God plaas kopiereg op sy Woord! Want…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-04-24
Teks: 
NGB 7
Verwysing: 
NGB 07
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 7; lees Galasiërs 1

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Het dit u opgeval hoeveel tyd die NGB bestee aan die Bybel? Eintlik vanaf artikel 2 alreeds is ons besig om onsself te buig oor die belangrikheid van God se Woord. Geen ander onderwerp in hierdie belydenisgeskrif word so uitvoerig bespreek soos die Bybel nie. Is dit regtig nodig? Het Guido de Bres dit nie ‘n bietjie oordoen nie? Dit mag miskien so voel, broers en susters, en tog bewys die praktyk vir ons dat De Bres se deeglikheid in hierdie opsig geen oorbodige luukse is nie.

Jy kan naamlik enige dwaling in die geskiedenis van die kerk gaan analiseer, en eintlik elke keer gaan jy terugkom by dieselfde onderliggende probleem: ‘n verkeerde Skrifbeskouing, ‘n skewe hermeneutiek (en hermeneutiek verwys dan na die reëls vir die lees en die uitleg van die Skrif). En daarom is dit so mooi én so belangrik dat Guido de Bres, reg aan die begin, voordat hy begin om die leer van die kerk deeglik uiteen te sit, eers ‘n stewige fondament lê – die fondament van God se Woord. En met ‘n laaste kragtige aansporing van artikel 7 sluit ons hierdie gedeelte vandag af.

Tema: God plaas kopiereg op sy Woord! Want…

  1. God is suinig op die evangelie
  2. Die mens is ‘n leuenaar

 

1. Paulus is verbaas, verwonderd – en dit nie in ‘n positiewe sin nie. Nee, hy is verwonderd oor die Galasiërs se skielike en vinnige afval van die evangelie. Hy het anders van hulle verwag. Hy het verwag dat hulle sou volhard in die evangelie wat hy aan hulle verkondig het, maar nou blyk dat hulle hulself laat saamsleep na ‘n ander evangelie toe. Uit later hoofstukke sien ons wat eintlik hier aan die gang was: die Galasiërs het hulle deur Joodse christene laat ompraat om hulleself te laat besny. Hierdie Joodse christene het nie uit ‘n teologiese motief op die besnydenis aangedring nie, hulle het nie daarop aangedring omdat hulle gedink het dat die christene uit die heidendom anders nie gered kan word nie. Nee, dit was ‘n kompromis-voorstel van die Joodse christene!

Ons moet naamlik verstaan: hierdie groep het tussen twee vure gestaan – aan die een kant was daar hulle broeders en susters uit die heidendom waarmee hulle graag wou omgaan, maar aan die ander kant was daar ook hulle ongelowige volksgenote. En hierdie ongelowige volksgenote het glad nie daarvan gehou dat die Joodse christene kontak onderhou met onbesnedenes nie. Hulle het selfs ‘n dreigende houding teenoor die Joodse christene begin inneem. Dus, dit sou vir die Joodse christene baie voordelig wees, dit sou hulle eintlik baie help as die broeders uit die heidene hulleself eenvoudig sou laat besny, want dan was daar vir hulle geen gevaar van vervolging meer nie. En dit is presies wat Paulus in hoofstuk 6:12 sê: “Almal wat ‘n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie.” Meer nog: dit sou die Joodse christene selfs in guns by hulle ongelowige volksgenote bring, want kyk, hulle bring dan nuwe bekeerlinge aan, nuwe proseliete! En dit is wat Paulus net daarna in vers 13 van Galasiërs 6 sê: “… hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem.” Hierdie voorstel van die Joodse christene was uit en uit vir hulle eie voordeel…

 

En dan sê Paulus vir sy lesers: “Nee, as julle dít laat doen, dan laat julle julself wegtrek van Hom wat julle deur die genade van Christus geroep het” (vers 6) Die Galasiërs is, deurdat hulle hulself wil laat besny, in feite besig om God die rug toe te keer. Hulle is in werklikheid besig om ‘n ander evangelie aan te hang. Natuurlik, sê Paulus in vers 7, is daar nie regtig ‘n ander evangelie nie. Daar is maar net een evangelie, net een goeie nuus! Maar die mense wat julle wegtrek, is besig om hierdie enigste evangelie te bederf. Die evangelie bly slegs goeie nuus wanneer ‘n mens nie daaraan verander nie, wanneer ‘n mens dit laat soos dit van God ontvang is. Want hierdie evangelie kom nie van onder af nie, hierdie evangelie is nie deur mense uitgedink of gefabriseer nie; dit is nie in die mens se mag om hierdie evangelie te buig en te vorm na eie goeddunke nie (kyk maar na vers 11: “die evangelie wat deur my verkondig is, is nie na die mens nie”). Nee, dit kom van bo-af – van God af! En God is heilig oor sy evangelie; Hy laat nie toe dat mense daaraan torring nie.

En daarom dat Paulus in vers 8 – die vers wat in artikel 7 van die NGB aangehaal word – ook ‘n vloek kan uitspreek oor enige iemand wat ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat alreeds verkondig is. Hierdie mense dínk dalk dat hulle die goeie nuus bring, maar deurdat hulle veranderings daarin aanbring en afwyk van die boodskap wat voorheen gebring is, is hulle in werklikheid besig om die goeie nuus heeltemal omver te werp. En daarom verdien húlle om verwerp te word! Paulus spreek die ban oor hierdie mense uit, hy ekskommunikeer hulle. En die Galasiërs moet dieselfde doen: hulle moenie ruimte gee aan mense wat die evangelie verander nie; hulle moet hulle veroordeel en uitsluit uit die gemeente en uit die Koninkryk van God.

 

En Paulus sê dit nie as iemand wat sy eie produk moet verdedig nie, hy doen dit nie uit eiebelang nie. Ek weet, dit klink dalk so wanneer hy in vers 8 praat van die evangelie wat deur ‘ons’ verkondig is, en in vers 11 van die evangelie wat deur ‘my’ verkondig is, en wanneer hy op ander plekke in sy briewe praat van ‘my evangelie’. Maar Paulus praat doelbewus op dié manier, omdat spesifiek hy deur die Here gekies is om die evangelie na alle volke te gaan bring; hy is gekies om aan die heidene te vertel: ook julle mag deel in die evangelie! En deur daardie evangelie het die Galasiërs ook tot geloof gekom, sónder die onderhouding van die Joodse wet. En dáárdie evangelie van vrye genade is tans in gevaar! Maar dit is nie so dat Paulus die evangelie as sy persoonlike eiendom toeëien nie.

Inteendeel, Paulus erken in vers 8 dat die evangelie God se gawe is, en daarom mag hy self ook niks daaraan verander nie. Selfs die engele mag niks daaraan verander nie. As hulle dit wel sou doen, dan moet die Galasiërs oor sowel Paulus as die engele die banvloek uitspreek, want dan staan hulle skuldig voor God. In vers 9 herinner Paulus sy lesers daaraan dat hy hierdie skerp uitspraak nie nou vir die eerste keer maak nie; nee, hy het dit al voorheen gedoen, toe hy die evangelie vir die eerste keer in Galasië verkondig het. Toe alreeds het hy benadruk dat niemand die goeie nuus van God mag verander nie; toe alreeds het hy die vloek uitgespreek. En nou bevestig hy dit weer ‘n keer!

 

Nou, gemeente, ons ontvang hierdie dubbele vloek-uitspraak vandag as ‘n aanmoediging en as ‘n waarskuwing. Die evangelie is die Woord van God. Dit is sy maaksel, dit is sy eiendom. Daar is hemelse kopiereg op hierdie evangelie. Niemand mag hieraan verander nie, en wee ons as ons dit wel sou doen. Die ewige vervloeking is God se vasgestelde straf op enige wysiging van die evangelie-boodskap. Soos wat ‘n mens voor in enige boek die terme en voorwaardes van die kopiereg kan lees, so kry ons in Galasiërs 1 die terme en voorwaardes vir God se hemelse kopiereg. En dit lui: “Alle regte voorbehou. Vervloek is elkeen wat aan hierdie evangelie verander.” En in Openbaring 22, sowel as in Deuteronomium 12, word dit verder toegelig, wanneer God sê: “As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad…” (verse 18 en 19). Die waarskuwing is baie duidelik, en moet met die grootste eerbied ter harte geneem word.

Maar, broers en susters, God sê dit nie omdat Hy een of ander buitensporige geldingsdrang het nie. Nee, dit is ter wille van ons saligheid dat God dit sê. Dit is ter wille van ons heil dat ons niks aan hierdie evangelie mag verander nie. Want, sê artikel 7, alles wat ons vir ons saligheid moet glo, word hierin voldoende geleer. En verder: die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, word daarin breedvoerig beskrywe. En verder: die leer daarvan is heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome (NGB, art. 7). Niks skort aan die evangelie nie, want dit gaan oor Jesus Christus en die verlossing deur hom.

 

En dit is wat Paulus, net voordat hy in vers 6 met sy vermaning begin, so pragtig uiteensit. Hy groet sy lesers in vers 3 met die genade en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus. Ja, gemeente, God het ons Vader geword deur Jesus Christus. En dit het moontlik geword deurdat Jesus Christus Homself vir ons sondes gegee het (vers 4). Ons sondes, my sondes, maak skeiding tussen God en my. Sonde is ontkenning van God, sonde is ‘n klap in God se gesig. En nou kom Jesus, en Hy kom gee nie offerdiere of ander gawes nie. Nee, Hy kom gee Homself in ons plek.

Ek het êrens die beeld gelees dat die sonde soos ‘n ysige koue is, ‘n dodelike noordpool-koue. En wat Jesus kom doen het, is om Homself in ons plek in die pad van God se ysige toornwind te plaas, en die kilheid van die dood te ondergaan. En só het Hy die klimaat vir ons verander. Christus en sy werk is gevolglik vir ons soos ‘n kweekhuis in die winter. Binne die ruimte van hierdie kweekhuis heers daar ‘n klimaat waarbinne die lewe kan ontplooi en gedy. Buite waai daar ‘n yskoue wind, buite slaan die hael neer, buite woed daar ‘n sneeustorm. Daarbuite kan niks groei nie, alles vries dood. Solank as wat jy binne die beskutting van die kweekhuis is, is jy beskermd en veilig, en kan jy die koue deurstaan. Maar sodra jy die kweekhuis verlaat, is jy blootgestel aan die dodelike koue. Só staan Christus en sy dood en bloedstorting bo-oor ons soos ‘n beskuttende kweekhuis, waarin ons gevrywaar word van die bose weersomstandighede daarbuite. Die Galasiërs het aanvanklik buite in die bose wêreld gestaan (vers 4); dáár het die kwaad geheers, die boosheid, ‘n bestaan van yskoue winde van verderf. Maar Jesus het hulle hiervan verlos, en Hy het hulle laat woon in die warmte van God se vergewende genade en vrede.

En dit geld ook vir ons vandag! Deur Christus se bloed – deur sy kruisdood wat ons eergister saam gedenk het – word jy en ek beskerm teen die poolwind van God se oordeel. Binne daardie veilige omgewing kan ons ontdooi en ontplooi en vrug dra vir ons God. Maar ons bly slegs binne wanneer ons aan Christus en sy evangelie verbonde bly. En die opdrag is daarom ook: bly by daardie evangelie! Dit is nie die wil van God dat ons doodvries daarbuite nie; dit is sy wil dat ons lewe! Aan Hom kom toe die heerlikheid tot in alle ewigheid! (vers 5) Dit is die wonder van God se genade, dit is die rykdom van die evangelie.

 

En presies dáárom mag ons niks daaraan verander nie, presies dáárom mag ons die inhoud van die evangelie nie verminder of vermeerder nie. Jou en my saligheid is letterlik daarmee op die spel. Ek mag nie kies watter dele van die evangelie vir my van toepassing is, en watter nie. Ek kan nie eiehandig besluit dat ek hierdie bevel van God wel gaan nakom, en daardie bevel nie. Dit lê nie in my hande om ‘n halwe Christus te aanvaar, en die ander helfte weg te gooi nie. Vervloek is ek as ek dit doen! Want God weet wat goed is vir sy kinders – en dit alles is in hierdie boek geopenbaar. Wees dankbaar dat God se kopiereg so uiters streng is, want dit is tot behoud van jou en my. Wees bly dat God so heilig en suinig is op sy evangelie, want dit is tot jou en my redding.

En dan in die tweede plek: die mens is ‘n leuenaar.

 

2. Gemeente, vanaf vers 12 voeg Paulus ‘n paar verse by wat vir ons waardevolle biografiese inligting gee, inligting oor die verloop van Paulus se lewe vandat hy tot geloof gekom het. Baie is geskryf oor die chronologie van die eerste tyd nadat Paulus op die pad na Damaskus tot bekering gekom het: wanneer was hy nou eintlik waar? Vir my gaan dit nou spesifiek oor verse 16 en 17, waar Paulus sê: “om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie, en ook nie na Jerusalem opgegaan na dié wat voor my apostels was nie…” Dus, nadat Paulus ‘n dieper en meer volledige openbaring van God ontvang het, gaan vra hy nie eers vir mense wat hulle daarvan dink nie. Hy gaan vra nie mense se goedkeuring om sy roeping aan te neem of nie. Hy stel God se openbaring nie onderhewig aan die toets van mense nie.

En dit is nie omdat Paulus een of ander outoritêre individualis was wat nie advies en gesag van ander kon aanvaar, en wat net op sy eie kon werk nie. Gaan lees maar Handelinge 21, waar Paulus deur die ouderlinge van Jerusalem versoek word om sekere rituele uit te voer, sodat hy die verkeerde persepsie wat daar oor hom ontstaan het, kon besweer. Dan sal u sien dat dit beslis nie so was, dat Paulus sy eie kop gevolg het nie. Maar Paulus aanvaar wel die Woord van die Here as sy hoogste gesag, en wanneer hy dan van God ‘n openbaring ontvang oor sy taak en roeping, dan het hy nie nodig dat mense hulle goedkeuring daaraan heg nie. Nee, God se openbaring staan vir hom bo alles!

 

“… het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie” – Paulus stel dit baie spesifiek op dié manier. Want dit gaan hier oor die gesag van God se Woord, teenoor die gewig van mensewoorde. Hierdie twee kan eenvoudig nie in dieselfde weegskaal geplaas word nie; hierdie twee is eenvoudig nie vergelykbaar nie. En juis daarom word ons in die tweede helfte van artikel 7 ook gewaarsku dat ons geen vorm van mensewerk met die Woord van God gelyk sal stel nie, want die waarheid is bo alles! Daarteenoor, so haal artikel 7 aan uit Psalm 62, is alle mense uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self. Die kontras tussen God se Woord en mensewoord is op dié manier baie duidelik!

Maar dit is ook ‘n pynlike kontras, nie waar nie? Ek is ‘n leuenaar, ek is nietiger as die nietigheid self. Is ek regtig? My hele wese stry teen hierdie analise. Miskien joune ook. Want ek praat dan die meeste van die tyd die waarheid; ek is nie daarop uit om te lieg en te bedrieg nie. En hoe kan die bybel nou sê dat ek nietiger as die nietigheid is? Ek beteken mos nie niks nie? Maar, gemeente, ons moet besef dat as die bybel die mens ‘n leuenaar noem, dan gaan dit nie net daaroor of ons lieg en bedrieg nie, dan gaan dit nie net daaroor of ek vandag vir my pa of ma gejok het nie. Nee, dit gaan oor baie meer! Wat hier op die spel staan, is die inhoud van die evangelie!

Is daar ooit ‘n mens wat ‘n reddingsplan vir die wêreld en die mensdom kon uitdink, soos die plan wat God bedink het, wat die inhoud van die evangelie kon bepaal soos wat God dit bepaal het? Die moederbelofte, die lyn via die volk Israel, God wat mens geword het, die dood aan die kruis, die opstanding uit die dood, die hemelvaart, die geloof in Jesus Christus – is daar ooit ‘n mens wat dít kon bedink? Is daar ooit ‘n mens wat hierdie unieke verlossingsweg kon ontwerp? Nee, broers en susters, dit sit net nie in beperkte en sondige mense om so ‘n geniale en verstommende verlossingsplan uit te dink nie. En daarom, wanneer Petrus in Mattheus 16 sy geloofsbelydenis uitspreek: “U is die Christus, die Seun van die lewende God”, dan sê Christus vir hom: “… vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.” Die inhoud van die evangelie is ‘n geheim wat van bo af kom. En presies dít maak van elke mens ‘n leuenaar. Want ek en jy sou ander planne beraam het, ander verlossingstrategieë bedink het, ‘n ander uitweg gesoek het vir die moeite waarin die sonde ons gedompel het. En daarom dat die kontras so skerp getrek word, want dit gaan oor die plan wat God bedink het, tot verlossing van jou en my. Aanvaar ons die plan wat God bedink het? En aanvaar ons dat ons planne radikaal van syne verskil, en daarom ook liederlik sou misluk het? Is ons bereid om in hierdie opsig te sê: “Ek is ‘n leuenaar, ek is nietiger as die nietigheid self, want wat God in Christus vir my gedoen het, dit sou ek en niemand anders kon uitdink nie”?

 

As ons dit verstaan, dan verstaan ons ook waarom artikel 7 so uitgebreid is om elke vorm van menslike denke op die regte plek te plaas. Geen geskrifte van mense mag met die Goddelike skrif gelyk gestel word nie, hoe heilig daardie mense ook al was. Ons is dus nie aanhangers van Calvyn of Schilder of van enige moderne outeur nie. Ook volg ons nie die gewoonte na nie. Sê ons daarmee dat gewoonte en tradisie verkeerd is? Glad nie, maar steeds weer moet ons óns gewoontes en tradisies kan relativeer, want dit is mensewerk. Groot getalle is ook nie bepalend nie – ons doen nie dinge in die kerk omdat almal dit doen nie. Verder is oudheid ook maar relatief – moet ons dinge doen bloot omdat dit die afgelope vyftig of honderd jaar so gedoen word? Glad nie, tensy ons kan aantoon dat ons dit die afgelope vyftig of honderd jaar so doen… op grond van die Woord van die Here! Is iets waar omdat ‘n sinode of ‘n kerkraad dit besluit het? Nee, wat ‘n sinode of kerkraad besluit het, moet altyd getoets word aan die Woord van die Here.

Laat daar daarom vir ons net een bron van openbaring wees. Al die res is mensewerk, en is onderhewig aan die Skrif. Natuurlik sê ons daarmee nie dat mense nie goeie dinge vanuit die Skrif kan sê nie. Ons wil nie beweer dat mense nie goeie Skriftuurlike raad kan gee nie. Uiteraard is dit nie so dat daar nie goeie teologiese boeke verskyn nie. Maar dan lê hulle waarde in die feit dat hulle die Skrif naspreek. Toets daarom ook wat jy lees – die Bybelse dagboeke, die leesboeke, die boeke wat ons gebruik by Bybelstudie. Toets dit aan die Woord. Toets die preke aan die Woord. Toets wat jou ouderling en diaken sê, toets wat jou predikant by katkisasie vir jou leer. Stel die geeste op die proef of hulle uit God is. Want ons wil mos nie een duimbreedte afwyk van wat God geopenbaar het nie?

 

En as ons so met die Woord omgaan, dan het ons ‘n goeie basis om volgende week na artikel 8 te kyk, en na al die ander artikels wat daarop volg. ‘n Goeie fondament vir die leer van die kerk. ‘n Goeie fondament vir ons geloof. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 30

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 76:1, 4 en 6

Gebed

Geloofsbelydenis van Atanasius (ek sal lees)

Teks: NGB, art. 7

Lees: Galasiërs 1

Kollekte

Sing 78:1 en 3 (voor die preek)

Preek

Gebed

Slotsang Ps. 116:3, 5 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)