God wil geken word in die werklikheid van my lewe!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-02-27
Teks: 
NGB 2
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 2; lees Psalm 56

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Ons glo almal met die hart…” – só begin artikel 1 van die NGB. Artikel 2, daarenteen, begin met “ons ken Hom deur twee middele…” Dus, die hartlike geloof in God van artikel 1 vra vir ‘n bepaalde kennis van God. As ons soms by die katkisasies oor hierdie onderwerp praat, dan vra ek vir die katkisante: “Gaan jy sommerso lief raak vir ‘n onbekende meisie of ou waarby jy eendag op die straat verbyloop?” En dan is hulle antwoord deurgaans: “Nee, want ek ken hom/haar dan nie eens nie!” Nou, presies dieselfde geld ook vir ons verhouding met God: hoe kan ek in Hom glo as ek Hom nie ken nie? Dit is dieselfde wat Paulus bedoel in Romeine 10: hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? Geloof vra dus kennis, geloof vra be-ken-dheid met God.

En dit impliseer ‘n aktiwiteit van die verstand. As gereformeerdes word ons soms daarvan beskuldig dat ons veels te verstandelik glo, en hierdie beskuldiging is nie altyd ontereg nie. Maar ons moet ook nie deurslaan na die anderkant en die verstand uitskakel, soos wat vandag dikwels gebeur nie. Geloof is nie irrasioneel nie, dit is geen verstandlose daad nie, dit is geen emosionele sweeftog nie. Ook op hierdie detail-puntjie mag en moet ons ons belydenis voluit handhaaf. Immers, ons word opgeroep om die Here lief te hê met ons hele hart, maar óók met ons hele verstand (Mt. 22:37).

 

Maar oppas nou, gemeente! Hierdie ‘ken’, waarvan artikel 2 praat, is natuurlik meer as slegs ‘n daad van die verstand. Dit is nie maar net ‘n seker wete nie; nee, dit is ook ‘n vaste vertroue (soos Sondag 7 ons leer). Om God te ken is ‘n deurleefde kennis! Dit is ‘n kennis wat nie losstaan van die daaglikse werklikheid van my lewe nie. Dit is nie slegs ‘n kennis vir Sondag in die kerk of vir die katkisasieklas nie, maar dit is veral ook ‘n kennis vir Maandag by die kantoor, en vir Dinsdag op die sokkerveld, en vir Vrydagaand voor my televisie. En juis daarom, juis omdat die kennis van God te make het met my lewe van elke dag, wil ek nie vanaand aan u ‘n klaskamer-lesing gee oor die middele waardeur ons God ken nie, maar wil ek u saamneem na die lewe van Dawid in Psalm 56. Dáár leer ons ware kennis van God, ‘n deurleefde kennis, ‘n kennis wat die werklikheid van Dawid se lewe deurstaan het.

Tema: God wil geken word in die werklikheid van my lewe!

  1. Sy boek bevat my trane
  2. Sy woord verdien my lof

 

1. Psalm 56 is, volgens die opskrif in vers 1, geskryf in die tyd toe Dawid deur die Filistyne in Gat gevang is. Net om u geheue te verfris – wat het ook al weer hieraan voorafgegaan? Wel, op daardie stadium was Dawid alreeds deur die Here as koning gesalf in die plek van Saul. Ja, dit moes wel in die geheim gebeur, want Saul was nog steeds die amptelike koning. Maar alhoewel Saul nog die amptelike koning was, lees ons in 1 Samuel 16:13 dat die Gees van die Here van die dag van sy salwing af oor Dawid vaardig geword het. Die Gees wat eers oor Saul vaardig was (1 Sam. 10:6 en 10), kom nou op Dawid. En Saul voel sommer dadelik aan dat iets verander het. Die Gees van die Here het van hom gewyk (1 Sam. 16:14) en het oor Dawid vaardig geword. Dit is vir Saul ‘n onaangename gewaarwording. En as die vroue dan ook nog sing van Saul wat sy duisende verslaan het, maar Dawid sy tienduisende, dan is dit vir Saul een te veel. Hy voel woede en haat en vrees vir Dawid – alles tegelyk. En dan lees ons in 1 Samuel 18:9: “En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad.” Saul het daarna gesoek om Dawid dood te maak, en dit het ‘n obsessie geword wat naderhand so sterk was, dat dit vir Dawid nie meer veilig in Jerusalem was nie. Hy moet vlug…

 

Stoksielalleen, sonder soldate of kos of wapens, vlug Dawid uit Jerusalem. En nadat hy eers in Nob, by die priester Ahimeleg, kos en ‘n wapen gekry het, neem hy uiteindelik sy toevlug in Gat, een van die stede van die Filistyne. Maar… is Dawid van sy kop af? Gat was dan die voormalige tuiste van die reus Goliat, wat Dawid enkele jare gelede nog doodgemaak het. Goliat, die Filistynse held, die trots van Gat – en Dawid neem sy toevlug dáár? Dit moes desperaatheid gewees het wat Dawid daarheen gedryf het; hy het duidelik nie geweet waar om anders heen te gaan nie. Helaas vir Dawid bly hy nie lank onbekend in Gat nie. Sy teenwoordigheid word kort voor lank ontdek en aan koning Agis gerapporteer. Hoewel 1 Samuel 21 ons niks hiervan vertel nie, kan ons uit Psalm 56:1 aflei dat Dawid spesifiek in híérdie tyd in Gat gevange geneem word. En daar sit hy dan – aan die een kant soek Saul sy lewe, aan die ander kant sit hy gevange in die hartjie van oorlede Goliat se tuisdorp.

En dit is dán dat Dawid hierdie psalm skryf, ‘n psalm waarin hy enersyds sy nood beskryf: “hy wat my beveg, verdruk my die hele dag… My vyande vertrap my die hele dag… Die hele dag verdraai hulle my woorde” (vers 2, 3 en 6). Die hele dag – dit is ‘n konstante verdrukking waaronder Dawid gebuk gaan, hy kry nie ‘n oomblik rus nie, sy vyande is die hele tyd om hom. Maar aan die ander kant kan hy, ten spyte van dit alles, hierdie besondere geloofsbelydenis uitspreek, wat trouens ook die refrein van Psalm 56 vorm: “wat kan vlees my doen?” (vers 5). Dus, ten spyte van die gevaar wat hom omring, kan Dawid nogtans in geloof sê: “wat kan ‘n mens my doen?” (vers 12)

 

Broer en suster, probeer gou vir ‘n oomblik om hierdie retoriese vraag van Dawid vir jouself te beantwoord: wat kan vlees – wat kan mense –  my aandoen? Die antwoord is nie moeilik nie: BAIE! Mense kan my baie aandoen, mense kan mekáár baie aandoen. Daarvoor hoef jy maar net die koerante oop te maak: die Libiese leier wat sy eie mense doodmaak omdat hulle in opstand kom teen sy onderdrukkende bewind, mense wat die aardbewing in Nieu-Seeland misbruik om ander mense te besteel, ‘n man wat aangeval word met die doel om sy liggaamsdele te gebruik om ‘muti’ mee te maak, ‘n vrou wat ‘n sluipmoordenaar betaal om haar skoonseun te laat doodmaak. Wat kan mense aan my doen? Wel, om mee te begin kan mense mekaar onderdruk, seermaak, haat, slegsê, doodmaak. Dawid se retoriese vraag is vir ons dikwels glad nie so retories nie.

En tog is dit nie die konklusie waartoe Dawid kom nie. Alhoewel Dawid al hierdie dinge moes deurstaan, alhoewel hy eerstehands geweet het wat mense wél aan hom kan doen (en ook gedoen het!), is dit nie die eindresultaat waarby hy uitkom nie. Nee, sê Dawid in vers 4, ék sal op U vertrou; en dieselfde in verse 5 en 12: “Ek vertrou op God.” Maar hoe kan Dawid dit sê? Dit is nie asof die Here hom tot dusver van moeite en leed gespaar het nie, dit is nie asof Dawid se lewe tot op daardie stadium seepglad verloop het nie. Hoe kan hy dan sê: “mense kan niks aan my doen nie, want ek vertrou op God”?  

 

Broers en susters, Dawid kan dit sê, omdat hy daarvan oortuig is dat God alle dinge lei, omdat hy seker weet dat God ook sy lewe lei. Dít is sy diep-persoonlike erkenning in vers 9: “U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” Hier lê die hart van Dawid se vertroue – hy het God leer ken as die Skepper, Onderhouder en Regeerder van die hele wêreld, ook van sy eie lewe. En dit is vir hom geen wetenskaplike leerstuk nie, Dawid bely geen leerstuk nie. Dawid bely sy geloof! En hy glo vas dat God weet waardeur hy tot dusver moes gaan. Hy weet dat al die trane, wat hy vanweë sy swaarkry gehuil het, in God se trane-kruik bewaar word. Hy weet dat God dit alles in sy boek opgeteken het: “Op dié en dié datum het my kneg Dawid soveel trane gehuil het oor wat Saul hom aangedoen het, en op hierdie dag het hy soveel trane gestort oor wat Agis en die inwoners van Gat hom aangedoen het. Teken dit aan! Hou boek daarvan!Merk dit! Só het my kind gehuil, Ek weet daarvan. Dit gaan My aan die hart, maar dit is alles vir sy eie beswil. Want Ek weet waarheen Ek met hom oppad is.” Dít is die rede hoekom Dawid tot driemaal toe kan herhaal dat Hy op God vertrou! God het sy lewe gemaak (lees maar Psalm 139), God onderhou sy lewe, en God regeer sy lewe – só het Dawid sy God leer ken.

 

Ja, gemeente, wanneer ons belydenis in die eerste deel van artikel 2 praat van “die boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien”, dan mag ons weet dat dít die einste boek is waarvan Dawid in vers 9 praat, en waarin elkeen van sy trane opgeteken is. En hierdie boek is nie ‘n koue ensiklopedie wat net feite deurgee nie; nee, dit is ‘n ware lewensverhaal – die verhaal van God se omgang met die skepping, met die mens, met jou en my. Om mee te begin is daarin die verhaal opgeteken van die skepping van hemel en aarde, asook die verhaal van God se onderhouding en regering van die geskiedenis, vanaf die begin tot op vandag. Daarin is opgeteken die aardbewing in Nieu-Seeland en hoeveel mense daarin sou sterf, en daarin is opgeteken die opstande in die Midde-Ooste. Maar daarin is ook opgeteken die siekte wat jou lewe getref het, die moeite wat jy in jou huwelik beleef, die hartseer van kinderloosheid en die werkloosheid waarin jy tans verkeer. Daarin is opgeteken die dood van jou geliefde en elkeen van die trane wat jy daaroor gehuil het. Daarin is opgeteken die geboorte van ‘n nuwe babatjie, gisteraand se sonsondergang, vanmiddag se kerkdiens, en wat môre met jou en my gaan gebeur.  

 

En dit is nie maar net ‘n saaklike aantekening nie, broers en susters. God is nie ‘n boekhouer wat net feite neerpen nie. Nee, Dawid leer ons immers dat God nie net sy trane in die boek aangeteken het nie, maar dat Hy dit ook bewaar het in sy kruik. God is bewoë oor sy kinders. God is betrokke in die lewe van sy kinders. Inderdaad, Hy lei en bestuur alle dinge volgens sy wil en na sy doel toe – niks wat Hom kan keer nie! – maar Hy doen dit tegelykertyd met ‘n hart vol van deernis en omgee. Ons kan, volgens Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus, “vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons God en Vader stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.”

Gemeente, Dawid het God eerstehands leer ken uit die gang van die natuur en die geskiedenis. Dawid het God leer ken uit dít wat in sy eie lewe gebeur het. Selfs waar hy úít Saul se braaipan en ín die Filistyne se vuur geval het, het Dawid geweet: Saul en Agis is maar net mense, hulle is maar net vlees. God lei my deur hierdie vuur heen! Ons mag God vandag ook op hierdie manier leer ken. En mag dit vir ons heilsame kennis wees; mag dit vir ons deurleefde kennis wees. Mag dít wat met my gebeur my nader aan God bring – die Skepper en Onderhouder en Regeerder van die wêreld en van my lewe. En mag dit my bring tot groter lof op sy Naam. Só openbaar God Homself aan ons, in die gang van ons daaglikse lewe – op berge en in dale, in trane en blydskap, by lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede (HK, Sondag 10) – in dit alles mag ek weet: oral is my God! Sy boek bevat elkeen van my trane!

 

Waak dus daarteen om artikel 2 te lees as ‘n teoretiese iets – mooi analities: ons kan God ken uit die skepping, onderhouding en regering van die wêreld. Dit is geen saaklike kennis nie. Dit is deurleefde kennis. Ek glo dit, ek sien dit in my eie lewe, ek sien dit in die lewe van die gemeente, ek sien dit in die wêreld. Ek sien in dit alles God se Vaderhand wat my lei op paaie wat ek dalk nie verstaan nie, maar waarvan ek nogtans kan bely: só doen my God, en wat Hy doen, is altyd goed!  

In die tweede plek: sy woord verdien my lof!

 

2. My trane is in u boek… – gemeente, hoe weet Dawid dit eintlik? Wat maak dat hy so seker kan wees van God se betrokkenheid en leiding in sy lewe, ook al is dit te midde van groot swaarkry en moeite? Immers, daar is miljoene mense vandag, maar ook in die geskiedenis, wat ander konklusies getrek het uit wat met hulle gebeur het. Daar is baie mense vandag wat rampe en moeites ervaar, en daaruit die gevolgtrekking maak: daar is geen God nie! Want as Hy daar was, dan sou Hy nie hierdie lyding toegelaat het nie. Maar Dawid se konklusie is anders… Hoe is dit moontlik? Is dit nie maar net ‘n kwessie van persoonlike verwerking nie? Die een word deur die wêreldgebeure bevestig in sy gedagte dat daar geen god is nie, die ander soek juis in sy nood na die troosvolle gedagte van ‘n god. Gaan dit nie maar net daaroor dat mense verskillend omgaan met wat oor hulle lewens kom nie?

Nee, broers en susters, Dawid gee vir ons ‘n ander rede hoekom hy so seker is van God se leiding in sy lewe. ‘n Rede wat vir hom so vasstaan, wat vir hom so oortuigend is, dat hy selfs in lofsang uitbreek. En daardie rede is God se woord: “Deur God sal ek sy woord prys…” (vers 5), en weer in vers 11: “Deur God sal ek die woord prys; deur die HERE sal ek die woord prys.” Dit is op grond van daardie wóórd dat Dawid kan sê: “ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ‘n mens my doen?” (vers 5 en 12). Daardie woord – en onthou: Dawid het nog nie die hele bybel gehad nie, hy het hoogstens die eerste vyf boeke van Moses, en miskien nog die boeke Josua en Rigters gehad, en dan moet ons ook nie dink dat hy daar in Gat met ‘n boekrol voor hom gesit het nie, nee, hy het waarskynlik uit sy geheue geput – daardie geheue-woord het Dawid oortuig van God se leiding in sy lewe en in die geskiedenis. Daardie klein gedeelte van die bybel wat Dawid in sy kop gehad het, was vir hom genoeg om daardeur God en sy getrouheid en genade te ken. Dawid prys God vir sy woord as een van die grootste gawes wat God aan die mensdom gegee het.

 

Maar waaraan sou Dawid dan gedink het? Wel, waarskynlik dat hy gedink het aan God se woord oor die skepping van hemel en aarde, waarskynlik dat hy die verbondsluiting met Abraham en die verbondsluiting op die Sinai vir homself in herinnering geroep het, en hoogswaarskynlik dat hy daar in Gat ook aan God se beloftes oor die koningskap gedink het. Die kans is baie goed dat hy sou terugdink, nog nie so lank gelede nie, toe God vir hom belowe het dat hy koning sou word, en dat sy koningstroon vir ewig vas sou staan. O ja, dit het dalk baie onwerklik gevoel op daardie stadium waar hy in Gat gevange gesit het, maar dit is nie die punt nie. Dit was Gód se woord! Meer nog: dit was die woord van die HERE! Opmerklik né, hoe Dawid in vers 11 eers sê: “Deur God sal ek die woord prys…”, en dan onmiddellik vervolg: “deur die HERE sal ek die woord prys.” Die woord self bring Dawid by die God van die verbond, by Jahwe, die HERE wat trou bly tot in ewigheid en nooit laat vaar die werke van sy hande nie! En hoewel die vervulling van die beloftes oor die koningskap dalk nog lank sou duur, was dit absoluut waar en seker. Dawid het God op sy woord gevat.

En dít het hom gehelp om dít wat in sy lewe aan die gang was, reg te verstaan. Want dink mooi hieroor na, gemeente: Dawid was in die grootste lewensgevaar. Menslike gesproke was die kanse baie groot dat Saul hom sou vang en doodmaak, en as Saul dit nie gedoen het nie, sou die Filistyne wel daarvoor sorg. Menslik gesproke moes Dawid gedink het: my einde is naby. Menslik gesproke moes Dawid eintlik gesê: “Mense kan verskriklike dinge aan my doen!” Maar Dawid kan anders na sy lewe kyk. Ten spyte van die moeites kan Dawid sê: wat kan ‘n mens aan my doen? Want Dawid het God se beloftes gehad. Deur die bril van daardie beloftes kan hy die gebeure in sy lewe verstaan en beoordeel. Op grond van die feit dat God gesê het: “jy gaan koning word”, kan Dawid weet: Saul en Agis kan niks aan my doen nie.  Prys die woord van die HERE! Hy het dit gesê, Hy sal dit ook doen.

 

En, broers en susters, so moet ons – wat vandag die hele bybel het, God se volle openbaring – so moet ons ook wees. Die bybel, die Woord van die Here, laat ons Hom ken as die God wat goeie bedoelings met ons, sy kinders, het; daardie Woord moet ons daarvan oortuig dat God ons saligheid op die oog het. Dit is immers wat ons bely in die tweede deel van artikel 2: “en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.” Hierdie oortuiging moet diep in ons hart gegrif wees. En dan word die bybel soos ‘n bril, soos Calvyn dit noem. ‘n Bril waardeur ek opnuut kan kyk na die natuur, en die wêreldgebeure, en die gebeure in my eie lewe. ‘n Bril wat my gebrekkige sig en my bysiendheid wegneem en my weer helder laat kyk.

En dan begin ek verstaan hoekom die Here sekere dinge oor my lewe laat kom het. Dan skielik verstaan ek hoekom ek hierdie siekte het, of waarom daardie ongeluk met my gebeur het, of hoekom ek so lank plat moet lê, of hoekom die Here hierdie man of vrou vir my gegee het, of hoekom ek sulke kinders of sulke ouers ontvang het. Die bril van die Woord moet ons dit laat sien. En ook al kan ek nie die presiese rede raaksien nie – want die Here maak nie altyd bekend hoekom Hy sekere dinge doen nie – dan kan ek nogtans sy hand daarin sien. Sy hand wat net die beste vir my soek, sy hand wat my lei na die saligheid.

 

Deur die woord kon Dawid God se hand in die gang van sy lewe sien. Deur die Woord kan ons dit ook doen. Deur die Woord hoef ons nie meer in die duister te wandel nie, maar mag ons wandel in die lig van die lewe (vers 14). Jesus pas hierdie woorde op Homself toe wanneer Hy in Johannes 8:12 sê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” By Jesus Christus, Hy wat die vleesgeworde Woord is, kan ons seker wees van ons verlossing, wat ook al gebeur. By Hom mag ons saam met Paulus uitroep: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31).

Beywer jouself daarvoor om God só te leer ken. En jy kan. Hy is nie ver nie. Hy is naby ons in sy Woord en in die skepping, onderhouding en regering van die wêreld. Soek Hom, en jy sal Hom vind!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

Votum en seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 8:1 en 2

Gebed

Lees: Psalm 56

Teks: NGB, art. 2

Sing Ps. 33:3, 5 en 6

Preek

Amenlied Ps. 56:1 en 2

Gebed

Belydenis van geloof (ek sal opsê)

Sing Ps. 104:20 en 21 (op die wysie van Ps. 134)

Kollekte

Slotsang Ps. 56:3 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)