Slegs die gelowiges word gered!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-08-10
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 7
Verwysing: 
HK 7-1
Preek Inhoud: 

Sondag 7

Ds HH van Alten - Sondag 10 Augustus 2008

Lees: Hebreërs 11:1-6, Johannes 20:19-31
Teks: HK Sondag 7
Sing: Sien liturgie

Tema: Slegs die gelowiges word gered! (hierdie tema sluit aan by antwoord 20 van HK)

  1. Die geloof is lewensnoodsaaklik
  2. Die geloof is die grootste geskenk in die lewe

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede week het ons gesien dat Jesus Christus, God en mens, die Middelaar is wat tussen God en die mens kan staan om versoening te bewerk. Elke mens het hierdie Middelaar nodig, niemand van ons kan sonder Christus weer tot God se kind aangeneem word nie, niemand kan buite Christus om gered word nie.

Die voor die handliggende vraag, wat die Kategismus dan ook stel, is: wórd almal ook deur Christus gered? Vir die Remonstrante, teen wie die Dordtse Leerreëls geskryf is, was dit ‘n reële moontlikheid. Volgens hulle is die moontlikheid om gered te word deur God se genade in Christus vir alle mense gegee; alle mense het dus ‘n goeie kans om gered te word. Of hierdie moontlikheid ook ‘n werklikheid word, hang van elke persoon se reaksie af. Jou vrye wil kan self besluit om wel of nie met die genade saam te werk. Jy bepaal dus self of jy gered word of nie; wat Christus gedoen het met sy kruisdood, is slegs om vir jou die móóntlikheid van redding te bied. Hy het slegs die deur oopgemaak; die keuse lê uiteindelik by jou of jy by daardie deur gaan ingaan of nie…  

Hierteen, gemeente, het die Dordtse sinode met reg gereageer. Hulle leer onder andere in Verwerping van die Dwalings, 2:6: “Die sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: dat God, vir sover dit Hom betref, aan alle mense die weldade wat deur die dood van Christus verkry word, in gelyke mate wou meedeel. Dat sommige die vergifnis van sonde en die ewige lewe deelagtig word en ander nie, hang van hulle vrye wil af, wat hom aanpas by die genade wat sonder onderskeid aangebied word.” Sien u hoe praat die remonstrante: almal kan gered word; dit hang maar af of jy jou, met jou vrye wil, by die genade aanpas of nie; dit hang maar net af of jy die genade gebruik of nie.

Hoe anders praat die Skrif en ons belydenisskrifte nie: Christus se kruisdood gee nie maar net ‘n moontlikheid aan die mens om te glo nie; nee, dit gee álles. Jou volle saligheid is in Christus! Maar hoe kry jy dit álles? Slegs deur die geloof… 

Tema: Slegs die gelowiges word gered! (hierdie tema sluit aan by antwoord 20 van HK)

  1. Die geloof is lewensnoodsaaklik

  2. Die geloof is die grootste geskenk in die lewe

1. Henog – ‘n besondere man, ‘n besondere stukkie geskiedenis. Henog het gelewe in ‘n tyd van groot verval in die wêreld. Ons kan sê dat dit ‘n tyd van groot sekularisasie was. Die besonderhede van hierdie tyd vind u in Genesis 4 en 6. In Genesis 4 lees ons onder andere van Kain, die man wat sy broer doodgemaak het; en ons lees van Lameg, die man met die ongesonde geldingsdrang: “Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes.” Twee konkrete voorbeelde van hierdie tyd. En wat van Genesis 6 – daar lees ons hoe God gesien het dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was. Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld (Gen. 6:11). Beslis nie ‘n goeie tyd om in te lewe nie…

Gemeente, uiteraard was daar vanaf Genesis 3 nog altyd sonde op die aarde, maar tog doen die bybel moeite om vir ons te vertel dat hierdie ‘n besonder slegte tyd in die geskiedenis was. Die graad van slegtheid was net soveel erger as in ander tye. Nou, in hierdie slegte tyd het ook Henog gelewe, hy en sy familie het hulleself in die middel van hierdie gemors bevind. Henog was egter ‘n uitsondering op die reël van sy tyd, Henog was anders as sy tydgenote, want Henog het in God geglo.  

Nou kan ons maar weet, broers en susters, dat Henog as gelowige beslis ‘n buitestaander was, ‘n vreemde perd in die sekulêre wêreld van voor die sondvloed. Sy geloof het Henog laat uitstaan onder sy tydgenote. Meer nog: dit het hom selfs in konflik gebring met sy tydgenote. Ons kan dit aflei uit Hebreërs 11:5 waar ons lees dat God hom weggeneem het om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het. Nou is dit moontlik om hierdie gedeelte so te verklaar dat Henog skielik net verdwyn het, en dat die mense oral na hom gesoek het, maar hom nie kon vind nie.

Die Griekse teks sowel as die konteks van die Skrif lei ons egter eerder tot die konklusie dat die mense Henog gesoek het, omdat hulle hom wou doodmaak. Ja, Henog was nie baie geliefd onder sy tydgenote nie – immers, hy was volgens die brief van Judas, verse 14 en 15, ‘n profeet wat die oordeel van God oor die sonde en afval van die mensdom van sy tyd moes aankondig. Nodeloos om te sê dat die mense van sy tyd dit nie baie kon waardeer nie. En daarom wou hulle hom uit die weg ruim, daarom het hulle gesoek om hom dood te maak. Maar God het Henog weggeneem sodat hy die dood – dus, dit wat sy tydgenote hom wou aandoen – nie gesien het nie. God het Henog uit al sy doodsgevaar gered.

Dit mag vir ons baie duidelik wees, broers en susters, dat dit vir Henog, die gelowige, net oor een doel gegaan het, naamlik om Gód te behaag – só sê die Hebreërskrywer dit. En om God te behaag beteken om aan Gód vreugde te verskaf, om Gód bly te maak. Henog was beslis nie daarop uit om mense te behaag nie; as dít die geval was, sou hy sekerlik nie sy lyf doemprofeet gehou het nie. Nee, Henog het deur die geloof sy oog slegs op God gerig gehou, selfs toe mense gesoek het om hom dood te maak. Henog het, te midde van al die slegtheid waarbinne hy gelewe het, eenvoudig opgekyk en met God gewandel. En daarvoor beloon God hom – ja, beloon soos wat ons belydenis daarooor praat. God skenk aan Henog die onverganklike lewe, ‘n voorspel op die jongste dag! 

Gemeente, hierdie merkwaardige stukkie geskiedenis van die gelowige Henog in ‘n goddelose tyd, is vervolgens vir die Hebreërskrywer die aanleiding om in hoofstuk 11:6 ‘n algemene toepassing te maak op alle mense. En die toepassing wat hy in wese maak, is: sonder geloof is dit vir niemand moontlik om God te behaag nie. Dus, broers en susters, om te doen wat vir God aangenaam is, om aan God vreugde te verskaf, en om uiteindelik dieselfde loon as Henog te verkry, naamlik die léwe – dáárvoor is geloof onontbeerlik! Daarvoor is oorgawe aan God lewensnoodsaaklik! Sonder geloof in God en in sy Seun, Jesus Christus, kan dit met jou nie goed gaan nie. Want sonder geloof wek jy ten slotte nie God se behae op nie, maar eerder sy toorn oor jou lewe. Wie nie glo nie, moet besef dat hy die lewende God teen hom het – ‘n gevaarlike vyand.

En tog, gemeente, ten spyte van die feit dat ons dit weet en bely, soek ons dikwels maar weer om ménse te behaag. Ons wil graag weet of ménse tevrede is met ons lewens, en of hulle met ons saamstem. In ons soeke na erkenning kan ons dikwels nie hoër kyk as die oë van mense nie: hoe sien hulle my? Wat moet ek doen om in sy of haar oë aanvaarbaar te wees. En dit is opvallend wat mense nie alles sal doen om mense te behaag nie. Maar Henog het hoër gekyk, na God. Henog het geweet dat, vir sy saligheid, uiteindelik net Een se welbehae belangrik is. Uiteindelik, wanneer jy al die sommetjies gaan maak en alles teen mekaar gaan opweeg, is die slotsom klinkklaar en baie eenvoudig: het ek deur die geloof God behaag? Broer en suster, kyk daarom na jou lewe – wat is vir jou belangrik? Wie is vir jou belangrik? Op watter vlak funksioneer jou oë: horisontaal om mense te behaag, of vertikaal om in geloof God te behaag? En wees eerlik in die beantwoording van hierdie vrae.  

En moenie die vraag afmaak met ‘n eenvoudige “Ek glo mos” nie. Nee, dit is nie so eenvoudig nie. Kyk na Henog om te sien wat ‘n ware geloof alles behels. Henog, wat met geloofsoë omhóóg gekyk het, het daardie geloof in woord en daad uitgelééf; hy het met beide voete op die aarde gestaan. Vir Henog was sy geloof nie maar net ‘n saak van die hart nie, maar ‘n werklikheid in leer en in lewe. Kyk maar net… Henog het as profeet die oordeel van God aangekondig, soos wat die brief van Judas ons daarvan vertel. Hy het geen skroom gehad om te sê wat gesê moes word nie, ook al het dit hom bitter ongewild onder sy tydgenote gemaak. Maar ook met die daad was hy ‘n ware gelowige – immers, so vertel Genesis 5:24 ons, Henog het met God gewandel. In alles wat Henog gedoen het, was God aan sy sy; Henog het mét God in die volle lewe gestaan – hy het getrou, en hy het seuns en dogters verwerk. En hy het dit alles gedoen in ‘n daaglikse omgang met God.

Dus, gemeente, om deur die geloof God te behaag, vra konkrete uitwerking hier op aarde. Dit vra dat ons in die volle lewe staan op ‘n manier wat vir God aangenaam is. Dit vra dat God die derde party in ons huwelike sal wees; dit vra dat God die sentrum van ons gesinne sal wees, die sentrum van al ons gesprekke in die gesin; dit vra dat ek my huiswerk sal doen met die wete dat God die eintlike Onderwyser is vir wie ek hierdie werk doen; dit vra dat ek op die sportveld sal speel met die besef dat God die Skeidsregter is van die gees waarin ek speel; dit vra dat ek, oral waar ek kom, sal besef dat ek God se mondstuk is wat met sy Woord behoort te bemoedig, te vermaan, en te onderrig; dit vra dat ek, as dit nodig is, myself ongewild sal maak sodat God die eer kan kry. 

Broers en susters, geloof is dus lewensnoodsaaklik om God te behaag, maar dan wel ‘n ware geloof, ‘n lewende geloof. ‘n Geloof wat daarvan oortuig is dat God is – dit wil sê dat Hy bestaan en dat Hy naby is – en dat Hy ‘n beloner is van die die wat Hom soek! Is jou hele lewe ‘n getuienis van ware geloof? Nee, nie slegs iets van sekere vasgestelde tye nie. ‘n Lewende geloof – is dit by jou ‘n lewenswyse? Is jy so deurdronge daarvan dat ‘n lewe daarsonder vir jou … ja, dooierig sou lyk?

Vervolgens: geloof is die grootste geskenk in die lewe. 

2. Geloof is dus lewensnoodsaaklik. Maar, broers en susters, die gevaar is groot dat ons nou almal, soos tipiese 21ste-eeuse verbruikers, hier wegspring om vir ons hierdie onmisbare lewensmiddel te gaan aanskaf. Immers, as dit nodig is, dan moet ons dit in die hande kry; is daar dalk ‘n tolvry nommer wat ons kan skakel? Gemeente, laat ons asseblief daarvoor waak om nou op ‘n grootskaalse soektog na geloof te gaan. Geloof kry jy, geloof word aan jou gegee, geloof is ‘n gawe van God. En dit kom pragtig na vore in die gedeelte in Johannes 20, wat ons saam gelees het.  

Op die eerste dag van die week het Jesus in die midde van sy dissipels verskyn. By hierdie geleentheid stuur Hy hulle die wêreld in om aan mense die blye boodskap te gaan bring, en vir dié doel gee Hy aan hulle ook sy Heilige Gees. Maar om een of ander rede was broeder Thomas nie aanwesig nie. Dit is ‘n probleem, want Thomas moet ook die wêreld in; die boodskap moet immers van al twaalf apostels uitgaan. Toe die ander dissipels vir hom vertel dat hulle die Here gesien het, was hy nie werklik onder die indruk nie. Hy aanvaar nie hulle getuienis van die opstanding nie. Thomas skop hardnekkig teë: sonder tasbare bewys sal hy hierdie verhaal beslis nie glo nie.

‘n Week later is daar weer ‘n vergadering agter geslote deure, en hierdie keer is Thomas wel aanwesig. Op presies dieselfde tyd en plek as ‘n week gelede verskyn Jesus weer by sy dissipels, en weer begroet Hy hulle met sy vrede. Maar vervolgens rig Hy Hom spesifiek tot Thomas. En dit blyk dat Hy volledig op die hoogte is van wat Thomas gesê het, en daarom nooit Hy hom: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.” Thomas vra én kry ‘n tasbare bewys van dít wat hy aanvanklik nie kon glo nie, en hy word genooi om sy ongeloof op hierdie punt te verander in geloof. En dan is sy reaksie ‘n besondere geloofsbelydenis: “My Here en my God.” In geloof erken hierdie leerling nou sy opgestane Here en sy lewende God. Thomas ontvang die geloof wanneer hy met sy lewende Here gekonfronteer word. Ongelowige Thomas – ja, verseker, totdat die Here self in ‘n besondere vertoning van liefde en geduld aan hom die geloof skenk.  

Jesus is egter nog nie klaar nie; daar is meer wat hier gesê moet word. Jesus konstateer dat Thomas geglo het omdat hy die Here gesien het. Gelukkig is diegene wat glo sónder om te sien. Hiermee wil Jesus natuurlik nie sê dat Thomas, wat geglo het nadat hy gesien het, minder gelukkig is as diegene wat glo sonder om te sien nie; Jesus skep nie ‘n teenstelling tussen sien en glo nie. Maar daar is wel onderskeid tussen sien en glo eneryds, en nie-sien en glo andersyds. Thomas glo in die Opgestane Here vanweë wat hy gesien het – Jesus Christus, wat in lewende lywe voor hom gestaan het en aan hom sy wonde getoon het. Maar almal wat na Jesus se vertrek vanaf die aarde in Hom glo, sonder dat hulle Hom self gesien het, word deur Jesus gelukkig geprys!

En juis ter wille van al daardie mense – waarvan ons terloops ook deel is – was dit belangrik dat ook Thomas, een van die twaalf, ‘n belydende gelowige moes word. Die apostoliese getuienis moes eensluidend wees, al twaalf apostels moes uit een mond praat: “Ons het die Here gesien!” Want hierdie ‘sien’ van die apostels sou immers wêreldwyd uitgedra word, en sou wêreldwyd lei tot geloof by dié wat nie die geleentheid gehad het om te sien nie. Die apostels is die oë en die ore van almal wat deur al die eeue daarna die evangelie sou hoor en tot geloof sou kom, sonder dat hulle Jesus Christus in lewende lywe gesien het. Die apostels het die Here gesien, en daarom kan ons vandag glo dat Hy opgestaan het. Immers, op die fondament van die apostels van Jesus Christus – insluitende Thomas – is die christelike kerk gebou! So leer die Skrif ons dit baie duidelik. 

En daarom ook Johannes se laaste woorde in hoofstuk 20 – verse 30 en 31. Dikwels word hierdie woorde opgevat as ‘n vroeë afsluiting van Johannes se boek, ‘n soort premature slot waarna – in hoofstuk 21 – die finale slot sou volg. Maar nee, dit is nie die geval nie. In verse 30 en 31 rig Johannes hom, in aansluiting by die voorafgaande geskiedenis, direk tot die lesers van sy boek. Húlle is immers diegene wat moet glo sonder om te sien. Thomas – ja, hy het die geleentheid gekry om te sien en te glo, maar ná hom sal daar baie wees wat nie sien nie en tog moet glo. En met die oog op húlle geloof het Johannes opgeteken wat Jesus voor die oë van sy dissipels gedoen het.

Dit is geen uitputtende beskrywing van al Jesus se tekens nie. Nee, Johannes het ‘n keuse daaruit gemaak, maar dit is genoeg, sodat dié wat nie die geleentheid gehad om Jesus te sien nie, tog kan glo dat Hy die Christus is, en dat hulle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam. Johannes wil met hierdie beskrywing die geloofsbelydenis ontlik wat so dikwels tydens Jesus se lewe op aarde by die leiers en die volk – en ja, aanvanklik ook by Thomas – ontbreek het.  

Gemeente, die ongelowige Thomas het die Here voor hom te sien gekry. Maar elke mens vandag wat die bybel lees of die evangelie in die prediking hoor, hoor van Jesus. Hy word verkondig, Hy word voor die oë van alle mense afgeskilder. In Woord en prediking word Jesus voor ons afgebeeld sodat ons ongeloof weggeneem kan word en ons tot geloof mag kom. Jesus Christus – Hy skenk aan ons die geloof wanneer ons na Hóm luister en kyk!

Dit is daarom belangrik, gemeente, dat ons nie sal gaan jaag na die geloof nie. Moenie op ‘n soektog gaan na die geloof nie. Geloof is uiteindelik nie die doel nie. Jesus Christus is die doel – soek na Hom! En moenie – volgens Paulus in Romeine 10 – sê: “Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?” Nee, sê Paulus dan, naby jou is die Woord! Christus vind jy slegs in die Skrifte; daarin word Hy op elke bladsy vir jou beskryf. Die hele Skrif gaan oor Jesus Christus; Hy is dan die Woord wat vlees geword het! En wie Hóm soek, ontvang in Hom die geloof en die lewe in sy Naam!  

Dit is nie verniet dat die Kategismus sê dat die Heilige Gees deur die evangelie die geloof in my hart werk nie. Gemeente, in hierdie antwoord van Kategismus vind u in ‘n neutedoop die roete na die geloof. Dit is ‘n baie eenvoudige roete. Hierdie roete loop nie, soos in baie charismatiese groepe, via spreek in tale, en allerhande geestelike oefeninge nie. Die weg na die geloof loop baie eenvoudig via Christus. En Christus vind jy … hier, in die Woord! Verstaan u nou ook waarom daar in die prediking en deur die ouderlinge soveel klem geplaas word op bybelstudie – persoonlik en in verenigingsverband. Want dáár vind jy Christus!

Nee, die geloof is nie te koop nie, dit hoef ook nie gesoek te word nie, maar gaan soek wel Christus. En ontvang dan die geskenk van die geloof.

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Skr. 1:1, 3 en 6
Nagmaalsviering

  • Kort formulier
  • Sing terwyl tafel in gereedheid Ps. 128:4
  • Voltooi formulier en dankgebed
  • Sing Ps. 104:17, 18, 20 en 21

Lees: Hebreërs 11:1-6
      Johannes 20:19-31
Sing Ps. 2:6
Teks: HK, Sondag 7
Preek
Amenlied Geloofsbelydenis (staande en singende)
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 24:2 en 6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)