Psalm 45
Ds HH van Alten - Sondag 13 Julie 2008
Lees: Psalm 45
Teks: Psalm 45
Sing: Sien liturgie
Tema: Kom sing van harte die bruilofslied van die Koning! Want:
- Die bruidegom is ongelooflik groot (verse 3-10)
- Die bruid is ongelooflik beeldskoon (verse 11-16)
- Die toekoms van hierdie huwelik is ongelooflik mooi (verse 17-18)
Geliefde gemeente, bruid van ons Here, Jesus Christus,
Almal van ons weet waarskynlik wat dit beteken om baie opgewonde oor iets te wees. Jy is miskien baie opgewonde oor ‘n nuwe speelding wat jy gaan kry; miskien bórrel jy oor daardie nuwe liefde in jou lewe of oor daardie lankverwagte vakansie; dalk maak die geloof in Jesus Christus jou geweldig opgewonde. Wat dit ook al mag wees, ons almal ken daardie borrelende, bruisende gevoel van opgewondenheid; jou hart loop oor daarvan. Jy is so vol daarvan, jy bars amper van opgewondenheid!
Nou, gemeente, dit is presies wat die digter in Psalm 45 ervaar, ‘n Psalm wat in die geheel van die psalmboek nie sy gelyke ken nie. Die digter is geweldig opgewonde; hoor maar hoe borrel sy opgewondenheid oor in die inleiding (vers 2): “My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ‘n Koning; my tong is die pen van ‘n vaardige skrywer.” Hierdie man se emosies is heeltemal op hol deur die taak wat hy as digter ontvang het; hy kan nie wag om al sy besondere digtersvaardighede in hierdie taak te stort nie. En tereg! Hy het naamlik die groot taak gekry om die bruilof van die kóning te beskryf.
En as dit maar net die bruilof van die aardse koning was, broers en susters, maar dit gaan hier oor baie meer. Dit gaan hier bo alles oor die hemelse bruilof waarin die goddelike bruidegom, Jesus Christus, die kerk as sy bruid neem. Of die digter die volheid van sy woorde verstaan het, is te betwyfel, maar dit is ook nie ter sake nie – daar is heelwat dinge wat die skrywers van die Ou Testament moes uitspreek en waarvan hulle die volle betekenis nog nie verstaan het nie. Maar tog voel hierdie digter aan dat dit hier oor baie meer gaan as net ‘n koninklike bruilof… Hy behandel nie maar net ‘n tema onder baie ander waaroor ‘n mens ‘n gediggie kan skryf nie. Nee, hy behandel die tema van alle temas! Sy gedig handel oor die uiteindelike doel van die hele geskiedenis, die verhaal van alle eeue – Koning Christus wat sy bruid versamel tot die ewige lewe! Geen wonder dat die digter so bewoë raak wanneer hy nadink oor wat hy gaan sê as lofbetuiging op die groot Koning, en watter adviese hy aan die geliefde bruid gaan gee nie. Sy hart loop oor van begeesterde woorde oor die bruilof van die hemelse Koning.
En die resultaat is ‘n wonderlike “lied van die liefde” (vers 1), ‘n bruilofslied soos daar geen ander bestaan nie. En, gemeente, ons mag dit vandag met dieselfde bewoënheid saamsing; ons sing Psalm 45 nie as ‘n betekenislose, Ou Testamentiese lied nie, maar ons sing dit as deelnemers aan die huwelik tussen Christus en sy kerk. Ons sing hierdie lied as een van die partye in die huwelik: “My hart, ontroer deur mymering, sal lieflik van ‘n Koning sing. My tong, deur digvuur aangedryf, is soos ‘n pen wat vaardig skryf” (Ps. 45:1 ber.).
Tema: Kom sing van harte die bruilofslied van die Koning! Want:
-
Die bruidegom is ongelooflik groot (verse 3-10)
-
Die bruid is ongelooflik beeldskoon (verse 11-16)
-
Die toekoms van hierdie huwelik is ongelooflik mooi (verse 17-18)
1. Gemeente, daar is ‘n bepaalde beweging in Psalm 45, en om hierdie beweging goed te verstaan, moet ons eers iets verstaan oor die huweliksgebruike van die bybelse tye. Op die troudag was dit naamlik die gewoonte dat die vriendinne en die bruid se gevolg by haar huis bymekaar sou kom, waar sy haarself met die mooiste klere en juwele versier het. Terselfdertyd sou die gevolg van die bruidegom by sy huis bymekaar kom. Wanneer alles dan in gereedheid was, sou daar ‘n feestelike optog deur die strate wees, van die bruidegom en sy gevolg, om die bruid by haar huis te gaan haal; dus, hulle sou van sy huis na haar huis beweeg. Nadat die bruidegom sy bruid ontmoet het, sou ‘n tweede optog volg van die hele groep saam – bruid en bruidegom met hulle aanhang – terug na die bruidegom se huis. En dáár sou dan ‘n groot fees gevier word, ‘n fees wat soms ‘n week of selfs twee weke kon duur. Nou, gemeente, hou hierdie verskillende bewegings in gedagte wanneer ons Psalm 45 behandel.
Kom ons kyk eers na die eerste beweging: die bruidegom wat sy bruid kom haal.
In verse 3-10 vind ons die digter se lofprysing op die groot Koning. Dit is asof die digter al met die pad waarlangs die koning trek om sy bruid te gaan haal, soos ‘n soort openbare aankondiger die koning in sy grootheid besing. Op die eerste vlak gaan dit uiteraard oor die aardse koning; algemeen word aanvaar dat hier die huwelik van koning Salomo met die prinses van Egipte beskryf word. Maar, gemeente, die lofprysing van die digter op die koning is van so ‘n aard dat ons nie anders kan as om ook verder te kyk as die aardse koning nie. Hier word dinge van die koning gesê wat slegs die hemelse Koning toekom. Ten slotte gaan hierdie beskrywing dus oor Koning Jesus!
Koning Jesus is immers die een wat, volgens vers 3, veel skoner as die mensekinders is! Nie uiterlik skoner nie; nee, Jesaja sê nie verniet in hoofstuk 53 van sy profesie dat die kneg van die Here geen gestalte of heerlikheid gehad het, dat ons hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Uiterlik was daar niks besonders aan ons Koning nie. Maar Hy was skoner omdat God Hom geseën het met begenadigde lippe (lees maar die tweede deel van vers 3: “genade is uitgestort op u lippe”). Ja, Koning Jesus het begenadigde lippe, Hy spreek skone woorde wat aan mense die lewe gee. In sy bóódskap lê dus sy skoonheid! En die evangelies lewer op verskeie plekke getuienis daarvan.
Dink maar aan die tyd toe Jesus op aarde was; Hy het met ‘n gesag en ‘n bekoorlikheid gespreek wat selfs sy vyande verwonder het. Soveel so dat toe die Fariseërs en owerpriesters soldate gestuur het om Hom te arresteer, hulle teruggekom het met die boodskap: “Nooit het ‘n mens so gespreek soos hierdie mens nie” (Joh. 7:46). By ‘n ander geleentheid, toe die skares begin het om Hom te verlaat, het Jesus sy dissipels gevra of hulle Hom ook wil verlaat, en dan antwoord Petrus namens hulle almal: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (Joh. 6:68). Jesus se woorde het die krag gehad om die storm stil te maak, om demone uit te dryf, om dooies op te wek, en om manne en vroue wat vasgevang was in sonde tot geloof te bring. Met skone woorde het hierdie bruidegom gekom om sy bruid te kom haal!
Maar, broers en susters, Jesus het nog meer met sy woorde gedoen. Want hierdie Koning moes ook veg vir sy bruid! Koning Jesus het sy hemelse woning verlaat en na ons aardse woning gekom om die stryd aan te gaan teen die vyand, die sonde en die dood. Wanneer die digter daarom in vers 4 sê: “Gord u swaard aan die heup, o held”, dan gaan dit oor die tweesnydende swaard van sy wóórd; sy pyle (v. 6) is die skerp pyle van sy wóórd wat die harte van sy vyande tref. En Hy veg nie ‘n militêre geveg nie; nee, Hy veg vir waarheid en ootmoed en geregtigheid (v. 5). Ter wille dáárvan ry Hy voorspoedig! Dít was die manier waarop Jesus tydens sy lewe op aarde getriomfeer het! Vanuit ‘n fisiese oogpunt het Jesus se vyande Hom oorwin; hulle het Hom veroordeel en om die lewe gebring. Maar in terme van waarheid, ootmoed en geregtigheid het Jesus oorwin! Sy troon staan vir ewig vas (v. 7), en Hy bly voortgaan om goddeloosheid uit te roei en geregtigheid te laat seëvier (v. 8). Sy ryk is een waarin waarheid, ootmoed en geregtigheid heers.
En omdat Hy oorwin het, dáárom mag Hy nou trou met die bruid wat Hy verwerf het in die stryd; ‘n bruid, gebore uit die wóórd! Met sy skone woorde, sy woorde van lewe, het Hy haar liefde gewen, en sy dood aan die kruis was die bruidsprys wat Hy vir haar betaal het. Meer nog, sy dood het selfs sy trouklere geword; dit is as’t ware asof Hy sy dood aangetrek het, sodat sy bruid kan sien wat Hy vir haar gedoen het! Wanneer die digter van Psalm 45 daarom in vers 9 sê: “Al u klere is mirre en alewee en kassie…”, dan hoor ons daarin presies wat Nikodemus met Jesus se dooie liggaam kom doen het. Hy het dit gebalsem met ‘n mengsel van mirre en alewee (lees maar Joh. 19:39). Jesus het Homself geklee met die tekens van sy lyding, sodat die bruid kan sien: so lief het Hy my!
Gemeente, wat ‘n heerlike loflied op ons bruidegom. Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur sy Gees en sy Woord het Hy gekom om sy vyande te oorwin, om sy troon vir ewig te bevestig, en om sy bruid te kom haal. Wie wil nie ‘n party in hierdie huwelik wees nie? Wie wil nie hierdie Koning se bruid wees nie? Almal wil deel wees van hierdie gebeure: “Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir” – so sê vers 10. Alles en almal staan dus gereed! Die Koning het by die bruid se huis aangekom. Nou is dit tyd vir die bruid om haar verskyning te maak…
Dit is ons tweede gedagte: die bruid is ongelooflik beeldskoon.
2. Die koning het met sy aanhang die bruid se huis bereik. ‘n Groot oomblik vir die bruid. Sy het met vreugdevolle verwagting na haar bruidegom se koms uitgesien. Hoewel, daar was ook ‘n tikkie spanning. Trou is immers nie perdekoop nie. Dit is ‘n groot stap met talle konsekwensies. En dit is asof die bruid hieroor nadink terwyl sy haarself vir haar bruidegom mooi maak. Maar dan kom die digter in verse 10-16 met ‘n pragtige stukkie driedelige advies om die bruid te bemoedig.
Hy begin deur die bruid te adviseer om die verlede te vergeet: “Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader” (vers 11). Wie mooi geluister het, hoor in hierdie woorde dieselfde soort oproep as wat God in Genesis 12:1 aan Abraham gerig het: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.” Dit is sterk en radikale woorde; dit mag moontlik selfs na harde advies van die digter klink. Maar, broers en susters, vir die bruid om werklik aan haar bruidegom te behoort, móét sy hierdie dinge agterlaat, kan sy nie daaraan bly klou nie. Vir die kerk, vir elke Christen, om werklik aan Koning Jesus te behoort, moet daar radikaal gebreek word met die eertydse lewe. “As iemand na My toe kom – sê Jesus – en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” – só radikaal stel Jesus dit in Lukas 14:26. Niks, selfs nie die lewe self nie, mag ruimte gegun word om ons te verhinder in ons navolging van Jesus nie. Van nature is ons verknog aan die skoonheid en die vriendskappe van hierdie wêreld, maar van dit alles moet ons vergéét! Want, sê Jesus in Lukas 9:23, “as iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” Dít is die radikale skeiding wat die huwelik met die groot Koning tot gevolg het. Dít is die boodskap vir die kerk wat werklik bruidskerk wil wees! En die kerk wat bereid is om dit te doen, sal agterkom dat haar bruidegom in veelvoud daarvoor opmaak; die lewe saam met Hom sal alle dinge, wat voorheen belangrik gelyk het, in die niet laat verdwyn. Wanneer die bruid eendag in die goud van Ofir, in groot heerlikheid, langs haar bruidegom-Koning sal sit, sal sy verbaas wonder hoekom sy dit nie lankal gedoen het nie, en sal sy weet dat die opoffering volledig die moeite werd was.
Gemeente, ons bruidegom, Jesus Christus, het vanuit sy hemelse woning die reis gemaak na ons aardse woning; sy skone woorde, soos wat ons dit ken in die Skrifte, is vir ons nie onbekend nie; ons is lief vir daardie woorde, ons is lief vir Hom. Maar om Hom lief te hê, beteken ook om te breek met dít wat ons lewens voorheen gekenmerk het; die ou lewe mag nie meer ons lewens beheers nie; jy kan nie aan die sondes in jou lewe bly klou nie. Moenie, soos die vrou van Lot, met verlange terugkyk na die ou lewe nie. Moenie tussen twee lewens hink nie – die lewe van vroeër, en die lewe met die Koning. Moenie toelaat dat ons, dat jou verhouding met die geliefde Jesus in gevaar gestel word deurdat jou aandag gerig is op dit wat agterlê nie. Van hier af moet die hemelse Koning ons enigste liefde wees! Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel, met jou hele verstand en met al jou kragte. Slegs dan word die bruid werklik stralend in haar skoonheid!
Die volgende stukkie advies van die digter aan die bruid is daarom ook om slegs op die Koning te fokus en Hom te eer; kyk maar na vers 12: “en as die Koning u skoonheid begeer – want Hy is u Heer – buig u dan voor Hom neer.” Gemeente, dit is iets anders as die immorele liefdesverhale waarvan ons vandag in boeke en tydskrifte lees, en wat ons op die televisie te sien kry. En dit het niks te make met ‘n outydse sig op die huwelik, waar die man die heer is en sy vrou hom moet dien nie. Nee, dit gaan hier oor ‘n heilige huwelik, waarin die goddelike liefde van die bruidegom vir sy bruid, en die nederige eerbied van die bruid vir haar bruidegom harmonieus gehandhaaf word. Hierdie bruidegom het sy bruid lief, Hy begeer haar, Hy versorg haar soos sy eie liggaam, Hy laat haar deel in al die goedheid van God. En in antwoord daarop hou sy uit liefde haar man in ere, en onderwerp sy haar aan Hom. Die kerk moet voor Jesus Christus buig, want Hy is haar Here en haar Man. Die kerk begeer om Hom te eer, om sy wil te volbring, en om sy Naam aan te roep.
Gemeente, dít is die gehoorsaamheid wat ons as kerk aan ons hemelse bruidegom verskuldig is. Want ons moet onthou, ons het nie Hom gekies as Man nie; Hy het ons, wat andersins geen skoonheid gehad het nie, gekies om sy bruid te wees. Hy het, soos wat Hosea moes doen, ‘n hoer gekies om sy bruid te wees. Ja, dit is wat ons was; só vuil was ons. En om dan in die bruidskamer te kan staan, jouself te kan voorberei, mooi te mag wees, te hoor hoe jou aanstaande man oppad is met sy hele gevolg omdat Hy jóú wil hê… wat ‘n wonder! As Hy jou dan begeer, buig jou voor Hom neer. Hy is immers jou Heer.
En dan, in die laaste stukkies advies van die digter aan die bruid, wys hy haar om vorentoe te kyk na wat die toekoms vir haar inhou as die bruid van hierdie groot Koning. Sy sal agterkom dat haar keuse vir hierdie bruidegom beslis die regte keuse was. Sy sien voor haar geestesoog die liefde van die Koning vir haar; vers 12: “… as die Koning u skoonheid begeer…”. Sy sien die eer wat haar te beurt sal val; vers 13: “met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense”. En sy sien die vreugde wat vir haar wag; vers 16: “Hulle word gelei met vreugde en gejuig…”
Gemeente, dít wat die kerk ontvang vir haar antwoord op die Here se liefde, is onberekenbaar. Vandag alreeds kom daar nuwe rigting in ons lewe vanweë ons verbondenheid met Christus; ons ontvang vandag alreeds al die skatte van genade wat Hy verdien het. En hoe heerlik sal dit nie wees by sy wederkoms nie, ‘n heerlikheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens opgekom het nie. En ons mag vanoggend weet dat ons br. Bron op hierdie oomblik daardie heerlikheid beleef, en so ook almal wat ons reeds voorgegaan het. En hoe kan ons nie soms verlang om saam met hulle in die heerlikheid te deel, om ook die reis te voltooi en by die hemelse paleis aan te kom vir die fees van alle feeste nie. Moet daarom nie terugkyk nie, broers en susters, maar kyk vorentoe, want die bruilof van die Lam kom!
Wanneer die bruid klaar na hierdie adviese van die digter geluister het, dan gaan sy – vasberade en sonder om verder te twyfel – buitentoe, na haar wagtende bruidegom. In al haar skoonheid, in veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei (v. 15). “Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding” (v. 14). Hierdie bruid is ongelooflik beeldskoon!
En, gemeente, ons ken die skoonheid van ‘n bruid op haar troudag. Nog nooit was daar, op ‘n christelike troudag, ‘n bruid wat nie mooi gelyk het nie. So is dit met die kerk ook. Wanneer sy haar ou lewe agterlaat, en in eerbied voor haar Heer en Man neerbuig, wanneer sy Hom gehoorsaam is, dan is sy beeldskoon. Geen mooier bruid as die kerk van Christus nie. Is dit hoe hierdie gemeente lyk, broers en susters? Nee, dan is dit nie ‘n oproep om allerhande dinge te gaan doen nie. Die oproep is eenvoudig: laat ons lief wees vir ons Man, Jesus Christus, laat ons Hom eer, en kom ons los alle ander dinge agter.
Ten slotte: die toekoms van hierdie huwelik is ongelooflik mooi.
3. Bruid en bruidegom is nou bymekaar, en saam gaan hulle oppad na die woning van die bruidegom.
Maar, gemeente, eers moet hulle die pad aflê na die koninklike paleis; eers moet die reis voltooi word. Ja, as bruidskerk is ons tans nog oppad na die feessaal. Daar moet nog baie gebeur voor die groot fees opdaag. Ons sien dit in vers 17, wanneer die digter hom opnuut tot die Koning rig. Hy spreek ‘n soort seën oor die huwelik uit: “In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land.” Uit die vrugbare gemeenskap tussen die bruidegom en sy bruid sal daar dus kinders voortkom. Koningskinders sal die resultaat wees van die liefdesverhouding tussen Jesus en sy kerk. En ons kon dit vanoggend sien: die jongste Koningskind in die huwelik tussen Jesus en hierdie gemeente. Eben kon die teken van die doop ontvang, en hy mag ook, soos wat hy opgroei, die amp van koning – of vors, soos vers 17 sê – in hierdie wêreld vervul. Uit die skoot van hierdie bruid word daar talle kinders gebore, nuwe lidmate van die liggaam van Christus.
Maar, gemeente, die kinders kom nie slegs van binne nie, maar ook van buite-af. Of altans, so behoort dit te wees. Die digter van Psalm 45 sê in vers 18 daarom ook: “U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loof vir ewig en altyd.” Hierdie digter het die begeerte dat die feesvierende menigte moet toeneem, dat die skare moet groei, dat daar meer en meer mense moet bykom uit alle volke om die Koning in sy grootheid te besing. Is dit ook ons begeerte, gemeente? Werk ons aktief daaraan mee dat die volke van die aarde Hom ook prys? Laat dit ons begeerte wees dat die Naam van die Here oor die hele wêreld verkondig word, sodat die skare wat op reis is na die hemelse paleis, kan groei en sodat die getal kan volraak, en sodat Jesus kan terugkom op die wolke!
Gemeente, hoe mooi om so aan ons lewe as bruidskerk te dink: Jesus vooraan, ‘n groot en opgewonde menigte volg. Almal sien uit na die fees wat hulle nou by die bruidegom se huis gaan vier; ja, ons noem dit die bruidegom se huis, maar in feite gaan dit oor die Koning se paleis. Dáárheen is ons oppad, dáár sal die groot fees gevier word. ‘n Week lank? Miskien twee weke? Nee, broers en susters, ‘n fees wat nooit sal ophou nie, en wat in vreugde en intensiteit nooit sal afneem nie!
Verlang ons nog na hierdie groot fees wat ophande is? Jesus het eers na die aarde gekom om ons, sy bruid, aan Hom te verbind. Maar Hy kom ‘n tweede keer om ons vir ewig tot Hom te neem. Is ons gereed vir daardie koms? Sien jy uit daarna? Lewe ons soos die bruid wat oppad is na die feessaal? Gemeente, kom ons klou vir al wat ons werd is aan ons bruidegom. Hy is die enigste sekerheid wat ons het op ons lewenspad, Hy is ons enigste troos in lewe en in sterwe! Slegs saam met Hom is daar ‘n heerlike toekoms! En dan bid ons: Kom, Here Jesus, kom haal u bruid! Kom, Here Jesus, laat die fees begin!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Votum: sing Ps. 124:4
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 66:7 en 9
Wetslesing en 1 Kor. 15:55-58
Sing Ps. 66:6 en 8
Doopsformulier en -bediening
Formuliergebed
Sing Skr. 15:1 en 3 (staande)
Skrifgedeelte en teks: Psalm 45
Sing Ps. 128:2-4
Preek
Amenlied Ps. 72:1, 9 en 10
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 93:1, 2 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)