Hanteer geestelike depressie op geestelike wyse

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-06-22
Teks: 
Psalm 43:45
Preek Inhoud: 

Psalm 43:5

Ds HH van Alten - Sondag 22 Junie 2008

Lees: Psalm 42 en 43, Filippense 4:1-9
Teks: Psalm 43:5
Sing: Sien liturgie

Tema: Hanteer geestelike depressie op geestelike wyse.

  1. Waak teen ‘n selfgesprek
  2. Hoop op die God van die verbond
  3. Sien uit na beter dae

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dit is eie aan die menslike bestaan, ook aan die lewe van die Christen, om in tye van voorspoed, in tye wanneer ons gesond en gelukkig is, baie meer optimisties en opgewek te wees as in tye van teenspoed. In tye van teenspoed lyk die lewe dikwels donker, sien ons nie altyd lig aan die einde van die tonnel nie, en raak ons maklik negatief oor die lewe. En almal van ons ly in mindere of meerdere mate hieraan. Almal van ons gaan deur moeilike tye, almal van ons kry – kom ons noem dit maar – ons ‘afdae’; dae waarin die werklikheid van die daaglikse lewe met sy moeites en sorge vir my ‘n groter realiteit word – swaarder weeg – as die werklikheid van die God van my lewe, soos wat die digter van Psalm 42 God noem.

Tekenend van hierdie realiteit is ‘n teks uit die antieke Egipte. Nou moet ons onthou dat die godsdiens van die Egiptenaars oor die algemeen ‘n opgewekte visie op die lewe gehad het, en selfs ‘n positiewe visie op die lewe hierna. In hierdie teks, getiteld Dispuut oor selfmoord, voer ‘n man ‘n dialoog met sy eie siel. Hy stel aan sy siel voor dat die ellende van die lewe sodanig is, dat selfmoord na ‘n aantreklike uitweg lyk. Sy siel, egter, het ‘n ewe negatiewe beeld van die dood en daarom is selfmoord vir hom geen uitweg nie. Die teks, soos dit vir ons behoue gebly het, bied verder geen antwoord op hierdie dilemma nie, maar bloot die feit dat so ‘n teks bestaan, is die getuienis van ‘n menslike ervaring wat nie net in daardie tyd nie, maar ook in ons tyd, baie algemeen is, naamlik: wanhoop! Wanhoop – want die lewe bied geen toekoms nie, en die dood lewer geen uitkoms nie.  

Gemeente, wanhoop ontstaan dikwels wanneer die moeites en die ellende van die lewe mense begin oormeester sodat hulle geen uitsig het nie. Wanhoop vernietig die opgewekte en optimistiese uitkyk op die lewe, en laat ‘n persoon in homself keer. Wanhoop – ja, gemeente, ook ‘n Christen kan wanhoop. Geestelike depressie, dus om geestelik ‘af’ te wees, is nie vreemd aan kinders van die Here nie. Immers, die Psalmboek wat – volgens Calvyn – alle emosies van die menslike siel reflekteer, getuig ook van hierdie emosie; die Psalmboek skram nie weg van die geestelike depressie wat deur een van God se kinders ervaar word nie. En let wel, as ek van geestelike depressie praat, dan bedoel ek nie depressie as sielkundige of fisiologiese toestand nie, maar dan dui ek daarmee op die welstand van die geloofslewe van kinders van die Here. Die geloofslewe is immers nie altyd daarbo nie; inteendeel, die geloofslewe kan soms deur ‘n diep dal gaan. Depressie in die geloofslewe is iets wat ons almal van tyd tot tyd deurgaan. Maar hoe moet ons omgaan met dít wat ons deurgaan?

Tema: Hanteer geestelike depressie op geestelike wyse.

  1. Waak teen ‘n selfgesprek

  2. Hoop op die God van die verbond

  3. Sien uit na beter dae

1. U sal onthou dat ons, aan die begin van ons reeks oor die Psalms, gesê het dat die Psalmboek uit 5 dele, 5 aparte bundels, bestaan. Deel 1 strek vanaf Psalm 3-41. Wanneer ons vanoggend dus na Psalm 42 en 43 wil luister, staan ons aan die begin van deel 2 van die Psalmboek.

Nou, gemeente, Psalm 42 en 43 word algemeen as een geheel beskou. Hoekom hierdie geheel in ons bybels as twee aparte psalms opgeneem is, is nie heeltemal duidelik nie. Daar is immers duidelike bewyse van die eenheid daarvan. Een bewys is die feit dat Psalm 43 geen opskrif het nie, terwyl al die ander psalms in deel 2, met die uitsondering van Psalm 71, almal ‘n opskrif het – dit moet ons laat wonder of Psalm 43 nie dalk opskrifloos is omdat dit oorspronklik deel was van die vorige psalm nie. Nog ‘n duideliker bewys van die eenheid van Psalm 42 en 43 is die herhaling van die refrein: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God.” Hierdie refrein, wat ons vind in psalm 42:6 en vers 12, asook in psalm 43:5, verdeel hierdie twee psalms in drie ewelank gedeeltes; drie gedeeltes wat elkeen met die woorde van die refrein afgesluit word. Dit moet ons daarvan oortuig dat hierdie twee psalms as ‘n eenheid hanteer moet word, en so wil ons dit vandag ook doen. 

Die psalmdigter begin deur sy benarde situasie te beskryf met ‘n beeld uit die natuur, om daarmee sy geestelike dors kragtig oor te dra. Met die droë bergland van Palestina in gedagte, stel die digter homself ‘n wildsbok voor wat smag na water. Soos wat hierdie dorstige dier smag na water, so smag die digter na God, en meer nog na die aanbidding van God in die tempel. Maar in plaas daarvan dat hy die vars water van God se nabyheid mag drink, kla die digter dat hy slegs die bitter water van sy eie trane moet drink. Sy situasie is van so ‘n aard dat sy vyande spottenderwys vir hom vra: “Waar is jou God?” En waarskynlik dat die digter in hierdie vraag van sy vyande ook sy eie twyfel verwoord: Ja, waar is God?

In sy gevoel van verlatenheid en verwyder van die vreugde van die tempeldiens, probeer die digter om by homself beter tye in herinnering te roep. Hy dink terug aan die tye toe hy saam met die skare pelgrims na Jerusalem getrek het om daar te deel in die vreugde van die erediens. Maar, gemeente, ‘n geforseerde nostalgie kan nooit die werklikheid vervang nie. En daarom is dit, in hierdie stadium van die psalm, die eerste deel van die refrein wat domineer: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my?” Die tweede deel van die refrein bly as’t ware ‘n onwerklike hoop. Die psalmdigter is geestelik ‘af’ en ver van enige lof…  

In die begin van die tweede gedeelte – verse 7-12 – sê die digter dit dan ook: “My siel buig hom neer in my…” En weereens probeer die digter sy geestelike depressie verlig deur terug te val op herinneringe. En hierdie keer dink hy nie aan die feesvierende skare nie, maar dink hy aan God self. Die digter voel dus ver van God, en met die instrument van herinnering probeer hy verandering daarin bewerk. Die geografiese verwysings in vers 7 – die land van die Jordaan en die Hermons – dui waarskynlik op daardie plekke waar hy op een of ander stadium in sy lewe die teenwoordigheid van God ervaar het. Met hierdie herinneringe wil hy die gevoel van verlatenheid en dorheid, wat hy tans ervaar, verdryf. Maar weereens is hierdie pogings onsuksesvol. Terwyl hy dink aan die berge van Palestina, met aan die westekant die oseaan, en aan die oostekant die Jordaan, is dit slegs die waters van wanhoop wat hom oorstroom. Terwyl hy gesmag het na die water van God se teenwoordigheid, is dit slegs die waterstrome van die see en die Jordaan wat sy gedagtes oorheers: “al u bare en u golwe het oor my heengegaan” (vers 8). Ook in vers 9 probeer hy dink aan die tye toe hy naby God was en toe hy God se liefdevolle teenwoordigheid sterk ervaar het. Maar in verse 10 en 11 is daar nog steeds die verlatenheid met die gepaardgaande spot deur die vyande: “waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in rou deur die vyand se verdrukking?”

En gevolglik kom die refrein weer in die mineur: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my?” Tot twee keer toe het die digter uitkoms gesoek in die herinnering aan beter dae, maar nog steeds was hy ‘af’, nog steeds het sy geestelike depressie nie van hom gewyk nie. Die tweede deel van die refrein bied ‘n hoop wat net so veraf is soos voorheen.  

Maar dan, in die derde deel – Psalm 43 – kom daar verandering. Ons hoor dit onmiddellik al in die toon van Ps. 43:1. Die klag van die voorafgaande twee gedeeltes gaan oor in ‘n gebed! Waar die digter in die eerste twee dele as’t ware met homself oor God gepraat het, rig hy homself nou direk tot God. En, gemeente, dit is ‘n baie belangrike verandering. In die twee klag-gedeeltes is die digter na binne gekeer; hy teer op sy eie herinnering, en probeer daaruit krag put. Vir alle praktiese doeleindes is hy eintlik besig om met homself te praat. Maar nou, in hierdie gedeelte van die psalm, word die interne dialoog van die klag omgesit in ‘n eksterne dialoog met God: “Doen aan my reg, o God…” En hierdie verandering van interne refleksie na die eksterne pleidooi van die gebed is die eerste stap op die pad tot herstel van die digter se geestelike depressie.

Hy pleit by God om hom te verdedig teen sy vyande, dieselfde vyande wat hom met hulle “waar is God?” ontmoedig het. Hy vra dat God sy regsaak teen hierdie spotters sal voer deur vir hom sy lig en waarheid te stuur, wat hom weer terug sal lei na God. Hierdie man vra dat God sal optree! En dan is dit pragtig om in die tweede deel van vers 3 en in vers 4 te sien hoe die digter treetjie vir treetjie weer nader aan God kom. Probeer saam met my die progressie in hierdie verse raaksien (verse 3 en 4): eers keer die digter terug na God se heilige berg, die berg Sion; vervolgens keer hy terug na God se woning, wat bo-op daardie berg gestaan het. Daarna gaan hy die woning binne na die altaar van God, en ten slotte kom hy weer by God self uit. Deur gebed keer die wanhopige digter terug na die God van sy jubelende blydskap, en kan hy Hom weer loof met die siter (vers 4)! 

Sien u, gemeente: solank as wat die dialoog tussen ‘n persoon en sy siel gevoer word, is daar geen bevryding nie; dan bly die sirkel geslote. En dit is wat ons so dikwels doen in tye van geestelike depressie – daardie tye wanneer ons ver van God voel en soms ook is, daardie tye wanneer ons geestelike lewe droog is, wanneer ons smag na God maar Hy so ver voel. Dan begin ons hierbinne krap, dan word dit ‘n worsteling met onsself, en probeer ons hier van binne-uit verandering in die dorheid bewerk. Ons probeer dink aan die tye toe dit nog goed gegaan het met ons geloof, en dikwels lei dit daartoe dat ons ons huidige geloofstoestand begin bevraagteken. Dit, broers en susters, is die selfgesprek wat die digter in Psalm 42 ook gevoer het – die dialoog met die self. Maar sien raak dat dit geen uitkoms bied nie… Want terwyl die dialoog hierbinne bly, bly die lof op God buite! Terwyl jy agter jou eie stert bly aanhardloop, ontbreek die besef dat die uitkoms nie hierbinne is nie. Die verligting van ons geestelike depressie moet van buite-af kom!

Eers deur opregte gebed, broers en susters, kom daar verandering. Ja, jou situasie bly heel moontlik dieselfde; ook die vraag (“wat buig jy jou neer, o my siel?) bly dieselfde, maar die antwoord is anders. Want God het my gebed gehoor! Jy het ‘n derde Persoon – God! – in jou dialoog betrek, en dit help jou om uit jou eie geslote kringetjie te breek – en slegs dan kom daar verandering. Wanneer die psalmdigter ophou om met homself te praat en sy woorde tot God rig, dan is die begin van die bevryding in sig. Dan mag ons treetjie vir treetjie weer naby aan God kom, en mag ons daardie nabyheid ook weer begin beleef.  

Gemeente, laat ons in ons geestelike depressie dus waak teen ‘n selfgesprek. Maak God jou gespreksgenoot. Laat die digter se ervaring in hierdie twee psalms ons weer bring tot egte gebed – uit jouself, buitentoe, boontoe! Egte gebed, op grond van God se lig en waarheid in sy Woord (vers 3), bring geestelike gesondheid. Sien raak hoe hierdie twee saamgaan: wanneer die gebedslewe gesond is, dan is die geloofslewe gesond… en andersom. Kyk daarom mooi na die voortdurende dialoog met jou God, die God van jou lewe – soos wat die digter hom in Psalm 42:9 noem – die God wat vir jou die lewe gee!

En op hierdie dag waarop ons ‘n nuwe ouderling gaan bevestig, is daar ook die oproep aan die ampsdraers: kyk mooi na die gebedslewe van dié wat die Here onder u gestel het, en gaan hulle ook voor in die gesonde gebedslewe. Só dra u sorg dat die lidmate naby hulle God bly!

Dit bring ons by ons tweede gedagte: Hoop op die God van die verbond! 

2. Nadat die digter hom aan die na-binne-gerigte selfsgesprek ontworstel het, roep hy homself op om op God te hoop: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God!” Hierdie oproep aan homself is ‘n direkte resultaat van die digter se besef dat hy nie self uit sy geestelike moeites kan kom nie. Nie ek nie, maar God!

Maar watter rede het die digter om juis op Gód te hoop? Watter grond het hy onder sy voete? Wel, gemeente, die digter staan op die vaste grond van die verbond. As deel van God se volk, lewe die digter in ‘n verbondsverhouding met die HERE, met Jahwe. Terloops, dit is opvallend dat hierdie Verbondsnaam van God net een keer in Psalm 42 en 43 voorkom, naamlik in 42:9. In hierdie verbond is daar regte en verpligtinge aan beide kante. Van sy kant gee die Here baie, maar terselfdertyd vra Hy ook baie. Van ons kant moet ons gee wat Hy vra, maar – belangrik – mag ons ook vra wat Hy gee! 

En dit is presies wat die digter doen: hy vra wat die Here wil gee! In sy gebed open hy sy mond tot die Here, en eis hy vrymoedig – soos wat ons sing in Psalm 81. Eers kla hy maar net oor die vyand se gespot, en kla hy dat hy sy eie trane moet drink. Maar hoor hoe kragtig bid hy nou: “Doen aan my reg, o God, en verdedig my regsaak teen ‘n onbarmhartige volk; red my van die man van bedrog en onreg.” Dít wat aanleiding gee tot die digter se geestelike depressie, bring hy as ‘n saak van die Here voor sy aangesig! Immers, binne die verhouding waarin die digter met God staan, het God belowe om aan hom reg te doen, het God belowe om vir hom op te kom en hom te red. En daarom sê die digter: “Here, ek het nou nodig wat U belowe het! My verhouding met U word ondermyn deur my vyande. Hulle laat my twyfel, hulle trek my van U af weg. Help dan nou, red my van hulle – dit is wat U belowe het!”

Gemeente, die digter het alle rede om op die Here te hoop. Die Here sélf gee die rede waarom hy op Hom kan hoop! Immers, daar is afsprake gemaak, daar is duidelike beloftes. En aan die een kant hou die Here óns daaraan, maar aan die ander kant mag ons – juis in tye van nood – ook Hóm daaraan hou. Hoor daarom die digter vervolgens sê: “U is die God van my toevlug” – dit is nie iets wat die digter self besluit het nie; nee, dit is iets wat hy opeis op grond van die belofte van die Here! “Maar waarom verstoot u my dan? Waarom moet ek rondgaan in rougewaad deur die vyand se verdrukking?” Wanneer die teendeel blyk, dan mag die digter die Here aan sy beloftes herinner! Nie asof die Here vergeet nie; ons herinnering is nie as gevolg van die Here se swak geheue nie. Nee, wanneer ons die Here herinner, dan gebruik ons die regsgrond wat Hy aan ons gee. Dan maak ons sy beloftes die inhoud van ons gebed, en dan stáán ons ook op daardie beloftes! Dan beroep ons onsself daarop! 

Gemeente, in ons geestelike depressie is dit dus geen onsekere onderneming om tot die Here te bid nie. Dit is nie maar ‘n alternatief vir die selfgesprek nie. Wanneer ons geestelike lewe minder goed gaan, dan is daar niks beter wat ons kan doen as om die God van die verbond aan te roep nie. Verwoord teenoor Hom jou geestelike moeites; sê vir Hom dat jou geestelike lewe nie goed gaan nie, dat jy geestelik depressief is. Sê vir Hom dat jy ver van Hom voel, of dat Hy ver van jou voel. Maak jou probleem syne, en beroep jou dan op sy beloftes, sy beloftes wat in Jesus Christus ja en amen is!

En dit is presies waartoe Paulus ons ook oproep in die Filippense 4, wat ons saam gelees het: “laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Maak dus jou probleem syne! En kyk dan wat vervolgens gebeur: dan is dit asof daar ‘n ruil-aksie plaasvind tussen jou en God. Jou probleem word syne, en sy vrede word joune; vers 7: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” En nie net word die vrede van Gód joune nie, maar – so lees ons aan die einde van vers 9 – die God van vrede sal met julle wees! Broers en susters, dit is mos wat ons wil hê, nie waar nie – vrede met God, God met ons! Ons wil naby God wees – dít is mos die oplossing van ons geestelike depressie. Gaan daarom in gebed na die God wat naby ons gekom het, die Immanuel – Jesus Christus! Bring al jou moeites by die Here, en eis vrymoediglik op sy verbond dat Hy alles wat die verhouding met Hom verhinder, sal wegneem sodat jy weer naby Hom mag wees, en Hy weer naby jou. Wie pleit op God se trouverbond, sal ervaar dat die God van vrede weer by hom kom.

En dan, ten slotte, kan ons uitsien na beter dae. 

3. Dit is die laaste uitroep van die digter: “ek sal Hom nog loof!” Ons sien hier as’t ware die laaste stap in die digter se stryd teen sy geestelike depressie, teen sy geestelike moeite. Dit is pragtig om te sien dat, waar die digter eers net teruggekyk het, in sy herinnering gekrap het om daaruit krag te put, hy nou weer vorentoe kan kyk. Daar is weer uitsig, daar is nuwe sekerheid: ek sal Hom nog loof!

Maar wie is die ‘Hom’ wat deur die digter geloof sal word? Ek stel hierdie vraag omdat die digter self vir ons ‘n kwalifikasie van die ‘Hom’ gee. Die digter sê: Ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God. Dit is ‘n effens moeilike sinskonstruksie, maar eenvoudig gestel sê die digter: Ek sal Hom nog loof – Hy is my Verlosser en my God! Die digter erken dus dat die uitkoms uit sy geestelike nood van die Here af kom, die Here is sy Verlosser, die Here is sy God. Dit is ‘n pragtige belydenis van ‘n gelowige in nood. Let wel, gemeente, dit is nie maar net ‘n belydenis dat dit eendag weer reg sal kom nie, dat hy eendag weer die Here as sy Verlosser sal loof nie. Nee, hierdie gelowige bely dat hy nou reeds naby aan sy God en Verlosser is. En daarom is uitkoms uit die nood vir hom ‘n sekerheid! 

Daarmee sê ons nie dat onmiddellik ook alle probleme van die digter tot ‘n einde gekom het nie. Dit is nie so dat daar geen spottende vyand meer te bespeur is nie. Nee, wie by die Here sy toevlug neem, kan verwag dat die aanvegting slegs sterker sal word. Die satan laat God se kinders nie met rus nie. En daar gaan verseker ook weer tye van geestelike dieptes in die digter se lewe kom. Maar hy weet dat daar vir hom, as gelowige, toekoms is. Nie in sy geloof lê die sekerheid van sy lof aan die Here nie, maar in die verlossende genade van die Here. Die Here se verlossing is so seker dat ons nie daaraan hoef te twyfel dat die lof van God se kinders ooit sal stil word nie.

Gemeente, hier bely ons die volharding van die heiliges. Dit is die belydenis dat ons Verlosser ons altyd sal vashou! Selfs deur ons diepste geestelike depressies heen, laat die Here sy kinders nie los nie. Laat u daardeur aanmoedig, broers en susters, om nie aan die trou van die Here te twyfel nie. Moenie, wanneer jy geestelik af is en ver van die Here af voel, in jouself begin krap nie. Waak daarteen om te sit en wag totdat die krag uit jouself kom. Nee, gaan in gebed tot die Here, pleit op sy beloftes, en sien dan die lig aan die einde van jou geestelike tonnel. Nee, ek sê dit verkeerd – dit is nie maar net die lig aan die einde van die tonnel nie. Dit is eerder die lig wat jou hele lewe omvou: die lig van die evangelie, die lig van die wêreld, Jesus Christus in al sy liefde! Deur Hom is daar vir al God se kinders ‘n heerlike toekoms, deur Hom is daar vir ons beter dae. Wanneer jy daarom deur ‘n geestelike depressie gaan, wanneer jou geloofslewe louerig is en jy nie weet wat om daaraan te doen nie, vind dan verkwikking in die verlossende lig van ons Here Jesus Christus, strek vervolgens jou hoop uit na daardie beter dae, en verrys, herleef op sy gebod – want my redder is my God!

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 42:1 en 2
Wetslesing & Miga 6:6-8
Sing Ps. 82
Gebed
Lees: Psalm 42 en 43
      Filippense 4:1-9
Sing Ps. 42:3-5
Teks: Ps. 43:5
Preek
Amenlied Ps. 42:6 en 7, Ps. 43:1 en 2
Bevestigingsformulier en seën
Sing ampsdraer toe Ps. 43:3 (staande, en bly staan vir voltooiing van formulier)
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 43:4 en 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)