebed om skuldvergifnis aanhef, stroom die bloed van Christus oor my tot vergifnis en tot herstel van die verhouding met die Vader. Ja, die sonde bly ‘n probleem, maar dit is ‘n probleem met ‘n verrassende oplossing. Gryp na hierdie oplossing! 

En weet u, om een of ander rede sukkel ons juis hiermee, het ons moeite om die oplossing aan te gryp en te gebruik. Die oplossing word as’t ware in ons monde gelê wanneer die Here Jesus ons die vyfde bede leer, en tog gebruik ons dit dikwels nie. En dít is ‘n groter probleem as die probleem van die sonde wat daar nog in ons lewens oorgebly het. Dít, gemeente, is ‘n krisis. Om sonde nie te bely nie, om nie die oplossing vir ons daaglikse sondes te gebruik nie, is soos om die Berlynse muur weer op te bou. Reg in die middel van die verhouding tussen jou en jou God kom daar ‘n skeidsmuur.

Luister maar weer na Jesaja 59, wat ons saam gelees het: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God…” God is steeds Israel se God, sê Jesaja; Hy kan en Hy wil help. Maar julle het ‘n muur gebou, en hierdie muur is so hoog dat julle as gevolg daarvan God se vriendelike aangesig nie meer kan sien nie; hierdie muur is so hoog dat julle selfs sy stem nie meer kan hoor nie. En dan noem Jesaja in die vervolg van hierdie hoofstuk die sondes wat skeiding bring tussen die Here en sy volk. Die probleem, gemeente, lê dus nie aan daai kant van die muur, by God, nie. Nee, die probleem lê hierdie kant – ons onbelede sondes! Daardie onbelede sondes is sélf die muur. En hoe langer daardie sondes bly lê, hoe hoër word die muur. Elke keer wanneer jy die vyfde bede, as God se oplossing aan jou, nie gebruik nie, messel jy nog ‘n steen vas in die muur tussen jou en God.  

En daarom, gemeente, verkondig ek aan u: daar is ‘n tyd om u sondes in gebed voor die Here te bely, en daardie tyd is nou! Ons mag nie met hierdie oplossing speel nie, ons mag die skuldbelydenis nie uitstel nie. Doen dit, en jy stel jouself geestelike, emosioneel, en selfs liggaamlik, in groot gevaar.

Klink dit soos ‘n dreigement? Word u daardeur afgesit, want “waar is dan die genade…”? Wel, in ‘n sekere sin is dit ‘n goddelike dreigement. Maar dit is wel die dreigement van ‘n God wat gereed staan om te vergewe, wie se arm nie te kort is om te help en wie se oor nie te swaar is om te hoor nie! Dit is ‘n dreigement uit liefde omdat hierdie God maar al te goed weet wat u en ek nodig het om te kan lewe.

Bid daarom vir vergifnis, broer en susters, en ervaar dan watter geweldige verandering dit in u lewe te weeg bring. Ons sien die verandering baie duidelik by iemand soos Dawid in Psalm 32. Toe hy nie daartoe gekom het om sy skuld te bely nie, toe hy geswyg het, toe het sy gebeente uitgeteer en was God se hand swaar op hom (verse 3-4). Maar die oomblik toe hy sy mond oopgemaak het om voor God sy skuld te bely, toe het God sy skuilplek geword, en het God hom omring met vrolike sange van bevryding (vers 7). Ons hoor sommer die nuwe vitaliteit en vreugde in Dawid se stem. En dit kan ook nie anders nie, broers en susters, want deur belydenis van sonde word die helende balsem van God se genade op ons gebroke lewens gesmeer, en word die wonde van die sonde genees. Ja, deur die wonde van Jesus Christus kom daar dan vir ons genesing.  

Dit is moontlik dat jy nie genoeg aandag aan hierdie lewensbelangrike saak van skuldbelydenis gegee het nie. Miskien het jy nagelaat om jou sondes te bely – hetsy vanweë onkunde of nalatigheid, hetsy vanweë opstand teen God. Gevolglik ervaar jy ook nie die daaglikse en verfrissende wete dat jou sondes weggewas is nie, en dat jy met God versoen is. Dan is skuldbelydenis die ding wat jy nodig het – skuldbelydenis is ‘n onmisbare deel van die daaglikse gebed van die christen.

Vervolgens: bid met ‘n gebroke hart. 

2. Die gebed om skuldbelydenis kan, soos maar met alle roetine-aktiwiteite, baie gou in ‘n groef verval; dit raak baie maklik ‘n afgesaagde gewoonte. Dan word hierdie bede ‘n eenlyn-sinnetjie so naby as moontlik aan die einde van ons gebed. Let maar ‘n slag daarop: dikwels aan die einde van die gebed word die bede om vergifnis nog so vinnig-vinnig ingepas: “… en vergewe ons sondes om Christus wil, amen.” Almal van ons besef dat dit natuurlik nie die soort skuldbelydenis is wat die Here van ons vra nie. Nee, die skuldbelydenis wat die Here vra, kom sommer aan die begin van die gebed al aan die orde, want in die gesprek met die Here wil ons sommer dadelik al enige hindernisse wegneem. Skuldbelydenis is ‘n bewuste gebedsdaad, en dit gaan altyd gepaard met ‘n gebroke hart. ‘n Gebroke hart – dit dui op die ingesteldheid van die hart waarmee die gebed om skuldbelydenis voor die Here aangebied word.

En, gemeente, om so ‘n gebroke hart te kan hê, is dit belangrik dat ons die gewig en die erns van ons sonde sal leer raaksien. In Mattheus se weergawe van die Onse Vader lees ons daarom ook tereg: vergeef ons ons skulde. Ja, ons sondes is ‘n onbetaalde skuld by die Here; ons het ‘n verpligting teenoor God gehad en het dit nie nagekom nie; ons het gefaal om aan Hom te gee wat Hom wettiglik toekom. Daarom is ons sonde ook primêr sonde teen God sélf! Dit is Gód se wet wat verbreek is, en dit is Gód se Naam wat vertrap is. Dít is hoe swaar ons sondes is – ons het teen Hóm gesondig! En dit berou ons daarom ook geweldig; hierdie las lê swaar op elkeen wat besef dat ons God oneer aangedoen het, en dat ons sy Heilige Gees bedroef het. 

Skuldbelydenis kan daarom nooit ‘n eenlyn-sinnetjie aan die einde van ons gebed wees nie. Nee, vir die gelowige is sy sonde altyd voor hom; sy sonde is vir hom ‘n diep ontstellende realiteit en ‘n voortdurende las wat sy gemoedstoestand nie onaangeraak laat nie. Ons sien dit in die gedeelte in Jakobus 4, wat ons saam gelees het. Vanweë die sondes in die gemeente roep Jakobus sy lesers op om tot God te nader en hulle aan Hom te onderwerp. En dan wys hy in vers 9 met watter gemoedstoestand dit gepaard behoort te gaan; hy sê daar: “Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid.” Dit is sterk taal, gemeente; ons behoort beroerd en hartseer en treurig te voel wanneer ons met ons sondes voor die Here kom.

En miskien het ons dit verleer; miskien het dit vir ons onbekende taal geword. Immers, die geloof is mos veronderstel om blydskap te bring!? Natuurlik, maar wanneer ons in ons sondigheid tot die heilige God nader, dan raak ons diep bewus van ons eie bedorwenheid, van die noodsaak dat ons hande en ons harte gereinig moet word. Wanneer ons, soos Jesaja in hoofstuk 6, ons heilige God op die troon sien sit, en die engele hoor roep: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare…”, dan sê ons saam met Jesaja: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare gesien” (Jes. 6:5).

Is dit nie effens oordrewe en dramaties nie? Kan ‘n mens dit nie oordoen nie? Nee, broers en susters, nie as ons besef dat ons in God met ‘n egte Persoon te make het nie. God is nie ‘n dooie Vergifnis Masjien nie. Ons gooi nie maar net ons eenlyn-sinnetjie in – “vergewe my vir enige sondes wat ek moontlik sou gedoen het” – en ander kant pop die vergifnis uit nie. Nee, ware belydenis behels groot berou en hartseer teenoor die God wat lewe. 

Probeer dit u self voorstel in terme van menslike verhoudings… Wanneer jy verkeerd gehandel het teenoor jou man of vrou, of teenoor jou kind, en jy sien watter skade dit aangerig het, watter pyn dit veroorsaak het, dan bring dit in jou eie hart mos groot hartseer? Dan maak jy dit mos nie af met ‘n vinnige “ek is jammer” nie? Nie as dit ‘n persoon is vir wie ons werklik lief is nie. Nou, dieselfde geld vir God. Hy is ‘n Persoon, ‘n goddelike Persoon, en ons is lief vir hom. Gaan dan ook met Hom om as ‘n goddelike Persoon, en nie as ‘n masjien nie – en wanneer jy dit doen sal jy besef hoeveel jy hierdie goeie, genadige en liefdevolle Persoon skuld, en dan sal jy daagliks jou onaanvaarbare gedrag teenoor Hom beween, dan sal jy jou skuld konkreet teenoor Hom bely. Ja, veral daardie laaste is belangrik: noem maar gerus jou sondes by die naam. Ek weet, dit maak ‘n mens skaam wanneer jy in woorde moet omsit wat jy alles verkeerd gedoen en gesê en gedink het. Maar moet dit nie verswyg nie, wees eerlik met die Goddelike Persoon vir Wie jy tog niks kan verberg nie.  

En dit is die persoon wat dít geleer het, broers en susters, wat ook die eerste treetjies kan plaas op die weg om sy naaste van harte te vergewe: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Hy wat die donkerheid van sy eie hart ken, en die gewig van sy sondes – waarvoor hy vergifnis ontvang het – kan ook die bereidheid opbring om die ander een te vergewe wat teen hom oortree het. Let wel, vergifnis vind nie plaas waar daar nie berou en skuldbelydenis plaasgevind het nie. Dit geld vir die verhouding tussen God en mens, maar ook vir die verhouding tussen mense onderling. Jy kan nie iemand, wat jou ‘n onreg aangedoen het, vergewe, wanneer daardie persoon nie daarvoor vra nie. Maar dit beteken nie dat jy intussen met ‘n wrok in jou hart kan loop nie. Nee, of daar nou vergifnis gevra is of nie, by die gelowige moet daar altyd die bereidheid wees, die vergewingsgesindheid – omdat ek diep bewus is van my eie skuld by die Here!

Vergifnis van die ander staan dus in ‘n direkte verband met die besef van my eie sondigheid. Wie sy eie sondes minimaliseer, wegpraat, en die sondes van die ander oordryf, gaan sukkel met die vyfde bede – daardie persoon gaan enersyds sukkel met ware berou voor God, en gaan andersyds sukkel om die ander te vergewe. Maar hy wat iets begin voel van die gewig van sy eie sondes, kan ook die ander se skuld teenoor hom in die regte perspektief plaas. Leer daarom om die verhouding tussen jou eie sondes voor die Here, en die onreg wat die ander jou aangedoen het, reg in te skat. Nie maklik nie, dis waar, en mag God se Gees ons daarin help. Maar leer om te weeg: my skuld teenoor God, die ander se skuld teenoor my – wat weeg die swaarste?

Ten slotte: bid in vertroue. 

3. Gemeente, ons moet die bede om skuldbelydenis bid, en ons moet leer om dit met ‘n gebroke hart te doen. Maar, soos ek in die inleiding gesê het, die uiteindelike doel daarvan is nie dat ons soos nikswerd mense met ‘n sondekompleks bly lê nie. Ek bid nie met ‘n gebroke hart, sodat daardie hart op dié manier finaal aan flarde getrek kan word nie. Nee, ons bid met ‘n gebroke hart in die vertroue dat God ons sondes sal vergewe en ons harte weer heel sal maak. Dit is die belofte van die vyfde bede, dit is die vaste grond vir ons gebed. Jakobus sê dit ook in hoofstuk 4:6: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges – dus, dié wat gebroke van hart is – gee Hy genade.”

Genade – want Jesus Christus het vir die sondes gesterf, versoening is gedoen deur die voldoening van God se Seun. Ja, dít is die evangelie: Christus het ons sondes aan sy liggaam gedra, Hy het vir ons ‘n vloek geword, Hy het sy lewe gegee as losprys vir ons s’n, Hy wat geen sonde geken het nie het sonde vir ons gewórd, ons skuld is op Hom gelê! Dit is die boodskap dwarsdeur die Skrifte, dit is soos ‘n rooi lyn vanaf Genesis tot Openbaring – deur Jesus Christus is daar vergifnis vir elkeen wat sy sondes voor die Here erken en bely. Daaroor laat God geen twyfel nie; daaroor behoort daar geen vrae te wees nie! 

Waaroor daar wel vrae kan wees, is hoe ons daarop reageer: bely ons nog ons sondes? Noem ons nog teenoor God ons sondes by die naam? Of het ons opgehou om ons lewens te ondersoek? Is daar dalk nog groot areas in jou lewe wat nie ondersoek is nie, en daarom nog onrein is? Of het ons dalk vrede gemaak met ‘n kunsmatige skuldbelydenis, sonder om werklik met die Here te worstel oor ons sondes? – die sondes in jou gedagtes, die sondes in jou woorde, jou harde optrede, jou hantering van jou vrou en kinders, jou optrede teenoor jou werkgewer of werknemers, teenoor jou bure, teenoor jou broers en susters in die geloof; jou reaksie op God, op sy genade, op sy liefde; jou omgang met die kerk van Christus, met die Woord, met die wet van die Here…

En nog ‘n ander vraag: wanneer ons in berou voor God ons sondes bely, gló ons dan ook werklik dat dit vergewe is? Glo ons dat God aan daardie sondes nooit meer wil dink nie, dat dit voor sy aangesig verdwyn soos mis voor die son? Of bly jy maar wonder of dit werklik vergewe is, bly jy maar worstel met sondes waarvan God as’t ware lankal vergeet het?  

Gemeente, kom ons neem ons vertrekpunt elke keer weer in God se belofte van vergifnis deur die bloed van sy Seun. Oor daardie belofte bestaan daar geen twyfel nie. Dit is ‘n vaste belofte! Laat dít ons bring tot opregte skuldbelydenis; ja, laat dit ons maar ‘n slag bring tot trane en worsteling voor die Here oor ons sondes. Niks fout daarmee nie… Maar dan gaan ons op grond van daardie selfde belofte ook verder. Ons gaan verder met lofsange van bevryding, sange wat juig oor skuldvergifnis. Die skeidingsmuur is afgebreek – God se vriendelike aangesig skyn weer oor ons. Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is weer met ons!

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 76:1, 2, 5 en 6
Gebed
Lees:  Jesaja 59:1-2
      Jakobus 4:1-10
Sing Ps. 77:1 en 2
Teks: HK, Sondag 51
Preek
Amenlied Ps. 39:2, 5 en 7
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 32:1, 3 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. 

Liturgie: 

(kyk in preek)