Paulus se omgang met dit wat die Here oor hom bepaal het

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-05-04
Teks: 
Filippense 4:10-13
Preek Inhoud: 

Filippense 4:10-13

Ds HH van Alten - Sondag 4 Mei 2008

Lees: Filippense 4:10-23, Efesiërs 1:15-23
Teks: Filippense 4:10-13
Sing: Sien liturgie

Tema: Paulus se omgang met dit wat die Here oor hom bepaal het; ons let op:

  1. Paulus se vergenoegdheid in wisselende omstandighede
  2. Paulus se inwyding in die misterieuse krag van Christus

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Vandag se dankdag wek op ‘n manier gemengde gevoelens op. Gemengde gevoelens, want ja, ons kan nie ontken dat daar rede vir dankbaarheid is nie. En tog worstel ons met wat die Here in die laaste jaar oor ons bepaal het. Gemengde gevoelens…

Ja, daar is rede vir dankbaarheid – groot dankbaarheid selfs! Die Here het die boere hierdie jaar op ‘n buitengewone manier geseën Na die swaarkry van verlede jaar (onthou u nog hoe ons verlede jaar spesifiek ‘n biddag vir reën gehou het?), hoor ons nou van groot oeste, dit was ‘n goeie seisoen. Die Here het verder aan ons almal werk gegee – sommige het die werk gekry waarvoor hulle so lank gehoop het, ander het dalk bevordering of ‘n goeie verhoging gekry; miskien is daar sommige wat vir die eerste die werk doen wat hulle werklik geniet, of moontlik het jy goeie winste in jou besigheid behaal. Ook ons skoliere en studente het rede vir dankbaarheid – jy het dalk jou eksamens suksesvol voltooi, of jy het goed gevorder met ‘n groot werkstuk; miskien het jy nou uiteindelik die studierigting wat werklik in jou belangstellingsveld lê. En wat van die tuisteskeppers onder ons – miskien kon jy in die laaste tyd die vrug van die daaglikse opvoeding sien, moontlik kon jy in die laaste jaar julle huis sodanig omskep dat dit werklik ‘n tuiste vir man en kinders is. Ja, gemeente, op hierdie dankdag is daar sonder twyfel rede vir groot dankbaarheid.  

En tog… op hierdie oomblik in ons land en in ons gemeente se geskiedenis kan ons amper nie anders as om ook die ‘maar’ te laat hoor nie. Maar wat van die infrastruktuur wat so agteruitgaan – die slegte paaie en die elektrisiteitsonderbrekings? Maar wat van die stygende voedselpryse en ‘n dreigende resessie waaroor gegis word? Maar wat van die korrupsie waardeur miljoene rande vir die ekonomie verlore gaan? Maar wat van die terugslae in ons eie gemeente – misdaad, dood, finansiële agteruitgang? Ja, maar…

En dit is hierdie “ja, maar…” wat vandag se dankdag vir baie van ons dalk ‘n “gedempte dankdag” maak. Ons het gemengde gevoelens as gevolg van dít wat die Here oor ons bepaal het. Hoe gaan ons om met wat die Here oor ons bepaal het? Wat is die geestelike manier om die “ja, maar” te hanteer? En wanneer ek weet hoe om dit te hanteer, sal ek dan die krag hê om dit te kan doen? Genoeg vrae… Kom ons luister vanoggend in geloof na die antwoorde vanuit God se Woord.

Tema: Paulus se omgang met dit wat die Here oor hom bepaal het; ons let op:

  1. Paulus se vergenoegdheid in wisselende omstandighede

  2. Paulus se inwyding in die misterieuse krag van Christus

1. Paulus begin die laaste gedeelte van sy brief aan die Filippense met ‘n dankbetuiging; hy stuur as’t ware ‘n kwitansie aan die gemeente van Filippi vir die konkrete hulp wat hulle aan hom bewys het. Hy het hulle aan die begin van sy brief ook alreeds kortliks bedank (kyk maar na hoofstuk 1:5), maar hy kom nou aan die einde weer breedvoerig hierop terug.

Hy praat in vers 10 van ‘n oorstelpende blydskap wat hy beleef vanweë die feit dat die Filippense weer in staat was om hulle belangstelling in hom te toon. Paulus gebruik hier ‘n werkwoord uit die wêreld van die blomme – hy sê dat die lesers hulle sorg vir hom weer laat opbloei het. Net soos wat ‘n saadjie in die grond skuilgaan en op ‘n sekere oomblik bo die grond opbloei en sigbaar word, so kon die Filippense nou weer hulle sorg, wat nog altyd aanwesig was, teenoor hom sigbaar maak.

Paulus bedoel dít, wat hy hier sê, dus nie negatief nie; dit is nie asof die Filippense voor die tyd nie bereid was om aan hom hulp te betoon nie. Nee, die rede waarom hulle bereidwilligheid juis nóú opgebloei het, was omdat hulle – volgens die einde van vers 10 – voor die tyd nie die geleentheid daartoe gehad het nie. Die regte geleentheid het eenvoudig ontbreek. ‘n Moontlike rede was miskien dat daar niemand was wat na Paulus kon reis om die Filippense se hulp aan hom oor te dra nie, of miskien het die gemeente nie geweet waar die reisende apostel homself op daardie stadium bevind het nie. Maar noudat hy gevange geneem is en ‘n vaste adres het, nou kan hulle hom weer help. Paulus se gevangenskap is die Filippense se kans! En duidelik het hulle hierdie kans aangegryp – iets waaroor Paulus homself ook grootliks verbly het. Hy is dankbaar vir die bewys van hulle sorg oor hom as apostel van Jesus Christus.  

En tog, gemeente, gaan dit hier oor meer as net ‘n dankbetuiging; Paulus sê meer as net ‘dankie’. Want ná die aanvanklike uiting van blydskap en dankbaarheid, wil dit voorkom asof Paulus allerhande reserwes in sy dankbetuiging begin inwerk. Hoor wat sê hy in vers 11: “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie…” En weer in vers 17: “Nie dat ek die gawe soek nie…” Is dít nou die dankbaarheid vir die hulp wat hy van hulle ontvang het? Is dit hoe ‘n mens teenoor die gewer optree: “Dankie, maar…”?

Gemeente, ons moet goed verstaan dat Paulus opreg dankbaar is. Maar hierdie dankbaarheid kom nie voort uit oplugting omdat sy nood nou verby is nie; Paulus is nie ‘n hulpbehoewende apostel wat met die ontvangde hulpmiddele nou weer ‘n paar maande verder kan kom nie. Nee, Paulus is dankbaar oor die liefde wat daar uit die optrede van die Filippense spreek; hy is bly oor die belangstelling wat die Filippense vir hom as apostel het, want wie die dienaar van Christus versorg, het gelukkig nog nie sy Meester vergeet nie.  

Paulus wil dus sy lesers laat besef dat hy nie hulle hulp nodig gehad het om te oorleef nie; hy skryf nie teen die agtergrond van hulpbehoewendheid en gebrek nie. Hoewel die geskenk van die Filippense dankbaar aanvaar word, het die apostel geen hulp nodig gehad nie. Maar was dit nou regtig nodig om dit by te voeg? Kon Paulus nie maar stilgebly het daaroor nie? As jy op jou verjaarsdag ‘n goedbedoelde geskenk by iemand kry, dan sê jy mos ook nie “Dankie, maar daar lê al drie daarvan in die kas…” nie?

Gemeente, Paulus se doel is nie om die Filippense seer te maak nie; nee, Paulus wil sy lesers se vrygewigheid gebruik as aanleiding tot ‘n leermoment; hy wil hulle onderrig – deur homself as voorbeeld aan te bied – hoe om met verdrukking en oorvloed om te gaan; hy wil hulle onderrig hoe om op wisselende omstandighede te reageer. Hy wil wys dat hy hulle hulp nie nodig gehad het nie, omdat hy geleer het om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin hy verkeer (vers 11). 

Broers en susters, Paulus gebruik hier vir ‘vergenoeg’ die Griekse woord ‘autarkes’ – letterlik beteken dit om selfredsaam te wees. Dit is ‘n term wat kom uit die filosofie van die Stoïsyne, ‘n filosofiese skool wat in die tyd van die Nuwe Testament gefloreer het. Die Stoïsyne het gemeen dat dit die kuns van die lewe was om onafhanklik van alle dinge te wees, dus om emosioneel aan niks gebonde te wees nie. Dit was vir hulle die uitdaging om onverstoord teenoor mense en omstandighede te kan staan, om met ‘n gelykmatige temperament die suksesse sowel as die teenslae van die lewe te hanteer. En om dit te kon doen, moes jy jouself van alle dinge losmaak, moes jy alle bande van afhanklikheid met die menslike samelewing en met materiële dinge verbreek. Dit het nie noodwendig beteken dat jy uit die samelewing moes uitgaan nie, maar jy moes jouself emosioneel daarvan losmaak. Die Stoïsyn is dus die persoon wat lewe en dood, sukses en mislukking, vreugde en hartseer, goeie tye en slegte tye in die gesig kan staar sonder om ‘n spier te verroer – en dit alles deur sy eie innerlike krag. En vir hierdie geestestoestand het die Stoïsyne die term ‘autarkes’ of ‘selfredsaamheid’ gebruik.

En dit is nou presies hierdie term wat Paulus ook gebruik wanneer hy die Filippense wil leer hoe hulle met wisselende omstandighede moet omgaan. Hy dan gee hy homself daarby as voorbeeld van hoe ‘n mens met wisselende omstandighede behoort om te gaan. Want Paulus was met wisselende omstandighede geensins onbekend nie – immers, so sê hy in vers 12, hy weet om verneder te word, hy weet ook om oorvloed te hê. Soms het Paulus dus sonder sorge gelewe, en was hy voorsien van alles wat hy nodig het. Ander kere weer het hy gebrek gehad, en is hy as’t ware deur hierdie gebrek verneder om klein te bly. Gaan lees maar die breedvoerige opsomming van die moeilike omstandighede waarin Paulus homself tydens sy lewe bevind het in 2 Korinthiërs 11:23-29. Paulus se omstandighede het inderdaad soms dramaties gewissel… 

Maar in dit alles, broers en susters, het Paulus geleer om vergenoeg te wees, nie omdat hy – soos die Stoïsyne – geleer het om deur selfdissipline en deur verbreking van emosionele bande onaangeraak te wees deur die omstandighede van die lewe nie; die omstandighede, hetsy goed hetsy kwaad, het Paulus geensins koud gelaat nie, hy was nie ‘n Stoïsyn nie. Nee, Paulus het vergenoegdheid geleer deur die geloof in Jesus Christus. Sy bekering tot hierdie geloof en sy volgehoue gemeenskap met sy Heiland het Paulus geleer om vergenoeg te wees in alle lewensomstandighede. Let wel, dit gaan hier nie oor selfgenoegsaamheid nie; by Paulus is daar nie ‘n spoor van die hoogmoedige “ek het genoeg aan myself” van die Griekse filosowe nie. Die apostel staan, as mens en as individu, nie op sy eie bene nie; hy is nie ‘n onafhanklike individu nie. Inteendeel, hy staan in ‘n verhouding tot sy Heiland en binne dáárdie verhouding het hy geleer hoe om om te gaan met voorspoed en teenspoed, met rykdom en vervolging. Hy word nie deur sy omstandighede omvergegooi nie, omdat hy in alle omstandighede ‘n rotsvaste vertroue het op Jesus Christus.

Gemeente, Paulus se autarkes – of anders gestel: die christelike vergenoegdheid – lyk dus uiterlik soos die autarkes van die Stoïsyne in dié sin dat die christen hom nie deur sy omstandighede laat bepaal nie, en daarom kan Paulus ook hierdie term gebruik. Maar innerlik is dit totaal anders! Die christelike vergenoegdheid vind sy krag nie in selfdissipline en eie sterkte nie, maar in die sekerheid van God se teenwoordigheid en guns. Paulus se onafhanklikheid van uiterlike omstandighede is slegs moontlik danksy sy afhanklikheid van God! Onafhanklikheid deur afhanklikheid! En dáárin wil Paulus sy lesers onderrig. Ja, vir die Filippense was dit baie belangrik om Paulus met allerhande materiële gawes by te staan – en Paulus prys dit ook as “’n lieflike geur, ‘n welgevallige offer, welbehaaglik by God” (vers 18). Maar daarby moet hulle ook leer dat vergenoegdheid in die lewe nie afhang van genoeg kos en klere nie. Vergenoegdheid en die gepaardgaande dankbaarheid word slegs bepaal deur die verhouding met Jesus Christus! Het jy genoeg aan Hom?! 

Gemeente, dié vraag wil ek vandag ook aan u stel?

En dit is ‘n doelbewuste vraag vir Dankdag 2008. Dit kan immers nie ontken word nie dat ‘n gees van pessimisme ons land aangegryp het – rofweg sedert die ANC-konferensie in Polokwane einde 2007. ‘n Gees van pessimisme oor waarheen ons land oppad is. ‘n Gees van pessimisme wat vervolgens verder aangewakker is deur elektrisiteitsonderbrekings, rentekoersverhogings, stygende petrol- en voedselpryse, en chaos in ons buurland. ‘n Gees van pessimisme wat sê: “Kom ons los dankdag vir eers. Want hoewel ons uiteraard redes vir dankbaarheid kan vind, is die oorheersende stemming tog nie so positief nie.”

Broers en susters, sien u hoe gou dankbaarheid ‘n emosionele gesteldheid word wat deur die omstandighede bepaal word? Sien u hoe maklik dankbaarheid ‘n reaksie word op die aktualiteit van die dag? Paulus, het jy die geskenkpakkie van die Filippense gekry? Ons hoop so want dit sal jou baie help in jou omstandighede daar in die gevangenis! Ja, ek het dit ontvang, maar eintlik het ek dit nie nodig nie… My vergenoegdheid is in die Here! 

Broer en suster, hoe was jou omstandighede in die afgelope seisoen? Het dit met jou goed gegaan? Het jy voorspoed beleef? En wat was die omstandighede vir ons as gemeente? Dit is nie onbelangrike vrae nie; ons staan ook nie emosieloos teenoor die voorspoed of teenspoed wat die Here oor ons beskik het nie. Maar – laat ons goed besef! – dit bepaal nog nie die inhoud van ons dankbaarheid nie. Nee, die inhoud van ons dankbaarheid word heel eerste bepaal deur ons geloof in Jesus Christus, deur die feit dat HY sedert ons laaste biddag nooit van ons gewyk het nie. Want bo wat wissel en vergaan, bly ewig God se rykstroon staan; Hy is ‘n vesting hoog verhewe, en sal in nood hul nooit begewe. Gemeente, dít is die bron van ons dankbaarheid! En dan vind my tong weer nuwe stof, in Sions poort meld ek u lof. Dan sing ek bly van u genade, so groot in nuwe reddingsdade (Psalm 9:6, 7 en 10 ber.).

Ja, ons Dankdag is dalk vanjaar effens gedemp deur allerhande omstandighede – omstandighede in ons land, in ons gemeente en in ons persoonlike lewens. ‘n Effens gedempte dankdag – dit mag! Maar ons dankbaarheid mag nog net so groot wees, want God is nog steeds dieselfde. Hy, wat is en wat was en wat kom, is nog steeds dieselfde in sy liefde, in sy vergewingsgesindheid, in sy sorg. En ons het genoeg aan Hom – in lewe en in sterwe!

Vervolgens: Paulus se inwyding in die misterieuse krag van Christus. 

2. In die tweede helfte van vers 12 sê Paulus: “… in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig. Die Griekse woord wat vir ‘onderrig’ gebruik word, het egter ‘n sterker betekenis. Letterlik beteken hierdie woord dat Paulus ingewy is in die misterie, of dat hy die geheim leer ken het. Hierdie term verwys waarskynlik na die inwydingsrituele wat ‘n persoon in Paulus se tyd moes deurgaan as hy tot een van die misterie-godsdienste toegelaat wou word. Die misterie-godsdienste was geheime bewegings wat net vir ingewydes bedoel was, en om ‘n ingewyde te word, moes jy bepaalde rituele deurloop.

Nou sê Paulus van homself dat hy ingewy is in die misterie; hy het, volgens vers 12, die geheim geleer van versadig word en van honger ly, van oorvloed hê sowel as van gebrek ly. Hy kan die opeenvolgende momente van voorspoed en teenspoed hanteer, want hy ken die geheim daaragter, hy weet hoe om daarmee om te gaan.  

Maar wát is die geheim dan? Kom Paulus, vertel vir ons wat die geheim is… Wel, dit is presies wat Paulus vervolgens doen in die pragtige belydenis van vers 13: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Ja, broers en susters, dít is die geheim waarin Paulus ingelei is! Hy kan alles hanteer, hy kan in alle omstandighede vergenoegd wees, danksy die kragbron, Christus! Die geheim, die misterie van die vergenoegde Paulus lê dus buite homself. Daar is Iemand wat hom voortdurend van krag voorsien. Deur hierdie krag-van-buite het Paulus die vermoë, die innerlike sterkte, om vol te hou in alles wat hy moet verdra. Paulus, wat so dikwels swak was – soos wat hy self verskeie male getuig – is sterk deur Hom aan Wie Hy in die geloof vashou. En die arme apostel is ryk deur sy Meester wat in al sy behoeftes voorsien.

Die Here Jesus Christus is vir Paulus die fontein van bemoediging en van geestelike energie; hierdie immervloeiende fontein giet onophoudelik krag in hom uit vir alle omstandighede. Daarom kan Paulus sélfs sê – ja, luister maar: “Ek het behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Korinthiërs 12:10). Daar het u die geheim van Paulus se vergenoegdheid.  

Maar, gemeente, hoe het Paulus hierdie geheim leer ken? Waar vind ons hierdie misterie van die krag van Christus? Dit is ‘n belangrike vraag, want u wil tog sekerlik ook die geheim leer ken. Ja, as in hierdie misterie die krag lê om alle omstandighede te kan hanteer, die krag om in alle omstandighede vergenoeg te wees, vrede met God te hê, dan wil u en ek tog sekerlik daarin deel? Of is dit dalk iets wat ons nie beskore is nie, maar slegs vir hierdie apostel van Jesus Christus bedoel was?

Nee, broers en susters, dit was nie slegs vir Paulus bedoel nie. Die Here wil elkeen van sy kinders in hierdie misterie inlei, Hy wil aan elke gelowige hierdie geheim bekendmaak. Die Here sê immers in Psalm 25:12 en 14: “Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies… Die verborgenheid van die HERE [die misterie van die HERE] is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.” Hierdie geheim is dus vir elkeen wat die Here vrees, elkeen wat in Jesus Christus glo.  

En presies daarvoor bid Paulus dan ook in die gedeelte wat ons gelees het in Efesiërs 1. Hy bid dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan die gelowige Efesiërs die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van hulle verstand. Hoekom? Sodat hulle drie dinge kan weet: 1. die hoop van sy roeping, 2. die rykdom van sy erfenis, en 3. die uitnemende grootheid van sy krag. Hierdie laaste is vir ons in besonder van belang. Paulus bid vir openbaring van die kant van God en vir geopende oë van die kant van die Efesiërs, sodat hulle ingelei mag word in die misterie van sy krag. Christus se krag is dus ‘n misterie wat aan ons geopenbaar moet word!

En gemeente, hierdie openbaring kom tot ons in die Bybel, en ons oë word geopen om dit te verstaan en dit te glo deur die werk van die Heilige Gees. Dít is dan ook die weg na die geheim – die Woord van die Here. Wie met die Woord van die Here besig is, wie daarin delf, wie daarin die weë van die Here naspeur, daardie persoon ontdek die wonder van die krag van God. Die wonder van sy krag wat in besonder na vore gekom het “toe Hy Christus uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hiedie wêreld nie, maar ook in die toekomstige” (Ef. 1:20-21). Ons Here besit ‘n krag wat bo alle ander kragte is, gemeente. Bo die kragte van ekonomiese resessie, bo die kragte van misdadigers en korrupte politici, bo die kragte van kragonderbrekings en prysstygings – bo dit alles bely ons die krag van Koning Christus! In Hóm lê die geheim van ons dankbare vergenoegdheid, ook in tye wanneer dit nie so goed gaan nie, of selfs in tye wanneer dit bitter swaar gaan.  

Broers en susters, moenie probeer om in ons land te lewe en elke dag met goeie moed verder te gaan sonder dat jy jou bybel oopgemaak het nie. Dit is onmoontlik om die kollektiewe sielkundige impak van al die moeites in ons land vry te spring, as jy soggens uit jou bed klim, in jou motor spring en werk toe jaag nie. Wie in vandag se tyd dankbaar en moedig in Suid-Afrika wil lewe, kan dit slegs op sy knieë doen. Slegs wanneer ons elke môre – en ek bedoel letterlik elke môre – die Woord van die Here oopmaak, en dit lees met Geesverligte oë, kan ons hier gaan lewe. Slegs wanneer ons die rusdag werklik gebruik waarvoor die Here dit ingestel het, naamlik om met Hom te verkeer, kan ons môre weer verder gaan.

Ja, gemeente, die Here stel ons as gelowiges, as kerk, hier in Suid-Afrika voor ‘n besondere uitdagende tyd. Moenie dit onafhanklik probeer aanpak nie. Moenie dink jou arbeid gaan in eie krag geseënd wees nie, moenie verwag dat jou studies deur jou eie vermoëns suksesvol voltooi sal word nie. Nee, laat jouself inlei in die geheim van Christus se krag deur elke dag opnuut die Woord te lees. Sien daar die krag van Christus in skepping en verlossing, sien daar die krag van Christus vir jou! En dán kom daar uitsig, dán word dit moonlik om elke dag weer te lewe, dán word dit moontlik om onder wisselende omstandighede te bly sê: Dankie! Dankie vir elke nuwe môre, dankie vir elke boom en blom, dankie vir al u seëninge, wat na ons toe kom.

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 124:1, 2 en 4
Wetslesing en genadeverkondiging
Sing Ps. 131
Gebed
Lees: Filippense 4:10-23
      Efesiërs 1:15-23
Sing Ps. 62:4, 5 en 8
Teks: Filippense 4:10-13
Preek
Amenlied Ps. 18:1, 13 en 15
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 63:2, 3, 4 en 6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)